156.Deel Drie van Vier: Skool en Gemeenskap(tot 1966)

image_pdfDOWNLOAD PDF

Saamgestel deur Ina van Wyk (née De Jager), met kosbare bydraes van haar span mede-Rietvleiers.
April 2026

Foto van die skool, soos dit in ons jare gelyk het: met die reservoir langsaan waarin daar op ‘n dag ‘n dooie rot- of spreeugeraamte in ons drinkwater was; die groot ou boom daaragter waar ons so lekker met ons klipkarretjies gespeel het en waar ons klein “tuintjies” gemaak het; en die langwerpige stoeptrappies voor.
Daar waar ons voetspore lê…

PLAASSKOLE BY MONTAGU:

RIETVLEI NO. 1 (±1870)

GESKIEDENIS

Hierdie foto, wat ’n groep skoolkinders en ouers toon by die Rietvlei No.1 Plaasskool, is geneem gedurende die tyd toe mnr. Warmenhove die onderwyser daar was. Hy staan heel regs voor met die kierie. Dit moes ’n besondere geleentheid gewees het, want selfs baniere is vertoon: die een lees “Unity is Strength” (Eendragt maakt magt) en die ander lyk soos “School established in Faith and Love”.

Mnr. Warmenhove het vroeër (1864) in Montagu skoolgehou, waar hy as hoof en onderwyser in Hoog-Hollands diens gedoen het, terwyl mnr. Finlayson die Engelse onderrig behartig het. Verskille tussen die twee het egter veroorsaak dat die kerkraad beide ontslaan het. Dit blyk dat Warmenhove daarna na Rietvlei No.1 getrek het om daar onderwys te gee.

Een van die dogtertjies in die foto hierbo is Sarah Susanna Rossouw (gebore 1864), die grootmoeder van die eienaar van hierdie foto. As sy omtrent agt jaar oud was toe dit geneem is, kan die foto gedateer word na omstreeks 1872.

Op die agterkant van die foto verskyn die naam J. Flockhart, fotograaf te Montagu. Dit dui waarskynlik daarop dat hy die eerste fotograaf in Montagu was, wat die foto se geskiedkundige waarde verhoog. Die foto is oorspronklik bewaar deur mej. Sannie Kriel van Derdeheuwel en later aan familie oorgedra.

Baie plaasskole in die distrik is deur Nederlandse onderwysers bedryf. Daar is selfs beweer dat sommige van hulle voormalige seevaarders was wat hul skepe in Tafelbaai verlaat het en binneland toe getrek het. Bekende name sluit in mnr. Bosch (die eerste onderwyser by Derdeheuwel) en mnr. Maritz, moontlik ook in die Rietvlei-omgewing.

Teen die 1870’s was mnr. Gustaf Geyer die eerste geordende en hoog gerespekteerde sendeling van Montagu, in die volksmond bekend as “Ou Meneer”, terwyl sy eggenote die bynaam “Ou Juffrou” gedra het. Volgens oorlewering het hul dogter, Lenie, reeds in daardie tyd die ABC aan kinders van die sendingskool geleer.

(Bron: Plaasskole by Montagu: Rietvlei No. 1 (±1870, vertaal deur ChatGPT)

Volgens J. A. Theron se verhandeling van 1948 (Onderwys in Montagu tot 1914, bl. 23) het daar reeds in 1866 ‘n skool op “Rietvallei (Langeberg)” met 22 leerlinge bestaan “under the construction of the son of the missionary, Mr. Geyer”. Van hierdie skool hoor ons egter eers weer in 1873. Toe het die inspekteur die pasgeopende skool besoek. Die standaard van die werk was laag en die skool nie in ‘n goeie toestand nie. In 1874 is dit weer gesluit.

Danksy die inligting (en foto van mnr. Warmenhove) links weet ons egter dat die skool kort daarna weer heropen het. Die volgende nota was daarby:

Dit is aangestuur deur mej. Babsie van Zyl (Sarah Susanna), van Le Rouxstraat, Montagu. Sy het hierdie notas in 1964 geskryf om mev. Bee Jordaan, wat destyds die argivaris by die Montagu-biblioteek was, te help.

Dr. Kellermann (destydse skoolhoof op Montagu) skryf in Montagustories no. 24 (Geskiedenis van die Onderwys in Montagu, die vroegste begin): “Langs die weg van swaarkry en sukkel het die onderwysgedagte tog geleidelik sterker en sterker geword, is die behoefte aan meer skooltjies duideliker gevoel en is daar dan ook die een na die ander in die lewe geroep sodat ons vervolgens hoor van skooltjies in die Keisie, in Baden, in Concordia en Rietvlei No. 1”.

Ongelukkig is daar nie veel van die vroeë geskiedenis van Rietvlei No. 1 se skooltjie beskikbaar nie. Danksy die bostaande gedeelte oor mnr. Warmenhove wat ongeveer 1870 onderwyser daar was, weet ons dat Rietvlei se skooltjie van die oudstes in die Montagudistrik was.

In die Montagustories (Montagu se Voortrekkermonument en die simboliese ossewa-trek van 1938) lees ons dat, met die oog op tweetaligheid, die Kerkraad, wat beheer oor skoolsake gehad het, twee onderwysers aangestel het (mnr. Warmenhove vir Hollands en mnr. Finlayson vir Engels), maar die twee kon nie oor die weg kom nie en albei het spoedigbedank. (Waarskynlik op aandrang van die kerkraad.) Mnr. Warmenhove het nog in die distrik aangebly as “Katkiseermeester” (en volgens die inligting hierbo, ook as onderwyser).

In die Montagustories oor Pietersfontein (Montagustories 72 A) word daar ook melding van mnr. Warmenhove gemaak: “So het my vader vertel dat hy maar die meeste van die tyd sy somboek saamgedra het veld toe as hy vee oppas en dan werk hy meester Keet se somprobleme uit. Die langste onderrig wat my pa aaneen gehad het, was drie maande toe hy op Rietvlei No.1 by ‘n sekere meester Warmenhove gekatkiseer het vir aanneming.

Sang was ‘n vername vak op skool en meester Keet het sy skoolspannetjie baie laat sing. Ook mnr. Warmenhove se katkisante moes die toniksolfa goed kon sing, maar in plaas van D-R-M-F-S-L-T-D soos vandag, was dit toe Ut-Re-Me-Fa-So-La-T-Ut. By die aanneming kry elke katkisant dan ’n kans om ‘n versie alleen uit die gesangboek te sing. Pa was so flink met sy sang en Bybelkennis dat ou dr. Servaas Hofmeyr vir hom ‘n groot Hollandse Waterdruk Bybel gegee het wat tans nog in my besit is.”

In dieselfde storie oor Pietersfontein lees ons: “Op Rietvlei No.1 was in 1866 ’n skool met 22 leerlinge. Met die begin van ‘Poor Schools’ moes die ouers ook 5/- (sjielings) en 10/- betaal vir ‘n kind se slaag in Standard 1 en 2. (Kaapse Onderwysbiblioteek). Die Staat het darem toe ook al begin sorg vir die onderwyser se salaris, wat twaalf goue Victoria-ponde was wat hy self elke kwartaal by die pastorie moes gaan haal.

Alle Standards tot aan Standard III: 3/- (30 sent) per kwartaal; Standard IV 5/- (50 sent) per kwartaal; Standards V en boven 6/6 (65 sent) per kwartaal (1906).

Alle Standards tot aan II 5/- per kwartaal; Standard III 7/6 per kwartaal; Standard IV en boven 9/- per kwartaal (1907)”

Foto van 1913 gekry op Montagu
History-blad.

Skoolkinders en hulle onderwyseres (1915)

Wat ons wel kan aanneem, is dat die kinders wat aan die einde van die negentiende eeu en in die eerste helfte van die twintigste eeu op Rietvlei No. 1 gebore is, daar in die skool onderrig is.

Die skool het van 1864 tot 1966 bestaan – bykans ’n eeu waarin dit ’n belangrike rol in die gemeenskap gespeel het en ’n onuitwisbare deel van Rietvlei se geskiedenis geword het.

André la Grange: Net ‘n stukkie interessante inligting by die onderste kaart:

Rietvlei No. 1 se skooltje staan op ‘n stukkie grond (282 square roods and 131,8 square feet) geleë in die Fieldcornetcy of Montagu* wat afgesny is van die plaas Riet Vallei agter de Cogman’s Kloof. Dis volgens die Kantoor van die Landmeter-Generaal gedurende 1897 onderverdeel en oorgedra aan die Trustees of the Public School at Rietvlei

Die moederplaas is oorspronklik (op 18 Desember 1825) toegeken aan Hester Elizabeth Conradie (weduwee van oorlede Abraham le Roux – seun van Gabriël) en mettertyd (op 10 Maart 1897) oorgedra aan ene DH Rossouw. Dit beteken dat die skoolgrond en skoolgeboutjie (wat skynbaar reeds in die 1860’s aan die gang was) voorheen deel was van die moederplaas – en waarskynlik gebruik is uit hoofde van een of ander onderlinge reëling met die eienaar. ‘n Mens sou graag meer wou uitvind oor die Trust wat in 1897 eienaarskap oorgeneem het. (* 282 square roods and 131,8 square feet is ongeveer 0.835 morg volgens ChatGP


ONDERWYSERS

Ongelukkig kon daar nie veel name van onderwysers van Rietvlei No.1 se skool opgespoor word nie.

Rondom 1930 het daar ‘n juf. Sarah Johanna Stemmet wat op Rietvlei gebore is, skoolgehou. Haar dogter woon tans in ‘n ouetehuis in Onrusrivier en onthou dat dit in haar ma se tyd ‘n tweemanskool was.

In oom Sakkie Nel (Johan Nel en die Tweeling se pa) se tyd het daar ‘n juf. Arangies skoolgehou. (Lees Danie Nel se storie van juf. Arangies en die pendoring in Deel Vier).

Die oudste oudleerling van die skool wat ons opgespoor het, is Elsabé (van Eeden). Sy het in 1946 in sub A gekom toe daar nog twee leerkragte (mnr. Boonzaaier en juf. Wessels) was. Rietvlei se skool was ‘n tweemanskool tot 1948. Daarna was daar net een leerkrag.

Juf. Johanna Stemmet (een van Pietersfontein se Kriels) wat met oom Klein Willie Stemmet (Duitser) getroud was, het na hulle daar kom skoolhou. Sy het op Rietvlei skoolgehou toe Klipheuwel se skool tydelik gesluit is weens te min leerlinge. Sy is weer terug soontoe toe Klipheuwel weer genoeg leerlinge gehad het (later meer oor haar).

Juf. Johanna Stemmet (foto geleen by Klipheuwel se storie)

Sy is opgevolg deur juf. Carstens.

Na juf. Carstens het juf. Rosie Groenewald in 1954 by Rietvlei No. 1 begin. Sy het tot 1962 daar skoolgehou. In die Montagustorie oor die Koo se skool, kan gelees word dat sy in die Koo en Pietersfontein skoolgehou het. 

Hier is die gedeelte uit die Koo se geskiedenis: “Juffrou Groenewald was die prinsipale en ons was van sub A tot st. 6 in die groot saal saam. Sy het van Pietersfontein se skool af gekom. Juffrou Groenewald was baie lief vir my en het my altyd so styf teen haar bors vasgedruk. Sy was ‘n dierbare mens en het oulike staaltjies van die oorlog vertel. Sy was ‘n WAF. (Dit staan vir Women Auxiliary Force, en verwys na vroulike helpers of bondgenote wat tydens die Tweede Wêreldoorlog vrywillig by die Weermag aangesluit het.)”

Sy was familie van die La Granges van Octavia. Hulle vertel later meer oor haar.

Juf. Rosie en oom Matewis Groenewald

Mnr. Piet Marais (met die bynaam “Piet Potlood”) het ná haar gekom en tot 1965 daar skoolgehou. Sy ma, tannie Mala, het Woensdae saam met hom uitgery skool toe om vir die dogters naaldwerkklasse te gee.

Hy het in 1971 in Namibië verongeluk toe ‘n koedoe in sy motor vasgehardloop het.

Mnr Piet Marais (Heelagter in die middel)
Agterste ry vlnr: Danie Nel, Piet van Deventer, Gerrie Kriel, Dolf Nel, Johrina (Jordaan), Ina (de Jager), Frances (Conradie).
Middelste ry: Hestea (van Deventer), Suzette (de Jager), Lidia (van Deventer), Irene (Smit), Rina (Trasforini), Gert van Deventer.
Voor: Paul Stemmet, Hannes van Deventer, Boy Swanepoel, Johan Conradie, Jurie Lombard.
Heelvoor: Tienie Smit.

Mnr. Vernon du Preez het die jaar wat die skool gesluit het, 1966, daar skoolgehou.

Mnr. Vernon du Preez

Sy vrou, Chrissie, leef nog en het die volgende onthou

Chrissie du Preez: Vernon du Preez het in 1966 by Rietvlei se skooltjie onderwys gegee. Hy moes die kindertjies van sub A tot st. 5 onderrig. Hy het in Montagu loseer. Sy motor was ‘n rooi Borgward

Ek en hy het mekaar as studente ontmoet. Ek het destyds sub A- en B-klassies in Prince Alfred Hamlet onderrig. Naweke kon ek hom help met taakkaartjies, ens. vir die kleintjies. Ons is op 6 Januarie 1968 getroud.

Ongelukkig is hy op 29 September 2015 oorlede. Hy was BAIE gelukkig by Rietvlei se skooltjie. Ons het baie kere in later jare spesiaal die pad verby Rietvlei se skooltjie gery. Baie dankie dat ek kan deel in die kosbare herinneringe van Rietvlei se skooltjie! Wees geseënd, elkeen wie hierdie sentimente koester! Baie liefde! Chrissie du Preez.


Ons kon so ongeveer 22 oudleerlinge van Rietvlei No. 1 se skool opspoor. Elsabé (van Eeden) is die oudste van hierdie oudleerlinge en kon gelukkig op 85 jaar baie inligting verskaf. Ons “onthou jy nogs” is meestal d.m.v. WhatsApps gedeel en word hieronder geplak. Party het ywerig aan die geselsies meegedoen. Ander het net saamgelees (en -verlang).

Want hierdie is ons almal se herinneringe. Ons geselse het een iets duidelik uitgespel: vir ons almal is hierdie Rietvlei No. 1 steeds NOMMER EEN in ons grootwordjare se herinneringe.

Die weduwee van Vernon du Preez, die laaste onderwyser in 1966 toe die skool gesluit het, Chrissie du Preez, is ook op die groep. Paul Fouché, wat nie saam met ons in die plaasskool was nie, is ook nadergetrek omdat hy oulike bydraes gelewer het oor o.a. Montagu se PIENK polisievangwa (Lees in Deel Vier) en die petrolpomp met die twee glasflesse, wat voor my pa, Andries de Jager, se winkel op Rietvlei No. 1 gestaan het. (Deel Twee).

Terwyl ons die gisters en eergisters herlewe het, het Dolf Nel se WhatsApp op 3 September oor sy tweelingbroer, Danie, se dood ons almal diep geraak… Danie en Dolf Nel, die Tweeling, en hulle oudste broer, Johan, was, soos hulle pa Sakkie, vanaf sub A tot st. 5 in Rietvlei No.1 se plaasskool.

Hieronder volg ons geselsies, in geen spesifieke volgorde nie. Dit is plek-plek onder verskillende hofies gestorteer. Slegs die grootste foute is reggemaak.

Danie het ywerig meegedoen en het sy onthoustories op ‘n pittige wyse vir ons neergeskryf. Daarom is dit gepas dat ons een van sy WhatsApps en ‘n foto wat diep gevoelens by hom ontlok het, eerste plaas:

Danie Nel: Rietvlei No.1 Laerskool was ‘n klein ou plaasskooltjie wat ‘n groot invloed op almal wat op daardie skoolbankie gesit het se lewens gehad het!

