143.Adamus Stemmet (Deel 1)

image_pdfDOWNLOAD PDF

Opgedateer: 25/01/2026

To my delight and surprise I recently received a copy of a publication Nongqai Vol 16 No 10D. The Special Edition was dedicated to a past Montaguer Adamus Stemment (A.P.). With permission from Adamus and the publication Montagu Stories has decided to reproduce and post the content in a four part series over a four week period. The past head boy of Montagu High School shares many of his life’s experiences with the reader.  Thank you to Adamus, Sarie van Niekerk and Nongqai for the time and effort in creating what must be the only collective written record of some of things that Adamus has done so far in his still busy life.

Rudi. Allmayer

HB Heymans: heymanshb@gmail.com


A.P. Stemmet

Skets deur Dawn Stewart Kellerman

DANKBETUIGING

My hartlike dank aan my oud-kollega en redakteur van die Vroue-Nongqai, Sarie van Niekerk, vir haar skitterende uitgawe oor een van my vorige hoofde, mnr AP Stemmet, ‘n voormalige Adjunk-hoof en later Hoof Koördinerende-beampte van die Tak Landsveiligheid van die Departement van die Eerste Minister (dit is later die Sekretariaat van die Staatsveiligheid Raad genoem). Hy was ook die stigter en Hoof van die Tak Strategiese Kommunikasie (TSK) by die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad (SSVR) en wat laaste Hoofkoördineerder van die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad was. Ook aan hom, mnr AP Stemmet, vir sy samewerking om hierdie historiese uitgawe moontlik te maak. Ons kollegas ken hom as “AP” en Sarie noem hom “Adamus” – dis een en dieselfde. Hier verskyn twee foto’s: Een van Sarie en een van “AP” toe hy op die voorblad van ‘n ander Nongqai gepryk het.

Hennie Heymans
Redakteur
Nongqai

Sarie van Niekerk

Passed 24/01/2026


SSVR-logo

VOORWOORD

Hardus Mynhardt
Mosselbaai: 5 Januarie 2024

Dit is vir my ‘n besondere voorreg om ‘n voorwoord te skryf vir my jarelange vriend AP Stemmet en my mentor as jong staatsamptenaar.
Ek was betrokke by die kabinetsekretariaat in die kantoor van die eerste minister en word op 1 Maart 1980 oorgeplaas na die tak veiligheidsbeplanning om die tak administrasie aldaar te vestig. Mnr Stemmet was die tweede-in-bevel en primêr verantwoordelik vir die ontwikkeling van die nasionale veiligheidsbestuurstelsel. Sy leierskapeienskappe het my uit die staanspoor beïndruk en hy het die vermoë gehad om op ‘n professionele dog menslike manier die beste uit al die personeel te haal. Die tak het ‘n hoë werkslading gehad en ‘n mens moes vinnig aanpas by mnr Stemmet se vinnige pas om dinge gedoen te kry. Teikendatums en tye moes deurentyd gehaal word. Ek herinner my aan ‘n spesifieke insident toe daar ‘n dringende vergadering by kommandement Noord-Transvaal belê is. Ek moes, op baie kort kennisgewing, dokumentasie vir die vergadering voorberei en ook ‘n braaivleis na afloop van die vergadering reël. Dit het omtrent vlugtige voetwerk gekos!

Nadat dit in 2011 aan die lig gekom het dat daar ondeurdagte beleggings deur die Staatsdienspensioenfonds (GEPF) en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gedoen is, was mnr Stemmet in 2016 verantwoordelik vir die stigting van die Vereniging vir die Monitering en Bevordering van Staatspensioene (AMAGP) wat hom beywer vir die instandhouding van die pensioenfonds. Hy sal in die anale van die geskiedenis onthou word vir sy rol as kampvegter vir die beskerming van die fonds.
Hy het my in 2019 gevra om betrokke te raak by dié vereniging en ek skryf op ‘n deurlopende basis briewe aan verskeie koerante en politici om te poog om die plundering van die fonds teen te werk.
Daar die Stemmets in die Kaap woonagtig is sien ons mekaar nie gereeld nie, maar het ons by ‘n paar geleenthede lekker gekuier. Ek wens vir hom, Petro, die kinders en kleinkinders net die beste toe vir die toekoms.
AP, ek salueer jou en is groot dank aan jou verskuldig oor die wyse waarop jy my geskool het om daarna te streef om ‘n beter mens en toegewyde staatsamptenaar te wees.

