158.Hillside Bakkery

image_pdfDOWNLOAD PDF

saamgestel deur Gerald Batt

April 2026

Die gebou staan nog (2026). Hoek van Mark en Parkstraat

Die foto is gefotoshop na ‘n foto wat ek beter onthou

Die Hillside Bakkery was ‘n baie bekende onderneming in Montagu en was geleë op die hoek van Mark en Parkstraat (vandag die – Sonstraal kafee) en het ‘n onmisbare rol in die dorp gespeel. Voordat Hillside Bakkery op die toneel verskyn het, moes winkels brood van die Robertson bakkers af kry, of jy moes jou eie brood tuis bak. Gebaseer op historiese rekords en die argitektoniese geskiedenis van die dorp, was die Hillside bakkery baie prominent gedurende die middel-20ste eeu, spesifiek van die 1940’s tot die 1970’s. Die bakkery het c1940 sy deure vir die eerste keer oopgemaak.

Die Hillside bakkery-gebou is ook deel van Montagu se “historiese” geskiedenis, wat verskeie geboue bevat wat dateer uit die middel tot laat 1900’s en wat later vir kommersiële gebruik omskep is. Dit was deel van ‘n era toe hierdie area deel was van die besigheidskern en die primêre kommersiële spilpunt wat die inwoners gedien het.

Die bakkery, was besit en bestuur deur oom Richard “Rietjie” Alexander du Toit, en het vroegoggend sy deure oopgemaak, nog voor die son se eerste strale die berge langs die Kogmanskloof oortrek het. Die reuk van vars brood en ander gebak, het die strate gevul en vir kinders en grootmense was dit ’n bekende gesig en plek. Die bakkery was die bestemming vir vars voorraad brood, beskuit en ander lekkernye wat met liefde en sorg voorberei is. “Rietjie” se hande en sy oond het elke dag geweet hoe om die dorpsgemeenskap te voed en te verbly.

Die Du Toit-familie het diep wortels in die Montagu-gebied, en die Hillside-bakkery was ‘n noemenswaardige deel van die dorp se kommersiële struktuur gedurende daardie era.

Richard was een van nege kinders – agt seuns en een dogter. Gedurende die 1950’s sou bakkerye soos Hillside van hout- of steenkookool gestookte oonde wat na meer moderne toerusting oorgeskakel het, terwyl baie steeds staatgemaak het op tradisionele resepte wat al geslagte lank in families was.

Ek weet nie of Hillside Bakkery oorspronklik ‘n houtvuur-oond of ‘n koolvuur-oond gehad het nie, maar ‘n tipise dag voor die oonde, sou omtrent so verloop het:

Die bakkery het lank voor dagbreek begin – ongeveer 04:00. Terwyl die dorpie nog stil en in donkerte gelê en slaap het, was die bakker reeds besig om die oond wakker te maak. Teen die tyd dat die eerste lig oor die berge begin breek, was groot bakke gerysde deeg gereed en die eerste noukeurig afgemete stukke deeg reeds in die panne. ‘n Uur of wat later is die oonde warm en reg om die eerste brode te bak.

Nie lank nie en die reuk van varsgebakte brood het stadig deur die strate begin dryf – ’n stil uitnodiging aan die gemeenskap dat die dag aan die gang is. Teen vroegoggend het die deure oopgegaan en dorpenaars, huisvroue en kinders het ingestap vir hul daaglikse brood, terwyl grootmaat bestellings vir omliggende plase voorberei is.

“Rietjie” het ook ‘n klein kafee langsaan die bakkery gehad waar hy brood, lekkers en ander eetware verkoop het. Die mees gesogte lekkers vir die kinders was daai suurklontjies. Hy het altyd ‘n papier horinkie gedraai en die lekkers daarin toegevou.

“Rietjie” was nie net ‘n bakker nie – in ‘n klein dorpie soos Montagu was hy ‘n “meestervakman” van sy beroep. Hy moes die chemie van gis en rys van die deeg reg balanseer met die onvoorspelbaarheid van die Bolandse weer. Hy het presies geweet hoeveel ‘rys’ ‘n vogtige Kaapse oggend sy deeg sou gee, hoe die lug temperatuur gedurende die nag die rysproses van die deeg sou affekteer ens.

Soos die oggend gevorder het, het die bakker en sy helpers aangehou werk met die bak van nog brood en ander eetgoed en is nuwe deeg voorberei vir die volgende dag. Teen die middag was die tempo effens stadiger, maar die hitte van die oond en die ritme van die werk het nooit heeltemal gaan lê nie. Wanneer die son begin sak het, is die dag se arbeid afgesluit, die oond skoongemaak en die klaar voorbereide deeg vir die volgende oggend sorgvuldig in groot bakke gelos om te rys, want binne ’n paar kort ure sou alles weer van voor af begin.