Ek is seker dat, as enigeen wat daar leer spel en speel het, terugdink aan daardie dae, dit net goeie en mooi gedagtes is – gedagtes wat ‘n glimlag op ieder en elk van ons se gesigte sou laat verskyn!

Voorwaar was dit ‘n voorreg om in Rietvlei No. 1 Laerskool te kon wees en daar die mens te kon word wat ons vandag is.

Dit is goed dat ons terugdink en gesels oor ons grootwordjare. Ek dink hierdie geselse sal vir ons nageslag kosbaar wees. Ons het nie sulke verwysings van voorgeslagte wat hulle geskiedenis op so ‘n manier aan ons oorgedra het nie. Ons is dit aan ons nageslag verskuldig.

So het baie geskiedenis verlore gegaan. Aan die ander kant, hulle het ‘n ander lewe as ons gehad, en party was ook nie so boekgeleerd nie. Stelsels om die geskiedenis te bewaar, was ook baie minder as vandag. 

Dit maak dit net nóg waardevoller dat ons nou dié herinneringe, stories en besonderhede aanteken sodat dit nie vir altyd vergeet word nie. Ek dink dat dit wat ons nou doen, met ons lekker gesels oor die verlede, ‘n baie goeie ding en uniek is!

Danie Nel het hierdie foto van die plaasskool en hulle plaas die 27ste Augustus vir ons groep aangestuur – enkele dae voor hy oorlede is. Sy woorde oor Rietvlei se skooltjie vat ons almal se gevoelens so mooi saam… Lees hoe mooi verwoord hy dit:

Danie Nel: Toe ek by hierdie plek kom, met dié prentjie voor my, het my fiets sommer vanself tot stilstand gekom. Daar het iets binne-in my gebeur – iets wat nie elke dag gebeur nie.

Die stilte, die hartseer en die dankbaarheid wat Rietvlei se skooltjie en werf in my wakker gemaak het, kon ek nie mooi in woorde vasvang nie. Ek het toe die foto geneem en dit na ons WhatsApp-groep gestuur, want ek het geweet almal daar sou my gevoelens verstaan.

Toe raak die fiets se brieke weer los. Ek het verder gery – ryker as net vyf minute tevore.

Dolf Nel: Danie, jy’s reg. Dis uit sulke oomblikke wat rykdom vloei, maar die besluit daartoe berus nog steeds by onsself.

Johan Nel: Ek praat min, maar ek kyk en luister na alles. Dit roer my hart. Baie dankie.

Dolf Nel: Hier waar die hoop grond links van die pad lê, is waar ons ou moerbeiboom gestaan het.

Danie Nel: Presies soos jy daar sê, Dolf!

Piet van Deventer: Hierdie geselse oor die skooltjie maak so baie gevoelens in my wakker. ‘n Mens verlang na almal daar in Rietvlei.

Ina (de Jager): Is nostalgie en heimwee deel van oudword? Want dan is ek nou oud.

Elsabé (van Eeden): Ek het in 1946 daar in die skool gekom. Dit was op daardie stadium nog ‘n tweemanskool. Mnr. Boonzaaier was die hoof en het vir die ouer leerlinge tot st. 6 skoolgehou. Mej. Wessels was die hulp­onder­wyseres en sy het vir die kleiner kinders skoolgehou.

Die skool was in die middel met ‘n “partisie” gedeel, d.w.s. ‘n afskorting van plank. Ons het soms nog met griffels op leie geskryf, maar boeke en potlode het geleidelik in gebruik gekom. 

Daar was te min kinders in die skool om ‘n tweemanskool te regverdig en daar is van ander skole se kinders ingeneem om die getalle aan te vul. Klipheuwel se skool was vir ‘n paar jaar gesluit en van hulle kinders het ook in Rietvlei se skool skoolgegaan.

In 1948 het die skool ‘n eenmanskool geword, en juf. Johanna Stemmet het toe daar afgelos tot juf. Carstens aangestel is. Sy was met oom Willie Stemmet (oom Klein Willie Duitser) getroud. Hulle het drie seuns gehad. Die oudste se naam was Johan en Paul was die jongste. Hulle was ons bure. Sy het later by Klipheuwel skoolgehou.

Daar het nog Stemmets ‘n entjie verder gewoon. Hulle was ook daar in die skool. Hulle was ouer as ek. Hulle name was Pieter, Henry en Frikkie. Hulle pa was oom Koos (bynaam Ekkedie). Dan was daar ook sy broer, oom Piet Ekkedie, en hul dogter, Ansie, wat ook daar in die skool was. Sy is heelwat jonger.

My pa het op die skoolraad gedien. My ma het ook by die skool afgelos wanneer daar van die onderwysers siek was.

Susan (Dolly Marais): Ek het op Rietvlei begin skoolgaan omdat Klipheuwel se skool op daardie stadium vir ‘n paar jaar gesluit was weens te min kinders. My ouers het op Leeuwrivier gewoon en daarom moes ek die vier jaar wat ek in Rietvlei se skool was, by aunt Johanna en oom klein Willie Stemmet loseer. Sy het in die begin daar skoolgehou. Soggens het haar man, oom Willie, haar met die fiets skool toe geneem. Hy het ‘n kussing voor op die handvatsels vir haar gesit en haar op dié manier skool toe en terug karwei.

Ek moes maar loop tot by Elsabé en verder saam met hulle stap. Elke oggend het ek ‘n gekookte eier gekry wat ek loop en eet het. (Hulle het met hoenders geboer om te verkoop.)

Elsabé (van Eeden): Ek onthou nog hoe oom Willie vir tant Johanna op die fiets skool toe gery het. Almal het altyd by ons huis bymekaargekom en verder oor die Kop (soos ons dit genoem het) deur die Pluim skool toe gestap. Omtrent so twee myl.

Die Rahl-kinders het met die treppie gery. Tannie Janie het hulle skool toe geneem en weer na skool kom haal. Dan het ons partykeer lift gevang tot by Rietvlei se winkel. Anders het ons so twee myl oor die koppie deur die Pluim gestap. Baie sports gehad. As ons met die pad langs geloop het, het ons altyd by tant Cielie Stemmet brood wat natgemaak en met suiker bestrooi is, geëet. Dit was baie lekker, want ons het dit nie by die huis gekry nie.

Tannie Janie Rahl by Prins wat voor die perdewaentjie ingespan was.

Ek was die enigste leerling in st. 5. Toe het plaasskole nog tot st. 6 gegaan, maar ek het my st. 6-jaar saam met die dorp s’n gedoen om gereed te wees vir st. 7, die begin van die hoërskool.

Susan Marais (Dolly) het in 1948 op Rietvlei in die skool gekom. Rietvlei se skool het toe sopas ‘n eenmanskool geword, d.w.s in 1948. Juf. Stemmet het toe daar skoolgehou en, omdat sy van Klipheuwel was en daar nie op daardie stadium ‘n skool was nie, het sy by haar loseer.

Ek is nog van die ouer skoliere. Ek is 85 jaar oud en ek wonder hoeveel van my jare se leerders leef nog? Doreen (Stemmet) woon in Durbanville en ons het nog kontak. Marita (Rahl) woon in Kleinmond.

Die seuns het pouses met hul fietse om die skool gery. Daar het ‘n groot selonsroosboom voor die deur gestaan en ek het van agter die boom uitgekom en mnr. Boonzaaier se seun het my met sy fiets omgery. My been was gebreek en ek het lank op my boude rondgeskuif. 

Kierie van Deventer wou nooit skool toe gaan nie. Sy pa het hom skool toe gebring, maar as sy pa loop, is hy met sy koffertjie agterna.

Die eerste September was lentedag en dan het ons in die veld gaan stap. 

Marita (Rahl): Ek was van ongeveer 1948 af in Rietvlei se skool. Ek het op vyf skool toe gegaan omdat my broer, Connie, nie alleen sub A toe wou gaan nie. My ma het soggens vir ons op die perde­waentjie (met Prins, die perd, voor) skool toe geneem en langspad het ons nog kinders opgelaai. In 1952 het my pa, Hendrik, ons plaas, Nelsrus, aan die La Granges verkoop.

Doreen (Stemmet): Ek het in 1950 daar begin. Toe was juffrou Carstens daar. Ek het nogal gedink sy was kwaai. Elsabé, het sy nie by julle loseer nie? Ek en Gideon, Elsabé se broer, en Hermiena was in dieselfde standerd. Kierie was ‘n jaar na ons. 

Ek het groot bewondering en respek vir ‘n onderwyser in ‘n plaasskool. Dit is nie maklik om soveel standerds in een vertrek te onderrig nie. Hulle het almal van ons se lewens verryk.

Ek onthou ook die speelgrond. Ons het kaalvoet op daardie gruiserige oppervlak atletiek geoefen. Gelukkig was die voete hard genoeg van altyd kaalvoet loop. Ai, dit was lekker dae!

Piet van Deventer: My pa is in 1918 gebore hy was daar in skool. My ma ook. Sy moes seker in 1924 sub A toe gegaan het. Die skool moet baie ouer wees as wat ons gedink het.

Hilda (Lombard): Ek glo my ouma-hulle het ook daar skoolgegaan, want waar anders sou hulle dan skoolgegaan het? Hulle het grootgeword op die plaas waar my pa-hulle grootgeword het.

MANIERE HOE ONS BY DIE SKOOL GEKOM HET

Dolf Nel: Fietse was wel vir ‘n paar van ons beskore. Ou Kosie la Grange het so ‘n resiesfiets met drop handles en sulke dun wiele gehad. Daai agterwiel van hom het ek een middag daar teen die lang bult by oom Willem-hulle in sy kanon gery toe hy voor my, op my blou Raleigh, dwars draai.

Kosie, onthou jy nog die slag toe ek daai resiesfiets van jou se agterwiel moer toe gery het by oom Willem Bokkop-hulle se lang bult? Ai, man.

Kobun Stemmet het anderkant Boontjieland op hul plaas Ruigtevlei gewoon – seker goed vier of vyf kilometer ver. Hy het as klein seuntjie ‘n 29-duim-dikwielfiets gekry waarmee hy stokalleen met sy been onderdeur die fiets se bar skool toe gery het. Ek dink nie enigiemand sou ‘n klein seuntjie vandag so-iets laat doen nie. Geen wonder dat Kobun, toe hy in st. 4 of 5 was, op die dorp se sportbyeenkoms menige van die groot ooms in die een myl-wedloop geklop het nie.

Ina (de Jager): Juf. Johanna Stemmet, getroud met oom “klein Willie Duitser”, het sowat twee myl (meer as drie kilometer) van die skool af gewoon. Elke dag het hy haar voor op die handvatsels van sy fiets, op ’n kussing, skool toe en weer terug gekarwei. (In daardie dae nog keurig uitgevat – met ’n romp of rok wat maklik in die speke sou kon beland, sykouse en hoëhakskoene …)

Juf Johanna Stemmet en haar motortjie, Kriek

Hulle moes naby Rietvlei se winkel oor die nasionale pad ry en dan deur die “Pluim” – ’n lang rit van omtrent drie kilometer, wat smiddae besonder lank gevoel het wanneer die oggend se afdraandes weer opdraandes geword het op pad huis toe! Gelukkig het sy suster, Cielie, en haar man, Willem, omtrent halfpad gewoon, en kon hulle daar afklim vir ‘n drinkdingetjie.

Later, toe sy by Klipheuwel se skool skoolgehou het, het sy eers met ’n donkiekarretjie gery en later met haar motortjie, Kriek.

Onthou julle dat Annemarie, Jurgens en Eric Steyn soggens met die treppie skool toe gekom het?

Doreen (Stemmet): Ek onthou oom Alwyn Steyn met sy treppie (perdekarretjie). Ek het altyd ‘n geleentheid saam met hulle gekry toe Annemarie sub A begin het.

Hilda (Lombard): Wel, ek weet ek het nogal baie pak gekry. Ek moes soggens by ’n werkershuisie verbystap waar Lena gebly het, maar sy was nie by haar volle verstand nie – en ek was banger vir haar as vir die duiwel! As ek haar gewaar het, het ek liewer terug huis toe gehardloop as skool toe.

En moenie eens praat van julle bul nie, Dolf en Danie! O hel, dit was daardie bul se skuld dat ek nooit behoorlik skoolgereed was nie. Ek het eers skoolgeletterd geraak nadat ek uit die skool is.

Lidia (van Deventer): Ek en Gert (dalk Suzette ook) het smiddae, op pad huis toe, in die sementwatervoor langs die bos tot by die withuisie gestap. Ons sub A, B en st. 1′ s het vroeër huis toe gegaan. Gert het toe eendag in ‘n stukkende glasstuk getrap en sy voet lelik oopgesny.

Suzette (de Jager): Lidia, dit was my voet wat gesny het, tensy Gert ‘n soortgelyke oomblik gehad het. Ons moes mos stap, winter of somer, maar daardie dag het iemand my pa gaan roep en hy het ons met die geel bakkie kom haal. Geen steke gekry nie. Sit vandag nog met die litteken in die waai van my voet!

O, ek kan onthou hoe bitter koud en hoe bitter warm dit op daardie pad kon wees. As ek gelukkig was, het oom Izak my in die winter, as hy by die winkel was, opgelaai tot by hulle hek. Was altyd ‘n verlossing!

Lidia (van Deventer): Suzette, as ek terugdink: het iemand ons ooit oor daardie hoofpad gehelp? (So baie daaraan gedink in Roodepoort as die padpatrolliekinders diensdoen).

Suzette (de Jager): Nee, Lidia, ons moes net self regkom! Vandag is so iets ondenkbaar. My pa het ’n denkbeeldige streep voor die pad getrek waaroor ek nie met my fiets mag gery het nie. So het ek toe eendag oor daardie streep gery, en my pa het my gesien … en my teruggeroep … wat ek toe geïgnoreer het!

Maar waaraan ek nie gedink het nie, was dat ek weer moes huis toe gaan … Onnodig om te sê, ek het nooit weer oor die pad gery nie!

Chrissie du Preez: Baie hartlik dankie dat ek in my geestesoog hierdie ervaringe kan saam herleef, soos onsself ook in ons kindertyd beleef het! DIT IS KOSBAAR!

Johan Nel: Ek is maar van die stil soort en praat min, maar ek lees en kyk na elke boodskap van julle. Dit roer my hart en maak mooi dinge in my wakker.

Doreen (Stemmet): Ai, dis lekker om al die bekendes van lank gelede se boodskappe te lees. Dit vat ‘n mens regtig ver terug. 

Christa (de Jager): Môre, hier kom ek ook darem by. Ons het destyds netbal gespeel, al was ons net 13 – groot en klein, seuns ingesluit. Ek en Gert Stemmet spring toe gelyk vir ’n bal, en sy kop tref my teen die oogbank. Vir weke daarna het ek met ’n blou oog geloop.

Ons het een keer per jaar vir ’n “natuurstudieles” gaan turksvye pluk. Jy moes ver loop – deur die riviertjie en om daardie kop. Die vrugte was heerlik, en ons het hulle sommer met stokke oopgesny!

SUS EN DAAN

Elsabé (van Eeden): Ons het nie (in 1946) geleer lees soos later se kinders nie. Daar was nie Sus en Daan nie. Ons het die alfabet geleer. Die Juffrou het ‘n a geskryf en dan moes ons ‘n klomp a‘s in ‘n ry maak tot ons weet wat ‘n a is. Dan b, ens.

