109.Karpad is remembered by Hester Susanna Fuchs

Updated 17/06/2024
From the Montagu History Facebook page (2024)
deur
Johanna, Bruwer, Russell (bynaam JB)
Montagu sal altyd vir my ʼn “hartplek”wees.
My geskiedenis strek diep in die omgewing.
Die du Toit’s van “Karpad” in Ashton, die Hill’s, die Bruwer’s, en my tannie Ria was met Marthinus van Zyl getroud.
Toe trou ek nog met Malcolm Russell, wie se ouers die Montagu Hotel vroeër jare besit het. My 2 kinders het altwee hulle eerste tree daar gegee.
In my besit is ʼn kultuur historiese geskrif (hieronder) wat my ma (Hester Susanna Fuchs nee du Toit) geskryf het vir ʼn vriendin wat besig was met ʼn graad in museumkunde. Dit handel oor gebruike op die plaas, skool en in die distrik. Ek sal dit graag deel indien iemand sou belangstel. (My ma was met Otto Fuchs getroud. Hy het by die SA Polisie, Ashton gewerk.)
Van die voorwerpe daarin genoem het ek nog steeds. Die stoel, voorskootjie, hekelwerk. Ook ʼn skildery van die ou pad deur Cogmanskloof, waarmee ek grootgeword het. (Ek is 77jaar oud). Skilder onbekend.
Daardie reuk, so eie aan Montagu, sal altyd by my bly

JB and husband Malcolm who live in Cape town made a special trip to Montagu(May 2024) to finalise this article.

JB with her mothers manuscript which she has donated to the Montagu museum. Her mother wrote the manuscript in 1984 or there abouts
Pictures: Lea-Anne Alexander

Original Karpad Owners Andries Hendrik Du Toit and Anna Johanna Bruwer. JB’s Oupa and Ouma
Picture: Malcolm Russell


The original Du Toit farm house and barn at Karpad as it looked in 2010
Pictures: Google Maps


Picture: Lea-Anne Alexander


Andries Du Toit retired to Montagu and lived at 6 Long Street until his passing in 1952. He is buried in the old NGK cemetery Montagu
Pictures: Malcolm Russell

Malcolm en JB op Bloupunt iewers in tyd

Die skildery van die ou pad deur Cogmanskloof, waarmee ek grootgeword het.
Pictures: Malcolm Russell
Dankie aan Lucille en Kobus Smit vir die transkribering en proeflees van die manuskrip geskryf deur Hester Susanna Fuchs wat volg

