156.Deel Vier van Vier: Rietvlei No. 1

image_pdfDOWNLOAD PDF

Saamgestel deur Ina van Wyk (née De Jager), met kosbare bydraes van haar span mede-Rietvleiers.

April 2026

HERINNERINGE EN STORIES

HERINNERINGE VAN ‘N PLAASKIND

(Lees ook in Montagustories no. 98 meer oor die La Granges.)

Ina (de Jager): Dankie, André, vir hierdie volledige stuk geskiedenis! Werklik die moeite werd om te lees.

André De Villiers La Grange onthou: Ek is die jongste seun van Kosie (Jacobus de Villiers – geb. 17 November 1915) en Sally (Sarah Elizabeth) la Grange (née Van Zyl, geb. 23 November 1920) wat vir baie jare lank op die plaas Octavia aan die voet van die Langeberge op die pad tussen Montagu en Barrydale gewoon en geboer het. Ek was geseën met drie ouer broers, Paul (geb. 1 Januarie 1945 – oorl. 20 Januarie 2016), Van Zyl (geb. 3 Desember 1946) en Kosie (geb. 3 Oktober 1949) en ek geb. 28 April 1954.

My pa het die plaas, toe bekend as Nelsrus, in die vroeë 1950’s by Hendrik Rahl gekoop en mettertyd sy ouers (Izak en Mimmie la Grange) hul intrek in die woonhuis op die plaas laat neem – terwyl hy en ons gesin in ons huis in Le Rouxstraat, Montagu gewoon het.

My pa was destyds ‘n boorkontrakteur wat met sy versameling stampbore die Klein Karoo voos geboor het. Baie (indien nie die meeste nie) plase in die Montagu-distrik was teen die 1960’s (voor die aanleg van die Cogmanskloof-waterskema en die koms van lugdruk­boormasjiene) aangewese op water uit boorgate wat hy sedert die 1940’s aangewys en gesink het.

Behalwe dat hy ook deeltyds geboer het, was my pa ‘n talentvolle klavierspeler en gedurende die 1940’s ‘n pionier komponis van ligte Afrikaanse musiek – uit wie se pen relatief-bekende liedjes soos Boerenooi en Ek Sing van Jou voortgebring is.

Met verloop van tyd het my pa Nelsrus herdoop tot Octavia – gebaseer op die feit dat die 8-myl padpredikant reg voor ons hek gestaan het – Montagu was dus net mooi ‘n “oktaaf” (van myle) ver (gemeet aan die ou teerpad wat deur Derdeheuwel geloop het).

Die eerste paar jaar van my lewe het ons in die ruim huis in Le Rouxstraat gewoon – regoor oom Abie en tannie Madge Neethling (met hul dogters Anita en Milda). My broers was daardie tyd almal in die dorp op skool.

Teen so 1959, na my Oupa Izak se oorlye, het my Pa besluit om plaas toe te trek en is die bouer, Klaas Jas, die taak opgelê om die ou bestaande huis te verbreek en (gemeet aan daardie jare se standaarde) te moderniseer. Teen die jaareinde was die bouwerk afgehandel en het ons plaas toe getrek – net betyds vir my om aan die begin van 1960 my skoolloopbaan by Laerskool Rietvlei No. 1 te begin.

Paul en Van Zyl was toe al op hoërskool en het bus gery. (Terloops: die skoolbus het daardie jare nie verby Rietvlei No. 1 gery nie en hulle moes dus elke dag met hul fietse na Derdeheuwel ry om die bus wat van Talana se kant af gekom het, te haal.) Kosie, wat toe in st. 3 was, is saam met my na die skooltjie – en het die leerlingtal skielik ‘n hupstoot gekry (na ongeveer 17).

In die konteks van Montagu is die numeriese toevoeging tot die skool se naam van groot belang. Die vallei waarin die skool geleë is, staan bekend as Rietvlei No. 1 – en moet nie verwar word met Rietvlei No. 2 nie. Laasgenoemde is geleë aan die steenoonde/gholfbaan se kant van die dorp. Dié verskil is van kleins af by ons ingeprent en ons moes seker maak dat mense moet weet presies waarvandaan ons kom – ons vallei was immers No. 1!

Besoekers uit die platteland het gereeld opgemerk dat, gesien vanaf Octavia se voorstoep, Rietvlei No. 1 (waar die hedendaagse eiendomme onderverdelings is van die oorspronklike Plaas Riet Vallei No 167 – ‘n stuk huurpaggrond van 1686 morg wat in 1825 aan die weduwee Conradie toegeken is) soos ‘n klein dorpie lyk – met plaasopstalle, buitegeboue en werkershuise wat binne sigafstand (en selfs roepafstand) van mekaar geleë is – kompleet met oom Andries en tannie Daisy de Jager (met hul 3 dogters: Christa, Ina en Suzette) se woonhuis, winkel (met ‘n petrolpomp) en aktiewe slaghuis. (Net as ‘n tersyde: Die aanvanklike petrolpomp moes ‘n mens met die hand pomp – petrol is dan vanuit die ondergrondse tenk opgesuig en afgemeet in twee glasbottels van ‘n gelling elk en vandaar in die voertuig oorgetap.)

In my dae was die meeste van die inwoners van die plase (wat as voedingsbron vir die skooltjie moes dien) almal ou ingesetenes – of familie van mekaar.

Soos reeds vermeld, was daar die De Jager-dogters. Christa was so ‘n bietjie ouer as ek (ek dink sy was in st. 4 toe ek daar aankom). Ina was in st. 1 en klein Suzette was nog nie op skool nie.

Die Van Deventer-familie was veral prominent met die stamvader (van daardie tyd) oom Gert, wat net ‘n paar tree pad-op aan die bergkant van die winkel af gewoon het, en sy vrou Hettie. Sy seuns, oom Boeta (en sy vrou tannie Stienie en hul kinders Gerrit, Piet en Hannes) en oom Kwart (en sy vrou tannie Lizzie, asook hul kinders, van wie ek vir Kierie, Hestea, Klein Gert en Lidia onthou), almal maar ‘n klipgooi van mekaar. Gerrit, Piet, Hestea, Klein Gert en Hannes was almal op een of ander stadium in my tyd in ons skool. Hannes en Klein Gert was na my en die res op verskillende stadiums voor my. As ek reg onthou, was Piet en Hestea saam met Ina in die klas.

‘n Entjie verder berg se kant toe, het die Vaalfranse (Conradies) gewoon en geboer. Hulle het later die plaas aan die Visser-familie verkoop. Oom Visser was ‘n interessante karakter – in die sin dat sy pa of oupa een van die Bittereinders was wat met die afsluiting van die Boereoorlog verseg het om onder die juk van Britse Imperialisme te lewe en toe na Argentinië uitgewyk het. Die oom, wat in Argentinië gebore en getoë is, het sy Afrikaanse identiteit behou – alhoewel hy ‘n argaïese Afrikaans met ‘n snaakse aksent (behoorlik gesout met ‘n skeut Spaans) gepraat het.

Ek moet daarop wys dat ek van sub A af alleen in my klas/standerd was – die bure se kinders was dus óf voor my óf na my. Die naaste leerlinge voor my was Ina, Piet, Hestea en die tweeling, Dolfie en Danie Nel, Johrina Jordaan en Frances Conradie – wat almal in st. 1 was toe ek met sub A begin het.

Aan die onderkant van die teerpad wat by Octavia en die winkel verbyloop, het oom Willie en tannie Cielie Stemmet gewoon (met hul kinders Johanna, Hermiena, Johan en Paultjie). Hulle het aanvanklik in ‘n baie ou Kaapse huis met ‘n strooidak gewoon met oom Willie se broer, oom Dawie, in ‘n buitekamer elders op die werf.

Die geboue het met die tyd saam baie vervalle geraak en oom Willie het toe vir hulle ‘n nuwe huis gebou – nader aan die teerpad en ‘n klipgooi van die winkel af. Al die Stemmet-kinders het in Rietvlei skoolgegaan. Die meeste was heelwat ouer as ek en net Paultjie, die jongste, wat ‘n jaar of wat jonger as ek is, was in my tyd daar.

Om by die skool uit te kom, moes ons met die grondpaadjie verby oom Willie se opstal ry (teen ‘n lang afdraend af). So ‘n entjie verder het oom Izak Nel (‘n oom van oom Sakkie Nel – ek kan nie sy vrou se naam onthou nie) gebly. Hulle het nie kinders van my portuur gehad nie. (Daar is destyds vertel dat die Nels ‘n kindjie gehad het wat deur bye doodgesteek is – welke feit as vermaning voorgehou is om ons han`de uit byneste te hou.) Hulle het ‘n paar befoeterde foxterriers gehad wat ‘n mens gejaag het as jy verbykom. Ek het nou nog ‘n letsel aan my been waar een my gebyt het.

Verder weg op pad skool toe, moes ‘n mens verby die “Pluim” – oom Sakkie Nel se uitgebreide netwerk van werkershuise (met sy eie skool en ook ‘n mediese kliniek) – ry. Weer eens teen ‘n lang afdraand af (en met die terugkeer teen ‘n lang uitmergelende opdraand op).

Neffens die skool en sy gronde het oom Sakkie en tannie Hannetjie Nel gewoon – met hul seuns Johan en die tweeling, Dolfie en Danie. Soos genoem, was die tweeling in st. 1 toe ek in sub A was. Johan was ietwat ouer, so min of meer Kosie se portuur.

Die Lombards (oom Michael of Petrus – ek kan nie onthou watter een nie) het ‘n entjie verder aan die dorpskant van die skool gewoon. Hul kinders, Hilda en Jurie, was in my tyd in die laerskool. Hilda was ook so min of meer Kosie se ouderdom en Jurie ‘n jaar of wat jonger as ek.

Die skooltjie was omtrent so ‘n myl en ‘n half van Octavia af. Toe ek in sub A en B was, was my beentjies te swak om op eie stoom teen die bulte op te trap en moes my broer, Kosie, my lift – op die dwarspyp van sy Raleigh 3-speed resiesfiets. Om my te akkommodeer, moes hy sy fiets se drop-handles afhaal en met sulke bulhoring-handvatsels vervang. Die dunwielfiets was nie gebou vir grondpaaie nie en ons het ‘n hele paar keer met water op die knieë opgeëindig as ons (Kosie of ek – as ek moes stuur terwyl hy trap) nie ons draai teen die afdraandes af kon kry nie. Ek het later so ‘n klein rooi Philips-fietsie (sonder ratte of 3-spoed) gekry en moes daarna self oor die weg kom.

My eerste jare op skool was sorgeloos en hemel op aarde. My ma se tante, tannie Rosie (Rosa) Groenewald (née Conradie), was die (enigste) onderwyseres en al die verskillende standerds het in een klaskamer skoolgegaan. Tannie Rosie het die wonderlike vermoë gehad om almal aan die werk te hou terwyl sy ‘n bepaalde standerd se kinders (binne sig- en hoorafstand van die ander) moes touwys maak. Die voordeel was natuurlik dat ons kleintjies die senior leerplanne na ‘n jaar of wat uit ons koppe geken het en die daaropvolgende akademiese laerskooljare dus nie juis ‘n uitdaging was nie.

Tannie Rosie was ‘n besonderse mens. Sy was getroud met oom Mathewis, vir wie sy gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die Noorde ontmoet het toe sy in die Vrouekorps gedien het. Sy was een van die eerste vroulike gegradueerdes aan die Universiteit van Kaapstad (UCT) waar sy Engels en Latyn as hoofvakke gehad het. (Ek het nou nog van haar handboeke met die inskrywing “Rosa Conradie UCT 1927” voorin). Hulle het nie kinders gehad nie en tannie Rosie het al haar inherente liefde en deernis teenoor die skoolkindertjies onder haar sorg uitgestort. (As familielid was ek natuurlik gruwelooslik bederf en voorgetrek.)

In my sub-B jaar het die skoolinspekteur met my pa gepraat en gesê dat dit nie ‘n goeie ding vir my was om alleen in my klas te wees nie. Hy het toe voorgestel dat ek na st. 2 moes “spring” om saam met die ander kinders te wees. My pa het egter geweier – en as rede aangevoer dat hyself kleintyd so aangeskuif is en in later jare erg geboelie is omdat hy so jonk was vir sy klas.

Aan die einde van my st. 1-jaar het tannie Rosie uitgetree en het sy en oom Mathewis Mosselbaai toe getrek waar hulle ‘n losieshuis gekoop en bedryf het. Ons, as gesin, het ‘n hele paar keer daar gaan vakansie hou. Aan die einde van my st. 5-jaar het ek die hele Desembervakansie by hulle gaan kuier – en op my eie met die oornagtrein teruggereis Ashton toe.