Dan moes ons dit klank. Elke woord is tot vervelens toe geklank. My ma het kinders ingeneem om op Rietvlei skool te gaan sodat die skool nie moes toemaak nie. Ek was in st. 2 en die ander jonger. Dan moes sy ons almal leer lees het. Dit was ‘n missie. My pa het hom byna doodgelag vir die gespellery. Die woorde word heel anders geskryf as wat dit gespel word.

Ina (de Jager): Elsabé, interessant. Ons het wel leer klank. Later het die kinders mos nie geklank nie en moes die woorde as ‘n geheel uitken. 

Juf. Rosie het spelling in ons ingedril deur vir ons woorde te laat opdeel (“kap in stukke”, soos sy dit genoem het). Ons moes klank: waat-le-moen-kon-fyt-stuk-ke, skoen-ve-ters, ap-pel-koos-kon-fyt, ens. Maar leer spel, het ons!

Elsabé (van Eeden): Ja, juf. Carstens en juf. Groenewald het by ons loseer. Sy was getroud. Haar man het haar Maandae gebring en Vrydae weer kom haal. Hulle het in Montagu langs die Kingnariver gewoon. Ek was nie by juf. Groenewald in die klas nie, want toe was ek al op die dorp in die skool.

Ek het nie twee standerds in een jaar gedoen nie, maar moes reeds op vyf skool toe gaan. Hoewel ek eers in Junie ses geword het, moes ek skool toe gaan om te help sorg dat daar genoeg leerlinge was om ‘n tweemanskool te regverdig.

Ons het in sub A en B met ‘n griffel op ‘n lei geskryf en in st. 1 in boeke begin skryf. Van st. 3 af het ons met pen en ink begin skryf.

Voordat skryfboeke algemeen was, het die kinders op ’n lei met ’n griffel geskryf. Elke kind het ’n klein botteltjie water en ’n lappie gehad om die lei skoon te vee wanneer dit vol geskryf was. Die water het ’n nat streep agtergelaat wat stadig opgedroog het. As die griffel stomp geraak het, het ons dit teen ’n klip of die sement geslyp en dan weer versigtig begin skryf.

Doreen (Stemmet): Ek het nie sub A en B in een jaar gedoen nie. Ek dink nie juf. Carstens sou gedink het dis moontlik nie.

Lidia (van Deventer): Aan die einde van my St. 1-skooljaar (1966) het die skool gesluit weens te min leerlinge. Vir ons drie jongste Van Deventer-kinders uit een huisgesin was dit ’n groot skuif. In my St. 1-klas was dit net ek, Suzette de Jager en Tienie Smit. Die leerlinge het volgens standerds in sewe rye gesit. Ons kleintjies moes baie keer buite gaan sit en vir mekaar hardop lees uit ons Sus en Daan-boeke. Die groot kinders het met lospuntpenne wat in vloeibare ink gedoop moes word, geskryf. In die skoolbank was ’n ronde gaatjie waarin die keramiekinkpotjie gepas het.

Ina (de Jager): Ja, ons onthou almal vir Sus en Daan, Vader en Moeder, oom Jan, Koeloe, Duif, Langoor, By, Boef en Kees. Die volledige Sus en Daan-boek kan hier besigtig word:

https://www.flickr.com/photos/67199964@N08/albums/72157627531361801/

Dan het ons so ‘n klein rooi leesboekie gehad: In die Bos of Ons gaan bos toe. Ons het ‘n liedjie met die boek se woorde gehad:

Ek en Sus is tog so bly
Ons twee gaan mos bos toe ry
Koeloe ry ook met die wa
Ons twee kom maar agterna

Voor in ons leesboeke was ‘n son met strale waaronder gestaan het: Het dagbreek overal. Onthou ek reg?

Chrissie du Preez: Ek dink jy onthou reg!!

Lidia (van Deventer): Ek onthou vir mnr. Du Preez met sy rooi Borgward baie goed. Ek was van 1989 tot 1991 skoolsekretaresse in Port Nolloth waar hy voorheen hoof was. So kon ek weer met sy vrou kontak maak. Ons moes baie “resitasies” leer en tafels uit ons koppe ken vir somme (vandag Wiskunde). Tannie Chrissie, ek is seker jy het vir mnr. Du Preez gehelp om my eerste kwartaal in st. 1 se rapport te skryf.

Lidia se st.1-rapport

Chrissie du Preez: Ja, dit was seker ek wat jul rapportjies geskryf het! Vernon het altyd gesê hy skryf te lelik! (Nie dat mý skrif eintlik beter is nie! Ek dink ek moes sy handskrif seker probeer naboots het!)

Suzette (de Jager): Ek onthou nog hoe mnr. Marais geruik het, so skoon. Sy ma, tannie Malie, dink ek, het soms, seker so een maal ‘n week, vir ons kom naaldwerk gee. Ek het al so baie gewonder of dit vir die liefde van die saak was en of die Departement haar vergoed het.

Hierdie was maklik ’n gemors: jou vingers was vol ink, die pen se punt het gesplit, en skielik lê daar ’n plas swart ink op die landkaart wat jy met soveel sorg probeer teken het. Gelukkig was daar kladpapier waarmee die ergste ink geklad kon word.

Plek vir die inkpotjies

Ons moes almal op dié dun lyntjies leer “skoonskrif” skryf. “Dun op en dik af!”, het ons gesê en party het hard probeer – met die tong wat uitsteek van sukkel!

HOE DIE SKOOLDAG VERLOOP HET

Elsabe van Eeden: Ons het Maandae, voor klasse begin, eers Sondagskool gehad. Dan moes ons ons teksies opsê en Juffrou het vir ons uit die Bybel gelees en vrae gevra.

Dolf Nel: In die somer was ons soggens baie vroeg by die skool om te speel. In die winter is daar ‘n vuur aangesteek en elkeen wat opdaag, moes ‘n armvol takke of boombas vir vuurmaak bring en kon dan om die vuur kom sit vir hitte. Met speeltyd is daai vuurtjie weer aangeblaas en die toebroodjies op ‘n stok gerooster.

Rietvlei Laerskool het soggens begin met die 12 tot 16 kindertjies wat in twee rye by die voordeur gaan staan het: seuns aan die pad se kant en dogters aan die rivier se kant. Met die instap, kyk juf. Groenewald of jou naels skoon is. Jy loop met jou twee hande voor jou uitgestrek, naels boontoe. 

Dan sit almal in hul skoolbanke en Juffrou lees uit die Bybel. Sy het seker iets gepreek of ‘n Bybelstorie vertel, maar ek kan nie onthou nie. Daar is ook ‘n paar Halleluja-liedere gesing. Partykeer met Juffrou wat by die klavier sit en almal wat rondom haar staan en sing. Daarna word Godsdiens afgesluit met die Onse Vader wat hardop opgesê is. Ek kan nie onthou dat enige van die onderwysers self gebid het nie. Dit kon wel so wees.

Met die opsê van die Onse Vader het ou Paultjie Stemmet altyd kliphard en so twee woorde voor almal sy ding gedoen. Omdat die skool naby ons werf was, het ons honde baie dae saamgegaan en by ons tussen die skoolbanke gelê.

Ina (de Jager): Ons moes baie keer prentjies teken van die Bybelstorie wat juf. Rosie of mnr. Marais vir ons gelees het.

Ons het hoofsaaklik Halleluja-liedere gesing. Ons het die bekende Halleluja-liedere se nommers baie goed geken, want die een wie se hand eerste in die lug was, se liedjie is gesing. So ken ek nou nog van die liedjies se nommers in die groen Halleluja-boekie: Langs die heuweltoppe kom daar (lied 101), Strome van seën van bowe (lied 315), Wat ‘n vriend het ons in Jesus (lied 444), Jesus roep my vir ‘n sonstraal (lied 236), en nog baie meer.

Dolf Nel: Ná Godsdiens het somme gevolg, en daarna leeswerk; dan goed soos Aardrykskunde, Gesondheidsleer en Geskiedenis. Die groter kinders (st. 4 en 5) het die kleiner klassies soms buite onder die bome geneem om na hulle leeslesse te luister.

Daar was ‘n lang speeltyd en ‘n kort speeltyd (pouse). Dan het ons die Marmite– of konfyttoebroodjies buite in die son gesit en eet of onder die bome gespeel. Die spelery is ‘n storie op sy eie.

Suzette (de Jager): Ja, die jonger leerlinge moes langs hulle ouer susters of broers in die klaskamer sit sodat hulle ons kon help. So het ek langs Ina gesit en Lidia langs Hestea. Dit was nie altyd lekker nie, want hulle was partykeer aspris kwaai met ons!

Piet van Deventer: Onthou julle nog toe ou juffrou Rosie aan die slaap geraak het, die skoolklok in die hand – van eerste pouse tot byna tweede pouse? Heeltyd-speeltyd was heerlik! Ons het net verder van die skool af gespeel, sodat sy rustig kon slaap. 

SPELETJIES

Dolf Nel: Speletjies wat ons gespeel het, was Al die Rooies, derdemannetjie, wegkruipertjie en malieklip. Albaster en kennetjie en “hopskots” was ook gewild.

Daar het ‘n watersloot by die skool verbygeloop en resies is gehou met goedjies wat dryf. Ek onthou goed broer Danie het so ‘n geel eendjie gehad wat altyd gewen het. 

Daar was nog ‘n speletjie waar almal in ‘n kring sit en dan ‘n boodskap fluister in die een langs jou se oor en lekker is gelag oor hoe die boodskap verander as dit weer by die beginner uitkom. Ek het die naam vergeet. O ja, telefoontjie! Nog een was Wolf, Wolf, hoe laat is dit?

Ons het ook ‘n foefieslide uit die peperboom oor die watersloot gebou en dit het gesorg vir baie valle – veral dié wat bietjie aan die swaar kant was.

Danie Nel: Dolf, jy onthou baie mooi al die goed. Presies soos jy sê! Ons skoolmaats was werklik soos familie. Dit was altyd lekker om mekaar soggens te sien!

Suzette (de Jager): Ja, ons het teen die koppie aan die westekant van die skool botterboom gery wanneer die onderwyser ons vir ‘n uitstappie gevat het.

Ina (de Jager): Juf. Rosie het ‘n paar keer tydens speeltyd liedjies (sy kon nie note lees nie, het tonic solfas gebruik) op die klavier sit en oefen en dan voor die klavier aan die slaap geraak. Dan het ons geweet: nou kan ons lekker lank speel:

All Rows, Agter wie wil jy staan, agter son of agter maan, Tjoeksiebaan, Hasie en Kennetjie. Malieklip, Blikkie Aspaai en ook Doekvoet.

By party speletjies is liedjies gesing: 
Aljander, aljander, so deur die bos
Jou mamma en pappa kook lekker kos
Jou boetie verstik aan ‘n druiwetros
Die laaste een se kop word af-ge-kap!

En ook:
Ons kom vir ons ‘n bokkie haal, ‘n bokkie haal, ‘n bokkie haal
Ons kom vir ons ‘n bokkie haal, een, twee, drie.
Wie wil julle vir ‘n bokkie hê, ens.

Later jare het ‘n mens eers besef malieklip was eintlik ‘n gevaarlike speletjie! Ons het met rivierklip na ‘n teiken gegooi en kon mekaar doodgegooi het…

Ons het ook piep oor die skool se dak gespeel. Die persoon wat die bal gooi, het “piep” geskree sodat die kinders aan die anderkant kon weet: hier kom die bal.

Om te besluit watter span die eerste ‘n beurt moes kry, of wie eerste moes oë toehou by bv. wegkruipertjie, het ons allerhande uittelrympies gehad:

Eeny, meeny, maina, mou,
Skotlawina, waina wou,
Iets, piets, muskadel,
Kom verby, jou vrotte vel!

(of soms: “Jannie met die rooi manel!”)

Soms ook:
“Iena Diena Daaina Das,
Skotlawiena Waaina Was, ens.

Olke bolke, riebietjie stolke, olke bolke knor.
Ȇrie, tjêrie, tjiekerie tjêrie
Ȇrie, tjêrie, tjorts!

Piet van Deventer: Ina, ek onthou jou neef, Danro Swanepoel goed. Hy en baie ander – soos Hugo Basson en my broer, Gerrit, en Langner van Zyl – het dikwels by ons kom speel. Kosie, jy was ook by.

Ons klomp het baie saam rugby in die lusernkamp gespeel. Ons en die plaaskinders het spanne opgemaak, en dit het soms rof gegaan. Een keer is Danro deur ’n plaaskind geduik en sy elmboog het uit potjie gespring. Sy arm het snaaks kort gelyk. Langner van Zyl en Hugo het dit egter reggekry om sy arm weer terug te ruk, en dit het toe weer normaal gelyk.

Die Maandag op skool was sy arm egter in gips. Jou pa het hom dokter toe geneem. Die arm was wel reg in potjie, maar daar was ’n beentjie gebreek.

Na sulke spelerye het ons by my ma karringmelkbeskuit en koffie geniet. Soms is die hele baksel op een slag opgeëet.

VERJAARSDAE

Lidia (van Deventer): Ek onthou baie goed dat wanneer ons verjaar het, my pa altyd kissies koeldrank (rasberry en cream soda) by oom De Jager se winkel gekoop het en dit “grootspeeltyd” skool toe gebring het – asook kolwyntjies wat my ma gebak het. 

Ina (de Jager): Jip, ons het kort-kort deur die venster gaan kyk of ons ma nog nie aan die aankom was nie. Ek het die vorige aand bo-op die tafel gesit terwyl die menger besig was om die bestanddele vir die koek te meng, en sy het later die sjokoladeversiersel so lekker dik bo-op gesmeer en met die versierbuis rosies daarop gedruk.

UITSTAPPIES

Christa (de Jager): Eenkeer het ons ‘n uitstappie Kaap toe gehad. Pappa, Mamma en Juffrou voor in die bakkie en ons ander almal in die kappie. Man, ons sing die hele pad Kersliedere, soontoe en weer terug. Ons was by die museum en dokke ook. So kon almal darem ‘n slag gaan kyk hoe lyk die Kaap.

Ina (de Jager): Dit was nogal ‘n waagstuk om met so ‘n klomp plaaskinders wat hulle aan alles verwonder, “stad” toe te gaan! Stad was die middestad. Al die groot winkels was daar. Eers later jare het die winkels takke in Bellville en ander voorstede oopgemaak. Ek onthou ons was tot binne-in Adderleystraat se O.K. Bazaars en op die Parade.

O, en die opgewondenheid om deur die (ou) tonnel te ry!

Dolf Nel: Toe Christa nou hiervan vertel, onthou ek hoe my pa en ma eenkeer die skoolkinders agter in ons bakkie Robertson se skou toe geneem het.

Ina (de Jager): Jip, en ons het vir dae gesels oor die ou wat die swaard gesluk het en allerhande toortoertjies gedoen het.

BASAARS

Lidia (van Deventer): Die basaar! Die bouquets (blomruikertjies) het tannie Sally la Grange altyd gemaak. Tannie Stienie was baasbakster van grootkoeke en ringkoeke. Ons ma het letterlik honderde kleinkoekies gebak, asook kolwyntjies en hertzoggies. Sy het ook lekkergoedmandjies van wynbottelhouers gemaak. Dan is dit mooi oorgetrek met kreukelpapier. 

Die jaarlikse tiendes se koevertjies is ook by die basaar ingehandig. Daar was altyd ‘n veiling en oom De Jager was die afslaer.

Ina (de Jager): Die jaarlikse basaar was altyd ‘n groot gebeurtenis. Die tafels buite het gekreun van vleis, koeke, rolkoeke, outydse soetkoekies, gemmerbier, ens. daarop. 