Die voorbereiding vir grootmaat-bestellings uit die distrik, was altyd hoog op die prioriteitslys, want die kliënte het van ver gekom en die bestellings moes klaar wees, net reg vir oplaai. “Rietjie” en sy bekwame werkers moes ekstra vroeg begin met die grootmaat bestellings, sodat dit gereed en afgekoel genoeg was om ingepak te word sonder om sweterig te raak.

In die laat 40’s/50’s na die Tweede Wêreldoorlog, het hy “Regeringsbrode” – ‘n standaard bruinbrood wat deur die staat gereguleer was en ook die hoogs gesogte “witbrood” vervaardig. Brood is dikwels “kaal” verkoop of in eenvoudige bruinpapier toegedraai. Jare later onthou mense nie net die brood nie, maar die warm, vertroude teenwoordigheid van die bakker en die gevoel dat jy deel was van ’n dorpslewe wat stil maar lewendig in elke geur van vars gebak vasgevang was.

“Rietjie” was ook die informele nuussentrum waar dorpsmense en ook grootmaat-aankopers nuus kon uitruil terwyl hulle wag vir hul bestellings

Die Du Toit stamvader in Suid Afrika was Francois Du Toit van Ryssel, Lille, Flanders in Frankryk geb Sep 1664. Hy het in 1686 na Kaap die Goeie Hoop, Suid-Afrika, ge-ëmigreer en sy beroep word gelys as ‘Boer’ in Dal Josafat, Paarl. Die Du Toit stammoeder was Susanna Seugnet van Saintonge in Frankryk, geb Okt 1673.

Nota: Tussen Francois *1664 en “Rietjie” se oupa, Jacobus *1841, is daar nog vier geslagte, maar dit is te veel onnodige inligting.

Francois sterf Jan 1744 in die Paarl en Susanna sterf ook in die Paarl in Okt 1731.

“Rietjie” se oupa was Jacobus Stephanus Phillipus Du Toit geb. Sept 1841 in die Paarl. Rietjie se ouma was Francina Louisa Maria Aletta (Knipe) gebore Sept 1843 in Dal Josfat, Paarl. Hulle troue was op 05 Okt. 1868 in Wellington en hulle het agt kinders gehad – vier seuns en vier dogters: Jacobus gebore 1901, Johannes Francois geb. 1903, George Wilhelm 1906, Daniel David geb.1908, Richard Alexander geb. 1911, Rachel Jacoba geb. 1914, Louis Frank geb. 1918, Alexander Floris geb. 1922 en Petrus geb. 1925.

Die trousertifikaat hierbo dui aan dat hy hoofsaaklik ‘n “Agriculturist” (boer) in “Behind the Paarl” (Agter-Paarl) was.

Hy en sy gesin het omstreeks 1876/1877 van die Paarl/Wellington-gebied na die Koo Vallei verhuis. Die tydsberekening van hierdie verhuising word bewys deur die geboorterekords van sy kinders. Terwyl Jacobus in 1841 in die Paarl gebore is , is sy seun (“Rietjie” se pa) Willem Jacobus du Toit, op 10 Oktober 1877 in Montagu gebore. Dit dui daarop dat die gesin hulself teen die laat 1870’s in die streek gevestig het om hul boerdery-bedrywighede te begin. Hy sterf Okt. 1917 in Montagu en Francina sterf Aug 1914 in Montagu.

Hier is ’n uitleg van “Rietjie” se onmiddelike familie: Oupa Jacobus en ouma Francina regs bo, dan hulle 8 kinders direk onder hulle met “Rietjie” se pa, Willem, as vyfde kind (gemerk), dan Rietjie se pa Willem en sy ma Sara links bo en hulle nege kinders direk onder hulle met Richard “Rietjie” Alexander  die vyfde kind:

“Rietjie” Du Toit se ouers was Willem Jacobus du Toit geb. 10 Okt. 1877 in Montagu en sy vrou was Sara Susanna Petronella (Kriel) geb. Sept. 1881. Hulle troue was op 28 Mei 1901 in Montagu en hulle het nege kinders gehad – agt seuns en een dogter. Die Kriel-familie (Sara se familie) was ook ‘n bekende naam in die Montagu- en Bonnievale-erfenis, dikwels geassosieer met die vroeë ontwikkeling van die streek se besproeiingstelsels.