Picture Malcolm Russell
HOE EK DINGE ONTHOU WAAR EK GROOTGEWORD HET
- Naam: Hester Susanna Fuchs “geb. Du Toit”
- Ouderdom: Gebore 15 January 1912
- Adres: Security House 403, Hoofweg, Strand (huidige woonadres)
- Beroep: Huisvrou
- Kennis opgedoen: distrik Montagu, Ashton en Robertson, self beleef, nie darem alles nie veral die goëlery.
Geestelike Kultuur
Ons plaas se naam nl. Karpad, ek is ook daar gebore en opgegroei, en al die omliggende plase het dieselfde naam gehad. Verder aan op die pad na Swellendam was daar ‘n groot plaas nl. Stockwell. Karpad se boere was daardie dae die middelklasman en Stockwell se baas nl. Oom Gideon Marlherbe, was die welgestelde man met ‘n groot gesin, sewe seuns en drie dogters. Almal reeds oorlede en boer van die kleinseuns en agterkleinkinders nog daar. Daar was ook ‘n plaasskool op die Stockwell plaas, daaroor later meer.
Die reeks berge was die Langberge met ‘n paar mooi watervalle, soms met sneeu bedek. Sodra sneeu smelt, was dit ‘n pragtige gesig om van die kleinste tot die grootste waterval te aanskou.
Die naam Karpad het ons maar altyd aanvaar dat die paaie was nie van die beste nie en motors was skaars. Net die ryk man kon een bekostig. Soos die een boer na die ander ‘n tjorrie gekoop het, het ons ‘n Ford V8 gehad, eers in die jare 1930 gekoop was alles nog solied, vandag druk ‘n mens baie maklik met jou hand ‘n duik in party karre se bakwerk. Nou ja na mate die motors vermeerder het, was daar toe beter omgesien na die paaie. Maar die kar en perde was maar nog altyd daar vir ander doeleindes.
Volkstaal en volksvreemde kuns
Naamgewing aan plante: Renosterbossie in die winter vol klein wit stippels, lyk na klein stukkies watte, die eindresultaat is klein veldvliegies. (Klipdagga, Wildedagga word groot bome) albei plante se blomme lyk presies dieselfde, maar verskil in blare, die een se blaar langwerpig die klipdagga s’n is gepunt. Kooigoedbossies, ʼn vaalbossie, groei naby riviere, skilpadbossie groei ook laag op die grond met dun groen blaartjies en sulke oranjekleurige klein bessies. Gifbol ‘n breë platblaar bo grond en die bol word taamlik groot. Wynruit (nie seker van spel nie) is kruie, Kamella, Wildeals, Wildewingerd groei in riviere, brandnetels, bokhoringkies, koekemekranka, varkblom, te veel om op te noem.
Diere: Ek noem ‘n paar name wat ek nog kan onthou, Perd se naam was Selffine, sy ma is dood toe moes hy hans groot gemaak word en moes self grassies soek ens. ‘n Ander perd se naam was Youknow, was eers skouperde en later as skoolkarperde. Ek was toe op plaas gedurende die oorlog. ‘n Klein Foxterrier gehad die se naam was Tiekie sy was klein en fyn, pragtige ou gesiggie gehad. Toe ons oudste seun Alexis klein was en lê in die stootwaentjie buite, sal niemand naby kom as Tiekie naby is nie, as sy hom hoor huil, aangehardloop kom. ‘n Ander een Wagter was ‘n baie goeie waghond. ‘n Ou varksog se naam was Kaaitjie so tien tot twaalf klein varkies ‘n jaar. Ons was ook gepla deur ystervarke, bobbejane, jakkalse, muishonde, wildekatte of rooikat. In die berg was dit weer die luiperd en soms het pa en seun gaan wildsbokkies jag, soos die steenbokkies en grysbokkies.
Spreekwoorde: Een Kleurling sê vir ‘n ander een toe die kastig nie wil groet nie. Jou hakskene is weer te lig vanoggend nê. ‘n Leë blik maak die grootste lawaai. Krummels word brood. ‘n Goeie begryper het ‘n halwe woord nodig. Hy is sommer ʼn windgat. Hakskene word rooi. Ploeg met ‘n ander man se kalwers. Hy is te lig in die broek. Hy is bang soos die duiwel vir die slypsteen. Te groot vir sy skoene. Nat agter die ore. Hoe lyk dit met ‘n bietjie harde hout (brandewyn). So lelik soos die nag.
Plekname van Plase: Ashton was die Poskantoor van al die omliggende plase: Goree, Karpad, Stockwell, Zandvliet, Boesmaspad, Excelsior. Tussen hakkies, die twee name Zandvliet en Excelsior was die plase van die regtig baie ryk De Wets asook Pospect. Ryk mense maar nederige mense. Die kleinseuns boer nou daar en is hulle bekend vir goeie wyn en groot volbloedperdtelers. Baie ander plase ook onder dieselfde naam Zandvliet geval. Montagu in die distrik was weer Koo, Keisie, Rietvlei No1 en No 2, Uitvlugt. Die Huis vir bejaardes heet na daardie plaas. Burgers was die eienaars. Knipeshope, mense met die van Knipe se plaas Baden, daar Jordaans gewoon, was ook deel van die warmwaterbron, word nog al die jare gepraat as gaan na “Die Bad” wat ‘n paar jaar deur ‘n watervloed weggespoel is en is weer besig om nuwe geboue op te rig en verstaan ook besig met die hotel. Is alreeds ‘n karavaankamp aangelê.
Kampe op plase: Skaapkampe waar die lammerooie geloop het wat moes lam. Die honde kamp. Die Ramkamp was weer net die ramme. Lusernkampe. Die saaikampe of lande. Die hoenderkamp. Volstruiskamp.
Byname: Rooi Koos (gelaatskleur baie rooi asook rooihare) boer distrik Robertson sien hulle dikwels. Sy pa was Apie Burger, voorletters was A P Burger. ‘n Oom van my Willie Bruwer, baie hard gewerk. Hy was Willie dag en nag. Danie Bruwer twee vreeslike krom of liewer bakbene gehad en een been was mank, hy was ou Danie Haak. Bêrend Burger was Berend penne. Die een broer was seker maar ‘n bietjie skynheilig hy was Tomas Burger, die twee susters Nellie was Nanie en Martha was Kartjie kepater (seker maar daardie werkie gedoen wanneer nodig). Hulle was geeneen getroud nie. Koos Boesman, Rooi Koos se Oupa was kort en klein. In Klaasvoogds was die van Conradie redelik volop en was party die jakkalse genoem.
Volksvertellings
Kampvuurstories: Ongelukkig is geheue nie baie goed sover al hierdie stories betref en maar liewer los voordat ek ‘n groot liegstorie vertel.
Sprokies: Mense sonder diere is seker maar min in getal en ongelukkig moet ‘n mens van jou geliefkoosde diere soms ontslae raak sodra daar na ‘n woonstel getrek word. Daar is ook sekere munisipale regulasies waar diere nie op ‘n erf toegelaat word nie. ‘n Mens kry mense wat regtig nie lief is vir diere nie, veral katte, en enige dier neem so ‘n sagte plekke in ‘n mens se hart in raak so innig lief vir hulle want het ook ‘n verstand en verstaan wat gesê word. So ek dink mense sonder diere is nie altyd of voel die gelukkigste mense nie.
Tafelberg se kleed: Dit word vertel van ‘n ou man wat so baie pyp gerook het en daarom daardie wit kleed. Tafelberg is redelik plat bo-op en as Suid-Oosterwind waai, bedek die witwolke die berg en hand af soos ‘n kleed.
Volksrympies: Een, twee, drie, vier, vyf, ses, daar is water in die fles, daar is koffie in die kan, weg is Jan. Jan is aan. Huis, paleis, pondok, varkhok. Kennetjie, menennetjie, rooilippies, ooghaartjies, snotneusies, kedoems oor die koppie. A B C meester gaan wee A B boekie meester sit in die hoekie. Hickory, dictory dock, the mouse ran up the clock. Hickory dickory dock, the mouse rand down the clock. Hickory dickory dock.
Volksliedjies: Kokkewiet kokkewiet my vrou is siek in die middel van die week maar Sondag niet. Wat maak oom Kallie daar en wat maak oom Kallie daar, Oom Kallie steek ‘n stywe dop en slaan sy vrou met ‘n handsambok.
Ek onthou van die liedjies maar nie alles nie soos bv. Pollie ons gaan Paarl toe, Pollie ons gaan Paarl toe, Pollie ons gaan Paarl toe, ek en jy alleen. Die witborskraai hiervandaan na Mosselbaai. Ens; Die Stellenbosch se boys kom weer onthou nie meer die res op die huidige oomblik nie. Ek bedoel al die woorde nie.
Volksgrappe: Ongelukkig nie baie goed om grappe te onthou of oorvertel nie. Mnr Van der Merwe se vrou het ‘n kunsoog gehad maar vir veiligheidshalwe ‘n ekstra spaar kunsoog gekry. Elke aand as hulle gaan slaap, word die kunsoog in ‘n glas water gesit voor die bed. Een nag word Koos wakker met ‘n groot dors en nadat hy klaar water gedrink het maak hy sy vrou wakker en sê hy het van die water gedrink en iets ingesluk. Sy laat niks agterkom nie en sit gou die ander oog in. Die volgende dag is Koos dr toe. Hy vertel hom toe die storie. Dr hom goed ondersoek en sê vir Koos hy kry niks verkeerd nie, hy sê maar draai om en buk dat ek van agter kan sien. Dr sê dit is die eerste keer dat hy ‘n pasiënt ondersoek wat vir hom terugkyk.
Kinderskrikke of paaiboelies: Antjie Somers was in ons kinderdae ‘n speletjie. Een person word so in taamlike verflenterde klere aangetrek gewoonlik swart en as ons naby haar kom word sy uitgeskel vir Antjie Somers dan word die klomp kinders gejaag. Die pampoenspook was ook daar, ‘n groot pampoen word uitgehol die oë, neus en mond word uitgesny dan kom daar ‘n kort stukkie kers wat brand en dan word voor die person se gesig vasgehou met ‘n groot wit laken oor die kop. Lyk maar bra skrikkerig in die aand. As ‘n ou nie weet wat dit is nie lê jy rieme neer.
Spookgedaantes en dwaalgeeste: Baie gehoor van goëlery maar nooit self ondervind nie. Dit is klippe op dakke gooi, koppies en pierings wat van rakke afval, deure wat oopgaan of toeslaan soms so erg dat die mense wegtrek. Oorsaak is maar mense wat met ‘n wrok loop teenoor ‘n person of persone. Gaan soek dan naderhand raat by die Slamse, die vra ‘n bedrag geld en na ‘n paar aande is die goëlery oor.
Allerhande ander verskynsels: Al wat ek weet van weerwolf is as iemand se hare “veral mans” baie lank was en nie baie netjies aangetrek was nie, gesê jy lyk net soos’n weerwolf.
Alledaagse bygelowe: Hierdie tekens voorspel kuiergaste. As die hoenderhaan kraai voor elfuur, kat sy gesig was. As ‘n mes val kom ‘n man kuier, as ‘n vurk val ‘n honger vrou. ‘n Teelepel val ‘n vrou met ‘n baba. As ‘n kind deur sy bene loer gaan sy ma verwag. Neus jeuk, moeilikheid. Sout mors ook moeilikheid. Van ‘n slang droom rusie. Onderdeur ‘n leer loop is ongelukkig. Sambreel in huis oopmaak ook ongelukkig. As dit reën op troudag ook ongelukkige huwelik.
Alledaagse bygelowe: Iemand ‘n mes gee moet jy ‘n pennie “in die ou dae” saamgee anders sny jy die liefde af. Swart kat oor die pad loop is ook ongelukkig, iets gaan gebeur. Droom van troue gaan iemand dood. Van tande droom en daar is bloed gaan iemand ook sterf.