Ek onthou die skouerruikertjies wat tannie Sally (soms ook Hermiena en Johanna Stemmet) gemaak het om aan die mans se lapelle vas te speld. Die rye blomruikertjies is op ‘n skinkbord rondgedra. Daar was ook ‘n piering op die skinkbord waarin die tiekie, of dalk ‘n sikspens, gegooi kon word. Ons moes mooi konsentreer: die ooms se ruikertjies moes boontoe wys en die tannies s’n ondertoe.

Almal was netjies uitgevat. Die mans het kerkpakke en dasse aangehad. Party van hulle het ook ’n onderbaadjie by die pak gedra, met ’n sakhorlosie in die onderbaadjiesak. Party se pype het ’n dekseltjie met ’n kettinkie gehad, wat hulle spoggerig met tabak gestop en genoeglike trekke gegee het voordat hulle die rook uitgeblaas het.

Almal het eers voor die skooltjie vergader sodat ds. Weideman, of wie ookal die predikant op daardie stadium was, die basaar kon open.

Voor die skool het ‘n verskeidenheid motors en bakkies gestaan, meestal Chevs en Fords, baie nogal swart. Sou tannie Dirkie Mostert (Doreen en Kobun Stemmet se ouma) met haar kapkar en perde basaar toe gekom het? (Sien foto van haar en haar kapkar in Deel Een).

Christa (de Jager): Die basaars was ‘n hoogtepunt. Tannie Dirkie Mostert se waatlemoenstukke was heerlik. Dan was daar die pragtige, kleurvolle “boekytjies” (blommetjies) wat die dogters aan die ooms moes verkoop.

Ja, ek wonder mos nou hoeveel skape, pampoene, grootkoeke, stukke biltong, hekelwerk, ens. my pa van die skool se trappies af opgeveil het?

Suzette (de Jager): En ons ma se lekker frikkadelle! Lekker baie asyn in gehad. Johrina se ma het sulke olievormpies (vormpies wat in kokende olie gedruk is) met ‘n klontjie appelkooskonfyt of room bo-op, gemaak.

Chrissie du Preez: My ou moeder het BAIE “flêns” vir basaars gebak! Kosbare herinneringe!

Hilda (Lombard): Suzette, jou ma se frikkadelle kan ek nog in my gedagtes proe en so helder sien. Dit was altyd in daardie wit slaghuispapier, sag en sappig. Tot vandag toe is ek nog steeds versot op frikkadelle.

Dolf Nel: Met die veiling by die basaar was dit ‘n gebruik by van die ooms om, wanneer die bod toegeslaan word, die item terug te gee om weer opgeveil te word vir ekstra opbrengs vir die kerk. Of daar sou ook gesê word dat die item agter in Dominee se kar gesit moet word.

Korentestellasies wat oor skoolbanke gesit is, het as tafels by die basaars diens gedoen.

Kosie la Grange: Daar is jaarliks ‘n kerkbasaar in die skool gehou met pannekoek, waatlemoenstukke, poeding, koeksisters en gemmerbier. Daar is ook ‘n skaap opgeveil. Oom Boeta van Deventer het eenkeer die bod gewen, toe “gooi hy die skaap terug” om weer opgeveil te word.

KONSERTE

Dolf Nel: Ons het die wonderlikste konserte gehou. Daar is kwaai geoefen om al die hasies, bokkies, ens. hul ding te laat doen. Kostuums is uit ou trommels gehaal of deur Mammas gemaak soos nodig.

Speelgoedmotortjie wat Jurie een jaar by die skool se kersboom gekry het.

Al die kinders wat optree – en dit was almal, al was jy ook net ‘n blom wat iewers op die verhoog staan – se gesiggies is met lipstiffie en poeier en goed opgemaak. Ons seuns het dit gehaat. Na die konsert kon jy nie gou genoeg daarvan ontslae raak nie.

Langs die skool was twee afskortings van vrugtekratte vir kleedkamers gepak. Op die verhoog het daar sulke swaar gordyne gehang wat oop- en toegetrek is tussen items. Daar was ‘n pouse met koek en koeldrank vir die skoolfonds te koop.

Christa (de Jager): Ek was baie klein toe ons Die Mieliedogter opgevoer het. Hermiena was die reënkoningin met die mooiste pienk rok met sulke blinkertjies wat so geblink het in die lamplig. Ek dink nie ek het ooit weer iets so mooi gesien soos dit nie. Hermiena, ek het jou so bewonder!

Suzette (de Jager): Ek onthou die reuk van die paraffienlampe en die gevoel van opwinding wat daarmee saamgegaan het.

Kosie la Grange: Die gordyn was met haakspelde aan ‘n stywe staaldraad vas. Ek het ‘n onderbaadjie by oom Willempie Stemmet geleen vir my actor’s role. Hy was so ‘n klein oompie en sy baadjie het vir my gepas!

Lidia (van Deventer): Ons laaste skooljaar in Rietvlei is met ‘n groot skoolkonsert afgesluit. Ek onthou hoe die skooltjie weergalm het van die gaste se handeklap, maar ek onthou nie die toneelstuk se naam nie. Ek het die gediggie Haasbekkies voorgedra.

Hilda (Lombard): Nee, julle weet mos hoe daardie jare se konserte was. Ek was pal ‘n feetjie, maar nogal ‘n dik ene. Ek dink nie deesdae se kinders ken daardie kinderlike opgewondenheid wat ons met so min beleef het nie. Die klere wat spesiaal vir ons gemaak is en die maak van die vlerke van die feetjies, was baie spesiaal. Vir my was die hare wat ingedraai is, ‘n hoogtepunt. My ma het vir my Kidglove-skoene gekoop. Altyd wit. Een jaar het ek pienkes gekry. Ek was toe na aan die hemelpoorte, was toe seker ‘n engeltjie. Ek is nou stokoud en daardie konserthou het my nooit verlaat nie.

Ina (de Jager): Ja, Hilda, ons hare is reeds die oggend van die konsert met staal-dinkeys (die voorloper van haarrollers) ingedraai en dan is ons met ‘n kopdoekie daaroor skool toe om saans ‘n krullebol te kon hê! 

Tannie Pietjie Conradie van oom Gideon met die spierwit hare het sulke klein voetjies gehad en ons meisiekinders het gereeld haar hoëhakskoene vir die konserte geleen.

PARAFFIENLAMPE EN DIE SPOOK

Ina (de Jager): Help bietjie, die skool het nooit elektrisiteit gehad nie, nè? Die groot draadloos met die “groen oog”, waar ons soggens Siembamba geluister het, het met ’n groterige battery gewerk. Mobil het ‘n paar keer in die aand filmpies kom wys. Hulle het seker kragopwekkers gebruik? Ek onthou net van die film van Antartika en die reuk van paraffienlampe. Onthou my kop reg?

Dolf Nel: Die hoogtepunt van die konsert was ‘n opvoering deur die grootmense van een of ander storie. Oral in die skool het olielampe gehang met lig en die wonderlike reuk van paraffien.

Danie Nel: Ja, Ina, jou kop is nog reg! Paraffienlampe wat uit die dak gehang het! Ek onthou dit spesifiek oor ‘n ondervinding wat ek nooit sal vergeet nie. 

Die grootmense het saans in die skooltjie vir ‘n konsert geoefen. Ek, Dolf en Johan (my twee broers) wou hulle toe skelm gaan afloer toe hulle oefen. Ek weet nou nog nie hoekom skelm nie! Skelm is seker lekkerder as nie-skelm. 

Ons het toe die skool in die donker bekruip sodat die grootmense ons nie sien nie. Ons het aan die padkant, waar die melklorrie soggens verbygery het, agter die doringdraad nader beweeg.

Skielik het daar ‘n wit gedaante teen ‘n helse spoed in ons rigting al in die pad op gesweef! Die SPOOK het ons forseer om deur die doringdraad bo-oor die kraalmuur te laat terugspaander huis toe! In die proses het die doringdraad sy merke gelaat en die vars koeimis agter die kraalmuur het ook deurgeloop. Alles natuurlik in die pikdonker!

Toe ons baie later weer terugsluip na die skool, moes ons tot ons skaamte sien dat die wit SPOOK die lig van die lampolielamp was wat in die pad geskyn het. 

Die lig het so heen en weer in die pad op en af beweeg (gesweef) as die grootmense per ongeluk die lamp met hulle koppe gestamp het in hulle oefenproses. Die swaai van die lamp het dan die “spook” laat beweeg!!

Ons moes maar net lag en die geheim het ons eie gebly tot vandag toe. 

Ina, ek onthou jou pa en ma was baie talentvol en het die leiding geneem met daardie konsertoefeninge. Ja, daardie was goeie tye!

SO AMPER WAS DAAR GROOT BOLLIE…

Dolf Nel: Die twee toilette by die skool was van die emmersoort en daardie emmers is periodiek deur oom Willem Stemmet-hulle skoongemaak. Die inhoud is in ‘n gat, so mensdiepte, daar in die hoek van die skoolgrond naaste aan my oupa-hulle gegooi. Bo-oor die gat was so ‘n swaar houtdeksel.

As jy die toilet in een van die kleinhuisies so ‘n entjie van die skool af wou besoek, het jy gevra: “Juffrou, kan ek gou hier afgaan?”

Eendag is daar toe besluit om te kyk wie in daai gat kon klim. Danie was dapper genoeg. Hy het met sy voete teen die kante vasgetrap sodat hy darem nie kniediep in die wrede inhoud hoef te staan nie. Terwyl Danie nog so staan, het iemand die houtdeksel oor die opening geskuif en grond op die deksel gegooi. Ek het Piet Potlood gehelp om die deksel oop te ruk en Danie kon ongedeerd uitklim. Hy het hom seker vrek geskrik. Dink net watter konsternasie so-iets in vandag se tyd sou veroorsaak het! Ek dink nie ons ouers het daardie tyd enigiets daarvan gemaak nie.

Danie Nel: Alles “oorlogskade” en stories uit die vormingsjare!

(Lees ook die storie van juf. Arangies en die “slang” by Deel Vier).

Dolf Nel: As daar kaf in die beeskraal gelê het, het ons seuns van die kraal se dak af op die kaf gespring. Die spronge was later uitgebrei na ‘n summersault wat nogal ‘n risiko kon inhou. So het ou Kobun sy afstand met ‘n summersault misreken en sy bolip op die sinkdak se kant seergemaak, bloed gespoeg en kwaad gewees. Einde van die storie en hy het net eenvoudig aangegaan met die lewe.

Did parents really let us run around the neighborhood all day with no phone, no water, and barely a goodbye – just a “be home before dark”? And somehow … we survived

 DIE ROTGERAAMTE IN ONS DRINKWATER!

Ina (de Jager): Op die onlangse foto van die skool is die reservoir, wat langs die kant was, nie meer daar nie. Onthou julle toe daar eenkeer ‘n dooie muis of rot in die reservoir was en hoe die water gestink het?

Danie Nel: Ina, jy onthou doodreg oor die dooie rot of spreeu wat in die watertenk was en die slegte water! Ek onthou dit goed. Dit was in Piet Potlood se tyd. Ek onthou dat daar ‘n opgevrotte rot- of spreeugeraamte onder in die tenk gelê het. 

Piet van Deventer: Dolf en ek het in die reservoir gaan kyk. Toe ons die sementdeksel lig, glip Dolf se hand en die deksel val terug. Twee van my vingerkoppe druk toe onder die deksel vas. Potblou vingernaels. Dit was vrek seer. Twee vingerpunte staan nou nog bietjie skeef. Gelukkig was dit my linkerhand.

Danie Nel: Ons seuns moes toe die tenk skoonmaak. Dit het ‘n hele paar dae geneem. Nadat ons die tenk mooi skoongemaak het, het ons seuns dit sterk oorweeg om in die tenk water af te slaan! Ons het egter daarteen besluit omdat ons self ook dan van daardie water sou moes drink!

Vir seker was ons baie ondeund en het altyd baie planne gehad!!

DIE GROOT OU MOERBEIBOOM

Ina (de Jager): ’n Ent van die skool af het die grootste moerbeiboom gestaan waarvan die takke afgeskeur het. Al wat kind was (gewoonlik so twaalf of dertien, eenkeer selfs agtien van sub A tot st. 5!), kon binne-in daardie boom sit, hul mae vol eet aan die sappige, vet, blouswart moerbeie, en dan met gevlekte voete, hande en klere terugstap skool toe – met handevol moerbeiblare vir die vet, gulsige spinwurms wat tuis in skoendose gewag het.

Moerbeityd was ’n heerlike tyd! Sodra die eerste klein blaartjies aan die groot moerbeiboom by die skool begin uitkom, het ons geweet dit was tyd om op die klerekas te gaan kyk of die spinwurmeiertjies nie dalk begin uitbroei het nie. En, soos altyd, het die wurmpies geweet wanneer die bome bot! Piepklein, dun, swart wurmpies het begin uitbroei, en ons kon nie voorbly om bedags genoeg blare te pluk om vir hulle kos te gee nie.

Dit was fassinerend om hulle te sien groei – van piepklein swart wurmpies tot vet, spierwit sywurms met goudgeel agterentjies van al die spindrade. Hulle het die mooiste hartjies en ander vormpies gespin, wat ons in ons Bybels gebêre het.

Later het die papies gelê en woel tot ’n boks vol fladderende motte daaruit gekom het. Hulle het weer eiers gelê wat op die klerekas moes bly tot die volgende jaar, wanneer die groot moerbeiboom weer sou bot en nuwe blare vir die volgende geslag sywurms sou voorsien.

Daardie reuse moerbeiboom was ’n wêreld op sy eie – ons het daarin geklim, moerbeie geëet tot ons mae seer was, en middae met gevlekte hande en klere by die huis aangekom. En ja, van julle seuns het uit pure moedswilligheid die moerbeie natgepieps sodat ons dit nie wou eet nie!

Hilda (Lombard): Middae na skool het ek nie dadelik huis toe gegaan nie. Dan eet ons moerbeie in daardie ou groot boom of ons ry botterboom. Ons vergeet skoon van ‘n huis wat wag en ‘n ma wat ons met die populierboom se lat staan en inwag.

Piet van Deventer: Van die moerbeiboom kan ek baie goed onthou: gevlekte klere en groot moeilikheid by die huis! 

VLERMUISE, VALDEURSPINNEKOPPE, JOELIES EN KNIKKERTJIES

Ina (de Jager): Onthou julle die vlermuise in die dak? Van die seuns het eenkeer ‘n vlermuis op die solder gevang en geopereer om te kyk of daar nie babatjies binne-in die ma-vlermuis was nie. Ons meisiekinders het ons doodgegril…

Dolf Nel: Ja, die vlermuise was ‘n ding. Ons het met ‘n lang leer deur die ronde traliewerk se ventilasie­gat in die skool se gewel ingeklim – elkeen gewapen met ‘n lang spaansriet. Ons het dan ‘n lawaai gemaak totdat die honderde vlermuise begin vlieg om by die ventilasiegat uit te gaan.

Soos hulle verbyvlieg, swaai jy net die spaansriet op en af so vinnig jy kan en slaan dan só baie vlermuise dood. Ons het hulle oopgesny en in sommige van hulle kleintjies gekry. Ja, so het ons, sonder Google, ons kennis verbreed. Onder andere het ons toe nie meer geglo dat vlermuise radar het waarmee hulle in die donker vlieg nie!

Christa (de Jager): Ek wonder hoeveel van julle onthou nog die valdeurspinnekoppe wat by die skool was? Jy moes mooi soek om hulle gaatjie te kry. Daar was net ‘n klein ronde merkie op die grond waar die valdeurtjie en sy nessie was.

As jy so tik-tik daarop of met ‘n stokkie daar krap, ruk die astrante, pikswart spinnekop die deurtjie oop. As hy nie ‘n prooi of iets te ete raaksien nie, ruk hy die dekseltjie netso vinnig weer toe.