In die laat 19de eeu was die Du Toits in die Montagu/Caledon-gebied hoofsaaklik wingerd- en vrugteboere of het in die ontluikende vervoerbesigheid gewerk wat die Klein Karoo bedien het. Willem was hoofsaaklik ‘n boer en gedurende sy mees aktiewe jare (1900–1930) het die Montagu-distrik oorgeskakel na ‘n kragbron vir gedroogde vrugte en wyn.

Hy het in die Montagu-distrik gewoon – die Du Toits was histories gekoppel aan plase soos Klipkuil, Klipheuwel, Stockwill en Uitvlugt. Teen die tyd dat Richard die bakkery geopen het, was die familie reeds goed gevestig in die distrik.

Willem sou ‘n jong man van 22–25 gewees het tydens die ABW toe Montagu onder Krygswet was. Terwyl geen groot veldslae in die dorp gevoer is nie, het die Britte verskeie forte gebou, waarvan een steeds bo die Kogmanskloof-tonnel staan. Willem het die tydperk van beperkte beweging en slegte “passe” oorleef wat nodig was om tussen plase en die dorp te reis.

Historiese rekords vir “Rietjie” se pa, Willem Jacobus du Toit, identifiseer sy primêre beroep as ‘n boer. Spesifiek was hy ook geassosieer met die landbougemeenskap van die Koo-vallei, bekend vir sy vrugbare grond en hoë-hoogte klimaat, wat ideaal was (en bly) vir vrugte- en graanproduksie. Willem se gesinslewe het die tradisionele patrone van die Kaaps-Hollandse gemeenskap van daardie tyd gevolg.

Willem en Sara het ‘n groot gesin gehad, wat algemeen was vir die era om die kontinuïteit van familie-ondernemings te verseker. Afgesien van Richard Alexander (gebore 1911), dui die rekords op verskeie ander kinders wat in die Wes-Kaap gebly het, hoewel Richard se nalatenskap die mees sigbare in die openbaar is as gevolg van die bakkery.

“Rietjie” se pa sterf op 26 April 1946 in Montagu en sy ma, Sara, sterf Des. 1959 op Worcester.

Richard “Rietjie” du Toit is gebore op 21 Sept 1911 en was die 8ste geslag Du Toit’s in SA en die vyfde een van Willem en Sara se nege kinders. Hy was getroud met Iasabella Margaretha (Burger) gebore 1923. Hulle troue was 24 Feb. 1942 in Montagu – sien ‘n afskrif van hulle trousertifikaat wat aandui dat hy ‘n “Bakker” en sy ‘n ‘Winkelklerk’ was. Dit is ‘n ge-dokumenteerde bewysstuk dat hy sy bakkery al vroeg 1940’s gehad het, want daar was nie ‘n bakker in Montagu voor Hillside Bakkery nie – die naaste bakker was op Robertson. “Rietjie” se skuif na bak (Hillside Bakery) het waarskynlik begin met die surplus van plaaslike graan.

Volgens oorvertelling het hulle vier kinders gehad, maar bygesê, niemand weet presies hoeveel kinders daar was nie. My gevoel is dat dit meer as vier moes gewees het, want oor die algemeen was die gemiddelde aantal kinders per huisgesin daardie jare ses tot sewe. Ons weet van Freddie “Bacon”, Elsa, Tilla en Andre. Ek kon nêrens op enige genealogiese databasis een van die kinders se name opspoor nie en kon ook nie hulle ouers se sterfte-sertifikate opspoor nie. Gewoonlik word al die kinders se name op hulle ouers se doodsertifikate aangetoon. Dit sal by die KPA wees, maar om ‘n afskrif aan te vra, is ‘n baie lang proses. “Rietjie” sterf 14 Nov 1973 – sy vrou se sterfdatum is ook onbekend.

“Anelma Oosthuizen noem dat die oudste seun se bynaam “Bacon” was en sy regte naam Freddie was. Na hom was Elsa – wat by haar in die klas was tot std8. Die 3de kind was Tilla en was by haar suster in die klas – seker Mathilda. Van die 4de kind Andrè het sy nooit geweet nie. Sy was per geleentheid by hulle aan huis, by Elsa se verjaarsdagpartytjie. Sy was ook in die kafee langs die bakkery om brood en lekkergoed te koop. Verder weet sy niks van die gesin nie”.


