153.Montagu Sendingkerk

image_pdfDOWNLOAD PDF

NEDERDUITSE GEREFORMEERDE SENDINGGEMEENTE MONTAGU

Hierdie verhaal is ‘n versameling dokumente wat poog om ‘n beeld te gee van die geskiedenis van die NGK Sendingkerk in Langstraat, Montagu. Die kern van die verhaal kom uit ‘n kerkgedenkbrosjure geskryf deur Ds. J.W. Carstens (Die brosjure is in die Montagu Museum-argief gevind) .

1891 – 1970
(Gedenkbrosjure)

Hierdie gedenkbrosjure word deur die N.G. Sendinggemeente, Montagu opgedra aan die N.G. Moedergemeente, Montagu vir onbaatsugtige bydraes gelewer deur al die jare

Die Oue
Hoeksteen gelê op 15 Junie 1907

Voorwoord

Die opdrag is aan ons deur die Sendingkerkraad gegee om met die inwyding van die nuwe kerk ’n gedenkbrosjure daar te stel. Met die feite tot ons beskikking, verskaf ons u hiermee die brosjure wat eintlik as aandenking sal dien. Dit was onmoontlik om aan alles en almal reg te laat geskied. Daarvoor is die drukkoste baie hoog en die ruimte geweldig beperk. Ons het egter ons beste probeer en indien daar foute begaan mag wees, wil ons nederig die verantwoordelikheid daarvoor dra. Ons verskaf u dan hiermee die gedenkbrosjure wat kortliks die geskiedenis van die gemeente dek vanaf 1891 — 1970.

Mag u dit wat hierin aangebied word, geniet.

Samesteller: J. W. Carstens, V.D.M.

“Gedenk Julle Voorgangers”

By geleentheid van ‘n heuglike gebeurtenis soos hierdie, word die hele gemeente opgeroep om vir ’n oomblik terug te dink. Die jare 1891 —-1970 bied 79 jaar van oorpeinsing en bepeinsing. Wat ’n besondere lang tydperk in die geskiedenis van ’n gemeente!

Innig dankbaar staan ons voor die Here Wie Sy gemeente met Sy ewige Liefde so wonderlik gedra het. Waarlik, God is goed! Die hemelse Boumeester het deur die jare gesorg vir diensknegte en diensmaagde wat stewige fondamente sou lê. Die wordingsjare was moeilike jare. God het Genade geskenk aan hulle wat die besondere tydperk moes deurworstel. Die takkie wat in die beginstadium deur waardige Godsmanne vertroetel is, het in die Hande van God, ’n magtige boom geword. In stille eerbied lê ons ’n kransie van liefde en waardering op die grafte van die Broeders en Susters wat eens hulle kragte ingegooi het vir hierdie gemeente. Hoe kan ons die Here genoeg dankbaar wees vir geestelike leiers wie se heerlike nagedagtenis onuitwisbaar is. Hulle wie voor ons in hierdie gemeente was, het diep spore getrap. In die geloof gaan ons met vrymoedigheid voort op daardie spore.

Gedurende genoemde aantal jare het Pastoriepare gekom en gegaan. Die verskeidenheid van gawes en talente deur God aan eenvoudige mense toevertrou, is deur Hom saamgeflans om ’n reuse geestelike muur te help verrys. Daar was nie net Leraars en Juffroue nie. Daar was ook juwele van Ouderlinge en Diakens. Hoe graag sou ons hulle almal wou ontmoet en ken; hoe graag sou ons elkeen se naam wou noem? Ons mag nie en kan nie, want dan staan ons gevaar om per abuis ’n broeder te veronreg. Die Here weet wie daardie broeders kerkraadslede was en is, wie deur die jare meegehelp het om hierdie gemeente te bring waar sy is. Vele het reeds saam met hulle eggenotes ontslaap. Baie van die ou garde is nog saam met ons. Dit is dierbaar om hulle te ken. Dank God vir die broeders wie die afgelope jare so mooi saamgetrek het. Hulle het in nederigheid die Here gedien. Daar was nie net Leraars en Kerkraadslede nie. God sorg altyd dat daar in elke gemeente dierbare, toegewyde kinders van die Here is. Elke geslag het sy sterk geestelike karakters gelewer. Ons dank die Here vir daardie toegewyde broeders en susters wie so ’n pragtige voorbeeld gestel het dat hul nageslagte vandag nog in hul voetspore volg.

Tot U, die getroues, kom die wekroep: “Voorwaarts, krygsgesante”. En die jeug? Die jongman en jongdogter? Ons gemeentekindertjies? Is hulle dan vergeet? Nee, glad nie. Onder hulle was en is daar nog baie wie helderskynende liggies is vir Jesus Christus. Dit is dan ook die klein liggies wat baie bygedra het tot die inbring van siele na die Weg, die Waarheid en die Lewe.

So loof ons as gemeente die Here God, vir alles en almal wat deur die jare gehelp en gearbei het in Sy wingerd hier plaaslik. Hulle, ons voorgangers, was waardige voorgangers. Daarop wil ons voortbou in die Naam van die groot Boumeester.

Die Hart en Hand van die Moeder

Waar die dogter vandag is, het die Moeder haar gebring. Die jongeling is aan die hand geneem, bygestaan, op die been gebring en kan met die belewing van hierdie feestelike naweek, reeds sterk staan. Die vreugde van die Sendinggemeente kan onmoontlik losgemaak word van die Moeder. Ook die Moedergemeente deel in ons vreugde. Die warm gloed van ’n hart wat deur die jare gebid het, geniet die vrugte van die gebede. Die hand van ’n moeder, wie nooit haar houvas op die dogterhand verloor het nie, is nog daar. Woorde ontbreek en ruimte is geweldig beperk om die volle verhaal te vertel van die Moeder (Moedergemeente Montagu) se liefde vir haar dogter; die Sendinggemeente Montagu. Die geskiedenis en bestaan van die Sendinggemeente is deurvleg met die intense en liefdevolle belangstelling van dierbare kinders van die Here, ja, Sendingvriende vanuit die Moedergemeente. Die huisaltaar, bidure en die kansel in die Moederkerk kan vertel hoe daar op “Moedersknie” gegaan is voor die Almagtige God om in te tree vir die dogter. So, kon die kind almeer tot volwassenheid groei, gedra deur die getroue en volhardende voorbidding van ’n opregte Moeder. Dis nie net harte wat liefgehad en gebid het wat stukrag verleen het nie. Waar is al daardie gewillige, dienende hande wat deur die jare vir die Sendingsaak hier plaaslik so hard gewerk het! Ander het hulle sien werk. Die afgelope nege jaar was dit die skrywer hiervan se persoonlike voorreg om te beleef hoe daar deur blanke lidmate vir die Sendinggemeente gewerk is.

Ons loof die Here vir almal in die Moedergemeente wat die Sendingsaak met soveel opregtheid gedien het en nog dien. Vanaf die begin was hier Predikante en Moederkerkrade wat deur belangstelling, die uitbreiding en bestendiging van die Sendinggemeente help bevorder het.  Wanneer nodig, was Leraars en Kommissies vanuit die Moederkerkraad altyd   bereid om die Sendingkerkraad te woord te staan. Afgesien van geestelike bystand kan die geweldige finansiële steun wat die Moeder aan die Sendinggemeente verleen het en nog verleen, nie genoeg beklemtoon word nie.

Deur al die jare heen het finansies vanaf die kant van die Moedergemeente dit vir die Sendinggemeente moontlik gemaak om ’n Leraar te beroep. Die afgelope nege jaar het daar die reuse bedrag van R63,800.00 deur die gemeente se finansiele boeke gegaan wat uit en uit van die Moedergemeente kom. Dit sluit in twee-derdes bydrae vir die twee Leraars se salarisse, bydraes op basaarlyste en donasies vir die Kerkboufonds. Geweldig dus, die finansiële steun vanaf 1891 deur die moedergemeente Montagu. Daar is met oop en gewillige harte gegee en gewerk; ook die baie gebede was en is nog altyd daar.

Die spontane wyse waarop die Sendingsaak deur lidmate van die moederkerk gedra word, is voorwaar prysenswaardig. In die uur van haar onbeskryflike vreugde, reik die dogter die hart en die hand en sê: “Baie baie dankie, Moeder”.


IETS OMTRENT ONS KERKE OP MONTAGU

Uittreksel uit die boek: “Herinneringe uit die Verlede’’
deur Dirkie Joubert (Mevr. H.M. Evans)

Later jare het Montagu se dorp uitgebrei en is daar ‘n kerk gebou en ‘n predikant beroep Dr. Servaas Hofmeyr was ons eerste predikant. Die huis van oom Daantjie van der Merwe, wat ook al dood was, is aangekoop vir ‘n pastorie.

Omdat daar vir die bruinmense nog nie ‘n kerk kon gebou word nie, is die agterste banke in die een vlerk van ons kerk vir hulle afgestaan. Daar het hulle saam met die wit mense aanbid, is in diesellfde kerk getroud en het saam met ons laat kind doop en later weer hulle kinders laat aanneem en saam aan die nagmaalstafel gesit, gewoonlik aan die laaste tafel. Dit was die gebruik in meeste van die Bolandse kerke solank daar nog nie ‘n kerk vir bruinmense kon gebou word nie. Selfs nadat daar ʼn kerk vir hulle op ons dorp gebou is, het die oues geweier om ons kerk te verlaat waarin hulle gedoop en aangeneem is en moes toe maar daarin bly totdat hulle uitgesterf was. Nuwe lidmate is nie verder in ons kerk aangeneem nie.

Later toe daar ‘n sendingkerk vir hulle gebou is, is daar ‘n sendeling beroep met die naarn van Eerwaarde Geyer en sy vrou. Die bruinmense het hulle “Ou Meneer” en “Ou Juffvrou” genoem – die “Geyer” is heeltemal weggelaat, en ons witkinders wat heeldag ons bediendes van Ou Meneer en Ou Juffer hoor praat het, het later ook maar almal vir hulle so genoem.

In ons kerk was daar Sondae twee dienste gehou, een voormiddag en een agtermiddag en na dit Sondagskool. In die aand was daar nie diens gehou nie, maar wel biduur. Jong mense verbeel hulle soms dat bidure net vir ou mense is, en dus nie daarin belang gestel nie. Hulle het dan meestal Ou Meneer se kerk gekies. In die een vleuel aan die eenkant van die paadjie was al die banke weer vir die witmense afgestaan. Op die voorste bank sit Ou Meneer se vier groot dogters en twee seuns. Hulle het die koor uitgemaak. Daar was geen orrel nie maar hulle pragtige stemme het die gemeente goed gelei. Die oudste seun, Frikkie, veral het n pragtige basstem gehad. Die bruinmense is ook beroemd vir hulle mooi stemme.

Ons witmense het al daardie Lutherse gesange geken, want ons het gereeld elke Sondagaand die dienste bygewoon, en het net so hard saam met hulle gesing.

Oujaarsaand het ou Meneer in ons sy kerk middernagdiens gehou van elf- tot twaalfuur. In ons kerk was ook nie middernagdiens gehou nie. Al die witmense het dan gewoonlik na Ou Meneer se kerk gestroom. Dan was die een hele vleuel stampvol met witmense. Die bruinmense was party uitgestoot en moes maar vir hulle staanpiekke soek as daar nie genoeg sitplekke was nie.

Ou Meneer het gewoonlik sy preek so gereël dat dit vir vyf minute voor twaaif afgehandel was, en dan het hy gesê: “Nog vyf minute en dan is die Ou Jaar verdwene. Ons sal die laaste vyf minute deurbring in stil gebed op ons knieë”. Elkeen bid stil by homself en daar is so ‘n doodse stilte dat mens byna ‘n speld kon hoor val.

Helder en plegtig klink sy stem dan: “Nog vier minute en de Oude Jaar is verdwene”. Dan weer: “Nog drie minute en de Oude Jaar is verdwene”. Later “Nog twee minute,” dan “Nog een minuut”, en eindelik “Oude Jaar is nou verdwene en ons het nou ‘n nuwe jaar ingetree.” Dan val daardie bruin lidmate in en sing uit voile bors en ons ook almal saam;

“Oude Jaar is nou verdwenen,

En vergaan die skone tijd.