In my st. 2-jaar het ons gevolglik ‘n nuwe onderwyser gekry – in die persoon van ‘n bloedjong Piet (Potlood) Marais. Hy was vars uit Oudtshoorn Onderwyskollege – waar hy onder andere ook landboukunde as vakrigting studeer het.

Met sy aankoms by die skool het Piet Marais die skoolgronde een kyk gegee en gesien dat daar potensiaal was vir tuinmaak. Hy het gevolglik ‘n reëling met oom Sakkie Nel getref om gebruik te maak van water uit ‘n voor wat oor die perseel van die skool geloop het en ‘n stukkie tuinmaakgrond aan elke kind toegesê. Die seuns het elkeen ‘n lappie grond – so ongeveer 5 meter by 5 meter – gekry waarop groente verbou moes word. Die meisies het blomtuin gemaak.

Die tuinmakery het gou-gou in ‘n ernstige besigheid ontaard en ons het nogal baie tyd met ons hande in die grond spandeer terwyl die skoolwerk soms so ‘n bietjie aan die agterspeen gesuig het. Op ‘n tipiese skooldag sou ons vroegoggend in die tuin begin werk – kwansuis om die litte bietjie los te kry – net om so teen kort pouse huis toe gestuur te word omdat ons te vuil was om in die klaskamer te gaan sit.

In die proses het daar nie veel op die akademiese front gebeur nie (ten minste nie met my nie – ek weet nie of Piet Marais dalk maar net van my vergeet het omdat ek alleen in my standerd was nie). Teen die middel van die jaar was my klaswerkboek (met sulke dun lyntjies wat mens genoop het om kleiner te leer skryf) maar so ongeveer 25% vol. My pa het besluit om my bedags op die skoolbus te sit om in die dorpskool skool te gaan.

Farrell Martheze, een van die twee onderwysers van Klipheuwel Laerskool (so ‘n paar kilometer verder op die plaas van die Neethlings – bo teen die berg), het hiervan te hore gekom en voorgestel dat ek na sy skool toe moes kom, waar ek darem ‘n klasmaat sou hê. Hy het in Montagu gewoon en daagliks by ons huis verbygery Klipheuwel toe en sou my dus optel en aflaai. (Hy het op daardie stadium reeds ook ‘n paar ander kinders van die dorp af aangery ten einde te verhoed dat die skool sluit.)

Ek het Rietvlei se skool gevolglik in die tweede helfte van st. 2 verlaat en tot die middel van st. 4 in die Laerskool Klipheuwel (met sy sowat 23 leerlinge) deurgebring. Dié skool het toe egter gesluit en ek het begin skoolbus ry dorp toe.

Dit was die vreemdste ervaring om skielik in ‘n klas van 30+ kinders te sit en ‘n oorvloed maats te hê waaruit ‘n mens kon kies. Gelukkig het ek teen daardie tyd reeds die st. 4- en 5-leerplanne goed onder die knie gehad en was my verdere laerskoolloopbaan steeds ‘n vreugde.

Tannie Cielie Stemmet was ‘n raakvatter en kranige kok en was maar gewoonlik doenig in haar kombuis wat neffens die Rietvlei-pad geleë was. As ek en Kosie smiddae al kreunende teen die bult opsukkel op pad huis toe, kon sy ons uit die kombuis sien en het sy ons gereeld ietsie te ete en te drinke aangebied.

Ek onthou veral een dag toe tannie Cielie besig was om varkkaiings in ‘n reuse seeppot oor ‘n oop vuur uit te braai. Sy het ons nadergeroep en vir elkeen so ‘n lekker vet kardoesak warm kaiings gegee. Ek en Kosie het dadelik begin weglê en teen die tyd dat ons by die winkeltjie kom, reeds alles verorber. Teen die tyd wat ons by Octavia se motorhek aanland, het die galaanvalle ons egter ingehaal en was die gort behoorlik gaar. Ek kan nie onthou watter een van ons twee die naelloop na die kleinhuisie gewen het nie, maar onthou net dit was ‘n baie noue ontkoming.

As enigste kind in my standerd, en selfs ook toe ek in Klipheuwel net ‘n enkele klasmaat gehad het (Jacoba Marais van Leeuwrivier), was ek smiddae grootliks op myself vir sosiale vermaak aangewese. My standaardpraktyk was om met my tuiskoms my kos so vinnig as moontlik af te sluk en met my windbuks (of later .22) in die hand die skilderagtige en waterryke kloof bokant ons huis in te vaar.

Ek het letterlik my dae in die berg deurgebring – elke waterpoel, waterval, krans, bakkrans en grot verken en myself verloor in die diep, donker skadu’s van die populierbos in die bek van die kloof. Terloops, die hoofstroom van die kloof word gevoed deur verskeie systrome en vertakkings wat baie hoog in die Langeberge ontspring. Een van dié strome het sy oorsprong by ‘n fontein waar warm water uit die aarde kom. Volgens oorlewering is dit baie hoog berg-op in ‘n amper ontoeganklike en diep kloof geleë. Ek het ongelukkig nooit daar uitgekom nie.

Die enkele dassies, duiwe en tarentale wat ongelukkig was om in my visier te kom, het op die tafel van outa Willem Tet beland. Laasgenoemde was die enigste Xhosa in die vallei waarvan ek in my jeugjare geweet het. Hy was ‘n alleenloper wat ‘n bykans kluisenaars­bestaan in sy ou karavaan naby die kloof gevoer het. Hy was ook verantwoordelik om ons paar koeie te melk wat in die oeroue klipkraal langs die teerpad aangehou is. Ek onthou nou nog hoe ek vroegoggend wakker gemaak is deur die geklingel van melkemmers wat geskrop word en die egalige gedreun van die roomskeier (“separator”) in die melkkamer.

Ou Tet (soos ons hom genoem het – ek dink sy van was Titus) het op ‘n stadium ‘n paar kadetorkes-stewels by een van my ouer broers geërf. Die hakke en sole van die stewels was met yster beslaan, onder andere met so ‘n dik hoefyster onder die hak. (Ek het in my hoërskooljare as lid van die kadetorkes ook so ’n paar gehad – ‘n mens kon dit by die Aero koop.) Ou Tet het die gewoonte gehad om op sy roete van die kraal af en terug op die kant van die teeroppervlakte van die grootpad te stap. Met verloop van tyd het sy ysterskoene ‘n duidelik waarneembare paadjie op die teer uitgekerf. ‘n Mens kon dit nog vir jare na sy dood sien. Daar is ook vertel dat sy skoene vonke op die teerpad laat spat het as hy in die donker loop. Ek weet nie of dit waar is nie, maar het dit as die reine waarheid aanvaar.

Soos ons ouer geraak het, het ek en Hannes van Deventer, asook Paultjie Stemmet, al meer saamgespeel. Behalwe vir al die onhebbelike kattekwaad wat ons aangevang het (wat liefs nie oorvertel sal word nie), het ons ook tipiese plaaskindgoed gedoen soos donkie- en botterboomry. Laasgenoemde is vermag op ‘n glybaan wat ons teen die wal van een van oom Boeta se damme aangelê het. Sodra dit goed natgegooi is, gaan sit jy op die stomp van ‘n varsgesnyde botterboom (wat in die koppe agter oom Boeta se huis gegroei het) en gly dan teen die wal af. Die grootste uitdaging was natuurlik om bo te bly aangesien die botterboom al hoe meer snotterig geraak het en spoed opgetel het soos wat dit oor die grond skuur.

Gerrit en Piet van Deventer het ‘n baie ou motorkar (ek dink dit was ‘n Ford wat uit die 1930’s dateer het) aan die loop gekry. As ek dit nie mis het nie, het dit ‘n V8-enjin gehad en was dit op ‘n stadium in ‘n bakkie omskep. Vrydagmiddae, as oom Boeta en tannie Stienie vir inkopies dorp toe gegaan het, het hulle (dikwels vergesel deur my broer Kosie) met hierdie ou motor op oom Boeta se stoppellande gaan rondjaag – met die uitsluitlike oogmerk om so vinnig as moontlik te ry, soveel stof of modder as moontlik op te skop, draaie so skerp as moontlik te vat en die wiele soveel as moontlik te laat tol.

Van die oorvertelbare kattekwaad wat ons aangevang het, was om op die boonste verdieping te sit en dampies slaan met ons selfvervaardigde rietpype (gestop met Geel Transvaal– of Swart Transvaal-tabak wat een van die plaaswerkers skelmpies vir ons by oom De Jager se winkel gekoop het). Die rietpype is geprakseer uit ‘n dikkerige stukkie spaansriet (wat so 4-5 cm bokant die lit afgesny is) met ‘n steel – in die vorm van ‘n stukkie wingerdloot waarvan die kern met ‘n stuk staaldraad uitgehol is.

Rietvlei het een jaar ‘n vreeslike muis- en rotplaag ervaar. Ek het iewers ‘n hele tros muisvalletjies in die hande gekry en my gou-gou bekwaam as ‘n bedrewe muisvanger. Oom De Jager het hiervan te hore gekom en toe met my ‘n “deal” aangegaan: Ek sou toegelaat word om gedurende die skoolvakansie muise en rotte op sy perseel te vang teen die astronomiese vergoeding van 1 sent per muis en 2½ sent per rot. Ek het onlangs verneem dat hy vir Danro Swanepoel, ‘n susterskind van tannie Daisy, 5 sent per muis en 10 sent per rot betaal het. Danro is òf voorgetrek omdat hy familie was, òf was maar net ‘n baie beter besigheidsman as ek. (Ek vermoed dat laasgenoemde die geval was.)

In dié proses het ek ure by die winkel, die stoor, slaghuis en werf deurgebring en in allerhande hoeke en gate ingekruip om my valletjies te stel en weer my prooi bymekaar te maak. Met die voorlegging van die fisiese bewys van my vangste, is ek aan die einde van elke dag vergoed. Teen die einde van die vakansie het ek genoeg geld gehad om vir my ‘n Best– knipmes te koop – en so het my hardverdiende loon weer in die kontantlaai van die winkeltjie opgeëindig.

Vanweë sy betrokkenheid by boordery (en in ag genome dat hy ‘n gekwalifiseerde myner was), het my pa in geologie belang gestel en altyd sy oë oopgehou vir interessante rotsformasies, gesteentes en klippe. In die proses het hy verskeie werktuie op die plaas opgetel wat dateer uit die Steentydperk – asook uit die tydperk toe die area deur die San-mense bewoon is.

Hy het besonder goeie voorbeelde van ‘n handbyl en ‘n vleisskraper (wat waarskynlik in die laat Steentydperk/Paleolitiese jare deur middel van die “knapping”-proses uit klip gekerf is), asook ‘n paar deurboorde klippe (ook bekend as !Kwe-klippe) in sy versameling gehad.

Ek het gevolglik tydens my vroeë kinderjare reeds besef dat die generasies waarvan ons bewus was, maar resente aankomelinge in die vallei was. Met my spelery in die kloof, het ek myself dikwels probeer voorstel hoe dit moes gewees het om toentertyd daar te lewe, en ek het ure onder bakkranse en in die vele grotte en skeure ingekruip om my te verbeel dat ek ‘n grotmens is.

Afgesien van die klipwerktuie wat ek van kleintyd af geken het, was dit egter eers in die 1990’s wat ek gekonfronteer is met verdere klinkklare visuele bewyse van ‘n gemeenskap wat honderde (indien nie duisende) jare gelede in die Rietvlei-gebied gevestig was.

Dit het gebeur toe ek en my dogter (wat toe so 7 of 8 jaar oud was) die kloof gaan verken het. Terwyl ons op ‘n sanderige kolletjie langs die waterstroom aan die voet van ‘n baie hoë bakkrans gestaan het, het my dogter opgemerk dat dit ‘n ideale woonplek vir die San-mense sou wees. Ek, as alwetende (en beterweterige) pa wat al menigmaal op dieselfde plek gestaan het, het probeer verduidelik dat die krans verkeerdom staan en dit derhalwe blootgestel is aan wind en reën wat die plek waarskynlik ongeskik vir bewoning sou maak.

Terwyl ek nog praat, het my dogter geskree: “Kyk, Pappa!” en gewys na die rotswand reg agter my wat oortrek was met die allermooiste rotstekeninge. Van dansende figure met lang, slanke bene tot afbeeldings van diere, onder andere ‘n eland. Een van die tekeninge, wat ‘n jagter met pyl en boog (en ‘n opvallende privaatdeel) uitbeeld, was veel duideliker as van die ander en klaarblyklik op ‘n later tyd geskep. (Die huidige generasie van Rietvlei se manlike ingesetenes moet maar onderling bepaal wie die liggaamskenmerke van hierdie jagter geërf het!)

