104.Limerieks uit ’n plattelandse dorp

image_pdfDOWNLOAD PDF

Van die digbundel: Geniet, Genot, Genietinge

© Kopiereg 2016

Geskryf deur Anelma Kriel-Oosthuizen

November 2016

Foto: Maart 1993

Koos en Anelma Oosthuizen met Anelma se ma Mevrou C.J. Kriel

Anelma(2024): Wanneer jy die stuk plaas of gebruik kan jy maar Montagu se naam byplaas en ook my naam. Jy kan selfs sê ek word 8 Junie 80jr. oud en dis my herinneringe aan my geliefde dorp . Jy kan ook byskryf met apologie aan genoemdes wat nog leef. Ek kyk met waardering en liefde terug. My limericke gaan meer oor die skryfkuns as om mense te na te kom. Die vorm van die limerick is belangrik.

© Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer word in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, plaat of bandopname, vermikrofilming of enige ander stelsel vir inligtingsbewaring.

Die skrywer het die Montagu Museum toestemming gegee om hierdie stuk op die Montagu Stories-webblad te vertoon


Limerick: Die digsoort het omstreeks 1700 onder soldate by Limerick in Ierland ontstaan. Dit is ʼn 5 reëlige GEESTIGE vers (grappig teen einde) met die rymskema aabba


GISTER IS GESKIEDENIS

Hy wat vir sy eie tyd die beste gedoen het, lewe vir alle tye. – Schiller


Die verlede is ’n ander land, onbereikbaar in sy verte, En wat daaruit herwin kan word, wat daaruit behou kan word, dra jy met jou saam. – Karel Schoeman


‘n Limeriek is ‘n vorm van vers, gewoonlik humoristies, in vyfreëlige, oorwegend anapestiese trimeter met ‘n streng rymskema van AABBA, waarin die eerste, tweede en vyfde reël rym, terwyl die derde en vierde reëls rym. is korter en deel ‘n ander rympie.


Die ABC van ’n plattelandse dorp tussen 1940’s tot 1960’s.

ANDERSON
Mevrou Anderson is streng;
Sy slaan op vingers; sê: “O, die kreng!”
Musiekles word verkort.
Leerling moet vinnig vort.
Musiekboek trek deur venster! O, heng!

ALLSTON
Dokter Allston het ’n stal vir sy perd.
Die spogdier is sommer baie geld werd.
Kingna oorstroom die stal!
Die perd steier, word mal.
Bo-oor die water; Allston hang aan sy stert!

ABRAMOWITZ
Abramowitz het ’n groot winkel.
Hy hou daarvan as die geld rinkel.
“Kyk, die baadjie pas mooi.
“Wat van ’n tabberd rooi.”
Betaalslag! Afslag! Daar is die kinkel.

BAARD
In Meneer Baard se klas is almal bang.
Vrees vir die lat wat agter die deur hang.
Stout seuns stuur liefdesbriefies.
Dogters glimlag soet; liefies.
Dis die moeite werd tot Baard hul uitvang!

BASSON
Die Bassons is almal goed in sport.
Aan sakevernuf kom ook niks kort.
Sosiaal en onthaal,
elke maand ’n paar maal.
As die rooiwyn op is, skink hul port.

BRINK
Meneer Brink die dorp se vernaamste man.
Fabriek, fliek, winkel, hotel dra sy van.
“Hooggenoeg” sy huis se naam.
Sy portret hang geraam.
Iemand teken ’n vlieg op sy blink pan.

BRÖNN
Meneer Brönn, ’n grapmaker soos min.
Die hotel se bron so na sy sin.
“Laaste glasie is my jas.
“Verdryf koue van my bas.”
As korrels werk, praat Omie onsin.

BUTLER
Butlers skink nie meer wyn nie; hul bou.
Nuwe huise verrys sommer gou.
Party stoffeer ander vlieg.
Die wat sê hul is lui; lieg.
Vir Bloutrein-Butler lag mens in die mou.

BUIRSKI
Van Poland het die Buirski’s gekom.
Weggevlug voor oorlog se bom.
Elektrisiteit sy vak.
Soms werk hy hoog op ’n dak.
In wind klou hy soos ’n stukkie gom.

BULLARD
Bullard is fotograaf nommer een.
Vir baie bruidspare ’n groot seën.
Sy toerusting is duur.
Hy sal dit nooit uithuur.
Bruid val in swembad; ruk fotograaf heen.

COMBRINK
Posmeester Combrink het vliegduiwe.
As hul laat kom, ly hy aan suur druiwe.
Sy oë bly in die lug.
Moedeloos bly hy aan’t sug.
Struikel en val! “Vervlakste duiwe!”