En so gaan de jaren henen,

Eindigt in een Eeuwigheid.

Velen zijn gegaan verloren,

Eeuwiglijk vervreemd van God.

Beter was het nooit geboren,

Dan zoo een rampzalig lot.”

As huile die tweede versie begin, staan almal op van hulle knieë en begin onder die sing die kerk uitstap. Bo almal se stemme uit klink die pragtige stem van Frikkie Geyer soos ʼn skuiftamboer. Hy is al lankal dood maar ek kan nou nog in my verbeeiding sy stem duidelik hoor. Almal sing saam, almal in ons diepe indrukke, almal in treurige gemoedstemming. Ou Meneer het vanaand baie ernstig gepreek. Onwillekeurig kom die vraag by elkeen op: “Die Nuwe Jaar wat ons nou ingetree het, wat gaan dit vir ons oplewer?” Hoeveel van die stemme wat nou hier saamsing sal by die end van hierdie nuwe jaar as daar weer Nagwaakdiens gehou word, stil wees? – in die graf? Met daardie onbeantwoorde vrae in ons gedagte en weemoed in ons harte stap ons die kerk uit en die strate in. Al die Oujaar- en Nuwejaarsliedere word herhaaldelik gesing, al die strate deurkruis van een end van die dorp tot die ander.


HISTORIESE OORSIG VAN DIE SENDINGGEMEENTE MONTAGU
vanaf 30 April 1891 tot 31 Mei 1970

Met die inwyding van die nuwe Sendingkerk hierdie naweek is dit vir die skrywer van hierdie artikel, ’n voorreg om met die feite tot sy beskikking, ʼn kort historiese oorsig ter hand te stel. Alle gegewens wat verstrek word is geneem uit die notuleboeke van die Sendinggemeente en ons het probeer om dit so korrek moontlik op te stel.

Dit is nie absoluut duidelik wat die presiese aanvangsdatum van die gemeente is nie. Gedurende 1884 is die eerste kindertjies gedoop. Dit word nie gemeld waar hulle gedoop is nie. Vanaf 1884 tot 1890 is daar ook geen notules tot ons beskikking nie. Hierna volg ’n interessante gebeurtenis. Op 30 April 1891 is ‘n gemeentevergadering by eengeroep deur Ds. D. F. Malan en Eerw. P. W. J. van Zyl. By dieselfde geleentheid is die broeders Christoffel Abrams, Jan de Villiers en Abraham Robyn tot ouderlinge gekies en die broeders Jan Filies, Nicolaas Windvogel, Apollis Louw, Wessel Viljoen en September Mazibba as diakens. Genoemde broeders sou dus die eerste Sendingkerkraad van Montagu wees en Eerw. P. W. J. van Zyl die eerste sendeling.

Die eerste voorstelling het plaasgevind op 19 Junie 1891 en die eerste Nagmaal is op 21 Junie 1891 bedien. Die eerste Kerkraadsvergadering word gehou op 22 Junie 1891, Subskripsielyste is uitgegee om vir Leraarsfonds (salaris) te kollekteer. Sitplekke is verhuur in die kerk. Vir ’n familiekerkbank moes een sjieling en ses pennies betaal word. ‘n Enkele sitplek het drie pennies gekos. Asof dit nog baie sou gebeur, waarsku die leraar “den kerkeraad om niet uit de vergadering te gaan spreken”.

Op ’n buitengewone kerkraadsvergadering gehou op 8 Februarie 1892 is ‘n brief gerig aan die Weleerw. Heer D.S. Botha, Sekretaris van die Binnelandse Sendingkommissie. Die inhoud van die brief het gegaan oor die gebou en grond van die “Gesticht”.(Ongelukkig word hierdie gebou nie vir ons omskryf nie). Die Binnelandse Sendingkommissie was ook bereid om jaarliks £48 by te dra tot Julie 1896.

Hartseer is dit wanneer die notule van 9 April 1892 vertel: daar word “veel gesproken over de dronkenschap”. Van betekenis was dit toe ouderling Jan de Villiers, die Leraar, Eerw. P. W. J. van Zyl vergesel het na die Zending Synode te Kimberley. Die diakens is aangespreek om meer pligsgetrou te wees met “de penningboekjes” (die latere bydragstelsel). Almal moes een pennie per week vir die Leraarsfonds betaal. Diegene wat dit nie nagekom het nie sou nie deur die Leraar begrawe word of huisbesoek ontvang nie. Dit is nie net die penningboekies wat opslae maak nie. “Een discussie word gevoerd over het gebruik van de harmonie (orrel)”; so ook word die stigting van die beweging; “GoedeTempellieren” goedgekeur op ʼn kerkraadsvergadering van 3 Julie 1893.

Onderhandelinge word aangeknoop met broeder Marman en mnr. Charlie Ravenscroft vir die verkryging van ’n skool. Op ’n gemeentevergadering, gehou op 21 September 1893 spreek gemeentelede hul ontevredenheid uit dat die Moederkerkraad die erwe wat aan Sendinggemeentelede verhuur word, se huur verhoog van 12 sjielings tot 20 sjielings. Hulle beskryf die erwe as “kale dorre erfjes waarop niet eens voor een hoender water heeft”. Hulle probeer “om een ander stuk grond by het Governement te krygen alwaar zy tuinjes kunen maken”. Uiteindelik word huurders toegelaat om self te bou, maar “het moet niet hardbeest huisjes wezen”.

Die eerste basaar word op 24 Maart 1894 gehou, alhoewel “het persen” (parstyd) so laat was. Die Leraar waarsku ook dat daar “alte dikwels over onnoodige dingjes getwist worden”. Die kerkraadsvergadering van 8 Oktober 1894 verneem “de klagte die buiten gehoord wordt dat de kerkeraadsleden nooit de leden bezoeken”; de Leeraar zegt dat £100 zeer min is om behoorlyk zyn huis met eene zieke vrouw en kinderen te verzorgen. Intussen “werd het Zendinghuis aan de weduwee Keet verhuurd”.

Op 4 Februarie 1895 ontvang Eerw. P. W. J. van Zyl sy ontslag en op 8 Mei 1895 word Eerw. J. P. Rossouw verwelkom en ontvang as nuwe leraar.

In die jaar 1895 vind wyksverdeling vir die eerste maal plaas, nl. Kruis tot Lest Rivier, Concordia, Derdeheuwel tot Warmwater, Geelboschlaagte tot Zandrivier, Barrystraat tot door de Kloof, Kruis tot Harmonie, Bad tot Achter Keisie, Kerkstraat tot Tys du Toitstraat, Boom Blok, Jouberts Roost, Barrystraat tot Kerkstraat tot Boer Rivier.

Op ’n spesiale vergadering gehou op 29 Desember 1895 word die Zendinghuis aan ene mnr. Brink verhuur. Eerw. Rossouw ontvang sy demissie na ‘n kort verblyf en die beroepe wat op Eerw. Da Costa de Villiers en Eerw. J. Vlok uitgebring was, was vrugteloos. Eerw. J. Vlok is egter vir ’n tweede keer beroep en op 29 Junie 1896 is hy in die gemeente ontvang. Saam met hierdie Leraar gaan die broeder S. Abrahams na die Sendingsinode te Wellington op 9 September 1896.

Hier dien ook gemeld te word dat die gemeente Montagu in die jaar 1897 ressorteer het onder die Ring van Wynberg. Op 4 April 1898 “wordt het aan den Voorzitter opgedragen om aanzoek te doen om een behoorlyke locatie voor de Zendinggemeente; het wordt aan den Leraar opgedragen onderzoek te doen omtrent den grond over Kigna”.

De koster moet gewaarschuwd worden tegen de zonde van dronkenschap; hyzelf verzoekt onder een “pledge” (straf) te komen”. Planne is ook beraam „een afschaffings genootschap op te richten” (die toekomstige I.O.T.T.).

Op ’n vergadering gehou op 9 Oktober 1899 word besluit dat lidmate drie sjielings vir ’n plekkie in die begraafplaas sal betaal; die kerkraad besluit om geen “familiebegraafplaatsen uit te geven”. Eerw. Vlok vra so mooi: “de Kerkeraad moet hartelyker samen werken”.

Gedurende 1903 is die saak van die onderwys herhaaldelik druk bespreek op kerkraadsvergaderings. ’n Sekere Dr. Muir was in hierdie opsig baie behulpsaam. Die Skoolhoof sou £70 p.j. ontvang en die assistente £30 per jaar. ’n Dankdag word op 25 Januarie 1904 aangevra “omdat de kerk’ schuld dit jaar afbetaald zal worden”. Op die kerkraadsvergadering van 1 Mei 1905 word twee gewigtige besluite geneem, nl. “een school in de Koo te stichten en ook word daar besloten een nieuwe kerk te bouwen ; zodra de fondsen zulks toelaten”. Met die salaris van £130 per jaar wat die broeder Sendeling in 1906 ontvang, word die Leraar verplig om daarmee sy eie perde en kar daarmee aan te skaf; de Kerkeraad zal zorgen voor paardevoer.

Eerw. J. Vlok ontvang demissie op 25 Junie 1906 en Eerw. D. C. Odendaal van Oudtshoorn word in sy plek beroep. “Het word besloten om alle kerkgelden in de A.B.C. Bank te deponeeren”. Gedurende dieselfde jaar word besluit “Dat er zoo spoedig mogelyk een school gebouwd worden van 50 vt. lang en 30 vt. breed”. Op ’n kerkraadsvergadering van 29 April 1907 „werd de plan hoe om de nieuwe kerk te bouwen voor de kerkeraad gebracht”; 60 x 30 vt.; “2 stenen breed en 15 onder de balk”; konsistorie 12 x 12 vt. Die 15de Junie 1907 het vreugde vir die gemeente gebring toe die hoeksteen van die nuwe Sendingkerk in Langstraat, gelê is. Dit is vir ons ’n voorreg om die volle inhoud van daardie heuglike gebeurtenis aan leser hiervan te gee:

“Op heden den 15den Junie 1907 wordt alhier gelegd door den Weleerwaarde Heer W. A. Alheit, lid der Binnenlandsche Zending Commissie der Ned. Geref. Kerk de hoeksteen van de Nederduitsche Gereformeerde Zending Kerk. Aangesien het oude kerkgebouw te klein en ondoelmatig voor de steeds groeiende gemeente geworden is, werd er door de Kerkeraad en Gemeente besloten een nieuwe kerk te bouwen. Deze Gemeente werd gesticht op 30 April 1891. Tot leden van de Bouwcommissie Zyn benoemd geworden: De Leeraar en de Broeders Jonas Swanepoel, Willem Japhets, Jan Filander, Marthinus Cupido, Jan de Villiers en Willem Michiel. De Bouemeesters en Contracteurs zyn de heeren Charles Roberts en Christiaan Nothling van deze plaats.

De tegenwoordige Leeraar is de Eerw. Daniel C. Odendaal en de ouderlingen: Johannes Nicolaas Fortuin, Hendrik Petrus Schippers, Willem H. Michiel, Johannes Januari en Abraham Petrus Robain. De diakenen zyn Michiel Janse, Jan Filander, Jan Kooker, M. Cupido, Damon Jas, Pieter Ezau, M. Villiers, J. de Villiers en David Davids.

De Leeraar van de Nederduitsche Gereformeerde Kerk is Ds. D. F. Malan, M.A.; D.D. en de ouderlingen: de broeders J. G. Euvrard, D. J. Burger, D. C. Steyn, J. D. Kriel, F. J. van Zyl, F. Hugo en G. F. Malherbe. De diakenen zyn: P. van Zyl, J. H. Joubert, J. S. Cloete, A. J. Jordaan, D. S. du Toit, F. A. de Villiers, C. J. Joubert, Johannes Conradie en H. B. le Roux.

