105.KJV Koo, Distrik Montagu 1953 – 1964
Die Koo Joernaal-storie het in 2022 begin. Mariette Le Roux het ‘n huldeblyk aan haar ouers (Joey en Adrie Burger) geskryf en toestemming is van haar gevra om haar artikel in ‘n storie genaamd Koo Intro (No 57) te gebruik. Die Koo Intro-verhaal is deel van die Montagu Stories-versameling en kan op die museumwebblad bekyk word. Toestemming is verleen maar Mariette het ook genoem dat haar pa Joernale gehad het wat hy oor die Koo gehou het. Sy kon destyds nie die Joernale vind nie. Tydens die 23/24 Kersvakansie het sy my gekontak en gevra of die museum graag die Joernale wat sy gekry het, wil hê. Die Joernale (wat uit twee boeke bestaan het) is nagegaan en daar is besluit om ‘n storie uit die inhoud van die twee Joernale te maak. Gerald Batt, ‘n neef van Mariette, het vrywillig aangebied om die stories saam te stel en het voorgestel dat die stories in die oorspronklike handgeskrewe formaat bly. Gerald het noukeurig ‘n seleksie van inligting afgeneem wat nou in die volgende storie vertoon word. Hierdie storie kan werklik ‘n familie-aangeleentheid genoem word aangesien Gerald ‘n aantal familielede ingesluit het om inligting te verifieer. Dankie aan Mariette en Gerald dat julle nog ‘n stukkie Koo geskiedenis lewend gehou het.
Stigting van die CJV (later jare KJV) in die Koo
Agtergrond – Die CJV, of Christelike Jongeliedenvereniging is in 1883 in Pretoria deur die NG Kerk gestig en het later uitgebrei na ander provinsies. Die doel van die CJV was om ‘n geleentheid vir senior jongmense te skep, met ‘n geestelike basis van goeie, gesonde ontspanning en die Bybel as agtergrond. Die toestand van die paaie en skaars vervoer in die vroeë 1900’s, het dit vir die mense van die Koo en Agterveld moeilik gemaak om die Montagutak van die CJV by te woon. Daar is toe besluit om ‘n CJV-tak in die Koo te stig. Op 22 Oktober 1903 kom ‘n groep jongmense in die Koo saam om ‘n CJV tak te stig. Die naam is later jare verander na Kerk Jeug Vereniging (KJV).
Die gedeelte hieronder kom direk uit die Notule van 17 Okt 1953 en verwys na die stigtingsvergadering van 22 Oktober 1903 – 50 jaar tevore.
Adrie Burger was verantwoordelik vir die notules waarin al die bedrywighede van die byeenkomste sorgvuldig opgeteken is. Ek is nie seker wanneer hy begin het nie, maar dit kon heel moontlik 1954 gewees het.
Die vergaderings is elke maand gehou en goed bygewoon deur lede en besoekers. Die eerste notule beskikbaar op die oomblik, verwys na ‘n vergadering van 03 Julie 1954.
Gedurende die laaste vergadering van die jaar moes die voorsitter ook ‘n jaarverslag inlewer.
Hierdie byeenkomste het elke maand by iemand anders se huis plaasgevind en het die volgende formaat gehad:
Elke byeenkoms het begin met sang en gebed.
‘n Notule is gehou van al die gebeure van die aand en dit is meestal sorgvuldig deur Adrie Burger gedoen. Die notules is weer by die volgende vergadering voorgelees.
Verskillende lede is gewoonlik gevra om ‘n bydrae te lewer vir die volgende vergadering. Na afloop van elke bydrae het ‘n ander persoon die bedanking gedoen.
Die keuses van die bydraes was gewoonlik: Voorlesing, Resitasie, Musiek, Voordrag, Samespraak, Opstel, Grappe, Eie Keuse ens.