ADAMUS PAULUS STEMMET: DIE MAN AGTER DIE DESTYDSE STAATSVEILIGHEIDSRAAD.
Sarie van Niekerk

Gereelde lesers van Beeld en Die Burger se briewe kolomme sal die naam Adamus P Stemmet baie goed ken. Slaan maar net een van die twee koerante, en somtyds ook nog die Volksblad (toe dié nog as gedrukte koerant bestaan het) oop en die kanse is baie goed dat die naam Adamus P Stemmet daar sal opduik.

Maar wie is die mens agter die briewe wat die regering so gereeld in briewe na koerante aanvat oor hulle mislukkings op elke dankbare gebied? Of dit nou ou geboue, die Staatsdienspensioenfonds of die erg omstrede Nasionale Gesondheidsversekering of Eskom se beurtkrag is, hy hou die staat behoorlik op hul tone met sy stroom briewe aan koerante.
Toe Brigadier Hennie Heymans (afgetree), hoof-redakteur van die Nongqai-tydskrifte, my die dag vra om vir mnr. A P Stemmet te bel en ‘n baie lang onderhoud met hom oor sy lewe en sy veelsydige loopbaan, te voer het ek eerlikwaar nie geweet wie A P Stemmet is nie hy het glo nie van publisiteit oor hom gehou nie. Brigadier Heymans het my vining bietjie vertel wie hy is en ek het besluit hier kan iets interessants uitkom. Hennie se opdrag was “trek sy lewe uit hom uit, ons wil alles van hom af weet”.
Ek stuur toe vir A P Stemmet die volgende WhatsApp-boodskap.

“Goeiemiddag mnr. Stemmet (sjoe maar dit klink vreeslik formeel). My naam is Sarie van Niekerk, ek is lid van die bestuurskomitee van Nongqai (elektroniese tydskrif vir die Magte). Ek is ook redakteur van die NONGQAI VIR VROUE. Ek is ook ‘n oud polisiedame en ‘n afgetrede joernalis. Ek wil asseblief graag met jou gesels, ek wil ‘n baie lekker verhaal oor jou skryf vir NONGQAI. Kan jy asseblief net laat weet wat sal ‘n goeie tyd wees Maandagoggend om jou te bel, dan kan ons bietjie gesels as jy nie omgee nie. Komplimente van Hennie Heymans.
Groete, Sarie.

Hy aanvaar die uitnodiging en hy stuur toe die volgende WhatsApp-boodskap vir my:

10:00 Maandag. Breedweg watter onderwerpe wil jy dek? Regspleging ? Aanklaer, Landdros, Wetsopsteller, parlementêre beampte. Ondersekretaris van Justisie. Landsveiligheid. SVVR Bestuurder Raad van Balju’s Moeilikheidmaker- Staatsdienspensioenfonds Soldaat Oorlog in Angola
Pantserbevelvoerder op die grens Laat weet asseblief.
Groete A P Stemmet .

Vreeslik opgewonde laat weet ek terug

Jou hele lewe! As dit te lank word kan ons dit oor twee uitgawes plaas. Met groot klem op die SSVR, aanklaer, landdros, oorlog in ANGOLA. Soos ek sê, jou hele lewe asseblief Nog ‘n WhatsApp-boodskap gaan uit na hom toe: Maandag net na 10:00 sal uitstekend wees want dan het ons ‘n periode wat daar nie beurtkrag sal wees nie.
Groete Sarie.

Die afspraak is gemaak vir 11 September 2023 en in die naweek het ek so bietjie op die internet rondgeswerf om bietjie meer van hierdie man, wat lankal reeds veronderstel is, om as afgetrede te ontspan, maar nog by vele dinge betrokke is, uit te vind. Ek kom toe ondermeer agter dat hy graag sy mening oor dinge wat verkeerd loop in die land, in veral Beeld en Die Burger se briewe kolomme, uitspreek. A, so reg in my kraal, darem al een punt om mee te begin.
So glad het dinge egter nie verloop nie. Soos dit mos maar meestal die geval is, verloop die eerste afspraak toe nie heeltemal volgens plan nie. Maandagoggend breek aan en dit is net een van daardie oggende wat alles nie volgens plan verloop nie. Eskom is toe die eerste een wat ‘n stokkie voor my beplande afspraak steek met hul beurtkrag. In my huishouding het dinge skeefgeloop en daar vergeet ek werklikwaar van ons afspraak!

Maandagoggend om 10:52 ontvang ek die volgende WhatsApp-boodskap van hom af:

Sarie,
Wat het van jou geword? Ek het 12:00 ‘n ander afspraak.
APS

O genade, het ek gedink. Hoe kon ek nou werklikwaar van die afspraak vergeet. Onmiddellik het ek net gedink ‘wat gaan ek doen as hy ná my blaps my nie ‘n tweede kans wil gee nie? Hy klink beslis nie baie beïndruk met my nie.

