24.Education in Montagu

image_pdfDOWNLOAD PDF

Montagu’s forefathers did not let grass grow under their feet when it came to education. Find out more…. (Updated 2025/09/16)

Die Geskiedenis van die onderwys in Montagu

Die Vroegste Begin

Deur Dr. J.E. Kellerman skoolhoof Montagu Hoërskool

DIE EERSTE SKOLE VIR BLANKES

First school at Middel-Kruis

The School House still stands today 2020

The renovated old School building is a store today 2020

Courtesy: Pieter Venter

Die eerste skooltjie in Montagu is in Oktober 1849 deur Mnr. Bernardus Johannes Keet begin en wel onder die naam “Achter Cogman’s Kloof. Interessant is dit om daarop te let dat hierdie skooltjie nie op die dorp was nie maar op die plaas Middel Kruis sowat 10 myl van Montagu af. Die onderwyser sou ʼn goewerments toelaag van £30 per jaar vir 3 jaar lank ontvang onderhewig aan die volgende voorwaardes:-

  1. Die ouers moes minstens 5/- per kwartaal vir elke skoolgaande kind betaal.
  2. Huisvesting vir die onderwyser asook ʼn skoolgebou moes deur die ouers voorsien word.
  3. Engels moes ʼn plek in die leerplan kry.

Die lewensduur van hierdie skooltjie was egter nie lank nie want op 30 September 1852 het Mnr. Keet bedank as onderwyser en het die skooltjie opgehou om voort te bestaan.

  Sewe jaar later op 1 April 1859 is dit heropen maar nou onder die naam Middel Kruis met as onderwyser die heer James Rattray wat voorheen ʼn skooltjie gehad het op die plaas Zandvliet in die gemeente van Robertson. Daar het heelwat mense in die omgewing gewoon sodat Mnr. Rattray kon begin met 20 leerlinge. Op die dorp Montagu was op hierdie tydstip geen skool nie en sommige ouers het by Mnr. Rattray aansoek gedoen om hulle kinders na sy skool te stuur. Hierdie skooltjie kon egter ook nie langer as tot 1862 volgehou word as die Die Kruis nie, toe dit verskuif is na die Koo.

  Langs die weg van swaarkry en sukkel het die onderwysgedagte tog geleidelik sterker en sterker geword, is die behoefte aan meer skooltjies duideliker gevoel en is daar dan ook die een na die ander in die lewe geroep sodat ons vervolgens hoor van skooltjies in die Keisie, in Baden, in Concordia en op Rietvlei No.1.

DIE EERSTE SENDINGSKOLE

Reeds in 1860 het dr.S Hofmeyr (destyds predikant van Montagu) probeer om ʼn sendingskool op Concordia te stig. Hy kon egter nie ʼn geskikte kleurlingonderwyser vind wat die leerlinge in sowel Englels as Nederlands kon onderrig nie. Die volgende jaar 1861 het dit hom egter geluk om ʼn N.G. Kerk Sendingskool op Spitskop te stig. Hier sou albei tale onderrig word soos neergelȇ in die regulasies vir ondersteunde skole. Die onderwyser was Michiel Roman. Hy het begin met 28 leerlinge. Nadat hy aan die begin van 1866 sy betrekking alhier neergelȇ het, is hy opgevolg deur sy seun J.B.Roman, wat voorheen assistent was van W. Jager aan die Sendingskool op Sandfontein. Aan die begin van 1867 is die skool op Spitskop na Baden verplaas, maar ook hier was die werk nie voorspoedig nie en moes die skooltjie in Mei reeds gesluit word en is Roman weer na Sandfontein verskuif.

DIE EERSTE JARE VAN DIE DORPSKOOL

Mnr. Bernardus Keet onderwyser van die skooltjie Achter Cogmans Kloof het op 30 September 1852 sy betrekking neer gelȇ maar ʼn jaar later besluit om ʼn soortgelyke skooltjie op Montagu te begin. Op 5 September 1853 is die skool geopen met 16 leerlinge en die verwagting was dat die getal leerlinge spoedig tot 30 sou aangroei. Mnr. Keet het ook met ʼn sondagskool vir kleurlinge (volwassenes en kinders) begin.

Die skooltjie was in Bloemstraat regoor die kerk.