De tegenwoordige magistraat is de Weledele Heer C. M. Stevens. De Burgemeester de Weledele Heer G. J. Barry en de ander leden der Stadsraad: de Heeren Hermanus le Roux, Daniel J. G. Joubert, Pieter J. Joubert, Gideon J. Rossouw en W. J. van Zyl.

Wy nemen deze gelegenheid waar om onze hartelyke dank uit te spreken voor de grote hulp deze gemeente vant begin af aan gegeven door de Moedergemeente, hare Leeraars, voorgangers, en andere zending vrienden. Wy willen steeds op hare hulp en liefde blyven rekenen.

Dit gebouw dat wy den Drieënigen God gaan wyden worde een plaats waar vele zielen voor zyn Kerk worden gewonnen. Gods zegen ruste op ons ook int bouwen.

Dieselfde Dr. D. F. Malan wat die Sendinggemeente in haar wordingsjare sou bystaan, sou later die Eerste Minister word van die Unie van Suid-Afrika.

Die onderwys het steeds ernstige aandag geniet en ‘n sekere Miss Rattray het ’n groot bydrae gelewer. Op die vergadering van die 9de September 1907 word die datum vir die inwyding van die nuwe kerk bepaal vir 24 November 1907. Die Leraars teenwoordig by hierdie geskiedkundige geleentheid was Dr. D. F. Malan, Ds. C. Murray, Ds. Rossouw van George, Eerw. P. W. J. van Zyl en D. C. Odendaal. Die afskeidsrede by die geboutjie wat as kerk gedien het, is gelewer deur Dr. D. F. Malan; die wydingsrede in die nuwe kerk is gelewer deur Ds. Rossouw (George) na aanleiding van Openbaring 14 vers 6.

Gebeure volg vinnig na mekaar en Mnr. J. Stemmet en “Miss” Lottie Stemmet word benoem om vakatures te vul, rakende die onderwys. ’n Blye dag was dit vir die Koo toe die eerste Sendingbasaar op 28 Maart 1908 in die “Wit Koo” gehou is. Mnr. J. Stemmet word spoedig opgevolg deur mnr. F. van Rensburg as hoofonderwyser. Hierdie mnr. Van Rensburg kom van ’n plekkie met die interessante naam van Rob Roy. (Ongelukkig kan skrywer u nie meedeel waar hierdie plek geleë is nie). Met die aanbreek van 1909 word ook “besloten om een Zang Koor aan te stellen”.

Op 5 Julie 1909 word die eerste Ringsitting te Montagu self gehou. Gedurende 1910 bou Eerw. D. C. Odendaal die “Lokatie-kerk-Bethelgebou” vir die bedrag van £30. (Hierdie Betel-gebou moes plek maak vir die nuwe kerk van 1970).

’n Voorstel “van de Leraar om de Adriaanse kerk van Jacobus Daniel Kriel van Derdeheuwel te kopen voor die som van £400- sterling, werd juichend door de kerkeraad aangenomen”.

Die Leraar, Eerw D. C. Odendaal, het die hele bedrag aan die Sendingkerkraad geleen. Wanneer Eerw. Odendaal vakansie neem, kom Eerw. Kropholler waarneem in sy plek. Vir die nuwe kerk word heelwat skenkings gedoen. Die, Heer Pieter Wouter Cloete heeft aan die N.G. Zendingkerk een Voorlezers-knaap gegeven. Mev. Wed. J. Knipe heeft aan die kerk een groot Bybel voor die kansel gegeven”. Mev. S. Jordaan, Kruis, het ses lampe gegee en “Miss” M. Daneel het die pragtige teks voor die kansel gegee.

Op die vergadering van 8 Julie 1912 word geskiedenis gemaak, want die Rapport van de Schoolinspektie kwam voor de vergadering”; ook word die slegte invloed van die Ethiopiërs bespreek. Duidelik staan geskrywe “de petitie van drank beperking werd voor de kerkeraad gebracht op die vergadering van 9 Desember 1912”. Mej. J. van Bloemenstein word aangestel in die plek van Mej. A. Geyer om te help met die onderwys. ’n Versoek word tot die kerkraad gerig om ’n skool te Goedemoed te begin. Eerw. D. C. Odendaal wat die wordingsjare van die gemeente deurworstel het, ontvang sy demissie op 4 Augustus 1913.

Op 8 November 1913 word Eerw. M. J. Bosman verwelkom. Tydens die bywoning van sy eerste kerkraadsvergadering word dit spesiaal vermeld dat “de Bazaren hebben opgebracht £127”. Op die kerkraadsvergadering van 17 Augustus 1914 word die bydragstelsel vir die eerste maal ingevoer. Hierdie stelsel het bly bestaan tot 31 Desember 1969.

Met blydskap word verneem: “De Moederkerkraad heeft aan de Zendinggemeente een lykswagen geschonken”. So ook “De Kerkeraad besluit dat de Leraar en een ouderling voortaan des Zondagsmorgens gedurende kerktyd huisbezoek sal houden”.

Gedurende 1916 versoek die Algemene Sendingkommissie die Sendingkerkraad om aan te sluit by die Predikante Pensioenfonds in “de Vde klasse”. Na ’n korte bestaan is die finansiële posisie van die gemeente so benard dat by die Moederkerkraad aangeklop word om steun. Op 28 Augustus 1916 ontvang Eerw. M. J. Bosman demissie. Hy word opgevolg deur Eerw. P. J. Pienaar. Gewigtige oomblikke word op ’n kerkraadsvergadering beleef toe ’n man en vrou in die vergadering verskyn “op een aanklacht dat zy onvoorzichtelyk met elkander zyn omgegaan”.

Verslag word gedoen van “het oprichten van eene school te Keerom”. Die basaar te Boschrivier sal gehou word, by den heer P. du Toit”. Die kerkraad en Leraar word aangegryp deur die treurige geestelike toestand; veral die, verwoesting die aangericht word door de dronkenschap en ontucht”.

Na die griepepidemie van 1919 word daar op die kerkraadsvergadering van 27 Januarie 1919 besluit om briewe van dank te rig aan die Munisipaliteit, die Geneeshere en die blanke gemeenskap vir alles wat aan die kleurlinge gedoen is gedurende die epidemie.

In die jaar 1921 is die eerste skooltjie in die Keisie gebou. Om fondse te kry vir die skoonmaak van die kerkhof is “Tea meetings” gehou; ’n Ziekekas (tans armsorg) is gestig. Wat presies plaasgevind het en wie die skoolhoof was, word nie venmeld nie, maar in die jaar 1926 word ernstig gewaarsku teen die hou van politieke vergaderings in die Dorpskool. Waar die plek was, weet ons nie, maar die koster van hierdie tydperk het in die moeilikheid beland omdat hy in die, Winery wyn gedrink het. Drama sou ook nie uitbly nie toe ’n dienende ouderling ’n geweer tevoorskyn haal en dreig om drie ander kerkraadslede dood te skiet.

Eerw. P. J. Pienaar ontvang demissie en verlaat die gemeente on 29 Junie 1931. Hy word opgevolg deur Eerw. E. Bam vanaf 28 November 1931. In November 1932 word die moontlikheid bespreek of die ou pastorie nie verkoop kan word nie. Die wenslikheid vir die stigting van ’n “Church Lads Brigade” word ook oorweeg. Ook is daar finaal besluit om ’n skool en woning te Keisie te bou. Geen “social” of konsert mag in die saal gehou word nie. ’n Skooltjie te Baden word gedurende 1937 geopen.

Die Sendingkerkraad rig ’n brief aan Generaal J. C. Smuts en Adv. Fagan i.v.m. “die wysiging van seksie 55 van die drankwet van 1928, wat sommige mense wil aanbring”. Terselfdertyd geniet onderwys nog steeds groot aandag en was dit ’n heuglike dag toe mnr. Ben Burger n stuk grond aan die Sendinggemeente skenk vir die oprigting van ’n skool te Concordia.

Eerw. en Mev. C. A. J. Venter is op Saterdag, 25 Mei 1940 in die gemeente ontvang. Streng, toegewyd en hardwerkend sou hierdie leraar sy taak verrig. Saam met sy eggenote is daar stewige fondamente gelê en sal Eerw. Venter onthou word vir sy strenge dissipline.

Gedurende hul verblyf het die Fransie du Toit N.G.K. Skool werklikheid geword. Evangelis M. P. Andries van Retreat asook broeder Hans de Koker het die leraar bygestaan in die bearbeiding van die gemeente. Weens ongesteldheid moes die Leraar met drie maande verlof gaan en na ses jaar, waarin Eerw. Venter al sy kragte ingegooi het, neem hierdie geliefde Sendeling en Sendelingsvrou afskeid van die gemeente op 28 April 1946. Na hul vertrek volg ’n redelik lang vakature met Eerw. P. W. L. Sinclair as konsulent.

Gedurende Maart 1947 is Eerw. en Mev. G. F. Endemann in die gemeente ontvang. Uitbreidings by die skole sou hierdie leraar se aandag geniet. Die kerkraad is aangevul deur Voorstanders en Nagmaalkaarte vir Nagmaalgangers is ingevoer. Die werklike vertrekdatum van Eerw. en Mev. Endemann word nie vermeld nie, maar was oënskynlik in die middel van 1949. ’n Lang vakature waartydens Eerw. P. W. du Toit waargeneem het, het gevolg. Die Evangelis het sy trapfiets en “outo-bicycle” verkoop en in die plek daarvan ’n perd van mnr. Hennie de Wet ontvang.

Uitkoms was dit voorwaar vir die gemeente toe Eerw. en Mev. J. C. Struwig in Maart 1951 in die gemeente ontvang is. Hoeveel mense het teenoor ons getuig: “Eerw. Struwig was deur-en-deur ’n Sendeling”. ʼn Begaafde leraar en toegewyde dienskneg van die Here was hierdie Eerw. Struwig. Hy was die eerste om die gedagte van n nuwe kerk te opper. ’n Skok was dit vir Sending- en Moedergemeente toe die alombeminde Eerw. Struwig skielik oorlede is op 1 Desember 1951. Hoe graag wou die gemeente nog die geseënde arbeid van hierdie leraar en sy eggenote geniet, maar die weë van die Here was so anders.

Die vakature wat ingetree het, was egter nie lank nie, want op 7 Junie 1952 is Eerw. en Mev. I. Slabbert verwelkom. Onder leiding van Eerw. Slabbert besluit die kerkraad op ’n kerkraadsvergadering; gehou op 12 Julie 1952, om die wyk Ashton af te gee. Die plaaslike Skoolraad is genader om beheer oor plaaslike Kleurlingonderwys oor te neem, maar het nie sy weg oopgesien nie. Verdere voorsiening is gemaak vir skoolakkommodasie te Scheepersrust, Keisie en Talana. Die russaal by die huidige ou kerk is gedurende Eerw. Slabbert se verblyf opgerig. Eerw. en Mev. Slabbert verlaat die gemeente op 25 Junie 1956.

Mnr. Theys en sy personeel. Kan die gebou in die agtergrond die russaal wees?

Om meer te sien oor die eerste persoon van kleur wat as hoof van die Montagu Sendingskool aangestel is, besoek die storie van mnr. Theys, geskryf deur sy dogter via die skakel aan die einde van hierdie storie.

Andermaal was die vakature van korte duur. Op 14 September 1956 word Ds. en Mev. W. A. Rossouw deur die gemeente ontvang. Besondere ywer is aan die dag gelê vir voorsiening van skoolakkommodasie te Laatsrivier, Scheepersrust, Talana, Derdeheuwel en die dorp, ’n Groot oomblik was dit in die lewe van hierdie leraar en sy eggenote toe die huidige dorpskool die naam W. A. Rossouw N.G.K. Laerskool ontvang het. Die gemeente, wat gedurende hul bediening, finansiële nood ondervind het, is deur hul toegewyde en harde werk tot groot herstel gebring. Saam met hulle het die Moederkerkraad, met ’n mnr. Willie Esterhuyse in hul midde, alles ingewerp om die plaaslike Sending te bestendig. Ons dank die Here vir ’n simpatieke Moederkerkraad wat nog meer as voorheen bereid was tot groter finansiële steun. Ds. en Mev. W. Rossouw het ook die Half-Eeufeesreëlings in hul hande gehad en kon die heuglike gebeure saam met die gemeente geniet gedurende die naweek van 23 — 24 November 1957, Die besluit van die Sendingkerkraad dat ’n Kerk en Kerksaal gebou moet word, het net ’n besluit gebly, want na ’n kragtige bediening van drie jaar te Montagu, lewer Ds. Rossouw sy afskeidspreek op 20 September 1959 nadat hy hom ’n beroep na die Sendinggemeente Loeriesfontein laat welgeval het.