Ek het onmiddellik gebel en baie mooi om verskoning gemaak. Hy sê toe vir my sy vrou, Petro, wat aan kanker ly, is dieselfde oggend in die hospitaal opgeneem en hy wil hospitaal toe gaan. Maar ons spreek toe af dat ek hom net na 12:00 sal bel.

Dit is hier, by hierdie punt waar daar toe sowat twaalf ure se telefoon gesprekke, uitgesprei oor drie maande, begin het. Ek het intussen vir my ‘n lang lys vrae uitgewerk en hy het behoorlik aan die anderkant, in sy huis in Durbanville, Kaapstad, met boeke en boeke vol herinneringe reggesit met die antwoorde. Die eerste gesprek het letterlik drie ure geduur. Wat ‘n verskriklike klomp inligting het hy nie vir my gegee nie!

Nog voor die einde van die eerste onderhoud, het hy reeds vir my vertel “nadat hy by die Raad van Balju’s afgetree het, het hy en ‘n vriend begin optel, uit koerantberigte, nuusuitsendings en op ander maniere dat dinge by die Staatsdienspensioenfonds nie baie goed gaan nie”. Hulle het toe ook sommer dadelik begin om inligting bymekaar te maak hieroor.

Voor ons groet ná die eerste onderhoud, moes ek eenvoudig vir hom vra waar die naam Adamus vandaan kom. “Dit is ‘n familie naam. “My voorouers het in die 1700’s na Suid-Afrika gekom van Nederland af, of dalk een van die omliggende lande, soos België”. In Latyn sê hy word Adamus afgelei van ‘n woord wat “EER” of LOOF beteken . Nou hoe pas Paulus (sy tweede naam) by die Latynse Adamus? Paulus verwys natuurlik na die Bybelse PAULUS, eintlik sê hy beteken sy naam dus moontlik “EER OF LOOF PAULUS”.

Ons het toe reeds ooreengekom dat daar beslis meer onderhoude gaan volg. En glo my, daardie ure lange onderhoude was van die interessantste wat ek ooit gevoer het.

Hy belowe ook om sommer voor die volgende onderhoud vir my ‘n klomp inligting per e-pos te stuur. Hy het nie grappe gemaak toe hy gesê het “ek sal vir jou ‘n klomp goed aanstuur waarna jy ook kan kyk en gebruik,” nie. Dit is presies wat hy sedert daardie eerste onderhoud nog steeds doen.

Met elke antwoord het ek besef hierdie man, wat toe reeds 86 jaar oud was, het nog ‘n brein so skerp soos ‘n Chinese “tjopper”.

MNR. A.P. STEMMET:- ‘n REUS IN NASIONALE VEILIGHEID:- WAARDERING VIR ‘N VRIEND
Brig. (afgetree) Hennie Heymans

Inleiding

Dink ek aan mnr AP Stemmet – my vriend en vorige hoof – alom bekend as “AP” – dan dink ek met respek ek aan hom en dan ook die Chinese woord “nahuli” (foneties) – wat op ‘n positiewe manier, iets soos “you sly old fox” – beteken.
Oud-aanklaer, -landdros en -ondersekretaris van justisie en later na die kantoor van die eerste minister om veiligheidsbeplanning te doen. Hy is nog later as stigterslid na die sekretariaat van die staatsveiligheidsraad (hoof van die tak: strategiese kommunikasie) gesekondeer en is voorlaaste hoof van die sekretariaat van die staatveiligheidsraad (SSVR). Hy was ‘n senior lid van “ou” Suid-Afrikaanse nasionale veiligheidstoneel – ‘n reus op wie se skouers ons talle male gestaan het.

Ek het my vriendin en mede-kollega, Sarie van Niekerk, self ‘n oudlid van die veiligheidspolisie – ‘n gesoute joernalis en Beeld-verslaggewer gevra om ‘n onderhoud met mnr. Stemmet te doen. Ek is seker hy was “skaam” om my “alles te vertel” want sou hy gedink het, ek dink hy spog – en hy het rede om te spog!!

Ek het ‘n artikel met opskrif: “Die dag toe Koevoet ons gatte gered het” vir die boek: Koevoet: The men Speak geskryf na ek ‘n onderhoud met mnr Stemmet in Kaapstad gevoer het. Daarna het verskeie artikels deur hom en selfs ‘n spesiale Nongqai oor verskyn.