Picture: 30 Stories oor Montagu en sy mense

  By geleentheid van die eerste kerkraadsvergadering van die nuwe gemeente Montagu is op 9 Januarie 1855 aan Mnr. Keet ook die betrekking van voorleser aangebied en hy het dit aangeneem. Uit die eerste rapport van die S.G.O oor hierdie skool blyk dit dat daar daagliks gemiddeld 35 leelinge aanwesig was. Die vakke waarin die leerlinge onderrig ontvang het, was lees, skryf, rekenkunde, aardrykskunde, bybelkennis en Engels.   Aanvanlik is die skool gehou in die kerk maar in 1856 het die kerkraad ʼn geboutjie gehuur vir die doel. Ongelukkig het Mnr. Keet in dieselfde jaar sy betrekking as onderwyser neergelȇ en is eers enkele maande later vir hom ʼn opvolger gevind in die person van sy broer Mnr. Lukas Keet. Eers op 1 Augustus 1857 het hy sy werk aanvaar. Sy verblyf op Montagu was maar van baie korte duur want in Desember van dieselfde jaar bedank hy en gaan terug na Tulbagh. In Maart 1858 is sy broer Mnr. Bernardus Keet weer benoem tot onderwyser en nou het die skool fluks gevorder. ʼn Skoolgebou is nou ook opgerig deur die Kerkraad. (Hierdie gebou met strooidak staan vandag nog, net langs die Kerksaal agter Mevr. Marais se huis). Jammer dat Mnr. Bernardus Keet sy betrekking as onderwyser aan die dorpskool vir blankes weer aan die einde van Maart 1859 neergelȇ het, want nou het daar op Onderwysgebied ʼn tydperk van stilstand en verwaarlosing ingetree. Die aansienlike Skoolgeboue het vir ʼn geruime tyd leeg gestaan. As opvolger vir Mnr. Keet is Mnr. J.B. Kachelhoffer van Somerset –Wes benoem. Hy het egter eers op 18 Januarie 1860 op Montagu aangekom en op 30 Januarie die skool heropen met 38 leerlinge. Aan die kant van die ouers was daar blyke van groot belangstelling in die opvoeding van die jeug. Vanaf hierdie jaar was die skool nou ʼn tweede klas openbare skool. Na ʼn verblyf van byna 5 jaar op Montagu het Mnr. Kacheloffer aan die einde van Oktober 1864 sy betrekking neergelȇ, weens die ongereelde geldelike bydraes van die ouers, en is die werk voortgesit deur die here Warmenhove en Finlayson, laasgenoemde as hoof. Aan die begin van 1866 het die skoolkomitee hulself genoodsaak gevoel om albei bogenoemde here van hul pligte te onthef en is Mnr. J.G. Euvrard onderwyser aan die sendingskool op Wellington vanaf 1 Julie 1866 as onderwyser aan die skool op Montagu aangestel. Met die koms van Mnr, Euvrard na Montagu het daar vir die opvoeding en onderwys alhier ʼn blye nuwe môre aangebreek.

EERSTE JARE ONDER MNR. EUVRARD (1866 – 1888)

Mnr. Johan George Euvrard, wat 40 jaar lank onvermoeid die onderwys op Montagu sou dien, is op Wellington gebore en het sy opleiding aan die Paarlse Gimnasium ontvang. Hoewel nie gesertifiseerd nie, was hy ʼn gebore onderwyser. dr. Hofmeyr het Mnr. Euvrard self op Wellington gaan haal en op Maandag 7 Julie 1866 het hy sy pligte as onderwyser op Montagu begin met slegs 20 leelinge in die skool.

Twee jaar nadat hy sy taak alhier begin het, was daar reeds 35 leerlinge op die rol en is die skool deur die S.G.O. bestempel as ʼn “well ordered school”. Die getalle het steeds aangegroei en in 1868 is die skool al deur 59 leerlinge bygewoon. Daar was nou ʼn “upper department” en ʼn “lower department”. Die skoolgebou wat reeds in 1858 deur toedoen van die kerk opgerig is, is eers in 1872 van ʼn plankvloer voorsien. 

Die vermeerdering van die getalle het vanselfsprekend ʼn uitbreiding van die personeel vereis. In 1876 het die skool se getalle reeds op 153 gestaan en was daar nou drie leerkragte tewete Mnre. J.G. Euvrard, D.J. Rossouw en Mej. C.E. Smit. Geleidelik sou meer toegevoeg word.

Tenspyte van veelvuldige werksaamhede en min assistente het Mnr. Euvrard ook nog intussen leerling onderwysers opgelei. Met hierdie taak het hy reeds in 1874 begin en wel met die volgende drie kwekelings, Debora Joubert, Elizabeth Rattray en Anna van As. Verskeie jare het Mnr. Euvrard met hierdie taak volhard en kostelike werk gedoen maar in 1881 moes die werk weens ʼn tekort aan leer kragte vereers gestaak word.

In die jaar 1883 is ʼn nuwe mylpaal in die ontwikkeling van die skool bereik toe die skool se rang tot die van ʼn eerste klas openbare skool verhoog is. In hierdie skool met 149 leerlinge moes nou alleen drie leerkragte al die werk behartig.

Verdere vooruitgang kon geboekstaaf word toe daar op 1 Julie 1879 ook ʼn losiesinrigting met Mnr. Euvrard as superintendent geopen is. Aanvanlik was daar net vier kosgangers maar die getal het spoedig vermeerder. Die losies is op £2.00. per maand vasgestel. In 1880 het die kerkraad die losiesinrigting tot dubbelverdieping gebou vergroot en was daar nou 12 kosgangers een dogter en 11 seuns. Deur sy kenmerkende deeglikheid en presiesheid is die losiesinrigting vanaf die begin op ʼn gesonde voet geplaas en is daar vir doeltreffende losiesgriewe voorsiening gemaak.

Op 5 Desember 1888 is dr. Servaas Hofmeyr op Montagu oorlede. Met sy heengaan het nie alleen die kerk nie maar ook die onderwys ʼn swaar velies gely. Hy was 28 jaar in die gemeente as leraar werksaam en het groot en daadwerklike belang gestel in die onderwys. Tussen Mnr, Euvrard en dr. Hofmeyr het daar ʼn mooi verhouding bestaan en hul het hartlik saamgewerk.