CONRADIE
Conradie; oudste van in kontrei.
Hul kan op baie gebiede lei.
Hul bid lang gebede.
Dorp se sondes die rede.
Leraar sê: “Amen! Laat die lammers wei.”

DE KOKER
Titos de Koker en Brinks sinoniem.
Niks en niemand kan sy ywer striem.
Vroeg en laat op sy pos.
Om klante te help sy kos.
By sy huis is hy hond aan ’n riem.

EUVRARD
Oud-onderwyser Euvrard van toet;
gee sy van aan die parkie vir goed.
Spuitfontein spoeg water.
Goudvis soek sy mater.
Verliefdes soen agter ’n groot hoed.

FIVAZ
Meneer Fivaz werk in die apteek.
Met raad en daad help hy elke leek.
Vir skurwe hande, room.
Vir toe-bors en -neus stoom.
Tant Ruk-en-pluk kom kla elke week.

GOUSSARD
Oom Sarel Goussard bedryf ’n kafee.
Tant Stinie werk geduldig met hom mee.
“Draai toe die stukkie vis!”
“Die skyfies lê en sis!”
Mank Sarel gly in olie! O, wee!

GOLDBLATT
Goldblatt het ’n winkel op die hoek.
Hy hou alles aan van kos tot boek.
Sy dogters is so mooi.
Swart hare en wange rooi.
Hy keer gou as boertjies sy dogters soek.

HAUPTFLEISCH
Sersant Hauptfleisch word gevrees en bemin.
Sy ondersoeke; navrae maak sin.
Hy patrolleer die strate.
Vir die dorp ’n groot bate.
Groot maag en al kan hy hardloop soos min.

IDELSON
Idelson besit die warmbronhotel.
In die warm water voel siekes gou wel.
Sy papegaai in die hok
terg swemmers en maak amok!
Hy skree: “Vetboude! Brand in die hel!”

JORDAAN
Drie-berge-wyn kom van Jordaan se plaas.
Op die dorp is sy dokterbroer baas.
Gesondheid in die rondheid!
Basta met al die vroomheid!
Totdat polisie in pypie laat blaas.

KANTSOURIS
Tannie Visser is Kantsouris se klerk.
Agter die toonbank ken sy haar werk.
Fliekgangers soek eetgoed.
Lekkers vir die nooi ’n moet.
Saterdagaandjolyt! Eers môre kerk.

KELLERMAN
Duits is doktor Kellerman se taal.
Soms moet hy Gawie oor kole haal.
“Was jy ook ’n vryer?
“Jy, nogal skoolleier!”
“Nee, die meisies dink ek is te vaal!”

KRIEL
’n Kriel ontmoet jy om elke draai.
Hul woeker en werk; laat hare waai.
“Môre Oompie! Jou van?”
“Middag Tante! Jou van?”
“Ja, natuurlik: Kriel! Dit kon ek raai!”

KIRSTEIN
Oom Karel Kirstein met sy krullebol
 het baie verskonings as klante lol.
“Dis nog op bestelling!”
Niemand glo sy stelling.
Die ou wolkop se kop sal nog rol.

LAUBSHER
Meneer Laubsher se leerders is donkies.
Ongelukkig het hul Boekhou gekies.
Hy eet sy brood in die gang.
Tikklas laat hom slange vang.
Het die ou knorpot nog al sy varkies?

LA GRANGE
Kosie la Grange speel die klavier.
Sy eie komposisies nie van hier.
Mense dans dat dit gons.
Die lekker kotteljons.
Kosie se vingers huppel van plesier.

MAC DONALD
Mac Donald is ’n oorlogsveteraan.
Nie van die eetplek in Sesde laan.
Hy trap fyn in die kombuis.
Koekroller maak van hom muis.
Vyf dogters, een seun wys hy’s ’n haan.

MC SWEENEY
Mevrou Mc Sweeney onderrig ballet.
Ballerinas mag nooit wees te vet.
Pas de deux; dans vir twee.
Danser se greep gee mee.
Hals-oor-kop; gehoor dink dis vet pret.

MALAN
Gees Malan se Wiskunde spook steeds.
Menige leerder se keel word hees.
Leraar Malan maan kwaai:
“Jul sondes is aan’t oplaai!”
Tog elke jaar ’n Muskadelfees!

METLERKAMP
Metlerkamp smee die rooiwarm ysters.
 Dikwels aan sy hande dik pleisters.
Gate brand in sy klere.
Hare geskroeide vere;
Swart, oranje soos ’n Kaapse lyster.

MULLER
Dokter Muller het ’n grasdakhuis.
Hy meng medisyne in ’n buis.
Bitter stroop laat tante gril.
Vredeshalwe bly sy stil.
Dokter lag alte lekker in sy vuis.

