156.Deel Een van Vier: Rietvlei No.1
Saamgestel deur Ina van Wyk (née De Jager), met kosbare bydraes van haar span mede-Rietvleiers.
April 2026
Rudi. Allmayer: ‘n Geskiedenisverhaal op sy beste soos vertel deur die gemeenskap wat daar gewoon het
A. INLEIDING
Langs die pragtige Langeberge, met hul diep klowe, voue en wisselende kleure, lê ’n besondere omgewing wat vir ons almal wat daar grootgeword het, na aan die hart lê en vir altyd ons eerste tuiste sal bly: Rietvlei No. 1.
Sowat tien kilometer en verder vanaf Montagu, op die R62 in die rigting van Barrydale, lê hierdie stukkie aarde met sy eie karakter, stories en mense, en ’n gemeenskap soos min.
Die naam Rietvlei kan moontlik afgelei wees van die Rietvleispruit (soos dit ook op die topografiese kaart van 2023 aangedui word) wat tussen die plaas Octavia en die Rietvlei-winkel (van vroeër) deurvloei. Dalk kom die naam van die vallei rondom die riviertjie, want oral in dokumente en kaarte word die skool aangeteken as Rietvallei No. 1.
In ons kinderdae het hierdie spruit selde geloop, maar wanneer dit wél gebeur het, was dit ’n gebeurtenis op sigself.
Christa (de Jager) kan nog onthou hoe daardie riviertjie vir ’n dag of twee bruisend ná goeie winterreën geloop het. Die boere kon dan nie werk nie en het met, dik army-jasse aan, vir geselskap winkel toe gekom. Dan het ons ma (Daisy de Jager) en tannie Hannah (van Eeden), en later Johanna (Stemmet), wat in die winkel gewerk het, in sulke weer pannekoek op die primusstofie gebak, baie gesellig!
Dit was die hart van Rietvlei: Die plaasskool, die plaaswinkel en die slaghuis, drie plekke waar mense mekaar ontmoet het, saamgelag het en waar herinneringe vir ’n leeftyd gesmee is.
Hierdie is die verhaal van ons grootwordjare op Rietvlei No. 1: Van die skool, die winkel en slaghuis, en die hegte gemeenskap van daardie onvergeetlike tyd. Baie dinge het intussen verander, maar net soveel het dieselfde gebly.
Ons moet onthou: Dit wás ander tye as nou. Dit was net ná die Tweede Wêreldoorlog: Baie mense was arm. Die plasies was klein en dikwels onderverdeel sodat die seuns ook ’n stukkie grond kon kry. Min mense het elektrisiteit gehad, en selfs spoeltoilette was nog ’n nuutjie. Dit was lank voor televisie; die radio was nog kortgolf en vir baie ’n nuwigheid. Skoolbusse was min, supermarkte en selfhelpwinkels het nog nie bestaan nie, en inkopies was amper ’n “outing” – beslis nie gejaagd nie.
Mense het teen ’n stadiger pas geleef. Daar was tyd om by die winkel stil te staan en te gesels, tyd vir ’n koppie koffie, tyd om te hoor hoe dit met mekaar gaan. Dit was ’n eenvoudiger lewe, met minder geriewe, maar dikwels met hegter menseverhoudings.
Vir hierdie storie is die grense effens verskuif om die wyer gemeenskap in te sluit. Die rede hiervoor is: Kinders van omliggende plase het by Rietvlei skoolgegaan, die mense van die hele omgewing het die kerkbasaars en -dienste by die skool bygewoon en by die winkel en slaghuis gekoop, sodat die gemeenskap wyer as net Rietvlei gestrek het.
Hierdie verhale weerspieël herinneringe uit ’n vervloë tydperk. Woorde en gebruike wat vandag as verouderd of sensitief beskou kan word, word in hul historiese konteks weergegee, soos dit destyds algemeen gebruik is.
Ons begin by die begin met Deel Een, wat meer vertel oor die gemeenskap van Rietvlei en omstreke. Daar is ‘n paar staaltjies en foto’s van mense uit ons grootwordjare en vroëer. (Nuwe staaltjies en foto’s, ook van latere jare se inwoners, is steeds welkom!)
Deel Twee handel oor Rietvlei se winkel en slaghuis – asook die De Jagers se winkeltjie op Talana – soos vertel deur my neef, Danro Swanepoel, asook herinneringe uit my en my twee susters, Christa en Suzette – en ‘n paar ander – se grootwordjare op Rietvlei.
Deel Drie handel oor die geskiedenis van die skool, die onderwysers en herinneringe soos verwoord in die WhatsApp-boodskappe van ’n paar oudleerlinge.
Deel Vier Lees veral die volledige skryfstukke van drie van die La Granges wat op Octavia grootgeword het, herinneringe van Dolf Nel, Lidia (van Deventer), Piet van Deventer, Elsabé (van Eeden) en nog ander. Dan volg ‘n klomp stories: Paul Fouché se storie oor Montagu se PIENK Polisievangwa, Danie Nel se snaakse vertellings, en ander. (Danie is ongelukkig oorlede terwyl ons klomp Rietvleiers so lekker op WhatsApp gesels het).
Mag hierdie herinneringe iets vasvang van hoe dit in ons grootwordjare was: ’n Poging om iets van daardie tyd te bewaar.
Dit is besonders om te besef dat daar vir byna ’n eeu lank ’n skool op Rietvlei No. 1 was – van ongeveer 1864 tot 1967. Net so merkwaardig is dit dat die winkel wat oom Willem Stemmet (“Willem Duitser”) in 1910 in ’n vertrek van sy huis begin het, vir meer as honderd jaar deel van mense se daaglikse lewens was en eers omstreeks 2015 sy deure gesluit het. Ook is dit interessant om te hoor dat daar vroeg in die neëntiende eeu ‘n glasblaser op Rietvlei werksaam was!
Hierdie Montagu-storie is die resultaat van ’n groep oudleerlinge wat mekaar ná baie jare weer met vreugde herontdek het en toe heerlik, meestal per WhatsApps, begin gesels het. Die ouderdomme wissel van 68 tot 85. Verskoon dus as daar hier en daar herhalings voorkom, of as ons soms ’n bietjie omslagtig rondom ’n storie borduur? Onthou – ons is oud. (Haha!) Sover moontlik, is elkeen se eie woorde net liggies geskaaf en gesorteer, en daarna gebruik.
Daarom is hierdie nie één persoon se storie nie, maar ’n gesamentlike verhaal – saamgestel uit ons almal se herinneringe, woorde en geselsies. Die stories is soms liggies gerangskik en aangepas, maar sonder om aan iemand se stem of herinneringe te verander.
Deur die jare was daar baie mense wat op Rietvlei gewoon, gewerk en skoolgegaan het. Mense met verskeie vanne het reeds van die vroegste jare af daar gewoon. Van die oudste vanne is onder andere Stemmet, Van Eeden, Van Deventer, Lombard, La Grange en Nel. Daarom word daar afgeskop met húlle foto’s en stories.
Vir ons oud-Rietvleiers het hierdie reis terug in tyd baie beteken. Dit was ’n terugstap na ons mense toe, na wie ons was en waar ons vandaan kom. En hopelik sal dit eendag ook vir ons kinders en kleinkinders iets beteken – al is dit net om te weet: Hier was ’n plek, en hier het dit saak gemaak.
Rietvlei leef voort. In stories. In herinneringe. En nou ook op papier en in elektroniese formaat.

Rietvlei No. 1: Afdraai na die plaasskool en die “Pluim” regs voor; dan links die plek waar die winkel en slaghuis was, met die plaas Octavia en die Langeberge in die agtergrond.
Foto Facebook
B. DIE OUDSTE FAMILIES
STEMMETS
DIE GLASBLASER VAN RIETVLEI
Hierdie inligting het ‘n mev. Baycoff in 1985 vir die Montagu-argief aangestuur. Sy vertel van die glasblaserfamilie van Rietvlei No. 1. Hieronder is die gegewens. (Die Stemmets is dus langer op Rietvlei as wat aanvanklik gedink is.)
Johannes Frederick Stemmet het in 1785 vanaf Amsterdam na die Kaap gekom en was die eerste glasblaser aan die Kaap. Johan Wilhelm Stemmet is in 1801 op Rietvlei gebore en was die sewende geslag. Die sand vir die glasblasery het hulle op die plaas Octavia, waar die La Granges later gewoon het, uitgehaal. Octavia was voorheen bekend as Nelsrus.

Johanna (Stemmet) onthou dat haar pa en oupa hulle vertel het van die Stemmet-man van Rietvlei No. 1 wat glas geblaas het.
André la Grange: Een deel van ons plaas Octavia, oor die bult aan die dorp se kant, was bekend as “SANDRIVIER”.
Ek wonder nou of dít die bron was van dié spesiale soort sand (met inhoud van ongeveer 95 – 99% silikondioksied) wat geskik was vir glasmaak op Rietvlei! Wat ‘n onthulling!
Baie dankie aan dié wat so pragtig en diep grawe!!
Die van “Stemmet” was dus vir meer as twee eeue van die bekendste vanne op Rietvlei No. 1. Johan Wilhelm Stemmet, bekend as “Willem Duitser” (wat die winkel begin het), se ouers was deel van die een Stemmet-familie, en Dawid Stemmet se ouers weer van ‘n ander.
Hulle was blykbaar nie familie van mekaar nie. Willem “Duitser” se dogter, Cielie, is met Dawid se seun, Willem, getroud en het al die jare regoor die winkel agter die bloekombome gewoon. By hulle het ook ‘n broer van Willie, Dawie, in ‘n kleiner huisie gewoon. Daar was nóg ander Stemmets ook: Die Rooigerte (hulle nageslag is Koos en Gawie in ons grootwordtyd) en die Ekkedies. (Stienie van Boeta van Deventer is een van hulle).
JOHAN WILHELM STEMMET

Hoe spesiaal: ‘n handgeskrewe stamboom!

