135.Mense van Montagu: Die Poggenpoels

image_pdfDOWNLOAD PDF

Opgedateer: 01/02/2026

Geskryf deur Melinda Wheeler (geb.Poggenpoel)

‘n Tydjie gelede is ek gevra om my herinneringe van Montagu te deel.

Wanneer ek aan Montagu dink, is dit met liefde aan my Hartsdorp.

My ouers, Poggie & Ansie Poggenpoel, het gedurende die 1940’s as ongetroudes daar aangekom en begin werk.  Pappa as Rekenmeester (daardie tyd Boekhouer genoem) by die KWV en mamma by ‘n Joodse Prokureur. Hy het haar aangestel aangesien sy goed kon Engels praat. Pappa was gebore en getoë in Carnarvon in die Karoo en mamma in Robertson.

S.J. Poggenpoel

My pa toe hy as burgemeester van Montagu gedien het

Ek en Selmo met mamma se 90ste verjaardag

Mamma het na Matriek by die Kaapse Tegniese Kollege op Stellenbosch in 1943 ‘n 1-jaar Kursus in Huishoudkunde gevolg. Die kursus het oa Kunsnaaldwerk, Kookkuns, Koekversiering en Modemakery ingesluit. Daar was sy woonagtig in die koshuis, genaamd Rosenhof.  Nadat sy die kursus voltooi het ,het sy Montagu toe gegaan.  Die kursus was so in haar kraal, want sy het oa gereeld Kunsnaaldwerk beoefen. Sy het ook die netjieste naaldwerk gedoen en al my en haar klere self gemaak, selfs my trourok.  Sy was ook ‘n uithalerkok. Wanneer jy aangesit het vir ete, het jy altyd vir ‘n 2de porsie gevra.  Pappa en mamma het mekaar dmv gemeenskaplike vriende ontmoet.  Die liefde het geblom en in Augustus 1948 is hulle in ons pragtige NG kerk getroud.

Hulle het hul getroude lewe begin in die Van der Merwehuis wat in Langstraat 50 geleë is. Dit was aangrensend aan die KWV.  Die huis is in 1974 tot Nasionale Monument verklaar. Daardie tyd was die huis in besit van die KWV wat dit by oom Ben (Bella) van der Merwe gekoop het. Hy het sy melkery daar bedryf.

Van der Merwe Huis Langstraat 50 ons eerste huis in Montagu

Foto: Google Streetview

Ons was 4 gesinslede. Selmo, my broer, was ouer as ek. Ons is albei gebore en getoë in Montagu en ons 1ste kinderjare was in die Van der Merwehuis.  My ouers het toe ‘n huis in Montagu-Suid laat bou, tussen die 2 brûe wat vandag nog bestaan. Die groot brug is gedurende 1960 gebou. Toe ons in 1960 daar ingetrek het, was dit maar ongerep. Deur harde werk het my ouers dit in ‘n pragtige plek omskep. Mamma se tuin was haar “pride and joy” terwyl die boerdery pappa se groot liefde was. ‘n Groot Appelkoosboord asook wingerd  is aangeplant wat tot teenaan die rivier gestrek het. Later het nog verskillende vrugtebome nader aan die huis gevolg. Hoenders, ‘n paar beeste en skape is later aangeskaf. In die agtertuin was 2 Amandelbome. Wanneer hul in lentetyd in volle blom was, was dit ‘n lus vir die oog en die bye was dolgelukkig.

Die huis op die hoek van Kerk en Van Riebeeckstraat Montagu-Suid voordat my ma die tuin uitgelê het

Foto: Transnet Heritage Library Photo Collection

Die brug oor die Kingnarivier word gebou in 1960’s met ons huis links in die agtergrond

Die uitsig van ons tuin. Die Kingna brug van ons voortuin nadat die brug klaar gebou was

Die KWV stookhuis van ons agtertuin

Die Hoërskool Montagu in die agtergrond

Ons Huis in Montagusuid

Foto links: Bloupunt in die agtergrond

Ons was selfvoorsienend in vrugte, die heerlikste heuning wat my pa gereeld uitgehaal het, vars melk asook botter wat ons self gemaak het. Mamma het gereeld konfyt gekook en vrugte ingelê. Tuisgemaak smaak mos maar die beste! Gereeld is daar blikke vol koekies gebak vir die Desembervakansies op Stilbaai.