DIE TWEEDE FASE VAN MNR. EUVRARD SE DIENSTYD (1889 – 1906)

Montagu Public School. 1890. Mnr. Euvard derde ry links.

Mnr. Euvrard en sy personeel het voortgegaan met die uitstekende werk waarvoor die skool reeds bekend was. Intussen het die behoefte aan ʼn meer doeltreffende skoolgebou al dringender geword. Aan die begin van 1893 is dan ook ʼn aanvang gemaak met die bouwerk en voor die einde van die jaar is die skoolgebou voltooi. Die datum vir die inwyding van die nuwe skoolgebou is vasgestel op Donderdag 19 Oktober 1893.

Anelma Oosthuizen verskaf die volgende inligting: Die vier klaskamers wat agter aan Joubert Straat grens is ongeveer 1909 tot 1910 aangebou of bygebou . Dit was vir Std. Vll en skoolhoȇr en matriek. Daarom die datum 1910 op die gewel voor.

Nie alleen was daar nou ʼn nuwe skoolgebou nie maar Mnr. Euvrard het ook reeds vyf assistente gehad. Bokant Std V1 was daar twee klasse een waarvan voorberei is vir die skoolhoër eksamen en die ander vir die matriek eksamen. Mnr. Euvrard het Stds. V en V1 onderrig en Mnr. Roux die hoër klasse. So vining het die skool nou gegroei dat daar in 1902 reeds 235 leerlinge in die skool was. Vanaf die begin van 1901 is nog ʼn addissionale assistant in die persoon van Mnr. J.H. v/d Merwe aangestel, sodat ons aan die einde van 1902 reeds al hoor van nege leerkragte op die personeel waarvan vier van der Merwe’s was.

Vanaf April 1905 is Mnr. C.H. Stokes, wat die volgende jaar vir Mnr. Euvrard as hoof van die skool sou opvolg, as onderhoof aangestel.

Mnr. Euvrard sou aan die einde van Junie 1906 veertig jaar van uitnemende diens aan die opvoeding van die jeug op Montagu agter die rug hȇ. Hy was van voorneme om op 30 Junie op 60 jarige ouderdom af te tree. By geleentheid van sy aftrede is daar ʼn drie daagse fees gereël, n.l. vanaf 22 tot 24 Junie 1906. Op die Vrydag het die skoolkomitee, ouers en kinders in die kerksaal vergader en is daar aan hom adresse aangebied. Die aand is ʼn reünie van die oudleerlinge gehou en die adres wat aan Mnr. Euvrard tesame met ʼn geskenk van £75 aangebied is, was ʼn pragstuk wat £10 gekos het. Op Saterdag het ʼn onthaal vir sowat 400 kinders plaasgevind en kon hulle heerlik geniet van al die lekkernye. Die Sondag aand het Ds. Rossouw van George ʼn oud leerling die rede gevoer na aanleiding van Matt. 25 vers 21 “Wel gÿ geode en getrouwe diensknecht”. Mnr. Euvrard was inderdaad ʼn sieraad in die onderwysberoep en vir Montagu in die besonder ʼn kostelike bate. Sy lewe was streng gedissiplineerd en so ook sy werk. Hy het ʼn verhewe opvatting van plig en werk gehad en in al sy doen en late was hy sekuur en stip. Sy skoolure het hy vir niemand verander nie. Sy krag en invloed as onderwyser moet tot ʼn groot mate toegeskryf word aan sy gereelde besoek van ouers en kinders.

Hy was ʼn kerkman by uitstek en het aan die kerk gewaardeerde dienste gelewer as voorleser, diaken, scriba, kassier en ouderling op verskillende tye. Dikwels was hy ook behulpsaam met bidure, spesiale dienste en begrafnisse. Van hom kan in der waarheid gesȇ word, dat wat sy hande gevind het om te doen, dit het hy gedoen.

In die latere jare van sy lewe het Mnr Euvrard in die kerk altyd in die ouderlingsbank gesit, dienend of nie, en het altyd die kerk ingestap deur die konsistorie. Hy was baie lief vir manel en was in werk gewoonlik ook in ʼn manel geklee. Op 22 September 1909 is hy oorlede.

OP PAD NA ʼn HOËRSKOOL

In Julie 1906 het Mnr. Charles H. Stokes vir Mnr. Euvrard as hoof opgevolg, en Mnr. v/d Merwe is as onderhoof benoem. Hierdie twee leerkragte was verantwoordelik vir Std. V11, Skoolhoër en Matriek. Onder die bekwane leiding van Mnr. Stokes het die skool verdere uitbreiding ondergaan en is daar nou ook ʼn permanente musiekonderwyseres op die personeel in die person van Mej. Beatrice Maddison. In 1909 het daar egter een leerkrag bygekom op die personeel wie se naam besondere vermelding verdien, nl. Mnr. H.B. Lückhoff, wat later vir Mnr. Stokes sou opvolg as hoof.