Die persoon AP Stemmet

Ek was ‘n majoor in die SA Polisie wat pas ‘n BA (Hons) in Nasionale Strategiese Studies verwerf het. Genl. F.M.A. Steenkamp (veiligheidshoof) het my ingeroep en gevra sal ek die kommissaris van polisie by die sekretariaat van die staatveiligheidsraad (SSVR) verteenwoordig

Ek het dadelik ingestem want ek het “alles” geweet wat in die land gebeur as gevolg van my intense belangstelling in nasionale veiligheid. Ek het gereeld die veiligheids- en inligtingsverslae van SAP(V), die weermag en NI-gelees en ek wou baie graag sien hoe lyk ‘n “strategie” en ek wou meer weet oor ons nasionale veiligheid en die rol wat elke departement daarin speel. (Natuurlik as gevolg van my studies het ek geweet hoe FBI, CIA en NSA werk en hoe hul nasionale veiligheidsopset werk.)

By die SSVR

Ek is egter baie trots die polisie, weermag en NI en die groot rol wat ons almal daarin gespeel het. Ek het aan verskeie verenigings behoort en baie simposia bygewoon. Ons nasionale veiligheid en inligting was van hoogstaande gehalte – die beste in Afrika! Alhoewel ek soms krities is, is ek as geskiedkundige nogtans lief vir die SAP, NI, SAW die SAS en die spoorwegpolisie se geskiedenis en hul strategiese rol in landsveiligheid. Ons almal is nie verhewe bo kritiek nie.

Genl. (dr.) H.S. “Stanley” Schutte was ook daar gesekondeer en hy het aan my beken dat dit ‘n traumatiese ervaring is om by die SSVR gesekondeer te wees. Onthou ons moes alles op die “army”-manier skryf en doen.

Mnr AP Stemmet was egter altyd vriendelik teenoor my en het my soos ‘n senioroffisier behandel en as kollega hanteer. Ons was op voornaam-terme. Hy was ‘n ware heer. Ek kon gou sien hierdie man het krygslis – net soos ‘n slim aanklaer wat die beskuldigde se jas gaan vasdraai. Hy het ook hierdie krygslis in sy werk toegepas. Vir my was hy ‘n fantastiese persoon en ‘n mens-mens.

Mnr Stemmet het altyd, vir alles, ‘n plan gehad! Hy is ‘n man wat vroeg opgestaan het! Ek wou meer weet van sy operasionele suksesse maar hy wou nooit oor sy werk of suksesse praat nie. Maar tog met monitor- en opvolgverslae het mens sy suksesse gesien. Ek dink aan sy “knyp”-operasies maar ek het nie eerstehandse kennis daarvan gehad nie.

Ek het lekker onder hom gewerk. Ook het hy my genooi om teenwoordig te wees per militêre vlug om ‘n stryd tussen die afdelingskommissaris en die plaaslike kommandement bevelvoerder by te woon. Dit was inderdaad ‘n interessante oefening. Die polisieman was ‘n “senior” brigadier (destyds ‘n adjunk-kommissaris in teenstelling met ‘n “junior” brigadier: assistent-kommissaris – vandag is daar net een klas brigadier). Die brigadier (later generaal) was ook ‘n slim man – iemand wat ook vroeg opgestaan het!

Na drie jaar is ek terug na die SAP en as veiligheidsman word ek by SAP-hoofkantoor geplaas by die Nodale Punt (van die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel) onder bevel van die inspekteur-generaal, agtereenvolgens generaals D.K. Genis, C.A. Swart en F.G. van Zyl, waar ek ook hul stafoffisier was.

1988: Republiek van China (Taiwan): Politieke Oorlogvoering (POLWAR)

Mnr AP Stemmet het stewige bande met die Republiek van China – vandag beter bekend as Taiwan – gesmee en alle Suid-Afrikaanse opleiding aan die Fu Hsing Kang-kollege gekoördineer – militêre sowel as siviele kursusse. Natuurlik is hy ook vereer met verskeie Taiwannese-medaljes en dekorasies. In die proses het hy ‘n enorme bydrae gelewer om ons amptenare internasionale blootstelling te gee – onthou ons was internasionaal totaal geïsoleer.

Eendag besluit genl. Genis ek moet oorgeplaas word na die uniformtak en ek moet uniform dra. Na ‘n ruk word ek deur mnr AP Stemmet en genl. F.G. van Zyl beveel om ‘n drie maande lange militêre-kursus in politieke oorlogvoering in Taiwan by te woon.