Ek en Selmo het ‘n sorgvrye kinderlewe gehad. Mamma het altyd gesorg vir heerlike kinderpartytjies. Ons partytjies was altyd saamgehou aangesien ons net 2 maande uitmekaar verjaar het. Dan het mamma vir ons elkeen ‘n verjaardagkoek van ons keuse gebak en versier. Gedurende die Junie skoolvakansies het ek en Selmo pal voor die kaggel gesit. Wingerdstompies het ‘n kaggel lekker laat brand. As ons nie boeke gelees het nie, het ons Bordspeletjies gespeel. Ons het dan ook die amandels vir mamma uitgedop terwyl ons voor die kaggel gesit het. Mamma het ook gesorg dat ons genoeg knibbelgoed het. Dit was kosbare tye gewees. Ek en Selmo was albei leerlinge aan die Kindertuin, Laerskool en toe gematrikuleer aan die Hoërskool.  Aangesien ons so naby aan die Hoërskool gewoon het, het ons altyd ‘n paar minute voordat die skoolklok sou lui by die skoolhek ingestap.

Die Kindertuin

Foto: Transnet Heritage Library Photo Collection

Van kleinsaf is ek lief vir diere. Ek het op ‘n stadium 7 katte gehad. Gelukkig kon hulle stap net waar hul wou, selfs tot onder by die rivier. Later het ‘n babahasie bygekom wat ek met ‘n popbotteltjie gevoed en grootgemaak het. Haas was groot maats met die katte en ons Rifrughond, Oubaas.  Wanneer ons vakansies en soms naweke Stilbaai toe gegaan het, het Haas sommer vanself in die motor gespring om saam te gaan. Dan het hy heerlik in die sand baljaar. ‘n Boer het eendag  ‘n baba Boerbokkie vir my gebring. Haar ma het haar verwerp en ek is toe haar nuwe ‘’ ma’’. Bella was later pure hansbok! 

Selmo het eendag uit die bloute besluit om ‘n kano uit sinkplaat te bou. Toe dit klaar was, moes dit natuurlik op die rivier uitgetoets word.  Ek en Oubaas was die eerste passasiers. Al laggende (en blaffend) is ons af in die rivier. Die kanovaart was ‘n sukses, want nêrens was lekkasies nie.  Selmo het tydens sy studiejare op Stellenbosch elke naweek huis toe gekom. Die rede…hy het besluit om ‘n MG Sportmotor weer op te bou tot sy eertydse glorie. Metlerkamp Bakwerke het gesorg vir al die onderdele ens. wat hy nodig gehad het. Toe dit klaar was het Metlerkamp Bakwerke dit weer pragtig pikswart gespuitverf. Die Padwaardigheidstoets was geslaagd en gereed vir die ooppad! Wanneer hy naweke huis toe gekom het, het hy my gereeld vir ‘n lekker rit geneem met die wind deur ons hare. Op sonnige dae ry jy mos sonder die dakkap.  Selmo se beste vriend was Botha du Plessis. Hy was die seun van ons Stadsklerk, mnr Duppie du Plessis en sy vrou Rina. Hulle was ook groot huisvriende van my ouers. Selmo en Botha het gedurig oor en weer gekuier. Hulle het ook saam op Stellenbosch studeer, maar in verskillende studierigtings en in verskillende  koshuise gewoon.

MG soortgelyk aan Selmo s’n

Pappa en oom Duppie du Plessis (Stadsklerk Montagu)

Ek en Lana Barrett was groot vriende. Ons het gereeld oor en weer gekuier. Dan het ons gewoonlik voor die klavier gesit en duette gespeel of speel vir mekaar nuwe liedjies wat ons geleer  het. Musiek was my lewe. Ek het van jongs af musieklesse by juf Amanda Schwarzendahl geneem. Sy was die musiekonderwyseres by ons Hoërskool. Sy het ook ons Skoolkoor afgerig waarvan ek ook ‘n lid was. Sy het by die destydse Lindella Losieshuis (later Blou Pieke) gewoon. Later het sy getrek na ‘n huis in Piet Retiefstraat, net om die hoek van Brinks Bros.

