126.Mense van Montagu: Kinnie Africa

image_pdfDOWNLOAD PDF

Raakvat-Vrou

Foto: Hennah Flesch

Kinnie Africa is ‘n nakommeling van twee van die bekendste bruinfamilies in Montagu, die Januaries en Pekeurs.  Hansie Januarie en Fransiena Pekeur het op Keerom geboer waar 13 kinders vir hulle gebore is.  Kinnie was die oudste van die dogters.  Daar het hulle groot geword, skoolgegaan en is ‘n paar van hulle getroud.

Kinnie is in 1914 gebore en het skoolgegaan by haar suster Mary wat Mzandi genoem is.  Kinnie moes vir haar ma help huishou, want dit was ‘n groot gesin.  Hansie Januarie en sy vrou was streng godsdienstig.  Soggens en saans moes daar huisgodsdiens gehou word en Hansie se vrou, Fransiena, moes die huisorrel speel.

Die plaashuis was groot, met ‘n spesiale gastekamer wat Kinnie moes versorg.  Gaste soos polisie, predikante, mediese dokters en bosbouers moes daar tuisgaan wanneer hulle Keerom kom besoek het.  Kinnie se ander plaaswerk het behels die maak van botter en eiers bymekaar maak sodat dit op die dorp by Goldblatt en Abramovitz se winkels verkoop kon word.  Wanneer daar geslag word, moes sy die biltong en droë ribbetjies maak, en oggende moes sy koffie brand in die groot plat ysterpot, seep kook en moskonfyt maak.

Wanneer dit basaartyd was, moes sy haar ma help om daarvoor reg te maak.  Basaars is gehou te Keerom, Witwater en Laatsrivier in die Koo onder die akkerbome.  Ds. Casper Venter van die NG Sendinggemeente, nou die VGK, was die leraar en Kinnie en haar ouers was staatmakers in dié gemeente.

Wanneer daar dorp toe gekom moes word, het haar broers Vrydagoggende 03:00 begin inspan aan die wa en die perdekar.  Daar word dan op Batt se plaas uitgespan om eers koffie te drink, en Kinnie moes maar altyd regstaan.  In later jare het haar pa ‘n rooi Diamond T-lorrie gekoop en dit was dan ‘n plesier om met ‘n vrag pere of appels dorp toe te kom.

In die dorp het Hansie Januarie ‘n losieshuis in Le Rouxstraat gehad.  Mettertyd het hy dorp toe getrek en in die losieshuis gaan bly.  In die dorp het meer as een van sy kinders mans en vrouens ontmoet en getrou.  Dit was ook die geval met Kinnie wat met Johnny Africa getrou het.  Dit was gedurende die Tweede Wêreldoorlog.  Johnny het ook ‘n huis in Le Rouxstraat gehad en dis daar dat Kinnie haar koek- en tertbakkery begin het.

Die inmaakfabriek van Brink Broers wat in 1948 opgerig is, was ‘n groot ekonomiese inspuiting vir Montagu.  Kinnie Africa was die eerste voorvrou in die fabriek.  Sy was in die afdeling waar die vrugte nog met die hand in die blikke gepak moes word.  Die koek- en tertbakkery het handig te pas gekom, want sy moes koeke en terte vir die inmaakfabriek ook maak.  Ná die sluiting van die fabriek in 1973 het sy by die Avalon-hotel gaan werk, waar sy die hoofkok was.  Wanneer sy saans huistoe gekom het, het mens haar maklik herken aan die hoë sjefhoed op haar kop.  Sy was ‘n baasbakster vir troues, verjaarsdae, funksies en enige sosiale geleentheid.

In die sestigerjare het die bruin gemeenskap ‘n tuinbouvereniging gestig en jaarliks skou gehou.  Daar was afdelings soos blommerangskikking, tuisgemaakte konfyte, brood, koek, tert, hekelwerk, breiwerk, vars blomme en menige ander.  Kinnie het gewoonlik in die gebak-afdeling deelgeneem waar sy maar altyd koning gekraai het.  Maar deur die jare het haar kerk nie agtergebly nie.  In haar leeftyd het sy saam met Casper Venter, die leraar, se vrou die CSB (Christelike Sendingbond) gestig.  Sy het ‘n leidende rol hierin gespeel.

Tydens sittings van die Ring van Suurbraak moes Kinnie haar slag wys met huisvesting vir die afgevaardigdes asook met gebak vir die sitting.  Die skole was destyds kerkskole en in daardie tyd het baie jongmense by Kinnie-hulle se losieshuis tuisgegaan.  Dit het onderwysers en tolke by die landdroskantoor ingesluit.

Kinnie Africa

Foto: Hennah Flesch

Met verloop van tyd het die ouderdom Kinnie Africa verplig om tuis te bly waar haar dogter Sylvia in Bergsig na haar gekyk het.  Sy is in 1995 oorlede – een van die seders van die gemeenskap wat geval het.  Die gemeenskap het ‘n groot verlies gely, maar haar dogter Frances, vrou van wyle Frank Swarrt, sê dat die herinneringe altyd sal bly.

Bron:  Inligting verskaf deur mevrou Frances Swart


image_pdfDOWNLOAD PDF