127.Plaasskole in die Agterveld en Koo

image_pdfDOWNLOAD PDF

Deur: Gerald Batt – Januarie 2025

Die navorsing en opbou van hierdie storie was vir my ‘n ongelooflike ondervinding en ‘n nostalgiese reis na die verlede, omdat dit alles in my kontrei afgespeel het en ook omdat ek baie daarvan self beleef het.

Hugo skooltjie

Daar was ‘n laerskooltjie op oom Karel Hugo se plaas Stinkfontein, in die Agterveld – ek noem dit sommer die Hugo skooltjie. Die plaas is gelëe op die roete R318, kort voor Matroosbergstasie van die Koo se kant af. By hierdie skooltjie het die kinders van die omliggende plase onderrig ontvang.

Toe ek en my suster gedurende Desember 2024 Koo toe is, het ek nog gewag op inligting oor die orreltjie ens wat in die Hugo skooltjie was. Toe ek by Stinkfontein se afdraaipad kom, het ek eers stilgehou en gewonder of ek maar self moet gaan vra. Net daar draai ek af en ontmoet oom Karel Hugo se kleinseun se vrou, Arina Hugo. Sy was baie vriendelik en behulpsaam en het my ook die ou orreltjie gaan wys soos die fotos hieronder – ek kon aan die orreltjie vat. Sy het my ook die oorspronklike Hugo skooltjie gewys wat nou deel is van die huidige huis. Dit is nou hulle lekker groot sitkamer van 5 x 7 m in hulle huis en ek het in daardie vertrek gestaan. Ek het hoendervleis gekry toe ek dit beleef het en was baie dankbaar dat Arina dit vir my gewys het. Ek kon in my geestesoog nog die plaaskinders en die onderwyseres in die skooltjie sien.

Hierdie ou kaart wys die plaas Stinkfontein. Die blou kolletjies dui die R318 aan.

Kaart: Mike Worthington-Jones

Sy het ook vir my die Hugoboek gewys wat onlangs uitgekom het en ek kon ‘n foto van die oorspronklike huis kry wat die skooltjie van buite wys en het dit hieronder in die storie geplaas. Daar moet nog ander inligting in daardie boek wees, maar my tyd was beperk. As ek nie op die ingewing van die oomblik afgedraai het nie, het ek nie al die inligting hierbo gehad nie. Die foto van die oorspronklike huis, kom uit die Hugoboek en dit lyk of die deur aan die regterkant van die gebou, met twee vensters weerskante van die deur, die vertrek is waar die skooltjie was.

Foto: Arina Hugo

Die items hieronder was in die Hugo skooltjie.

Die oorspronklike traporreltjie, biblioteekkas en skoolklok

Fotos: Marthie Engelbregt (Hugo)

Die traporreltjie, gemaak deur die Cornish Company Washigton NJ

Die volgende insette gaan oor ‘n oud-leerling by die skool, wat ‘n suksesvolle Suid-Afrikaanse sakeman geword het – ontvang van Theuns Hugo via Marthie Engelbregt (Hugo).

“Henry” Hendrik Albertus Sloet is op 25 Augustus 1926 in Kaapstad gebore. Hy sê hy het die voorreg gehad om in 1939 op die plaas Stinkfontein, van oom Theuns Hugo (oom Karel se pa) skool te gaan.

Hendrik Albertus Sloet is op 25 Augustus 1926 in Kaapstad gebore. Hy matrikuleer in 1944 aan die Hoërskool Jan Van Riebeeck in Kaapstad, waarna hy die BCom-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal. Volgens die inventaris van die private dokumenteversameling van Dr. HA Sloet by die Universiteit van die Oranje Vrystaat se Argiewe vir eietydse aangeleenthede, het die seuntjie wat in 1939 In die Vredelus –plaasskooltjie was, in verskeie rolle in die handelswêreld en ook op kultuurgebied meer as sy deel gedoen. Behalwe die DCom (h.c.) wat die Universiteit van Suid Afrika in 1996 aan hom toegeken het, het hy talle toekennings gekry. Te veel om op te noem! Voorwaar rede tot groot trots en dankbaarheid! Waar sy gesondheid nie so goed is nie, wens ons hom net die mooiste toe!

