96. A.W. Wegelin

PROFESSOR ARTHUR WILLEM WEGELIN
Saamgestel deur Irma Jordaan uit inligting verkry vanuit die Montagu Argiewe
Professor Arthur (Uitgespreek Artur) Willem Wegelin, ‘n Nederlander van geboorte was een van daardie mense wat vir ‘n tyd deel geword het van die Montagu gemeenskap en ongevraagd bydraes gemaak het op ‘n kulturele en intellektuele gebied.
Professor Wegelin en sy vrou Wytske, het hulle in 1979 in Montagu kom vestig en hy was betrokke by kulturele aangeleenthede tot en met sy dood in 1995.
Hy het ‘n baie interessante lewe gehad en in ‘n onderhoud met die SAUK (circa 1988) skets hy in sy eie woorde sy lewensverhaal:
“In Nederland is ek gebore en waar ek die eerste helfte van my lewe deurgebring het. Die tydspan tussen 1908 en 1947 verteenwoordig twee wêreldoorloë en ekonomies – wat die kunste betref – swak toestande, sukkelende orkeste op die rand van ondergang maar ook steeds groot inkomste uit die Nederlandse kolonies vir die bevoorregte deel van die bevolking. Gebore uit daardie bevoorregte klas het ek aanvanklik skeikunde gestudeer maar dit nie voltooi nie.
Op 18 jarige leeftyd het ek besluit om my loopbaan te verander en ‘n musikus, ‘n violis te word. My loopbaan het na my studie maar stadig gevorder van ‘n privaat vioolonderwyser tot ‘n orkeslid. My opleiding was gebrekkig, gemeet teen die huidige onderwys. Ek het nie geld vir die beste onderwysers gehad nie. Ek het my daaglikse brood met harde werk en bitter min betaling verdien. Ek was ‘n skugter jong man met vrees vir die verhoog wat my beperk het en tegelykertyd groot liefde en entoesiasme vir die ernstige musiek, wat my steeds op allerlei musiekterreine laat ontwikkel het. Geleidelik het ek ‘n beter violis geword en ‘n beter posisie in die orkes beklee.
‘n Groot kring leerlinge in en om my woonplaas Utrecht het ontstaan wat beteken het dat ek omtrent elke dag van die week nie net die repetisies en uitvoerings – soms 28 per maand – van die orkes moes bywoon nie, maar dat ek ook amper elke dag na ‘n ander plek gery en in die namiddag vioolles gegee het.
Daarby het bykomende inkomste van los werk by die radio en by kamerorkeste gekom. By die radio was dit ligte musiek in kleiner en groter ensembles, maar soms ook eksperimente met Barok en Renaissance musiek. Dit was die tyd van die opkoms van die klawesimbel en die Barok strykinstrumente. Aan daardie ontwikkeling, wat heftige debatte in die media uitgelok het, het ek met hart en siel deelgeneem. Ek was lid van twee kamerorkeste wat albei op Barok-musiek gespesialiseer het.
Omdat my prestasies as konsertviolis deur senuwees verongeluk is, het ek my meer op musiekteoretiese ontwikkeling toegelê. Henk Badings was net ‘n paar jaar ouer as ek, hy was ‘n lektor in geologie aan die Tegniese Hogeschool Delft en het my gehelp met lesse in kontrapunt. Sy persoonlikheid het ‘n defnitiewe invloed op my gehad.
Veel later in Potchefstroom het hy op my uitnodiging ‘n lesing oor elektroniese musiek vir Fisika-studente gegee en my met goeie raad vir my komposisieontwikkeling gehelp. Henk Badings het gevorder tot een van die grootste komponiste van ernstige musiek van die 20ste eeu. Enkele jare gelede het ek hom nog in Nederland besoek en het hy na my komposisies geluister.
Ek het dus middelbare staatseksamens in musiekteorie geslaag en begin komponeer. Daar was weer geen geld om les daarin te neem nie en ek het my lewe lank ‘n outodidak gebly.