“Marius Kriel onthou, hoe hy as ‘n jong knaap Saterdae vroegoggend die hotel se vleis moes gaan aflewer voordat die slaghuis begin besig raak. Sy pa was kwaai daarooor dat hy die hotel se vleis eerste moes gaan aflewer. Dit was altyd groot bestellings met heel stukke vleis want die sjefs het self die vleis verder bewerk. So moes hy ook die hotel se brood en “buns” by oom Rietjie optel en saamneem.  Daarvoor het hy R5 gekry wat baie geld was daardie tyd. Dit het hom altyd die rykste seun in die skool gemaak want almal het geweet hy spaar R10 elke Maandag.

Hy was altyd voor 6uur al by die bakkery en vreeslik haastig en uit asem as hy daar inhardloop om die hotel se bestelling op te tel. Dan sê hy vir oom Rietjie, die hotel het al drie keer gebel en hy is laat. Dan staan en trippel hy daar langs oom Rietjie en sê vir hom hulle moet vroëer begin want nou maak hulle dat hy laat gaan wees, dan wil die hotel nie meer die vleis hê nie. Dan is oom Rietjie op sy senuwees en jaag almal aan om gou sy bestelling reg te kry. Dan kom oom Rietjie na hom toe en sê hy moet nie altyd so haastig wees nie, want die mense raak op hulle senuwees”.


“Flip Kriel noem dat hy net een keer wat hy kan onthou, daar brood gekoop het rondom 1955/56. Hy kan ook nog onthou dat hy daar polonie gekoop het en elke keer as hy polonie sien, dink hy aan oom “Riektjie” se bakkery. In daardie jare was brood ‘n probleem op Montagu, soos trouens in die hele land na die oorlog -WO2.

Op instruksie van die destydse minister van Gesondheid, Karl Bremer, is  daar die destydse “Bremerbrood” gebak en verkoop. Diè brood was goedkoop en gelaai met allerhande vitamines en wat nog om glo ondervoeding na die oorlog hok te slaan. Die Bremerbrood was sleg vir baie mense en vir hom ook. Dit was so ‘n Bremerbrood wat hy by oom Rietjie gekoop het.

As jy nie by oom Rietjie kon of wou brood koop nie, moes jy maar wag tot die winkels brood van Robertson af gekry het. Daarom het sy ma maar self brood gebak”.


“Paul Fouche sê hy onthou net twee seuns. André was saam met hom in die klas tot vroeg in die hoërskool. Hulle het later verhuis en hy vermoed die bakkery het gesluit. André het altyd kortasem gekug en sy neus was toe. Die kwaai mnr. Baard in die laerskool het hulle met byname geteister, vir André het hy “Poensie” genoem en gesê hy moet sy neusmangels (adenoïde) laat uithaal.

André het nooit teruggedeins vir kattekwaad nie en kon luidkeels, oopmond lag wanneer ‘n arme drommel uitgevang is. Hy was ook deel van die groep wat gereeld Saterdagmiddae in die Venus te sien was.

“Bacon”, was letterlik sy groter, ouer broer. Weens sy “grootte”, altyd die leier in sokkerwedstryde tydens pouse op die speelgrond waar die ouetehuis vandag is. Die res van die kinders het hy nie geken nie, want hy was nooit by hulle aan huis of in die bakkery nie.

Van die susters het hy min tot niks geweet. Chronologies lyk dit asof Freddie “Bacon” die oudste seun was, maar nie noodwendig die oudste kind nie. Freddie was in 1958 nog in die laerskool”.


“Rietjie” Du Toit het met sy gesin by Du Toitstraat 25 gebly – sien foto hieronder. Oorspronklik was die huis se mure wit/room kleurig met ‘n groen dak.

My oupa Gerald Batt het ‘n winkel in die Koo gehad wat hy op 1 Mei 1915 gestig het. Hierdie winkel doen vandag nog besigheid (111 jaar later) en is al in die vierde geslag. Volgens twee van Oupa se dogters, moes Oupa weekliks met sy perdekar Montagu toe gaan vir brood by oom “Rietjie” en  kruideniersware wat hy meestal by Brinks gekry het. Dit was altyd ‘n baie lang dag vir Oupa, want paaie was maar sleg, Montagu 46 km van die Koo af en hy moes Burgerpas ook trotseer. Ek dink hy kon dalk by sy oom, “Jiem” Batt op Montagu oorgebly het en eers die volgende oggend weer terug gery het Koo toe.

In 1942 stel die Spoorwëe ‘n passasiers/goedere busdiens in vanaf Ashton en Montagu-stasie en noem die halte by Oupa se winkel, Batt’s Store. Oupa kon toe alles met die bus Koo toe laat kom, ook goedere vir die boere van die distrik. Dinsdae was “rooiletter-dag” (soos die mense dit genoem het), want dan het die rooi Diamond-T bus daar aangekom met goedere, pos en ook passasiers.

