95.W.P. Theys

image_pdfDOWNLOAD PDF

W.P.Theys


Uittreksel van: Die Geskiedenis van die onderwys in Montagu

Die Vroegste Begin

(Deur dr. J.E. Kellerman skoolhoof Montagu Hoërskool)

SENDINGSKOLE OP DIE DORP

Reeds aan die begin van 1859 is as gevolg van die ondernemingsgees van Michiel Roman (ʼn konstabel) is ʼn kleurlingskool met Willem Jager as onderwyser gestig. Van die kleurlinggemeenskap het Jager £3 per maand as salaris ontvang. Hulle moes ook nog 10/- per maand vir die huur van ʼn skoolgeboutjie betaal. Vanaf 1 Januarie 1860 is ʼn toelaag van £15 per jaar aan die kleurlingskool op Montagu toegestaan. Vervolgens was in die kleurlingskool werksaam die heer Bernardus Keet, Mej. Sophia Scott en vanaf September 1865 het die heer H.W. Geyer saam met twee lede uit sy huisgesin in die Sendingskool onderwys gegee. Mnr. Geyer het baie jare lank sendingwerk onder die kleurlinge gedoen en ook vir hul onderwys gegee. Weens gesondheidsredes moes hy in 1886 met siekteverlof gaan en die jaar daarna is hy opgevolg deur mnr. C.H. Siebert. Ongelukkig egter moes die kleurlinggemeente gedurende die volgende 10 jaar met baie verwisselinge van Sendelinge en onderwysers kennis maak met die gevolg dat die onderwys gedug daaronder gely het. Vanaf Oktober 1897 het eerwaarde Jasper Vlok toe maar tenspyte van al sy veelvuldige werksaamhede self as hoofonderwyser ook opgetree en deur sy toedoen het die toestand in die skool spoedig merkbaar verbeter. Veral wat die skoolbywoning en die sang in die skool betref was daar groot verbetering. Maar hy kon ontmoontlik nie vir baie jare die reuse las dra nie en vanaf 1904 het hy hom onttrek aan die onderwys en is die werk deur mej. E. le Roux en E. Siebert voortgesit.

In 1906 het eerwaarde D.C. Odendaal vir eerwaade Vlok as Sendeling opgevolg, met mej. E.C. Rattray as hoof van die skool. Die periode wat nou gevolg het, het veel onaangenaamhede en struwelinge met hom meegebring en wel na aanleiding daarvan dat eerwaarde Odendaal ʼn opgeskote kleurling in die skool wou laat help onderwys gee het, iets waarmee mej. Rattray haar eenvoudig nie kon vereenselwig het nie. Uiteindelik het sy weens die botsing met eerwaarde Odendaal in Junie 1907 haar betrekking neergelê en die skool verlaat. Nadat die skool ʼn paar jaar lank in ʼn onbevredigende toestand verkeer het en die personeel baie veranderings ondergaan het, het die toestand vanaf 1909 geleidelik weer verbeter en is daar vooruitgang en toename in getalle te bespeur.

 Wat die verdere verhaal van die groei en ontwikkeling van kleurlingonderwysers in die gemeente betref, kan met vrymoedigheid beweer word dat dit in die eerste plek die sendelinge van die N.G. Kerk was, wat die las gedra het en die besielende krag daaragter was. Tot in 1920 was dit blankes wat aan die hoof van die Kleuring skool gestaan het, maar vanaf Januarie 1924 begin ʼn nuwe era en mnr. Theys is aangestel as die hoof van die skool. Hy het hier begin met 2 onderwysers op die staf, vandag is daar 12. In die 2de helfte van die vorige eeu het beide die Wesleyaanse en die Anglikaanse kerke ook probeer om skole alhier te stig vir kleurlingkinders, maar daar beide pogings nie juis lewenskragtigheid openbaar het nie, het dit maar heel gou weer van die toneel verdwyn.

 Aan die sendelinge van die N.G. Kerk wat al die jare, soms onder baie moelike omstandighede, met soveel getrouheid en volharding die saak van die kleurlingonderwysers gedien en bevorder het, kom groot dank en waardering toe.