Die deurtjie en die nessie is sorgvuldig uitgespin en in die dekseltjie is klein gaatjies waarin hy sy pootjies haak om die deurtjie styf toe te trek.

Dis nogal iets om te sien – daardie klein dingetjie wat sy hele wêreld so netjies onder die grond bou, en net sy deurtjie oopmaak wanneer hy seker is dit is veilig.

Dolf Nel: Ek onthou die valdeurspinnekoppe se gate met deurtjies baie goed, maar ekself het nooit die spinnekop gesien nie.

Christa (de Jager): Onthou julle die bynes wat daar in die een groot boomstam was? Die seuns het eenkeer baie moeite gedoen om die bye uit te rook en daar is die heuningkoeke al die tyd vol jongbye! Hulle moes vlug om van die bye af weg te kom!

Ina (de Jager): Ek onthou ook die knikkertjies wat ons geëet het. En die joelies (‘n mierleeu is glo ‘n joelie of joerie se ander naam) wat uit die gaatjies gekom het as ons met ‘n stokkie daarin gewoel het. Dan het ons hierdie rympie opgesê:

Joelie, joelie, botter en brood,
Kom net uit, dan maak ek jou dood!

Joelies

Ons het plat op ons mae gelê en die klein wonders van die natuur dopgehou.

Dolf Nel: Ina, was die knikkertjies die kiesieblaar se saadjies wat soos klein pampoentjies lyk?

Ina (de Jager): Nou vra jy my vas. Ek dink nie so nie. Die knikkertjies was sulke ronde groen “bolletjies” op ‘n steeltjie en het nie blare gehad nie. Ek weet nie of die kiesieblaar dalk giftig is nie?

Knikkertjies (links) en Kiesieblaar

DIE GEUR VAN KOFFIEPITTE WAT GEBRAND WORD

Piet van Deventer: Oom Johannes en tannie Mienie Nel was met ’n boot oorsee. Toe hulle terugkom, het hulle een oggend by die skool van hulle wedervaringe kom vertel. Hulle het vir ons almal klein, vierkantige blokkies suiker gebring wat mense daar in hulle tee gooi.

Danie se ouma het een maal per week koffiepitte in ’n swart pot laat braai. Daardie lekker koffiereuk bly my nog altyd by.

Ina (de Jager): Piet, ek onthou ook die heerlike geur van tannie Mienie se koffiepitte wat brand. In Tygervallei is daar ’n koffiewinkeltjie waar dieselfde geur hang. Dan dink ek terug aan die bekende reuk wat oor die plaas gehang het.

TUINMAAK

Piet van Deventer: Ons het baie tuingemaak en groente geplant, asook bolplante. Ek het gladiolias (swaardlelies) geplant. Daar was sulke donkerrooies, te pragtig. Daar is ook dahlias geplant met water uit oom Sakkie se watersloot wat langs die skooltjie verbygeloop het.

Regoor die skool het oom Johannes groentetuin gemaak met groente en heerlike aarbeie – die mooiste groentetuin ooit met die hulp van ou Israel.

Danie Nel: En groentetuinmaak was baie belangrik! Piet van Deventer se tuin was altyd so mooi!

Dolf Nel: Onder Piet Potlood se leiding het ons regtig spog groente- en blomtuine gemaak en veral die swaardlelies onthou ek goed.

Ina (de Jager): En daar is radyse, rape, ens geplant – groentesoorte wat ‘n mens nie gewoonlik sommer in groentetuine sien nie.

Piet Potlood het armsvol van dié mooi swaardlelies in die dorp gaan verkoop. Onthou ek reg van die mooi hek by die skool met die klein hekkie binne-in? Daar het ons alle kleure pronk-ertjies geplant waarvan ons bossiesvol vir ons ma’s kon pluk.

Dolf Nel: Ek onthou hoe ons hoogspring geoefen het oor die hakkiesdraad-bekslanerhek wat langs daardie mooi staalhek was waar voertuie kon deurgaan. Daar was ’n klein voetgangerhekkie aan die een kant.

Danie spring op ’n slag, en sy agterent haak aan die doringdraad. Toe hy aan die pad se kant grond vat, hou hy sommer aan hol huis toe dat Ma eers ’n pleister kan opplak!

Christa (de Jager): Ek het self oor die hek gespring en my rok se onderlyf het vasgehaak en agtergebly terwyl ek anderkant geland het. Moeilikheid!

Dolf Nel: Voor die skool tussen die netbalbaan en die leivoor was daar ‘n rotstuin met ‘n groot nagprag wat soms, wanneer ons soggens by die skool kom, nog die pragtige wit blomme gewys het voor dit toemaak vir die dag.

Ina, jy is reg met daardie soorte groente. Piet van Deventer het hom daardie tyd al loshande as die beste boer onder ons bewys.

Suzette (de Jager): Ek onthou ook hoe ons groentetuin gemaak het en, na daar geoes is, veiling gehou het van ons produkte. Ons kon dan uitwerk of die oes winsgewend was of nie. As ek nou daaraan dink, besef ek dat mnr. Du Preez eintlik Uitkomsgebaseerde Onderwys van latere jare myle vooruit was.

YSTERSTOFIES, MUSEUMKASTE EN BIBLIOTEEK

Ina (de Jager): Onthou julle die mooi stofies (twee?) van gegote yster wat in die skool was? Ons het wintertyd tydens “grootspeeltyd” rooibostee in ennemelbekers gekry wat ons monde erg gebrand het. Wie onthou dit nog?

En wanneer dit te koud in die klas was, het ons die skoolbanke en swartbord buitentoe gedra en in die sonnetjie tussen die skool en die watervoor skoolgegaan.

Kosie la Grange: Daar was twee kaggeltjies vir verwarming in die skool waarop tannie Rosie vir ons potjies rooibostee vir pouse laat trek het. 

Elsabe (van Eeden): In my dae moes ons soggens ‘n lepel lewertraan drink en dan kry ons ‘n beker water om dit af te sluk. Dit was so sleg! Dan hardloop ons uit en spoeg dit buite uit. Die een muur was later so vetterig van die olie. 

Speeltyd het ons altyd ‘n lemoen, suikerlekker of rosyntjies gekry. My pa was op die skoolraad en hy het altyd die eetgoed gaan aankoop.

Die biblioteekkas van die skool 

Dolf Nel: Daardie twee ronde ysterstofies het met die toemaak van die skool eenvoudig net verdwyn. Wat ‘n jammerte…

In die skool het daar twee sulke regop kaste met twee houtdeure onder en twee glasdeure bo gestaan. Hulle het gedien as pakplek en die skoolbiblioteek. Die een kas staan by my.

Christa (de Jager): Die ander kas het so ‘n skuins luik gehad om boeke op te sit. Daar was nou nie so baie boeke nie, sodat ek in die laerskool reeds Verspeelde Lente en ‘n boek van Jochem van Bruggen gelees het. Uitstekende leesstof vir ‘n laerskoolkind?

Ina (de Jager): Al was daar nie ‘n groot verskeidenheid storieboeke nie, was daar ‘n boek wat ons verslind het: nommer tien van die stel Kinderensiklopedieë met stories soos Bloubaard, die Huis wat op hoenderpote in die rondte gedraai het, Ali Baba en die veertig rowers, Skoonlief en die Ondier, bekende sprokies, en baie ander. Van die st. 4’s en 5’s het dit vir ons buite onder die boom voorgelees.

Piet van Deventer: Ja, nommer tien was ‘n gesogte boek om te lees.

Dit is darem ‘n mooi kas wat tot sy reg gekom het. Baie bly dit word bewaar. Dankie vir die foto, Dolf.

Ina (de Jager): Onthou julle die groot museumkiste wat so twee of drie keer ’n jaar met die bus gekom het? Wanneer ons die deurtjies oopgemaak het, was daar binne uitstallings van die San se woonplek, rotstekeninge en wapens, of die lewensloop van die sprinkaan en die mot, ensovoorts. Daar was soms ook opgestopte voëltjies, veelkleurige skoenlappers, sprinkane, duisendpote, vlermuise en paddas in die kas.

Christa (de Jager): Die museumkiste is by die winkel afgelaai. Daar was groot opgewondenheid wanneer die spoorwegbus stilhou en die groot houtkis aflaai! Die kiste het van die Kaapse museum af gekom.

O, DIE DONKIE IS ‘N WONDERLIKE DING!

Danie Nel: Ja, ons het baie dinge in en rondom daardie skooltjie gedoen. 

Ek onthou van donkiery. Ek weet nie waar die donkies vandaan gekom het nie, maar ek weet net sy rug het soos ‘n sinkplaat onder my stert gevoel. Toe steek die donkie nog vas ook met my op sy rug! Ek trek toe regoor sy twee lang ore en daar hardloop die donkie bo-oor my en trap op my maag!

Hilda (Lombard): Danie, was daardie donkies nie oom Boeta s’n nie? Want Gerrit-hulle het soggens met die donkiekar skool toe gekom. Het seker opgegradeer van stap tot donkiekar ry, want ek het saamgery. So, die donkies het seker bedags by die skool gebly. 

Piet van Deventer: Die donkie het ek en Gerrit by ou Jatty vir nege sjielings gekoop. Hy het by die Tweeling se pa gewerk. Toe is daar ‘n tweedisselboomkar met planke en ysterwiele gebou. Kierie het gehelp met die tuie se maak.

Ons was net twee keer met hom skool toe. Die donkie was die probleem. Dié was ‘n bietjie wild as jy op hom gery het. Danie het afgeval, en Susan Matthee het haar wind uitgeval. Ons het ons vrek geskrik. Toe is ek belet om die donkie weer skool toe te bring.

Dolf Nel: Piet, ek onthou dat jy op ‘n stadium met Jors Batt se donkie skool toe gekom het – of was dit julle donkie? Jors Batt was so half en half ‘n soort van hero in ons oë.

Piet van Deventer: Ja, Dolf. George Batt, jou pa en my pa was ook in die skool en seker so min of meer ewe oud.

Oom George Batt, sy pa, ma en broers het op ons plaas gebly en hulle eie huis gebou – alles met klei. Oor die dak is balke (populierpale) gesit, dan riete op die balke, dan streepsakke op die riete met dik klei bo-oor. Geen plate of plastiek nie. 

As dit baie reën, het hulle net weer ‘n laag klei oorgesmeer. Die huis het klein plankvensters gehad. Die huis was glo koel in die somer en warm in die winter. Hulle het altyd so agt na tien donkies gehad. Dit was hulle donkiekarre se “enjins”. 

Ons het hulle donkies soms in die hande gekry en groot sports gemaak. As ou oom Frikkie en sy vrou, Sannie Batt, ons op die donkies sien, was die duiwel los, en die tale wat ons toegesnou is… Hulle was eintlik baie goeie mense. 

DIE KRAALMUUR

Die wit kraalmuur voor die skool met die Nels se huis daaragter. 

Ina (de Jager): Niemand het nog iets van die heerlike kraalmuur genoem nie? Hoe de ongeluk het ons bo-op gekom? Ek onthou hoe ons daar van bo-af sit en kyk het hoe die kaf uitgeblaas word. Moenie vra met watter masjien nie… Help, julle drie Nels?

Onthou julle, ons het hierdie gediggie by juf. Rosie geleer wat ons bo-op die muur opgesê het. Dan het die “voëls” op die grond rondgevlieg en weer op die muur kom klim: 

Two little dicky birds sitting on a wall.
One named Peter, the other named Paul.
Fly away, Peter! Fly away, Paul!
Come back, Peter! Come back, Paul!

En dan het ons ‘n stertjie bygelas waarvan Google niks weet nie: 
Come back, dicky birds and sit on your hôl.

En dan het ons gekraai van die lag.

Hamermeul

Danie Nel: Ina, daardie heerlike kraalmuur is gebou van leiklip wat so ‘n growwe trappie-agtige afwerking gehad het. Ons handige kaalvoetjies het seker maar daardie leiklippe as trappies gebruik.

Binne-in die kraal was ‘n hamermeul (foto regs op die foto) wat, wanneer nodig, lusern opgekap het as voer vir die ongeveer vier tot ses jerseymelkkoeie wat elke dag twee keer gemelk is vir melk vir eie gebruik.

Dit was altyd so mooi om te sien hoe Piet Melker die koeie in ’n melkemmer melk, sodat die skuim so bo-op die melk lê. Deeglike, romerige skuim – baie beter as deesdae se skuimkoffies! As Piet so gemelk het, het ons altyd, asof gehipnotiseerd, na hom gestaan en kyk en ons verwonder aan wat ons gesien het. Wat ons daardie tyd in die kraal gesien het, is nie meer in vandag se tyd te sien nie.

Bloekom se sade

Ina (de Jager): Waar die kraalmuur gestop het, was ‘n groot boom langs die sementvoor. Die blare en sade het baie lekker na bloekomolie geruik. Ons het ‘n gaatjie in die sade gemaak en vir ons pype daarvan gemaak. Weet julle watter soort boom dit was? ‘n Soort bloekom? Blare het ‘n effense blougroenerige skynsel gehad.

Christa (de Jager): Ja, dit was n soort bloekom se sade.

DIE NELS SE HOENDERBOERDERY

Danie Nel: Baie jare terug (ek dink toe ons nog in doeke was), het die onweer eendag net voor parstyd opgesteek! Die hael het die hele druiwe-oes tot niet geslaan. 

My pa het toe besluit om uit nood ‘n paar hoenders te koop om tydelik ‘n ekstra inkomste te kry totdat die wingerd weer van die haelskade herstel het. 

My ma wou vreeslik graag ‘n tennisbaan op die plaas gehad het. Sy het op daardie stadium alreeds ‘n paar rolle ogiesdraad vir die tennisbaan gekoop. Met daardie rolle ogiesdraad is toe ‘n paar hoenderkampies gemaak.

Die hoenders is daarin gesit. Die eiers is op die dorp verkoop, en so nou en dan was daar seker ‘n slaghoendertjie ook as die hen nie wou lê nie.

Die hoenderboerdery het so met die tyd groter geraak en die tennisbaan is nooit gebou nie. 

Dit was ‘n goeie ding en dit het toe goed gegaan met die hoenderboerdery wat met die jare groter geraak het. So weet ‘n mens ook nie altyd dat, as ‘n slegte ding met jou gebeur, dit miskien ‘n goeie ding was nie!

Ouboet (Johan, ons ouer broer wat toe net klaar was met sy studies), het toe later plaas toe gekom om my pa met die boerdery te help. 

Ina (de Jager): Snaaks, ek kan nie onthou waar die hokke was nie, maar ek onthou dat ons by hulle was, en ook dat daar bokse met piepklein kuikentjies by die winkel op die Spoorwegbus gelaai is. Die kuikentjies was baie pragtig (en raserig).

Dolf Nel: Ek kan bevestig dat Pa-hulle klein hoenderkuikens in spesiale kartonbokse landwyd per S.A.S. & H. gestuur het, en volgens inligting het dit gewerk sodat die kuikens lewendig hul bestemmings bereik het.

Hilda (Lombard): Ja, ek kan goed onthou dat, toe die hoenderboerdery groter geword het, Neels van Wyk daar by die hoenders gewerk het. Hy is verlede jaar oorlede; ek het al die jare nog kontak met hulle gehad.

Dolf Nel: Ja, hy was ‘n bakgat man. Ons seuns het gedink hy is die beste.

Hilda (Lombard): Ja, hulle het nog daardie tyd by julle op die plaas getrou. Met ‘n perdekar! Nog uit die dorp gekom met die perdekar. Vir ons was dit soos Charles en Diana se troue! 

Piet van Deventer: Danie, onthou jy nog van die klomp varke wat naby die hoenderhokke was? Hulle kos was al die dooie hoenders en die uitgooihaantjies; die varke was blinkvet. Die een se dood is die ander se brood!