My pa was destyds nie geneë dat ons die vonds rugbaar maak nie – hy was bang dat dit onwelkome besoekers sou aanlok – en het ons die storie maar vir baie jare dig gehou.

Ter afsluiting: Ek het in 1971 aan die Hoërskool Montagu gematrikuleer, my diensplig in 1972 ondergaan en in 1977 my LLB-graad aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth verwerf. Ek was vir ‘n klompie jare lank staatsaanklaer en ook ‘n landdros in die Oos-Kaap en later staatsadvokaat verbonde aan die kantoor van die Prokureur-Generaal, Kaapstad.

Ek het in 1988 die privaatpraktyk as lid van die Kaapse Balie betree en aldaar as advokaat gepraktiseer tot Februarie 2025 toe ek onverwags ernstige gesondheidsprobleme opgetel het. My praktyk was gerig op algemene siviele gedingvoering – met ‘n spesiale klem op die waterreg, trustreg, mediese nalatigheid en algemene kommersiële reg. Ek het in Desember 2005 die status van Senior Consultus (SC) verwerf.

Ek is in 1978 getroud met Verie (doopnaam “Elna”) Herselman van die Langkloof. Ons woon al sedert 1982 in dieselfde huis in Welgemoed. Ons het twee kinders – Louise (gebore in 1983) en Jacobus de Villiers la Grange (“Cobus” – wat in 1986 gebore is).

Louise het haarself bekwaam as CA en is al vir baie jare lank in Londen woonagtig – waar sy verbonde is aan BBC Studios. Cobus het aanvanklik ‘n BSc-graad in wynmaakkunde behaal en onder andere vir ‘n tyd as assistent-wynmaker by die Montagu Kelder gewerk. Na ‘n paar jaar het hy egter besluit om terug te keer universtiteit toe en het hy homself as chemiese ingenieur bekwaam. Hy woon net om die draai van ons en is werksaam by Heineken (die ou Distell) te Stellenbosch.

Louise het twee kindertjies – Elizabeth (7) en George (4). Cobus se tweetjies, André en Katherine, is onderskeidelik 5 en 2 jaar oud.

Van Zyl La Grange onthou: Ja, ons plaas was Nelsrus en Pa het die naam verander na Octavia: Agt myl uit die dorp uit en ‘n oktaaf op die klavier is agt note. Oupa en Ouma het daar gewoon, tot ná oupa Izak se dood, en toe het ons van Le Rouxstraat 27 (wat deur die Neethlings gekoop is) plaas toe getrek. Aanvanklik was Nelsrus sonder water, en ja, Pa en Oupa het vir varswater geboor en kon die plaas begin uitbrei. Hulle het ook die water by die winkel aangewys en geboor.

Pa het ook varswater op McGregor gevind, waar daar net brakwater was. In plaas van op reënwater staat te maak, kon die boere begin om meer wingerde aan te plant en die wynbedryf uit te bou. Ek onthou die dag toe Pa ons kom haal het om te gaan kyk hoe die water soos ‘n fontein daar op McGregor uit die boorgat uit spuit! So het hy deur die jare baie suksesvol water aangewys en geboor.

Ek het op OKP (Paarl) en Universiteit Stellenbosch studeer en by Bergvliet Laerskool in Kaapstad as onderwyser begin. Daar het ek my lewensmaat, Stanley Cohen, ontmoet. Ek was drie jaar waarnemende hoof van die Frank Joubert Kunssentrum (nou Peter Clark) in Nuweland en is toe as Kunslektor by die Cape Town College of Education aangestel. Ná die wonderlikste loopbaan, het ek op vyftig afgetree en gereeld jaarliks in Mauritius gaan werk, 43 jaar in Lakeside naby Muizenberg gewoon, en nou bly ons in Larmenier Village, ‘n pragtige aftreeoord teen die hange van Tafelberg, in Vredehoek.

Ons liewe broer Paul is oorlede aan longkanker. Hy was ongetroud en ‘n onderwyser by Rondebosch Hoërskool. Hy het op Melkbosstrand gewoon, waar my ouers afgetree het.

Kosie La Grange onthou: Ek was in die Rietvlei No. 1 Plaasskool in st. 3, 4 en 5, vanaf 1960 tot 1962. Daar was 17 kinders in die skool, van sub A tot st. 5 – almal in een klas.

Die skoolmaats wat ek kan onthou, was: Ek en André la Grange, Christa en Ina de Jager, Johan, Dolfie en Danie Nel, Gerrit en Pieter van Deventer, Hilda en Jurie Lombard, Gert Stemmet (Rooigert) en Rina Trasforini. 

Juffrou Groenewald was die juffrou – tannie Rosie vir my, want sy was my ma se tannie. Haar man was oom Mattewis. 

Ina, ek onthou jou pa en ma baie goed. Oom De Jager was so ‘n smart swartkopman wat sulke lekker wors in die slaghuis gemaak het. Hy het petrol gepomp met die handpomp met die twee glasbuise. 

Ek het ook soms in die plaaswinkel gewerk. Johanna Stemmet en my broer Van Zyl het ook daar gewerk. Ek het eendag kardoessakkies met pyptabak vir 5c in plaas van 15c verkoop… en was baie gewild agter die toonbank! Gelukkig het tannie Daisy nie geweet nie! (Onthou die metrieke stelsel is so pas ingestel en ons het maar gesukkel daarmee.) Daar is ook blouspirits in bottels verkoop en ek het gesien hoe drink die manne dit sommer straight uit die bottel uit! 

Oom Willie Stemmet, julle bure, was ‘n eiesoortige karakter. Hy het die strooidakhuis met 24-duim-mure geverf. Die hele huis is met ‘n sprinkaanspuit met kalk afgespuit: deure, vensters, die hele lot, met hier en daar ‘n blerts op die strooidak. Agterna was tannie Cielie-hulle net die vensters… en siedaar, job done!

Buite hulle huis was ‘n sementdammetjie met sementvoortjie na die groentetuin toe. Oom Willie het ‘n toilet wydsbeen oor die voortjie gebou. Een keer ‘n week is die dam oopgetrek sodat Jan Voetjie die groentetuin kon natlei – slim affêre! 

Ons het almal skoolbus gery, hoërskool tot matriek. Ons is soggens eerste, kwart oor ses, opgelaai, dan ry ons by Talana om, Poortjieskloof op, by die Burgers se plaas verby tot by Derdeheuwel. Daar swaai ons weer af om die De Wits op te laai om net so voor agtuur by die skool te wees. Smiddae het die bus weer andersom gery, dan het ons eers halfvier by die huis gekom. 

Ek moes menige middae ná buitemuurse aktiwiteite ryloop huis toe, 8 myl ver. By een geleentheid het ek saam met Kosie Conradie (“Kosie Vaalfrans”) ‘n geleentheid op ‘n trekker gekry en een keer saam met ‘n donkiekar!

Ek het na matriek Onderwys geswot by OKP, nes Van Zyl en Paul voor my. André het regte studeer by UPE. Ek is getroud met Mariëtte van Kimberley en was Houtwerk-onderwyser by Hoërskole Bosmansdam en Brackenfell. Na vroeë aftrede was ek deeltydse dosent in Arbeidsterapie by U.S. vir 10 jaar. Ons het drie kinders, almal getroud, woon in Bellville omgewing en het 5 kleinkinders. 

As al hierdie inligting dalk saamgevat word, sal dit interessant wees om almal se ervarings en herinneringe van ons wonderlike kindertyd te sien. 

Elasabé (Van Eeden) onthou: Sal dit nie interessant wees as elkeen wat in Rietvlei in die skool was, vir ons sal sê hoe hul pad geloop het na Rietvlei tot waar hulle nou is en waar elkeen woon nie? 

Ek het na skool by LKB op Ashton begin werk waar ek ook my man ontmoet het. Daarna is ons na die hoofkantoor in Kaapstad geskuif. Ons het toe albei by die Staat gaan werk. By Bosbou begin en later by Seevissery gewerk. Ons het op Bettysbaai gaan aftree. My man is egter in 2020 oorlede en nou woon ek by my seun en sy gesin in Bellville. Ek sal graag wil weet of daar nog iemand is wat saam met my op skool was en waar hulle hul nou bevind.

Ek dink ek is seker die oudste oorlewende van Rietvlei se skool. Ek kan nie meer alles mooi onthou nie, want ek is al 85. Ek weet net dat, nadat my pa siek geword het en hy en sy broer Rietvlei verkoop het, ons onderkant oom Izak Nel in ’n huis gewoon het. Van daar af het my pa Novelle op die Hoogte gekoop.

Die huis het ’n solder gehad. Ons het graag met die leer opgeklim, en dan het my ma geraas, want die stof het deur die plafon in die huis geval.

My pa het maar al die jare swaar geloop, maar hy en outa Dial het die plek goed bewerk. Daar was twee koeie, Griet en Kaaitjie, wat vir melk en room gesorg het.

Ma het die room na Royal Dairy gestuur. Sy het ook botter gemaak. Dit, saam met eiers, het sy Vrydae na Brink se kontantwinkel geneem, en van die geld het sy die week se kruideniersware gekoop. Sy het ook van die eiers na die Eierkring gestuur. Alles is met die bus versend. My ma het ook broeimasjiene gehad om eiers uit te broei en het dan die kuikens grootgemaak.

Water was maar skaars. Ons het twee sementdamme gehad – een vir drinkwater en die ander vir leiwater. Die water het uit die fontein bokant die Conradies gekom. Ek dink Pa het elke week ’n leibeurt gehad.

Wintertyd het my pa vir ander boere wingerdstokkies geënt. Outa John en sy vrou, Ennie, het hom daarmee gehelp. John en my pa het geënt en Ennie het die entplekke toegedraai. My pa het ook vir party boere jong boompies gekweek en voorberei – sogenaamde “fluitjies”, soos dit destyds genoem is.

My ma was ’n yster. Sy het net so hard gewerk om die pot aan die kook te hou. Sy het lank in die winkel gewerk. Sy het bokke grootgemaak om te slag. Ons het ook ’n paar skape gehad vir slag en twee varke, Knipmes en Velskoen, wat die afvalkos gekry het. My ma het ook gaan help waar daar siekte of dood was.

Vrydagaande was dit Brug-aand en dan het oom Koos en tannie Bessie (Stemmet) by ons kom speel. Saterdagaande het my ma-hulle weer by oom Koos-hulle gaan speel.

Ek onthou ook dat oom Klein Willie Stemmet ons buurman was en dat hy op die lyndraad ’n werkershuisie gehad het wat nie ’n dak opgehad het nie. Een naweek het familie van die Kaap kom kuier. Gideon en sy twee nefies was omtrent heeldag in die veld. Die Maandag het oom Willie by my ma-hulle aangekom en gesê hy soek sy huisie. Toe het die drie seuns die huisie se mure afgebreek! Hulle het elkeen met ’n paal teen die muur geloop en die bakstene tot op die grond afgekap. Gelukkig was die huisie nie in gebruik nie.

My broer, Gideon, het ná skool by General Motors in die rekenaarafdeling gewerk tot met sy aftrede.

Lidia (van Deventer): Elsabé, jou ma het my matriekafskeid-“sjaal” gehekel. Ek onthou haar pragtige hekelwerk.  Ek onthou die ou karre onder die bome by julle. Ons het altyd daarin gespeel.

Christa (de Jager): Ek onthou tannie Hannah en oom Dirk goed. Die tannie was ons ouers se regterhand in die winkel.

Dolf Nel onthou: Môre al die Rietvleiers.

Laat ek begin deur een en elkeen van julle geluk te wens met en te bedank vir julle kosbare en verrykende bydraes tot hierdie gesprek. Daar is vir seker vir elkeen van ons sommige herinneringe wat uitstaan en daarom dan die waarde van ‘n groep soos hierdie.

As ek terugdink, kan ek onthou dat op elke plaas daar sekere van ons bruinmense was wat ‘n besondere rol in ons lewens gespeel het. Ek dink aan die 2 of 3 “outas” wat spesifieke werk op die plaas gedoen het en daarom ook baie besondere kennis gehad het en die 2 of 3 “aias” wat in die huise gewerk het.

Die benaming “outa” en “aia” was ‘n titel van respek en nie soos die politici van vandag dit in ‘n negatiewe lig wil stel nie.