Die ou Sendingkerk Pastorie gebou is op die regterkant.  Is dit moontlik dat hierdie gebou die eerste Sendingskool kon gewees het?   (Die Sendingkerk kan regs agter in die agtergrond gesien word)

Sien onder die vraag en antwoord wat ontvang is van Sheila Stevens dogter van mnr. Theys

Vraag: Sien asseblief foto. Die gebou wat gewys word, is op die hoek van Lang en Kohlerstraat. Ek het geen ander inligting oor die gebou nie. Was die gebou in die prentjie dalk die eerste Sending-skool? Indien nie, het die gesin ‘n foto van die eerste Sending-skool?

Antwoord: Die 1ste sendingskool was langs die museumkerk. Dit was nie ‘n skoolgebou nie. Ma dink dit was ‘n huis. Ons het geen fotos nie, net ‘n foto van die personeel geneem op die oorspronklike perseel.

Skoolpersoneel

Back L/R: J.M. du Preez, Iris Malgas, Carl Idas. Seated L/R: Theodora Olislager, Wilhelm Theys, Elizabeth October


My Pa (W.P. Theys)

Geskryf deur Shelia Stevens 2003 (dogter)

Wanneer jy met plattelanders gesels, veral mense op gevorderde ouderdom, kom jy agter dat op die meeste dorpe die skoolhoof die leidende rol in die gemeenskap gespeel het. So was dit dan op Montagu ook. Die pragtige dorp het vir Wilhelm Philip Theys gehad vanaf 1924 tot 1955.

Hy was gebore te Saron waar sy vader onderwyser was. Laasgenoemde was dan sommer ook orrelis, kerkkoor- en basuinekoorleier, asook sieketrooster. Interessant is dat die dorpie se tronksel teenaan hul huis was. Tog jammer dat alles later afgebreek is – seker ook maar ter wille van vooruitgang. Sy vader, Conrad, het ook vir ‘n tydjie op Montagu onder sy eie seun gewerk.

Wilhelm het die hoofskap by die N.G. Sendingkerk-skooltjie te Montagu in 1924 aanvaar na hy vir drie maande op Kenhardt gewerk het. Laasgenoemde was toe ‘n baie klein, nederige dorpie en Sondae het hy baie verlang na sy moeder (te Paarl) se braaivleis – en – aartappels. Maar hy het tog ook later soms na Kenhardt verlang, want hy was waarlik ʼn omgeemens en het vir die inwoners lief geword.

Die skool op Montagu was tussen die N.G.S. kerk (vandag die museum) en Kohlerstraat se hoek en was eintlik ‘n huis. Alreeds so ver terug as 15 Oktober 1923 op ‘n gekombineerde kerkraadvergadering was besluit om ‘n skool op ‘n “geskikte plek” te bou. Hierdie besluit is eers in 1934 verwesenlik. Daar is vandag (die jaar 2003) weinig inwoners op die dorp oor wat dit kan onthou – hoe almal, onderwysers, skoliere, ja selfs die predikant, Eerwaarde E. Bam, klippe versamel het vir die fondasie. Dit het geword ‘n pragtige gebou van ses klaskamers op ‘n groot perseel.

As skoolhoof, het almal wat tussen 1924 en 1955 enige skoolopleiding ontvang het, hul opleiding onder sy bekwame leiding ontvang, want dit was tot aan die einde van 1987 die enigste skool in die gemeenskap. Hy was nie net onderwyser nie, maar het elke leerling met die ouers persoonlik geken. Daar was dan nie net vir die akademiese ontwikkeling gesorg nie, die kind moes ook kultuurryk wees. Almal moes sing, want ‘n persoon wat nie van musiek en blomme gehou het nie, was geen mens nie. Sy eie klavier was dan maklik op ‘n lorrie gelaai om konsert te hou by die skool voor die skool self een kon koop. Die klavier was dan maklik geneem om êrens op ‘n plaas ook ‘n bietjie “kultuur” te neem.