Met die koms van Ds. en Mev. J. Olivier gedurende die naweek van 26 Februarie 1960 is ’n nuwe tydperk ingelui in die geskiedenis van die Sendinggemeente Montagu. Ds. J. Olivier het hom beywer vir Medeleraarskap en saam met ’n baie gewillige Moederkerkraad, asook die besondere Sendingywer van mnr. Willie Esterhuyse (intussen oorlede), is die eerste mede-leraar beroep in die persoon van Ds. J. W. Carstens. Ds. J. Olivier sou dan die laaste Sendingleraar wees wat alleen sou werk in hierdie, so groot gemeente. Terwyl hy nog alleen was het Ds. Olivier veel moeite gedoen vir verdere verkryging van genoegsame akkommodasie vir skoolgaande kinders. Ds. Olivier was ’n stil, toegewyde en saggeaarde dienskneg van die Here wie se prediking vanaf die kansel onvergeetlik sal bly. Die Here gee aan elke mens ’n gawe en talent; so was dit die gawe van Ds. Olivier om mooi te kon preek.

Gedurende die naweek van 10 – 11 Maart 1961 is Ds. en Mev. J. W. Carstens ontvang en bevestig en het hulle by Ds. en Mev. J. Olivier aangesluit as die eerste medeleraarspaar. Dit was skrywer hiervan en sy eggenote se voorreg om vir drie jaar saam met Ds. en Mev. J. Olivier te kon werk.

Dit was ’n hartseer naweek vir die gemeente toe daar gedurende die naweek van 11 — 12 Julie 1964 van Ds. en Mev. J. Olivier afskeid geneem is. Hulle het ’n beroep na die Moedergemeente Karasburg aangeneem.

Die Here het spoedig uitkoms gegee en gedurende die eerste naweek van Oktober 1964 is Ds. en Mev. J. C. Portwig in die gemeente verwelkom. As jong dienskneg het Ds. Portwig alles in die stryd gewerp vir die totstandkoming van ’n Kerkjeugbrigade, gestig op 27 Maart 1966. Genoemde egpaar se verblyf was baie kort in die gemeente en na die aanname van ‘n beroep na die moedergemeente Gochas, ontvang Ds. Portwig demissie op 19 Junie 1966. Nogeens word daar na ’n baie kort vakature, ‘n nuwe pastoriepaar verwelkom in die persoon van Ds. en Mev. J. D. A. Conradie. Hulle word gedurende die naweek van 23 September 1966 ontvang en bevestig. Nog voor hul oorkoms het Ds. J. W. Carstens stil-stil uit sy pad gegaan om Erf 620 (waar die nuwe kerk tans opgerig is) te behou. Die hele situasie het ontstaan terwyl die proklamering van groepsgebiede begin vorm aanneem het. Na langdurige korrespondensie is toestemming verkry vanaf die Gemeenskapsontwikkelingsraad om genoemde erf te behou aangesien Erf 620 die eiendom van die Sendingkerkraad is vanaf 1884.

Met die bemoeienis van Ds. J. W. Carstens, asook die goedhartige mnr. David de Kock wat ’n stuk grond gegee het, vind die inwyding van die nuwe Pietersfontein N.G.K. Laerskool plaas op 4 Februarie 1967. Wat die bou van genoemde skool betref, het mnr. J. F. D. Kriel groot offers gebring.

Besiel met die ideaal om ’n nuwe Godshuis vir die gemeente Montagu te laat oprig, word ’n spesiale kerkraadsvergadering gehou op 5 Augustus 1967 om die hele kerkbouonderneming te bespreek. Die Sendingkerkraad voel dan ook eenparig dat daar nie langer versuim kan word met die bou van die nuwe kerk nie. Om die pragtige, goeie onderlinge verhouding tussen Sending en Moedergemeente te onderstreep, word besluit dat die Leraars van die Moedergemeente, tesame met broeders deur die Moederkerkraad aangewys, sal dien op ’n gesamentlike boukommissie. Die lede van hierdie kommissie was dan: Ds. J. W. Carstens, J. D. A. Conradie en broeders J. M. du Preez, J. Visser, D. Pekeur, M. Fluks, M. P. Andries en A. Pekeur (Sendinggemeente), asook Ds. J. C. A. Weidemann, P. Scholtz en L. Steenkamp, Leraars, en broeders A. F. Marais, Wessel Conradie, G. C. Winterbach, Ryno Burger en A. Kriel van die Moedergemeente. Mnr. Wessel Conradie het met geweldige entoesiasme op hierdie kommissie gedien tot met sy heengaan op 25 Januarie 1969. Hy was nie bevoorreg om die fondamente van hierdie nuwe kerk, waarvoor hy al sy tyd en kragte gegee het, te sien nie. Ons dank die Here vir die wyse waarop genoemde gesamentlike boukommissie sy taak verrig het.

Op 6 September 1967 hou die boukommissie sy eerste vergadering. Daarna sou daar nog baie volg. Intussen is onderhandelinge aangeknoop met Departement Gemeenskapsbou om erwe 509 (Saal in Joubertstraat) en restant van erf 239 (Kerk in Langstraat en die saaltjie langsaan) van die Sendinggemeente te koop. Na deeglike oorweging besluit die Sendingkerkraad om ’n aanbod van R27,290.00 vir die genoemde erwe en eiendomme te aanvaar. Aan Ds. J. W. Carstens, bestuurder van W. A. Rossouw Laerskool, is dit opgedra om voort te gaan met onderhandelinge met Departement Kleurlingsake om W. A. Rossouw Laerskool van die Sendingkerkraad te koop. Intussen gaan die gesamentlike boukommissie voort met sy werksaamhede en na die verwerping van die eerste kerkplan, ontmoet mnr. W. de W. Bronkhorst, argitek van Kaapstad, die boukommissie op 2 Augustus 1968. Nog steeds word daar nie met oorhaastigheid te werk gegaan nie. Nog vergaderings is gehou waarop lede van die boukommissie eerlik en openhartig hul idees met mekaar gedeel het.

Op 1 Maart 1969 word W. A. Rossouw Laerskool ’n Staatskool nadat die Sendingkerkraad ‘n aanbod van R34,300.00 van Departement Kleurlingsake vir die skool aanvaar het. Van hierdie bedrag het die Sendingkerkraad onmiddellik Rl5 429.74 aan Santam betaal en daarmee alle bestaande skoolskuld uitgedelg. Die Sendingkerkraad voel dan ook verheug om nie meer met skulde op skoolgeboue belas te wees nie. Op ‘n boukommissievergadering, gehou op 17 Maart 1969 is die tender van mnr. W. O. H. Muller, boukontrakteur van die Paarl, aanvaar. Hierdie tender vir die bedrag van R65,000.00 het nie die klok, horlosie en orrel ingesluit nie. Vanaf die aanname van die tender en die ondertekening van die kontrak, sou gebeurtenisse mekaar vinnig opvolg. Die Christelike Sustersbond het op Woensdag, 9 April, 1969 vir oulaas in die Betel saal byeengekom waar Ds. J. W. Carstens, in die teenwoordigheid van mev. C. J. Carstens en etlike gemeentesusters, ’n laaste boodskappie tot die susters gerig het alvorens die gebou gesloop sou word om plek te maak vir die nuwe kerk.

‘n Gemeentelike afskeidsdiens word op die perseel by die Betel saal gehou op Sondag, 13 April 1969. Hoewel die weersomstandighede bewolk en triestig was, kon Ds. J. D. A. Conradie sy boodskap lewer aan ’n groot gehoor.

Betekenisvol en aandoenlik was die plegtigheid op Saterdag, 19 April 1969 toe, na skriflesing en gebed een en almal aan die sooispit plegtigheid deelgeneem het. Die sloping van die ou Betel saal het plaasgevind op Maandag, 14 April 1969 en Maandag, 21 April 1969 is daar ’n begin gemaak met die grawe van die fondamente.

Ds. J. D. A. Conradie en mev. Ina Conradie wat by ons in die gemeente kom aansluit het, het vanaf die begin hulle spontaan ingeskakel by hierdie kerkbouprojek, wat met hul oorkoms na Montagu, reeds vorm begin kry het. Na ’n bediening van twee en ’n half jaar in die gemeente, waartydens daar geweldig met siekte geworstel is, aanvaar ds. J. D. A. Conradie ’n beroep na Loeriesfontein en ontvang sy demissie op 27 April 1969.

Op 2 Augustus 1969 het die Sendinggemeente, asook ’n groot aantal Sendingvriende van die Moedergemeente saamgekom vir die hoeksteenlegging van die nuwe kerk. By hierdie geleentheid het Ds. J. J. Olivier opgetree as prediker.

Vir die soveelste keer bly Ds. en Mev. Carstens alleen agter, maar Hy wat voorheen so wonderlik voorsien het, het andermaal spoedig uitkoms gebring toe Ds. en Mev. F. P. du Toit Visser gedurende die naweek van 23 — 25 Augustus 1969 alhier ontvang en bevestig is. Ons is die Here innig dankbaar dat ook hierdie leraar en sy eggenote dadelik meegeleef het met die kerkbouprojek. So het die Here die kragte voorsien en kan ’n dankbare gemeente by geleentheid van die inwyding van die nuwe kerk, terugkyk op die jare waarin Hy gelei en Sy gemeente steeds van krag tot krag laat gaan het. Sy hand van seën was op die bouwerk en die Leraars, Sendingkerkraad en Gemeente wil Mnr. W. O. H. Muller en sy hele personeel wat betrokke was by die oprig van die kerk, hul innige en opregte dank betuig vir die sierlike Godshuis wat tot eer van God gebou is. Watter pragtige stuk bouwerk is dit nie? ’n Lieflike monument vir die toekoms.

Ons bede is dat die skoonheid van hierdie nuwe tempel van God nie net die getroues sal trek nie, maar ook ’n roepstem sal rig tot hulle wat tot hiertoe koud gestaan het teenoor hul godsdiens en hulle God. Noudat die Sendingkerkraad besluit het om oor te gaan tot die bou van ’n Kerksaal, is dit ons bede dat die gemeente besield sal wees in die bereiking van hierdie ideaal.

Ons bede vir die Sendinggemeente van Montagu is dat Here God met ons sal bly op die pad vorentoe, soos Hy tot hiertoe met ons was. Mag die heuglike ondervindinge van hierdie naweek dan vir ons almal onvergeetlik bly.

Onderwys en Opvoeding

Interessant is dit om te weet dat die eerste skooltjie in die gemeente in die wyk Keerom was. Daar word egter geen datums verstrek vir die duur van hierdie skool nie. Die klok van genoemde skool is nog in die veilige bewaring van mnr. en mev. Bennie Kitshoff, van Keerom.

Onderwys op die dorp was in die beginjare in die hande van die Leraar, wie ook gedien het as Skoolhoof en onderwyser. Saam met hom was daar gewoonlik een of twee blanke assistente. Eerww. P. W. J. van Zyl, D. C. Odendaal en J. Vlok het die fondamente gelê vir toekomstige kleurlingonderwys te Montagu.

Daar is nie net op die dorp voorsiening gemaak vir die nodige akkommodasie nie, maar geleidelik het kleurlingonderwys in die distrik alhoemeer sy beslag gekry. Mnr. T. H. Augustyn het ’n ruim stuk grond geskenk sodat die G. B. Batt Laerskool, Laatsrivier, daar opgerig kon word.