Willem Stemmet (“Duitser”) en sy vrou (Christina Johanna)
Voor (v.l.n.r.): Willie* (2de oudste seun), pa Willem, Cecilia**, (jongste dogter), ma Johanna, Paul (oudste seun)
Agter: Jan (3de oudste seun), Gert (4de oudste seun) Hettie (oudste dogter), Christoffel (jongste seun), Jakobus (5de oudste seun).
* “Kleinwillie Duitser”, getroud met Johanna, onderwyseres by Rietvlei en Klipheuwel.
** Cecilia (Cielie, ons buurvrou oorkant die winkel) sit voor in die middel tussen
haar pa en ma.
Johan Willem (Wilhelm) Stemmet se seun is ook as Johan Wilhelm geregistreer. Hy was bekend as “Willem Duitser”. Volgens sy kleindogter, Johanna, het hy dié bynaam gekry omdat hy sulke groot hande gehad het.
Wyle Gert van Deventer het die winkel se begingeskiedenis soos volg opgeteken:
Johan Wilhelm se seun, ook Johan Wilhelm (bekend as “Duitser”), het die huis in 1898 van sy pa gehuur om daarin te woon, waarskynlik toe hy getrou het. In 1903 koop hy toe die huis by sy pa en begin in 1910 ’n winkel vanuit sy huis bedryf. Hy het die potensiaal raakgesien om juis op daardie plek ’n sakeonderneming te begin om die boere en hul werkers van diens te wees.
Hy het die plaaswinkel vir 32 jaar besit en bedryf en dit uiteindelik verkoop weens hoë ouderdom en/of gesondheidsredes.
DAWID STEMMET
Dawid Stemmet (Cielie se skoonouers) en sy gesin was weer van ‘n ander groep Stemmets. Beide Cielie en Willem se ouers was dus Stemmets van Rietvlei No. 1. Willem en Cielie se kinders is Johanna, Hermiena, Johan en Paul.


Dawid Stemmet en sy gesin. Willem sit voor links en Dawie staan tussen sy pa en ma. (Ander name nie bekend nie)
Na Dawid se eerste vrou, by wie hy vyf kinders gehad het, se dood is hy weer getroud. Een van die eerste vrou se kinders was Hettie (wat met oom Gert van Deventer getroud was: Kwart, Boeta, Mannie e.a. se ma).
Kinders by die eerste vrou was: Johan Stemmet, Malie* (getroude van Kriel), Hannie (getroude van Van Deventer), Liddie (getroud Neethling, Klipheuwel) en Hettie, soos reeds genoem.
By sy tweede vrou, Christina Johanna, het hy twaalf kinders gehad: Soes (Schonken), Dawie Stemmet, Enna (van Graan), Gert Stemmet, Kowa (van Deventer), Mien (Muller), Willem Stemmet, Rachie (van der Merwe), Kobus (oorlede as kind), Henna (Coetzer), Maggie (Potgieter) en Pietjie (Pretorius).
Twee van Dawid se seuns, Willem en Dawie, het hulle lewe lank op Rietvlei gewoon.
*Malie was Elsabé (van Eeden) se ouma en ook ‘n halfsuster van tannie Hettie, Gert van Deventer, se vrou.
CIELIE EN WILLEM STEMMET
(Willem Stemmet en Dawid Stemmet se dogter en seun)

Ina (de Jager): Tannie Cielie en oom Willem (links) het oorkant die nasionale pad – skuinsoor die winkel – gewoon, en was dus ons naaste bure. Oom Willem se oudste broer, Dawie, was nie getroud nie en het in ‘n klein huisie tussen die ou huis en die (latere) nuwe huis van oom Willie en tannie Cielie gewoon.
Tannie Cielie het die kwaaiste kalkoen gehad wat ons middae by die wasdammetjie langs die “skoolpad” ingewag het. Ons was sooo bang vir daardie kalkoen! Langs dié wasdammetjie was ‘n outydse rosie wat baie lekker geruik het.
Christa (de Jager): Ek onthou ook die outydse rankrosie by die was-dammetjie langs die pad. Dit was so ‘n klein, dubbele, pienk rosie.
In die hoek het ’n mispelboom met heerlike vruggies gestaan. Die mispels was lekkerder wanneer hulle oorryp was. Langs die outydse rankroos het ’n bos vinkel gegroei. Ons het die vinkel, wat wild gerank het, afgepluk en die skilletjie van die steeltjie afgetrek – dit het soos liquorice gesmaak.

Danie Nel: Ja, en as ek en Dolf winkel toe draf om te gaan lekkers of twak koop, was daar twee sulke befoeterde windhonde. Later toe ons groter was, het ons met die fietse winkel toe gery. Ons hond, Muhuloe, het altyd saamgedraf en dan was dit altyd ‘n erge geveg tussen Muhuloe en die windhonde. Dit was altyd ‘n hoogtepunt!
Dolf Nel: Op pad winkel toe was daar ‘n wit pomphuisie reg teen die pad waar Piet-hulle afgedraai het na hulle plaas. Dit was amptelik bekend as die “Withuisie”.
Danie Nel: Ja, daar het ons vir Piet (van Deventer) ook soms ontmoet. Hy het eenkeer vir ons die bynes in die bos gaan wys. Daarna dink ek het ons saam gaan skelm rook in die wit huisie. Dit was baie lekker!
Tannie Cielie, Johanna, Paul en Hermiena

Elsabé (van Eeden): Ek was darem ouer as julle – en baie van my skoolmaats is nie meer met ons nie. Ek geniet julle stories so baie. Ek onthou dat ek eendag ‘n pak slae gekry het omdat ek so laat by die huis gekom het dat my ma-hulle my kom soek het. En dit omdat ek staan en kyk het hoe een van oom Willem Stemmet se skape gelam het.
Ek onthou ook dat, wanneer ons by hulle huis verbygeloop het, ons altyd water by hulle wasdammetjie gedrink het. Dan het tannie Cielie vir ons brood gegee wat natgemaak was – met suiker op. Dit was so lekker, want by die huis mag ons dit nie so geëet het nie.
Ina (de Jager): Tannie Cielie se stoep en kombuis is met vars beesmis gesmeer en sy het sulke mooi patroontjies daarop gemaak. En snaaks, jy het nie die mis geruik nie. Dis die enigste plek waar ek ooit gesien het hoe beesmis gesmeer word.

Die huisie waar Willem se broer, Dawie, gewoon het. Die kraal, waar met die hand gemelk is, in die agtergrond.
Oom Willie het die nuwe huis iewers in die sestigs gebou toe die ou huis (regs) begin verval het. Regs van die ou huis steek die “kleinhuisie” (toilet) uit.

Hulle het later die nuwe huis nader aan die bloekombome gebou – oorkant die nasionale pad. Toe Johanna by ons in die winkel gewerk het, het ek party aande oor die teerpad geloop en by haar na hulle grammofoonplate gaan luister. Die grammofoon was His master’s voice met so ‘n groot tuit bo. Ek onthou die een plaat was: “Die witbroek sit nie nice nie, want die witbroek het nie size nie!” En plate van Chris Blignault.

Paul, Hermiena, Johanna en Johan 18 jaar gelede
Paul, Johan, Hermiena en Johanna (Oktober 2025) met Johan se 80ste verjaarsdag


Johanna staan op die De Jagers se stoep op Rietvlei 1
Paul en sy vier pragtige dogters

WILLIE STEMMET (“DUITSER”)
“Klein Willie” Stemmet (Duitser) was getroud met Johanna Stemmet wat by Rietvlei sowel as Klipheuwel se skooltjie skoolgehou het. (Lees meer oor haar in Deel Drie wat oor die onderwysers en skool handel. Hy het haar elke oggend en middag voor op die fiets se handvatsel op ‘n kussing skool toe en terug vervoer!) Hy en Cielie Stemmet (wat oorkant die winkel gewoon het), was broer en suster.
Hulle het drie seuns gehad: Johan, Alexander (“Alsander”) en Paul. Oom Willie en Alsander het ‘n orkes gehad. Oom Willie het konsertina gespeel en Alsander kitaar. Een of twee keer ‘n jaar het die bure, en ook die familie van Kruispad (nader aan Barrydale), by oom Alwyn Steyn bymekaar gekom om te dans. Oom Alwyn het ‘n lang stoep langs sy huis gehad.

GAWIE EN KOOS STEMMET VAN RUIGTEVLEI
Hierdie Stemmets het bekend gestaan as die “Rooigerte”. Oor hulle voorgeslagte is nie veel inligting beskikbaar nie.
Doreen Stemmet: My pa was byna vyftig toe ek gebore is en Kobun is nege jaar jonger as ek. Ek het my oupa Stemmet nooit geken nie. Hy was toe reeds oorlede, en my pa se broers en susters, behalwe oom Gawie, was almal weg van Montagu af.
My oupa Gert Stemmet (Rooigert) was twee keer getroud. Daar was altesaam vyftien kinders. Ek dink hulle moes saans teen skemer eers die kinders bymekaar maak en tel. Daar was daardie dae mos nie elektrisiteit en televisie nie. Dit sê alles.
Al wat ek weet, is dat Oupa twee keer getroud was, maar ek weet nie wat sy eerste vrou se naam was nie – net dat hulle ses kinders gehad het. Hy en ouma Sarie, my pa se ma, het tien kinders gehad (een is by geboorte oorlede), waarvan my pa die tweede oudste was en oom Gawie die tweede jongste. Ek probeer uitvind of Oupa op die plaas gebore is. Dan sou ‘n mens seker kon sê dat Ruigtevlei die familieplaas van die Rooigerte was.
Gawie en Ria Stemmet op hulle troudag. Doreen was die blommemeisie met die “pikante strik agter”. Ria is tans 97 en in Montagu se ouetehuis (2025).