NAUDE
Sekere Naude soen Langnek-kaatjie.
Daarom sy maag soos ’n ronde vaatjie.
 Laatmiddag begin sy dors.
Dit klop soos pyn in sy bors.
Later meet hy breedte van die paadjie.

NIEMAND
“Wie woon agter Badskop?” vra iemand.
Iemand antwoord en sê: “Dis Niemand.”
Dit kan mos nie wees nie.
Waar uitvind; vra by wie?
Skielik word Niemand, iemand, vir iemand!

O’ KENNEDY
Meneer H.O. Kennedy word HOK.
Dom Geskied. leerders word soms gehok.
Gooi papiervlinders rond.
Stouter blaf soos ’n hond.
Meneer gryp na sy stok; laat speel bok-bok!

PLAX
Apteker Plax het die mooiste vrou.
Sy help hom om medisyne te brou.
’n Glasbuisie ontplof!
Haar mooi oë word dof.
Plax val ageroor; om die kiewe grou.

QUERRE DE LA
Quintin en Queenie ken Quintianus.
Hy is familie van Stergianus.
De la Querre is poliesman.
Nog so jonk; die kop al pan.
Bedags dra hy ’n pet; snags ’n slaapmus.

ROUX
Japie Roux werk by die tennisbaan.
Bekend as “Polka” net waar hy gaan.
Hy soek tennisballe
weggeslaan agter walle.
Hy hou meisies dop soos ’n jong haan.

SANDLER
Sandler is ’n eerbare prokureur.
Sy vrou se parfuum ’n outydse geur.
“Ek eet graag vark,” sê sy,
“wanneer hy is nie by.”
“So kan ek dalk die hemel verbeur.”

SWARTZENDAHL
Juffrou Swartzendahl speel die orrel.
Gesteurd word na haar kant gekorrel.
Dit klink soos saag in ’n blok.
Luister liewers na die klok.
Jan beduie; vinger oor sy gorrel.

THOMPSON
Thompson van die Provinsiale Raad
word bekend as ’n sterk man van die daad.
Nuwe skool verrys gou.
Opgaardam word gebou.
Vir dam sonder water het hy nie raad.

TRASFORINI
Krysgevangene was Trasforini.
Hy kon glad nie Afrikaans praat nie.
Sing sy plek oop op ’n plaas.
Trou met dogter van sy baas.
Hofmaak en trou verg nie tale nie.

UYS
Uys is ’n haastige man met groot krag.
Hy bestuur ’n Diamond-T met vol vrag.
Bergop laat vragmotor kook.
“Dis weer die duiwel wat so stook!”
“Klim in by iemand anders ’n slag!”

VAN AS
Koos van As hou sy hand op die skaal.
Hy wil die meeste geld uit beursies haal.
Hy hou hom ewe galant;
skewegesig, ou kalant!
Trek aandag af met sappige verhaal.

VAN BLOMMESTEIN
Juffrou van Blommestein bestuur sleg.
Dikwels is haar motorsleutels weg.
Met ’n skoen sonder sool
haas sy haar na die skool.
Haar swart voortand is met gom geheg.

VAN DEVENTER
Ben van Deventer lui die kerkklok.
Hy herstel sandsteen wat begin vlok.
Terggees vol kwinkslae.
Gee leraar al sy dae.
“Eendag, Ben, sit ek jou kop in ’n blok!”

WOLFAARD
’n Karooboer is Kosie Wolfaard.
Met varke sorg hy vir huis en haard.
Hy voer sy varke vet.
Vrou moet op haar gewig let.
Aardwolf is hy met stekerige baard.

WEIDEMAN
Die Weidemans het ’n appelkoosboord.
Laat dominee soms spreek ’n kragwoord.
Kwaaijongens ’n groot las.
Hond laat hul vinnig verkas.
“Appelkoosmaag jul voorland; gaan maar voort!”

XERXES
Meneer Xerxes voel soos ’n koning
op die stoep van sy paleiswoning.
Sy vrou bad in donkiemelk.
Hy drink wyn uit goue kelk.
Al wat steeds uitbly, is hul kroning.

YMIR
Ymir se twee seuns lyk soos reuse.
Pa gee aan albei hulle neuse.
Hul kan vreeslik protesteer.
Laat hulle nie maklik leer.
Hul stam nie verniet uit ou Geuse.

ZAAIMAN
Die Zaaimans woon by die brug wat swaai.
Keisierivier se water kom kwaai.
Rompe en stompe spoel.
Die water skuim en woel.
“Pas op! Pas op! waarsku Zaaimans se kraai.


Boeke van dieselfde skrywer:

Myne was ʼn Bon Voyage

My muse ʼn Boogskutter

Maskers

Die Appelboom is koning

Om te Bou

Besoeke en ʼn Soeke

Wat is in ʼn Naam?

image_pdfDOWNLOAD PDF