Lede het ook soms debatte gevoer. Daar is gewoonlik vooraf op ‘n tema besluit en dan kon lede voorberei om by die volgende vergadering iets daaroor te sê. Dit het altyd uitgeloop op ‘n baie goeie debat omdat verskillende mense gewoonlik verskillende opinies oor iets gehad het. So ‘n debat het dan gewoonlik uitgeloop op ‘n stemmery om ‘n Ja of Nee te bepaal.
Na afloop van elke byeenkoms, is daar besluit waar die volgende byeenkoms gehou sou word en ‘n paar temas en lede is gekies om voor te berei vir die volgende vergadering.
Gedurende die laaste byeenkoms van die jaar in Desember, moes die Voorsitter ook ‘n Jaarverslag lewer oor die afgelope jaar. Direk daarna is ‘n nuwe bestuurspan gekies wat bestaan uit: Voorsitter, Onder-Voorsitter, Sekretaresse of Sekretaris en Tesourier. Die bestuurspan vir 1955 was: SB Rossouw, Alwyn Burger, Adrie Burger, Mabel Batt.
Hieronder volg ‘n paar voorbeelde van notules van die KJV-vergaderings in die Koo gedurende die jare 1954 – 1964 asook ‘n Jaarverslag van 1960
Sien die volgende 8 bladsye
KJV-vergadering by Mnr A Burger 03 Julie 1954
KJV-Vergadering by Mnr SB Rossouw 23 Jan 1960
KJV-vergadering by Adrie en Joey Burger 23 Feb 1963
KJV-vergadering by Mnr Robert en Lida Batt 25 April 1964
Jaarverslag 1960
Joernaalinskrywings 1954 – 1964 Koo-tak
Direk na afloop van die KJV-vergaderings, het die lede die aand verder geniet. Dit was ‘n ideale geleentheid vir die jong volwassenes om darem een maal per maand as ‘n groot groep lekker sosiaal te verkeer.
Daar is saam iets ligs geëet, koffie en tee gedrink, speletjies gespeel en ook staaltjies vertel oor insidente wat gedurende die vorige maand gebeur het. Die lede kon gedurende die maand iets skryf om ‘n bietjie gek te skeer met verskeie mense en insidente wat meestal komies van aard was. Al hierdie staaltjies het altyd ‘n lekker geselsery en gelag uitgelok en lede kon ook grappies of eie poësie skryf.
Adrie Burger was ook sekretaris van hierdie byeenkomste en het alles sorgvuldig in the Joernaal opgeteken.
Hieronder is ‘n paar van hierdie staaltjies wat direk uit die Joernaal gekopieër is, om die nostalgie van daardie era vas te vang.
Kaatjie van die Winkelplaas en die brandweerman
Die brandweerman van die Kaap
Janneman van Jakkalsdraai
Ou Gielman
Gielman
Grappies
Slawehandel, Pa P
Jannie van Jakalsdraai
Boet An en die lorrie met net drie nuwe wiele
Vry ‘n meisie aan die slaap?
Gielman en die tweeling
Kaatjie van Winkelplaas en die Swartland dokter
Janneman en die goudvissie
Karolie se huis
Janneman van Pa P en die hofsaak
Winkelplaas se nooiens
Die reën
Ons nuwe slagterboer
Sneeu op Matroosberg
Oom SB se oudste – “baie waarde vir min moeite”
Terugblik
Uit die mond van ‘n suigeling
Janneman en die melkkoei (en die asters)
Pa P ruil sy melkkoei vir ‘n dogter
Jaarlikse Subskripsiefooi vir Adrie en Joey Burger1955 – 4 sjielings
Ou Gielman en die poppies
Iets oor die Evasgeslag
Klere van jongmense in Laatsrivier
Hoe om kaf op n lorrie vas te trap
Mabeltjie van Winkelplaas ook
‘n Spook wat stink
Neef Daan, Pa Buurman se witkop en die Fordjie
Ons wil graag weet
Vaarwel aan die Oujaar
Berge en selfs “Drie Berge“
Peetman Bokvel leer Engels praat
Pietman en nylons vir vroulief
SB se oudste seun en popspeel
Erfgename
Oom SB van Laatsrivier
Miemsie se winkeltande
Resep vir ‘n goeie “nagroom”
Karolie en die nuwe naaimasjien
Johannes en sy duiwe
Raad vir ‘n seer kies
Pietman van Lopendsrivier
Inkopielys en soentjies vir Sternatjie by Winkelplaas
Grappies
Rooster se kennisgewing
Huweliksresep
‘n Glimlag
Alfabet
Staaltjies oor ‘n vakansie by die Wilde-Dieretuin (Kruger Wildtuin) – Junie 1965
Net vir interessantheid: die foto op bo is Junie 1965 by die Kruger Wildtuin geneem. Party van die mense in die Joernaal staaltjies is op hierdie foto, soos oom Alewyn “Alewee”. sy vrou tannie Sarie “Karolie”, oom Adrie, tannie Mabel “Mabeltjie” my Ma, my Pa Robert “Robbie” en ek ook. Ek staan 2de van links in die agterste ry en my Pa 5de van links ook in die agterste ry. Die name in kommas ” ” hierbo is soos hulle in die staaltjies genoem word. Gerald.