Danie Nel: Ja, Piet! Wat jy sê, is baie waar! Daar was twee dromme vol water waaronder vuur gemaak is. Al die dooie hoenders en uitgooihaantjies is dan in die dromme kookwater gegooi – so met vere en al. Dan, na ‘n ruk wanneer hulle nie meer rou is nie, is hulle met ‘n drietandgaffel uit die drom gegaffel en net so vir die varke gegooi!

Die varke het die hoenders met vere en al verslind en wat Piet sê, is waar. Hulle was spekvet!

As ons kuiergaste gehad het, het ons altyd die varke vir hulle gaan wys. Hulle het op die varkhokke se muurtjies geklim of oorgehang om hulle te sien. As ons dan terugkom by die grootmense, het hulle altyd hulle neuse opgetrek vir hoe ons geruik het! Ons kon dit nooit verstaan nie, want ons het dan self niks geruik nie. 

Ons het soms die kuiergaste na die bokramme gevat om hulle te vryf, dan het almal weer na bokram geruik!

Dolf Nel: Die bokram se naam was Basjan en hy was so groot en sterk dat ons op hom kon ry.

RIETPYPIES

Christa (de Jager): Wat onthou ek nog van die rietpypies waarmee julle gerook het? Die manne sal dalk beter kan verduidelik.

Dolf Nel: Ons het ook altyd vir ai Dorie wat by ons in die kombuis gewerk het, gestuur om vir ons ‘n sikspens se twak by oom De Jaar se winkel te gaan koop. Dit was altyd in so ‘n klein bruin papiersakkie. Dit was Geel Transvaal. Ons het Swart Transvaal ook probeer, maar dit het ons laat opgooi.

Ons het netjiese pype gemaak met ‘n steel van pypsteelbos en die kop was van spaansriet. Ons gewilde rookplek was in die kafhok langs die skool by die kraal. Nou praat jy van mannetjies van st. 3 tot st. 5. Goeie genade!

Danie Nel: Menline-tabak was ook goed!

Johan Nel: Julle was stouter as wat ek gedink het.

Ina (de Jager): ‘n Swak invloed en voorbeeld vir julle mede-skoliere! (Dis nou ons!)

“Vry-pepermente”: Bo-op was woordjies soos I love you; Be mine; Sweetheart en Kiss me.

Dolf Nel: Ek en Danie het altyd, wanneer ons eksamens verby was, na oom De Jaar se winkel gegaan en daar ’n klein blikkie kondensmelk, drop, Wilson-toffies, Niekerballs en pienk pills vir elkeen gekoop.

Ina (de Jager): En pakkies Kool-Aid. Julle was mal daaroor – veral die nartjiegeur!

En moet ook nie die “vry-pepermente” vergeet nie!

ATLETIEK

Dolf Nel: Met die oefening vir die sportbyeenkoms (die woord atletiek het eers later ingekom), het my ma gehelp en, soos reeds gesê, was dit kaalvoet op die grondpad tussen die skool en Oupa se groentetuin waarvan Piet vertel het.

Piet van Deventer:  Een oggend was ou Danie bietjie laat om atletiek te kom oefen. Hy kom toe daar aangehardloop met sy kortbroek bo-oor sy langpyp-pajamabroek aangetrek. Toe hardloop hy met sulke reguit, stywe bene met die oefening. Ons het baie gelag. Jou ma was nie baie beïndruk nie. 

Kosie la Grange: Vir liggaamsoefeninge het al die kinders saam netbal gespeel. Vir atletiek het ons in die plaaspad voor die skool afgehardloop. Ons seuns het kaalvoet skool toe gegaan en in die winter in die watervoortjie wat daar verbyloop, gestaan om weer lewe in die bevrore tone te kry.

Ons het met fietse skool toe gery. Ek moes vir André lift en ons het een oggend teen ’n groot spoed geval toe ek getrap het en hy moes stuur.

KLEREDRAG

Dolf Nel: Ons het daai jare Wupperthal-blousoolvelskoentjies in die winter gedra. Die sole was seepglad op nattigheid. As jy jou oog knip, sit jy op jou stert. Daar was van die kinders – en Piet, ek dink jy was een van hulle – wat nooit skoene gedra het nie. Hulle voete was so hard en taai soos motorbande. Ek onthou nog dat ou Gerrit sulke groot groottone gehad het van al die kaalvoet loop.

Hilda (Lombard): Ja, maar Gerrit-hulle en ons het ‘n kompetisie gehad om te kyk wie nie in die winter skoene dra nie. Dié wat dit die langste kon uithou, was seker die hero’s. Ek is seker daardie jare het ons voete gebrei – ek sukkel nou nog om skoene aan te trek.

Dolf Nel: En dan moet ons nie vergeet van die meisiekinders se kleredrag nie. Al die rokkies het sulke linte, met ‘n groot strik vasgemaak, hier om die middel gehad. Ek kan nie onthou of hulle ooit kaalvoet geloop het nie. Seker maar. Strikke in die hare was ook baie standaard. Hulle het ook soms so ‘n lekker reuk op hulle gehad, maar dit was nie standaard nie.

Ina (de Jager): Ja, ons het kaalvoet geloop en met blou voetjies en beentjies by die skool aangekom. Onthou, langbroeke vir dogters was in daardie jare taboe. Ek het eers in st. 8 of 9 my eerste langbroek gekry.

En dan, wanneer jy by die skool aankom, moes jy eers houtjies gaan optel voordat jy jou hande by die vuur kon gaan warmmaak.

Dit was arm jare. Ek onthou nog dat van die dogtertjies se broekies van uitgewaste meelsakkies gemaak was. Soms kon ’n mens nog sifted flour op die sitvlakke lees.

Christa (de Jager): Ja, want dit was na-oorlogse jare en die meeste mense het maar swaargekry. Dinge (soos klere) was nog nie so oorvloedig beskikbaar soos vandag nie.

Dolf Nel: Ek let nogal op die foto’s dat ons seuntjies soms sandaaltjies gedra het.

OU KAMERAS EN FOTO’S

Dolf Nel: ‘n Mens vergeet gou hoe ‘n duur en omslagtige ding ‘n foto se neem daardie tyd was. Foto’s was nie sommer vir elke bakatel geneem nie.

Ina (de Jager): Dis so jammer dat daar nie meer foto’s geneem is nie, nè? Dit was nog die ou bokskameratjies wat jy hier voor jou maag moes hou om ‘n foto te neem.

En dan moes jy eers wag tot die film eendag vol is om dit te laat ontwikkel. Jy kon nie die foto weer oorneem as die foto lelik was nie. Die filmpie was op ‘n rolletjie. Later was die kameras ‘n bietjie beter, maar jy moes steeds self die film insit en los “flitsies” (gloeilampies) bo-op indraai.

Hilda (Lombard): Ja, ons het geglo by daardie bokskamera gaan ‘n voëltjie uitspring. Watter onskuldige kinders was ons nie… Ek wens my kinders kon net één dag van ons kinderjare beleef, om nie eens te praat van my kleinkinders nie.

LEERLINGGETALLE

Ina (de Jager): Getalle was altyd ‘n probleem in plaasskooltjies. Toe ons st. 5’s dorpskool toe is, was dit ‘n kwaai “verlies” vir die plaasskool se getalle, want ons was agt: Johrina Jordaan, Frances Conradie, Hestea, ek, Dolfie, Danie, Piet en Gerrie Kriel.

Suzette (de Jager): Ek onthou van twaalf leerlinge en daar was nie kleiner kinders wat die volgende twee jaar skool toe sou kom nie. Toe het die skooltjie gesluit en ons het dorpskool toe geskuif. Gelukkig het daar toe reeds ‘n skoolbus geloop.

Adri Hugo: Hier is ‘n hele paar groot woonhuise in ‘n 3 km radius – ek neem aan daar was baie kinders! En kinders wat loseer het!

Ina (de Jager): Na aanleiding van die ou klasfoto’s van mnr. Warmenhove, en ook die een van 1915, moes daar heelwat kinders in die skool gewees het.

Piet van Deventer: Ja, en my ouma en oupagrootjie moes van hulle gewees het. Jammer ons het nie hulle name en plase se name waar hulle ouers gewoon het nie.

Hilda (Lombard): Ek het ook na die kindertjies op die foto’s gekyk om te sien of daar nie familietrekke is nie. My ouma-hulle moet sekerlik ook onder hulle wees.

HEERLIKE VARS WATER UIT DIE KLOOF

Christa (de Jager): Ek onthou dat Rietvlei se water altyd heerlik vars was. Ons hoef nooit juis room aan ons vel te gesmeer het nie. Die water het dit nie uitgedroog nie.

Elsabé (van Eeden): Ek onthou my pa het water uit die berg gekry. Ons het dit die fontein genoem. Hy het dit met drie ander mense gedeel. Elkeen het ‘n beurt gekry. Ek weet nie hoe lank ‘n beurt was nie. Maar later het hy pype gelê. Een maal ‘n jaar het hy gaan fontein skoonmaak en dan het ons as gesin saamgegaan en sommer daar piekniek gehou. My pa-hulle is seker reeds 40 jaar daar weg, so ek weet nie waar Novello nou sy water vandaan kry nie.

Johan Nel: In ons tyd was daar drie delers van die bergwater. Elke deler het die stroom ten volle in sy beurt gekry. Die beurte was nie ewe lank nie, want al die partye het nie eweveel water gekry nie.

Christa (de Jager): Ek wonder mos al jare: Waar is die vlei van Rietvlei?

Ina (de Jager): Wonder ons ook. Seker dalk liewer Rietvallei soos die ou naam was? Piet, loop daar ‘n riviertjie uit die kloof by die Withuisie verby?

Piet van Deventer: Hy loop by die Withuisie verby. Ons moes baie deur die water skool toe stap. Daar moes baie water gewees het, want hoekom het boere hul water aan Montagu verkoop?

Dit was die Klipriviertjie, soos ons hom genoem het. In die winter het hy soms kinderkniediep by die withuisie verbygeloop. Ons kon deurloop skool toe. Soms het die riviertjie baie sterker geloop. As daar meer water in was, het my pa ons skool toe geneem met die vragmotor: ’n 1948 Chev.

Toe Dolf se pa die groot dam laat bou het by Boontjieland, het hulle die gruis vir die pitsloot daar kom haal. Toe is daar ‘n pad langs die Withuisie gemaak om gruis uit te ry. In die dam se pitsloot is gedeeltes met die gruis en sement gevul. (Blykbaar was dit ‘n baie goeie gruis, sonder organiese materiaal.)

Daar was ook baie goeie sand. So miskien het die glasblaser (Deel Een) se sand van daardie riviertjie gekom?

Dit was eers varswater wat daar gevloei het. Die rivier waar dit ingevloei het, se water het brak geword. Die rivier was net ‘n ent onderkant die moerbeiboom. En die gruis daar was nie bruikbaar vir die pad se maak nie.

In die rivier was ‘n populierbos waar droppers vir draadspan gemaak is. As jy klaargemaakte populierdroppers vir ‘n tyd in water laat lê, en dan gebruik, het dit vir jare gehou.

Adri Hugo: Hier is twee droë rivierlope op ons plaas (binne die grense soos dit vandag is) en waar die damme dalk bietjie lek, is dit vleierig. Maar ‘n vlei… mmmhhh… ek weet nie!

André la Grange: Op die Landmeter-Generaal se topografiese kaart (van Desember 2023) word die rivier wat uit Octavia se kloof kom, aangegee as die “Rietvleispruit”. Daardie rivier loop dan verby oom Boeta se huis en sluit ‘n ent verder aan by ‘n rivier genaamd die “Droë Rivier” wat noord van die skool oor oom Sakkie Nel se plaas loop.

Na die sameloop word die naam steeds as Rietvleispruit aangegee en vloei dit uiteindelik in die Grootrivier wat van Poortjieskloof se kant afkom. (Ek reken laasgenoemde moet die Kingna-rivier wees?)

In ons jare was daar by uitsondering water in die Rietvleispruit. Ek aanvaar dat daar vroeër jare meer water in die rivier afgekom het – voordat my Pa se voorganger in titel (en ek dink ook van die omliggende boere) hul waterbeurte uit die kloof aan die Munisipaliteit vir drinkwater verkoop het. Die fris pyplyn dorp toe is bo-op die grond sigbaar by die verdeelstruktuur in die bek van die kloof.

Ná hierdie verdeling is die eienaars se oorblywende beurtwater met twee slote uit die verdeelkas weggevoer – een sloot loop oor Octavia se werf na oom Boeta, en die ander na die kant van die winkel, vanwaar dit verder verdeel is.

Octavia het slegs ’n reg op ’n drinkstraal (uit ’n opening met ’n deursnee van een duim in die verdeelkas –ons het gepraat van die “duimswater”) toe my pa die plaas gekoop het. Omdat hy ’n paar boormasjiene gehad het, het hy destyds kans gesien om die plaas met boorgatwater te boer.

Dit was maar al die jare ‘n hartseer saak om te sien hoe loop die water oor jou grond met die wete dat jy geen reg daarop het nie.

Dolf Nel: André, baie dankie vir jou uitstekende stuk inligting. Die Rietvleispruit het daar onder by die drif, op pad na die Lombards, by enkele geleenthede só sterk geloop dat voertuie nie daar kon deurgaan nie, maar dit was baie selde.

Christa (de Jager): Ek kan onthou dat daardie riviertjie lekker bruisend geloop het vir ‘n dag of twee na goeie winterreën. Die boere kon dan nie werk nie en het met dik army-jasse aan winkel toe gekom vir geselskap. Hulle het baie keer pannekoek gekry in sulke weer!

Jurie Lombard: Die lugpyp op die hoogte waar Kierie se indraai is, is op dieselfde vlak as Kanonkop se drinkwaterdam.

Ina (de Jager): Die lugpyp wat op die hoogte by “Kierie se indraai” is, is op dieselfde vlak as Kanonkop se drinkwaterdam. Ek het Johan Strydom en Piet daaroor uitgevra. Volgens hulle is dit eerder ’n lugvrystelling (lugklep). Soos die boere hulle waterbeurte gebruik, kom daar lug in die pype. Wanneer die lug ontsnap, kom die water by dié pyp uit.

Piet van Deventer: Ja, dit is reg. Dit is ’n uitlaatpyp vir lug. Dit word gewoonlik op die hoogste punt van ’n pyplyn aangebring om lug uit te laat. As daar nie so ’n lugklep is nie, word lug in die pyp vasgevang. Dit belemmer die vloei van die water en die pype kan selfs bars. Wanneer die lug uitkom, kom daar soms ’n bietjie water saam met die lug uit.

André la Grange: Hierdie geroesde ou sluis (foto links) kom van die waterskeiding by die ingang van die kloof op Octavia en hang al vir jare op my stoep.

Koos Hugo: Deksels! Ek het gewonder wie daai sluis gevat het – dis nou nog spoorloos!

Baie dankie vir almal se mooi bydraes. Hierdie groep wys vir ’n inkommer soos ek nie net hoe ryk Rietvlei se geskiedenis is nie, maar ook die mooi harte wat dit deur die jare opgebou het. Prys Hom!

(Koos en Adri Hugo is die afgelope 25 jaar die eienaars van die Nels se grond)

Adri Hugo: Kan julle onthou dat die berg in julle kinderjare ook gebrand het? Dit is seker nou so die derde of vierde keer in 25 jaar wat dit brand.

Ina (de Jager): Daar is gereeld brandpaaie gemaak wat skoongehou is, juis om brande te keer.

Doreen (Stemmet): Sover ek onthou, het die berg maar gereeld gebrand, maar dit het nooit so laag af tot in die plase gekom nie. Natuurbewaring het die brandpaaie in stand gehou en soos ek verstaan, is dit nou weer toegegroei. ‘n Mens is so jammer vir die diere wat nie voor die vlamme kan wegkom nie.