Koos en Bessie Stemmet

Koos en Bessie Stemmet, met hulle pragtige, blink, pikswart Chev Fleetline. Tannie Bessie het jare lank in die winkel gewerk. Eenkeer toe die De Jagers Wildtuin toe was, het sy gevra sy wil graag ‘n bol olifantmis hê! Wat ons toe heelpad saamgery het en wat lank op haar “sideboard” uitgestal was!

Die oorspronklike huis op Ruigtevlei
waar Bessie en Koos gewoon het voor
hulle die nuwe huis gebou het.
Drie van die Rooigertjies: Kobun (Koos en Bessie se seun) en Elmarie en Gert (Gawie se kinders).



PIET EN KOOS STEMMET
Piet van Deventer: My ma was ‘n Ekkedie. Hulle was altesaam vyf kinders: Hetta, my ma (Stienie), nog ‘n suster (Bettie) en Piet en Koos Ekkedie, die twee broers. My ma se ma was Hester de Kock (van die Keisie se De Kocks), en my ma se pa was Piet Stemmet van Ruigtevlei. Hulle plaas het gegrens aan oom klein Willie Stemmet en aan oom Gideon en tannie Pietjie Conradie. Ek dink tannie Pietjie Conradie was ‘n stiefsuster van my oupa Piet.
Elsabé (van Eeden): Ansie, wat saam met ons in die skool was, se pa was oom Piet Ekkedie, en sy broer was Koos Ekkedie. Die storie, wat ek gehoor het, was dat die ou oom, wanneer hy gesels het, nie gesê het: “Ek het so of so gemaak nie.” Nee, hy het gesê: “Ekke dié het so of so gemaak.”– vandaar die bynaam Ekkedie.
VAN DEVENTERS
(nog herinneringe van Hestea se suster, Lidia, by Deel Vier.)
Hestea (van Deventer): Graag wil ek ons Van Deventer-geskiedenis op Rietvlei met julle deel.
Ons oupa, Gert van Deventer, wat bokant die Rietvlei-winkel geboer het, is op 7 April 1888 op Kruispad gebore. Hy is in 1916 met Hester Helena Stemmet (Ouma Hettie) getroud. Sy is op 13 Desember 1892 op Rietvlei gebore. Hulle het drie dogters en drie seuns gehad, waarvan die oudste twee – Tannie Martjie en Oom Boeta – op Kruispad gebore is.
Vroeg in 1923 het Oupa Gert die plaas op Rietvlei (vandag bekend as Vredehoek Kwekery) gekoop. Ons pa, Johannes Dawid – of Kwart, soos almal hom geken het – is op 13 November 1923 daar gebore. Ons ma, Elizabeth Johanna (Lizzie) Kriel, is op 14 Mei 1925 ook op Rietvlei gebore. (Ek is nie 100% seker nie, maar dink dit was op die plaas waar Oom Boeta later jare geboer het).
Ons was ses kinders, waarvan Kierie (die oudste), Lidia (die jongste) en ek nog lewe. Drie van ons was van sub A tot st. 5 in die Rietvlei-plaasskool. Elna was daar van sub A tot st. 3, Lidia van sub A tot st.1 en Gert van sub A tot st. 2.
Nadat oupa Gert op 1 Maart 1980 oorlede is, het ons pa die plaas oorgeneem, en later ons broer Gert, nadat albei ons ouers oorlede is. (Pa op 20 Oktober 1994 en Ma op 23 Januarie 2006).
Gert is gedurende die Covid-tyd op 23 Junie 2021 oorlede, en nou is sy seun – ook Gert – op die plaas. (Ter interessantheid: Die jonger Gert het ’n sewejarige seun, ook Gert.)
Marie en haar man het op Springfontein in die Vrystaat geboer en sy is op 30 Maart 2015 oorlede. Elna is ook in die Covid-tyd oorlede, 24 dae ná Gert, op 17 Julie 2021.
In 2023, toe die plaas 100 jaar in die familie was, het ons ’n groot familiesaamtrek daar gehou en sodoende weer baie stories en herinneringe uit ons kinderjare herleef.

Lidia (Van Deventer): My ma se oupa (Kriel) sit voor links. My ma se ouma heel links agter hom.
Oupa Gert van Deventer (7 April 1888 – 1 Maart 1980) en ouma Hester Helena (“Hettie”) van Deventer, gebore Stemmet (13 Desember 1892 -9 Augustus 1989


Ouma Hettie en oupa Gert se kinders (getroude vanne tussen hakies)
Agter is oom Mannie (W.A. het geboer in Klaasvoogds, Robertson) met tannie Hettie (Oosthuizen) en my pa langs hom. Voor oom Mannie is tannie Martha (Walters). Langs my pa is tannie Stella (Fouché, geboer in Poortjieskloof) en ouma Hettie met haar 95ste verjaarsdag. Oom Boeta regs (inlas)

Lidia (van Deventer) het dié lugfoto van 1953 gestuur: Oupa Gert en Ouma Hettie se huis. Plaas Rietvlei. Vredehoek kwekery.
(Ons huis is nie op hierdie foto nie.)
My ma se ouers: Gideon Jacobus Petrus Kriel, 14 Des. 1891 – 9 Aug 1973, en Maria Elizabeth (Swanepoel), 13 Des. 1895 – 26 Feb. 1955. Hul was voorheen die eienaars van oom Boeta se plaas. Hulle het dit in 1946 aan hom verkoop.

‘n Gedeelte van oom Dirk van Eeden se grond, Novelle, kan links op die foto hierbo gesien word. Die nasionale pad, (R62), winkel, slaghuis, afdraai na die plaasskooltjie en oom Willem se bloekombos kan ook heelregs in die hoek van die foto gesien word.

Lidia van Deventer: Lugfoto van my ouers (Kwart en Lizzie) se huis –gebou in 1946 en foto geneem in 1953. Blykbaar sou dit later bekend word dat dit ‘n spioen vir Duitsland (nie seker nie) was wat ná hierdie foto’s geneem is, in hegtenis geneem is.
“My ma Lizzie (voor). Een van die tweeling (babas) vroeg oorlede. Die ander een, Rosa Hermiena, was 1955 hoofdogter van Montagu Hoërskool. Kierie wat op daardie plaas gebore is, het later jare by oom Boeta gekoop.”


Lizzie en Kwart van Deventer
Lizzie en Kwart met hulle kinders: Lidia, Kierie, Elna, Gert, Hestea en Marie


Oumagrootjie Hettie by Lidia se tweeling in 1983 (±91jr)
Lizzie en Kwart, bly omdat daar water raakgeboor is.


Lizzie en haar kinders


Kwart (Johannes Dawid) se lisensie foto: Montagu History op Facebook
Kierie op sy 80ste verjaarsdag (2025)


Lizzie met haar vier dogters
Lidia, Kierie en Hestea met die plaas
se reünie in 2023




Drie trotse Vredehoek Kwekery-boere, en een in wording: Oupa Kwart (links), Gert (regs). En nog ‘n Klein Gert in foto hieronder.

Pragtige foto! Huis, waar sy oupagrootjie Gert en oumagrootjie Hettie gewoon het, agter hom. Links is Octavia en nog dele van Rietvlei No. 1 in die agtergrond.
MONTAGU SE VAN DEVENTERS EN HULLE BOERDERY
Die tydskrif, Marktoe, het in Oktober 2014 ‘n artikel oor die Van Deventers van Rietvlei No. 1 geplaas.
1 BRANDRISSIES
Genoeg dorpspraatjies, dis nou eers tyd om uit te wyk plaas toe, en te gaan kuier by Kierie van Deventer en sy seun, JD. Hulle spog nie net met ’n steen- en kernvrugtekwekery nie; hulle boer ook met pere, perskes, appelkose, pruime, amandels en vye. Maar ek is hier om meer te leer oor die brandrissies waarmee hulle vier jaar gelede begin het.
Ek het nooit geweet ’n rooi brandrissie begin sy lewe as ’n groen jalapeño nie. En dat, as hy volgroei is en begin verouder en nie gepluk word nie, hy dan rooi en geweldig warm raak. Ek weet wel die vet, oranje habanero is ’n rissie wat sommer vir homself voorbrand maak. Hy is in sy eie klas. Hiervan plant JD-hulle maar min aan. Maar JD wil nie hê te veel jalapeño’s moet rooi raak nie, want die rooi-mark is op die oomblik ’n bietjie swak.
“Jalapeño’s is ons eintlike ding,” vertel hy. “Verlede seisoen het ons so 60 ton groenes gelewer en van die rooies seker net so 10 ton.”
Hy sê om brandrissies te kweek, is maklik. Kunsmis is belangrik, maar daar word nie veel gespuit nie – nou en dan ’n insek- of ’n swamdodertjie. Maar mens kry tog jou voor-op-die-wa bolwurm wat dink ’n habanero is lekker kos. Plastiekseile word op die land gebruik om die jong plantjies teen onkruid te beskerm, omdat daar min geregistreerde chemikalieë vir brandrissies is.
“Maar ons hou hom gesond,” sê hy. “Ons gebruik nie elke keer dieselfde stuk grond nie; daar’s eers ’n rustyd. Ons plant elke eerste September, en nou ja, dan is dit kos en water gee, aanmekaar, en pluk, aanmekaar. Hoe meer jy pluk, hoe meer blom hy. Dan is dit bietjie voeding spuit dat hy vinnig kan grootraak. Ons oes een maal ’n week van Desember tot Junie.”
Vanaf die tweede week in Desember lewer hulle by die Bushman’s Chilli Company in die Kaap af, elke week, waar die jalapeño’s ingelê word om chilli poppers en souse mee te maak. Habanero’s word in vate verouder vir souse.