Die Skool

Tagtig jaar gelede (1939) het ek die voorreg gehad om op die plaas van oom Theuns Hugo, skool te gaan. Dit was my standard vyf-jaar (graad7). Dit was vir my, wat ʼn dorpskind was, ʼn baie aangename jaar en daar is steeds vir my, ʼn drie-en-negentigjarige, gebeurtenisse wat ek onthou. Die onderwyseres was mej. Hall, wat al die klasse vanaf sub A tot standard 6 hanteer het. Sy was ʼn baie goeie onderwyseres en die kinders wat by haar skoolgegaan het, het gewoonlik baie goed gevaar op die hoërskole waarheen hulle later gegaan het.

Ons was drie seuns: ekself, Karel (oom Theuns se enigste seun) en Attie Brown, ʼn weeskind oor wie oom Theuns hom ontferm het. Die ander kinders was almal dogters. Ons drie seuns het nie in die huis geslaap nie, maar op die solder. Daar was ʼn netjiese afskorting van goiingsak met drie ysterkateltjies en ʼn lantern vir lig. Ons drie was baie tevrede om saans daar op ons eie te wees.

Perdry

Op die plaas was drie ryperde, Walton, ʼn groot sterk perd, oom Theuns se ryperd. Karel se perd was ʼn swart merrie, genaamd Daisy en dan was daar Lady, ‘n bruin merrie wat ek merendeels gery het. As oom Theuns nie saam was nie, het ek op Walton gery en Attie op Lady. Ek het dit geniet om vir Walton te ry, want hy was ʼn strykloper met ʼn baie gemaklike gang.

Toe ek op die plaas gekom het, het ek nie geweet hoe om ʼn perd se toom aan te sit nie en ook nie hoe om ʼn perd op te saal nie. Ek het egter gou geleer en kan onthou hoe trots ek was toe oom Theuns een aand aan tafel gesê het dat hy daardie dag gesien het dat die dorpenaar kan perdry.

Ons seuns moes ʼn bietjie met die plaaswerk help. Een skemeraand het ons gaan lusern sny vir die perde. Ek was nog maar onhandig en het amper my linkermiddelvinger afgesny. Ek dra die letsel vandag nog.

Die Wegholperdekar

Willie Hugo van Soutrivier se twee dogtertjies, sub A en sub B, het soggens met ʼn perdekar skool toe gekom. Die laaste stuk pad was ʼn redelike lang afdraand. Een oggend kon hulle blybaar nie die perde beheer nie. Ons sou toe sien dat die perde oploop gegaan het en baie vining die afdraande afkom.

Ons was bevrees dat die perde dalk nie sal afdraai na Vredelus se werf en dat hulle nie deur die hek kom nie, vanweë die spoed waarteen hulle beweeg het. Wonder bo wonder het die perde die draai geneem en velig deur die hek gekom. Toe die perde die werf inhardloop, was dit Joekie wat by was om die een perd aan die toom te gryp en die kar tot stilstand gebring het. Almal was baie dankbaar daardie oggend dat daar nie ʼn groot ongeluk plaasgevind het nie.

(Die plaas Vredelus hierbo se oorspronklike naam was Stinkfontein)

Sneeu

Dit het soms gebeur dat dit in daardie omgewing gesneeu het. In 1939 was daar ʼn swaar sneeuval en die hele omgewing, vanaf Matroosberg tot by Willie Hugo se plaas, was spierwit! Dit was ʼn baie mooi gesig en baie welkom vir die boere, want sneeu benat die aarde beter as reën. By die skool se afsluitingsbyeenkoms het Anna die gediggie voorgedra:

Sneeu, sneeu, lifelike sneeu

Daal op die aarde neer

Dit val en dit swewe,

Dit sterf en dit lewe

O, kyk tog hoe kom dit alweer!

Die leerling getalle in die Hugo skooltjie het al hoe minder geword en toe daar in 1944 net 12 kinders oor was, het die skooltjie gesluit. Die minimum getal leerlinge in die skooltjie moes 13 wees om dit oop te hou. Die King seuns is Laatsrivier Laerskool toe en die ander kinders is Touwsrivier toe, want daar was ‘n koshuis vir verblyf. Die King seuns het by die Vorsters in Laatsrivier loseer en later ook by Adamus Stemmet se ouers.