Ons het ook baie verskillende speelplekke en soorte speletjies gehad. Kafbale het ons gebruik om lang gange en donker kamertjies te bou. Genade, dat die spinnekoppe en slange ons nie opgevreet het nie!

Onder in die rivier was daar gedeeltes met sulke donker, grys turfgrond en dit was ons rugbyveld waar ek en Danie baie wedstryde met die bruin seuntjies gespeel het. Ja, daar was sekere reëls. Een daarvan was dat hulle nie ‘n drie mag druk nie.

In die koppe oorkant die rivier het ons baie lang ontdekkingstogte aangepak met geheime grotte (niks meer as net ‘n oorhangklip nie) oral weggesteek.

Daar was ook sulke groot hamerkopneste wat gelyk het soos ‘n groot klomp droë stokke wat op ‘n hoop gepak was.

In die rivierdam, wat so 2 km van die huis af was, het ons leer swem. Kan nie dink dat my ma gedink het dis reg nie. Dink net: Twee standerd 2 of 3 seuntjies wat glad nie kan swem nie, gaan op hulle eie soontoe in die midsomer wanneer die slange wemel en spring in daai water om te leer swem… Ons het darem ‘n opgepompte motorband gehad. Daarmee dryf jy tussen die riete in en steek jou hand in die vinkneste vir eiertjies of kuikentjies waarvan sommige dood was – deur slange of pes getref. Ek gril my dood.

Met parstyd was die hoop druiwedoppe ‘n lekker speelplek. As jy so halflyf diep ‘n gat grawe, is dit vuurwarm daaronder. Vanaand is dit ‘n geskrop van ‘n ander wêreld om die dopreuk van jou lyf af te kry.

As die druiwe gepars was, is die druiwesap in groot oop sementtenks gepomp. Daar het dit vir ‘n tyd lank gelê en is later in toe sementtenks gepomp. Ek kan glad nie meer die volledige proses onthou nie.

Op ‘n heel later stadium het lorries van een van die wynkelders op Montagu hierdie mos kom haal en was dit dan die einde van ons parsproses op die plaas.

Voëltjies skiet was natuurlik ‘n daaglikse aktiwiteit. Jy stap met jou windbuks en ‘n klompie pellets in jou broeksak en die honde tussen die bome in. Ons het, met die tong vasgedruk teen die tande, so ‘n roepgeluid gemaak wanneer ons lug deurgeblaas het. Dit sal maar moeilik wees om dit te spel, maar iets soos “tjwieeet, tjwieeet, tjwieeet”. As daai mossie val, is die honde by en vreet hulle hom op. Nooit, maar nooit, het ons duiwe of kwikkies geskiet nie.

Oom John Smit wat hare gesny het op Montagu, het ons windbukse reggemaak as dit nodig was.

Resiesry met goedjies wat in die leislote dryf, was ’n ernstige saak. Ou Danie het so ‘n geel plastiese eendjie gehad wat altyd gewen het.

Skelm rook was ’n groot toets (vir wat, weet ek eintlik nie), behalwe dat swart Transvaal-twak jou laat opgooi het. Ons het self ons pype gemaak. Die kop is van spaansriet en die steel is van pypsteelbos gemaak. Dis ‘n bos was daar in die rivier gestaan het en op een of ander manier het ons uitgevind dat jy die takkie se binnekant met ‘n stukkie binddraad kan uitstoot vir ‘n perfekte pypsteel.

Ons twak het ai Dorie vir ons met ’n tiekie of ’n sikspens by oom De Jaar (nie “Jager” nie) se winkel gaan koop. Vir daardie geld het jy ’n hele kardoesak twak gekry. Ons brand was Geel Transvaal of Menline en, soos reeds gesê, liefs nie Swart Transvaal nie.

Met ons twak, pype en ‘n boks vuurhoutjies, sak ons dan in die kafhok langs die beeskraal in en daar word gerook vir ‘n vale. Ek kan nie eens onthou of ons die rook gedraw het nie, maar ons het kringetjies probeer blaas.

Aan die groot akkerboom by ons huis het ons ‘n dik tou vasgemaak – seker so hoog soos die huis se nok – en daar het ons op- en afgeklim en rondgeswaai, so ver soos die tou kon bykom. Dink net aan die goeie oefening wat dit was.

Daar waar die tou vas was, het ons ook ’n foefieslaaid vasgemaak. Dit was in totaal seker so ’n 30 of 40 meter lank, tot by die lukwartboom aan die anderkant van die tuin. Dit was groot sports! Die ysterpyp om die staaldraad het net té warm geraak, sodat ons later ’n lap daaroor gesit het.

Die einde van ons foefieslaaid was toe ek en Danie saam daar af is en ons die staaldraad se drakrag oorskry het. Die val was darem net so 2 tot 3 meter hoog en gelukkig op die gras.

Die rolprent Ben Hur het in die vroeë sestigerjare op Montagu gewys en daar het hulle met die perde gejaag en dan spiese na ‘n teiken gegooi. Ons het dit nagemaak met ons fietse en dan ‘n houttol binne-in ‘n sirkel probeer gooi dat hy draai. Dit was nogal nie so maklik nie.

Die strydwaens in Ben-Hur het aanleiding gegee tot Danie se baie goeie vertelling van ou juffrou Rosie se wedervarings. (sien ondertoe)

Nog ‘n unieke erfenis van ons plaaslewe is die plaasvolkies wat op Oukersaand op die werf Halleluja-kersliedere kom sing het. Altyd ‘n paar vrouens, met een of twee ouer mans heel voor, met so ‘n dowwe flitsliggie wat dan die goeie boodskap met so ‘n hoë noot “HEER JESUS” aan die nasies verkondig.

Agter, in die donker driekwart van die koor, het ‘n klomp kleingoed getros wat saamkom net vir die droë koekies en rooi koeldrank wat die “Ounôi” gaan uitdeel.

‘n Paar groot volk het ook daar rondgehang, maar hulle het gewoonlik nie eintlik geweet hoekom hulle daar was nie.

Een aand het Kweta Conradie net daar vir Steven Julies met die mes gesteek soos die voorsangers ‘n laaang noot vat.

Ek onthou goed hoe my pa met ‘n groot lap die hele bottel Friars Balsem op die oop borswond omgekeer het dat ou Steve net daar helder nugter was van die pyn.

Ons lewe in en om Rietvlei was so volkome en volledig dat die wêreld vir my op daardie stadium eintlik net uit Rietvei bestaan het. Montagu-dorp het sy plek gehad en ook Robertson vir die skou wat ons daar gaan kyk het. En Worcester vir die O.K. Basaar waarnatoe ons gegaan het vir Krismis-shopping. Dan ook die Kaap wat ons een keer elke baie jare besoek het – eintlik maar net om deur die lang tonnel te ry. En dan natuurlik Stilbaai of L’Agulhas of Struisbaai toe vir vakansie. Wat ‘n voorreg!

Ek sou so graag hierdie paar gedagtes met ou Danie wou gedeel het. Ek is baie dankbaar vir elkeen van julle wat nog daar is en wat ek weet die pad saam met my stap.
Groetnis,
Dolf

Christa (de Jager): Ai Dolf, hoe hartseer laat voel jy my nou met al die onthou… Parstyd en vrugtetyd was die teerpad een strook druiwestroop. Die bye het daar gewerk en ons moes oppas om nie op hulle te trap nie. Baie boere het hulle eie mostenks gehad wat op ‘n lorrie gelaai kon word.

Lidia (Van Deventer) onthou: Dit wil vir my voorkom asof ek nou die naasjongste van die oorlewende leerlinge van die Rietvlei-skooltjie is.

Ek onthou nog hoe Tiekie, oupa Gert en ouma Hettie se hondjie, ons van agter die sipresheining gejaag het wanneer ons skool toe gestap het.

As ek terugdink aan ons kinderjare, kan ek steeds onthou hoe hard ons ouers gewerk het. Water was altyd baie skaars en ons moes met min water klaarkom. Die fontein het later opgedroog en boorgate moes redding bring. My pa, Kwart (Johannes David van Deventer), het fisies self nog water in die wingerde gelei.

Ek onthou hoe die pofadders dan uit hul gate gekom het en met die graaf doodgemaak is. Ook met appelkoospluktyd was daar baie kere ’n boomslang wat konsternasie in die appelkoosboord veroorsaak het.

Daardie jare het hulle met die handploeg en esel geploeg. “Jan stoot die ploeg en Pappa trek die esel,” het my sussie geantwoord toe my ma wou weet waar Pappa is. Gert het graag die vieruur-koffiemandjie land toe weggebring om van die skoolhuiswerk weg te kom.

Kierie en Gert was in Oakdale op hoërskool. My ma, Lizzie (Elizabeth Johanna van Deventer, gebore Kriel), was uit en uit ’n boervrou – nie net ’n boer se vrou nie. Sy was my pa se regterhand. Sy het saam in die boorde gehelp appelkose pluk, spanne aangery van Poortjieskloof en Nuwedrif, as verpleegster vir die werksmense opgetree en mooi na oupa Gert en ouma Hettie omgesien. Sy het op haar knieë in die kwekery gesit om die geokkuleerde boompies met swart boomwas toe te smeer en het al die kliënte met koffie en koekies bedien.

Ons ma het ook self die boeke gedoen. Die syfers, somme, “fakture”, “boomtellings” en kwitansies het my pa agterop sy Cavella-(30)-sigaretdosies aangeteken, en vandaar het ma Lizzie die boeke laat klop.

Ons het baie kere sommer deur die land se drade geklim en na oom Dirk en tannie Hannah (van Eeden) of oom Piet en tannie Cora (Stemmet) gestap.

Ons pa was baie oorbeskermend, en ons het nie gewaag om naby die plaasdamme te kom nie. Ons het wel baie berg geklim, van die botterboom by die rivierwal afgegly en kleilat gegooi.

Ons jongste drie kinders het altyd appelkose gedroog en my pa het dit SAD toe gestuur. Dit was ons sakgeld en ons was baie opgewonde wanneer die agterskottjek ook gekom het.

Met die houtstoof en al, kon my ma die lekkerste brode bak. Sy het nog self botter gemaak, met die roomafskeier room van die melk geskei en kanne melk en room by die winkel teen die pad gaan neersit sodat die melklorrie dit kon oplaai.

Ek onthou ook die rosyntjienette langs ouma Hettie se huis waarop die rosyne gedroog is. Ná al die oeste af was en parstyd verby was, het ons vir ’n paar dae in Struisbaai of Agulhas vakansie gehou.

Oom Petrus en tannie Giep (Lombard) het gereeld saam met ons ouers kom Brug speel, en die twee vrouens het glo altyd die mans gekul.

Ons kinders het rounders, peep oor die dak, kennetjie, vroteier, ensovoorts gespeel. Ons het baie met karretjies buite gespeel en plase gemaak met stokkies en die skape was wit klippies.

Ons was ses kinders (Kierie, Marie, Hestea, Elna, Gert en Lidia) en ná ons almal getroud is, was daar 12 kinders en 17 kleinkinders. Elke Oujaarsaand het Vader Krismis 29 wit koevertjies uitgedeel. Die saamwees en liefdevolle atmosfeer sal altyd mooi herinneringe bly.

Tydens my en my gesin se 26 jaar se verblyf in Johannesburg (Krugersdorp) kon ek baie dae nie glo hoe ’n “af die plaas af”-kind van Rietvlei daar beland het nie. Nou is hierdie “af die plaas af”-kind se kinders oor die wêreld versprei.

Piet van Deventer: Lidia, onthou jy nog van julle werfbobbejaan wat my met ‘n klip reg voor my kop gegooi het? Daar het ‘n helse knop gesit. 

Lidia (van Deventer): Hoe lekker lag ek nou. Ja, ek onthou dit baie goed. Die bobbejaan se ketting was aan ‘n lang draad vas sodat hy kon rondbeweeg.

Wie het almal by Kierie kom darts speel? Dan is die dartbord teen die buitepakkamer se muur gehang. Gideon, ek dink jy of Joubert was daar toe iemand my voet raakgegooi het. My ma-hulle was die Sondagoggend kerk toe, en ons het mos nie op Sondae darts gespeel, geswem of kaartgespeel nie. Ek is toe met lekkers omgekoop om stil te bly. Die merk het vir jare op my voet gebly.

Piet Van Deventer onthou: As ek nou terugdink aan waarmee daar op Rietvlei geboer is, was daar appelkose, perskes, kwepers, parsdruiwe, hanepoot en korinte – waarvan rosyne gemaak is.