JD van Deventer, Kierie se seun
In 2025 het JD-hulle (Jumping Jackal) ‘n prys gewen vir die beste in hulle kategorie.

2 PAMPOENE
“Sy pampoene is nie vir eet nie … dis sy stokperdjie, om te kyk hoe groot hy elke jaar ’n pampoen kan kweek.”
Maar, as daar nou ’n man is wat nie terughou as dit by kunsmis kom nie, of varkmis of beesmis, of wat ook al nodig is om te verseker dat sy pampoene elke jaar vreeslik groot raak, is dit Gert van Deventer, Kierie se broer, wat oorkant die pad op Vredehoek boer. Hy bestel pampoenpitte uit Amerika, plant hulle so einde Oktober en kyk dan na die maan.
“Die ou mense het mos gesê: Vir goed wat bo die grond dra, moet jy met die opgaan van die maan plant, en andersom vir dié wat jy nou weer onder die grond plant. En ek doen dit maar elke jaar,” sê hy met ’n laggie. “En dit werk.”
Sy pampoene is nie vir eet nie – alhoewel hulle al probeer het – of vir verkoop op die mark nie. Dis sy stokperdjie, om te kyk hoe groot hy elke jaar ’n pampoen kan kweek.
En hy kry dit reg: Hy het al menige pryse gewen vir sy pampoene. Maar wat vat dit om so ’n groot pampoen te groei?
“Dit vat baie kunsmis en water.” En? Hy lag. “Varkmis is die beste. Te veel kunsmis laat hom bars. Stikstof, fosfaat en kalsium – daai is die belangrikste. En te veel stikstof nou weer, laat hom sag raak. Jy moet die verhouding reg kry. Partykeer grawe muise ’n gat van onder af, en broei daar binne.”
Die eerste pampoene begin so middel Desember aankom, en as die kleintjies blom, dan bestuif hy hulle self. So kies hy die bestes uit vyf, wag dat hulle amper rugbybal-grootte is, en kies dan sy beste pampoen.
“Ek kyk na sy vorm, hoe vinnig hy gegroei het, en dan hou ek net daai een. Elke week spuit ek vir vrugtevlieë, gooi groei-middels, en pas hom op. En dan, die 15de Maart, pluk ek hom vir die kompetisie. Ek neem elke jaar aan die Suid-Kaap-kompetisie deel, en die Transvaalse Landbou-unie het ’n pampoenkompetisie vir die grootste pampoen van die jaar.”
Hierdie jaar was sy pampoen die 2de grootste in die land en het hy 422½ kilogram geweeg. “Hy pas nie eers agterop my Isuzu-bakkie nie,” lag hy.
Wat maak hy as hy nie pampoen oppas nie? “Ek het ’n vrugteboomkwekery,” sê hy, “druiwe en appelkose.” Hy kyk na sy seun, ook Gert, wat ingekom en op die stoel oorkant gaan sit het. “Ek is hier gebore, in 1956, die derde geslag, en my seun is die vierde geslag. Hy’s ’n byeboer.”

3 BYE EN HEUNING
Die jong Gert glimlag skaam en sê: “Ja, ek het met een korf begin, in standerd ses al. Toe raak dit 15, en nou ja, vandag is dit oor die vyftig.”
Hy vertel my hy doen bestuiwing met bye vir die vrugteboere, verhuur die byekorwe en verskuif dit so van plaas tot plaas.
“Soos die kultivars blom, vat ons hulle uit. Dis groot werk,” sê hy. “’n Mens kry min slaap. Die rondskuif van die korwe moet jy in die nag doen. Al die bye wat in die veld was in die dag, is in die nag weer terug in die korf. Elke 14 dae blom daar maar ’n ander soort variëteit. Die bye bly vir vier dae by elke variëteit – van die vroeër seisoen, dan die middel seisoen, en dan is dit appels en pere wat later blom.”
Word hy nie gesteek nie?
“In die begin van die seisoen, as jy die korwe voorberei, word jy maklik so een of meer keer op ’n dag gesteek. Jy kry kwaai bye, dié in die heide en kanola is aggressief, en van hulle in die bloekombosse jaag jou ook so bietjie rond van tyd tot tyd.”
Gert maak ook sy eie heuning op die plaas en verpak en versprei alles self. “Ek verskaf bloekombosheuning aan Montagu-gedroogte vrugte, maar dis ook nou landswyd te kry. Kyk maar uit vir Vredehoek Byeboerdery!”

Marktoe, Uitgawe van Oktober 2014
MONTAGUER WEN MET GROOT PAMPOENE
Daleen Fouché, 3 April 2012 (Stilbaai se koerant)
’n Boer van Montagu is as boer-kampioen aangewys toe hy met twee reusepampoene eerste en tweede plek in die Stilbaai Gholfklub se Gatti-pampoenkompetisie behaal het.
Mnr. Gert van Deventer het dié goeie nuus gekry toe die kompetisie op Saterdag 24 Maart plaasgevind het.
Die pampoen wat hom die eerste plek en R6 000 besorg het, het ’n indrukwekkende 366 kg geweeg. Die pampoen wat hom die tweede plek en R4 000 verseker het, was kort op die hakke met ’n gewig van 369 kg.
Van Deventer vertel dat die pampoene wat hy die week vooraf moes oppas, in ’n vrugkas opgetel moes word, aangesien dit onmoontlik vir selfs ’n span mans was om dit te dra.
Van Deventer se pampoene het nie net erkenning by die Stillbaai-kompetisie gekry nie, maar is ook as die grootste reusepampoene in die kompetisie se landwye geskiedenis aangewys. Hy verduidelik dat daar vyf soortgelyke kompetisies is en dat sy pampoene gemeet is teen vorige wenners om die prestasie te bepaal.
Van Deventer, wat met wyndruiwe en vrugte boer, sê pampoenkweek is sy stokperdjie. Hy het in 2008 reeds eerste en tweede plek in dieselfde kompetisie behaal.
Hy vertel ook dat hy al van 2007 af pampoene kweek. In 2008 het hy ook die eerste en tweede plek in dieselfde kompetisie gewen. Hy sê hy verkry die saad vir sy pampoene uit Amerika, wat ook die rekord vir die grootste pampoen in die wêreld hou.
Maar wat is Van Deventer se geheim vir die monsterpampoene? “Baie kos, water en liefde,” sê hy met ’n glimlag.
Van Deventer skenk elke jaar sy pampoene aan koshuise en ouetehuise op die dorp. Hy vertel verder dat daar al tye was op Montagu waar die kinders nie sy pampoene wil hê nie, “anders eet hulle die hele jaar net pampoen”.

Gert van Deventer by sy wenpampoene
BOETA EN STIENIE VAN DEVENTER
Boeta en Stienie van Deventer was ook vir baie jare Rietvleiers. Hulle plaas was regoor Octavia aan die teenoorgestelde kant van die nasionale pad.
Hulle het drie seuns gehad: Gerrit, Piet en Hannes wat ook saam met ons in die plaasskooltjie was. Hannes het as baba polio gekry. Lees in Deel Drie hoe sy broer, Piet, vertel van daardie moeilike jare.
Piet van Deventer: My pa het op Rietvlei grootgeword. Sy ouers was oupa Gert en ouma Hettie van Deventer. Ouma was ‘n stiefsuster van oom Willie Stemmet (oom Willem Stemmet, “Duitser”, se eerste vrou se dogter).
My ma, Stienie, het op Ruigtevlei grootgeword. Sy was oupa Piet en ouma Hester Stemmet se dogter (en van die familie Stemmet wat die “Ekkedies” genoem is). Ouma Hester was ‘n De Kock van die Keisie. Sy was op haar dae ‘n onderwyseres.
My pa Boeta het die plaas in 1945 of ’46 by oom Gideon Kriel gekoop. Dit was oom Gideon se oupa se plaas. Kierie (oom Kwart se seun) het toe later die plaas by my pa gekoop.
My ouers het albei op Rietvlei skoolgegaan. Hulle was hardwerkende mense. As dit nie vir hulle was nie, sou ons kinders nie later elkeen ‘n plaas gehad het nie. My pa het ‘n kwekery en gemengde boerdery gehad. Hulle was baie gasvry en al die boomkopers het gereeld daar geëet. My ma was lief vir naaldwerk, brei, bak en konfytkook. Sy het altyd graag vir die basaars gewerk, en koeke en terte op bestelling vir mense gebak.
Voor Kersfees het almal wat sy geken het, ‘n Kerskaartjie gekry en sy het vir elkeen iets gepas binne-in geskryf. Daar het so baie skoolmaats kom kuier, en almal het heerlik gesmul aan al die heerlike kosse en gebak.
My pa was ‘n goeie boer en besigheidsman. Na Hannes se dood, het hy die plaas verkoop en op Montagu gaan woon. Hulle het gereeld by ons kom kuier en die kleinkinders baie geniet. As ek nou terugdink, is daar so baie dinge wat ek net aanvaar het dat dit so moet wees. Ek sou so graag meer dankie wou sê vir alles wat vir my gedoen is, maar dis nou te laat. Baie dankie.

Boeta en Stienie

Piet by sy pa en ma


Piet en sy vrou, Anne-Marié
‘n Halwe vis? Daar is beslis ‘n storie daaragter. In Deel Vier vertel Piet wat gebeur het!