Die Dorpskool between Bath and Piet Retief Streets now the Municipal Offices (2020)

Reeds in 1904 pas elf jaar nadat die ruim en nuwe skoolgebou ingewy is en vier jaar nadat ʼn saal vir die kindertuin afdeling gebou is, was dit andermaal dringend noodsaaklik dat die vergroting van die skoolgebou in 1910 voltooi word. Die veranderings was van so ʼn aard dat dit feitlik ʼn nuwe gebou was.

This building on the corner of Bloem and Joubert Streets was known as the Kindertuin and provided accommodation for sub A’s and B’s. Building still stands today (2020) and houses a pre-primary school.

  Op Woensdag 17 Augustus 1910 om 11v.m. is die herboude skool ingewy en ʼn groot skare was teenwoordig. By die geleentheid het beide dr. D.F. Malan en dr. Muir (die S.G.O.) treffende hulde gebring aan wyle Mnr. Euvrard, wyle dr. S. Hofmeyr, Ds. G.S. Malan en andere wat soveel vir die opvoeding op Montagu gedoen en beteken het.

EINDELIK ʼn HOËRSKOOL

Kanonkop-Kollege 1914/1958

(Die nuwe hoërskool in Van Riebeeckstraat is gebou in 1958 en het geopen in 1959 onder die naam Hoërskool Montagu)

Reeds in die jaar 1902 het die inspekteur in sy rapport daarvan melding gemaak dat as die getalle in die hoër klasse nie verminder nie, daar aan die verandering van die skool tot ʼn hoërskool aandag geskenk kon word. Ag jaar later, in 1910, het die getalle so gestyg dat die vooruitsigte vir die verkryging van ʼn hoërskool aanmerklik verbeter het. In Std. 7 was daar nou 32 leerlinge en in die Stds. daarbo reeds 27. In die loop van die volgende jaar het die skoolraad dan ook besluit om aansoek te doen om verhoging van die graad van die skool tot ʼn hoërskool. Hierdie aansoek is egter nie aanvaar nie omdat daar nie genoeg gegradueerdes op die personeel was nie. Maar die skoolraad sou die saak hierby nie laat nie en in Julie 1912 het hul weer aansoek gedoen om verhoging van graad tot ʼn hoërskool. Nog kon die wens van die skoolraad nie vervul word nie. Aan die einde van 1913, na 7½ jaar van uitnemende diens as skoolhoof het Mnr. Stokes ʼn inspektoraat pos aanvaar en is Mnr. H.B. Lückhoff benoem as sy opvolger. Met sy aanstelling is nog ʼn stap gevorder op die pad na ʼn hoërskool. Daar was nou drie gegradueerdes by die sekondȇre personeel en kort na die aanstelling van Mnr. Lückhoff teen die einde van 1913 het die skoolraad weer aansoek gedoen om die verkryging van ʼn hoërskool. Maar dit sou nog byna ses maande duur voordat die langverwagte antwoord eindelik gekom het en wel soos volg verwoord was: “This has been graded as a High School, as from January 1914”( Kanonkop-Kollege) . Uiteindelik het Montagu nou ʼn hoërskool gekry.

Weens die geweldige toename in die getalle op die rol moes daar dadelik aandag gegee word aan die bou van ʼn nuwe gebou vir die kindertuin. Planne en spesifikasies is opgetrek deur die firma Parker en Forsyth, tenders is gevra en die tender van Mnr. E.J. Karg vir £3240 is aangeneem ook. Ongelukkig weens die uitbreek van die oorlog in 1914 het daar niks van die planne tereg gekom nie. Intussen het die onderwys op Montagu ʼn swaar verlies gely deur die vertrek van dr. D.F. Malan aan die einde van 1912, gelukkig sy opvolger Ds. D.P. van Huyssteen was ʼn man met groot ywer en belangstelling vir en in die onderwys en deur sy toedoen sou daar in die volgende jare groot dinge op onderwysgebied gedoen word.

Reeds so vroeg as Mei 1915 het die Departement sy goedkeuring geheg aan die vra van tenders vir die nuwe kindertuin gebou. Uit ʼn groot aantal tenders is die een van Mnr. F. Boesen vir £3090 aangeneem. Hierdie werk is voorspoedig uitgevoer en vroeg aan die begin van 1916 kon Sir Frederick de Waal die gebou formeel kom inwy.

Nog ʼn mylpaal op die gebied van die onderwys was dus bereik. Maar hier sou nie opgehou word nie. Reeds in Februarie 1919 dien daar ʼn brief van die skoolkomitee voor die skoolraad waarin gevra word dat die skoolraad moet aansoek doen by die munisipaliteit om ʼn stuk grond net agter die Kinderhuis vir die oprigting van ʼn Meisieskool. By die volgende sitting van die skoolraad is Mnr. Lückhoff teenwoordig en verduidelik aan die raad sy planne vir die voorgenome meisieskool. Hy wou ʼn skool hȇ met 18 kamers en 2 musiekkamers, ook wou hy graag ʼn koshuis vir meisies hȇ. Na ʼn deeglike bespreking word besluit om die S.G.O. te vra vir £18,000 en ook ʼn som vir die bou van ʼn koshuis vir meisies. Ook word besluit om in oorleg met die Departement Mnr. Wynand Louw van die Paarl te vra as argitek. Die Departement was die planne goedgesind maar het die raad gevra eers nog ses maande te wag met die bouery omdat die pryse van boumateriaal aan die daal was en die raad dus later verder met die geld sou kan kom. Drie maande later egter het die Departement besluit om verandereringe te maak insake die planne vir die voorgestelde meisieskool en wel op die basis van primȇre en sekondȇre skole. Op ʼn spesiale vergadering van die skoolraad gehou op 14 Oktober 1919 is dr. W.J. Viljoen ( destydse S.G.O.) teenwoordig en lȇ die volgende plan aan die raad voor:

  1. ʼn Nuwe sekondȇre skool te bou teen ʼn prys van £12,000.
  2. Die ou geboue te gebruik vir ʼn primȇre skool.
  3. Die Excelsior skool te verander in ʼn beroepskool.

Voorstelle 1 en 2 is aangeneem en die sekretaris is gelas om aan die argitek te skrywe om dr. Viljoen te gaan spreek en nuwe planne op te trek.

dr. Viljoen was gretig om die werk so gou as moonlik gedoen te kry en het die raad gevra om die saak gou in orde te bring. Ook is besluit dat Mnr. Lückhoff sal aanbly as hoof van beide die primȇre en die hoërskool. 

Dat die skoolraad geen gras onder sy voete laat groei het nie, getuig die feit dat op sy vergadering van 6 Julie 1920 die tenders vir die nuwe hoërskool reeds kon geopen word. Na sorgvuldige oorweging is besluit om die tender van Mnr. J.F. Tribelhorn vir £12,777 aan te neem. As boukommissie vir die nuwe skoolgebou is aangestel die here P.A. Brink, D.S. du Toit en D.J. Joubert. As klerk van werke is benoem die heer Rogers. Met die bouery het dit voorspoedig gegaan en op 3 September 1921 kon die gebou plegtig geopen word deur dr. Viljoen.

The High School building in Bloem Street which was demolished

Transnet Heritage Library Photo Collection

Tokkie Bussell in sy boek Montagu Soos die dorp was vanaf my kinderdae skryf as gevolg:

HOËRSKOOL.

Dit was nou regtig ‘n stewige en statige gebou met ‘n rooi teëldak en pragtige groot Kiaathout vensters. Dit was ‘n dubbelverdieping gebou met sulke groot “arches” oor die voorstoep. Dit is in 1921 gebou en die eerste prinsipaal was mnr Lückhoff. Al ons ouer mense het daar ons skoolopleiding gekry. In 1959 skuif die skool na die huidige perseel en jare lank staan die ou gebou toe leeg. Dit is toe later platgestoot om plek te maak vir Kruinsingel.

Nou het Montagu beskik oor ruime en voortreflike skoolgeboue en kon die onderwyswerk met lus en krag voorgesit word. Met onvermoeide ywer en volharding het Mnr. Lückhoff die werk voortgesit totdat hy aan die einde van 1925 ʼn inspektoraat pos aanvaar het en Montagu vir goed verlaat het. Vir 11 jaar het hy as die hoof van die hoërskool gestaan en uitnemende dienste aan die onderwys en die opvoeding bewys, veral op die gebied van karakteropvoeding.

Aan die begin van 1926 het daar nog ʼn groot verandering plaasgevind op onderwysgebied toe aparte hoofde vir die primȇre en die hoër afdelings benoem is. Tot opvolger van Mnr. Lückhoff is benoem Mnr. N.J. le Roux voorheen assistant aan die hoërskool te Malmesbury en tot hoof van die primȇre skool is benoem Mnr. J.H. v/d Merwe, reeds sedert 1901 assistant op Montagu.

Foto geneem by die Kindertuingebou. Die personeel van die laeskool, hoȇrskool en kindertuin.

Mnr. N.J. le Roux was ʼn man met ʼn onuitblusbare werkkrag en vurige ondernemingsvermoei. Hy het sy taak met durf en krag aangepak en gedurende sy dienstyd het die skool met rasse skrede vooruitgegaan en is wonderlike resultate behaal. So veel so dat die eerste plek een jaar op die lys vir Senior Sertifikaat in Kaapland deur ʼn kandidaat van hierdie skool behaal is.

Skool Komitee 1928

Ook het Mnr. le Roux hom sterk beywer vir ʼn skoolfonds en daarna geslaag om ʼn mooi fonds op te bou. Op 28 Februarie 1931 het hy na Stellenbosch teruggegaan vir verdere studie, maar daar hy kort daarna die prinsipaalskap van die hoërskool op George aanvaar het, het hy nie weer teruggekom na Montagu nie. Hy is tydelik hier opgevolg gedurende 1931 deur Mnr. D.J. Malan en sedert Januarie 1932 staan Mnr. C.P. Naude aan die hoof van die hoërskool.

Wat die laerskool betref dien vermeld te word dat Mnr. J.H. van der Merwe op 31 Maart 1931 afgetree het op pensioen, en tydelik opgevol deur dr. J.M. le Roux van April tot Junie 1931. Vanaf Julie tot Desember 1931 was Mnr. C.P. Naude hoof van die laerskool. Vanaf Januarie 1932 tot Desember 1935 was Mnr. A.B. le Roux hoof daar en serdert Januarie 1936 staan Mnr. G.P. Basson aan die hoof van genoemde skool. Talryk is dus die manne wat deur die jare heen aan die hoof van die skole alhier gestaan het en elkeen sy besondere bydrae tot die opvoeding en die onderwys gelewer het.