Deur ’n ewe vriendelike gebaar vanaf die kant van mnr. Ben Burger in die Koo, het die Concordia Laerskool tot stand gekom. In die Keisie het die goedhartige mnre. Pieter en Karel du Toit hul oor die kinders ontferm en kon die Keisie Laerskool opgerig word.

Te Baden staan die pragtige Baden Laerskool as monument op ’n stuk grond geskenk deur mnr. Etienne Jordaan. Pietersfontein het ’n mnr. David de Kock gehad wie grond geskenk het vir die verwesenliking; van die Pietersfontein Laerskool. Wat hierdie skool betref, moet die naam van mnr. J. F. D. Kriel genoem word. Ook hy, het veel gedoen om die skool, die nuutste in die gemeente, daar te stel.

In die wyk Warmwater het mnr. G. V. Joubert ’n gebou tot beskikking van die gemeentekinders gestel. Die Fransie du Toit Laerskool, Scheepersrust, is ’n aangename herinnering ter gedagtenis van mnr. Fransie du Toit wie die grond geskenk het vir genoemde skool. Die oop harte van mnre. A. P. Burger en Ryno Burger, het daartoe bygedra dat die Talana Laerskool in daardie wyk gebou is.

’n Goedhartige Sendingvriend, mnr. A. F. Kriel, van Derdeheuwel, se naam is verewig in die oprig van A. F. Kriel Laerskool, Derdeheuwel.

Afgesien van diegene wie grond geskenk het vir die oprigting van genoemde Sendingskole, het baie ander blanke vriende ook ’n aandeel gehad in die totstandkoming van al die genoemde skole. Op Montagu dorp het die eerste skooltjie, wat ook as kerk gedien het gestaan waar tans een van die K.W.V. se hoofgeboue is. Eerww. W. E. Bam, C. Venter, I. Slabbert, J. Struwig, W. A. Rossouw en J. J. Olivier het elkeen ’n bydrae gelewer tot die totstandkoming van die huidige groot skool op die dorp. Hierdie skool met ’n leerlingtal van oor die duisend kinders, is vernoem na Ds. W. A. Rossouw en heet die W. A. Rossouw Laerskool.

Ons wil hulde bring aan al die Skoolhoofde, onderwysers en onderwyseresse wat deur die jare heen reuse werk gedoen het rakende die opvoeding van die gemeentekinders. Opofferinge het met ongerief gepaard gegaan, maar die Here ken hulle wie die onderwyssaak alhier met toewyding gedien het. Menige leerkrag kan, met dank teenoor die Here, melding maak van karaktervolle seuns en dogters aan wie hulle help skaaf het.

Tans is daar 1,500 kinders wat op die dorp en in die distrik onderwys ontvang. Daar word met verlange uitgesien na die dag dat hier plaaslik ’n Middelbare of Hoërskool vir die kinders sal wees.

Verenigingslewe en Jeugaktiwiteite

Op ’n kerkraadsvergadering gehou op 3 Julie 1893 word die stigting van die beweging “Goede Tempellieren” goedgekeur. Genoemde beweging staan tans bekend as die I.O.T.T.; die lede waarvan hul ten doel stel om alle euwels rakende drankmisbruik te bekamp. Ons is die Here dankbaar vir hul leiers, leidsters en lede wat ook in hierdie gemeente geseënde werk verrig.

Die Christelike Sustersbond is in die latere jare gestig. Hierdie Sustersvereniging het deur die jare van krag tot krag gegaan. In besonder dink ons aan al die presidentes, bestuurslede en lede wat vanaf die begin die vereniging gebring het tot waar dit vandag is. Die susters doen lieflike werk vir die Here. Wanneer hulle na die nuwe kerk kyk, kan hulle met genoegdoening daaraan dink dat hulle, deur te woeker, byna R800 gestort het vir die nuwe orrel. Ons bede is dat die Sustersbond steeds van krag tot krag mag gaan. Die Christelike Kinderbond, die vergaderplek van die lammertjies in die gemeente, het in die jare wat verby is ook ’n krag geword. Daardie “Juffroue”, saam met hul personeellede, wat soveel kindertjies in die gemeente geestelik help vorm het en nog steeds doen, verrig wonders vir die Here. Die ou kleintjies het ’n ruim bydrae gelewer vir die aankoop van ’n nuwe doopvont vir die nuwe kerk. Laat julle liggies altyd helder skyn vir liewe Jesus.

Die Sondagskool het, danksy die lewendige belangstelling van meer as een onderhoof, asook die ernstige toewyding van personeellede, geweldig uitgebrei. Hierdie mense wat met die gemeentekinders bemoeienis het in die Sondagskool, verrig ’n oneindige groter taak as waarvan hulle miskien bewus is. Die wonderlike geleentheid wat hulle het om geestelike karakters vir die toekoms te bou! Ons dank God vir elkeen van hulle, wat gedurende die jare van bestaan van die Sondagskool in die gemeente, hul gawes, kragte en talente ingewerp het om hierdie mooi werk vir die Here te doen.

Dit sal ons vergun word om ’n woord van spesiale dank te bring aan die Dagskool personeellede; onderwysers en onderwyseresse wat, afgesien van hul vol program, hul bydrae op Sondae gelewer het en nog lewer. Op die dorp en in die distrik was hulle nog altyd baie gewillig om te help. So ook was daar altyd die hulpvaardige seuns en dogters, lidmate van die gemeente, wat so mooi gehelp het met die Sondagskoolwerksaamhede. Met die koms van die LUS-reeks hoop ons op nog groter groei in ons Sondagskool. Ons dank die Here ook vir almal wat met katkisasie behulpsaam was.

Die Kerkjeugbrigade het gekom en gegaan in die jare wat verby is. Enkele jare gelede het Ds. J. C. Portwig met nuwe besieling daartoe bygedra dat ’n Jeugbrigade andermaal gestig is. Die brigade wat hom ten doel stel die geestelike karaktervorming van die jeug, asook die beoefening van streng dissipline, doen steeds groot werk vir die Here in die gemeente. Die beweging is tans in stewige hande en ons bede vir hulle is dat hulle mag groei en staande bly in ’n stormagtige wereld.

So pas is ’n nuwe baba gebore. Ds. F. P. du Toit Visser wat in 1969 tot die gemeente oorgekom het, het alles ingewerp om die Christelike Jeugvereniging in die gemeente die lig te laat sien. Mag die vuur en ywer waarmee daar begin is deur die bestuur en lede, altyd blywend wees. Ons loof die Here vir almal wat in die verskillende verenigings en bewegings ’n leidende rol geneem het en nog neem. Wanneer die gemeente in 1991 haar Eeufees sal vier, hoop ons dat al die bestaande verenigings en bewegings nog kragtiger sal wees. Die Here seën u werksaamhede.

Fonds insameling

Toe daar met die kerkbouprojek begin is, het niemand geweet dat twee droogtes kort na mekaar sou volg nie. Wanneer ons egter vandag na die ou kerk in Langstraat kyk, is ons die Here so dankbaar dat daar nie langer gewag is met die bou van ’n nuwe kerk nie. Die sierlike ou kerk is besig om te swig voor die aanslae van haar ouderdom.

Dit is so dat die verkoop van eiendomme van die Sendinggemeente heelwat geld gelewer het.

Wanneer dit kom by GEE was dit andermaal lidmate van die Moedergemeente wat baie ruim bygedra het. Die Vroue Sendingbond, A.C.V.V., Vrouelandbouvereniging en Kinderkrans het almal hard gewerk in die stilte en ruim bydraes gelewer. Ons dank aan mevv. V. M. Scholtz, J. Weideman, R. Steenkamp en M. Kellermann wat by die verskillende verenigings leiding geneem het. Die C.S.V.-tak van die Hoërskool Montagu, asook die K.J.V. het donasies gegee. Montagu Roller Meule en die Koöperatiewe Wynkelders Vereniging het ook bydraes gestort. Vanuit die hele Moedergemeente het spontane bydraes gekom. Ons sou ’n boek kon skryf oor al ons ondervindinge, maar ruimte ontbreek.

Onder die boere, sowel as die dorpsgemeenskap was ’n pragtige reaksie. Almal wou so graag gee, maar weens die twee kwaai droogtes het baie gevra om later ’n bydrae te lewer. Ons verstaan dit heeltemal.

Wat ons Sendinggemeente betref, het die Christelike Sustersbond, I.O.T.T., Christelike Kinderbond, Jeugbrigade en Badensusters pragtig gewerk vir die nuwe kerk. Die Sondagskool (gemeente) kinders, Oudstrydersbeweging. Villagers Voetbal- en Netbalklub. asook die Young Stars Netbalklub het hul bydraes gelewer. Baie van ons lidmate het uit hul pad gegaan om ’n donasie te gee; so ook om fondse in te samel. Baie het bo hul vermoë gegee. Die Here weet wie hulle is wat gewerk en gegee het. Hoe graag wou ons hê dat almal hul deel sou doen. Dit het egter nie gebeur nie. Die liefde vir die eie, die trots vir en op die eie ontbreek ongelukkig nog by tientalie. Mag daardie gevoel vir die eie tot volle ontplooiing kom onder almal wat tot die gemeente behoort. Ons dank die Here vir almal wat uit hul min, nog kans gesien het om iets af te staan vir die nuwe kerk. Die boufondsinsameling is beslis nog nie afgesluit nie.

Ons wil ook ons dank betuig teenoor die Sendingskole wat bydraes gegee het vir die fonds. Daar is heelwat van ons blanke vriende wat nog vir die genoemde saak gaan bydra, maar dit bly nog die taak van die Sendinggemeente om self meer te gee vir hul eie.

By die ter perse gaan, het die bedrag aan geld, wat hanteer is, die totaal van R69 832.84 beloop. Hierdie bedrag word as volg uiteengesit: Kerkeiendomme: R48 533.85;

Moedergemeente: R14 167.56; Sending: R5 561.73 ; Rente R1 122.32 en toevallige: R447.38. Aangesien daar nog steeds donasies inkom, is die fonds dus nog nie afgesluit nie. Hierteenoor is reeds tot op 30/3/1970 die bedrag van R52 907.43 t.o.v. die nuwe kerk uitbetaal. Ons loof die Here vir almal in die Sending- en Moedergemeente wat uit liefde vir Hom die onderneming so mooi gesteun het. Belangriker nog as die geld, is die voorbidding waarop ons kon staatmaak.

Baie dankie aan almal wat ons gedurig bemoedig het. Wat die geldelike aspek betref, wil ons ons hartlike dank betuig teenoor almal wat deur die jare as Ouditeure gedien het; in besonder mnr. P. J. le Roux Theron en mnr. T. L. le Roux. Hulle het hul deeglik van hul taak gekwyt. Nou wag daar ’n volgende ideaal. ’n Nuwe kerksaal gaan opgerig word. Wat gaan u bydrae wees? Ons dank u byvoorbaat vir u ondersteuning.

Dankbaarheid

Daar heers groot dankbaarheid in die hart van die gemeente teenoor die Koning van die Kerk. Innige, opregte dankbaarheid teenoor God vir Sy liefde, genade en troue sorg deur al die jare geniet. Toegewyde Leraars, Juffroue, Kerkraadslede en troue kinders van die Here, het die beginjare, wat moeilike jare was, deurworstel. Ons loof die Here vir soveel geestelike karakters wat hul gebede, tyd, gawes en kragte gewy het vir die vorming van hierdie gemeente. Ons dank die Here vir almal wat die afgelope 79 jaar leiding gegee het op die verskillende gebiede van gemeentelike werksaamhede.

Van verenigings en bewegings is reeds melding gemaak. Hier wil ons dan ook melding maak van koorleiers en koorlede wat deur die jare bygedra het tot die luister van die dienste. Die liefdesdiens van hulle wat die orrel bespeel het, gaan beslis nie onopgemerk verby nie. Hulle het dit uit liefde vir die Here en die gemeente gedoen. Die jare het ook n verskeidenheid van kosters gelewer. Vir elkeen van hulle was dit ’n edel werk. Die huidige koster, broeder J. Visser, dien reeds die afgelope elf jaar in die hoedanigheid. As Scriba en Kassier het die verskillende Leraars gedien. Die netjiese en deeglike werk wat mnr. J. Johnson as hulp Scriba doen, verdien spesiale vermelding.