Mnr. Adriaan Vlok het my ontbied na hy my reis se onkostes en dies meer. goedgekeur het. Hy het my ekstra fondse gegee om vir sy eweknie in Taiwan en vir die kollege geskenke te gee. Hy het my versoek om die SAP-skakeling met Taiwan uit te bou. (Hierdie opdrag was nooit aan die kommissaris ter inligting deurgegee nie.) Dit was later ook ‘n baie interessante en aangename oefening.

Wat ‘n ervaring was dit nie! Ons het die ses tipes politieke oorlogvoering bestudeer. Die Chinese is hoofsaaklik almal Chinese en praat Mandaryn, so dis hoofsaaklik ‘n homogene gemeenskap.

Besoek aan Taiwan.

Ons het ook oor die Chinese-see gevlieg en die garnisoen-eiland, Kinmen of Kimoi, teen die Chinese vasteland besoek – dit was ‘n hoogtepunt om Rooi China en sy bedrywighede van naby te sien – ook om Rooi China self vanaf die grens te Lok Wu in Hong Kong te sien. (Ons het in Suid-Afrika baie Chinese kommunistiese lektuur, ook Mao s “Rooi Boekie” onder oë gehad. Hier kon ek hul in lewende lywe beskou.)

Hierdie was ‘n Chinese kursus vir “Engelssprekende” lande soos byvoorbeeld. Singapoer, Maleia, Thailand, Saoedi-Arabië (die polisieman het in 1988 reeds $600 per dag ontvang) en Suid-Afrika. (Ek moes te vrede wees met R7-50 “kamptoelae” per dag.) Daar was gelyklopend ‘n Spaanse militêre kursus vir manne uit Suid-Amerika.

Hierdie laaste twee weke was die beste en interessantste kursus wat ek ooit in my lewe ondergaan het. Die twee weke het praktiese, politieke, oorlogvoering behels. Daar was ‘n tafelblad met groen berge, bosse, riviere, stede, dorpe, paaie en treinspore. Ons het ‘n strategiese skets ontvang en toe moes ons bepaal hoeveel tyd, geld, veiligheidsmagte, masjinerie en krygstuig beskikbaar is. Elk een het ‘n rol gekry om te speel en die ander klasmaats het op ‘n “arena” gesit en kyk hoe ons inligting, operasies en kommunikasie hanteer. Soos die tyd aangestap het, het ons verskillende berigte ontvang en ons moes optree aan die hand van wat ons beskikbaar gehad het!!!

Geestelike ondersteuning en moreelbou

Die Russe en die Chinese het ‘n sogenaamde “politieke kommissar” gehad
● Die Taiwannese het ‘n “Polwar officer” gehad (motivering en welsyn)
● Ons Suid-Afrikaners het ‘n kapelaan gehad
Dit is die onsigbare onaantasbare dinge wat jou sterk maak – soos die wil om te veg, geloof, gebed, vertroue in God, krygslis en strategie. Jy moet ten minste geloof, die wil en ‘n plan hê om te oorwin. (Daar is volop voorbeelde in die Bybel, ek dink byvoorbeeld aan Bloedrivier.)

Politieke oorlogvoering in Suid-Afrika

Hier kyk Adamus Kinmen af na Rooi Chinese op die “Mainland” (Vasteland)

Kyk gerus na die ou kaart van Suider-Afrika: Ons het verskeie volke en tale in Suider-Afrika gehad. Dit is moeilik om Chinese toepassings op Suid-Afrika te maak. Voorbeelde van politieke oorlog was ondermeer wen die bevolking se harte en gedagtes, sielkundige operasies, inligting-oorlogvoering en massa-oorlogvoering.

Ek is steeds jammer dat die “ou” Buro vir Inligting en sy kundigheid vir ons verlore was.

Die SAKP-ANC-UDF-alliansie het egter met “mass rolling action” geweldige sukses behaal – ons destydse regering het nie ‘n teenmiddel gehad nie, behalwe kru repressiewe optredes (byvoorbeeld inperkings en aanhoudings) wat nie die gewenste kalmerende uitwerking gehad het nie. Die buiteland het glad nie hiervan gehou nie! Agter die skerms was mnr Stemmet altyd doenig om sy vinger in die dyk te druk! Die meerderheid van die mense – ook die meerderheid van die media en die mense van alle bevolkingsgroepe in die stede was ook nie aan “ons kant van die draad nie” – veral weens volgehoue negatiewe kritiek en kommentaar. Hulle het ook nie die drie-kamer-parlement gedagte gekoop nie. Die massas is aangevuur deur uiters bedrewe “terroristiese-verslaggewers” hier nasionaal, asook plaaslik. Ook gemeenskapskoerante die sogenaamde “knock & drop-koerante” het hul kant gebring om die massas te mobiliseer. Joernaliste, verslaggewers en TV-ankermanne in die buiteland gesetel het vandaar volgehoue druk op ons toegepas. Ongelukkig het ons optrede soms reg in hul hande gespeel.