DIE ARMSKOOL OP DIE DORP

Hierdie skooltjie het sy ontstaan te danke gehad aan Mev. Roelf van der Merwe. Sy het omstreeks 1890 uit jammerte vir die arm kindertjies wie se ouers nie die nodige skoolgeld in die openbare dorpskool kon betaal nie, ʼn skooltjie naby haar woning in die lewe geroep.

In ʼn klein kamertjie het sy aan die kindertjies onderwys gegee. In 1891 het Ds. G.S. Malan probeer om ʼn toelaag vir die Armskool (Ragged School) vir blanke kinders op die dorp te verkry. Nog in dieselfde jaar het die skoolkomitee die skooltjie onder hulle sorg geneem en Mej. Annie Kriel as onderwyseres aangestel. Sy het op 6 Oktober 1891 haar werk in die skooltjie begin. Die skoolgeboutjie was ʼn entjie vanaf die openbare skool geleë. Mej. Kriel het onder hierdie minderbevoorregte kinders jarelank uitstekende werk verrig en mooi inspeksieverslae ontvang. Teen die einde van 1900 het sy haar betrekking neergelȇ en is opgevolg deur Mej. Marianne Korsten. Sy het egter nie lank met die werk volgehou nie en is in Oktober 1902 deur Mej. Annie C. Marais opgevolg. Hoewel uitstekende werk in die skool gedoen is, het die inspekteur tog die volgende jaar die klaskamer afgekeur en aanbeveel dat ʼn meer geskikte gebou opgerig moes word en as daar meer ruimte verskaf word, sou ook ʼn toelaag vir ʼn assistente beskikbaar wees. Dit sou egter ʼn paar jaar duur voordat ʼn nuwe skoolgebou opgerig kan word. Die nuwe gebou aan die oorkant van die Keisie rivier is eers in die loop van 1909 voltooi. Serdert 1911 staan die skool bekend onder  die naam Excelsior skool. In hierdie skool is daar deeglike en voortreflike opvoedinswerk gedoen. Druipelinge het die skool feitlik nie geken nie. Netheid, ordelikheid en beleefdheid was heir aan die orde van die dag. En hiervoor kom alle eer en dank toe aan die prinsipale Mej. Annie Marais, wat vir byna ʼn kwart eeu hierdie grootse werk getrou gedoen het. Op 31 Desember 1927 het sy die tuig neergelȇ en kon haar werk voortgesit deur Mej. Beeby en daarna deur Mej. R.C. Vorster tot Maart 1943 toe die tydstip aangebreek het om die skool as ʼn selfstandige skool te sluit en die kinders op te neem in die groot primȇre skool op die dorp. Wat hierdie skooltjie vir die omgewing wat hy gedien het, beteken het, sal beswaarlik deur ʼn buitestaander kan waardeer word.

Foto: Uit die boek STAP SAAM DEUR DIE OUDAM VAN TOEKA TOT NOU deur Rolene Ellis

Die huidige en bekende ACVV gebou was vroeër ‘n skooltjie, bekend as die Excelsiorskool, maar die Oudammers het dit sommer die Papskool  genoem.  Dit was ‘n laerskool vir kinders tot St.4.   Soos sy “naam” aandui het, het die kinders soggens pap gekry en moes elkeen ‘n lepelvol lewertraan sluk. In die wintertye het mev. Viljoen sop gekook.   Sy het in Rosestraat gebly en omdat vervoer maar skaars was, moes die groter seuns die sop gaan haal.   Dit was gelukkig ‘n pot met twee handvatsels en het gemaklik gedra, maar hoe verder jy loop, hoe swaarder word die sop, en natuurlik moet daar dan gerus word.   Hierdie rusperiodes was die klimaks, want soos ‘n mens moeg word, word jy honger ook, en wat was nou lekkerder as om die sopbene af te eet, en weer terug te gooi in die pot.   Die handjies was ook nie altyd skoon nie, en partykeer het die sop jou hande verbrand!   Oom Piet Swanepoel, die enigste skolier van daardie tyd, wat nog steeds in die Oudam bly, vertel dat hulle nooit uitgevang is nie, en vleis was ‘n luukse.