Piet se seun (Gerhard)
en kleinkinders
Piet en sy dogters, Nina en Jeanne


Piet en Anne-Marié met hulle gesin
VAN EEDENS
Dirk en Hannah van Eeden het ook vir baie jare op Rietvlei gewoon. Hulle het op die “hoogte” naby die winkel, op die plaas Novelle, gewoon.
Elsabé (van Eeden): Ek dink ek is seker die oudste oorlewende van Rietvlei se skool. Ek kan nie meer alles mooi onthou nie, want ek is al 85. Ek weet net dat, nadat my pa siek geword het en hy en sy broer Rietvlei aan die Nels verkoop het, ons onderkant oom Izak Nel in ’n huis gewoon het. Van daar af het my pa Novelle op die hoogte in die veertigs gekoop. Ek was al seker so drie of vier jaar oud.
Die huis het ’n solder gehad. Ons het graag met die leer opgeklim, en dan het my ma geraas, want die stof het deur die plafon in die huis geval. (Res van haar herinneringe by Deel Vier).
Lidia (van Deventer): Elsabé, jou ma het my matriekafskeid-“sjaal” gehekel. Ek onthou haar pragtige hekelwerk. Ek onthou die ou karre onder die bome by julle. Ons het altyd daarin gespeel.
Christa (de Jager): Ek onthou tannie Hannah en oom Dirk goed. Die tannie was ons ouers se regterhand in die winkel.




LOMBARDS
Hilda (Lombard): Ek het probeer uitwerk: Ek dink ouma Miemie Lombard is in 1886 gebore. Sy moes dus ook by Rietvlei se skool skoolgegaan het, want die skool het toe reeds bestaan.
Die plaas was oorspronklik die Viljoens se grond. Ouma was ’n Viljoen. So lank as wat ek kan onthou, het Ouma en haar blinde suster, tant Ragel, daar gewoon. Die broers het later in die Robertson-omgewing gaan bly – waarskynlik om werk te soek. Ek weet dat van hulle by die Spoorweë gewerk het.
Sover ek kan onthou, het ons eers by oupa Hans en ouma Miemie Lombard gebly. Daar het Ouma reeds vir my en my broer, Jurie, ’n fondasie vir die lewe gelê.
Ná Ouma-hulle se dood in die sestigerjare, het my oom Michael en sy vrou, Sarah, in die ou opstal gebly. Pa-hulle het ’n ent verder aan, nader aan die Langeberge, aan die anderkant van die nasionale pad, ’n huis laat bou – daar waar Jurie-hulle nou woon.
Aanvanklik was daar feitlik niks nie; hulle het toe maar eers aangegaan om op die munisipale gronde onderkant die teerpad te boer. My pa, Petrus Lombard, het toe saam met my ma, Giep, Lombard-kwekery tot ’n florerende kwekery begin ontwikkel. My ma was ’n bekwame besigheidsvrou.
Toe Jurie trou, het my ouers na die huis in Badstraat verhuis. Ná hul dood het ek daardie huis geërf. Dit was langs die ou Standard Bank, met die bankbestuurder wat langsaan gewoon het. As ek reg onthou, was Sandler se kantore toe ook in die bankgebou. Jurie woon steeds op die plaas.

Die Lombard-familie



Die huis waar Miemie en Hans Lombard gewoon het.

Petrus en Giep, Hilda
en Jurie se ouers

Ena en haar kinders

Hilda (Lombard): Die huis waar pa Petrus en ma Giep gaan woon het na Jurie getroud is, was voorheen Standard Bank se gebou. Sandler, vroeër prokureur op Montagu, se kantore was in die linkerkantse gedeelte. Die huisgedeelte was daardie jare die bankbestuurder se woning. Standard Bank het ‘n nuwe gebou langsaan gebou.


Michael en Sarah se twee dogters, Luzette en Elmarie, met hulle mans, Wouter en Rinus.
CONRADIES
As jy regs van die winkel opdraai na die berg se kant toe, sou jy eers verby oom Gert en tannie Hettie van Deventer se huis ry en later oom Kwart en tannie Lizzie se huis kry. Die volgende plaas was waar tannie Pietjie en oom Gideon Conradie gewoon het. Hulle was ook bekend as die “Vaalfranse”. Hulle het twee seuns gehad: “Kleinkosie” en Frans.
Tannie Pietjie het spierwit krulhare gehad en kon baie lekker lag. Wanneer sy so gelag het, het haar hele lyfie geskud.

Paul Fouché: Hulle was “Kleinkosie” en Frans Conradie se ouers.
André la Grange: ‘n Entjie verder berg se kant toe, het die Vaalfranse (Conradies) gewoon en geboer. Hulle het later die plaas aan die Visser-familie verkoop.
Oom Visser was ‘n interessante karakter – in die sin dat sy pa of oupa een van die Bittereinders was wat met die afsluiting van die Boereoorlog verseg het om onder die juk van Britse Imperialisme te lewe en toe na Argentinië uitgewyk het. Die oom, wat in Argentinië gebore en getoë is, het sy Afrikaanse identiteit behou – alhoewel hy ‘n argaïese Afrikaans met ‘n snaakse aksent (behoorlik gesout met ‘n skeut Spaans) gepraat het.
Ina (de Jager): Christa, onthou ek reg dat ons party Sondagaande by hulle Halleluja-liedere gaan sing het en dat tannie Pietjie se kort beentjies met die no. 3-skoentjies skaars by die pedale van die orreltjie kon bykom? Ons het altyd haar skoene vir die skoolkonserte geleen.
Suzette (de Jager): Ja, en het ons nie agurkies/ groen vye/ makataanstukke by die koffie gekry wat net so met die hand geëet is nie?
Elsabé (van Eeden): Hulle was van die eerste mense daar wat ’n radio gehad het wat met ’n windlaaier gewerk het. Party Saterdae het my pa by hulle gaan rugby luister, met baie gekraak en gesuis, totdat batteryradio’s later beskikbaar geraak het en my pa een gekoop het. Ek praat van baie jare gelede.
Christa (de Jager): Julle onthou reg. Ja, sy kon so lekker lag. Toe kom die hoëbolhoede ná die plattes in die mode. Sy maak toe haar kerkhoed hoër met die VLV-programmetjie en dit was vir haar ‘n lekker grappie. Eenkeer was daar ‘n erge wind en hulle huis se dak het begin oplig. Hulle het so ‘n ou groot motor gehad en Frans en Kosie anker toe die dak aan die motor.
Dolf Nel: My goeiste, nou onthou ek weer van tannie Pietjie Conradie.
Christa (de Jager): Waar is daardie dae van die groot PYE-radio’s wat nog met fuses gewerk het… As die Bokke in New Zeeland gespeel het, was die uitsending reeds vroeg – soos by 06.00 vm. Oom Dawie Stemmet, Oom Willem en ander bure het dan by ons kom probeer om die uitsending van ver oor die see so tussen die gesuis deur te hoor.
Ina (de Jager): Tannie Pietjie se skoondogter (ek dink haar naam was Talda) het haar gebel en gesê: “Ma, ek bring vir Ma ‘n haan.”
Tannie Pietjie was so opgewonde oor dié haan en koop nie ander vleis nie. Toe bring Talda vir haar ‘n gehekelde haan-vatlap! Sy het dit met kleur en geur oorvertel en heerlik gelag.

Tannie Pietjie voor links op foto

NELS
Die Nels is ook van Rietvlei No. 1 se ouer inwoners. Hierdie gedeelte oor die Nels kom uit Montagustories No. 11 (Die Poort na Kanaän) en is vertaal deur ChatGPT.
PLAAS RIETVLEI NO. 1
Die Nels het die plaas Rietvlei No. 1 by die Van Eeden-familie gekoop. (Die Van Eedens – Ricki – het na Bushmanspad op die Swellendam-pad verhuis). Daar was twee Nel-families, naamlik Johannes Nel en Izak Nel.
Hulle het met volstruise geboer en later ook ’n pluimveeboerdery gehad, benewens hul vrugteboomkwekery.
Johannes Nel was ’n baie vindingryke sakeman, veel meer as ’n boer. Hy was verantwoordelik vir die bestuur van die waterbeurte uit die bergstroom in die Rietvlei 1-gebied. Heelwat buurplase het waterregtoewysings (waterbeurte) uit die bergstroom gehad. Selfs die Montagu-munisipaliteit het ’n toewysing gehad wat tot vandag toe (2020) steeds in plek is. Natuurlik het oom Johannes, met al sy slim manewales, seker gemaak dat sy plaas se toewysings tot sy voordeel was.

Besoek Montagu Stories met die skakel hieronder om die Die Poort na Kanaän te lees
https://montagumuseum.co.za/montagu-stories/die-poort-na-kanaan/
Oom Johannes en sy vrou het twee seuns gehad (ek is nie seker van die tweede seun Loftus nie), maar ek het sy seun Izak (Sakkie) goed geken, aangesien hy ’n raadslid van die Montagu-munisipaliteit was in die laat 60’s en begin 70’s, waar ons saam die dorp Montagu gedien het.
Sakkie het drie seuns gehad, die oudste Johan en die tweeling, Danie en Dolf.
Sakkie was die eienaar van die gebied in Montagu-Wes wat vandag bekend staan as Piet-se-Pad. Hy het dit gedeeltelik aan die Montagu-munisipaliteit verkoop, wat dit later op ’n veiling aan Andries van Heerden, die ontwikkelaar, verkoop het.
In die 70’s het Sakkie die plaas aan Henk Bester van Hermon verkoop, wat daarna die plaas bewerk het totdat dit aan die Hugo’s, die huidige eienaars, verkoop is.
Daar is twee laerskoolgeboue op die plaas wat meestal deur kinders uit die omliggende gebied bygewoon is. Die ou gebou is deur die huidige eienaar, Pieter Hugo, in ’n kapel omskep, en die nuwer gebou word steeds as ’n skool gebruik. ’n Sekere gedeelte van die plaas is “Boontjieland” genoem.