Vir die Sendinggemeente van Montagu is dit beslis nie aangenaam om afskeid te neem van ’n waardige ou Godshuis— wat vir 63 jaar gedien het nie. Honderde kan getuig: “In daardie kerk is ek gedoop, gekatkiseer, aangeneem, voorgestel en getroud. In daardie kerk het ek geluister na die prediking van Gods Woord; my Here gevind. Vanuit daardie kerk is my dierbares begrawe”. Tyd staan egter nie stil nie. Hoe lief ons ook al was vir hierdie mooi, ruim kerk, moes daar een of ander tyd ’n nuwe gebou word. Toe die proklamering van groepsgebiede terselfdertyd werklikheid word, kon die kerkraad dan ook nie anders as om finaal te besluit dat ’n nuwe kerk gebou moet word. As gemeente sal ons altyd met aangename herinneringe vervul wees, elke keer wanneer ons by die ou kerkgebou verby beweeg.

Ons dank die Here vir die voorreg om saam met Ds. en Mev. J. J. Olivier, Ds. en Mev. J. C. Portwig, Ds. en Mev. J. D. A. Conradie te kon werk en tans Ds. en Mev. F. P. du Toit Visser saam met ons te kan hê. Reeds is ons in ons tiende jaar in die gemeente en wil ons, naas ons dank teenoor God, ons innige en opregte dank betuig teenoor Sending en Moedergemeente vir al die liefde en belangstelling deur die jare ontvang.

Met die hulp van die Here gaan ons voort om ons kragte hier in te werp. Indien dit Sy Wil mag wees dat ons een of ander tyd moet gaan, sal ons U nooit vergeet nie. Ons loof die Here vir alles en U almal.

Boodskappe van ons Leraars

Baie geluk Montagu met ’n nuwe mylpaal wat bereik is en ’n ou ideaal wat verwesenlik is.

Ds. En Mev. G.F. Endeman

Mag Sy ryke seën rus op al die werksaamhede en daar baie vrug gesien word op die prediking vanuit die nuwe gebou.
Groete,
Ds. en Mev. G. F. ENDEMANN.


Ds. en Mev. Eric Bam, tans van Die Strand.

Die Leraar en Kerkraad, Montagu Sendinggemeente.

Geagte Broeders,

Ons is saam met u dankbaar en bly dat die Here nou voorsien het in die lankgevoelde behoefte aan ’n nuwe Godshuis op ’n plek waar die gemeente dit makliker kan bereik. Baie, baie geluk!

Mag daardie huis ’n plek word waar benoude siele die Here sal aanroep en vrede vind. Mag daar baie wees wat met opregte harte Hom sal loof en prys vir al sy goedheid en liefde aan hulle betoon, is die wens en gebed van:
E. en S. Bam.


Ds. En Mev. C.A.J. Venter, tans van Bellville

Hiermee wil ek graag my hartlike gelukwense teenoor die kerkraad en gemeente van die N.G. Sendingkerk Montagu, uitspreek, met die verwesenliking van ’n lang gekoesterde ideaal om ’n nuwe en sierlike kerkgebou in gebruik te neem.

Vir my en my eggenote, wat bevoorreg was om vir etlike jare in die gemeente te werk, is hierdie geleentheid, net soos vir u, ’n heuglike gebeurtenis, waarvoor ons die Koning van die Kerk innig dank.

My innige bede en wense is, dat die ingebruikneem van die nuwe Godsgebou, vir elke lidmaat en christenbelyer die besieling mag wees vir ware en opregte toewyding, en getroue diens aan die Groot Opperherder.

Mag God self Sy tempel deur Sy Gees heilig, sodat telkens, wanneer u as gemeente dit betree — almal, klein en groot — bewus mag wees van die heiligheid daarvan, en van die teenwoordigheid van die Here Jesus self. En mag dit die kweekplek wees van wedergebore siele vir Sy hemelse koninkryk ……      1 Kon. 8:13 en 9:3.

Met hartlike broedergroete,
C. A. J. Venter.


Wyle Ds. J.C. Struwig en Mev. M.C. Struwig (nou Mev. Liebenberg)

MY BOODSKAPPIE AS VOLG

Baie hartlik geluk Montagu met julle nuwe kerkgebou, mag dit tot eer van die Heer dien. Al was ons dienstyd onder julle net 9 maande aan ons gegun, tog is daar ’n baie nou verband tussen u en my, omdat die rusplekkie van hom wie ons lief gehad het in u midde lê. 2 Kron. 2:4 of Fil. 1:4.

Groete,
M. C. Liebenberg.


Ds. En Mev. W.A. Rossouw, tans van Northam, Transvaal

Geliefde Gemeente,

Dit is vir ons ’n Godgegewe voorreg om u hartlik geluk te wens met die ingebruikneming van u Nuwe Kerkgebou. Dit is ’n gebeurtenis waarin ons ons hartlik kan verbly — gedagtig aan die onvergeetlike voorreg, wat ook aan ons vergun was om enkele jare met u te kon saam wees en ons in alle opsigte met u belange te kon vereenselwig.

Weliswaar was daardie tydjie — drie jaar — maar baie kort, maar tog was dit lank genoeg om ons op ’n besondere wyse aan u te verbind, en u vreugde in hierdie dae ook ons vreugde te maak.

In opregte dankbaarheid teenoor die Groot Opper Herder kyk ons saam met u terug op die afgelegde pad. Wat die verlede betref, daar spreek die ontelbare weldade wat die Here in groot liefde en genade aan u geskenk het. God se onkreukbare trou en Sy onveranderlike liefde wat die Gemeente in sy ontstaan en groei deur al die jare gedra het, sal ook vir die toekoms die waarborg bly vir nog meerdere en heerlike vrug. Mag hierdie heuglike gebeurtenis, gekenmerk word, slegs deur oorvloedige dankbaarheid teenoor Hom en weinig of geen roem op eie prestasie nie.

Kyk terug en wees dankbaar. Kyk boontoe en wees gelowig. Kyk vorentoe en wees moedig …. Die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die Geloof. Mag die feesviering u as Gemeente hegter saamsnoer in Christus Jesus as ooit te vore.

Hartlik geluk, ons bid u toe die beste uit Gods Vaderhand, en ook dat u u beste aan Hom sal gee . . .

Die Pastorie, Northam, Tvl.                                                       
Ds. en Mev. W, A. Rossouw.


Ds. En Mev. J.J. Olivier en gesin, tans van Bredasdorp

Die Here gee so dikwels aan Sy kinders sulke besondere voorregte. Dit is dan ook uit die aard van die saak onvergeetlik, want wie kan ooit ’n voorreg deur God aan jou geskenk, vergeet?

So ’n voorreg was dit vir ons gewees om ook vir meer dan vier jaar leraarspaar van Montagu te kon wees. Ons sal ook dit nooit kan vergeet nie. Om ook daar iets vir die opbou van die gemeente te kon doen, stem tot nederige en innige dank. Die vriende wat ons sodoende gekry het en met wie ons saam lief en leed kon deel, kan ons nooit vergeet nie. Minste van alles ons heerlike samewerking vir meer dan drie jaar met Ds. en mev. J. W. Carstens.

En nou nog ’n voorreg! Om u te kan gelukwens met u nuwe kerkgebou. Sal ek ooit vergeet hoedat in ons eerste jaar van bediening aldaar die Kerkraad in beginsel besluit het tot die bou van ’n nuwe kerk. Daar was destyds ’n Spaarbankboekie met ’n paar Rand in. Dit is besluit dat daardie beskeie fondsie verander sal word in ’n boufonds. Dit was die begin. Klein en ver. En nou staan ’n nuwe kerk daar as ’n simbool van geloof en harde werk en toewyding aan ’n groot taak.

Ons hartlikste gelukwensing aan u Leraars, Kerkraad en aan u as gemeente van die Here. Sien dit ook as heerlike voorreg wat die Here Self aan u geskenk het. Laat dit vir u elke keer ‘n lewensvoorreg wees om deur die deure van hierdie Godshuis in te gaan. Mag u daarbinne elke keer die Here as u Herder ontmoet, wat vir u sal lei na die groen weivelde van Sy Woord en na die stille waters waar daar rus is. Mag u elke keer daar uitgaan met siele wat Hy verkwik het. Mag u daarvandaan gaan in die spore van geregtigheid waarin Hy u sal lei. En mag u en u kinders in die Huis van die Here bly tot in lengte van dae.

“Aan die alleen wyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in ewigheid!” — Judas 25.


Ds. En Mev. J.C. Portwig, tans van Gochas, S.W.A.

Kontraste. So is die lewe. Montagu, met sy pragtige berge wat die hemel introon, en sy pieke beskermend om die dorp vou. Hier by ons; sandduin op sandduin met sy rooi en sy bruin kleure wat die oneindigheid afmeet. Maar ten spyte van hierdie verskille in die natuur, is dit dieselfde son wat die westerkim in sy volle prag tint met kleure van rooi, oranje, ligroos en donkerblou. Dieselfde son wat sy warmte op Montagu gee, en sy warmte hier in die Kalahari

So is dit ’n gemeenskaplike son wat op elkeen van ons skyn; hoe ver ons ookal van mekaar verwyder is.

So is Jesus Christus, die Son van Geregtigheid, wat ons as gelowiges saambind, saam verenig in gebed, saam louter in die geloof, saam die Ewige lewe bied.

Afstande skei ons, maar ons gedagtes is by u. Afstande skei maar bande wat gesmee is, bly behou.

Dus, ons deel in u vreugde en dank God dat die gemeente van Montagu vanaf 1891 — 1970 die helse woede kon weerstaan en steeds die gemeente van Christus is. Dat uit die stryd en die ideale van die verlede daar vandag ’n sierlike woning tot eer van God tot stand gebring is.

Mag hierdie huis van God ’n huis van ontmoeting wees.

Mag hierdie huis van God ’n huis van oorgawe wees.

Mag hierdie huis van God ’n huis wees waar die moeë pelgrimsreisiger water en brood van die ewige lewe kan ontvang.

Van harte geluk. God sy met u tot ons weer ontmoet.
Ds. en Mev. J. C. Portwig.


Ds. En Mev. J.D.A. Conradie tans van Loeriesfontein

HEILWENSE VAN DS. EN MEV. J. D. A. CONRADIE AAN DIE N.G. SENDINGGEMEENTE MONTAGU.

Geliefde gemeente, baie hartlik geluk met die belangrike mylpaal wat u bereik het. Ons beste wense vergesel u. Mag die toekoms tydperke van ongeëwenaarde geestelike bloei en ontwikkeling vir u beteken, en mag u aangespoor word deur Sy Gees om groot van God te dink en groot dinge in die geloof te onderneem. Hy wat in die verlede die inspirasie, ondernemingsgees en middele voorsien het, sal u ook bystaan en sterk om in Sy naam kragtige geloofsdade te verrig, want Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Bo alles, mag u gelei word deur Sy Gees om steeds dieper te delf in, en meer te ontgin van die onnaspeurlike rykdom van Sy genade.

Ds. en Mev. J. D. A. Conradie,
Loeriesfontein.


Ds. En Mev. J.W. Carstens en Gesin

Liewe Gemeente,

 Ons het soveel in ons hart wat ons graag aan u wil vertel. Dit sal op sigself ’n boek wees. Ruimte ontbreek egter. Namens myself, Juffrou en ons kinders dank ons die Here vir die wonderlike voorreg om soveel jare in u midde te kon wees. Baie dankie vir soveel liefde en belangstelling ontvang deur die jare heen. Terwyl ons hier skryf, staan ons nog onder beroep na Laingsburg. Ons glo Sy Wil sal geskied. Daar is te veel op ons gemoed in hierdie oomblik om te laat reg geskied aan alles en almal. Die kerk waaroor daar jare lank so baie gepraat is, sou dan, met die hulp van die Here, ons taak wees om te volvoer. Dit het baie aan tyd en kragte geverg, maar die genoegdoening is heerlik. Ontvang die nuwe Godshuis in Sy Naam die Ewige Rots. Wat ons op die geestelike akker kon doen, het ons in swakheid vir Hom gedoen. Ons sal saam met u as gemeente vertoef solank dit Hom behaag. Hy ken Sy tyd. Ons bede vir u is dat u as gemeente van krag tot krag mag gaan. Mag u liefde vir u kerk, godsdiens en vir Hom blywend wees. Die Here seën u.