Artikel: Uit die boek STAP SAAM DEUR DIE OUDAM VAN TOEKA TOT NOU deur Rolene Ellis

SENDINGSKOLE OP DIE DORP

  Reeds aan die begin van 1859 is as gevolg van die ondernemingsgees van Michiel Roman (ʼn konstabel) ʼn kleurlingskool met Willem Jager as onderwyser gestig. Van die kleurlinggemeenskap het Jager £3 per maand as salaris ontvang. Hulle moes ook nog 10/- per maand vir die huur van ʼn skoolgeboutjie betaal. Vanaf 1 Januarie 1860 is ʼn toelaag van £15 per jaar aan die kleurlingskool op Montagu toegestaan. Vervolgens was in die kleurlingskool werksaam die heer Bernardus Keet, Mej. Sophia Scott en vanaf September 1865 het die heer H.W. Geyer saam met twee lede uit sy huisgesin in die Sendingskool onderwys gegee. Mnr. Geyer het baie jare lank sendingwerk onder die kleurlinge gedoen en ook vir hul onderwys gegee. Weens gesondheidsredes moes hy in 1886 met siekteverlof gaan en die jaar daarna is hy opgevolg deur Mnr. C.H. Siebert. Ongelukkig egter moes die kleurlinggemeente gedurende die volgende 10 jaar met baie verwisselinge van Sendelinge en onderwysers kennis maak met die gevolg dat die onderwys gedug daaronder gely het. Vanaf Oktober 1897 het eerwaarde Jasper Vlok toe maar tenspyte van al sy veelvuldige werksaamhede self as hoofonderwyser ook opgetree en deur sy toedoen het die toestand in die skool spoedig merkbaar verbeter. Veral wat die skoolbywoning en die sang in die skool betref was daar groot verbetering. Maar hy kon ontmoontlik nie vir baie jare die reuse las dra nie en vanaf 1904 het hy hom onttrek aan die onderwys en is die werk deur Mej. E. le Roux en E. Siebert voortgesit.

  In 1906 het eerwaarde D.C. Odendaal vir eerwaade Vlok as Sendeling opgevolg, met Mej. E.C. Rattray as hoof van die skool. Die periode wat nou gevolg het, het veel onaangenaamhede en struwelinge met hom meegebring en wel na aanleiding daarvan dat eerwaarde Odendaal ʼn opgeskote kleurling in die skool wou laat help onderwys gee het, iets waarmee Mej. Rattray haar eenvoudig nie kon vereenselwig het nie. Uiteindelik het sy weens die botsing met eerwaarde Odendaal in Junie 1907 haar betrekking neergelȇ en die skool verlaat. Nadat die skool ʼn paar jaar lank in ʼn onbevredigende toestand verkeer het en die personeel baie veranderings ondergaan het, het die toestand vanaf 1909 geleidelik weer verbeter en is daar vooruitgang en toename in getalle te bespeur.

  Wat die verdere verhaal van die groei en ontwikkeling van kleurlingonderwysers in die gemeente betref, kan met vrymoedigheid beweer word dat dit in die eerste plek die sendelinge van die N.G. Kerk was, wat die las gedra het en die besielende krag daaragter was. Tot in 1920 was dit blankes wat aan die hoof van die Kleuring skool gestaan het, maar vanaf Januarie 1924 begin ʼn nuwe era en Mnr. Theys is aangestel as die hoof van die skool. Hy het hier begin met 2 onderwysers op die staf, vandag is daar 12. In die 2de helfte van die vorige eeu het beide die Wesleyaanse en die Anglikaanse kerke ook probeer om skole alhier te stig vir kleurlingkinders,maar daar beide pogings nie juis lewenskragtigheid openbaar het nie, het dit maar heel gou weer van die toneel verdwyn.

  Aan die sendelinge van die N.G. Kerk wat al die jare, soms onder baie moelike omstandighede, met soveel getrouheid en volharding die saak van die kleurlingonderwysers gedien en bevorder het, kom groot dank en waardering toe.

DIE STAAN VAN SAKE IN 1951

Die volgende tabelle van blank en kleurlingskole en hul getalle gee ʼn idee van wat bereik is:

Blanke Skole: Kleurlingskole

Montagu Hoërskool 149/Dorp 412

Montagu Primȇre Skool 501/Koo 84

Ashton 88/ Keisie 50

Baden 12 / Baden 85

Boschrivier 25 / Talana 27

Concordia 18 / Scheepersrust 28

Kruispad 32 / Warmwater 18

Laatsrivier 29

Pietersfontein 27

Rietrivier 14

Klipheuwel 14

Interessant is dit om daarop te let dat in die 11 primȇre skole vir blankes daar altesaam 778 kinders is, terwyl daar in die 7 primȇre skole vir kleurlinge 704 kinders is. Wat ʼn ernstige en betekenisvolle waarskuwing hou die syfers nie in vir die blanke seuns en dogters wat maar so maklik die skool verlaat nie.

dr. Kellerman’s class of 1955 staff and students

N.S. My hartlike dank aan Mnr. J.A. Theron vir ruimskootse gebruikmaking van gegewens in sy ongepubliseerde skripsie oor die onderwys in Montagu voor 1914.

J.E Kellerman
Montagu
23 November 1951.


ADDENDUM

Paul Fouche ex Montagu resident clarifies

From: Allmayfm [mailto:allmayfm@telkomsa.net]
Sent: 22 April 2020 09:51 AM
To: Paul Fouche
Subject: Assistance

Morning Paul,
                      I trust you are in good spirits and healthy. Irma Jodaan found the article Die Geskiedenis van die onderwys in Montagu Die Vroegste Begin in the Museum archive. I believe it will fit nicely before your fathers’ story. Now I would like your help with the following please. I believe that there were 3 buildings involved with the public school before the new high school was built.