My kritiek is: Ek is geleer daar is net drie maniere om iemand se kop te draai, naamlik om hom te lok, te oorreed of om dwang toe te pas. Moes ons nie meer gedink het nie?

Ek glo aan twee dinge:
(a) Don’t work harder, work smarter; en
(b) ken die verskil tussen: doen die regte ding en doen dinge reg!
Ons was in ‘n politieke oorlog en die oplossing is beslis nie die “skiet”-opsie nie – gegewe die tydsgewrig waarin ons geleef het en waarin die ganse wêreld hom begeef het – maar eerder om ‘n vreedsame oplossing vir ons knellende situasie te kry. Die land was feitlik bankrot. Ons was onderworpe aan sanksies. Nou, dis maklik om jou tot “skiet” te wend – maar wat maak jy om ‘n blywende oplossing te kry? Elke skoot wat ons skiet, of elke gasgranaat wat ons gooi vind neerslag in buitelandse koerante!

Mnr. Stemmet het ‘n deurslaggewende, maar koördinerende rol gespeel om die gety teen ons te draai. (Hy was dus nie ‘n uitvoerder van strategiese kommunikasie planne nie.) Persoonlik weet ek hy het ook ‘n groot positiewe invloed op mnr PW. Botha gehad. Hy was ‘n geniale operateur “na bo in die stelsel tot by PW.” – ongelukkig moes hy sy talente gebruik om te koördineer. eerder as ‘n uitvoerder. Juis hieroor het ek vir Sarie gevra om met mnr. Stemmet te gesels want ek is bang inligting gaan verlore.

Nadraai van Kursus

Na die kursus het ek ‘n kommissaris/minister-memorandum opgestel en voorgestel dat die SA Polisie “uit een mond” moet praat. Daar was hoofsaaklik drie punte wat persverklarings uitgereik het, naamlik. die minister se kantoor, direktoraat openbare betrekkinge en veiligheidshoofkantoor. Ons het nie altyd uit een mond gepraat nie of die regte boodskap uitgedra nie. Genl. Van der Merwe het my ontbied en hy het my voorstel goedgekeur en my gevra wie dink ek moet aan die hoof staan? Ek het sonder aarseling genl. H.D. Stadler voorgestel. Hy was ‘n deskundige en was van die veiligheidstak na “opleiding” by hoofkantoor verplaas. Genl. Stadler is toe aangestel om te sorg dat alles mooi netjies gekoördineer word.

Ek het ook talle onthale vir die Chinese gereël en gereeld van hul skemerkelkies bygewoon alles te danke aan my vriend, “AP”. Hy is een van die ankers in die vorige bestel se nasionale veiligheidsbestuurstelsel. Ek is bly ons kan sy rol hier by Nongqai vir die nageslag behoue laat bly! Sy invloed en eerlikheid, gerugsteun deur sy regservaring, was beduidend.

AP se DNS

Voor ons nou begin saam stap met hierdie man wat net eenvoudig nie ‘n einde het nie, laat ons ‘n vinnige kykie kry van wie Adamus Paulus Stemmet regtig is.
Ek het aan Adamus 18 vrae gestuur waarop hy baie eerlik moes antwoord. Kom ons noem dit AP se DNS. Hier is hoe hy homself kortliks beskryf. Hier kan ons so klein kykie in sy lewe kry.

  1. Advokaat
  2. Regs.
  3. Dag mens maar dit moet vroeg begin.
  4. Goeie koffie.
  5. Pap, vleis en groente, vrugte. AFVAL
  6. Vleiseter
  7. Gedekte tafel.
  8. Boeke oor aktuele sake. Verpes outobiografieë en biografieë
  9. Blou maar NIE Blou Bulle blou nie.
  10. Pakke terwyl ek gewerk het, nou ontspanne drag. Het altyd formele werk gehad wat pakke noodsaaklik gemaak het.
  11. Toyota of Mercedes.
  12. Plaaslewe.
  13. Klam biltong en droë wors
  14. Pap.
  15. Geen alkohol.
  16. Nee! Glad nie burgers en chips.
  17. Geen een, verkies eie chalet-tipe selfsorg.
  18. Jag, glad nie. Nog nooit ‘n bok geskiet nie. Vroeër ‘n bietjie probeer visvang.