Ds. en Mev.F.P. du T. Visser en gesin

’N BOODSKAPPIE

Liewe Lidmate en Gemeentelede,

Met die inwyding van die sierlike Godshuis net om die draai, dink mens onwillekeurig daaraan dat Salomo net soos ons, met die hulp van God, ’n ,,Huis vir die Here” gebou het.

Nou sê Ps. 127:1 so mooi: „As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou”. Hierdie gebou moet meer wees as ’n kerk van klip, sand en steen. Dit moet ’n Huis wees waar God woon, ’n Bet El, waar karakters nie alleen gevorm word, maar waar veral siele gered word, deur die suiwere verkondiging van die onvervalsde Woord, gebed en die bediening van die sakramente. Die Kerk van Jesus Christus is dan ook eintlik ’n geestelike huis, die stene synde die lewens van Gods kinders.

Ag, sal ons nie baie en voortdurend bid dat die dierbare Heilige Gees Sy volmaakte wil sal bereik met sy Kerk op aarde, o.a. deur die doeltreffende gebruikmaking van hierdie Godsgebou nie?

Wees trots op u Kerk en op u kerkgebou. Leer u kinders van kleinsaf hoedat iemand hom moet gedra in die huis van God. I Tim. 3:15.

Jeugmaats, laat hierdie nuwe Godshuis ons inspireer tot ’n nuwe Godsaanvaarding en aanbidding. Laat julle ook opbou in julle allerheiligste geloof tot ’n sierlike huis, tot ’n geestelike priesterdom, waarin die Heilige Gees kan woon en die gemeente langs hierdie weg uitgebou kan word tot ’n sieraad vir Sy Koninkryk.

Liewe kindertjies, wees baie diep in julle hartjies baie, baie bly dat Liewe Jesus vir ons so ’n kerk gegee het. Moenie toelaat dat iemand ons kerk vuilsmeer nie, of enigiets leliks aan ons kerk doen nie, maar bo-al moenie toelaat dat iemand iets leliks van ons Liewe Jesus sê nie.                                                                                                  .

GOD SEËN HIERDIE HUIS EN DIE VERKONDIGING VAN DIE WOORD DAARIN, SOWEL AS ALMAL WAT DEUR SY POORTE IN EN UIT SAL GAAN.

Van: F. P. Du T. Visser,
U medeleraar, Montagu.


Moedergemeente Montagu
Seengroet!
Die eenheid van gelowiges kom selde so mooi tot openbaring as in samewerking in die nastrewe van ’n mooi ideaal tot eer van God. So was ook die samewerking tussen moeder- en dogterkerk in die daarstelling van ’n sierlike plek van aanbidding die openbaring van die eenheid van gelowiges. Daarom ook is die moedergemeente se bede dat hierdie gebou die getuie mag wees van die krag van die Woord wat menselewens kan hervorm tot eer van God. „Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding”. (Rom. 10:1). Baie hartlik geluk.

LEON M. STEENKAMP, V.D.M.
Namens N. G. Moederkerkraad.


(Ring van Zuurbraak)

Van harte geluk met die Inwyding van die Nuwe Kerkgebou

As een lid geëer word, is al die lede saam bly, leer die apostel Paulus vir ons. So ver- eenselwig die hele Ring van Zuurbraak hom met die blydskap en vreugde van Montagu- gemeente met die ingebruikneming van sy nuwe kerkgebou.

Ons wens die Kerkraad, leraars en die hele gemeente van harte geluk met hulle geloofsonderneming wat op hierdie heuglike gebeurtenis uitgeloop het. Ons bede is dat hierdie gebou vir baie jare ’n bydrae sal lewer tot opbouing en uitbouing van die geestelike lewe van die gemeente en die hele gemeenskap tot eer van die Here.

Aan die anderkant is dit egter ook so dat geen vreugde hier op aarde heeltemal onge- skonde is nie; en so sal daar ook in hierdie geval by die ouere geslag ’n mate van droefheid wees om afskeid te neem van die ou kerkgebou waarin ’n hele aantal geslagte wat gedoop, voorgestel en getroud is, weer hulle eie kinders daar laat doop het, en waaruit so baie uiteindelik weer begrawe is.

Van so ‘n gebou neem ’n mens nie sonder weemoed afskeid nie, net so min as van ’n geliefde afgeleefde vader of moeder wat moet heengaan.

Van die pragtigste blomme is om daardie ou kerkgebou gekweek, maar van binne uit is daar nog kosbaarder blomme vir die hemel deur die jare gekweek.

Ons bede is dan dat in die nuwe gebou daar net sulke, en indien moontlik nog kosbaarder en mooier blomme vir die ewigheid gekweek mag word deur die getroue verkondiging van die Blye Tyding van Verlossing in Jesus Christus en die medewerking van die Heilige Gees.

A. J. J. BOTES.


Baie Dankie
Aan Hom kom toe die lof, eer, dank en aanbidding van ons harte vir Sy onuitspreeklike liefde aan ons bewys.

Aan al die lidmate van die Sending- en Moedergemeente vir onbaatsugtige bydraes. Baie het bo hul vermoë gegee en gedoen. Innige dank vir alle hulp tot hiertoe en nog verder.

Die Kerkraad en Gesamentlike Boukommissie vir alles wat hulle in die geloof aangepak het

Alle oud-leraars en hul gades vir toegewyde ywer waarmee hulle hierdie gemeente van uit die grond gebou het tot wat hy vandag is.

Vir die Christelike Kinderbond en Kinderkranskindertjies vir die pragtige doopvont.

Mej. Nymph Visser vir die pragtige binnehorlosie.

Mnr. en mev. Piet Jordaan, Bordeaux, vir die nuwe Nagmaalbekers, asook ’n voorraad Nagmaalwyn geskenk om met die eerste Nagmaal in die kerk gebruik te word.

Ds. en Mev. W. A. Rossouw vir die staander met ag kollekteborde; ter herinnering aan hul seun Willie.

Mev. M. Liebenberg (nee Struwig) vir die Gesangborde met letters en nommers.

Die Christelike Sustersbond en Vrouesendingbond vir hul geweldige bydrae om die orrel te koop.

Die Jeugbrigade vir die mooi gordyne in die kerk.

Die Munisipaliteit van Montagu vir simpatieke hantering van korrespondensie.

Departement Gemeenskapsbou vir onderhoude toegestaan.

Die A.C.V.V. vir die kanselkleed.

Ouderling Johannes January wat die kansel geskenk het.

Mej. C. January vir die pragtige matte.

Mnr. W. de W. Bronkhorst vir die hoeksteen deur hom geskenk.

Mnr. W. O. H. Muller en sy boupersoneel vir die pragtige nuwe kerk.

Aan een en almal wie se name nie genoem kan word nie omdat ons onmoontlik nie die naam van elke lidmaat en kind kan noem nie, baie dankie. Die Here weet wat U gedoen het.


Die nuwe kerkgebou in gevorderde stadium

Die volgende kerkraadslede het gedien en dien nog vandat met die Kerkbouprojek begin is:       

OUDERLINGE :

F. du Toit, A. Robain, J. Januarie, P. Saunders, M. P. Andries, J. M. du Preek, J. Visser, K. Adonis, J. Booysen, K. Adams, S. Scheepers, J. Jaftha, D. le Kay, J. Blaauw, A. Fortuin, J. Theunissen, J. Swart, A. Willemse, A. Pekeur, P. Philander, K. Herder, D. Pekeur, S. J. van Schalkwyk, D. Brown, J. Johnson, S. Philander, J. Pekeur.

DIAKENS :

David Hofman, H. Schrader, A. Strydom, H. Gentleman, J. Verhoog, Damon Hofman, P. Abrahams, S. Wiese, D. le Kay, A. Jansen, J. Muller, W. Steven,

D. Verhoog, A. Swanepoel, M. Pekeur, M. Hartman, C. Jansen, D. Franse, H. Jansen,

J. Persence, I. Rudolph, N. Afrika, Alex Muller, J. Swanepoel, P. du Toit, H. Paulse, T. Hendricks, M. Fluks, C. de Koker, J. Wmdvogel, F. Stallenberg, C. de Koker.

LERAARS :     Ds.. J. W. Carstens, J. D. A. Conradie en F. P. du Toit Visser

Kerkraad wat gedien het by aanvang van bouprojek

Agter : V.l.n.r. : A. Willemse, H. Jansen, A. Strydom, J. Persence, P. du Toit, J. Swanepoel, F. Stallenberg, D. Hofman, M. Fluks, M. Hartman, J. Windvogel, J. Johnson. Middel : A. Fortuin, H. Paulse, K. Adams, J. Booysen, K. Adonis, J. Visser, S. Scheepers, K. Herder, A. Jansen, C. Jansen, D. Pekeur, A. Swanepoel, J. Blaauw, A. Robain.

Voor : M. P. Andries, F. du Toit, ds. en Mev. J. D. A. Conradie, ds. en Mev. J. W. Carstens, A. Pekeur en J. Theunissen.


DIE KERK WAT ‘N MUSEUM GEWORD HET
deur Heinie Heydenreich
verskyn in die Montagu Mail Mei 2005

Die sierlike gebou wat vandag die Montagu Museum huisves het oorspronklik aan die NG Kerk behoort. Die gemeente van die NG Sendingkerk het in 1891 tot stand gekom. Voor daardie tyd het bruin Christene of aan die NG gemeente Montagu of aan die Anglikaanse gemeente St Mildred’s behoort. In die vroeë dokumentasie van die NG gemeente is daar heelwat verwysings na gekleurde lidmate. Toe die NG Sendingkerk in 1891 gestig is moes daar ongetwyfeld nog sulke lidmate gewees het. Na die stigting van die gemeente is dienste tydelik in ‘n kleinsaaltjie gehou totdat die kerkgebou in 1907 ingewy is.

Die kerkgebou in Langstraat het mettertyd in onbruik geraak omdat die meeste lidmate ver daarvandaan, noord van Badstraat, gewoon het. Daarom het die gemeente besluit om ‘n nuwe kerkgebou op te rig. Dit is die gebou op die hoek van Buitekant- en Baniestraat wat in 1970 in gebruikgeneem is.

Intussen het die Reklamevereniging in die sestigerjare probeer om ‘n museum vir Montagu tot stand te bring. In 1973 het ‘n komitee onder voorsitterskap van mev. Esther Hofmeyr tot stand gekom met die doel om die Sendingkerkgebou, wat toe al geruime tyd leeg gestaan het, in ‘n museum vir die dorp te omskep. Uiteindelik het die plaaslike munisipaliteit daarin geslaag om die gebou vir gebruik as ‘n museum te bekom. Met die entoesiastiese samewerking van Blackie Badenshorst en die steun van die publiek het die plan geslaag. Mev. Hofmeyr het vir sewentien jaar, tot 1990, voorsitter van die Museumraad gebly.

Die dames van die Reklamevereniging het dadelik begin om klein hoeveelhede antieke meubels te versamel, waarvan sommige op bruikleen van die plaaslike inwoners was. Hieronder was ‘n versameling 18de en 19de eeuse Kaapse stoele van mnr. Paul Roux van Ashton. Met behulp van die plaaslike bibliotekaresse is die geskiedenis van Montagu deur middel van foto’s, dokumente en voorwerpe uitgebeeld. In Mei 1975 is die museum ampteiik as ‘n provinsiaal-ondersteunde museum geopen Mev. Blackie Badenhorst was die eerste kurator. Die gebou met sy neo-Gotiese elemente is in 1976 tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Dit is deur Charles Roberts en Christiaan Nothling gebou.