Die Vorster huis staan nog steeds (2025) in Laatsrivier

Rossouw skooltjie

Na die besoek by Stinkfontein, is ons Laatsrivier, Koo toe op soek na die heel eerste plaasskooltjie daar. Die besoek aan hierdie skooltjie was net so ‘n groot belewenis en nog meer. Nie net kon ek die geboutjie sien en fotos neem nie, maar het geweet dat my Ma het ook by daardie huis loseer toe sy gedurende die mid 40’ by Laatsrivier Laerskool onderwys gegee het. My suster was ook ‘n onderwyeres en so ook my Ma se ma (Ouma Sannie) – dit het ons ver terug laat verlang. My suster het trane in haar oë gekry toe sy op die huis se stoep staan en gewonder het of Mamma dalk op daardie stoep gesit het en die kinders se boeke moes nagaan. Ja, dit was ‘n wonderlike belewenis en die huidige eienaars was baie vriendelik en het ons ingenooi om te sit en gesels. Daardie besoek is nou ook in ons gedagtes vasgevang.

Foto: Gerald Batt

Die skooltjie het in die huis van oom Johnny en tannie Meraai Rossouw-hulle se huis in Laatsrivier begin (inligting ontvang van Adamus Stemmet). Die Afrikaners van daardie era het hulle nie laat onderkry nie en het hier seker die eerste privaat skooltjie in die distrik begin. Die skooltjie was in die buitekamer van die huis, met die twee bruin deure soos op die foto.

Oor die jare heen het daar verskeie onderwyseresse loseer en so ook my Ma Alida (Malherbe), ongeveer 1943-1945 toe sy by die Laatsrivier skool onderwys gegee het. My Oupa Batt se winkel is maar so drie km daarvandaan en sy het gewoonlik naweke daar by Oupa-hulle se dogters gekuier en ook oorgeslaap. Oupa Gerald en Ouma Maria het ses dogters en twee seuns gehad. Dit was die plek waar die jongmense van die area gewoonlik naweke bymekaar gekom en waar sy my Pa Robert ontmoet het.

Laatsrivier Laerskool

Die storie oor die Laatsrivier skooltjie is baie meer volledig en ek het dit ook self vanaf 1955 tot 1962 beleef, dus was dit maklik om te skryf.

Ek kon nie uitvind wanneer die skool gebou is nie, maar oupa Gerald en ouma Maria Batt van die Koo, se agt kinders het almal daar skoolgegaan. Hulle eerste kind, tannie Martha het in 1927 daar in Sub-A begin, dus is die skool voor 1927 gebou. Mnr. Bruwer en juffrou Groenewald was die onderwysers daardie tyd. Tannie Martha Augustyn (Batt) 1920, die eerste van Oupa-hulle se agt kinders, het haar heel eerste skooldag daar begin die dag toe mnr. Bruwer daar begin skoolhou het en tannie Katy (1934), die jongste van die agt kinders, het haar laaste skooldag daar gehad die dag toe mnr. Bruwer daar weggegaan het. Lyk vir my of mnr. Bruwer net vir die Batts kom onderwys gee en toe weer weg is, ha-ha.

Ek en my oudste suster Susan het vanaf Sub A tot Std 5 daar skool gegaan. Ons het by Oupa Gerald-hulle loseer en die meeste van die tyd moes ons skool toe loop en so ook in die middae terug huis toe. Die skool was so drie km van Oupa-hulle se huis af. As een van die boere verby kom, het hulle altyd stilgehou en ons opgelaai. In die winter het tannie Mabel Myburgh (Batt) ons gewoonlik met Oupa se International KB2 bakkie skool toe geneem en weer kom haal – foto hieronder net vir illustrasie doeleindes.