Dokument: “Montagu – Het jy hier grootgeword of gekuier of hier skool gegaan”

Lindella Losieshuis (later Blou Pieke)

Foto: Transnet Heritage Library Photo Collection

Gedurende 1972/73 het my ouers ‘n huis gerestoureer. Die huis is in Piet Retiefstraat geleë, direk langsaan die Landdroskantoor. Die huis het maar sleg gelyk, maar nadat dit klaar gerestoureer was, was dit pragtig. Mamma het goeie smaak gehad met Binnenshuisversiering .Hulle het daarna die huis, wat ook ‘n aangrensende woonstel gehad het, verkoop.

Die huis in Piet Retiefstraat 2010

Foto: Google Streetview

Mamma was ‘n uitstekende kok en gasvrou. Tussendeur al die huistake, het sy pragtige naaldwerk, brei- en hekelwerk ens gedoen. Daarbenewens het sy die tuin ook behartig.  Haar vriendin, tannie Grace Barrett wat in Hofmeyerstraat gewoon het, het blomplantjies gekweek. Mamma het gereeld by haar van die plantjies gekoop.

My ouers het ‘n groot vriendekring gehad. Te veel om op te noem. Ek moet darem net so hier en daar ‘n uitsondering maak. Oom Ben (Bella) en tannie Ala van der Merwe was dierbare vriende en daar is gereeld oor en weer gekuier. Tannie Ala was ook ‘n puik bakster en sy en mamma het gereeld resepte en wenke uitgeruil. Oom Ben het elke weekdag, Ma tot Vr, so skuins voor 17:00  opgedaag en vir pappa gewag om van die werk af te kom vir ‘n vinnige kuiertjie. Dan wou hy sy klein Brandewyntjie gehad het terwyl my pa sy koffie gedrink het. Wanneer hy klaar was het hy in sy Mercedes geklim en huis toe gegaan. So het hy gekuier totdat my ouers vanaf Montagu weg is.

Huis van oom Ben vd Merwe (langs Spar)

Foto: Google Streetview 2019

Dan was daar oom Kosie van Zyl wat  onder in Langstraat teenaan die rivier gewoon. Het het 1 maal per week saggies by ons voordeur ingesluip en dan op my klavier begin speel. Hy het dan ook met sy pragtige Tenoorstem dele uit Italiaanse Operas gesing. Ek dink my liefde vir klassieke musiek het daar begin… Wanneer hy klaar was het hy my geroep en dan het ons duette gespeel.  Daarna het hy koffie gedrink en dan weer huis toe gegaan.

Santici: ek gaan nie uitbrei oor die geskiedenis nie aangesien dit al voorheen geplaas is. Dit was oa die woning van dr Louis en Athena de Villiers. Dr Louis het ‘n bloedrooi Anglia motor gehad. As hy vanaf Langstraat om die hoek gekom het om hospitaal toe te gaan, het hy voet in die hoek gesit. Die regter elmboog in die oop venster en dan was hy soos ‘n rooi blits by ons huis verby. Jy kon hom al van veraf hoor aankom. Selmo is toe later met hul oudste kind, Maretha, getroud.

Mamma was vir jare lid van die VLV, vandag VLU genoem. Daar het sy gereeld aan kompetisies deelgeneem.  Pappa het ook ‘n groot voorliefde vir rugby gehad. Hy het vir jare in die Komitee gedien. Soms het hy op ‘n Woensdagaand as afrigter ingestaan. Wanneer daar tuiswedstryde gespeel was, het ek en mamma saamgegaan. Natuurlik was die mandjie met Koo appels wat ons gereeld elke jaar ontvang het, ook ingepak. 

Foto: Ernie Oosthuizen

Aangesien die KWV klipgooi van ons af was, het my pa sommer heen en weer gestap. Parstyd was dit bedrywig en ‘n belewenis. Die druiwe het gefermenteer in sementkuipe. Wat was dan nou lekkerder as ‘n glas yskoue mos! Oom Fritz Engelbrecht was die Brandewyn Distileerder in die Stookhuis. ‘n Hoë gebou met baie trappe! Ek het soms by hom gaan inloer en dan saamgestap as hy lesings moes neem en aan my verduidelik hoe alles werk wat baie interessant was. Indien my inligting korrek is, het die KWV-depot einde Augustus 1990 gesluit. Later is dit omskep in wonings.