Die meeste plase het ook ’n kwekery gehad. Daar is groente van alle soorte geplant – vir huishoudelike gebruik en ook om te verkoop.

Die meeste plase het melkkoeie gehad. Sommige het vars melk gelewer; dit is waar die melklorrie ingekom het. Soggens vroeg moes die kanne melk op ’n stand langs die pad gesit word. Elke boer se adres was op ’n koperplaatjie op die kan aangebring. Die melklorrie het langs die stand stilgehou en vol kanne met leë kanne omgeruil.

Jy kon die melklorrie ver hoor aankom, soos die kanne teen mekaar gekap het op die grondpad verby die skool – altyd min of meer dieselfde tyd. Die lorrie het bo by die teerpad naby die winkel afgedraai, die Strydoms (wat oom Willie se grond gekoop het) se melk opgelaai, oom Izak Nel s’n, ons s’n, en ook verder aan nog melkkanne opgelaai.

Ons het ook room weggestuur. Kanne room is winkel toe geneem om saam met die bus Nestlé of Royal Dairy toe te gaan. Die afgeroomde melk is vir die varke gegee.

Die hanepoot en korinte is in kissies gepak en dan na die droograkke geneem, waar dit op draadnette oopgepak is om te droog. Dit is hoekom my pa die kissies in water gesit het, sodat die hout kon swel en die spykers nie so maklik uitval nie. Ons het ook die rottangmandjies in water gelos voor parstyd – dit maak die rottang meer buigbaar sodat dit nie so maklik breek nie. Perskes en appelkose is ook gedroog.

Dolf is reg: daar was baie eerbare bruinmense op Rietvlei. Ek onthou nog Israel wat by oom Johannes in die groentetuin gewerk het. Dit was ’n pragtige groentetuin reg oorkant die skool. Die bruinmense was lief vir tuinmaak.

Mense van die omgewing het altyd aartappelmoere by my pa kom haal. Hulle hoef nie daarvoor te betaal het nie – as hulle ’n blik moere kry, moes hulle net weer ’n blik vars aartappels teruggee. Dit het nogal goed gewerk.

Van die bome in die kwekery – perske-, peer- en appelbome – is in strooi verpak en dan met goiingsak toegebind. Dit is natgemaak om die wortels klam te hou en op die spoorwegbus by die winkel gelaai, vanwaar dit na verafgeleë plase geneem is. Die spoorwegbus was ’n waardevolle vervoermiddel vir Rietvlei se mense.

Water was maar min, so daar is oorlog verklaar teen die molle. My pa het ’n tiekie gegee vir elke mol wat die waterleier gevang het. Die molle se gate het water weggelei, rivier toe. Ou Adam, die waterleier, het die molle geëet – hy het altyd gepraat van ’n grondvark. Die morge besproeiingsgrond was min, tussen 8 en 15 morg vir ’n gemiddelde plaas, waarop die boere tog ’n goeie bestaan gemaak het. Ná ’n goeie oes kon hulle selfs ’n blink nuwe motor kontant koop.

Die res van die plaasgrond is nie besproei nie – daar is gesaai en diere aangehou. Groter plase het aan die Nels en die Haasbroeke behoort.

Feitlik elke plasie het sy eie kelder gehad, wat bestaan het uit sementtenks bo en onder die grond. Die ondergrondse tenks was vir die druiwesap wat vry uit die geparste druiwe van die bogrondse tenks geloop het. As die sap klaar gegis het, is dit in ’n tenk gepomp wat op die lorrie gelaai is en dan KWV toe geneem is vir brandewynstook. Die druiwedoppe is uit die sementtenks gehaal en in ’n handpers gegooi om die laaste sap uit te druk. Hierdie sap is vir stookwyn gelewer om spiritus te maak. Al die werk is met arbeiders gedoen – wit en bruin het saamgewerk.

Rietvlei se mense – al die mans saam met hulle vrouens – het baie hard gewerk om vir hulle gesinne, plaaswerkers en ook die gemeenskap te sorg. Elkeen op sy eie unieke manier.

So het ek dit as kind beleef. Dit was ’n voorreg om daar groot te word. Baie dankie, Rietvlei en sy mense. As ek die mooi foto’s van al die mense van Rietvlei sien, dink ek ver terug aan al die stories en die lekker lag.
Dankie, Rietvlei. Ek verlang na julle almal.
Groete,
Piet

Twee wingerdmesse. Boonste foto het Jurie Lombard aangestuur,
en onderste een Piet van Deventer

Hilda (Lombard) onthou: Wanneer ek almal se stories oor hul kinderdae en herinneringe van Rietvlei lees, besef ek net weer watter gelukkige kinderdae ons gehad het. Ons het nie baie aardse besittings gehad nie – wel nie ons Lombards as gesin nie – maar vir my was ons lewe so gelukkig dat wat ons gehad het, genoeg was. Daardie herinneringe kan niemand van ons wegvat nie.

Van sover ek kan onthou, het ons eers by oupa Hans en ouma Miemie Lombard gebly. Daar het ouma reeds vir my ’n fondasie vir die lewe gelê. Sy was bitter spaarsaam en het altyd gesê: “Spaar ’n vuurhoutjie en koop ’n plaas.”

Oupa Hans het weer die humor geplant. Al was hulle lewe eenvoudig, was almal altyd welkom op die plaas. Sondae was familiekuiertyd. Oupa se broers het op Ashton gebly en het dan kom kuier.

My ouma Miemie het een keer ’n week van die plaas af dorp toe geloop. Wanneer haar katjiepieringboom geblom het, het sy vroegoggend ’n klomp gepluk en bossies gemaak wat sy in nat koerantpapier toegedraai het. Dan het sy dorp toe geloop en by elke besigheidsplek vir die vrouens daar so ’n bossie blomme gaan gee. Ek het hoevele kere saam met haar gestap. Dit was sewe myl dorp toe, met die ou pad.

Later jare het my pa en oom Michael, Pa se broer, na die munisipale gronde aan die onderkant van die teerpad getrek, waar ek en Jurie ons hele kinderjare deurgebring het. Daar is soveel herinneringe dat ek nie eens weet waar om te begin vertel nie. Wat vir my uitstaan en wat ek al honderde kere vir my kinders en kleinkinders vertel het, was ons kinderdae saam met die Van Deventers – oom Kwart en tannie Lizzie met hulle kinders. Hulle was wonderlike mense.

Woensdag- en Vrydagaande het Ma-hulle Brug gespeel. Vrydagaande het ons sommer daar geëet ook. Dan het tannie Lizzie die varsgebakte brood begin sny, met ons agt kinders in afwagting om die kombuistafel. Sy het vet en Fishpaste op die brood gesmeer – of appelkooskonfyt. Daardie jare was dit vir ons ’n feesmaal. Ons het nie van fancy smere geweet nie. Terwyl die grootmense kaart speel, het ons kinders konsert gehou. Ons verhoog was die vensterbank.

Skoolgaan was nie juis my ding nie. Ek was ’n dromer. Namiddae het ek dikwels vergeet om huis toe te gaan. Dan het ons botterboom gery teen die kop bokant die skooltjie. Ek het omtrent elke aand moeilikheid gekry wanneer ek met vlekke van die botterboom op my klere by die huis aankom – of met moerbeivlekke van daardie ou groot moerbeiboom van die Nels, op pad huis toe.

Toe ek sewe jaar oud was, het ek witseerkeel gekry. Daardie jare was dit ’n baie gevaarlike siekte, omdat kinders nog nie daarteen ingeënt was nie. Gevolglik was die plaasskool vir ongeveer ses weke gesluit. Ek neem aan ek was toe seker die gunsteling in die skool, want almal het nog ’n ekstra paar dae vakansie gekry. Die medikasie moes van oorsee af kom en niemand mag by ons huis gekom het nie. Ek was ses weke lank in die bed. Die dokters het daardie tyd gesê ek sou nie ’n volwassene word nie. Wel, ek lewe nou nog.

My vernaamste herinnering bly egter dié van my ma. Sy was bekend as Giepie, of sommer Giep. Arme ma was gestraf met drie mansname, Gideon Petrus Kriel Conradie. Die kwekery was Ma-hulle se hoofinkomste. Gelukkig was my ma ’n sakevrou en sy het van ’n eenvoudige kwekery ’n winsgewende besigheid gemaak. Sy was nie bang om te waag nie en was ’n sterk vrou.

Juniemaande, wanneer dit die besigste tyd op die plaas was, het daardie werf van soggens vyfuur af reeds vol lorries en bakkies gestaan. Boere het van heinde en ver gekom om hul vrugtebome te laai. Maar die beste was dat sy niemand van die plaas laat gaan het sonder dat hulle eers ontbyt gehad het nie – al was dit net koffie en beskuit. Sy het die beskuit snags gebak sodat daar altyd beskuit in die blikke was. Dit is hoe mense in daardie jare hul klandisie opgebou het, want vir seker het hulle met elke nuwe aanplanting weer teruggekom om by haar te koop.

Dankie vir al die herinneringe wat in ons wakker gemaak is met die saamstel van hierdie storie oor Rietvlei. Dit was voorwaar ’n reis op ons spore van die verlede. Dit was lekker om elkeen se herinneringe te kon lees – sommige met ’n traan, ander met ’n glimlag.

Danie Nel onthou: Adri, ek en my twee broers het op Rietvlei se werf grootgeword – daar waar julle nou woon. As jy mooi kyk, sal jy miskien nog van ons voetspore daar kry. Ons het in die huis naaste aan Boontjieland gebly. My oupa Johannes en ouma Mienie het in die huis naaste aan die skooltjie gebly.

Dit is ouma Mienie wat so koffie gebrand het dat ons dit kon ruik as ons in die skool sit! Dit is ’n reuk wat ons nou, na meer as 60 jaar, nog warm om die hart laat voel.

Oupa Johannes se huis het mos ‘n rietdak gehad. Nou ja, die valley van die rietdak wat bokant die inkomdeur van die huis is, het begin lek en Oupa moes ‘n plan daarmee maak.

Ouma Mienie het net 100 pond geweeg. Vir dié wat nie van ponde en onse ken nie… ’n sakkie sement het daardie tyd net mooi 100 pond geweeg. Net soveel soos ouma Mienie. Juffrou Rosie wat vir ons skoolgehou het, het 200 pond geweeg – soveel soos ‘n sak heelmielies by die De Jaars se winkel.

Nou weet julle presies: Ouma was ‘n klein vroutjie. Maar so klein soos sy was, so vas kon sy op haar punte staan! Oupa het haar so leer ken en hy het geweet dat hy moes werk maak van die dak wat so lek.

Al reën dit nie eintlik baie in daardie wêreld nie, die dak moes so gou moontlik dig kom. Om die dekkers van Elim te laat kom, sou te lank vat en Oupa het nooit gehou van ‘n koue atmosfeer in die huis nie. Hy was immers ook die vrederegter van daardie area wat altyd vrede moes herstel en handhaaf.

Hy het toe besluit om sommer, daar waar hy dink die rietdak lek, sement bo-oor die riete te pleister en dit dan swart te verf. Met dié werkery op die dak, het Oupa se vastrapvoet gegly en so het Oupa toe baie hard op die sementstoep beland.

Dit was omtrent ‘n affêre! My pa, wie se naam Sakkie was, moes toe gaan help om Oupa weer op die been te kry sonder dat die vroumense daarvan weet! Natuurlik was dit onmoontlik om die geheim dig te hou!

Oupa Johannes was ‘n statige oom en hy, of niemand anders, het ooit weer ‘n woord gerep oor die sement op die rietdak nie! Of die dak weer gelek het, daaroor wil ek my nie uitlaat nie. Ek dink Henk Bester, wat die plaas by my Pa gekoop het, het die dak so oorgeneem met die sement op die riet!

Nou kan ek ook nie mooi weet of my broer Johan, wat later in die huis ingetrek het, die dak laat regmaak het deur Elim se dekkers nie.

Ja, daar is baie sulke gebeurtenisse rondom Rietvlei se skooltjie en Rietvlei se werf wat kosbaar is en nie sommer vergeet sal word nie.

Tog goed dat Ina al die moeite doen om soos ‘n tandetrekker al die stories en gebeurtenisse na vore te laat kom sodat dit op ‘n manier vir die latere geslagte behoue kan bly!

Suzette (de Jager): Danie, ek onthou oom Johannes baie goed: hy het middae in sy groentetuintjie aan die oorkant van die skool se hek gewerk waar hy die mooiste, vetste aarbeie geplant het. Dan het hy belangstellend uitgevra na ons dag en punte en rapporte. So kon ek opgewonde vir hom vertel dat my ma vir my ‘n poeierblou bloes met valle gaan maak omdat ek besonder goed in die eksamen gevaar het.