International KB2 bakkie

Oorspronklik was dit ‘n tweemanskool, maar soos die getalle verminder het, het dit verander na ‘n eenman skool. Die skool het net twee vertrekke gehad wat met ‘n oopskuif houtafskorting verdeel was. Daar was net een waterkraan in die “lobby” (voorportaal) en die water het vanaf ‘n tenk buitekant langs die skool gekom. Daar was nie ‘n binne-toilet nie en ‘n emmerstelsel-toilet, so 100 meter agter die skool het diens gedoen.

Hierdie “lobby” was so ‘n lang smal vertrek vooraan die skool en met twee lang kerkbanke aan elke lang kant. Hier het ons altyd gesit en eet as dit pouses te koud of nat was. Dan het ons “telefoontjie” gespeel. Almal sit langs mekaar op die banke en die een op die punt van elke ry fluister iets saggies in die een se oor wat langsaan sit. Daardie kind fluister dan wat hy of sy gehoor het in die een se oor wat aan die anderkant sit. Sodra die laaste een die boodskap gekry het, moet die een hardop sê wat hy of sy gehoor het en dan het daar die snaakste goed uitgekom. Ons het altyd baie lekker gelag en dit was groot vermaak.

Die onderwysers of onderwyseresse het vir almal klas gegee vanaf Sub A tot Std 6. Dit het later jare verander na Sub A tot Std 5. Daar was op ‘n stadium meer as 30 kinders in die skool. My ma, Alida (Malherbe), het ook gedurende die middel 40’s daar onderwys gegee en het by oom Johnny Rossouw-hulle in Laatsrivier loseer . Adamus Stemmet was ook in haar klas en hy het net goeie herinneringe van haar. Sy het ook nooit kinders geslaan nie, maar het sag en sielkundig met hulle gewerk. Adamus vertel van ‘n dag, gedurende WW2, toe my pa in sy lugmag uniform eendag daar by die skool aangekom het om vir my ma te kom sien – hulle het mekaar toe al geken. Sy het vir die kinders ‘n klomp klaswerk gegee, terwyl hulle twee in die “lobby” gesêls het.

Een spesifieke onderwyser by Laatsrivier was mnr. de Villers en hy het baie van landbou gehou. Ons seuns moes gereeld groot klippe in die berg gaan haal om kontoere en groentebeddings teen die skuinste te bou. Ons het draagbare gemaak uit die ou geroeste ogiesdraadheining wat eers rondom die tennisbaan was en vier seuns op ‘n slag het dan die klippe op dié manier skool toe gedra. Ons het klein denneboom plantjies weerskante van die voetpaadjie geplant en elke kind moes sy eie klein tuintjie rondom ‘n denneboompie maak. Daar moes ons groente plant wat ons dan later kon pluk en huistoe neem. Gewoonlik was dit radyse wat vinnig gegroei het, maar het sleg gesmaak.

In die skool was daar verskillende boekies van die ‘Silwerboom’ reeks waaruit ons geleer het om Afrikaans te lees en een so ‘n boekie was ‘Sus en Daan’. Dan was daar ook boekies van ‘Brolloks en Bittergal’. Om engels te leer lees het ons boekies gehad van die “Southern Cross Reader” reeks – sien hieronder. My suster Susan het een van albei hierdie boekies in haar besit.

Ons het met “griffies” (griffels) geleer skryf op plat klipleie wat in ‘n houtraampie gemonteer was. Om uit te vee moes ons ‘n nat lappie gebruik.

Later het ons met potlode op papier begin skryf en in std drie of vier êrens, het ons met ink leer skryf. Die penne was van hout gemaak met ‘n gleufie voor waarin jy dan ‘n skerp gesplete metaal skryfpunt moes druk. Die ink het in glasbotteltjies gekom wat jy dan weer in ‘n klein glashouertjie in die skoolbank moes gooi. Jy moes kort-kort die pen in die potjie ink doop en dan skryf. Jy het ook velle wit kladpapier gebruik om die ink mee droog te maak na jy ‘n paar woorde geskryf het.

Om die begin van die skooldag of na pouses aan te kondig, was daar die gebruiklike geelkoper klok wat deur die onnies gelui was. As een van ons naby was, was dit ons werk om die klok te lui.