Volksgeneeskunde: Tandpyn, ‘n kruie naeltjie in gat druk, of ‘n mond vol brandewyn in wond hou (ek sal dit sommer insluk sodat ek kan slaap). Gifbalblare, grawe dit in die veld uit, is ‘n groot ovaalvormige bal moet eers droog word dan word die blare dun en deurskynendafgetrek en op pitsere of bloedvinte gesit trek dit ryp. Vir skeelhoofpyn is in myself al hierdie middels gebruik. Varklelieblare natgemaak met kasterolie word op die voorkop tot by die slape gesit. Asynlappe, rou aartappelskywe word tussen twee nat lappe gesit. Heel laaste was homopatiese poeiers gegee as erste hoofpyn verby is. Boegoe asyn vir verstuite gewrigte natmaak sit verbande om. Boegoebrandewyn vir maagmoeiliheid of kruienaeltjiebrandewyn. Papaja skille op wond sit wat nie wil genees nie. Klipdagga (met gekartelde blaar) laat trek kan gedrink word vir hoë bloeddruk, ander het dit gebruik vir maagprobleme of roos aan bene en hande. Ander dit weer gedrink vir asma. Die kruie nl. Klipdagga het by ons op die plaas gegroei en het ons honderde pakkies daarvan na baie plekke oor die lande gestuur, onder andere tot na Duitsland. Die mense destyds ‘n halfkroon posorder gestuur vir posgeld en verpakking, ons mag nie geld gevra het nie. Die klipdagga gehou van berggrond en langs riviere gegroei. Hier in die Strand staan in party mense se tuine daarvan geplant as ‘n struik. Ek albei soorte hier gesien. Kooigoedbossies laat trek vir hartprobleme ander weer geglo vir blaasprobleme ook. …ent sluk vir bloedvinte. Fyn neut en soetolie vir koorsblaar in neus. Die ou mense se raat vir seer oë, neem jou vroeg more urine was oë daarmee met stukkie watte of gebruik oogkelkie. Kinkhoes neem kind vroeg oggend in perdestal. Die ou mense het net aan een soort medisyne geglo en dit was die bloubottel kasterolie.
Volksnatuurkunde: Legendariese diere soos basilisk, eekhoring, ens. Die basilisk sover ek weet is ‘n soort reptile, dra geen kennis van die besondere slang nie, Aan ons as kinders is altyd deur Pa of Ma vertel as die hoenders ‘n besondere eier lê wat misvorm is, amper peervormig (het sulke eiers gelê ‘n natuurfrats) en die eier broei uit dan kom daar ‘n basilisk uit. ‘n Kat wat wil kleintjies kry sal bv. ‘n stil plekkie en sagte plek soek, die kleintjies so half wegsteek soos ‘n koei haar kalf. ‘n Kat sal haar kleintjies weer terug dra na geboorteplek as ‘n mens bv. dit van die solder of waar ookal na die huis wil bring vir ekstra melk te gee, dra hulle terug in haar bek baie versigtig. ‘n Koei steek haar kalf soms so weg tussen bosse dat daar vir dae na die kalf gesoek word, sorg dat sy nie naby wei nie maar sal nie vergeet om haar te laat drink nie. ‘n Kat, koei en ‘n vark eet hul eie nageboorte op. ‘n Hond wat met liefde behandel word en ‘n ander person slaan, skop of gooi met ‘n klip na hom. Hy onthou daardie person vir altyd. ‘n Hond “nie alle soorte” het ‘n aanvoeling of ‘n ens van hom hou of nie. Sal teen jou skuur op jou skoot spring gaan lê dat ‘n ens hom of haar streel. ‘n Hond sal miskien voor die koelkas gaan sit wil dan iets spesifiek hê, soos ‘n been of stukkie vleis. As ‘n hond in die huis slaap sal dit teen jou bed opspring of aan ‘n mens se gesig lek as hy wil uitgaan. ‘n Kat weer skree vir sy melk ‘n sekere tyd van die dag. Gelowe in verband met diere soos slange ens. Ek praat onder korreksie maar meen dit is die pofadder wat die punt van sy sterk vasbyt en dan kan rol soos ‘n wiel om sy vyand by te kom.
Die eienaardighede of besonder eienskappe van sekere plante. ‘n Mens kry plante wat sonder grond groei, sit dit in ‘n potjie end it gaan net aan, of hang dit aan ‘n toutjie op aan ‘n boom. Die wonderboom se blare kan ‘n mens ook net een van afpluk aan ‘n boomstam hang en na ‘n tyd kom op elke blaar ‘n plantjie uit. Die plant wat insekte vang. Gelowe in verband met plante bo of onder die grond dra. Daar moet ‘n studie gemaak word van die maan soos die mense geglo het. Wortels en beet moet op wees by volmaan. Kool en blomkool moet op wees en groei saam met die maan, so ook skorsies en pampoen. Aartappels moet 14 dae voor volmaan geplant word. Een aand oor radio ‘n paar profs oor hierdie saak ‘n redenasie gevoer en een toe gevra maar glo jy daaraan? Toe sê hy ja. My Oupa en Pa het so geplant en ek plant so en nog altyd goeie resultate gekry.
Volksweerkunde: Metodes van weervoorspelling ens. Die noordweste wind bring ons reën in die winter alhoewel die hele land vanjaar in al die provinsies reën gekry het en nog reën. As perde rondhardloop en agteropskop in kamp of werk en mense geglo teken van omweer. Miere wat baie lasting in die huise is veral die Kaapse suikermier. Kring om die maan is wind wat gaan waai. Baie digte mis is droogte. Eerste 12 dae van maand reën kan goeie jaar verwag, so nie maar hoop en sien. Gelowe ens; ‘n duisendpoort beteken ook reën. As die soms ‘n sekere manier waai en fluit deur ‘n venster of deur gaan ook reën. Ek glo nie aan metodes om hael af te weer nie, dink nie dit kan gedoen word nie. Allerlei opvattings ens. Ek glo dat boomryke streke wel reën kan aantrek. Streke waar groot denneplantasies is reën dit gewoonlik baie makliker. Soos bv. Grabouw, Knysna en baie ander plekke ook George. Gelowe oor donderweer en weerlig. Ou mense geglo in mens moenie voor ‘n oop venster of ‘n spieël staan as dit donderweer en weerlig nie. Nie naaldwerk met naaimasjien doen nie. Nie onder ‘n boom staan nie. Ander sê weer sit oop die vensters sodat weerligstraal kan deurtrek. Ondervinding in Windhoek gehad alle deure en vensters wat oop en die weerlig al op telefoondraad langs en in die eetkamer telefoon buite aksie geslaan sien net blou vlamme. ‘n Ou skrik nie bietjie nie.
Waterwys: Baie mense maak ‘n bottel vol water en dit word gebalanseer in palm van hand en sodra die bottel na aan ‘n wateraar kom, kantel die bottel om. My oorlede Pa het weer ‘n mikstok geneem met twee redelik langerige lote dan word in elke hand een geneem en soos hy stap trek die punt of grond toe, en so het ons ‘n fontein op die plaas gehad. Stok die punte draai af na die water en word daar ‘n paar keer in verskillende rigtings geloop om seker te maak waar is die sterkste aar.
Lewensvorme:
Geboorte ens.: Ja in die ou dae was aan ons vertel ons was in die berg gevang, was ‘n bobbejaan en is die stert afgekap en skoongekrap. Die vroedvrou het maar na die huis gekom en die kinders word vroetydig na bure gestuur totdat alles verby is. Sy kom gereeld die baba bad en ook na die moeder omsien dat alles reg is. Ek onthou nog die ou Vroedvrou in ons buurt, hulle was bywoners op ons plaas. Tant Bertha Rabie, kort en skraal maar ‘n liewe ou Tannie. Daardie dae moes die ma tien dae in die bed bly. Daar is nog geglo aan borsvoeding en meelbalpap wat Ma self gemaak het en was dit baie lekker. My kinders, vier van hulle, almal meelbal babas. Het nie al die hedendaagse pappe geken nie. Die meelbal bestanddele was meel nie te grof nie, maar ook nie fyn wit meel nie en word gemeng met vars botter, word styf in ‘n bakkie gedruk en vir ‘n uur of langer in die oond gebak, heerlik. Bygelowe was daar genoeg, nl. As jy iemand sien wat gebreklik is, ‘n vlek in die gesig of skrik vir ‘n slang en jy vat aan jou dan laat dit ‘n merk aan die ongebore kind.
Doop: Die dooprok was gewoonlik lank en van suiwer sy met die pragtigste kantinsetsels. Die onderrokkie was ook van ‘n baie fyn wit material en baie opnaaisels aan lyfie en onderom ook met mooi kant. Warm wit babasokkies aan voetjies. Al die kinders word in dieselfde rokkie gedoop. Peetouers wat in die ou tyd vir tot ses mense, vandag net twee en dan vergeet baie ook nog dat hulle ‘n Peetoom of tante is, heg nie veel waarde daaraan nie.
Doopsgeskenke: was maar meer borslappies, sokkies ens. Johnsons babapoeier en miskien ‘n koekie seep. Room is die doopgeskenke as dit ‘n dogter is, ‘n rokkie en speelgoed dingetjie. Vanslewe babas nog in handgemaakte of met wasien nagrokkies en mattinee baadjies geslaap en ‘n nawelband. Vandag geeneen van genoemde artikels nie, is ‘n frokkie, natuurlik die doek en “babygrow” waarin hulle slaap. Doopfees was nie so ‘n groot affêre soos vandag nie, word by die kerk gelukgewens en ‘n paar familielede sal na die huis kom. By sommige is dit vandag, oggend tee, familie ete en namiddag weer vriende.
Die opvoeding van die kind: Ons is redelik streng grootgemaak. Sondag mag ons bv. nie koerant gelees het nie. Ons was nie naby ‘n skool waar daar Sondagskool gegee is nie en het Ma dit gedoen. Die buurt se kinders het ook daarheen gekom. Ons moes bybelversies leer en bybelvrae antwoord. Elke 14 dae het ons na die dorp se kerk gegaan en katkisasieklasse moes ons bywoon wat altyd Sondagnamiddag was. Ons het dit soos die oumense gesê het ‘n Tuishuis gehad was 2 kamers en kombuis. Elke aand en oggend is godsdiens gehou. In die aand na ete word uit toe nog Nederlandse groot familiebybel gelees, gesin en gekniel om te bid. Menigmaal so gekniel by stoel aan die slaap geraak.
Die opvoeding van die kind: In die oggend was daar uit ‘n boekie met dagstukkies gelees nl die Zionsboek en later jare Uit die Beek. Huisgoedsdiens word maar selde of ooit meer saam met familie aan die tafel gehou na ete. In die groot dorpe of stede amper onmoontlik, want as die telefoon nie lui nie is dit die deurklokkie. My oorlede man en ons as gesin dit probeer. Die lekkerste was altyd die gesange, psalms wat gesing is, albei my ouers het pragtige stemme gehad. Die swartstoof daardie dae en swart ketel wat so insak bo die vlamme en kole om koffie te maak in koffiekan met sak, deesdae is alles kits. Ons het self koffie gebrand in groot plakyster pot, gemaal was ook deel van ons werk. Daar was nie so ‘n ding van nee ek het nie lus nie, geen teepratery nie. Geduld die volgende was ‘n pak slae. Ons was ook nie toegelaat om kos op die borde te laat staan nie, Pa en Ma het hulle koffie in die bed gekry met ‘n stukkie beskuif of halwe snytjie brood geglo daar moet iets saam met die koffie geëet word en ons drie susters elkeen ‘n beurt gekry of 5 uur soggens op te staan en koffie te maak.
Skoolervarings:



Daar is nog Malherbe’s op Stockwell en die gebou staan op hulle grond
Foto’s: Burrie Steyn
Skoolure was van 8:30 vm tot 3:00 nm. Ons was eers in ‘n plaasskool wat op Stockwell was, een onderwyser gewoonlik ‘n dame en was van sub A tot Std VI. Die kinders al hoe minder geword, meeste seuns na Std VI gaan boer gevolglik skool leeggeloop en is ons Montagu Laer en Hoërskool toe. Ek onthou nog ‘n paar van hulle name. Juffrou De Wet, Marais, Stander, Rossouw (sy leef nog), Ferreira (Rooikop was kwaai). Ek was darem seker nie te stout in die skool nie, ‘n boekprys gekry vir die minste praat in skool.

Willem en Edward(R) Hill saam met juf. Marais
Foto: JB Russell
Ons het met ‘n donkiekar gery skool toe, uitspanplek was by ‘n boer onder ‘n nartjieboom (baie nartjies gesteel). Die Oom se naam was Andries van Zyl, bynaam Andries Kruk. Sy een been was half opgetrek en dan met een kruk geloop. Later by die skool gaan uitspan. Kosmandjie en donkies se voer ook by. Menigmaal gebeur dat ons ‘n bietjie laat is en jaag, hardloop om in ry te kom en gevolglik soms die kosmandjie op die kar vergeet. Die donkies die kosmandjie oopgevroetel, alles opgevreet met die lekkerste handepoot druiwe. Ons het nie honger gely nie want was daar altyd ‘n paar barmhartige samaritane. Plaasskool loop leeg nou met perdekar Montagu skole toe. Daar was koshuise maar met sekere kinders was toegelaat die res moes loseer, ons het toe maar ingery met die sogenaamde kapkar. Die twee perde se name was Selffine en You Know. Was hulle ook voorheen skouperde, die 2 was pikswart en ewe groot. Daardie dae was die pad maar smal sowel as die tonnel, tussen hakkies by ons op die plaas was ons beeswagter en Booi was ‘n swartman met ‘n stomp pinkie. Hy aan ‘n sekere stam behoort, ek dink Zulu. Hy is op die plaas oorlede. Hy het gehelp maak aan die oorspronklike tonnel.
Daar was ook net twee Transport vervoermiddels dit was ‘n Spoorwegbus, onthou nog twee van die busbestuurders. Mnr. Uys en mnr. Walker Rossouw. Die ander man het ‘n wa met ses muile gehad sy naam was Jan Rossouw, bynaam Jan Blikkies. Die bus en wa net sover as Ashton gegaan en weer terug.
Daar was ‘n tolhuis maar is later weggedoen daarmee, moes een sjieling betaal maar net met die terugkom. In daardie tolhuis het toe ‘n Kleurling met die naam Jan Pekeur gewoon en hy het by Barry’s, ‘n groot winkel gewerk op die dorp, die het later bankrot gespeel.
In daardie dae het ouers nie so gou en maklik vir ‘n kind ‘n armhorlosie gegee nie en het ons op pad soggens ‘n sekere plek onderkant die tonnel gehad en as die son dan skyn het ons nog heelwat tyd. Die skool het 8:30 vm begin en 3:00 nm uit. In die winter het dit partykeer baie gereën.
Jongmensvermake: Ek moet seker dit noem dat baie van die gegewens verskil van streek tot streek. Dit was feitlik ‘n instelling om so eenkeer ‘n maand, soms meer, by een of ander plaas te gaan dans. Daardie dae was dwelmmiddels en sterk drank nie gebruik nie. Koffie, lemoenkoeldrank, gemmerbier. Eetgoed was meeste van die tyd toebroodjies en bakkies van heerlike gekerfde beesbiltong. Elke plaas het ‘n beurt gekry waar Saterdagaand gedans sal word totdat dit naderhand net by twee spesifieke huise was. Oom Justus en Tannie Driesie Hill, Tannie Sannie (toe nog nie juis Tannie gesê nie) en ook Frikkie Malherbe. Die Malherbes het twee dogters gehad, die Hills een. Die Hills albei oorlede, dogter getroud woon in Bergvliet. Die Malherbes leef Tannie Sannie en een dogter nog, woon ook op Montagu. Tannie Sannie het op Stockwell gewoon, onderwys gegee daar haar oorlede man ontmoet. Daar aan haar huis die lekkerste partytjies gehad want kon sy fantasties klavier speel. Daar was ander musiek ook, trekklavier, ghitaar en mondfluitjie. Sy is die oudste inwoner in Montagu Ouetehuis naam “Uitvlugt” genoem na plaas in die Koo. Sy is 95 jaar lees nog sonder ‘n bril en brei manssokkies so fyn ook nog sonder ‘n bril. Nou eendag ‘n briefie gehad maar die verstand is so af en toe aan dwaal (nes myne) en is ook taamlik doof. Sy sê nou kan sy tog nie hoor wat die ander skinder nie. Ons het ook ‘n debatsvereniging gehad eenkeer ‘n maand op Stockell in die skool. Oud en jonk het deelgeneem en sy het die “joernaalboek” gehou waar sy al die stories, soms bietjie bygelas, van die jongkêrels en hulle manewales aangeteken het. ‘n Ou het maar liggeloop want sy het haar informante gehad en kan sy fyn spot. Ek onthou nog ‘n paar van die onderwerpe waaroor gedebatteer is nl. Wat is die onmisbaarste vuur of water. ‘n Dokter of telefoon. Daar is geredeneer en later word daar gestem.
Radio: My eerlike opinie is dat die TV die plek ingeneem het van die radio asook die video’s. Mense gaan ook maar min na die bioskoop omrede die toegangsgelde ontstettend duur is, sit liewer voor TV. Die inrybioskope was nogal lekker, pak die kosmandjie geniet dit in die kar en die films was goed. Ek weet nie of baie jongmense ‘n stokperdjie het nie, want hulle lewe is so oorgeorganiseer.
Piekniek: Dit was ‘n instelling dat oud en jonk van Karpad en Stockwell eenkeer ‘n jaar in die dag gaan piekniek maak in Septembermaand, gewoonlik ‘n Saterdag. Die piekniekplek was langs die pad op pad na Bonnievale by ‘n dam en doringbome. Elkeen neem sy eie eetgoed saam. Koue hoender, frikadelle, koekies, koeldranke en word daar vuur opgemaak vir die lekker ou boeretroos. Daar word speletjies gespeel, loop rond in die veld soek allerhande vetplantjies en snaakse klippe en pluk besondere blommetjies. Na almal die dag geniet het word daar gegroet en volgende jaar is dit maar weer so.
Verlowing en huwelike: In die ou dae het die paartjie ook met ‘n diamantring verloof geraak, wie dit kon bekostig, so nie ‘n kamerstel gekoop en dit was as ‘n verlowingsgeskenk gegee. In die ou dae het baie bruide hulle eie trou uitrustings gemaak, sowel as die trourok waarvan die patroon soms nie juis ‘n baie maklike patroon nie. Oorlede Ma het al ons klere gemaak behalwe ‘n mansbaadjie. In die ou dae en selfs vandag nog is Saterdag maar die troudag en in die kerk. Die ou mense vasgeglo die huwelik voor die landdros was nie waardig of eg of wettig nie. Moes maar deur ‘n predikant getrou word. Dit was my ondervinding.
Volkspel en volksvermake: Volksvermake was wat vandag troutrek genoem word, was skilpadtrek genoem. Skyfskietkompetisies was daar eintlik net vir mans en was die distansies in tree gemeet vanaf 200 tot 600 treë en was daar goeie skuts Dit was meestal Pa, seun of seuns boeregemeenskap wie deelgeneem het en was dit vanaf vroegoggend totdat elkeen sy beurt gekry het. Kompetisies was sterk tussen Pa en Seun of broers.
Algemene tydsverdrywe: Kuierdag was Saterdagmiddae-aande of Sondagmiddag. As daar nie na die bure gestap word nie dan word die perdekar ingespan of ry met die motor. Daardie dae nog tyd gehad vir kuier, vandag is dit net hallo en goodbye.
Jag: Pa en albei seuns was baie lief vir jag. Pa ook jakkals gejag. As dit nie ystervarke was loop in die aand sowel as hase, dan soms ‘n bokkie of twee in berg gaan skiet was volop daardie dae. ‘n Steen- of grysbokkie, ‘n stukkie wildsvleis is mos lekker.
Visvang: Daar was alleenlik visgevang in Desember vakansies as daar Strand toe gegaan word. Struisbaai of Gansbaai.
Lees: Elke mens lees graag en verskil smaak ook weer van person tot person en is die koerant van hoek tot kant gelees daardie dae. Die Landstem en Die Landman, Landbouweekblad en Farmers Weekly, hierdie twee tydskrifte bestaan nog.
Bioskoop: Ek dink die bioskoop kry maar swaar vandag want die TV en video’s het gekom om te bly. Bioskoopkaartjies is vandag baie duur, Senior Burgers kon darem elke Woensdagmiddag vir 50c gaan kyk. In die ou tyd was dit prente sonder klank en was die kaartjies een sieling (10c) later pryse ook bietjie opgegaan.
Volksreg: Ek praat nou vanaf die kerk se oogpunt. Vroeër as ‘n paartjie voor die troue oor die tou getrap het was hulle nie toegelaat om vir drie maande nagmaal te gebruik nie. Dink nie dit is vandag nog van toepassing nie. Dit was ook so dat as ‘n katkisant gedurende die katkisasietyd uitgevind word dat hy of sy gedans het, mag jy nie aangeneem of voorgestel word nie.
Volksfeeste: Geloftedag was vroeër jare beskou as amper ‘n Heilige dag soos Sondag maar later verander na politieke feeste.