NOG STORIES OOR VOERTUIE

(vervolg vanaf Deel Drie oor dieselfde onderwerp)

Ina (de Jager): Ons het so meegevoer geraak (in Deel Drie) toe veral die mansmense op die WhatsApp-groepie oor hulle pa’s se voertuie begin praat het. Ek las die geselse oor oom Sakkie se Wolseley hieronder by.

Verderaan kan julle ook lees van die Fordjie wat Piet van Deventer met ‘n groot gesukkel aan die gang gekry het. Lees ook van Elsabé van Eeden se pa wat altyd ‘n MIN-politoerblik vol water saamgery het omdat die motor so maklik gekook het.

OOM SAKKIE NEL SE WOLSELEY

Paul Fouché: Van motors gepraat – ek kan nie glo dat niemand oom Sakkie Nel se uitstaande groen Wolseley noem nie! Ek het ‘n storie oor dié pragstuk wat Johan Wolmarans, bekwame paneelklopper van weleer, my nog vertel het.

Dolf Nel: Paul, daai Wolseley was voorwaar ‘n pragtige ryding. Tyd gevat om op spoed te kom, maar as hy eers loop, het hy so ‘n sagte singgeluid op hom gehad en was Beaufort-Wes ewe skielik nie meer so ver van Laingsburg af nie.

Paul Fouché: Dolf, kan jy die model onthou? Laat sestigs vermoed ek, maar die spesifieke jaar het my ontgaan. Jong, ek het my verkyk aan daai Britse meesterstuk!

Paul Fouché: Slegs voorbeelde: Wolseley se kenmerkende wapen bo in die kenmerkende rooster het my mateloos bekoor. Rooi letters teen ‘n wit agtergrond. Wanneer die hoofligte saans aan was, is die rooi Wolseley helder verlig.
So ‘n tikkie Britse elegansie met die pinkie in die lug…

Oom Sakkie Nel se groen Wolseley was ‘n blikvanger wat mens laat omkyk, kyk en stilstaan het. Ek wens ek kon ‘n foto van daardie skakering van groen opspoor. Nare name bestaan om die kleur van groen motors te beskryf, maar nie dié een nie. Die kopknik na die Britse rengroen, ‘n kenmerk van renbane van weleer, was duidelik, maar ligter, meer strelend om die ontspanne statigheid van die ontwerp te beklemtoon.

Wolseley 6/110 MK 1 & 2 van agter

Bo: Wolseley 6/110 (1966). Lekker ruim van binne



Regs: Wolseley 6/110 Mk 1 & 2. Baie luuks vir daardie jare

Die Austin Westminster Vanden Plas Princess, met ‘n Rolls Royce-masjien, was immers ‘n direkte bloedlyn. Onmiskenbaar verwant met die stempel van die gesogte, Italiaanse ontwerpershuis, Pininfarina. Ligjare verwyder van straatrenne, brullende uitlate, tollende wiele. Niks om te bewys nie. Reeds ewe tuis voor ‘n operahuis in Covent Garden as op die werf, waar die jakkalsjagters gereedstaan om hulle vurige hingste te bestyg. ‘n Chauffeur sou allermins onvanpas agter die stuur vertoon.

Kyk net hoe vindingryk improviseer Pininfarina op die Amerikaanse mode van dubbele kopligte. Die kenmerkende kolligte, van luukse Britse motors, van die gewone plek op die chroom buffers, geskuif na byna langs die enkel hoofligte. Beklemtoon steeds die kolligte, maar met ‘n oogknip vir die Amerikaanse mode.

Uit enige hoek beklemtoon die ontwerp – sierlike grootsheid in eenvoud.

Johan Wolmarans vertel my: Net voorspoed was dié sierlike Wolseley nie beskore nie.

In Kaapstad duik en skraap ‘n roekelose bestuurder die een kant van die motor. Oom Sakkie het die versekeringsmaatskappy eenvoudig driftig ingelig dat net Johan Wolmarans sy motor, op Montagu, met slegs nuwe onderdele, sal herstel. G’n kap, stop en plak aan dié Wolseley nie. Boonop was Johan se oog en vaardigheid met kleure meng reeds legendaries. Onthou, dit was jare voor kodes en rekenaar-vervaardigde resepte vir verfkleure meng.

So gesê, so gedaan. Johan gaan haal die twee nuwe deure op Montagu se stasie en begin pas. Die agterdeur gly in en sou in die fabriek nie beter en netjieser kon pas nie.

Die voordeur het hom laat dink aan Humpty Dumpty se lot nadat hy van die muur afgevoeter het: “All the king’s horses and all the king’s men… couldn’t put Humpty Dumpty together again!”

Al sy opleiding en ervaring was skielik net nie genoeg om die deur se halsstarrigheid hok te slaan nie. Uitasem, natgesweet, gedaan staan sy motor ‘n rukkie later voor die Montagu Hotel. Twee dubbele brandewyne later pak hy dié onwillige deur met sy rubberhamer. Net een goedgemikte hou en die deur sit soos hy gemaak en bedoel is.

Kort daarna was die Wolseley, soos voor die ongeluk – net soos versekerings-maatskappye belowe wanneer hulle ‘n duur polis wil verkoop.

Christa (de Jager): Jitte, ou Paul, dit lees só lekker in jou geselstrant, dit voel of ek uit ‘n motortydskrif lees!

OOM DIRK VAN EEDEN EN DIE POLITOERBLIK

So vertel Elsabé (van Eeden) dat hulle altyd ‘n MIN-politoerblik vol water agter die voorste sitplek saamgery het omdat haar pa, oom Dirk, se motor so dikwels gekook het:

Elsabé (van Eeden): Ek het nie foto’s nie, maar toe ek my verstand gekry het, het my pa so ’n maroen kar gehad. Hy het nog speekwiele gehad. Sy naam was Blikkies, want ons het altyd ’n MIN-politoerblik in die kar gehad – die radiator het gelek. Ons moes dus elke keer water ingooi wanneer ons êrens stilgehou het.

Later het hy ’n Hillman gehad, so ’n regop karretjie. Ek was seker nog in st. 2 toe my pa een dag by oom De Jaar se winkel was om iets te koop. Toe hy omdraai om weer huis toe te ry, het die deur aan my kant van die kar oopgegaan omdat ek dit nie behoorlik toegemaak het nie. My pa het so groot geskrik dat hy my sommer net daar ’n pak slae gegee het.

Daarna het hy ‘n 2-seater Plymouth of so iets gehad. Hy het toe agter die voorste sitplekke nog ‘n sitplek ingesit – hoe kan ek nie meer onthou nie.

PIET VAN DEVENTER SE FORDJIE

Danie Nel: ‘n Ander hoogtepunt was toe Piet van Deventer ‘n V8-bakkie/kar wat op hulle plaas gestaan het, se enjin oopgemaak het, reggemaak het wat verkeerd was en so met hom by die skool opgedaag het!

As ek reg onthou, moes Piet op ‘n vol sak meel sit om deur die stuurwiel se speke in die pad te kon sien! Ek dink Piet se grootste probleem met die voertuig was om petrol vir die V8 by oom Boeta in die hande te kry, sonder dat sy pa daarvan weet!

Piet, vertel bietjie van die ryding, wat dit was en wat jy aan hom gedoen het en hoe hy geloop het, asseblief!

Piet van Deventer: Dit was ‘n Ford 1934 V8-tweedeur coupe met speekwiele. 

Ek het by ‘n Bruwer-oom gekry. Ek moes hom 150 Bulida-appelkoosbome gee vir die motor, wat ek by my pa in die kwekery gegaps het. Ek was seker so st. 4 of 5. Motor se enjin was gedaan.

Awie Swanepoel en ek het op ‘n Vrydagmiddag begin om die enjin oor te doen. Parte alles gekry. Gerrie Kriel het ‘n bietjie gehelp met finansies vir die parte. Ook baie parte by oom Dirk van Eeden op die hoogte gekry waar ‘n ou Ford-motor onder die bloekombome gestaan het. Ons het deur die nag gewerk en die volgende oggend tienuur toe start hy. 

Dit was ’n wonderlike gevoel om ná die nag se werk die enjin so mooi te hoor loop. Ou Awie het natuurlik dadelik ’n sigaret opgesteek. Hy het Texan Plain gerook. Net gou, ná ’n paar esse op die koringland, was die petrol wat ons by Ina-hulle se winkel gekoop het, gedaan. Die enigste opsie wat oor was, was kragparaffien by die plaastenk.

Elsabé van Eeden: Hierdie is die geraamte van die Fordjie wat by ons op die Hoogte gestaan het waar Piet sy parte gekry het.
My man, Flip le Roux, het daardie Fordjie in 1962 by ‘n kollega van hom in die Kaap gekoop vir R15 en hom nog bestuur tot op Rietvlei.

Die enjin moes net warm loop op petrol, dan maak ons hom vol met kragparaffien. Sestien gelling, byna ‘n dag se aanmekaar ry, want die tenk moes leeg. Dit het baie rof gegaan. Fordjie het hom baie goed gedra en darem nooit gerol nie. Ek het maar op ‘n stuk spons gesit vir ‘n bietjie hoogte. 

Ek het al van st. 1 af bestuur en het albei my broers geleer. Ek het probeer om my ma ook te leer, maar ek kon nie daarin slaag nie. Sy het in die bloekomboom voor die huis vasgery. Daarna het my pa my gestop om vir haar verdere lesse te gee. 

Die Fordjie se enjin het weer later probleme gegee en ek het hom toe maar in die bloekombos parkeer. My pa het dit later aan ‘n onderwyser op die dorp verkoop vir R150. Ek was toe in die Weermag en is so spyt daaroor. Ek het nog nooit weer so ‘n Ford op die ou motorskoue gesien nie.

Dolf Nel: Piet, baie dankie. Dis ‘n kosbare stuk geskiedenis en verduidelikend van die wonderlike tye waarin ons grootgeword het.

Piet Van Deventer: My Ford het nog meganiese remme gehad. Jy moes maar staan op die rempedaal as jy skielik wou stop.

As jy deur ‘n plas water moes ry en die remme was nat, was dit ‘n groot probleem. As daar ‘n hek in die pad was en jy moes stop… dan moes jy vas op die rempedaal trap. Dan het dit gevoel asof die Ford eers regtig spoed opgetel het. Gelukkig het ’n taaibos langs die pad sy ding gedoen. Die hek het heel gebly.

André la Grange: Vrydagmiddae, as oom Boeta en tannie Stienie dorp toe gaan vir inkopies, het hulle (dikwels vergesel deur my broer Kosie) met hierdie ou motor op oom Boeta se stoppellande gaan rondjaag – met die uitsluitlike oogmerk om so vinnig as moontlik te ry, soveel stof of modder as moontlik op te skop, draaie so skerp as moontlik te vat en die wiele soveel as moontlik te laat tol.

Dit was egter ‘n taamlike kuns om die ou Ford aan die gang te kry en weer tot stilstand te bring. Soos ek kan onthou, moes daar eers ongeveer ‘n koppie petrol in die vergasser gegooi word en sodra die enjin eers aan die gang is, word daar kragparaffien (Voco – wat uit oom Boeta se plaastenk geskollie is) in die tenk gegooi. Die enigste probleem was dan dat die motor nie weer sou aanskakel as daar nog Voco in die sisteem was nie. ‘n Mens moes dus aanhou ry totdat die tenk dolleeg was en die motor gaan staan het.


STORIES

Piet van Deventer: Ons het eendag met ‘n boot naby Witsand, waar die Breërivier in die see inloop, gaan visvang. Nie lank nie, of ek het gevoel dat ek ‘n yslike vis aan die hoek het!

“Haai, haai, mnr. Haai!
Dis my vis daai!”

Ek het seker maklik 30 minute met die kabeljou gespook. Net toe hy moeg gespook was en ek hom uiteindelik nader aan die boot wou kry, kom ‘n haai soos blits – en daar gaan hy met die grootste gedeelte van my vis!

Hierdie was ‘n baie groot vis. Die stuk onderkant die kop alleen het, nadat ek dit klaar in blokkies gesny het, 4 kg geweeg. Ek skat die hele vis kon maklik 36 kg geweeg het.

Wat ‘n groot teleurstelling, maar ook ‘n ervaring soos min. Daar is baie groot haaie in die mond van die Breërivier. Vis is al tot 30 km rivier-op deur haaie afgevat.