Die ander Nel-familie, oom Izak en sy vrou, het ’n seun gehad wat op ’n jong ouderdom oorlede is nadat hy deur bye gesteek is. Hulle het ook twee dogters gehad. Oom Izak en sy gesin het op die aangrensende plaas van oom Johannes en sy gesin gewoon.
Dolf Nel: Ina, volgens inligting het ons oupa, Johannes Nel, Rietvlei in 1918 gekoop en het hy en ouma Minnie toe daar gaan woon. Ons pa is in 1921 gebore en al vier die Nel-kinders het daar skoolgegaan.
Ek weet nie of die storie van ou Miss Arangies, vir wie die kinders met die pendoring in die agterent geslaan het, in my pa-hulle se tyd was of dalk nog vroeër nie. (Storie in Deel Vier).
Danie Nel: Ek weet net dat die area op die plaas waar die arbeidershuise staan, die Pluim genoem is. Ina, die bus het mos altyd van julle af deur die Pluim gery tot waar hy hoenders of boompies of wingerdstokkies moes optel!
Ons plaashonde het ook uitgesien na die bus om sy tyres te kon byt!!


Johan Nel en die Tweeling, Danie en Dolf, en hulle gesinne voor Rietvlei No. 1 se skool met die Tweeling se 70ste verjaarsdag (2021)

Dolf, Johan en Danie

Dolf Nel: Hier is die vier boekies wat my pa geskryf het. Ek weet nie of daar nog was nie.
RAHLS
Die Rahls het op die plaas Nelsrus gewoon. Die La Granges het in 1952 die plaas by hulle gekoop en die naam na Octavia verander.
Marita (Rahl): My pa en ma was Hendrik en Janie Rahl. Hulle het Nelsrus gekoop – hulle eerste stuk grond van hul eie nadat hulle vir my oupa geboer het. (Ek en my broer is op Boererus gebore.)
Ons was klein toe ons Nelsrus toe getrek het. Toe my broer, Connie, moes skool toe gaan, het hy geweier om te gaan as ek nie ook gaan nie. Ek het sub A toe in een jaar gedoen, terwyl hy A en B in een jaar gedoen het. Die perdekar met Prins in die tuig is toe bedags ingespan om ons skool toe te neem.
My ma was baie spoggerig as Prins so mooi draf. Sy het later ander kinders ook opgelaai, onder andere Elsabé en haar broer, Gideon. Van die skooltjie en die ander kinders kan ek nie veel onthou nie. Toe my pa Nelsrus verkoop, het ons Wakkerstroom toe getrek. Daar was dit baie lekker. Ek het my eie perd gehad waarop ek op die plaas rondgejaag het. Ou Prins het toe afgetree. Ons is toe hoërskool en koshuis toe. Na Oupa se dood, moes ons terugtrek na die familieplaas, Boererus, naby Montagu. Daar was lang trane, maar daar was nie ‘n ander keuse nie. Dit is al wat ek kan onthou na 82 jaar.
Ek onthou julle winkel. My ma het my altyd gestuur om iets te gaan koop. Dan huil ek heelpad van “banggeit”. Daar was nie so-iets soos weier nie, want dan kry jy nog pak ook.

LA GRANGES
In Montagustories no. 98 word daar volledig geskryf oor die La Granges van Octavia, Kosie se musiektalent, sy vrou, Sally, en hulle vier seuns (Paul, Van Zyl, Kosie en André). Soos dit ook daar vertel word: die gesin het in 1960 van Le Rouxstraat 27, Montagu verhuis na hulle plaas, Octavia, waar hulle baie gelukkige jare deurgebring en diep spore in die gemeenskap van Rietvlei getrap het.
In Deel Vier vertel André, Van Zyl en Kosie van hulle herinneringe aan Rietvlei No. 1.

Izak la Grange en Mimmie (de Villiers) se verlowingsfoto’s, ± 1910
Kosie en Sally tree in die huwelik in Montagu se kerk


Foto geleen by Montagustories

Die La Granges van Octavia: Paul, Van Zyl en Kosie agter,
en André regs langs pa Kosie en ma Sally

Toeks Plax (Montagu Apteek) en Sally la Grange (voor), 1954 in die Montagu Natuurtuin.
Kosie en sy pa, Izak, het baie water gewys en raakgeboor

Van Zyl la Grange: Saam met ‘n klomp vroue (Justine Basson, Babsie van Zyl, Alta Sadie, e.a.) het my ma elke Dinsdag die Natuurtuin begin uitlê en beplant. Ná skool het ek gaan saam werk: Kleigrond omspit, vygiesteggies inlê, waterlei, gate grawe om bome te plant… Daai vroue kon tuinmaak met pik en graaf! Ek sien noú nog my Ma skoffel en spit dat die stof so staan in ons tuin op Octavia!


Die bladmusiek vir die lied wat Kosie spesiaal vir sy boerenooi gekomponeer het.
Besoek Montagu Stories met die skakel hieronder om die skakel te kry na dié lied te luister.
https://montagumuseum.co.za/montagu-stories/98-die-la-grange-familie-van-montagu/


Sally en Kosie in Venesië


JOUBERT-HUIS IN OKTOBER INGEWY
MONTAGU. – Die inwyding van Joubert-huis, nuutste toevoeging tot die Montagu-museum se geskiedkundige geboue, vind op 15 Oktober 1983 plaas.
Aangesien bekendes soos pres. Paul Kruger, genl. Piet Joubert en mnr. S.J. du Toit, ’n destydse superintendent van onderwys van die Transvaal in 1878, in dié huis deur die inwoners van die dorp onthaal is, het die woning bekendheid verwerf as “die huis waarin pres. Kruger geëet het”.
Dit is dus heel gepas dat ons huidige Staatspresident, mnr. Marais Viljoen, die opening van die ou statige woning op 15 Oktober sal waarneem.
Tans word daar kliphard gewerk om alles in gereedheid te kry en vir die eerste keer sedert die begin van die huis se restourasie, is klein detail nou belangrik. Die afgelope paar Maandae is daar wyd gesoek na ou hanglampe, of gedeeltes daarvan. Ongelukkig bestaan daar meer gedeeltes, as lampe self!
LAMPE
’n Vrou wat glad nie omgee om ’n lamp in enige toestand te ontvang nie, is mev. Sally la Grange van Octavia, Montagu. Om ’n ou, lelike lamp te omskep in ‘n sieraad van ’n toonstuk, was nog altyd vir haar ’n vreugde. Indien daar nog ’n paar stukke kettings, oliekanne of bolwerk (asook katrolletjies) bygekry kan word, behoort Joubert-huis volledig toegerus te wees met hanglampe op die inwydingsdag.


Kosie en Mariëtte se kinders en kleinkinders

André en Verie se kinders en kleinkinders
Van Zyl la Grange: Toe Paultjie oorlede is, het Rondebosch Boys’ High School, waar hy jare lank onderwyser was, aangebied om sy gedenkdiens dáár te hou. Meer as ‘n duisend mense het die diens bygewoon.


Hy was die stigter van The Journey, die jaarlikse tog met ‘n groep seuns na die Sederberg, waar hulle die natuur, in al sy wonderlikheid, aan sý hand leer ken het. Die skool het ook ‘n seremoniële boomplanting gereël, waar een van sy leerlinge die boom natgegooi het met die oorblywende water uit Paul se drinkwaterbottel, wat hy altyd saamgedra het: ‘n Roerende oomblik, opgedra aan ‘n groot gees en ongeëwenaarde onderwyser. Tydens uitstappies in die berge saam met hom, kon hy ons vir ure boei met stories oor die hemelruim. Hy het al die name van die sterre en planete geken. Dit het aanleiding gegee tot die kort gediggie wat ek vir sy begrafnisrede geskryf het. Kort voor sy dood het die Kunsonderwyser dié skildery van hom gemaak vir die skool se Honours Room.
Ons mis ons broer Paul oneindig.
TRASFORINI’S
Lees meer oor die Trasforini’s in die Montagustories, no. 121 (Italian Prisoners of War).
https://montagumuseum.co.za/montagu-stories/121-italian-prisoners-of-war/
ROSOLINO TRASFORINI
(Hierdie gedeelte, vertaal deur ChatGPT – en die foto’s – is afkomstig uit die storie Die Italiaanse Krygsgevangenes (Montagustorie no. 121).
Nege krygsgevangenes het op 31 Januarie 1944 by Killarney-plaas in Akkerboom, tussen Montagu en Barrydale, gewoon. Federico Angrisano, Mario Zoli en Rosolino Trasforini was daar vanaf 10 Junie 1946 tot 5 Januarie1947.
Ná die oorlog het Rosolino Trasforini versoek om nie na Italië gerepatrieer te word nie en het hy op 17 Januarie 1947 ’n emigrantepermit ontvang. Hy is onmiddellik deur boer J.L. Conradie van Killarney-plaas vrygelaat.