My ma het vir ons boeksakke van kakiemateriaal gemaak met ‘n band wat skuins oor ons nek en skouer gegaan het. Voorop was ‘n kleiner sakkie vir ons toebroodjies vir pouse. Die toebroodjies wat Ouma gemaak het, is in ‘n wit materiaal Standard Bank sakkie gesit.

Voor in die klas, bo-op ‘n kas was daar boksies met kaartjies in. Sodra jou werk klaar was en van die ander kinders nog besig was, moes jy van daardie kaartjies gaan trek en dan die ‘somme’ uitwerk wat daarop verskyn. Ons was nie toegelaat om stil te sit en niks doen nie, al was ons werk ook klaar. Dit was oorspronklik enkellaag kaste waarin daar boeke, skryfbehoeftes en speletjies ens in gehou was. In die agterste gedeelte van die skool was daar ook sulke kaste.

Twee van die oorspronklike kaste, wat hier bo-op mekaar gemonteer is

Een maal per kwartaal het daar ‘n houtkas met ‘n glas deksel vanaf die museum in die Kaap tot by Oupa se winkel gekom. Oupa het dan weer gesorg dat die kas by die skool afgelewer word. In die kas was gewoonlik opgestopte voëltjies, muise, motte, akkedisse, paddas en eenkeer ook ‘n dassie. Ons kon ons verkyk aan al die goed en het dit baie interessant gevind. Na ‘n week by die skool, het Oupa weer die kas terug gestuur museum toe.

Vrydae moes die meisies leer brei en die seuns moes verskillende modelletjies uit karton maak.

Pouse het ons tol gegooi, met rubber Tennekoit ringe oor ‘n net op die ou tennisbaan gespeel, vroteier, wegkruipertjie en blikaspaai gespeel en vele meer. Op koue dae het ons ook met plastiese klei van verskillende kleure en hout Tinkertoys in die klas gespeel.

Die klei was in plat boksies

In die winter het ons vuur gemaak in ‘n klein regop Stockholm stofie wat voor in die klaskamer was. Daarop het ons melk warm gemaak en het ons Milo gekry om te drink. Ons het ook vrugtesap, kaas, grondbone, rosyne en versuikerde vrugtelekkers gekry vir pouse.

Elke derde maand is daar kerk gehou in die skooltjie en die dominee het van Montagu af gekom om te kom preek. Vrydagmiddag voor die Sondag kerkdiens, moes ons eers die skool mooi skoon en netjies maak, die skoolbanke wegskuif en dan die opvou kerkbanke wat op ‘n hoop agter in die skool gepak was gaan afpak en uitsit op die vloer.

Maandagoggend moes ons eers die kerkbanke terug pak agter in die skool en die skoolbanke weer in plek skuif. Direk daarna is daar eers sondagskool gehou voordat die klas begin het. Ons het klein sondagskool boekies gehad waaruit ons bybelversies en liedjies uit ons kop moes leer. Gelukkig het ons darem die naweek gehad om voor te berei vir die sondagskool.

Die opleiding by hierdie skool was van baie hoë gehalte en almal het altyd baie goed gevaar as hulle in die hoërskool kom. Plaasskool of nie, almal was altyd reg vir die hoërskool.

As gevolg van verminderde leerling getalle kinders, het die skool aan die einde van 1964 finaal gesluit. Die laaste onderwyseres daar was Letitia Joubert van Britstown.

Die gebou is later deur die bruin gemeenskap van die Koo as ‘n kerk gebruik. Ek het onlangs verneem dat die gebou nou in privaat besit is, maar weet nie wie die huidige eienaar is nie. Hopelik sal die gebou op dié manier staande bly.

Op oupa Gerald Batt se plaas, Swartberg in die Agterveld, het twee bywoner-gesinne gebly: Daar was oom John King, sy vrou tant Ella en hulle vier seuns. Volgens Adamus Stemmet was hulle name Robert, Tom, Henry en “Abrie” (Abraham Burger). Hulle was oorspronklik in die Hugo skooltjie, saam met ander kinders van die nabygelëe plase. Die King seuns moes seker by die Hugo’s loseer het, want Swartberg is redelik ver van Stinkfontein af en oom John het net ‘n fiets gehad. Sjoe, dit moes seker bitter moeilike tye gewees het, want paaie was sleg en bakkies en vragmotors was min. Ek praat nie eers van motors nie, want daar was eenvoudig nie.