KWV

Middel foto L/R: mnre S. Poggenpoel (my pa), D. Killian (Hoofbest. in Paarl), Mnr.Conradie, Mike Cronjé.

Picture: Montagu History F/B page

Hierdie is ‘n taamlike ou foto van die KWV. Gedurende parstyd was dit ‘n belewenis van vragmotors wat druiwe afgelaai het.  Die hoë regop gebou was die stookhuis. Oom Fritz Engelbrecht was daar in beheer en het altyd lekker geselsies met hom gehad. Die geboue voor regs was die werkswinkels. Die 2 lang geboue voor die stookhuis was waar ondergrondse “wynvate” was. Die Admin kantoor voor links.

Die gebou links watveffens agter die bome uitsteek is waar die druiwe in sementkuipe gefermenteer het. Wat was lekkerder as yskoue mos!!!

Munisipaliteit Montagu

Eeufeesvieringe 7 September 1995 Burgermeesters

Raadslede L – R: W.G. Cilliers, T.U. Alston, J.D. le Roux, W.J. Lourens, J. Viljoen, C.F. le Riche, M. Wahl en S.J. Poggenpoel saam met Staatspresident F.W. de Klerk en Raadsheer K.W. Knipe (In die rolstoel).

Terwyl ek een nammidag in die kombuis besig was om koffie te maak, sien ek dat die Odendaals se huis aan die brand was. Ek bel toe dadelik vir my pa. Die KWV het ‘n watertenk op ‘n sleepwa gehad om brande te blus. Hulle is toe daar weg om te help om die brand te blus. Oom Sam en tannie Beulah en kinders het toe hul intrek in die Avalon Hotel geneem totdat hul huis weer herstel was. Hulle was ook groot huisvriende en het toe later Stellenbosch toe getrek.

Ek het ‘n paar keer Blackie Badenhorst en haar oorlede man, Piet, se seuns opgepas toe hulle in die pragtige Qui-si-Sana gewoon het. Vandag is dit ‘n Boutique Hotel. Ek en vriende het gereeld by die Badhotel, nou die Avalon Springs, in die warmbron gaan swem.

Pappa was jare lank lid van die Stadsraad. In 1976 word hy toe verkies tot Burgemeester. Ongelukkig kon hy toe net 1 termyn dien, want hy word toe Upington toe verplaas. Die KWV het daar ‘n nuwe Depot gebou en hy word toe daar aangestel as Bestuurder. Daar het hulle vir 5 jaar gewoon voordat my pa weer Stellenbosch toe verplaas was.  Selmo en sy gesin het toe al klaar daar gewoon en my ouers koop toe ‘n huis in dieselfde woonbuurt. Nadat my pa afgetree het, het hulle steeds in Stellenbosch gebly.

Die Muskadelfees was natuurlik die gebeurtenis van die jaar. Mense het van oraloor gekom om dit te geniet. Pragtige vlotte het deur die strate gery. Op die rugbyveld was dit ‘n miernes van mense en die braaivleisvure het hoog gebrand.  Daar het die mense ook kennis gemaak met Asadobraai. Gedurende die week was daar oa ook ‘n fietsrykompetisie.  Alan van Heerden wat  deelgeneem en gewen het was die aantrekkingskrag. Hy was toe al bekend as Fietsry Kampioen. Tydens die Muskadelfees van 1977 was Eugenie Peters die Muskadel Koningin.

Alan van Heerden

Montagu Muskadelfees 1977. Eugenie Peters as Muskadelkoningin

Ek het by Standard Bank gewerk en die Bestuurder was oorlede mnr. Tom Erlank. Daar het ek toe ook my man ontmoet. Toe my ouers in Oktober 1977 na Upington verhuis, het ek my intrek by die Montagu Hotel geneem. Die Russells was baie aangenaam en gasvry, en was die eienaars van die hotel daardie tyd. Ek het my verblyf daar tot einde Des 1977 baie geniet. Toe is ek Upington toe om gereed te maak vir my troue in Maart 1978.