Hy het uit Noord-Italië gekom en het neergesien op mense van Suid-Italië. Hy kon pragtig sing en het gereeld Italiaanse liedere by sosiale byeenkomste gesing. Hy was baie fiks en ’n harde werker, veral wanneer dit by tuinonderhoud gekom het. Wanneer hy gelag het – wat dikwels gebeur het – het dit geklink soos ’n stroom water uit ’n bergrivier. “Ons was baie lief vir hom en my pa het altyd gesê: ‘Rosolino, jy is my regterhand,’” sê Dolf Nel, van Rietvlei-plaas waar hy gewerk het.
Anelma Oosthuizen onthou Rosolino só: “My pa het dikwels met mnr. Trasforini gesels, en Trasforini het gesê hy kom van Bologna in Italië af (hy het gepraat van Balonika).

Hy het na die hoenderplaas omgesien. Rosolino Trasforini was getroud met Martha Haasbroek; albei is lank reeds oorlede. Hulle het twee dogters gehad, Marie en Rina. Rina het by Rietvlei No. 1 se plaasskool skoolgegaan. Rosolino en Martha is deur Martha se ma verbied om kontak te hê. Hulle het toe briefies geskryf en dit onder die saal van ’n perd gesit. Die perd is gedurig heen en weer gestuur, en só het hulle tog kontak behou.
Hulle is ná die oorlog in Montagu getroud en het die NG Kerk bygewoon (daar was geen Katolieke Kerk of gemeenskap nie). Rosolino was eers ’n voorman en later ’n bestuurder op Kobus Conradie se Killarney-plaas. Daar was nog twee ander Italianers op die plaas: Mario en Corna. Omdat Rosolino nie Engels of Afrikaans kon praat nie, en slegs Afrikaans op die plaas gepraat is, het kommunikasie hoofsaaklik deur gebaretaal plaasgevind. Ná sy vrylating het hy, benewens sy gewone werk, ook ’n polisiereservis geword, en hy was baie trots daarop.”
Paul Fouché: Ek het net ‘n stukkie toevallige inligting oor Trasforini. Trasforini was ‘n plaasvoorman by die Nels. Groot hoenderboere en kwekers. Drie seuns, Johan, die oudste, jonger as ek, en ‘n tweeling waarvan ek die name nie kan onthou nie. Die Nels se plaas was op die Barrydale-pad in die Rietvlei-omgewing.
Trasforini het twee dogters gehad. Die oudste, Marie, was van st. 6 af saam met my in die klas. Haar jonger suster se naam kan ek nie onthou nie. Marie is aan die einde van st. 8 uit die skool om vanaf Januarie 1965 in die apteek te werk. Die apteek was toe nog in die klein gedeelte aan die linkerkant van Basson se winkel, voorheen Goldblatt’s, op die hoek van Kohler- en Badstraat regoor die hoofingang van die Montagu-hotel. Marie het langs ons geloseer.
Marie Trasforini was bewus van my gevroetel aan elektroniese goed onder die leiding en besieling van oom Lou Kriel. Eendag bring sy haar pa saam met sy stukkende, ou draradio onder die arm. Vreemde fout, wat ek net nie kon vaspen nie – tot een aand, wat ek om ons eetkamertafel saam met Marie en een of twee ander bekendes, sit en kaartspeel. Ek verloor hewig, want my kop is by die radio met die vreemde probleem. Skielik onthou ek ‘n wenk van oom Lou, los die kaarte netso en storm na my werkkamertjie. ‘n Halfuur later plak ek die radio tussen die kaartspelers neer, klokhelder aan die speel op ons gewilde LM-radiostasie van weleer.
Dolf Nel: Dit lyk my Marie was nie by ons op skool nie. Rina natuurlik wel. Hulle was net die twee dogters.
Ina (de Jager): Onthou julle nog hoe Rina ons kamma tot by tien in Italiaans leer tel het? Krom en skeef, maar min of meer so-iets: Oene, doe-e, trê, kwatro, sienkwe, sei-e, settie, otto, noe-e, detsie.

Rina (links op foto) by juf. Rosie en Kobun Stemmet
Oom Trasforini het elke Saterdagaand met sy gesin gaan bioskoop kyk. (Die woord “fliek” het nog nie bestaan nie.) Dan het Rina Maandae die hele prent in detail vir ons kom vertel. Ons het so gegril wanneer sy van Dracula vertel! Rina het die pragtigste, dik, swart vlegsel gehad.
Lidia (van Deventer): Ek onthou die Trasforini’s goed. Die oom het altyd sy stoel omgedraai en met sy bene wydsbeen langs die stoel se ruglening gesit. Rina se skoonpa (Conradie) was met Chrisna en Junior Bruwer se ma getroud ná oom Bruwer se dood.
Ina (de Jager): Ek het met Rina se man, Freddie Conradie, kontak gemaak. Marie was nie in Rietvlei se skool nie en is so 2½ jaar gelede oorlede. Ek onthou dat sy ‘n dik plakboek van Elvis Presley gemaak het wat sy gereeld vir ons gewys het wanneer die skoolbus voor die winkel gestop het.
Paul Fouché: Jammer om van haar heengaan te hoor. Sy was immers drie jaar lank ‘n klasmaat en het minstens net so lank langs ons loseer tydens haar apteekjare. Haar bewonderaars het vir haar o.a. elektroniese geskenke aangedra en ek moes die interessante goed aan die gang kry en in werkende toestand hou. Haar pa het by geleentheid ook ‘n halsstarrige radio of twee aangedra. Het ek haar maar destyds gevra waar sy in die laerskool was!
Kosie la Grange: ‘n Paar honderd meter verder pad af was mnr. Rosolini Trasforini, een van oom Sakkie Nel se plaasbestuurders, woonagtig. Hy was ‘n voormalige Italiaanse krygsgevangene wat met ‘n boeremeisie getrou het en na die oorlog hier agtergebly het. Hulle het twee dogters, Marie en Rina, gehad. Rina was ook saam met ons op skool. Sover ek kan onthou, was Rina ‘n jaar of wat ná my. Ek onthou egter dat sy lang vlegsels gehad het en vreeslik vinnig kon hardloop. Mnr. Trasforini (ons het hom nooit anders genoem nie – dit het net nie reg geklink om vir ‘n Italianer “Oom” te sê nie) het my Pa altyd as ‘Mister la Kranski’ aangespreek.

Rosolino as reservis by Montagu Polisie
Rosolino by sy twee dogters, Rina en Marie

MOSTERTS
Dirk en Dirkie Mostert was Bessie se ouers, en Doreen en Kobun se grootouers. Hulle het naby Flip Smit van Rietrivier gewoon, op hulle plasie met die mooi naam Katjiepieringfontein.

Regs: Dirkie staan regs op die foto. Mooi rokke en hoede, nè?
Oom Dirk en tannie Dirkie Mostert

Tannie Dirkie het die mooiste kapkar gehad met die twee swart spogperde, Poon en Poppie, wat voor die kapkar ingespan is. Doreen sê iemand moes net vir haar ouma die perde inspan, en dan was sy en tannie Dorie, netjies uitgevat, op pad Montagu toe. Eers het hulle by Rietvlei se winkel gestop om hulle “notisietjie” af te gee.

Dirk en Dirkie se huis op Katjiepiering-fontein. Die voorste gedeelte moes lank ná Doreen se tyd aangebou wees, want sy het amper nie haar ouma se huis herken nie.
Namiddae het hulle weer daar gestop om die bestelling op te laai. En wanneer hulle wegry, het daar groot perdebolle voor die winkel gelê. Johanna (Stemmet) wat in die winkel gewerk het, onthou hoe my pa dan die mis gaan optel het en op my ma se dahliaplante gaan gooi het.
Oom Dirk en tannie Dirkie Mostert het eers op Ruigtevlei gewoon. Ná hulle dogter, Bessie, se troue met Koos Stemmet, het hulle Ruigtevlei verlaat en verhuis na Katjiepieringfontein. Die plaas is aan die voet van die pragtige Langeberge.
Doreen, ouma Dirkie se kleindogter, vertel dat die naam van die plaas afkomstig is van ’n varswaterfontein uit die berg waarvan die water in ’n dammetjie opgegaar is, waar sy en haar broer, Kobun, heerlik geswem het.