Daar is veel meer wat my in Nederland besig gehou het. Daar was my verbinding met die NCSV, die Nederlandse Christen Studenten Vereniging, waarmee ek tot my 32ste jaar verbind was. Ek het ook as konsertagent opgetree en meer as 100 konserte vir skole georganiseer, met alles wat daarmee aan organisering verbind is. Ook was ek betrek in die Uterechtse bestuur van die KNTV, die Koninklijke Nederlandse Toonkunstenaars Vereniging en het ek musiekresensies vir die plaaslike koerant geskrywe. Ek was bevriend met Kees Boeke waar die Nederlandse prinsesse sou skoolgaan en was konsertmeester van sy Mattheuspassie-uitvoerings. Intussen is ek getroud met ‘n dominee se dogter uit Twente. Ons het gebly in ‘n ou plaashuis naby die stad. Dit was spotgoedkoop en romanties met ‘n groot ou lindeboom voor die opstal aan die Oude Ryn. Daar was geen water en krag nie. Die water is daagliks met emmers gehaal en met parafienlampe en parafienstofies moes ons vir ligte en kosvoorbereiding klaarkom.
Baie vriende het ons besoek, baie musiek is gemaak en baie gesprekke onder die lindeboom het in die somer plaasgevind. Ons het drie jaar daar gebly, albei my kinders is daar gebore en eers met die begin van die tweede wêreldoorlog het ons na ‘n woonstel in die stad getrek.
Die tweede wêreldoorlog het ‘n verskerping van ons moeilikhede gebring. Daar was die bykomende gebrek aan voedsel en kommoditeite, die voortdurende vrees om deur die Duitse besetters gevang en na Duitse fabrieke gedeporteer te word; daar was die morele aanslag wat die blanke bevolking hier glad nie ken nie, die doodskiet en wegvoer van vriende, veral Joodse vriende, die dwang om met die orkes vir die verheerliking van die besettende Weermag te moet optree en gevolglik my bedanking uit die orkes.
My jong vrou is na ‘n siekbed van enkele dae aan ‘n onbekende siekte oorlede en ek moes ‘n jong huishulp kry om met die twee klein kinders te help. Die kinders is later na vriende op die platteland in Twente in die Ooste van die land en self het ek ondergeduik in my eie woonstel en my liederesiklus Eurydice gekomponeer.
Daar was uiteindelik geen vervoer, geen krag, geen posdiens, geen kos, geen ondergrondse huiskonserte om in op te tree, geen leerlinge nie. Daar was net ‘n maandelange wag vir die bevryding, alleen in ‘n kamer met toegeplakte vensters, met kommunikasie slegs met die bure deur die dakgeut in die nag, lang nagte sonder krag of kerse waarin mense op straat geskiet word. Ek wil nie daarby stilstaan nie.”
BESLUIT OM NA SUID-AFRIKA TOE TE EMIGREER:
“My broer en een suster het my voorafgegaan. Ander familie het reeds aan die begin van die eeu na Suid-Afrika ge-emigreer. Vriende van ons was alreeds ook in Suid-Afrika. Daar was dus sterk bande. Nederland was in puin en ons kon in die eerste na-oorlogse jare nie vermoed dat die ekonomiese opswaai om die draai was nie.
In Nederland het ek ‘n uitsiglose lewe gelei, sonder hoop. Ek het dus my huis en my lespraktyk as ‘n pakket verkoop, al my besittings na Kaapstad gestuur en met my kinders op die Willem Barendsz (vroeër gebruik as walvisjagter) na Kaapstad verskeep. In daardie jare moes ons self vir alles betaal en met my aankoms in Kaapstad het ek nog £36 van my kapitaal oorgehad waarvan ek egter £30 aan doeaneregte moes betaal. Ek het my lewe in Suid-Afrika dus met £6 begin.”
EERSTE JARE IN KAAPSTAD:
“My eerste kontakte was met Charley Weich en Stefans Grove. Charley Weich was verbind aan DIE BURGER en het musiekresensies onder die naam Emol geskryf en die ORANJEKLUB aan die gang gehou. Stefans was ‘n pas afgestudeerde jong pianis, orrelis en komponis. Saam het ons ‘n duo gevorm en baie uitvoerings in die ou Electricity-saal in Kaapstad, die Konservatorium-saal in Stellenbosch, in Paarl en ander plekke so ver as Graaff-Reinet gegee.