As ek nou moet terugdink aan al die besighede/winkels in Montagu, dan staan Brink Bros vir my uit. Dit was ‘n pragwinkel en daar kon jy alles koop wat jy nodig kon kry. Tannie Justine Basson was die Hoof van die Dames Klere-afdeling. Haar man, Ewie, was ook Burgemeester vir ‘n paar termyne. Tannie Justine het die mooiste blommerangskikkings gemaak vir spesiale geleenthede.  Maar laat ek nou eers ‘n bietjie terugstap in Badstraat….. Die Openbare Biblioteek was skuins oorkant die NG Kerk geleë. Daar het ek menige namiddae deurgebring, want ek was van kleinsaf lief vir lees. Tannie Alta Sadie en Mrs Bee Jordaan was die Bibliotekaresses gewees. Altyd baie vriendelik en behulpsaam. As jy in die Biblioteek ingestap het, het jy altyd pragtige klassieke musiek vanuit die leeskamer gehoor.  Dan het ek ekstra langer gedraai net sodat ek na die musiek kon luister. Mrs Bee het altyd gesorg vir die sagte musiek.

Ons NG Kerk is seker een van die mooistes in die land. Daar is ek en Selmo Gedoop, Aangeneem en Voorgestel soos menige ander ook en sommiges ook getroud in die kerk. Stap jy bietjie verder,  is Standard Bank op die hoek van Badstraat en Kohlerstraat en regoorkant was Volkskas (later Absa Bank).

Volkskas (Absa bank)

Skets: Hennie Kriel

Mnr Neels Vermeulen was in my tyd die Bestuurder van Volkskas toe ek by Standard Bank gewerk het.  Pax Apteek, wat langsaan die Boland Bankgebou was, was klein, maar besig met vriendelike diens. Later is dit verkoop en mnr Günter Leidig het ‘n apteek geopen skuins oorkant oom Gerald Kriel se slaghuis. Mnr Barry Olivier was die Bestuurder van Boland Bank. In die gebou was ook die kantore van Van Zyl & Hofmeyr Prokureurs. Oom Monty Hofmeyr en sy vrou, tannie Esther, was bekende inwoners. Tannie Esther was baie betrokke by behoud van Montagu, veral om geskiedkundige geboue te bewaar.  Dan het jy oom Graafie Snyman se winkel gekry wat gespesialiseer het in mansuitrustings. Langsaan was Aero winkel met sy houtvloere. Stap jy nog ‘n lekker entjie, af in die straat, stap jy in by oom Gerald (ook Girrel genoem) Kriel se slaghuis. Hy het die heerlikste rooiworsies en boerewors gemaak. Oorkant die straat van Brinks in Du Toitstraat, was tannie McDonald se Viswinkel. Ai, dit was uit die boonste rakke, veral daardie degie om die vis!  Die busstasie was in Kohlerstraat, skuins oorkant die skoolkoshuis. Die luukse bus het elke dag vroegoggend Kaapstad toe vertrek en was  saans om 19:00 weer terug op Montagu. Mamma het baie keer die bus gehaal in stad toe vir spesiale inkopies.

Esther en Monty op die regterkant saam met Babsie van Zyl en Jack Esterhuizen Wes-Kaap Streekbestuurder Standardbank.

Pappa is in Oktober 2003 in die ouderdom van 83 jr oorlede tydens ‘n Hartklepvervangingsoperasie. Mamma het toe in 2004 ‘n huis in Helderberg Village wat ‘n Aftree Oord is buite Somerset-Wes gekoop en daarheen getrek. Sy is toe in Mei 2016 in die ouderdom van 91 jr oorlede. Selmo is skielik in Des 2017 in die ouderdom van 67 jr oorlede agv ‘n Hartaanval.

Wel, ek het nou my storie vertel en al wat ek kan sê is:  Fluit fluit my storie is uit.


Die skakels hieronder sal jou na ander Montagu-stories neem wat in my artikel genoem word


image_pdfDOWNLOAD PDF