Lidia (van Deventer): Dit was nou lekker om te lees. Groot vangs. Piet, jy is sowaar die eerste van Rietvlei se Van Deventers van wie ek hoor wat dit op die see waag. Dis beslis ‘n foto en ware storie vir die geskiedenisboeke.

JUFFROU ARANGIES EN DIE SLANG

Danie Nel: Dit is ‘n ou storietjie wat my pa altyd vir ons vertel het en ek onthou dit nou nog.

Van die eerste juffrouens wat die ou laerskooltjie gehad het, was glo ou Miss Arangies. Volgens Pa was sy so lelik soos die nag en so befoeterd soos die duiwel self!

Soos ons te goed onthou, staan die ou skooltjie daar langs die netbalbaan en die ou ringmure so ‘n entjie verder. Dan onder na die rivier se kant toe was daar die twee kleinhuisies. Die linkerkantse een die seuns s’n en die regterkantse een die meisies s’n.

Of dit in ons tyd ’n long drop of ’n emmerstelsel was, kan ek nie lekker onthou nie, maar in Miss Arangies se tyd was dit glo die slootstelsel. Dit het so gewerk dat die plank met die gat waarop die gebruiker moes sit, oor die watersloot gehang het. Dan, ongeveer een keer ’n week, as die droogte nie te erg was nie, is daar met water deur die sloot gelei. Dan het die water sommer alles weggevat.

Nou ja, so het ’n paar van die seuns eendag besluit om Miss Arangies te laat skrik. Hulle het haar, terwyl sy die toilet gebruik, slootlangs bekruip. Die dapperste onder hulle het toe met ’n lang spaansriet, met ’n pendoring aan die punt, in die sloot ingegaan.

In die proses moes almal baie versigtig wees sodat Miss Arangies niks hoor nie. Hulle het ongeveer tien minute gewag sodat sy kon ontspan voordat hulle nader beweeg het. Hulle het die laaste paar tree nader gekruip om binne trefafstand te kom. Met groot konsentrasie is die spaansriet dan versigtig ingeskuif, met die pendoring se punt na bo gerig.

Dan – so vinnig en skielik as moontlik – is die spaansriet opgestoot.

Pa vertel vir die waarheid dat Miss Arangies glo met haar broek op haar knieë by die skooltjie ingebars en gegil het: “’n Slang het my gepik, ’n slang het my gepik!”

Of sy ooit die ware storie agtergekom het en of die belhamels ooit vir hulle kattekwaad betaal het, weet ons tot vandag toe nie. Ons het altyd so lekker gelag nadat Pa die storie vertel het dat ons nooit daaraan gedink het om hom te vra wat die einde van die storie was nie. Pa is ook al ’n klompie jare terug oorlede, en nou kan ons hom nie meer vra nie – en sal ons ook nooit weet nie!

Verskoon tog as ek die storie verkeerd vertel het, maar dit is soos ek dit van Pa gehoor het. Dolf sal dit beaam.

JUF. ROSIE EN DIE STRYDWA

(Hierdie storie is neergeskryf net soos Danie dit kort voor sy dood vertel het – in sy eie woorde en humor. Dit is ’n stukkie van sy stem en herinneringe. Of alles waar is – wel, daarvoor kan ons nie instaan nie!)

Danie Nel: Dit laat my ver terugdink aan 1958 se tyd toe ek en Dolf sub A toe is.

Daar is baie gebeure uit daardie skooljare wat as ’n storie geskryf kan word wat vandag se kinders, wat met “teblets” in plaas van met griffels werk, nie maklik sal kan verstaan of selfs glo nie!

Juffrou Rosie Groenewald was daardie tyd die skoolhoof en enigste onderwyser wat daardie twaalf kaalvoetplaaskinders moes probeer leer skryf en lees en effe meer mens maak!

Al was sy ‘n baie kwaai juffrou (veral as sy jou so oor haar brilraam aangluur), het sy ‘n besonderse manier gehad om binne-in die kinders se harte te kon inkruip waar sy vandag nog is. 

In daardie tyd – ons was so om en by st. 3 – het daar in die dorp ’n film by die Venus gedraai met die naam Ben Hur, of iets dergeliks. In die film het Ben Hur en Messala, wat aartsvyande was, mekaar met strydwaens in die arena gejaag – al in die rondte, tot die dood toe!

Dit was natuurlik toe ’n groot geselspunt wat kwaai in die skool bespreek is. Juffrou Rosie moes die storie van Ben Hur en Messala, wat ons tot vervelens toe oorvertel het, aanhoor – met al die sterte en byvoeglike naamwoorde moontlik. Van dié woorde kan vandag nog nie in ’n woordeboek gevind word nie!

Ou Piet van Deventer, die mees skeppende en praktiese kind in die skool, het toe met ’n voorstel vorendag gekom:

“Juffrou, hoekom kan ons nie ons eie strydwa bou en resies jaag nie?”

“Hoe meen jy nou?” het sy uitgevra.

“Ek het ’n plan,” het Piet vinnig geantwoord, met ’n ligte glimlag op sy stout st. 3-sproetgesig.

Juffrou het haar bril – wat net een oor gehad het en met pleister vasgeplak was – afgehaal en opgekyk. Sonder om te wag, het Piet sy plan verduidelik: Op hulle plaas lê ’n ou stel skottels van ’n twaalfskottel Shearer-ploeg wat oom Boeta, sy pa, die vorige jaar afgehaal het. Hy sou een van die skottels die volgende dag skool toe bring.

Ek en my tweelingbroer, Dolf, moes intussen ’n stuk bloudraad in ons pa se gereedskapkamer gaan gaps – ongeveer so lank soos twee netbalpale. Voor die skool was daar ’n netbalbaan waar ons alles gespeel het: Netbal, sywurms getel het, Bok in die hok, albaster, kennetjie en tolgooi. (Dit was te oop vir skelmrook – dit moes agter die kleinhuisie gebeur.)

Maar nou ja, ek dwaal af.

Die plan was om die bloudraad aan die skottel vas te maak, en juffrou Rosie sou dan daarop sit – nes Ben Hur op sy strydwa.

Omdat Juffrou nogal groot en gewigtig was, moes ons die bloudraad dubbel vat, sodat dit nie breek wanneer ons haar sou sleep nie. Ons het ook drie droppers nodig gehad om in die bloudraad in te bind vir die kinders wat moes trek. Langs die skool was die kraal waar Rietvlei se vier koeie elke oggend en aand gemelk is. Die kraalhek was ’n draadhek met ses droppers in. Ons het besluit om sommer vier daarvan te gebruik. Ons het maar gehoop ou Piet, die melker, kon nie tel nie!

Die volgende dag het toe aangebreek. Piet het die skottel gebring, ek en Dolf die bloudraad. Dit was maklik genoeg om die droppers los te maak. Piet het selfs ’n draadtang saamgebring wat hy uit sy pa se toolboks geleen het.

So is die strydwa gebou. Juffrou het gesê ons kan dit die volgende dag toets. Sy het iets gemompel van die regte skirt aantrek – “nader aan die knieë” – maar ons het dit nie mooi verstaan nie. Dalk ’n meisieding waarvan ons niks weet nie.

Die volgende oggend, toe oom Matewis vir juffrou Rosie met sy groen bakkie by die Rondekraal aflaai, was ons gereed.

Juffrou het gesê die Ben Hur-storie moet eers wag tot die liggaamsoefeningklas. Eers skoolbegin. Godsdiens. En toe wag.

Tussen die klasse deur het die meisies ook planne beraam oor wie waar ingespan sou word. Hulle het gedink ons is vreeslik sterk!

Ek en Dolf het voor gevat. Piet van Deventer net agter my en Gerrie Kriel, wie se pa die slaghuis op die dorp gehad het, langs hom. Agter hulle was dit moeilik – Paultjie, nog jonk en nie veel werd nie, moes maar vat, met Jurie Lombard langs hom. So was ons ses karperde gereed.

Juffrou moes toe op die skottel gaan sit – plat op die grond, hande aan die bloudraad vas, voete in die lug sodat haar haai-pol-faai-skoene nie sleep nie.

Met die eerste wegtrek, het ons dadelik besef: Juffrou is swaarder as wat ons gedink het. Ina, wat slim was, het gesê sy dink Juffrou weeg omtrent 200 pond – so swaar soos ’n sak heelmielies by hulle winkel. Ons was toe te lig in die broek en moes hulp kry. Rina Trasforini en Johrina Jordaan moes toe agter bydruk.

Daar moes nog ghries aan die ploegskottel gesmeer word. Juffrou moes weer opstaan sodat ons dit onder kon smeer. Sy het selfs voorgestel dat ons blouseep by die wasbak gaan haal – dit sou lekker gly.

Ons was huiwerig, want dis dieselfde blouseep waarmee sy ons monde gesmeer het as ons lelike woorde gesê het. Maar die hele stuk is toe onder die skottel gesmeer.

Juffrou het weer gaan sit – met gesteun en gekreun. Toe ons wegtrek, het ek ’n ligte windjie gelos. Niemand het dit gehoor nie, maar skielik het almal harder getrek en die strydwa het met ’n gekners begin beweeg.

By die watertenk was ons al op spoed. Die hele skool – en my hond – het saamgehardloop en aangemoedig soos ’n klomp vinke wat ’n slang sien.

Voor die skool het Juffrou iets hard en lelik geskree. Ons het geweet: Stop! Die strydwa het in ’n stofwolk tot stilstand gekom. Juffrou het soos ’n padda uitgesukkel en geskree haar agterent brand! Die ghries en blouseep het die skottel te warm gemaak. ’n Voetmatjie is toe op die skottel gesit.

Die tweede rondte om die netbalbaan was volspoed. Die derde keer het Dolf die draai dalk te wyd gevat – of ons het die spoed onderskat. Die skottel het begin broadside oor die nabankklip. Met ’n slag is Juffrou sykant teen die netbalpaal vas – so hard dat die ring bo-aan so ’n singgeluid gemaak het. Sy was van die skottel af, het gerol en getol en onder die kinders beland.

Toe was dit stil. Die stof het gaan lê. Juffrou het opgestaan – gebukkend, krom en asvaal. Sy het geskree, maar haar esse het “tsjj” geklink. Met die val het sy haar boonste valstande verloor en middeldeur gebreek.

Wat die res van die dag gebeur het, onthou niemand nie. Maar daardie dag sal ons nooit vergeet nie.

Vandag se kinders met hul “teblits” sal dit waarskynlik nie glo nie – maar dit het regtig gebeur.

DIE TWEEDE KANS

Johan Nel: By gebrek aan ’n predikant of sendeling het ou Jamboe dikwels waargeneem as prediker by begrafnisse en ander kerkdienste. Rietvlei is sowat twaalf kilometer van Montagu af, en per fiets kon die Vader van die Engelse Kerk dit nie altyd maak nie –veral nie in slegte weer nie. Die preke was heel prakties van aard en het meestal gehandel oor die Tien Gebooie en wat jou sou tref as jy van die pad afwyk.

Hierdie storie gaan egter meer oor een van die gemeentelede.

Kommer Soldaat kon nie lees of skryf nie en die fiets wat hy gehad het, was òf stukkend òf deur die kinders uitgeleen. As hierdie beperkings nie in sy lewe was nie, kon hy joernalis van die eeu gewees het. Hy was ’n klein mannetjie met ’n stout gesiggie en twee ondeunde oë wat niks miskyk nie.

Hy kon in volle besonderhede verslag doen oor alles en almal wat hy waargeneem het. Waar die besonderhede effens vaal was, het hy die waarheid ’n bietjie aangehelp om kleur aan die storie te verleen. Waar daar ’n totale gebrek aan feite was, het hy dit skaamteloos gefabriseer en ’n storie daargestel wat gewoonlik die hoorders laat kraai het van die lekkerte.

Hy kon enige span werkers se dag kortmaak met sy stories, en so is menige swaar dag op die plaas omskep in ’n dag van lekker luister, lag en gekskeer. Van ver kon jy hoor: “Ja, oom Kompies,” of “Nee, oom Kompies,” afhangende van wat nou weer beaam moes word – of nie.

Kort daarna het daar gewoonlik ’n paar tergerige vrae uit die gehoor gekom, gevolg deur bulderende gelag. Só is werk soos bankies skoffel, gate maak of snoei omskep van swaar tot lekker.

Een dag was hy weer besig met die storie van die lusernsnyery. Dit was ’n ou stuk met nuwe spelers. ’n Jong outjie met die naam Klonkies, wat pas op die plaas aangekom het, het niksvermoedend die hoofrol gekry. Die ander manne het dadelik geweet hoekom dié eer hom te beurt geval het: sy groot mond en besonder dik lippe.