Elsabe (van Eeden): Ek kan onthou hoe die berg gereeld gebrand het toe ek ’n kind was, maar dit was hoog in die berg. Saans het ons gekyk hoe die berg verlig word. Die vuur het nooit so laag afgekom nie.

Dolf Nel: My pa het gesê dat die berg een keer so elke tien jaar moet brand om onder andere plante se groei te bevorder en te keer dat die plantegroei te dig en hoog raak wat ‘n veldbrand dan nog gevaarliker sou maak.

Oom Piet Badenhorst was in beheer van brandpaaie. Sy vrou is Blackie Badenhorst wat betrokke was by die museum.

DIE KLOOF EN “SOEK-MY-BASIES”

Ina (de Jager): Onthou julle die lieflike soek-my-basies (‘n soort kalkoentjie) wat in die kloof naby die verdeler gegroei het? Hulle was so groenblou en liggeel en het heerlik geruik. Twee van hulle groei naby mekaar en dan soek jy al op die reuk af na sy maatjie.

Hilda (Lombard): Ja, ons het hulle daar in die kloof gepluk. Ek het altyd saam met my ouma Miemie na hulle gesoek. Die “soekende basies” het ons hulle genoem. Jy het op sy reuk gegaan. Sulke roomkleuriges met ‘n sagte blougroen kleur. Ouma het hulle altyd op haar eetkamertafel in ‘n sopbord gesit, seker omdat hul steeltjies so kort was.

REPUBLIEKFEES

André la Grange: Die hoogtepunt van my sub B‑jaar (1961) was die Republiekwording. Elke kind het op 31 Mei ‘n klein landsvlaggie (oranje‑blanje‑blou, gemonteer op ‘n stokkie) gekry, asook ‘n koper­gedenkmedalje. Ek dink hierdie geskenkies is deur die Staat geborg.

Ek onthou ook dat ek so ‘n paar groot geelkoperkleurige eensentstukke by tannie Rosie gekry het (ek glo dat die ander kinders dit ook gekry het). My vermoede is dat sy die projek self befonds het – seker in ‘n poging om, met die bystand van Daan Desimaal, die Rand-Sent-man se verduidelikings en liedjie, die nuwe desimale geldstelsel in ons koppies te kry. Ons kon dié dag vroeg huis toe gaan – en ek sien nou nog in my geestesoog hoe ons, met wapperende landsvlaggies aan ons fietse vasgemaak en medaljes teen die bors vasgespeld, die tog huis toe aangepak het.

Voor (links) en agter

DESIMALISASIE

Ina (de Jager): Wat onthou julle van die oorskakeling van ponde, sjielings en pennies na die desimale stelsel? Vir my ma-hulle by die winkel het dit beteken dat hulle dadelik ‘n nuwe kasregister moes koop. 

Christa (de Jager): Wat ek wonder, is of daar regtig by die Aero ‘n pak klere vir ‘n ghienie (1 pond en ‘n sjieling, dus R2.10) te koop was? Ek kan onthou dat my pa ‘n manelpak spesiaal laat maak het vir £15 (R30). Die desimale stelsel is darem baie makliker!

Elsabé (van Eeden): Ek het ‘n bachelor‘s flat in Tamboerskloof gehuur vir R12 per maand, maar ek het maar R63 verdien.

Ina (de Jager): Kom ek toets julle gou: hoeveel was ‘n oortjie werd? Hoeveel oortjies in ‘n pennie? ‘n Stuiwer? Daalder? Halfkroon en kroon? Pond? Ghienie? Hoeveel pennies in ‘n sjieling? Sjielings in ‘n pond? Ons het in ‘n interessante tydperk grootgeword.

Paul Fouché: Die Daan Desimaal-liedjie, met Jimmy Rayson en Danie Smuts se stemme, onthou ek baie goed. Jy moet die strikvrae eintlik vir die jonges vra. Ons oues van dae moes die ou geldeenhede in die harspanne inworstel. (Ek in die Rietrivier se plaasskool met behulp van die kweperlat! Daar was ‘n selfvoorsienende kweperheining buite die skool.)

Dis nie onmoontlik dat ‘n pak klere eens vir ‘n ghienie te koop was nie. ‘n Tante van my pa se trourok, waarskynlik in die laat dertigs, het 16 ghienies (R33.60) gekos.

Omstreeks 1957/58 was my kortbroek-kerkpak al £6 (ses pond, R12) by ‘n winkel op Robertson. Ek het altyd ‘n skaap- of boklam vir my verjaardag gekry. Oom Piet van Zyl het graag gefluister: “Ek het vir jou ‘n lammetjie gemerk!” Een of twee moes slagter toe om vir die pak te betaal. Ma sou haar doodskaam voor doomnies as ek nie respektabel in die kerk gelyk het nie.

Ina (de Jager): Ja, Daan Desimaal se liedjie het ‘n paar keer op ‘n dag oor die radio gespeel:

Daan Desimaal, die rand-sent-man,
Gee jou sente vir pennies net waar hy kan,
Een sent vir een, en twee vir twee,
En twee-en-‘n-half vir ‘n tiekie.

https://youtu.be/cVhueSJiuYU?si=YvdscKuA-c6xfB8W

Ken een van julle die naam floryn vir twee sjielings? Ek het dit eendag op Facebook raakgelees en gaan Google.

Paul Fouché: Het floryn al raakgelees. Dit kon ‘n tweesjielingstuk wees of onder andere ‘n Hollandse gulden.

Terloops, van geldwaarde van weleer gepraat, ons kon in 1958, ‘n week se kruideniersware by die Aero of Basson se winkel teen 19/6 (19 sjielings en ‘n sikspens) koop. Ek onthou, want die sikspens kleingeld het in die skoolvakansies vir 18 pienk Star-toffies of 12 Wilson-toffies in my sak gesorg! 

Ina (de Jager): Kan julle onthou hoe moeilik die somme was? Om bedrae op te tel, was nie maklik nie! Bo-aan die drie kolomme het gestaan: £ vir pond, s vir sjieling en d vir pennie (blykbaar van Latynse woord denarius). En dan was daar nog vier oortjies (kwartpennies) of twee stuiwers (halfpennies) in ‘n pennie. ‘n Ander naam vir ‘n pennie was ‘n oulap; ‘n tiekie (2½ c) was ‘n trippens, en ‘n daalder was ‘n ander naam vir ‘n sjieling en ‘n sikspens (15c).

Wanneer jy die pennies opgetel het, moes jy onthou dat daar twaalf pennies in ‘n sjieling is. Dan was daar twintig sjielings in ‘n pond. Jy moes kophou soos ‘n dronk weeluis! Om van aftrekking nie eens te praat nie. Somme was ná desimalisasie baie makliker.

Die dae toe “kleingeld” nog “grootgeld” was…

TWEE ERNSTIGE KINDERSIEKTES

Behalwe die gewone kindersiektes soos masels, pampoentjies en waterpokkies, het twee ernstige siektes twee van die Rietvlei-kinders getref, nl. polio en witseerkeel.

Hieronder vertel Hannes se broer, Piet, wat hy van die tyd kan onthou toe Hannes polio gehad het.

In 1957 het Hannes van oom Boeta en tannie Stienie van Deventer polio gekry – ‘n gebeurtenis wat almal op Rietvlei geraak het. (Polio is ook kinderverlamming genoem, want die siekte het meestal kinders aangeval).

1. POLIO

Piet van Deventer: Hannes is op 19 Oktober 1955 gebore. My ma het altyd vertel dat hy net sterk begin loop het, en toe sommer skielik begin omval het. Later het hy gesukkel om op te staan. 

Die dokter het hom eers later met polio gediagnoseer. Hy is toe Rooikruis-hospitaal toe. Hy was seker so ongeveer 1 jaar en 3 maande oud.

Hy was die ergste verlam van die ses kinders by wie hy in die kamer was, en àl een wat oorleef het. Hy is seker in Februarie 1957 hospitaal toe. Weet nie presies hoe lank hy daar was nie. Dit was langer as ‘n jaar.

Ons het elke veertien dae die Saterdag of Sondag vir hom gaan kuier. Net my ma en pa mag hom besoek het. Gerrit en ek het in die motor gewag tot besoektyd om was. My ma of die verpleegsters het hom altyd voor die venster van die kamer gehou sodat ons hom kon sien. 

Dit was maar frustrerend vir ‘n kind om heelmiddag in ‘n motor te sit. Ons het darem altyd eers lekker padkos in Du Toitskloof bo-op die berg genuttig. Soms het ons by familie langs die pad gekuier en kon ons bietjie speel.

Wanneer ons Sondagaande huis toe gaan, was die pad soms baie besig. Dan het ons die motors wat van voor kom, getel. Dit het die pad darem baie korter gemaak. Ons het nogal baie op tragiese ongelukke in Du Toitskloof afgekom – wat jou lank daarna nog nagmerries gegee het. 

Toe Hannes uit die hospitaal ontslaan is, het hy aan die een been ysters en ‘n opgeboude skoentjie gehad. Aan die ander been, in die waai van die knieg, was twee pleisters sowat 60 mm van mekaar geplak, elk met ’n klein ringetjie aan, en ’n rekkie tussenin wat gehelp het om die been terug te trek.

Daarna moes hy gereeld Rooikruis-hospitaal toe gaan vir verstellings aan die ysters en skoene. Dit was maar ‘n moeilike tyd vir ons ouers. 

Hannes in die Rooikruis-kinderhospitaal

Twee verpleegsters wys vir Hannes waar sy broers, Piet en Gerrit, in die motor sit en wag.

Die een been was byna ‘n duim korter as die ander as gevolg van die polio. Die dokter het toe die langer been korter gemaak nadat hy klaar gegroei het. Hy kon toe makliker loop.Hy het lank ysters aan sy een been gehad wat vas aan ‘n opgeboude skoen was. Dit is so min of meer hoe ek dit onthou. 

‘n Dogtertjie wat polio gehad het met haar krukke en beenstut.

Hierdie beeldjie met geldbussie het by baie winkels en apteke gestaan.

Ina (de Jager): Ek onthou die poliodruppels wat ons op ‘n lekkertjie gekry het. Ek onthou vaagweg die oggend toe tannie Stienie my ma winkel toe gebel het om te sê hy het polio gekry. Hulle het altwee baie gehuil.

Christa (de Jager): Eers moes ons almal ingespuit word teen polio en later het ons poliodruppeltjies op ons tong gekry. Pieter de Wit het daar agter die dam gewoon waar Frances Conradie-hulle later gewoon het. Pieter was so ‘n groot seun en baie bang… Dit het drie groot mans gevat om hom vas te druk vir die inspuiting!

Gideon van Eeden: Wat ek van Hannes onthou, is dat my pa, Dirk van Eeden, ook slap bene gehad het en dat Hannes met groot gespot gewys het hoe my pa so met ‘n kierie loop of val.

Elsabé (van Eeden): Ja, my pa Dirk en oom Ricky het saam ‘n gedeelte van die Nels se plaas besit. My pa is toe oorlog toe en het in Somalië breinvlies- en ruggraatkoors opgedoen en was daarna gedeeltelik verlam.

Lidia (van Deventer): Hannes (Hannie, soos sy ma hom genoem het) se polio kon hom nie onderkry nie. Hy was op laerskool net so stout soos al die ander seuns, maar was ook almal se vriend. 

Ek onthou dat spaar verpligtend was in die Hoërskool. Hannes het dan vir mnr. Gersbach gevra of hy aan ‘n spaarseël kan afbetaal, omdat hy kamma nie elke Maandag genoeg geld gehad het om ‘n hele seël te koop nie. 

Op die skoolbus het hy ons meisies se hare getrek en ons omtrent getreiter. Ek onthou hoe hy altyd, regoor hul plaas se middelpad, sy tas by die venster uitgegooi het, want die bus het eers verder aan gestop. Dan hoef hy nie die swaar tas so ver te dra nie. Sy dood was vir ons gesin baie erg. My broer Gert en Hannes was “big buddies” hul lewe lank.

Linette (MacDonald): Tannie Stienie en oom Boeta van Deventer… Sal hul onthou as deel van my kinderdae op Rietvlei. Hannes was ‘n regte terggees op die skoolbus wat ons elke dag voor Rietvlei se winkel op- en afgelaai het…

(My ma en stiefpa, Jasper Hayes, het die winkel in 1968 by oom Dries gekoop. Ek, my suster en broer was nie in Rietvlei se skool nie.)

Piet van Deventer: Gideon, jou pa het eendag met my pa Kaap toe gejaag toe iets in sy keel vasgesit het – seker ‘n visgraat of iets. Die dokter het dit daar uitgehaal. Ons het so ‘n ‘58 model Chev Biscayne gehad waarmee jou pa hom Kaap toe geneem het. Hy het altyd gespot en gesê hy het nie geweet ou Boeta is so bang vir doodgaan nie.

Hannes en Apie Haasbroek het die aand van 1 April 1978 tussen Bonnievale en Ashton verongeluk waar hulle teen ‘n goederetrein gebots het. Dit was nog die ergste iets wat ons familie getref het. Veral my ouers kon dit nooit-ooit verwerk nie.

(Nog foto’s van Hannes en sy gesin by die foto’s van Rietvleiers in Deel Een)

2. WITSEERKEEL

Hilda (Lombard): Onthou julle toe ek witseerkeel gekry het? Die hele skool was vir weke onder kwarantyn. Die mense was bekommerd, die kinders nuuskierig, en niemand het presies geweet wat om te verwag nie. Kort daarna het hulle begin met inentings teen witseerkeel. Ek is destyds vertel dat ek waarskynlik nie ’n grootmens sou word nie – en kyk nou, ek is al 76!

TOLLETJIEBREI

Ina (de Jager): Kan julle nog onthou wie van die seuns se tolletjiebrei die langste was? Julle het mos daardie lang stringe teen die volle lengte van die skool af (en weer terug) gemeet en dit dan in ’n reuse bol opgerol.

Dolf Nel: Ek onthou Danie s’n was altyd baie langer as myne, maar nie baie netjies nie. Sulke lang pap steke gehad.

DIE GUANOGROTTE

Ina (de Jager): Wie van julle was al tot by die guanogrotte? Wat kan julle daarvan vertel?

Kosie la Grange: Ek en Awie Swanepoel het in 1965 vanaf hulle plaas grotte toe gestap. Die grot het maar baie gestink en daar was vlermuise wat in sulke bondels teen die dak gehang het. In die vloer was gate gegrawe waar daar blykbaar navorsing gedoen is.

Bobbejane het ook soms daarin gebly en ek onthou daar is vertel dat die Kriels van Derdeheuwel in die nag soontoe is om hulle te skiet.

Ina (de Jager): Suzette onthou dat mnr. Du Preez die leerlinge in 1966 soontoe geneem het. Sy kon ongelukkig nie dié dag saamgaan nie.

Volgens Google het boere van die guano vir hulle vrugtebome gekoop. In die Boereoorlog het van die boere daar weggekruip. Daar is blykbaar Boesmantekeninge. Vandag is dit ’n lieflike toerismebestemming met ’n verskeidenheid bedrywighede.

VOERTUIE

Ina (de Jager): Vertel bietjie van julle pa’s se trekkers, motors en bakkies? Johan, het julle pa nie ‘n Borgward gehad nie? Kan jy en Dolf onthou watter kleur dit was? Baie mense in die 50’s en 60’s met Chevs en Fords gery.

Dolf Nel: Ina, die Borgward was ‘n grys Borgward Isabella. Naasteby soos op hierdie Google-foto:

Oom Sakkie Nel het ‘n grys Borgward Isabella gehad.