By die Ashton Stasie

Oupa se skoonseun, oom Dorus Augustyn en sy vrou tannie Martha, neem die winkel in 1957 by Oupa oor toe hy al te swak en siek geword het om die winkel te bedryf. Oom Dorus het toe self weekliks Montagu toe gegaan met sy 1.5 ton Chev bakkie en ek het gereeld saamgegaan toe ek gedurende die week by Oupa-hulle loseer het. Ons plaas was te ver van die skool af en Oupa-hulle was net so drie km van Laatsrivier laerskool af.

Oom Dorus het altyd ‘n staande bestelling by Hillside Bakkery gehad vir ‘n sekere hoeveelheid brood en rolletjies wat hy elke week persoonlik daar gaan haal het. Hy het elke Donderdag Montagu toe gegaan met sy Chev bakkie om die vars brood en rolletjies vir die winkel te kry en het ook ander grootmaat kruideniersware vir die winkel by Brinks gekry.

Daardie “broodlopie” was die lewensaar van die Koo distrik. Om een ​​keer per week op ‘n Donderdag brood te gaan haal, dui daarop dat die brood wat deur oom “Rietjie” Du Toit vervaardig is, ‘n goeie raklewe en kwaliteit gehad het wat bedoel was om die gemeenskap deur die naweek te hou. Deur dit op Donderdag te gaan haal, het hy verseker dat die brood op sy varsste was vir die besigste handelsdae van die week – Vrydag en Saterdag.

Om die reis van die Koo na Montagu winsgewend te maak, moes oom Dorus elke vierkante duim van daardie Chevy benut. Aangesien hy ook “grootmaat kruideniersware” aangekoop het, sou die swaar items – sakke suiker, mieliemeel en kratte blikgoed – oor die agteras geplaas word vir vastrap. Die broodmanjie was gewoonlik direk agter die kap. Onthou, die pad Koo toe was meestal grondpad daardie jare en so ook die Burgerpas net na die Keisie, oppad Koo toe.

Donderdae was ‘n baie belangrike dag vir Oupa se winkel. Dan was al die voorbereiding gedoen vir die naweek se stormloop wanneer die plaaswerkers Vrydae hulle lone kry. Die boere het gewoonlik hul werkers Vrydagaande na werk winkel toe gebring en die winkel het laat oopgebly om almal te help. Daarom was Hillside bakkery se tydsberekening met die grootmaat bestelling uiters belangrik.

By die bakkery was die afgekoelde brode netjies in Oupa se groot langwerpige geweefde rottinghouer gepak met ‘n deksel op. Die binnekant was uitgevoer met ‘n groot wit lap, amper soos ‘n laken  en verwys na ‘n tyd lank voor brood in plastiek sakkies verpak is. Sodra al die brood in die houer gepak was, het hulle die brood toegemaak met ‘n ander wit lap. Dit was gedoen om die brood teen stof te beskerm op pad terug Koo toe, want die hernude pad is eers in 1967/1968 voltooi en klaar geteer tot by die N1 Nasionale pad.

Foto per illustrasie

Ek onthou die bakkery nog redelik goed, met die groot masjien wat die deeg gemaak het asook die plate met rou deeg op, klaar in broodpanne gesit, gereed om oond toe geneem te word. Die reuk van al daai vars gebakte brode en rolletjies was iets besonders en ek sal dit nooit vergeet nie. Dit het my altyd laat verlang na die brode wat my ma op die plaas in ‘n houtstoof gebak het.


“Ina van Wyk noem dat Hillside Bakkery ook oom Andries de Jager, (haar pa) se winkel op Rietvlei no.1 bedien het. Haar pa  het ook sy brood weekliks self gaan haal, maar volgens Ina se ouer suster, het oom “Rietjie” die brood later self Rievlei 1 toe geneem toe haar pa dit nie meer kon doen nie”. Weereens ‘n bewys van oom “Rietjie” se uitstekende diens aan sy kliënte”.


Bronne: Eie navorsing dmv Genealogie, KI, Google, Google Maps, KPA (Kaapse Provinsiale Argiewe) en ook uit eie herinneringe as ‘n jong knaap.

Bydraes: Anelma Oosthuizen, Flip Kriel, Ina van Wyk, Johnny Verreynne, Marius Kriel en Paul Fouche


image_pdfDOWNLOAD PDF