Oesfeeste: Eenkeer ‘n jaar het die dorpsgemeente in die buitewyke “sal maar sê die boeregemeenskap van Montagu en distrikte” elke distrik of wyk het ‘n groot basaar gehou en was daar goed net waaraan ‘n mens kon dink. Die res wat nie verkoop word nie word opgeveil. As ‘n skaap £2 gegaan het baie geld, ‘n pampoen 2/6d. My Ma self die heerlikste hoenderpasteitjies gebak vir 3d en was so groot soos ‘n piering dit was haar manier van die grote sny met baie vleis in. Party ryk boere het dan nog ‘n tjekkie ook gegee.
Doop en begrafnis: Bruinmense het geglo as ‘n uil op ʼn huis se dak skree gaan iemand sterf. As kind onthou ek hoe Pa en al die bruinmense wie by ons gewerk en gesterf het se doodskiste gemaak het, hy en my oudste broer. Dit was ook van gewone plafon of vloerplanke gemaak baie netjies en die ou volkies geglo dit moet ‘n swart kis wees, dan Pa sommer houtskool geneem en swart gesmeer. Ons as kinders het uit respek ook vir begrafnis bygewoon. Daardie dag kom al die buurplase se bruinmense ook want is dit tot vandag toe nog ‘n plegtige okasie by hulle. Baie plase hulle eie familie Kerkhof so niemand word op die dorp begrawe. Jammer dat daar selfs met die doodkis en grafsteen gekompeteer word. Nog ‘n tradisie na die begrafnis veral in die mense van ver is om ‘n koppe koffie of twee en ‘n toebroodjie of wat ook al te kom geniet. Sien dan soms familie vir wie jy jare laas gesien het.
STOFLIKE KULTUUR
Woningbou en woninginrigting
Die geboue self: Die huis en buitegebouplanne is seker ook maar deur ‘n argitek opgetrek. Die boustene was of gebakte stene of roustene (is nie gebak nie) en baie van die fondamente was met ‘n sekere soort klip gebou. Daardie dae was daar nie sierstene nie. Baie van die mure was 18 duim en dikker en die mure ‘n bietjie hoër as vandag. Die dakke was sinkplaat min strooidakke gesien. Die vloere was soms van akkerhout, party geelhout. Pragtige breë planke onder gewone vloerplanke en was daar op ‘n buurman se plaas nie vêr van ons af ‘n baie ou huis, bestaan nie meer nie, die hele huis was grondvloere, die deure en kosyne was stinkhout, baie dik mure, dak sinkplaat. Die deure en kosyne is afgesteel nadat die bewoners weggetrek het. Daar word gemeen daar is meubels van gemaak. Ek het ‘n kombuisvloer gesien wat met perskepitte uitgelê is en met die jare glad geloop is en later politoer aangesit, pragtig geblink. Een ou Tannie het weer die eetkamervloer ‘n koerantbedekking gegee, koerante word baie baie natgemaak, laag op laag gepak, mag dan nie juis daaroor stap totdat dit droog is, word ook politoer aangesit en het dit ook baie mooi geblink. Daardie jare het die vrouens hulle eie vloerpolitoer gemaak, die trots was die mooi blink vloere en geen matte nie. Die poleerder was ‘n borsel en jou twee hande. Die vensterrame was ook ‘n baie goeie hout en was skuif rame. Die plaas waar ek gebore en groot geword het sovêr ek weet, het nog dieselfde vloere, vensterrame ens. Daar was ook ….dinge voor die vensters aan die binnekant. Elke plaashuis en selfs dorpshuise het ‘n solder gehad met ‘n mooi houttrap na bo, daar was vashouplek. Daardie jare was plakpapier die muurversiering en was die prys 1/6d en 2/6d per rol. Net die kombuis was geverf. Daar was ook nog nie juis ingeboude kaste in slaapkamers nie. Die solder was maar die boer en huisvrou se stoorplek.
Werksaanleg: Daar was gewoonlik ‘n waenhuis, kelder, ‘n beeskraal, varkhokke, hoenderhokke, hondehok en perdestalle. Een of twee redelike groot damme. Elkeen het ‘n blomtuin gehad, nie groot nie water was te kosbaar en het ons volop varklelies gehad in rivierlope gegroei en baie veldblomme. Groentetuin was altyd naaste aan die watervleibeurte, na aan die wingerd of vrugteboord. Tussen hakkies was ‘n paar jaar terug nog daar. Die oudste Hermitage wingerd in die distrik van Montagu staan op ons gewese plaas.
Kruietuin: Die ou mense nie juis baie van kruie gebruik gemaak nie maar meer speserye soos lemoen of nartjieskil in stowepatats of stukke pypkaneel en koljander vir worsvleis en soutvleis. Pietersielie was darem gebruik. Gemmerstukke in stowepatats ens. Buitebakoonde was nêrens in ons buurt maar ek weet hoe dit lyk en gebruik is.
Dorpsaanleg: Elke dorp verskil van plek tot plek, maar elke dorp hoe groot of klein het ‘n hoofstraat en systrate met name. Robertson en Montagu sowel as Oudtshoorn het nog waterlei erwe. Die meeste droë erwe, baie hulle eie put gegrawe. Die meeste dorpshuise het ook buitegeboue gehad soos ‘n buitetoilet, ‘n koeistal of stoorkamer, ‘n groentetuin en blomtuin. Montagu bv. kry nou eers ‘n rioolstelsel was nog altyd die septiese tenk, spoeltoilette meer modern as voorheen. In die ou dae was dit nog die emmerstelsel en was daar ‘n oubaas met die naam van Jan Rossouw en hy die job altyd ‘n sekere tyd gedurende die week gedoen en sy bynaam was ou Jan Nagwag.
Meubelkuns: My oupa Du Toit het ek nooit geken nie maar hy was ‘n gesiene boer in die distrik Robertson, plaas se naam was Klaasvoogdsrivier en so het baie van die plase onder daardie naam geval so hier en daar ‘n plaas ‘n eie naam gehad soos Vredelust ens. Die huis was pragtig gemeubileer. Meestal stinkhout en geelhoutmeubels. Alles seker laat maak want al die seuns het ‘n ou jonkmanskas en ‘n stinkhouttafel met tien stoele gekry, sowel as die suster. Waar dit gemaak is kan ek nie sê nie. Het ook ‘n pragtige trap uit die spens na die solder gehad. In die voorhuis het nog ‘n groter stinkhouttafel met twaalf stoele gestaan (ruim vertrekke) oor die tafel was ‘n mooi groen fluweelkleedjie met pragtige fraaiings aan. ‘n Groot buffet met spieëls, ander mooi tafeltjies, los stoele en rusbanke alles van die beste, om nie eers te praat van die pragtige hanglampe en oliestaanlampe nie. In stikamer was ook ‘n pragtige stoel, die material was ‘n soort fluweel met sagte kleine rose en blare patroon, asook ‘n klavier met koperkandelare. Geen matte nie want die blink vloere was hulle trots. In die spens was ook ‘n stinkhouttafel met tien stoele daar het hulle altyd geëet. ‘n Tafel met die geelkoperkonfoor en koper koffiekan, teegoedbalie met koperbeslag, lus vir koffie neem ‘n koppie en piering en skink maar in. Daar was ook ‘n hanglamp. In die spens was ‘n muurhorlosie sowel as in die eetkamer. In die eetkamer het meestal families groot portrette gehang en in die sitkamer potloodsketse wat my niggie gemaak het, sy was baie kunstig kon ook pragtige koeke versier.
Slaapkamer: Daar was vier slaapkamers, party met dubbelbed en koperstyle, klapperhaarmatrasse en was daar ook die sogenaamde bulsak verematras. As die klapperhaarmatras te bulterig word, word dit oopgetorring, gepluis en gewas. Word drooggemaak in son en kom in ‘n splinternuwe sloop, spesiale gestreepte matrasmateriaal, Tyk-engels Ticking genoem. Elke kamer het ‘n wastafel marmerblad en agterkant ook teëls en ‘n waskom en beker, seepbakkie, tandeborselhouer en ‘n pot (koos) en ‘n enamel emmer met deksel vir vuil waswater ens. want daardie dae was badkamer en toilet nog buite, later ingebring, met trappies in die bad afgeklim was amper soos ‘n swembad. In die kamers was ook nog ou jonkmankaste in die mans en ‘n hangkas met spieël en ‘n spieëltafel met laaie. Beddegoed was pragtig wit en van dik gestywe veral die slope en donskombers en pragtige oorgetrekte komberse. In die klerekaste was altyd mooi uitgestyfde lappies met gehekelde motiewe of puntjies op die rakke.
Kombuis: Potterak was gewoonlik ook van goeie en mooi hout uitgeskrop, drie rakke en daarop die koerantpapier wat ook met skêr patroontjies geknip is. Die potte blink want nadat dit geskuur is kom dit in die son om blinkdroog te word so ook die melkemmers. Die skuurmiddels was snaaks genoeg die afvalstukkies klapperhaar en fyn riviersand. Daar was ‘n groot bakkis, so genoem omrede net die broodmeel, suurdeeg was daarin en broodkombersies. ‘n Groot ou swart stoof, brandstof was hout en ‘n groot of liewer weer rooikoper en geelkoperkraantjie aan, ons somer dit die boiler genoem, die water soms regtig gekook en dit was gebruik om alle skottelgoed ens, te was elke keer weer vol met water. Dan was daar natuurlik ‘n groot kombuistafel om op te werk.