Oblique view from east
Submitted by Paul VAN DER MERWE
Photographer: Unidentified
The building was designed by competition and also received a Cape Provincial Institute of Architects Bronze Medal Award in 1934. It was still intact when inspected by John Rennie in February 1978.
A whole street block of six buildings, including this one, Parkers Building and the Trident Building, was demolished to make way for the Southern Sun Cape Sun Hotel.
Rennie, John for CPIA. 1978. The Buildings of Central Cape Town 1978. Volume Two : Catalogue. Cape Town: Cape Provincial Institute of Architects. pg 104 item 50.33
Dirkie de Villiers het my hartlik betrek by orrelkonserte. Die twee orkeste, die KSO en die SAUK het my as solis genooi en ek kon van my viool-en-orkes-repetoire met hulle uitvoer – concerto’s van Mozart, van ou Italiaanse komponiste, die Saudade van Arnold van Wyk, Glazunoff, Lalo se Symphonie Espagnol. My Nederlandse vrees vir die verhoog het verdwyn.
Heel aan die begin van hierdie ontwikkeling het ek egter maagkoors gekry en dit bly ‘n wonder dat ek uit die dood opgestaan het. Ek het weke lank bewusteloos in ‘n hospitaal in Groenpunt gelê. My kinders was by my vriende in George, min mense het my in die afdeling vir besmetlike siektes kom sien.
Toe ek daar ontslaan is, kon ek nouliks loop en geen noot vioolspeel nie. Ek moes alles weer opnuut aanleer. Ek het letterlik alles verloor: my vrou, my kinders, my geld, my inkomste, my naam en my groot vriendekring in Holland. Ek was letterlik soos Job. Ek het ‘n kort tyd in Stellenbosch gaan woon in die hoop op ‘n aanstelling by die Konservatorium daar. Hoewel ek daar baie vriende gemaak het en met sukses daar as violis opgetree het, met onder andere al die sonates van Beethoven, het die Konservatorium my duidelik en pertinent afgewys. Ek het terug moes gaan na Kaapstad waar die Engelse en die Hollanders my hartlik gesteun het.
Eenmaal gesond, was die sukses met my solistiese werk as violis ‘n groot aanmoediging. Dit was egter onmoontlik om ‘n bestaan as ‘n vryskut-violis óf as ‘n vioolonderwyser te maak, hoewel die Musiekkollege van die Universiteit Kaapstad my as ‘n deeltydse onderwyser aangestel het. My moed het meer en meer gesak. Die ontmoeting met my tweede vrou by die Nederlandse Ambassade was ‘n keerpunt. Ons het besluit om te trou en met die kinders as ‘n gesin, by die nuutgestigte Konservatorium, in Potchefstroom gaan werk.