Ek onthou oom John King baie goed met sy groot wit/grys baard en ons het hom Kersvader genoem. Hy was nie ‘n baie groot man nie en het ook nie veel van ‘n boerdery gehad nie. Sy enigste ryding was ‘n fiets en hy het maar so van plaas tot plaas gery op soek na los werkies om the doen. Hy het ook gereeld sommer op ons plaas aangekom en dan het Pa maar altyd vir hom iets gegee om te doen. Op die manier kon hy darem ‘n geldjie verdien. Hy het sommer maklik vir ‘n week gebly en het in die buitekamer geslaap. Oom John het ook by oupa Gerald in die Koo los werkies gedoen en ook so by van die ander boere. Hy was goed met sy hande en op die manier het hulle oorleef. Hy was bekend daarvoor dat hy altyd vir almal blikbekers met ore aan gemaak het uit lëe konfytblikke. Ons het ook sulke bekers gehad om water mee te skep. Daardie jare was daar nie lopende water in die huise nie en water moes in emmers aangedra word vanaf ‘n windpomp op die erf.

Die ander bywoner gesin op Oupa se plaas, was oom Gys Prins en tant Mollie en hulle kinders (seuns en dogters). Hulle het op klein skaal met vrugte, groente en ‘n paar skape geboer. Hulle enigste rytuig was ‘n perdekar met twee groot pragtige swart perde. Oom Gys het sy groente en vrugte ens op Touwsrivier verkoop. Van hulle kinders het ook in Laatsrivier skoolgegaan en het by oom Danie “Kuiken” en tannie Rina Rossouw in Laatsrivier loseer. Hulle mag dalk ook oorspronklik in die Hugoskool begin het, want dit was baie nader aan Swartberg as die Laatsrivier skool. Ek was ook saam met hulle in die laerskool in Laatsrivier.

Ek en my sibbe het by oupa Gerald-hulle loseer want die skool was baie naby en het net naweke plaas toe gegaan, wat 19 km van Oupa-hulle af was. Die Prinse se kinders het party naweke saam met ons plaas toe gery en dan het oom Gys hulle weer daar met sy perdekar op die plaas kom haal. Ek en my sibbe het altyd vreeslik uitgekyk vir oom Gys wat aankom met sy perdekar om sy kinders op ons plaas te kom haal. Baie kere, as hy daardie week in Touwsrivier was om van sy vrugte ens te verkoop, het hy ook vir ons lekkers in ‘n bruin kardoessakkie gebring. So dertig trëe van ons huis af was daar groot bloekombome waar oom Gys altyd sy perde ‘n bietjie uitgespan het om te rus voor die terugtog Swartberg toe. Ons het al geweet hy kom om sy kinders te kom haal en sodra ons hom in die verte sien aankom, hardloop ons al na die bloekombome toe. Daar wag ons dan totdat hy stop en afklim. Dan het hy ‘n sakkie lekkers uit sy baadjiesak gehaal en vir ons gegee. Dit was vir ons ‘n heerlike bederfie omdat ons maar min lekkers by ons ouers gekry het. My ouers het gewoonlik vir oom Gys rou vleis en groente ens gegee om saam te neem.

Oom Gys se kinders het ook in Laatsrivier skool gegaan en by oom Danie Rossouw-hulle loseer. Hy het dan so nou en dan Koo toe gery om die kinders te gaan haal en by ‘n paar sulke geleenthede het ons saam met oom Gys op die perdekar teruggery plaas toe. Alhoewel dit net 19 km van ons plaas af was, het dit maar lank geneem om daar te kom. By die steil bulte moes ons afklim en dan het ons sommer kortpad gevat in die ou klofie op by die Ravenscroft bruggie tot bo-op Rooihoogte waar ons weer vir die perderkar gewag het. Daar het het oom Gys eers gestop om die perde ‘n bietjie te laat rus en dan het ons elkeen ‘n slukkie koue swart koffie uit ‘n glasbottel gekry.


image_pdfDOWNLOAD PDF