VOLKSBEDRYWE
Plaashuisbedrywe: Broodbak was tot 18 groot brode ‘n week gebak want die werksmense het uit die kombuis kos gekry. Die boer het geglo as sy mense nie goeie kos kry nie kan hulle nie goeie werk lewer nie. Kry nou meer geld en nie meer kos uit kombuis nie. Konfytkook was net so ‘n groot en lekker werk, alles waaraan ‘n mens kon dink is konfyt van gekook. Hanepootdruiwe, appelkoos, appelliefie, suurvytjies, vye, perske, waatlemoen, lemoen marmalade, argurkie, tursvye en moskonfyt. Daar was dosyne bottels konfyt op die spensrakke. Ook kwepers vir kweperjellie
Seepkook: Op die plaas is op groot skaal seep gekook. Deur die jaar word al die vet wat nie gebruik word nie “want eie slagvee gehad” asook die kaiings gehou totdat daar ‘n kooksel is. ‘n Spesiale swart seeppot op pote word gebruik daarvoor. Seepkook ‘n groot en warm werk. Die pot word nog hoër gelig om ‘n lekker vuur onder te maak om water, vet ens gou te laat smelt na ‘n tyd kom die seepsoda in en dan moet ‘n mens jou roer ken. Kom later met ‘n handvol sout in sodra dit lyk asof die seep amper reg is, moet geduring geroer word met ‘n houtspaan. As seep klaar is bly dit staan in die pot tot volgende dag, word dit in stene gesny, toegemaak in kussing, moet bietjie sweet en later in stukke gesny. Die uitsaksel is swart en die was gehou om kombuisvloer mee te skrop, pragtig wit asook die kombuistafel en spensvloer. Ek het in Suidwes na die oorlog my eie toiletseep gemaak asook kouewaterseep in plaas van vet en kaiings, gaar mieliemeel en seepsoda luxvlokkies en koue water gebruik, word vir volle uur geroer met houtspaan word dadelik uitgegooi in plat houtkissie met nat sak, laat staan vir drie dae en sny in stene.
Botter maak: Ons het ‘n baie groot karring gehad wat ‘n mens op vier wieletjies kon rond trek tot op die regte plek. In die deksel was ‘n klein ronde glasvenstertjie sodat ‘n mens kon sien wanneer die botter van die karingmelk geskei is. Die karring was eers ‘n halwe balie met hoepels om met ‘n handvatsel soos ‘n stootwaentjie. gee dit so heen en weer ‘n paar trekke dan slaan die balie bolmakisie en dan word daar tot sestien pond botter afgeskraap. Die karringmelk word deur ‘n kraantjie uitgetap. Die room moes soos die ou mense gesê het eers ryp word, dit het so drie tot vier dae in somer geneem, was in erde potte gehou. Al die melk word met ‘n botterspaantjie (ook van stinkhout) deurgewerk voordat die sout ingekom het. Die botterbak was ook van stinkhout. Nadat die sout goed deurgewerk en die water uitgedruk is word dit in ‘n vorm ook van hout gedruk wat wel 1 pond botter gehou het op ‘n botterpapier waarop die naam van die person is want die kliënte wou net ‘n sekere person se botter hê. Die prys 1/6d tot 2/6d.
Kerse maak: Ons ook ‘n kersemaak houer gehad, 6 op ‘n keer. ‘n Sekere soort tou was gebruik vir die pit. Die pit word in die middel van die vorm gehou en dan kom die warm gesmelte kersvet in die vorm. Ek meen die kersvet kon ‘n mens per pond koop en dan is al die orige stukkies kers ook opgesmelt en bygegooi, was besondere lang kerse.
Varkslag: Die spesiale vark word op hok gehou net gevoer en kry net die beste, mielies, mieliemeel aangemaak met water, melk en al die rou groenteskille, Gewoonlik was die groot slagterye in die winter want ‘n bees word ook geslag daar word wors wors en biltong gemaak. Ons het ‘n stinkhoutvleisbalie met deksel ook gehad met hoepels om en daarin was die soutvleis gemaak. Al die bure kry soos hulle sê sy karmenaatjie. Dit was ‘n stukkie wors en spek en ‘n stukkie vark of beesvleis. Van beespens en pote was sult gemaak asook van vark se kop. Die bees se kop het die volk gekry net die tong word uitgesny. Die doodmaak van daardie twee diere was altyd vir my die swaarste word met die haelgeweer voor die kop geskiet en dan moet dit ‘n raak en doodskoot wees. Maar pad gegee en ore toe gedruk. Die haelgeweer is in een seun se besit.
Boerderybedrywe:
Ploeg: Dit het maar alles afgehang as die reën betyds geval het want met die jare het dit al hoe minder gereën. Daar word koring, hawer en gars gesaai een jaar is oeste goed, ander kere weer swakker. Daardie dae was dit nog die ou dorsmasjien waar die kaf en koring (soos bybel sê) geskei word. Elke sak graan word geweeg, toegewerk en op die solder gedra. Die koring was gehou vir brood, gars en hawer vir voer. Die kaf was op die waenhuis solder gebêre ook vir die beeste en perde in die aand met ‘n paar handevol mielies daaroor. Vandag se kinders ken nie ‘n dorsmasjien nie dit is nou stroper, die graan kom onmiddelik in sakke en die kaf of liewer strooi word gebaal ook vir veevoer.
Rieme brei: Dit was vir my maar so iet wat van ‘n sinkeringe affêre. Die beesvel word in die kraal onder die beesmis wat nou gemeng is met strooi ens moet nie te nat wees nie want dit moet so half broei sodat die meeste hare kan afkom. Pa het dik ysterpenne in die waenhuis in die balke ingedraai en daar is die velle met ‘n dikkerige paal al in die rondte gedraai want deurdat die vel klam is, is dit elasties en sodra die draai proses klaar is word die rieme gesny en met vet gesmeer om dit mooi glad te maak, was vir baie doeleindes gebruik.
Koeëls giet: Ons as kinders het vir Pa gehelp om haelgeweer patrone te maak en is die apparaat in my besit. Die haelpatrone was fyn bokhael en growwe bokhael, dit meen die kruit, die fyn klein ronde lood balletjies was vir haas skiet bedoel en ‘n growwer een vir bokkies in die berg te skiet en ook die bees en vark wat geslag moes word.
Brandewyn stook: Die brandewynstokery was ook ‘n interessante deel van parstyd, en het ons ook die groot stookketel gehad waarin pa later die moskonfyt gegooi het want die boere was nie meer toegelaat om te stook nie en al die druiwe word nou by die KWV gelewer en die boer kan ‘n kwota brandewyn kry waarop hy geregtig is. Onlangs was in distrik Worcester ‘n demonstrasie gegee van brandewynstokery.
Skoene maak: Ons het ‘n skoenlees gehad in besit van oudste seun en het pa dikwels self skoene versool en hakke onder gesit, met sulke dun spykertjies word die sole en hakke vasgeslaan of gespyker soos dit genoem was. Daar was ‘n kindergroote, ‘n grootmens groote in ‘n skoen se hak vorm dit was die skoenlees. Die skoenleer vir die sole was in twee kleure en kwaliteite. Die rooileer nie baie dik nie vir meer ligte skoene soos dames en mans beste skoene nl. Kerkskoene en die blouleer vir veldskoene, is nou vir die boerdery bedoel.
Vervoer: ‘n Perd was pa se geliefkooste dier, altyd gesê ‘n mooi paar perde is mooier as die mooiste motorkar. Hy het baie perde vir skoue afgerig en soos ek voorheen genoem het, was twee van hulle naderhand ons skoolkarperde. Ons het baie mak ryperde gehad en die eerste keer wat ek probeer opklim maar weer stadig aan die anderkant afgesak, maar Selffine staat doodstil. Ons het gewoonlik ses perde gehad en ‘n spesiale ryperd as jagperd vir die span jakkalshonde nl. agt honde. Geen osse gehad nie maar wel donkies. Al die perde was mak genoeg vir ryperd ook sowel as vryperd. Ons het twee soorte karre gehad. Die kapkar en een sonder ‘n kap die was die kaalkar genoem. Voordat daar ‘n motor was, was die kapkar waarmee daar gekuier is met twee spoggerige perde, meeste van die tyd spesiaal skoongemaak was net roskam en borsel en op stal gehou. Die kapkar se kap kon op en afslaan twee los sy klappe word aangesit as dit reën, ‘n klein langwerpige venstertjies so 8 duim lank en so 3 tot 4 duim breed, dit was in ‘n deel van die kap agter in die middel en as dit bv. baie warm is kan ‘n mens dit losmaak en oprol. Weerskante was twee lampe waarin elkeen ‘n halwe kers was om aan te steek sodra dit donker word. ‘n Perd kon ek net so goed uit en in span soos enige van ons volk of pa of broer. Die waens was gewoonlik maar deur die donkies of perde getrek. Later, hier en daar iemand gesien met ‘n trapfiets met sommige boere in motor gehad.
Dorpsbedrywighede: Baie erwe op die dorp was baie groot en was daar groot tuin gemaak en geplant en het baie van die vrouens ‘n Vroue Landbouvereniging gestig vandag nog die VLV genoem. Dan het die boervrouens ook deelgeneem met elke moontlike artikel soos seep, konfyte, handewerk en hekelwerk.