By die Potchefstroom se Universiteit vir CHO is ek as vioolonderwyser aangestel. Dit was pioniersarbeid om al die rou talent, die soms onbelangstellende ouers, ook die geringe belangstelling van die universiteit self, om te buig na positiewe ontwikkeling met leerlingkonserte en strykorkessies.
Na enkele jare het ek ingesien dat dit my nêrens sou bring nie en ingeskryf by UNISA en die B.Mus- en M.Mus – grade voltooi. Daarmee kon ek as ‘n lektor aangestel word en is ek geleidelik by die teoretiese onderwys ingeskakel. My loopbaan as ‘n vioolsolis was egter daarmee heen, die laaste 25 jaar het ek nie meer viool gespeel nie. Na my suksesse in Kaapstad was dit bitter om na soveel harde werk oor 30 jaar dit te moet laat staan.
In 1965 het ek ‘n aanbod gekry om ‘n musiekdepartement by die nuutgestigte Universiteit van Port Elizabeth op te rig. Ek moes weer met rou, soms swak talent, begin. Daar was aanvanklik geen fasiliteite en dit was opwindend om self te kan bou aan ‘n filosofie van onderwys, aan die opbou van ‘n voorraad handboeke, musiek en gramofoonplate.
Die doserende personeel van die nuwe universiteit was die room van die land en ons het wonderlike kontakte gemaak en ‘n intensiewe sosiale lewe gelei. In 1969 is ek daar weg om eers amper ‘n jaar plaasvervangende Hoof van die Toonkunsakademie van die Universiteit van Port Elizabeth te word en daarna nog twee jaar as senior lektor, vernaamlik gevorderde komposisietegniek, te doseer.
In 1973 moes ek weens die bereiking van die aftreeleeftyd uittree en het ek ‘n aanstelling as senior navorsingsbeampte by die RGN aanvaar. My lewenslange belangstelling in musieksielkundige prosesse en die persoonlike navorsing wat ek reeds in P.E. begin het, het daartoe gelei om saam te werk aan die ontwikkeling van musiekaanlegtoetse vir verskeie departemente van onderwys.
Weer was dit pionierswerk waarby ek self die mas moes opkom en waarby ons verskeie Europese lande vooruit was. Met die samewerking van soveel deskundige RGN-personeel het ek baie geleer en kon ons ‘n reeks groeptoetse opbou wat nou by die onderwysdepartemente beskikbaar is. Na vyf jaar voltyds groeptoetse maak, het ek met my 70ste jaar afgetree en my hier in Montagu gevestig om my voltyds op komposisies te kon toelê.
Die ontwikkeling hier behoort tot die belangrikste van my lewe. My skeppende, kreatiewe aanleg vir musiek kon ek hier ontwikkel en uitbou sonder enige inmenging van buite, sonder ‘n salaris, sonder voorskrifte. Hier het ek die opvoedkundige reeks Oom Willem-stukke geskep. Hier het my belangrikste kamermusiek soos my twee strykkwartette en die klaviertrio opus 42 ontstaan, ook die “Western Gate” en die Hadewijch-motet, die orkestrasie van die Eyrydice-sikllus, die harpconcerto “Misty Point” en die werk vir die Paarfeesvierings “Die Pêrel van Suid-Afrika”. Die meeste daarvan in onbekend óf nooit óf slegs swak uitgevoer.
HOE HY DIE TOEKOMS VIR KOMPONISTE SOOS HY, SIEN ANTWOORD HY:
“In die eerste plek moet u onthou dat ek ‘n immigrant is en altyd sal bly. Ek is nie ‘n gebore Afrikaner nie. Ook het ek my van die begin van my lewe in Suid-Afrika aangesluit by Afrikaans-sprekende deel van die bevolking. Ek is lief vir die Afrikaanse taal; dit was ‘n vak by my B.Mus.-studie; ek het verskeie boeke in Afrikaans gepubliseer; ek skryf gedigte in Afrikaans.
Dit was vir my ‘n natuurlike aansluiting by my Nederlandse agtergrond. Engels het ek eers geleer op die skip na hier. Duits het ek vroeg geleer lees en praat, Frans en Engels ook vroeg leer lees maar nooit gepraat nie. In teenstelling tot die meeste Nederlanders het ek my vereenselwig met die Afrikaners en my lewensuitkyk lê in die verspreiding van kultuur, my vanselfsprekende Nederlandse kultuur onder Afrikaners. Nie dat dit ‘n dankbare taak is nie, ook nie dat dit so ‘n hoogheilige taak is nie, ek is maar ‘n doodgewone man met groot liefde vir die ernstige musiek, opvoeding en beȉnvloeding – óf dit kinders óf studente óf volwassenes is – moet onbewustelik plaasvind.
Liefde vir die taal beteken liefde vir die nasie, ek is oortuig dat die Afrikaans-sprekendes die sleutelrol in die stryd op lewe en dood vir Suid-Afrika sal speel.”
OMTRENT SY ONTWIKKELING AS KOMPONIS:
“My eerste komposisies dateer uit 1933 in Nederland. Die eintlike ontwikkeling as professionele komponis dateer egter van die vyftiger jare in Potchefstroom. In my kinderjare is ek opgevoed met die Duitse klassieke en romantiese komponiste. As ‘n jong orkesviolis het ek die Nederlandse ontwikkeling na ‘n verering van die Franse impressionistiese komponiste Debussy en Ravel, ook van Chausson, Pierne, Lekeu meegemaak. Ek het ook die invloed van ekpressioniste soos Florent Schmitt, Albert Roussel, Busoni en baie ander ondergaan. Veral Paul Hindemith het groot invloed op my gehad en ek het sy leerboeke baie deeglik bestudeer, hy het ook met ons orkes kom optree. Sy Maria-liedere was vir my ‘n openbaring. In Suid-Afrika het die beȉnvloeding tot stilstand gekom. Nou was dit ek wat as kamermusiekspeler ander beȉnvloed het met die voordrag van Nederlandse en Franse werke.
Vanuit Suid-Afrika het ek twee keer die Internasionale Komponiste-werkswinkel in Darmstadt bygewoon. Die eerste keer in 1959 was dit ‘n besondere geleentheid met Stockhausen, Ligeti en Nono as die hoofpersone.
Dit was die na-oorlogse Duitse sentrum, mens kan sê wêreldsentrum, vir die nuwe musiek waar al wat avant-garde is, bymekaar kom. Hoewel ek niks van die meeste nuwighede gehou het nie, het dit tog deur my persoonlike voorkeure deurgesig en ‘n groot invloed op my komponeer gehad. Met die besoeke was ek ook op hoogte van die nuutste ontwikkelinge en kon ek later nagraadse kursusse in komposisie aan die UP aanbied. Daar in Darmstadt het ek ook die verbinding met die relevante vakliteratuur kon maak. In Potchefstroom het ek my eie sisteem van ‘n soort verglydende poliharmonie gemaak en dit toegepas in ‘n reeks komposisies. In Potchefstroom het ek ook die musiek van die swart volke ontdek en dit begin gebruik in my werk. Ook het ek Totius daar nog ontmoet by ons vriende prof. Gert en sy vrou Riek Dekker en van sy tekste getoonset, na die van my voorganger Sydney Richfield, seker van die eerste