Adamus, sy vrou Petro hul een dogter en hul soetste kleindogter

Lees gerus hierdie Spesiale Uitgawe van Nongqai oor hierdie man wat net eenvoudig nie einde het nie en oordeel self.
Ek sê baie dankie Adamus dat jy besluit het om juis teenoor my so lekker te gesels oor jou lang loopbaan!!
Kom stap nou saam met my deur die lewe van hierdie merkwaardige man, wat vandag nog net so bedrywig is soos die jong mannetjie wat direk na matriek moes gaan werk het.
Wie en wat ek agter die masker gevind het, was veel meer as wat ek ooit kon dink. Ons het sowat twaalf ure se onderhoude per WhatsApp-oproepe oor meer as drie maande gevoer, en elke keer wat ons gesels het, het ek iets nuuts oor AP uitgevind. Die stroom e-posse en foto’s wat feitlik daagliks in my e-pos beland het, het my nog meer omtrent hierdie merkwaardige man laat ontdek. Merkwaardig en boonop formidabel is hy gewis. ‘n Bittereinder as daar nou ooit ‘n Bittereinder was.

Op 87 het hy nog nie daaraan gedink om terug te sit en net te ontspan nie. Daardie begrip verskyn net eenvoudig nie in sy woordeboek nie.
Hy vertel met groot erns: “Ek was ‘n slegte staatsamptenaar want ek het ‘red tape’ gehaat!” Regulasies moes nagekom word maar as die goed nie meer sin maak nie moet dit gewysig word.
AP skroom nie om reguit te sê waar die staat verbrou, of belastingbetalers se geld vermors, of wat ook al die geval mag wees nie. Hy skroom nie om behoorlik mond uit te spoel as hy dink daar word nou “met belastingbetalers se koppe gesmokkel” nie.
Vir hierdie pa en oupa is dit steeds ‘n uitdaging en Godgegewe plig om te veg vir sy vaderland. Sy voorgeslagte is nou wel van Nederland, maar Suid-Afrika is sy geboorte land en hy sal enigiets doen om dinge weer normaal te laat verloop in die land.

Wie is Adamus Paulus Stemmet?

Adamus Paulus Stemmet is op 26 Februarie 1937 op Vredendal in die Wes-Kaap gebore. Die gesin het, toe hy ses jaar oud was, na Montagu verhuis, waar hy grootgeword het. Hy het in 1954 aan die Hoërskool Montagu, aan die voet van die Montagu-berge gematrikuleer as Hoofseun.

Foto van die ou plaashuis, Keisie, Montagu . Dit is al foto wat ek kon kry van die ou huis wat toe ek my verstand gekry het al in Stemmet hande was. Ek het al vir meer as 80 jaar ‘n kamer daar

Doen diensplig in 1956 en in die burgermag (later deeltydse mag ). Is opgelei as instrukteur in lugafweer en doen daarna op ‘n deeltydse basis vir meer as vyftig jaar diens in die Pantserkorps in die Regiment Oranjerivier. Doen aktiewe diens in Angola en op die Namibiese grens met Angola. Gekwalifiseer tot die rang van Majoor en doen Gesamentlike Stafkursus (GSK.) Ontvang twee dekorasies en vier medaljes. Word drie keer eervol vermeld. Tree in 2010 finaal af as Ere-Kolonel van die Regiment Oranjerivier.