Hy was nie net onderwyser nie, maar moes die kerk ook vroeg dien. ‘n Gekombineerde kerkraadvergadering gehou op 25 Oktober 1926 notuleer: “Die onderwyser W. Theys wat aangestel was saam met J. Januarie om die kerkboeke te ouditeur gee deur ‘n brief te kenne dat hy die boeke nagesien het en korrek gevind het.” Daar is dus ook talle bladsye in die kerk se boeke geskryf in sy netjiese handskrif. Hy was nie net vir lang tye kerkraadslid nie, maar moes dikwels in die afwesigheid van ‘n leraar, waarneem en kerkdienste lei. Hy was orrelis, koorleier en ook basuinkoorleier. Heelwaarskynlik was hy die stigter van die basuinorkes, maar moes later weens ‘n keelaandoening die besondere amp vaarwel roep. Laasgenoemde taak was toe deur mnr. Albert Nicholls oorgeneem. In 1949 moes hy ook as gevolg van siekte sy amp as orrelis aan mev. J. Fortuin (gebore Goetham) oorlaat.

Sy salaris, selfs as skoolhoof, was maar karig. Tog het hy ‘n oop hand gehad vir behoeftiges sodat selfs na sy dood sy weduwee onverwags geld moes terugbetaal waarvoor hy so goedertrou borggestaan het. Dit was toe sommer so uit die bloute. So was hy ook sommer dikwels bemiddelaar in familieprobleme en sieketrooster nes sy vader.

Selfs sy huis was oor die naweke gereeld oop vir die distrik se onderwysers want verblyfplek was baie skaars. Hy het regtig ʼn hart van goud gehad.

Sy vrou, Henrietta Jacoba (gebore Williams 27 Desember 1902 – 17 Februarie 1977) het as jong meisie hierheen gekom vanaf Paarl en het haar ook by die skoolpersoneel aangesluit nadat sy eers op Graaff-Reinet gewerk het. Dis verbasend dat die Bolanders so ver van hul huise al gaan werk het. Sy was ‘n hardwerkende pligsgetroue persoon, lief vir musiek en kon enigiets sommer spontaan in tonikasolfa sing. Haar hande het vir niks verkeer gestaan nie en haar kinders se klere het sy self gemaak. Die inmaakprodukte het op die rak gepryk want sy het geglo dat ‘n mens economies moes wees. Kerkpligte was getrou nagekom en sy was een van die stigterslede van die Christelike Sustersbond. Dit wil se dat sy ook die rol van predikantsvrou moes vul wanneer die gemeente vakant was.

Agter L/R: Mary,Shelia en Conrad

Voor: Maurice en Hilda (Hildegarde)

Van die vyf kinders was Conrad, die oudste, die enigste een wat nie onderwyser geword het nie, maar wel elektrisiën. Gedurende die oorlogjare was die verloop van gebeure op die oorlogsveld in Europa van groot belang. Nederlae en oorwinnings van die Geallieerdes was fyn dopgehou. Conrad het so ver gegaan om sy eie radioontvangstasie in die kelder onder die stoep te installeer. Daar het hy natuurlik baie tyd deurgebring. Op ‘n dag egter het hy stil-stil alles ontkoppel en verwyder. Ons was verbaas. Hy het wel later vertel dat hy kontak met die vyand, die Duitsers, gehad het en dat hulle op ‘n afgespreekte tyd met hom in verbinding sou tree. Nou – DIS ‘n ander storie. Sou hy betrap word sou dit ernstige gevolge inhou. Daarvoor het hy nie kans gesien nie en wou alles liewer stiiletjies verwyder. Hy het daarna ook nooit weer daaroor gepraat nie.