  1. The first was the building in Piet Retief Street which is today the Municipal offices?
  2. Another building was then built on the corner of Joubert and Bloem Streets which is today a pre-school?
  3. Then a 3rd building was built somewhere around Bloem Street and Kruin Crescent? This was the old high school which was demolished?

Any help you could give to clarify would be appreciated.
Thanks,
Rudi.


1. Gedurende Maart 1958 het ons van Rietrivier (Little Oaks) af dorp toe verhuis en langs die kerksaal se parkeerterrein in Piet Retiefstraat 4 ingetrek – vandag Piet Retiefstraat 6 en die kantore van Pieter Steenkamp. Die laerskool waar ek moes aanmeld, was in Piet Retiefstraat (Foto – Die eerste skole vir blankes bl. 9). Waar die ouetehuis vandag is, het ons sokker gespeel en soms liggaamsoefeninge gedoen. Die skool se hoofingang het na ‘n gang gelei met die skoolsaal links – vandag die biblioteek, met regs die personeelkamer en mnr. Basson se kantoor. Aan die onderpunt van die gang was nog ‘n gang van oos na wes en net om die draai, na die oostekant, was een van twee vierkante waar die leerlinge in rye gewag het om na die klaskamers te gaan. Noord was die seuns se toilette en links van die toilette ‘n gebou met ‘n veranda, deure en vensters aan die suidekant en vensters aan die noordekant wat op Joubertstraat uitgekyk het. Dié gebou se styl verskil, myns insiens, van die hoofgebou s’n en mag ‘n latere byvoeging wees om die skool te vergroot. In dié gebou was die twee st. 5-klasse asook mnr. Smit (onder die dorpenaars bekend as oom Smitjie misvat) se spesiale klas.

Eens was die st. 6-klas nog in dié laerskoolgebou, want oorkant die saal se syingange in die gang was ‘n leë klaskamer met ‘n houtbord teen die deur. Op die bord was Seniors in groot, netjiese letters gedruk. Mnr. Baard, die onderhoof, het later uit dié klaskamer gaskoeldrank verkoop. Eens ‘n gewilde manier om die skoolfonds aan te vul.   

2. Tussen die seuns se toilette (hokkies genoem) en die gebou met die veranda en die lang stoep, was ‘n hekkie. By die hekkie uit was die ingang na die Kindertuin (Foto – Die eerste skole vir blankes bl. 10) net skuins oorkant in Joubertstraat. Die gebou, bekend as die Kindertuin, het die sub A’s en B’s gehuisves. Tydens saalbyeenkomste het die Kindertuinkinders oor Joubertstraat in rye geloop, by die hekkie in en oor die vierkant na die saal se syingang langs die verhoog aan die westekant van die saal.

3. Bloemstraat het teen die ou hoërskool (Foto – Die eerste skole vir blankes) se gronde doodgeloop. Jy was dus op pad skool toe of moes regs draai voor die strooidakhuis waar mnr. Schabort, die eerste hoof van die nuwe hoërskool gewoon het en later mnr. Winterbach, wat die Aero eens bestuur het. Die ou hoërskool het vanaf 1959 leeggestaan en is uiteindelik gesloop om plek te maak vir woonhuise. Tant Silva van der Spuy, die boervrou van Geelboslaagte en skoonma van Dr. Tim Alston, het ‘n huis daar besit nadat sy die plaas verkoop het. Die jaartal van die sloping van die ou hoërskool het my ontgaan.

Die ingeslote stuk, Die eerste skole vir blankes, is ‘n waardevolle bron van name en datums, maar die foto’s van die skoolgeboue is verwarrend. Dit lyk soms, volgens die plasing van die foto’s, asof die ou hoërskoolgebou die Kindertuin en laerskool gehuisves het en dan is die kindertuingebou weer die hoërskool en die laerskoolgebou die Kindertuin. As ek reg onthou, was op die gewel van die hoofgebou van die ou laerskool (Munisipale kantore) ‘n datum en ek is nie seker of die Kindertuingebou (Kleuterskool/pre-school) ook nog iewers ‘n datum vertoon nie. Dit mag lig op die saak werp.

Die eerste skole vir blankes kan baie baat by redigering deur iemand met taalvaardigheid, stipleesvermoë en ‘n grondige kennis of toegang tot gespesialiseerde kennis oor die geskiedenis van die onderwys op Montagu.

My pa se storie as skoolopsigter is in wording, maar die vind en uitsoek van foto’s tussen my ander bedrywighede, soos die Nico Carstens samestelling vir DOMUS, het my ietwat vertraag. As alles goed in die grendelstaat verloop en Eskom bietjie kan wag met dreigende fase 3, behoort ek binne die afsienbare toekoms die vertelling vir jou te kan stuur.

Mag julle intussen die virus vryspring en die grendelstaat verdra.
Groete, seën en sterkte
Paul


Jy kan ook ‘n uiters interessante dokument geskryf deur J.A. Theron in 1948 besigtig deur die skakel hieronder te gebruik.

https://scholar.sun.ac.za/items/121db7bf-e37c-4dfc-9036-a4d4c60d20e5

Then Click on “Full Item Page

then bottom right of next page press “Download


Contributions: Blackie Badenhorst, Irma Jordaan and Paul Fouche


image_pdfDOWNLOAD PDF