Die storie eindig altyd waar die hoofkarakter bo van die vrag lusern af val en dan op sy tuitbek land, met sy voete reg in die lug. Hierdie storie werk net as die regte ou die hoofrol kry, want dan kan hy vir dae daarna nog geterg word. “He must look the part,” soos die Engelse sou sê.

Skielik stop Kommer die storie morsdood, halfpad deur ’n sin. Sy oog het iets gevang wat hom nader aan die hart lê as selfs ’n bottel wyn.

Vir ’n man met jeukende voete en ’n stukkende fiets is een van die wonderlikste dinge in die wêreld om saam te ry na ver plekke. In die voetpaadjie af kom Adam, die vragmotorbestuurder, aangestap. Dit beteken dalk daar moet iets op ’n ver plek afgelewer word. Dit beteken ook dalk dat een of twee helpers moet saamgaan.

Dit gee hom ’n kans van een uit dertig om dalk ’n helper te wees. Sy oë suig vas aan dié van Adam soos ’n hittesoekende missiel wat op sy doelwit afpyl.

“En hoe laat ry ons?” Adam skud net sy kop. “Ja, oom Kompies, jy en Hans kan maar saamgaan. Ons gaan laai hoenders af in die Kaap en ons ry môre-oggend vyfuur. Gaan maar huis toe dat julle kan uitrus.”

Daardie nag slaap Kommer voor in die vragmotor – te bang hy verslaap.

Twee dae later is hy terug tussen die span in die wingerd. Breedvoerig word alles vertel wat hy gesien het.

Die storie begin by die twee bakoorjakkalsies wat hulle nog in die donker op die plaaspad gekry het; die vryersklong op sy baisiekel net duskant Derdeheuwel; die KWV se dammetjies wat al weer leeg staan; die bobbejane in die kloof wat lyk soos ’n span padwerkers.

En so gaan dit aan, tot hulle vir brekfis by die kalkfabriek anderkant Robertson stop. Alles word beaam met ’n “Ja, oom Kompies” of “Nee, oom Kompies”, afhangende van watter wending die storie neem.

Na brekfis ry hulle deur Worcester, waar die wind gemaak word, tot bo-op Du Toits-kloof. Van daar af kon hulle oor die Kaap kyk, tot in Engeland. Hy kon selfs sweer Queen Lisbit het vir hulle gewaai.

Van die Paarl af was daar ’n duwwelpad waar die karre tien diep langs mekaar loop. So het hulle gevorder tot in Maitland, waar die hoenders by ’n Joodse slagtery afgelaai is. Daar moes hulle Ingils praat, want die mense verstaan glo niks anders nie.

Hy – wat Kommer is – moes toe maar al die praatwerk doen, want Adam en Hans staan mos met hulle bekke vol tande. Hy moes toe sommer ook die pampiere teken.

Net mooi twaalfuur was hulle klaar, toe stop hulle by Maitland se slagpale om te eet. Daar sien hulle hoe rye skape, bokke, beeste en varke geslag word. Die “ja, oom Kompies” raak effens te sag na sy sin, en hy skakel oor na ’n ander rat om die storie lyf te gee.

“Maar toe sien ons ’n masjien wat wors maak.” Die reaksie is nog nie na wense nie.

“Hulle jaag die beeste en varke eenkant in – en dan kom die wors anderkant uit.”

Toe die gehoor maar weer floutjies reageer, breek iets in die baasverteller. Soos Simson van ouds span hy sy laaste kragte in.

“Maar as die wors nie goed is nie, gooi hulle dit terug in die masjien – en die beeste en varke kom weer anderkant uit.”

Dit mag wees dat hulle nooit by Maitland se slagpale gestop het vir middagete nie, maar eerder oorkant die verassingseenheid van Maitland se begraafplaas. Dit mag ook wees dat die inspirasie vir die storie gekom het uit een van ou Jamboe se donder-en-swael-preke teen die sonde, waar die bokke pal van die skape geskei word en die tonge vuur jou naderwink.

Dit klink ook moontlik dat Kommer al gewonder het of ’n mens darem nog ’n tweede kans sal kry as jy per ongeluk in die warmplek opeindig.

Wie sal ooit weet?

TANNIE LIZZIE EN KINDERS SE NARE ONDERVINDING

Lidia (van Deventer): Wie onthou vir Absalon wat so ‘n skrikbewind in Rietvlei gevoer het? 

My ma en ons vyf jongste kinders was alleen tuis. Kierie was in Oakdale in die koshuis. Een nag het my ma ons almal wakker gemaak en ons almal na een slaapkamer geneem. “Daar is ‘n inbreker in die huis,” het Mamma gefluister. Heelnag het ons hom in die huis hoor beweeg en hy het probeer om in ons kamer in te kom. Ons was so bang…

Marie het die gordynstok afgehaal om as ‘n wapen te gebruik, en my ma het die sleutel styf vasgedruk sodat die inbreker nie die deur kon oopkry nie. Ons het later gehoor hoe hy op my ma se bed in die kamer langsaan gaan lê. Ons twee kamervensters was redelik hoog en my ma wou eers wag dat dit lig word voordat ons kon vlug. Want ons het nie geweet wie dalk nog buite wag nie. 

Vroegoggend, toe die son opkom, het ons die inbreker hoor snork en Marie het by venster uitgespring en my ma het ons ander vir haar aangegee. Ons het na oupa Gert se huis gehardloop. 

Die Polisie het kom soek, maar die inbreker was weg. Hy het vir ‘n week in die berg weggekruip. Ná ’n week het oom Boeta se werkers een nag vir hom kom sê Absalon is in een van hul huise… hy soek kos. Die oom het die Polisie gebel en hy is gevang. Ek onthou my ma moes in Caledon in die hof gaan getuig. 

Ek was my lewe lank verskriklik bang – soos in baie erg. In vandag se tyd sou dit seker in ‘n plaasaanval ontaard het. Dalk was hierdie gebeurtenis die oorsaak vir my bangheid.

Piet van Deventer: Ek onthou dit goed, Lidia. Jou ma het lank nog met ‘n merk aan haar vinger geloop.

Suzette (de Jager): Ek kan dit ook nog onthou, Lidia. Dit en mnr. Marais se verloofde wat ook een aand aangeval is toe sy laataand alleen by haar woonplek/woonstel aangekom het.

MONTAGU SE PIENK POLISIEWA

Ina (de Jager): Daar was soms inbrake in die winkel, asook ander misdade in Rietvlei. Daar was veral één kwaaddoener, Sietais, wat gereeld moeilikheid gemaak en onder andere ook by die winkel ingebreek het. 

Een dag het twee van die werkers, Killien en Kapat wat agter oom Willem Stemmet se dammetjie gewoon het, hom in die koppe gewaar en die boere het die Polisie gehelp om hom daar te omsingel.

Wie van julle kan nog vir Sietais onthou?

Piet van Deventer: Ja, dit was Afrika se kind. Afrika het jare by ons gewerk. Sy ma het hom vreeslik bederf. Hy was van kleins af ondeund.

Ina (de Jager): Dis hier waar my storie oor die pienk Polisievangwa inkom:

“Ek wonder sommer wie van julle Montagu se PIENK Polisievangwa kan onthou?” het ek eendag op Montagu se Facebook-blad gevra en dit het heelwat besprekings uitgelok. 

Maar ja, ek was verlig dat my brein my nie parte gespeel het nie en dat daar WEL so ‘n pienk vangwa was. (Die bruinmense het van die NYLON gepraat). Die storie is toe in die Montagustories no. 117 bewaar (waar hierdie geselsies oor die skooltjie, winkeltjie en ons herinneringe ook vervat gaan word).

Paul Fouché: O ja, ek onthou dié vangwa baie goed, veral toe ek dit die eerste keer, nog blinknuut, gesien het! 

Ons het nog op die plaas gewoon en was gewoond aan die ou vaal Chev-paneelwa. Ek kan nie meer onthou of dit van die bekende 1941 tot 1948 Chevrolet-paneelwaens was of ‘n 1949-model nie. Letterlik ‘n toegeboude driekwartton Chev-bakkie met geen kantvensters aan die vragkant nie. 

Dié Chevs, vragmotors en bakkies, was gewoonlik bruin of groen. Pa het ‘n bruin 1941 tonbakkie met ‘n houtbak en valkante gehad. My eerste gewaarwording van ‘n voertuig. Destyds het verf maar gou verbleik en politoer was vreemd vir ‘n werkesel. Die plaaswerkers het bruin en grys voertuie as vaal beskryf. Dis seker die stof van die plaaspaaie wat die swart vangwa vaal laat lyk het. 

Dink nou net hoe asemrowend vreemd en mooi dié blinknuwe vangwa was! ‘n Pienk 1957 Chevrolet-paneelwa met die kenmerkende halfmaan-agterligte in die breë chroomomhulsel van die begeerlike sedan. Die voorkant sou slegs ‘n kenner van die sedan kon onderskei, die paneelbord was dieselfde en ook die vindingryke brandstofvuldeksel in die chroomstrook van die agterligvin. ‘n Gedeelte van die chroom het oopgeklap om die vulprop te ontbloot. 

Willie Rossouw het my nog aan dié wonderwerk bekendgestel toe eerwaarde Rossouw met ‘n splinternuwe 1957 Chevrolet-sedan op die plaas opgedaag het. Die 1957 Cheverolet Bel Air was van die motorikone ten tye van “The great American dream” – net soos die 1956 Ford Thunderbird. 

Maandagoggende het juffrou Muller se kêrel haar met so ‘n chroombelaaide wit en geel linkerhandstuur Bel Air voor die laerskool in Piet Retiefstraat afgelaai. Ek en my ou maat, Joepie Conradie van Krakedouw, kon ons verkyk en verluister aan dié asemdief op wiele. Die diep, gedempte geroggel van ‘n rasegte Amerikaanse V8 is steeds musiek in my ore. 

Dink nou net hoe treffend en ontsagwekkend was dié pienk vangwa vir ‘n ieder en ‘n elk! Wel beskeie gereken teen die Bel Air, maar die afkoms en stamboom was genoeg om die reguitsessilinder en starre binneruim te verskoon. Dié pienk Chev het jare lank getrou gepatroleer en ingegryp voor die herkenbare bakkies met al die kentekens oorgeneem het. Kentekens was onnodig op die pienk, onmiskenbare vangwa. 

(Lees gerus meer oor die verkeerskonstabels, ambulanse en ander voertuie uit daardie era by Montagustories no. 117).


Mooi ingangsmuur by Rietvlei. Adri sê iemand wat by hulle gewerk het, was baie kunstig en het die muur so mooi geverf.

RIETVLEI LEEF VOORT

Wanneer ’n mens terugkyk na al hierdie herinneringe, besef jy dat Rietvlei nooit net ’n plek was nie. Dit was mense. Stemme. Handdrukke. Kinderlag. Die geur van gebrande koffie, stofpaaie onder kaalvoete en die gevoel van behoort.

Vir baie jare het dit gelyk asof hierdie stories net in ons koppe en harte sou bly leef. Dat dit saam met ons ouer sou word en stadig sou vervaag. Maar deur elkeen se bydrae, elke staaltjie, elke herinnering wat gedeel is, het iets besonders gebeur: Rietvlei het weer begin praat.

Hierdie stories is nie geskryf om alles vas te vang of om geskiedenis te verklaar nie. Dit is bloot ’n versameling herinneringe – elkeen anders, elkeen eg. Sommige laat ’n mens glimlag, ander bring ’n knop in die keel. Saam vorm hulle ‘n beeld van daardie tyd en die mense wat daar was. Dis iets wat ons nie wil laat verdwyn nie. Saam wys hulle ’n bietjie van daardie tyd en van die mense wat deel daarvan was. Dis ’n herinnering wat ons wil behou.

Dat die ou skooltjie vandag ’n nuwe lewe kry, voel gepas. Dit was nog nooit net ’n gebou nie. Dit was ’n plek waar kinders gevorm is, waar drome begin het. Nou, so pragtig gerestoureer, dra dit weer belofte – nie meer van skooldae nie, maar van nuwe beginne. Só word die verlede nie toegesluit nie, maar ingedra na die toekoms.

Ons is dankbaar dat ons hierdie herinneringe met julle kon deel. Dankie dat julle die stories gelees het – ons hoop dit was vir julle net so aangenaam as wat dit vir ons was om dit te onthou.

Vriendelike Rietvlei-groete,

Ina en span.

image_pdfDOWNLOAD PDF