Sekere van die Personeel in die vroëe dae

Agter L/R: mej.H.J. Willemse (getr. Theys), J.M. du Preez, mej. E. Rowe (getr. Johnson), Voor L/R: mej. E. October, mnr. W.P. Theys (skoolhoof)

Die nuwe Sendingskool (bekend as “Die Bam”) in Willem Theyslaan.  Die naam is later verander na die “W.A. Rossouw Primêreskool “

Wilhelm Theys was ‘n onverbete terggees en niemand, ja niemand het die geterg vrygespring nie – nie sy vrou en kinders nie, nie sy personeel nie en selfs nie eens die predikant nie. Laasgenoemde wou eendag weet waarom die koster, oom Hans, se van “De Koker” was. Die antwoord was gou by… “omdat hy baie kan kook (praat)”. Een juffrou was onder meer “Kastrolletjie” gedoop om dieselfde rede. En so het die skoliere ook deurgeloop. Een winter het sy vrou en elk van hul drie dogters “interlock”- pajamas gekoop. Sy het kontant gehad vir net twee pakkies en die derde een toe maar op die afbetaalstelsel gekoop. Met die eerste was het die nagklere jammerlik uit fatsoen gerek. So, elke keer wanneer Pa sy dogters daarin gesien het, was dit gepaard met gepaste opmerkings ‘n groot grap. Hy was ‘n wonderlike gesinsmens en die familie het dikwels saam uitstappies geniet, gepiekniek, om die klavier saamgesing en jaarliks op Paarl by hul ouers gekuier. Hy was ‘n ratse tennisspeler en die mans dubbelbeker het dikwels op die buffet in die eetkamer gepryk. Hy het selfs op die administrasie van die rugby gehelp en ook skeidsregter gespeel.

Soos vir alle mense het die lewe vir hom ook die soet en suur ingehou. Dit hang net alles af van hoe ‘n mens dinge verwerk, Probleme was iets waaraan gewerk moes word.

Toe Wilhelm Theys in Desember 1955 nadat hy herhaalde kere siekteverlof moes neem, finaal uit diens tree, was hy eintlik al betreklik siek. Na ‘n beroerte aanval twee hartaanvalle het hy kort na tienuur op die aand van 20 Mei 1957 heengegaan. Dieseifde aand was Al Debbo in die plaaslike bioskoopsaal besig om die inwoners van Montagu te vermaak. Dit was net die Theys familie wat nie teenwoordig was nie en hulle het nogal kaartjies gehad vir die vertoning! Na afloop van die vertoning het ds. W.A. Rossouw op die verhoog gestap en aangekondig dat hulle oud-skoolhoof stil heengegaan het. ‘n Geweldige anti-klimaks! Al Debbo was snaaks, maar W.P. Theys was ‘n geliefde figuur. Daarvan het die baie geskenke wat mense tydens sy siekte gebring het getuig. Daaronder was drie olyfboompies van die buurman oorkant die pad. Hy het dit self gekweek en dit moes by die skool geplant word. Twee daarvan groei nog steeds op die skoolgrond. Die Susterbond het ‘n kamerjas geskenk wat nog steeds in 2003 gebruik word, lemand het ‘n halfkroon gebring – iets wat gebruik kon word. Twee verpleegsters,

Susters Januarie en Marcus het geredekawel oor wie die liggaam sou voorberei en Dawid Eyberg het die volgende oggend kom aanbied om die graf te grawe. Die liefde en bystand van ons gemeenskap van die vyftigerjare was wonderlik.

So is daar ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan en tyd vir vele dinge om te doen. Ons moet almal plek maak vir dit wat nog moet kom en met die waters wat verby is, sal die meule nooit meer maal nie. ‘n Hoofstuk in die Groot Skepper se lewensboek is afgesluit. En daarom het ons ‘n museum om ons verlede te bewaar vir die toekoms.


Wilhelm Theys Avenue Montagu

Extract from an article in the Montagu Mail December 2003

Mr. Wilhelm Philip (Willie) Theys was, for many years, the headmaster of the Sendingkerk primary school in the avenue that was named after him. He was involved in teaching in Montagu for more than 30 years and died in 1957, the year in which the school was renamed after the Rev. Rossouw and is buried in the local cemetery.

Mr. Theys’ daughter Mrs. Shelia Stevens of Kuilsriver donated some photographs of the family to the museum (Most of the pictures used in this story are thanks to Mrs. Stevens).

Mr. Theys was very much involved in church matters and was the founder of the string and brass band which regularly played in the N.G. Sendingkerk, as the Dutch Reformed Mission Church was then known and which now houses the Montagu Museum. 