Is dit nie die mooiste foto nie! Tannie Dirkie (met Poon en Poppie) voor die Kriels se slaghuis op Montagu.
Doreen (Stemmet) onthou haar ouma Dirkie soos volg: As ek terugdink aan my kinderjare, was die kuiers op Katjiepieringfontein by my ouma Dirkie en oupa Dirk vir my van die waardevolste.
Ouma Dirkie was ‘n merkwaardige vrou en sy was ‘n wonderlike ouma. Sy was alreeds in haar sewentigs toe sy saam met ons die Langeberg bokant haar huis uitgeklim het, gewoonlik tot bo-op die eerste berg. Sy was baie goed vertroud met die omgewing.
Sy was ook ‘n boer en hulle plasie was selfonderhoudend. In die pragtige groentetuin was daar alles wat nodig was. Die aarbeie, vars uit die tuin, was ‘n groot bederf. Daar was ook verskeie soorte vrugtebome. Die Adamsvye veral was baie lekker.
Ek onthou ook al die diere op die werf. Daar was ganse, hoenders en kalkoene. Die ganse is ‘n sekere tyd van die jaar gepluk om donskussings te maak. Daar was ook gereeld kalkoen op die Krismistafel. Verjaarsdae was hoog op die prioriteitslys. Ouma Dirkie was die kok, en familie en vriende is genooi om saam te eet. Die tafels het gekreun onder die kos. Ouma het net grootmaat geken.
Sy het ook elke jaar, soos sy dit genoem het, ‘n lappie koring gesaai en een van die boere het dit vir haar gestroop. Die koring is dan in klein hoeveelhede na die meul op Montagu geneem waar dit gemaal is om brood te bak.
Nog ‘n besondere talent van haar was naaldwerk. Ouma het die mooiste mansklere gemaak. Oom Flip Smit van Rietrivier was een van haar kliënte.
As ek nou terugkyk, besef ek hoe bevoorreg ons generasie was om so na aan die natuur te lewe en al die waardevolle lesse eerstehands te kon ervaar.
Christa (de Jager): Mooi beskryf, Doreen. Sy was ‘n legende in haar leeftyd.
My ouma was só siek; dr. Retief het gesê hy kan niks meer vir haar doen nie. Sy het daar op Rietvlei by ons gelê en tannie Dirkie het gesê alle doktersmedisyne moet gestop word. Sy sou kruie in die berg laat haal en soos tee laat trek. Op ‘n wynbottel tee moes dan ‘n botteltjie Balsem Sulfirus en nog iets (Balsemkopiva?) gegooi word. Ouma moes drie keer ‘n dag daarvan drink. Sy het só beter geword dat dr. Retief sprakeloos was – en Ouma het nog jare daarna geleef.
As sy weer olik begin voel het, is ons bediende berg toe gestuur om kooigoedbossies, boegoe, ens. te gaan haal en ons moes net die resep volg en nuwe “tee” laat trek. Die potjie met “medisyne” het gereed op die Aga-stoof in ons kombuis gestaan.
Tannie Dirkie was ‘n baie besondere mens wat nog heerlike waatlemoenstukke ook gekook het. My kamermaat in Huis van Velden, Susanna (Burger), vertel dat haar pa en tannie Dirkie ’n ooreenkoms aangegaan het: Hy gee vir haar ’n sak “vuil” koring vir haar hoenders, en sy gee vir hom ’n slopemmer (hopelik ’n nuwe een!) vol waatlemoenstukke.
Doreen (Stemmet): Jy is reg, Christa. Sy het nêrens gegaan sonder haar koffertjie Hollandse medisyne nie.
Paul Fouché: Katjiepieringfontein was deel van Rietrivier waar oom Willie van Zyl en tannie Babé gewoon het. Hulle seun Pieter en sy vrou woon vandag in Montagu-Suid waar hulle huis uitkyk op die Kingna-rivier.
Hoe goed onthou ek nie tant Dirkie en daai kapkar nie! Ons het menigmaal van die dorp af gou by hulle ingedraai en koffie in die kombuis met die rietplafon gedrink. Die kapkar het altyd slaggereed voor die deur onder ‘n boom gestaan.
Tannie Dirkie was onder die plaaswerkers bekend as ‘n tante met wie jy nie skoorsoek nie: Behendig met ‘n sambok en sy skiet nie mis met ‘n geweer nie. Oom Dirkie met die baard het voorgekom as die sagter een van die twee.
Jakkalse se tjank het tannie Dirkie ook gou afgetrap. Sy het haar swart foxterrier, Basie, eenvoudig in die jakkalsgat gedruk en die gat voor toegemaak. Die gat is eers weer oopgemaak wanneer sy laatmiddag met die veetrop by die jakkalsgat verbygetrek het. Telkens het Basie, rooi van die bloed, met die dooie jakkals voor in die gat op haar gewag.
Basie het sy laaste jare by ons geslyt. Pa het eens foxterriers geteel en wou Basie se gene laat voortleef. Buks, een van Basie se nasate, het in sy herfsjare by ons op die dorp beland. Reeds halfdoof en halfblind, het Buks my een laatnag nie herken nie en wou my nie by die hek inlaat nie. Dit was nie ‘n klein hondjie wat vir my geknor en tande gewys het nie. Dit was weer Basie in die toe jakkalsgat. Reg om tot die dood toe te baklei.
Sag insluip om te voorkom dat Pa sy horlosie nadertrek, was buite die kwessie. Basie se kleinkind het huis opgepas en het deeglik geluister, gekyk en geruik voordat hy gewaag het om my in te laat.
Pa se heimwee, na my spanningsverhaal, het my laatkommery heeltemal oorskadu…
Hilda (Lombard): Ai, die stories wat almal so vertel, gee my skoon heimwee; doen my siel goed. Snaaks dat ‘n mens sekere goed vergeet, en as julle so vertel, kom alles helder terug – tot die mense se gesigte raak weer helder.
Ons het gereeld langs die pad gestaan en wag dat tant Dirkie met haar kapkar verby moes kom. Dit was soos om bioskoop te kyk in daardie jare. Ek sien nou nog in my geestesoog hoe sy daardie sweep klap. Dankie vir die deel van die foto, Doreen. Wonderlike herinnering.
Doreen (Stemmet): Op die foto (boontoe) het ek amper nie Ouma en Oupa se huis herken nie. Die plaas het baie verander sedert ons kinderjare – veral rondom die huis. Daar was groot bloekombome en dit lyk of daar meer wingerd aangeplant is.
Paul Fouché: Die huis is miskien onherkenbaar en die groot bome weg, maar die omgewing dra nog Rietrivier van my kinderdae se heimweespoor. Ons het daardie grondpaadjie baie gery met tant Dirkie se kombuisdeur altyd oop soos haar hart en menswees was.
Ina (de Jager): Ja, en die berge bly maar net mooi – al het alles verder verander!
Paul Fouché: O ja! Berge is en was deel van Rietrivier. Van ons agterdeur af het dit altyd gelyk of die berg net ‘n kettieskiet ver was.
’N KINDERDIENS LANGS DIE R62
As ons oor tannie Dirkie gesels, is dit byna onmoontlik om nie ook aan tannie Dorie te dink nie…
Tannie Dorie Bothma het saam met twee oujongkêrels, oom Japie Bothma (haar neef) en ‘n Van der Bank-oom in hulle huis (sien foto onder), so 17 km vanaf Montagu, langs die R62 gewoon.
Op ’n stadium het hulle ook ’n klein plaaswinkeltjie daar bedryf. Later jare het my pa dikwels by hulle gestop om hulle notisie se goedjies daar af te laai, en so het ons hulle beter leer ken.


Foto’s vanaf Facebook
Hulle het skape aangehou, en bedags is die skape veld toe geneem om te gaan wei. Die drie het voor geloop, en die skape het hulle gevolg.
Ds. Weideman het eendag hierdie beeld – van die drie wat voor die skape uitloop en die skape wat hulle volg – in ’n kinderdiens gebruik. Die skape volg die goeie Herder, omdat hulle Sy stem ken.
Tant Dorie en tant “Dirkie Nôster” (soos sy haar vriendin en buurvrou, Dirkie Mostert, genoem het), het ’n paar keer met tannie Dirkie se perdekar by die winkel aangedoen op pad Montagu toe – tannie Dorie netjies uitgevat in ’n gehekelde bedbaadjie.

Nou wil ek, soos die oumense altyd gesê het, met permissie (en ‘n glimlag), vertel: Tannie Dorie het eendag vir my ma gesê: “Daisy, Double Bendicks (’n outydse insekgif) is so goed; ek is sommer lus en skud ’n bietjie daarvan in my bloomer (ou onderklere) ook!” En dan het sy heerlik daaroor gelag.
Paul Fouché het hierop kommentaar gelewer: Kan nie vir tant Dorie onthou nie, maar dié storie is ‘n aardse juweel waarsonder ek armer sou wees.
Pa was nooit sonder sy “Double Benneks” nie. Honde is gereeld daarmee gepoeier. Die sterk, kenmerkende reuk sal my altyd bybly.
Die strategiese aanwending van die insekgif is nie doelloos nie. Ons weet nie meer van die stryd met vlooie, weeluise en vlieë in die plaashuise van weleer nie. Strooidakke met rietplafonne was aan die orde van die dag. Badkamers was ‘n luukse met die wastafelbeker en waskom wat maar die algemene norm was. Krane in ‘n huis was om my kleintyd aan te verwonder. Saterdae is die sinkbad volgedra vir badtyd. Soos die oom gesê het: “Jong, daai mense is agterlik. Hulle bad nie eens elke Saterdag nie.”
Heeldag in die veld tussen bosse en diere met ‘n hond en ‘n kat ook by, en ‘n vlooi vind sy gerieflike woning tussen die lakens.
Van liedjies gepraat – jy onthou seker vir Vlooi, vlooi. “Ouvrou, steek op die kers, daar’s iets hier in die kooi…” Mense het selfs oor dié vloekstene gesing!
Tant Dorie kon planmaak. Met wat sy het. Soos die moedige baanbrekers van weleer.
MARAIS-GESIN
Oom Willempie, tannie Sannie Marais en hulle sewe kinders het op Leeuwrivier langs die R62 gewoon. Hul oudste dogter, Susan (“Dolly”), het vier jaar lank Rietvlei No. 1 se skool bygewoon, aangesien Klipheuwel se skool tydelik gesluit was weens te min leerlinge.
Hulle kinders is Susan (“Dolly” 1941 gebore), Bertha (1943), Dina (1946), Petro (1947), Sarel (1952), Oba (1954) en Wilna (1956. Sy is in 2025 oorlede).

Die sewe Marais-kinders
Die huis op Leeuwrivier waar die Marais-gesin gewoon het.


By hulle ouers se grafte op Leeuwrivier
Al sewe kinders op Montagu se kerkstoep

Hierdie is maar net ‘n paar van die Rietvleiers van ons grootwordjare en vroeër. Daar was nog baie ander. Mense met vanne soos Conradie, Ackhurst en Jordaan wat by die Nels voormanne was; Swanepoel, Steyn, Haasbroek, Crafford, De Wit, Vos, Wolfaardt, e.a.
Daarna het daar nog baie nuwe mense in latere jare bygekom: te veel om op te noem.
(Foto’s en stories van die De Jagers en hulle winkel en slaghuis in Deel Twee.)

Bydraes: Dankie Kobus Smit vir die proeflees