Bykomende inligting oor verenigings/groepe wat ook in die Koo in die vroeë jare bestaan het
van Anelma Oosthuizen
Vriendskaplike verenigings in die Koo het al jare bestaan. My ma se pa dus my oupa Piet Botha was in 1938 die voorsitter van ʼn vereniging. Dit was ʼn soort debatsvereniging. My ma het baie daarvan vertel. O.a. genoem eenkeer was die debat oor: wat is die magtigste? Die swaard of die pen. Ek stuur vir jou ʼn brief wat die lede geskryf het vir my oupa se 54ste verjaarsdag. Die geskenk daarby was ʼn gesangboek van die kerk. Dis nog in Nederlands. Die geskrif in die gesangboek is al dof. So ek sal alles wat daar staan vir jou skryf asook wat in die brief staan.
Die brief lees as volg: Koo 24 Maart 1938. Aan Meneer Piet Botha, Voorsitter Vriendskaplike Vereniging. Seer geagte Vriend, Dit is vir ons ‘n baie groot plesier en voorreg om u hiermee van harte geluk te wens met die heuglike dag van u 54 verjaarsdag. Ons deel saam in die vreugde wat u met u eggenote en kinders smaak. Ons bede is dat u nog baie jare die vreugdevolle dag saam mag vier in gesondheid en voorspoed. Ons kan u verseker dat ons dit hoog waardeer wat u vir ons Vereniging gedoen het en nog steeds doen, en op die bekwame en taktvolle wyse waarop u die vergaderings lei, en ons hoop dat u nog baie jare gespaar mag bly om ons voorganger te wees. Met seënwense vir nog baie gelukkige en voorspoedige jare. Van die lede van die Vriendskaplike Vereniging
En op die gesangboek as geskenk die volgende: Koo 24 Maart 1938 Aan Mnr. Piet Botha met seēnwense Van die lede van die Vriendskaplike Vereniging
van Adamus Stemmet
Ek weet van drie verenigings : Laatsrivier, Concordia en Keisie. Daar is een keer per maand deur elke vereniging vergader . Elkeen apart by iemand se huis. Af en toe het twee verenigings saam vergader.
Daar was n joernaalaand wanneer daar onderling gekgeskeer is.
Dit was die tyd van bloedige twisted tussen Nat en Sap.
By plekke soos Ashton en Robertson het gevegte soms uitgebreek.
In die drie plekke waar ons vergader het was daar nooit by die verenigings lelike botsings nie.
My tante Sophie Swart van Huis Uitvlucht was in haar jeug die sekreraris van die Laatsrivier – vereniging.
Dje verenigings was nie CJV ( Christenike Jeugverenigings) nie maar is bloot verenigings genoem.
CJV was ʼn Christelike vereniging wat by sommige hoêrskole bestaan het, Dit was aan die NG Kerk verbonde maar kinders wat nie van die NG Kerk was nie, het dit ook bygewoon.