Met die gaan na Port Elizabeth het my komposisies tot stilstand gekom en eers in Montagu kon ek my wesenlik verder ontwikkel. Uit die jare hier is my verbinding met Freda Linde. My werk in Montagu is eintlik ‘n hoofstuk op sigself.”
Ten slotte noem hy – “Ek het graag ook met my hande gewerk en op my manier meubels vervaardig. Ek het ook my eie huis in Montagu ontwerp en geteken en was eienaar-bouer met ‘n plaaslike bouer wat die arbeid onder my toesig gedoen het. Op die gebied van sport het ek niks gepresteer nie. In my jeug het ek fiets gery en geswem en in Suid-Afrika sou ons baie graag gestap het, maar in ons aktiewe tyd was daar geen stappaaie buite Tafelberg en nou dat dit uiteindelik gekom het, is ons te oud. Nog steeds versorg ek my eie groentetuin.
Ek het ‘n seun en dogter en sewe kleinkinders. In Montagu het ek gedien as sekretaris van die Tuinbouvereniging, voorsitter van die Bewaringskomitee, was ek die stigter en voorsitter van die Montagu Musiekvereniging en is ek die sekretaris van die Leesunie.”

Die huis van Arthur en sy vrou Wytske in Kruinsingel, Montagu wat hulle “Zoetelief” genoem het. Die naamplaat kan nou (2023) nog by die voordeur van die huis gesien word.
Die huis met die ateljee aan die regterkant. Die oorspronklike huis en ateljee is onderverdeel en die ateljee is in ‘n woonhuis omskep.
Die kerskaartjie geteken deur Prof. Wegelin wat duidelik sy huis se ligging aantoon



PIcture: Google Streetview

Die vooraangesig van die huis in Kruinsingel, Montagu
Die ongewone hoë plafon van die sitkamer. Volgens Bruce Page, die huidige (2023) eienaar het die kamer ‘n uitstekende akoestiek wat Wegelin so moes ontwerp het sodat hy sy musiek meer kon geniet.


Picture: Google Streetview

Langs sy huis, het hy vir hom ‘n ruim ateljee gebou. In ‘n koerantberig van Die Burger gedateer 14.7.1980 word dit as volg beskryf:
“In sy musiekateljee (foto onder) – ‘n interessante en karaktervolle geboutjie wat hy self ontwerp en gebou het, ontvang hy graag belangstellendes.
Met geesdrif gesels hy oor die portrette van sy Switserse voorvaders teen die muur bokant die klavier waarby hy daagliks komponeer. Die klavier is ‘n swart Steinway-vleuel wat sy vader as geskenk aan sy moeder gegee het met die geboorte van die klein Arthur.”
Uittreksel van ‘n artikel oor Professor Wegelin wat geskryf is deur Heinie Heydenrych en verskyn het in die Oktober 2008 Montagu Mail:
In 1979 het Wegelin hom op Montagu gevestig. Hy het dadelik by kulturele aangeleenthede in die dorp betrokke geraak. Hy was die eerste voorsitter van die Bewaringskomitee wat die Reklamekomitee van vroeër vervang het. Onder sy voorsitterskap het die Bewaringskomitee dadelik vir die bewaring van die argitektoniese erfenis van Montagu in die bresse getree.
Die Bewaringskomitee het onder Wegelin se voorsitterskap foto’s deur sy kleindogter, ‘n bekende fotograaf laat neem met die oog op die indien van aansoeke vir bewaring. Daar is ook met die plaaslike en ander owerhede gepraat, advies gegee en gesaghebbende menings ingewin omtrent historiese geboue in die dorp, terwyl ‘n goeie verstandhouding met die destydse Historiese Monumentekommissie opgebou is.
Die oorhaniging van die gedenkteken van die Jouberthuis
as Nasionale Gedenkwaardigheid

Een van die geboue wat op die laaste nippertjie deur die toedoen van Wegelin-hulle van sloping gered is, was die gebou wat langs aan die Hofmeyrsaal staan. Vandag staan hierdie grasieuse gerestoureerde gebou trots in Badstraat sy plek vol langs die Hofmeyrsaal en vorm dit saam met die Kaaps-Hollandse huis by Badstraat 20 ‘n belangrike deel van Montagu se argitektoniese erfenis.

Intusssen het Arthur Wegelin sy eerste liefde, die wêreld van musiek, gedien deur in 1984 die Montagu Musiekvereniging te stig. Die eerste konsert het op 18 Mei 1984 plaasgevind toe die sopraan Cecile Coetzee met Matthys Strüpfer as begeleier opgetree het. Wegelin het ook van tyd tot tyd lesings oor musiekwaardering gehou. Aanvanklik is van die Hofmeyrsaal vir uitvoerings gebruik gemaak en dis eers later dat na die Museum Sendingkerk oorgeskakel is.