Hy wou bitter graag gaan studeer om ‘n advokaat te word. Maar met twee jonger susters in die huis wat ook graag wou studeer kon sy ouers nie bekostig om hom ook universiteit toe te stuur nie, want dan sou hulle in ‘n stadium drie kinders gelyktydig op universiteit moes onderhou, en daarvoor was daar net eenvoudig nie geld gewees nie. Hy besluit hoewel hy seker nooit ‘n advokaat sou word nie, sou niks hom keer om in die regte te gaan werk nie. Hy het toe wel in die regte later deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) gestudeer.
Hy het sy loopbaan begin as Klerk van die Hof op Montagu waar hy net drie maande gewerk het voordat hy na Port Nolloth verplaas is. Soos dit maar daardie jare in die staatsdiens gebeur het moes hy hom ook daarmee vereenselwig om so baie verplaas te word.
Dit was toe ook nie eers snaaks toe hy net ‘n jaar later weer sy goed moes vat en trek nie. Die keer is hy na Springbok verplaas. Hier het die jong Adamus behoorlik sy voete en sy roeping gevind. Hy het, in sy eie woorde, vreeslik lekker gewerk. Is onmiddellik in die gemeenskap opgeneem en aanvaar en met sy loopbaan het dit ook baie goed gegaan. Hier het ek my gate uit geniet! Sy moeder was na alles a gebore Namakwalander. Hier tussen die Namakwalanders, die opregte Afrikaans wat hulle nog daar gepraat het. Nog so eg met hier en daar iets in Namas.”
Hy was skaars 21 jaar oud, toe is hy verplaas na George waar hy van die Landdroskantoor se Inkomste – Afdeling die Hoof was voordat hy ongeveer 1960 Pretoria toe is vir twee maande se opleiding by Justisie Akademie. Vandaar is hy as aanklaer na Lydenburg verplaas. Hier het sy loopbaan as aanklaer en later landdros dan ook vlam gevat. Na net een jaar by Lydenburg word hy verplaas na Justisie se aflospersoneel wat reg oor die land gewerk het.
“In die tyd toe ek op die aflospersoneel was, het ek op baie plekke gewerk in alle Provinsies. Ek het veral in die destydse Natal (vandag KwaZulu-Natal) gewerk, daar het ek leer Engels praat. Plekke in die Vrystaat, Pretoria, Johannesburg, Kaap, ag sommer regoor die land”.
In 1963 moes hy in die Transkei gaan aflos, maar dit is gekanselleer en hy is Johannesburg toe waar hy sy vrou Petro ontmoet het.
Terwyl hy op die aflospersoneel was, onthou hy dat hy ‘n Morris Minor motortjie gery het. Voor dit het hy heerlik trein gery. Hoewel hy in sy werkopset nie kronkelpaaie neem nie (behalwe wanneer dit kom by sy liefde vir die behoud van ou geboue), het hy terwyl hy in die uitgestrekte land gewoon en gewerk het, al die agterpaaie gebruik. “Ek het nooit die hoofpaaie gery nie, dan kan mens nie die mooi van die land waardeer nie. Ek het al die agterpaaie uitgekies. Dit het my ook van punt A na punt B geneem en ek het baie meer van die wonderskoon van die natuur gesien as om net met die hoofpaaie te ry. Dit het my natuurlik baie langer geneem om my bestemming te bereik, maar so kon ek die wondernatuur van hierdie ongelooflik land besigtig.”

Saam met ou vriend, ‘n streekhofpresident (afgetree) Koos Pietersen. In ons jeug was ons saam staatsaanklaers in Johannesburg. Hy was ‘n gas op ons troue op 5 Desember 1964. Ons jonges het baie by hom geleer as mentor. Regs staan my vrou, Petro

Ek het twee keer in Johannesburg as Staatsaanklaer gedien, die beste leerskool vir Staatsaanklaers. Hier het jy geleer om vinnig op jou voete te dink en jou man te staan teen die beste Advokate en Prokureurs.

Hy het sy vrou, die destydse Petro Olivier, ontmoet toe hy by die landdroskantoor in Johannesburg die tweede keer gewerk het, “Petro het die hof se dokumente getik en was pragtig maar vreeslik skaam. Die dag toe die bom in die Johannesburgse stasie ontplof het, het sy dit net met vyf minute misgeloop. Sy het die betrokke dag met die bus stasie toe gery. Hulle bus was net vyf minute weg van die stasie af toe die bom ontplof het, so die bus het eintlik haar lewe gered”.

Hy vertel tussendeur dat die beste opleiding wat hy in justisie gekry het, was toe Rudi Rein die Prokureur-Generaal was. “Hy het ons op ons tone gehou. Hy vertel laggend hoe lede van die ANC – toe nog ‘n verbode organisasie was – wat deur hom aangekla is na die 1994-verkiesing in die parlement gaan sit het. Daar loop ek toe een van my “ slagoffers “ Andrew Mhlangeni raak. Toe lag ons lekker oor hoe ons mekaar probeer uitoorlê het, George Bizos het ook onder andere teen my verskyn en hy was versigtig vir my”.

Hy word gedurende 1964 na Justisie Hoofkantoor verplaas as Wetsopsteller. Dien ook as Sekretaris van die Regs Hersieningskomitee onder Voorsitterskap van die Hoofregter L.C. Steyn. Ook Sekretaris van die Komitee vir die Beskikbaarstelling van Gemeenregtelike Kenbronne. Dit wil sê vertalings van ou regsbronne uit Latyn na Afrikaans en Engels.

Hoe lekker eet die twee manne. Dit was jare gelede toe ek en James Galvin nog jonk was. Skaapkop boetie! Kyk net die toe oë. Toe smile die ding met sy wit tande ook nog vir ons. Heerlik. Tyd dat James weer een vir ons kry


Einde van Deel 1

image_pdfDOWNLOAD PDF