Lidia (van Deventer): My pa, Kwart, se motor (foto onder). Dalk ‘n Chev?

Oom Gert van Deventer se Opel

Lidia (van Deventer): Foto hierbo is van my oupa Gert se Opel. Dit is nou JD (Kierie se seun) s’n. Hy ry gereeld bruidskar of vir matriekafskeide.

Piet, jy sal seker die model weet. Ek het in 1975 soms Vrydae vir oupa Gert daarmee dorp toe geneem. Die reverse-rat was baie moeilik: dié het nog teen die stuurwiel gesit.

Gert van Deventer, by sy Chev-lorry

Kosie la Grange: Ek was in st. 9 toe my pa hierdie Chev (foto hieronder) vir my gekoop het. Piet sal onthou dat ons met hom rondgery het en Gerrit bestuur het wanneer ons dorp toe gegaan het.

Piet van Deventer: Koos, ek onthou daardie motor goed. Het jy hom nog?Jou pa het die mooi Mercedes gehad wat so rond agter was met so ‘n grys kleur. Hy het so ‘n fluitdreun gehad as hy wegtrek.

“My pa (Kosie la Grange) by sy Mercedes Benz 220SE (1959) waarop hy so trots was.”

Piet van Deventer: Paul het so ‘n regop klein karretjie gehad waarmee hy O.K.P. (Onderwyskollege Paarl) toe gery het teen 30 myl ‘n uur. Was dit ‘n Ford Prefect?

Kosie la Grange: Ja, Paul het so ‘n Ford Prefect gehad… bruin.

Kleur en nommerplaat slegs ter illustrasie

Paul Fouché: Jou broer Paul sou goed agter die stuur vertoon het. Net die tjor vir ‘n avontuurlustige student – boonop van die plaas af.

Ina (de Jager): Onthou ek reg dat oom Koot Vos ook so ‘n swart motortjie gehad het? Hy het partykeer my pa in die abbatoir kom help slag. Hy het naby Doreen Stemmet-hulle by Ruigtevlei gewoon.

Lidia (van Deventer): Kyk my kleredrag as tiener. My pa se Chev Impala. Ons het vir die eerste keer te doen gekry met elektriese vensters. Ek en broer Gert het altyd “resies gejaag”. Die een wie se venster eerste oop/toe was, het gewen.

“Dit is nou die naaste foto aan broer Kierie se Anglia wat ek kon kry. En daar is nogal ‘n Lexington-advertensie in die agtergrond.”

Ina (de Jager): Met dié Peugeot-stasiewa hieronder (1962-model?) het ek en my pa Donderdae wors en vleis op Montagu gaan aflaai (en later Suzette nadat ek hoërskool toe is).

Andries de Jager se roomkleurige Peugeot-stasiewa met die donkerpienk streep teen die kant

Die drie De Jager-dogters, Christa, Ina en Suzette, op hulle pa, Andries, se geel International-bakkie.

Na die geel International-bakkie (foto hierbo) het my pa ‘n Volkswagen-bakkie met ‘n stomp neus gehad. Die bakkie het min of meer soos Google se foto hieronder gelyk:

Doreen, jou pa het so ‘n blink, pikswart motor (soos die foto hieronder) gehad. Kan jy of Kobun onthou watter soort dit was?

Piet van Deventer: Ek dink oom Koos (Stemmet van Ruigtevlei) het ‘n 1948 Chev Fleetline gehad. En so ‘n mooi blou Holden.

Oom Koos Stemmet se 1948 Chev Fleetline

My Ford het nog meganiese remme gehad. Jy moes maar staan op die rempedaal as jy skielik wil stop.

As jy deur ‘n plas water ry en die remme is nat, is dit ‘n groot probleem. As daar ‘n hek in die pad was en jy moes stop… dan moes jy vas op die rempedaal trap. Dan het dit gevoel asof die Ford eers regtig spoed opgetel het. Gelukkig het ’n taaibos langs die pad sy ding gedoen. Die hek het heel gebly.

Ina (de Jager): Mooi was nog nooit lelik nie, nè? My swaer se twee Chevs vanuit ons grootwordjare.

Piet van Deventer: Dit is almal pragtige ou motors en baie mooi oorspronklik, dankie.

Paul, die Chev Belair was die V8 van die reeks – kan nie lekker onthou nie.

Paul Fouché: Jy is reg, Piet. Belair tot 1958. Vanaf 1959 het die naam Impala by ons oorgeneem om die V8 Chevs aan te dui.

Is die rooie dalk ’n tweedeur? ’n Laerskooljuffrou se kêrel het haar Maandagoggende op Montagu by die skool kom aflaai met so ’n 1957 geel-en-wit, linkerstuur tweedeur Bel Air. Ek kon my verluister aan daardie kragtige V8 se diep roggel met die wegtrek. Daar is darem min dinge so mooi soos die klank van ’n Amerikaanse V8 van weleer!

Ina (de Jager): Hierdie is beslis ‘n vierdeur. Die rooie is ‘n 1958 Belair Pillarless. (Daar is nie ‘n pilaartjie tussen die twee sykante se vensters nie)

Paul Fouché: Interessant, skaars, glad nie vreemd nie. Amerikaanse motors het destyds gewemel van modelle en keuses waarvan ons maar ‘n paar gesien het. Ek het my al verstom aan die bakkieweergawe van Pa se ou groen Ford.

Pragtige Chev. Welbekende gesig van weleer! Op Montagu was ‘n paar van hulle met oom Ben Koster se gele seker die bekendste. Volgens Ma het dié Chevs se agterkant gelyk soos ‘n rok met kapmoutjies.

Ina (de Jager): Oulike beskrywing, Paul: “Rok met kapmoutjies”! Dis seker hierdie vlerke in die foto hieronder wat jou ma bedoel het.

1959 Biscayne

Paul Fouché: Ek stry nie oor die kapmoutjies nie. Weet nie eens hoe dit lyk nie. Soos my kamermaat van weleer gesê het: “Ek is nie interessant daarin nie.”

Dit is die eerste van twee modelle met die kwaai vlerke. Destyds ‘n simbool van die “great American dream” met sy groot, uitspattige motors. Maar so ‘n Chev, veral die agsilinder met die chroomafwerking om die eentonigheid van die groot, rooi glas te beperk, bly steeds ‘n besondere soort mooi met heimwee na dié jare. Dié ou Chevrolets was so stil binne en het so lekker sag deur knikke gesweef.

Piet van Deventer: Paul, kan jy oom Marius Burger (van Talana) en oom Bresler Knipe (van die Koo) se Chev– en Ford-stasiewaens onthou? Beide van hulle het dit laat invoer. Kan nie meer onthou wie die Ford en Chev gehad het nie.

Paul Fouché: Ek onthou ‘n ingevoerde Ford-stasiewa by die kerk. Een met sykante en ‘n agterkant wat na houtafwerking gelyk het. Ek wil my al verbeel dit was oom Marius Burger s’n, maar my verweerde ou harspan is nie meer betroubaar nie.

Piet van Deventer: Jy is doodreg met die houtafwerking. Dan het oom Bresler die Ford gehad. Dit was die enigste wat ek gesien het. Ook albei by die kerk.

(Die storie van die Ford se restourasie, is in Deel Vier by die stories. Asook die foto en storie van oom Sakkie Nel se pragtige Wolseley en oom Dirk van Eeden wat altyd ‘n MIN-politoerblik in sy motor moes saamry).

TREKKERS

Kosie la Grange: Die trekkers wat ons gehad het: Ferguson, Lanz Bulldog, Fordson, rooi David Brown. Ek onthou hoe behendig Piet van Deventer met hulle Vaaljapie was!

Fordson (“Bloubottel”)

Ina (de Jager): My man sê mense noem hierdie model Fordson hierbo die “Bloubottel”.

Twee David Brown-trekkers vanaf Google

Lanz-trekker, ongeveer 1958 of 1959 vervaardig.

Ina (de Jager): Mooi, né? My man en seun het hierdie Lanz op die foto vir sy broer (en oom) gerestoureer. Hy is ‘n ginekoloog by Panorama en gaan party Saterdae met die Lanz of sy John Deere 730 hospitaal toe. Die pasiënte hou daarvan as hy met die trekker werk toe kom.

Dis was omtrent ‘n affêre om die trekker padwaardig te kry en ‘n lisensie uit te neem.

André la Grange: Hi Ina, jou swaer se Lanz is ‘n pragstuk. Weet jy watter model dit is? Ons s’n het ‘n ontstekingsmeganisme (‘n hot bulb) op die neus gehad wat ‘n tyd lank lank met ‘n Primus-blaasvlam warm gemaak moes word voordat dit kon start.

‘n Mens moes die stuurwiel afhaal, in die flywheel druk en as slinger gebruik. Die kontrepsie was geneig om terug te skop en dan draai die enjin verkeerde kant toe – en kon ‘n mens net in reverse vorentoe ry. (Ek verbeel my jy het in daardie geval een rat na vore en drie in reverse gehad!?)

Ek weet nie die jaarmodel van ons s’n nie, maar toe ek klein was, was dit al baie oud. Ek verstaan die Lanz-trekkers was van 1921 reeds vervaardig, so daardie een kon uit die 1930’s dateer. Party van die eerste Lanz-trekkers het ysterwiele gehad.

Ina (de Jager): André, ek moes noueers wag om my man uit te vra oor die trekker. Dit is ‘n 60 Lanz en is gemaak net na dié model waarvan jy praat, André. Hy het al ‘n coil wat hom warmmaak en ‘n self starter – 1958 of ‘59-model.

Paul Fouché: Oom Johnny Thomson het ook so ‘n Lanz gehad. Pas naatloos in André se beskrywing.

Mnr. Herbst het dié Lanz eendag beskryf as ‘n vloek om aan die gang te kry, maar na die masjien gevat het, is die Lanz so sterk soos 10 000 duiwels!

Dolf Nel: Ons het net so ‘n Ferguson-trekkertjie soos hierdie voorbeeld gehad. Sy kleur was ook vaal.

 Massey Ferguson-trekker of bekend as ‘n Vaaljapie-trekker.

(Nog geselsies oor voertuie in Deel Vier)

RESTOURASIE VAN DIE SKOOLGEBOU

Ina (de Jager): Vroeg, tydens ons geselse, was dit heerlik om vir Koos en Adri Hugo op ons WhatsAppgroep welkom te heet! Hulle het ook lekker saamgesels en kon ons baie foto’s van hulle vordering met die restourasie van die skool wys.

Adri Hugo: Baie dankie vir al julle geselse! Ek is gaande oor stories van ons plaas! Ons seun trou in die kerkie/skool in Desember 2025 en ons sien uit daarna om dit mooi te maak!

Ons het die ronde trappe en klok gebou… min of meer 2012. Die ontwerp van die klok-“gebou” is ‘n nabootsing van die klok op Elsenburg waar my ma grootgeword het terwyl my oupa ‘n dosent daar was. My oupa het die klok self iewers gekoop en min of meer 40 jaar gehad en daarmee in Suid-Afrika rondgetrek voordat hy dit aan ons geskenk het vir ons kerkie/skool.

My oupa, Danie Joubert, se pad het reeds in 1960 met die Nels gekruis toe hy landbouvoorligter van dié area was. My ma het haar eerste kuikentjies by oom Johannes Nel gekry.

Ina (de Jager): Dankie, Adri. Ons het gewonder, want niemand kon die kloktoring onthou nie. Ook nie dat die trappe rond was nie.

Danie Nel: Baie mooi! Dit lyk baie mooier en netjieser as in ons tyd. Baie dankie vir die mooi foto’s.

Piet van Deventer: Danie, ja, dit is die mooiste nog. Adri, dankie dat julle besig is om dit so mooi reg te maak. Daar is so baie mooi ou geboue wat tot niet gaan in ons land. Dan dink mens maar net as die murasies kon praat.        

Adri Hugo: Hierdie baie oulike ontwerp is die meganisme wat die halfmaanvensters oop- en toemaak! Ons het almal afgehaal vir ‘n diens en dan gaan dit weer met ‘n toutjie werk!

Meganisme waarmee die vensters oop- en toegemaak is

Meganisme in posisie

Pieter Hugo, Koos se pa, het die voordeur gemaak van die “partisie” se hout. Let op na die pragtige skarniere.

Werkers fluks aan die verf.

VOOR

Sonder deure en vensterrame, ruite uit, verf afgedop, die stoep nog lank en smal. Soos hulle in Engels sê: “A sight for sore eyes …”

So het die binnekant gelyk toe Kosie la Grange in 2011 daar was – lank ongebruik en vervalle.

NA

Kyk hoe splinternuut: nuwe deur, vensterrame, ruite, verf… én ‘n mooie kloktoring. Te spoggerig!

Blink vloere, elektrisiteit, pragtige lampe, plafon weer mooi geverf… so mooi!

Ina (de Jager): Ek het met Adri gesels en besef dat dit harde werk was om die plek so mooi te kry. Die vloere was reeds te vervalle om met ‘n skuurmasjien skoongemaak te word en moes met die hand geskuur word.

Interessant ook om te weet dat haar skoonpa, Pieter Hugo, die vensterrame en deur gemaak het van die hout van die boonste stuk van die “partisie” (skeiding) wat tussen die twee vertrekke was toe dit nog ‘n tweemanskool was (voor 1948).

Koos en Adri, julle mág maar trots wees – wat ’n werk! Baie dankie. Julle het ons herinneringe afgestof, gepoets en ons harte ook warm gemaak.

Christa (de Jager): Kan jy dit nou glo: soveel herstel en feestelikheid waar ons soggens in stokstywe rye moes staan om somme en Engels te leer! Onverbeterlik pragtig!

Ina (de Jager): Hoendervleis! Julle harde werk gee ‘n heerlike, positiewe afsluiting aan ons skooltjie-storie!

Pragtige foto wat Adri Hugo geneem het.

Piet van Deventer: Adri, dit is baie, baie mooi.

Paul Fouché: Mooi genoeg vir druk, raam en uitstal in ‘n knus hoekie waar heimwee ongebreideld mag gedy.

Adri Hugo: Dit is “unedited” en sonder filters!! Dit is God se skildery!!


SKOOLFOTO’S

Doreen (Stemmet), Elsabé (van Eeden), Johanna (Stemmet). Hermiena Stemmet voor Johanna. Christa (de Jager) heelvoor. (Nie heeltemal seker van die ander nie).

‘n Paar Rietvlei-kinders by Christa (de Jager), derde van regs in tweede ry van voor, se verjaarsdag ongeveer 1953. Gerrit van Deventer met pet in die hand. Ina (de Jager) regsvoor.

Leerlinge speel op die grasperk voor die skool. Dolf Nel en Jurie Lombard links.

Frances (Conradie), Piet van Deventer, Hestea (van Deventer), Danie en Dolf Nel en Johrina (Jordaan) by juf. Rosie Groenewald.
Afwesig: Ina (de Jager)

Hilda (Lombard), Alta (Stemmet), Hermiena (Stemmet), Marie (van Deventer) en Ansie (Stemmet)

Juf. Rosie met leerlinge van sub A tot st.5 (1962)

Elna en Hannes van Deventer, Johan Conradie en Jurie Lombard by juf. Rosie

Rina (Trasforini), juf. Rosie en Kobun Stemmet

Paul Stemmet, Jurie Lombard, Boy Swanepoel en Hannes van Deventer

Drie oudleerlinge van Rietvlei No. 1 Plaasskool, Danie en Dolf Nel en Ina (de Jager) by Hoërskool Montagu se skoolreünie in 2009, veertig jaar na matriek. (En baie jare nadat hulle in sub A by Rietvlei No. 1 se plaasskool begin het!)


image_pdfDOWNLOAD PDF