Picture: Malcolm Russell
Dorpsberoepe: Op die dorp Montagu was wel ‘n wamaker Oom George Ravenscroft. Die boere maar hulle waens na hom geneem om die dele wat breek te vervang en die wiele soos dit geneoem was, die band van yster om die wiel moet gekort word. Die rondeband moet afgehaal word, word rooi warm gemaak met die blaasbalk brand met steenkool, word dan gehamer en getimmer totdat dit weer pas en so is die perdekar se wiele ook gedoen. Ek dink hy het deels sommer die smid se werk ook gedoen. Daar was wel ‘n skoenmaker mnr. Alec de Bod. Hy het baie velskoene en sandale gemaak en perde tuie. Die boere hulle skoene en vrouens sandale daar gekoop want was sterk, netjies en goedkoop.
VOLKSKLEREDRAG
Sondag as kerk toe gegaan word trek die mans hulle beste pakke klere aan met alles wat daarby hoort en so ook die vrouens en kinders. Mans sowel as vrouens ‘n hoed opgesit kerk toe en die man gewoonlik maar die hoed onder die kerkbank gesit. Daar was kapstokke maar dit het gebeur dat iemand sy hoed per ongeluk verloor het. Die pakklere was gewoonlik van suiwer wolmateriaal gemaak en het ‘n goeie pak klere 4.10/s gekos. Die vroumense se rokke was ook van goeie material. Mooi linne, nie Horreekses No 1 of No 2 nie, dit was vir lakens en slope en 6s en 1/s per jaart gekos. Dit was sekere soort crepe’s en crepe de chines en vir die kinders van tobralco die swak een 1/6s en die 36 een 2/6 ‘n jaart. Na ‘n begrafnis was die mense ook maar min of meer dieselfde aangetrek as na die kerk maar meer in swart, perse n somber kleure, vandag is dit meer vrolik, rou is uit die mode sover kleredrag aangaan vir die vrouens.
VOLKSHANDWERKKUNS
In en om die huis: Wat wel volop in huise gesien was, was papierblomme gemaak van allerhande gekleurde kreukelpapier. Blompotte geplak met allerlei gekleurde stukkies glas, borde, koppies en pierings stukkies porselein. Ook Kers en poskaarte sommer net opgeknip in allerhande fatsoene en dit is ook teen ‘n ou blou of erdepot geplak en word dan vernis. Die Kleurlinge was baie lief om patrone te maak, volkshuise. Op ons plaas sowel as ander plase het ‘n wildeplantjie gegroei veral saam met saaityd en as graan ryp is word die plant se saad ook ryp. Die blare was taamlik harig en so ‘n klewerige gevoel gehad as ‘n mens daaraan vat en as die blommetjie saad skiet was die saad pragtig koringaarkleur en dit was joberkraletjies genoem. Dit word gepluk, ‘n naald en garing word geneem en word dit ingeryg daar is ‘n gaatjie waar die naald kon deurgaan. Ons het dit gedra soos ‘n string krale om die nek. ‘n Ou Tannie was selfs so kunstig om ‘n paar rye ingeryg en ‘n portretraam daarvan gemaak, dit word bo-op die foto of wat ookal vasgesit en sien daar iets besonders.
Op die plaas (of kleinhoewe of erf): Die wakis of negosie kis soos die ou mense dit genoem het was party blommetjies opgeverf maar meeste was bruin of groen geverf en dan was dit gewoonlik geelhout of ‘n ander duursame hout. Die kierie se kop was partykeer die vorm van ‘n slang se kop uitgesny of dit was ook ‘n gedraaide stinkhout kierie, waarvan ek een besit was my Oupa Bruwer s’n, ongeveer 60 jaar oud.
Fotos: Die STOEL is gemaak met ‘n knipmes en neem aan fyn skuurpaper. Foto van stoel was gemaak deur ‘n oom van my oorlede pa Oom Pieter Syfert natuurlik oorlede. Die rugkant se rottang is nog die oorsponklike.