Basuin Orkes

Agter L/R: Johnny Africa, Hannes Pasqualli, Albert Nicholls, Hansie Pekeur, “Ghappies” Plaatjies.

Voor L/R: Jannie Fluks, W.R. Theys, J.M. du Preez, Dan Goetham, Christiaan Plaatjies, Johnny Marthinus

Sendingkerk Langstraat Montagu


Frank Swart die skoenmaker van Montagu onthou die Theys familie

Frank Swart (links) saam met Heine Heydenrych

Die Theys familie wie ek ken

(Getranskribeer van ‘n handgeskrewe dokument gekry in die Montagu Argief)

Om mee te begin sal ek maar by W.P. Theys begin. Hy was vir jare lang die hoof van die N.G Sendingkerk skool. Watter jaar hy hier gekom het, is buitekant my weete, maar my oudste broer wat Std. 5 en 6 in een jaar gedoen het in 1934, het onder W.P. Theys dit behaal, verder het al 4 broers en suster onder hom geslaag, maar wat ek nie sal vergeet nie is die pak sla wat hy my gegee het voor die swart bord, en dis die enigste en laaste wat ek van hom gekry het. Hy was 57 jaar oud toe hy gesterf het, en dit was in die jaar 1957.  

Nettie , W.P. Theys se vrou was ʼn baie huislike vrou so nou en dan het sy by ons kom besoek af lê, want ons was bure vir baie jare. Sy het fiets gery, en wanneer sy iets nodig het van die winkel en die kinders is in die skool, het sy die fiets gevat en dit gaan haal.

Conrad (Koennie) was die oudste seun. Hy het ook onder sy pa Std.6 geslaag. Wat ek nie sal vergeet nie is, dat sy pa een keer gesê het, dat Koennie se vestand is in ʼn vis blikkie. Hy het later Elektrisiën geword, en het verhuis na Kaapstad. Hy het daar gesterf, is veras, en sy as is by sy pa se voete begrawe.  

Conrad in die middel agter

Shelia was die oudste dogter, sy het onder haar pa se leiding musiek onderwyserres geword. Sy is later getroud met Reginald Stevens. Hulle het twee kinders gehad Allan en Carole. Is nou woonagtig in die Kaap.

Mary het ook onderwyser geword en is later getroud met ene mnr. Kuun van Worcester, waar hulle nog tans woon.

Maurice die ander seun het ook onderwyser geword. Hy het lank op Prospek skool gehou ons twee was goeie vriende. Hy is later getroud met ʼn meisie van Paarl Dianna Groenewalt. Daars een insedent wat my sal by bly, op sy troudag het die gaste teen woordig voedsel vergifteging op gedoen. Dit was ʼn naare ondervinding. Die stad saal was in kahos gedompel. My maats wat saam met my geeet het, het almal siek geword, maar ek het niks oor gekom nie. Drie ambulans moes die nag hulle sit en opstaan ken.  Dit was vir my ʼn tragiese skok toe ek verneem van sy dood. Hy was maar ʼn hart lyer en daar aan het hy gesterf. Die familie het besluit om hom te laat veras, en sy as is op Kanon Kop gestrooi, ʼn klein entjie van sy gebore huis af.

Hilda die jongste het ook onderwyser geword. Sy is later getroud met Eddie Hahn van die Paarl daar is kinders in die huwelik, maar getalle ontbreek my nou.


Adres aangebied aan

Mnr. W.P. Theys

Barrystraat, Montagu

Geagte Mnr. Theys,

Die personeel en leerlinge neem hierdie geleentheid te baat om hul waardering en dank- baarheid langs hierdie weg uit te spreek vir alles wat u verrig het gedurende die afgelope 30¼ jaar, sedert u hier gestaan het as steunpilaar van die skool.