The Montagu Music Society is still active today (2023) and arranges regular recitals for music lovers, a proud legacy of Prof. Wegelin

Terwyl Wegelin in Montagu gewoon het, het hy voortgegaan met komponeer en soms onder die skuilnaam “Oom Willem” musiekwerke uitgegee. Hy het ook ‘n aantal vioolleerlinge in die dorp gehad. Hy was ‘n groot liefhebber van Montagu se natuurlike omgewing wat hom ook in sy komposisies geȉnsipireer het. In September 1983 is ‘n harpkonsert wat hy hier gekomponeer het die eerste keer in Johannesburg saam met die Nasionale Simfonie-orkes van die SAUK uitgevoer. Die solis was die bekende harpspeelster Kathleen Allister.
Hy het die stuk “Misty Point” genoem na die hoogste punt van die Langeberg regoor die Vlakte met Swellendam aan die suidekant, wat hy uit sy ateljee aan Kruinsingel kon sien. Die musiek beeld pragtig die mis uit wat oor die berg rol. Toe Wegelin 86 jaar oud was is ‘n program gewy aan sy werke in Maart 1994 in die Endlersaal op Stellenbosch uitgevoer.
Wegelin is op 6 Oktober 1995 oorlede. Tydens sy begrafnisdiens is ‘n komposisie van hom met die titel “Voorjaar in Montagu se Natuurtuin” op die klavier en klarinet uitgevoer. Hy was ‘n groot ondersteuner van die Natuurtuin en sy as is uiteindelik in die tuin gestrooi.
Picture taken at Montagu Nature Garden.

Middle L/R Cia Cilliers, Piet Badenhorst, Inez Kachelhoffer, Louis Kachelhoffer
Front L/R Blackie Badenhorst, Sylvia Krige
Picture: Blackie Badenhorst
Photographer: Esther Hofmeyr



1983 MONTAGUER VAN DIE JAAR GEKIES
Berig geplaas deur Beulah Liebenberg
Prof. Arthur Wegelen is by die afsluitingsfunksie van die Rapportryerskorps van Montagu aangewys as Montaguer van die Jaar.
Vanjaar is vyf mense benoem. Prof. Wegelen het vanjaar vir Montagu baie publisiteit besorg toe daar met sy 75ste verjaarsdag verskeie artikels oor hom in nuusblaaie dwarsoor die land verskyn het.
Daarbenewens het die wêreldprimiêr van sy konsert “Misty Point” vroeër vanjaar in Johannesburg plaasgevind toe Kathleen MacAllister dit saam met die SAUK se simfonie-orkes uitgevoer het.
Studente van die College of Music onder leiding van Peter Watzon, het in Kaapstad ‘n uitvoering van sy werke gegee. Prof. Wegelen se komposisie, “Dreams”, is teen die einde van 1982 oor die televisie gehoor.
Hy het ook ‘n bydrae op die gebied van bewaring, tuinbou en plaaslike musieklesse gelewer.
Tydens die oorhandiging by die dinee is meriete-sertifikate aan al die ander benoemdes oorhandig. Hulle was mnre. Stoffel le Riche, Sonny Malan, Piet Badenhorst, en mev. Annatjie Keller.
Die dinee is bygewoon deur lede van die Rapportryerskorps asook verteenwoordigers van verskillende verenigings op Montagu.
Die gaste is in Joubert Huis ontvang en het daarna na Montagu Museum beweeg waar die Beheerraad van die museum ‘n dinee aangebied het.

D.O.B 5.3.1908 – D.O.D 6.10.1995

op Donderdag 12 Oktober 1995

Wat sê Paul Fouche
Ek was bevoorreg om prof. Philip McLachlan se Skoolmusiekkursus te kon volg. In my eerste onderwysjaar het ek eendag een van my dosente benoud geskakel om te hoor of daar nie ‘n nuwe boek is met liedjies en begeleiding vir kinders nie, want my voorraad was byna gedaan. Sy raad was: “Bestel dadelik Nuwe wysies van oom Willem!” Liedjie no 30, Oom Kaalkop, was nogal ‘n toets in my finale jaar. Ons moes binne minute ‘n wysie vir dié gediggie van Leipoldt komponeer. Goeie punte verdien, maar ek verkies steeds oom Willem s’n!





Bronne:
Dokumente en koerantartikels – Montagu Museum Argief
Thank you to Bruce & Cathie Page for opening your home and sharing your knowledge