Die DOILY my oorlede moeder in elke dogter een gemaak wat die voorletter en sy is in 1942 oorlede.

Pictures: Malcolm Russell
Die KRALESAKKIE was ‘n ou Jonkmanskas waar pa sy hemp studs ingesit het en mansjetknope.

Die IVOORHORLOSIE KETTING, BORSSPELD met St Helena op in ivoor kruithoring vir oom gebring toe hy in St Helena krygsgevange was.

Die VOORSKOOTJIE het ek gemaak toe ek elf jaar oud was in St IV, die linne was Horrekses No 2 die beste teen 1/c ‘n jaart. My dogter het dit gebruik in huishoudkundeklas op skool.


Pictures: Lea-Anne Alexander
In my besit is ‘n muurhorlosie gepatenteer in 1870, was ‘n oom van pa s’n, Oom Gawie Noel en hou nog goed tyd, moet elke dag ag dae opgewen word en waterpas hang.

Picture: Malcolm Russell
Die klein kappie het my oorlede ma ook gehekel vir die oudste seun en hy word 43 jaar. Ou mense het geglo die kind se ore moet toe wees. (JB kan nie hierdie kappie opspoor nie.)
‘n Paar opmerkings van Adamus Stemmet (June 2024)
Karpad is in 1950 deur die Du Toits aan Mnr. George Whitehead, hoofbestuurder van Langebergkoòperasie verkoop. Hy het my pa as bestuurder aangestel . Die Du Tòits was besig om te trek die dag toe ons ingetrek het en ons het hulle vlugtig ontmoet. Ek herken die huis en buitegebou. Ek was in Std. 6 en is saam met susters en broer na Ashton se laerskool waar Mnr. Sakkie du Plessis die hoof was.
Aangrensend aan die plaas was ‘n plaas wat aan die Dorpsbestuur van Ashton behoort het. Op hierdie plaas was twee huise. In die een het Van den Bergs gewoon en aan die ander ‘n Meneer Ravenscroft.
Later het Oom Martiens van Zyl en Tannie Ria (nêè Du Toit) na hul troue gewoon. Hy was die sekretaris van die Dorpsraad, Ashton en later Stadsklerk van Oudtshoorn. Tannie Ria was die Ontvangssdane by Dr. Schultz op Ashton. Dr. Schultz is op Karpad begrawe . My pa het toestemming daarvoor gekry en hom help begrawe en die graf in stand gehou tot hy self van Karpad af weg is.
Op die ander deel van Karpad het die Hills gewoon. Oom Harry, sy vrou en ongetroude seun, Hermie wat later met Magellaan Beukes van Bonnievale gettoud is. In ʼn ander huis het Oom Edward Hill gewoon. Oom Willem Hill het ʼn plaas op Stockwell gehad.
Die Malherbes het ook op Stockwell gewoon teen die pad na Swellendam net voor die afdraaipad na Bonnievale — die Harry Hill- pad. Mevrou Alida Batt was ʼn Malherbe – dogter. Sy was my Sub A onderwyseres in die Laerskool, Laatsrivier én is na die Tweede Wêreld-oorlog met Oom Robert Batt getroud. Sy was n wonderlike onderwyseres wat goeie dissipline gehandhaaf het maar nooit ʼn kind geslaan het nie. Al die kinders was baie lief vir haar.
In my tyd was die ou tolhuis (‘n rondawelhuis) nog daar langs die ou Kogmanskloofpas waar ek die laaste ongeluk in Maart 1955 gemaak het. Ons het natuurlik nie meer tolgeld betaal nie.
Contributions: Burrie Steyn