Dit is met innige leedwese dat ons van u uitdienstreding verneem het, want vir baie in die dorp staan dit nog duidelik voor van u diens en pligsaanvaarding as hoof van die skool, toe dit nog slegs ’n tweemanskool was. Dit was jare van jeugdige ervaring van ʼn gedenkwaardige toekoms wat u begin het en deur die jare met hulle lief en leed op gebou het. Deur die jare heen het menige leerkragte wat onder u leiding alhier onderwys ge- lewer het, verwissel ; sommige het reeds die ewige soete rus ingegaan, nogtans was die Alvermoende Hand u so goedgesind om u in die lewe gespaar te hou om hierdie heuglike dag te beleef. Voorwaar ! stof tot dankbaarheid.

As leier, bouer en leermeester van die jeug het die samelewing u leer lief kry,ʼn jeug wat vandag grootmoeders en grootvaders is en ’n menigte van vaders, moeders en hinders. Voorwaar ’n prestasie wat nie maklik geewenaar kan word nie.

Onomstootlik is die feit dat u as hoof van die skool in menige buitemuurse bedrywighede maatskaplik en geestelik ten bate was. Ons dink veral terug aan die jare toe u in die fleur van u lewe was en u vurig beywer het op sportgebied veral in tennis en rugby. Op geestelike gebied is daar onuitwisbare spore nagelaat, waar u deel bygedra het as stigter van die Basuinkoor. U het die Kerk gedien as Kerkraadslid en Superin­tendent van die Sondagskool.

Ons roep in herinnering die ou gebou waar u ’n tweemanskool begin het en Iateraan ’n vyfmanskool en geleidelik het uitbrieding toegeneem totdat daar verplig was om die huidige gebou op te rig, die uitbreiding het so snel toegeneem sodat daar vandag kan gepraat word van ’n veertienmanskool.

Vir u dien dit tot eer te strek dat daar om en by die twintig van u gewese leerlinge hulle in die onderwysberoep bekwaam het en vandag waardevolle diens lewer vir land en volk. Opvoedkundig volg hulle u spoor.

Soos alles ten einde spoed het u tyd van swoeg en arbeid ook ten einde geloop en mag die Hand wat u van die wieg tot hede gelei het, u ook in die onbekende donkere toekoms voort lei.

So kan u ’n blik in die onherroeplike verlede werp en soete herinneringe daaruit put, wat u in die toekoms op u lewenspad kan onderskraag met die gedagte: My werk en pligte is afgehandel. Mag u ʼn en geseënde rus beleef.

Asook vra ons u om meegande geskenke namens die personeel en leerlinge as blyke van waardering van u dienste aan te neem.


W.A. Rossouw Primary School

Extract from an article in the Montagu Mail December 2003

W.A. Rossouw Primary School in Wilhelm Theys Avenue was named after Reverend W.A. Rossouw, who served the Dutch Reformed Mission Church for three years from 1956 to 1959.

Reverand Rossouw and his wife were popular among their parishioners and celebrated the half century of the existence of the church building in Long Street with the congregation in November 1957. The congregation was formed in 1891, and the church building, which at present houses the Montagu Museum, was inaugurated in 1907. Rev. Rossouw did much for his parishioner’s education in the town and district leading to the school being named after him in 1957 while he served his term in Montagu.   

Hilda (Theys) en Edward Hahn saam met Eerw. Rossouw

Die oorspronklike skoolgebou (“Die Bam”) op die linkerkant(2022)

Foto’s W.A. Rossouw Primêreskool 2010

Shelia Stevens se Galery

Mevrou Stevens was voormalige musiekonderwyseres en orrelis by die N.G. Sendingkerk (nou Montagu Museum)

Mevrou Stevens speel die orrel in die Sendingkerk Montagu

Die oorspronklik Theysfamilie huis in Barrystraat wat nog vandag(2023) staan

Houers met water van Donkerkloof 1943. L/R Hilda,Shelia, & Mary

Robertsonstasie. Agter: Shelia. Voor: Hilda,Maurice en Mary

Agter: Shelia, mnr. W.P. Theys. Voor L/R: Maurice, Hilda, Mary

Shelia,Mary,Maurice & Hildagard

Bydraes en Bronne: Shelia, Alan & Carole Stevens, Montagu Argief en Irma Jordaan

image_pdfDOWNLOAD PDF