Oor die jare is die museumversameling aangevul. Die ou preekstoel met sy kanselkleedjie is nog steeds daar te sien, asook die eerste orreltjie van die gemeente Hierdie orreitjie is in 1899 deur die NG gemeente vir £10 aan die NG Sendinggemeente verkoop toe eersgenoemde ‘n nuwe orrel aangeskaf het. Daar is ook ‘n foto en musiekinstrurnente van ‘n orkes wat gereeld in die kerk gespeel het. Afgesien van meubelstukke is daar ook skilderve en tekeninge te sien van François Krige, wat dekades lank in Montagu gewoon en geskilder het, asook sketse van ‘n bekende sporttekenaar T.0. Honiball, wat na sy aftrede ‘n aantal jare hier gewoon het. Ook te sien is ʼn uitstalling oor die bekende firma Brink Broers wat tot die sewentigerjare so ‘n prominente rol in die dorp gespeel het, asook oor die mediese praktyk van dokters Charlie en Isabel Muller wat lank hier gepraktiseer het. ‘n Aantal trou- en ander rokke deur ‘n bekende kleremaakster van Brink Broers maak ook deel van die uitstalling uit. En natuurlik is daar ook gedroogde kruie te sien en medisynes wat van kruie vervaardig is te koop.

Die museum speel ‘n uiters belangrike rol in die bewaring van dokumentasie en foto’s omtrent Montagu en sy geskiedenis.


MONTAGU MUSEUM SE METAMORFOSE
deur Emile Badenhorst
verskyn in die Cape Librarian Maart/April 2019 uitgawe

Die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport het twee jaar gelede fondse bewillig om die ou Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (vandag die Montagu Museum) ‘n volslae rigtingsverandering te laat ondergaan.

Die verhaal van Montagu se pragtige ou Sendingkerkie, geleë in die midde! van die historiese Langstraat, is ‘n bekende een wat al in vele ander plattelandse dorpies deur die land afgespeel het. Die lewensverloop in die afloop na die glansryke opening van die kerkie meer as ‘n eeu gelede is geensins ‘n storie van slegs voorspoed en geluk nie. Inteendeel – soos die geval van baie ander ou kerke – was dit meer ‘n geval van “regte plek, verkeerde tyd”.

As ʼn slagoffer van die hersonering soos bepaal deur die Groepsgebiedewette het die Sendingkerkie vir ‘n aantal jare in die vroeë 1970’s leeggestaan. Die vrolike kinderstemme van weleer was vir ewig stil; so ook die gewyde Siongesange en die dominee se stem wat vehewe tot teenaan die hoë plafonne en elke oor kon spreek. Mettertyd is die verlate ruimtes gevul met die sporadiese gefladder van duifvlerke, met verder net die stilte, die gras wat geduldig elke krakie vul, die geruislose klank van ‘n geut wat wegtrek van die muur – en die sagte geritsel van verf wat aan die afskilfer is.

Vader Tyd was maar net een van die kerkgebou se skuldeisers. Vandale het ook sporadies begin toeslaan; eers net snags, maar mettertyd onbevange en helder oordag.Van die kerkbanke het begin voete kry; later het enigiets gemaak van koper en yster deurgeloop – en kort voor lank was Montagu se pragtige ou Sendingkerkie, die eens trotse dorpsbaken met sy Gotiese afwerking en die vlekkelose wit mure gekontrasteer teen die blou bergpieke se donker buitelyne as agtergrond, sy geskiedenis kwyt – en sy toekoms ietwat onseker.

Die Museum

In 1975 kry ‘n paar geesdriftige inwoners van die dorp toestemming van die plaasiike munisipaliteit om die Sendingkerkie oor te neem en in te rig as die dorp se eerste volwaardige museum. Oor die volgende paar dekades is die kerk se binne-areas in vertoonlokale omskep en ingespan om die algemene geskiedenis van die Klein-Karoose dorp uit te stal. Tot en met die vroeë 1990’s het die rangskikkings hoofsaakiik bestaan uit swaar en donker ou Kaapse meubels en kaste vol porselein en erdewerk; daarmee tesaam ‘n oorsig van die belangrikste eertydse besigheid van die dorp soos die befaamde Brink Broers Bpk.-sakeryk; ‘n kas gevul met sportprestasies van die plaaslike hoërskool se leerders (tot en met 1995); portrette, stambome en eertydse besittings van die ouer en meer gevestigde families uit die boerderygemeenskap – die Jordaans, Jouberts, Burgers en die Kriels.

Die oorblywende oop ruimtes rondom die kerkie is gevul met waens, parsmasjiene, wasgoedbalies en halwe wynvate. Soos die meeste klein museums van die tyd is amper enigiets (maar alte dankbaar) aanvaar wat na die museum toe aangedra is, Oor die jare het ‘n versameling sodoende ontstaan wat gewissel het van Tannie Koot se eietvdse naaldwerkspeldekussing, gemaak uit ‘n dennebol en verbleikte meelsak, tot die eerste industriele masjien in die land wat ontwerp is vir die verpakking van appels; tot die makabere Lee-Metford-geweer waarmee konstabel Jurie Dreyer die voortvlugtige skaapdief en moordenaar Koos Sas op die plaas Droodaap naby Springbok in 1922 doodgeskiet het.

Montagu Museum is gaandeweg gereken as een van die aktiefste klein museums in die ou Kaapprovinsie, met ‘n Vriende van die Museum-lidmaattelling van by die vierhonderd ywerige mense wie se hande vir byna niks verkeerd gestaan het nie.

Sedert die museum se ontstaan is projekte aangepak, fondse ingesamel om nog geboue aan te koop en te restoureer, ‘n kruietuin te beplan en uitlê, uitstallings is gedoen …. met ʼn versameling wat tussendeur en byna ongesiens bly groei het.

En tog kon die fyn waarnemer dit nie verhelp om deurentyd bewus te wees van die byna ongemaklike teenwoordlgheid van die keurig-gekose artekfakte wat binne-in die ou Sendingkerkie uitgestal is nie. Die teenstrydigheid van ‘n eenvoudige kerkie met gemeentelede wat swaarkry geken het wat nou onweerlegbaar gevul was met glaskaste vol breekware van die fynste Victoriaanse porselein, die elegantste Kaapse geel en stinkhouttafels. Die glaskaste is gevul met blinkgepoetste mediese toerusting – ʼn mengelmoes van herkomste saamgeflans om tot die verwondering van die oningeligte dorpsvreemde besoeker te spreek.

In skrille kontras met bogenoemde was die sogenaamde “Boesmankas” – vol diervelle, klippe, pylpunte en ‘n gegiete namaaksel van ‘n rotstekening waarop pyl-en-boog-jagtertjies sorgvuldig geverf is. Die kas staan eenkant, reg langs ‘n deur wat na die ou konsistorie gelei het, nie ver van die oorspronklike preekstoel, orreltjie en die geverfde kanselteks teen die muur nie – in stilte gehul en treffend geleë regoor die voordeur aan die Langstraatkant.

Die nuwe uitstalling                                                                                                                           –

Die nuwe permanente museumuitstalling wat in Junie 2019 open, het ten doel om die nagedagtenis van die kerk se afgestorwe lidmate te bewaar. Dit sal die opgewondenheid uitbeeld van ʼn klein gemeente wat op 24 November 1907 vanaf die ou saaltjie in die middel van die dorp – wat eers vir kerkdienste gebruik is – simbolies tot voor die blinkgeverfde voordeur van die nuutgeboude Sendingkerk gestap het. Die groepie het die somerhitte getrotseer en vir ‘n wyle in doodse stiite gewag dat die plaasiike NG-leraar, ‘n baie jong Dominee D.F. Malan, die voorreg kon hê om die eerste te wees om die blink sleutel in die deurslot te iaat kraak.

Die nuwe permanente uitstalling dui ook op ‘n beleidsrigtingverandering wat fokus op die toekomstige uitbreiding van die versameling en die navors van spekifieke subtemas wat daartoe spreek. Daar word gestreef na ‘n meer inklusiewe uitbeelding van die kerkie en sy voorslagtelike gemeentegeskiedenis en verweef met die rol wat die Khoekhoe gespeel het in die ontwikkeling van die streek.

Die kronkelpad tussen Montagu en Ashton staan vandag bekend as Cogmanskloof. Dit is vernoem na die Cochequas – ‘n stam wat intertyd deur Van Riebeeck aangeteken is in sy dagboeke kort na sy koms aan die Kaap. Hierdie groep was eers in die Saldanha-area woonagtig, maar het in die 1770’s gevestig in die Langeberg area. Hulle was die eerste mense wat daar, tussen die klowe en teen die kranse random die Klein-Karoodorpies, hul spore onbaatsugtig kom los het. ‘n Ou volk wat die heligheid van dit wat op die vlaktes en in die dieptes onder die aarde gewoon, omarm het. Hulle rituele was ineengevleg met die natuur. Tekens van die Khoekhoe-kultuur is vandag nog te sien op die banke van die Keisierivier, wat deur die dorp kronkel.

Die Khoekhoe het altyd geweet waar die vetste wild op die vlaktes wei en die beste wilde plante op die hoogste koppe en diepste klowe groei. Hulle het ook geweet hoe om dit te oes en hoe om dit te gebruik. Kennis van hierdie medisinale plante is oorgedra van geslag tot geslag.

Vandag word die magdom inligting omtrent inheemse medisinale kruie weergegee in die publikasies wat die museum se argief beskikbaar is. Die Montagu Museum het oor baie jare sinoniem geword met die navors en verkoop van kruieprokukte. Hierdie kruiereeks is onlangs nog verder uitgebrei en die inwin van inligting oor die gebruik daarvan word steeds sorgvuldig geboekstaaf. Die museum se bestuur het tydens ‘n beplanningsvergadering aan die einde van 2018 onderneem om in Junie 2019 die heel eerste Montagu Museum Kruiefees van stapel te stuur. Die span is oortuig dat so ʼn aanbieding van jaar tot jaar sal groei en belangstelling oor die gebruike van kruie onder geesdriftiges verder sal aanwakker Sprekers van oraloor gaan genooi word, kruie-stalletjies gaan die museumperseel volstaan en boeke oor kruie sal bekendgestei en bespreek word. Daar sal ‘n item vir iedereen op die program wees.

Nuwe tema

Daar is ook betreklik onlangs begin om mense wat deel was van die ou kerkie se gemeente se stories op te neem. Dit sluit in staaltjies van Oom Hansie die koster wat geduldig met die klok se ketting in die hand gestaan en wag het as hy die laaste paar kinders doer om die hoek sien aankom; die diakens wat altyd so ernstig en stil (en regop) heel voor in die kerk moes sit; en die tannies met die hoede van allerlei kleure op die kop. Tydens Erfenisdag 2018 is ‘n spesiale diens in die Sendingkerk gelei deur Dominee Reggie Boesak, ook die stamhoof van die plaaslike Hessekwa. Die ou gemeente is as spesiale gaste genooi. Die preek en ou Siongesange is opgeneem, asook staaltjies deur van die ouer lede oor die herinneringe van die kerkie.

Tydens navorsing oor die eeufeesherdenking van die Groot Griep van 1918, is dokumente opgediep oor hoe die Sendingkerk ingespan is om as hospitaal op die dorp te dien, Honderde mense is op die houtvloer behandel, terwyl heelwat ook daar oorlede is. Bewyse is gevind van hoe inheemse medisinale kruie ingespan is om die “swart epidemie” mee te beveg. Bogenoemde word eersdaags deel van ‘n nuwe permanente uitstalling, wat die tema van kerkmuseum terugneem na sy oorsprong, naamlik die storie van ‘n Sendingkerk en sy mense.

Nuwe bestuurder

Die nuwe bestuurder, Emile Badenhorst, het op 1 Februarie 2018 die leisels by die museum opgeneem. Hy het sy loopbaan in die museumwese in die Oos-Kaap begin. Hy beskou dit ʼn voorreg om na presies dertig jaar terug te wees in die dorpie waar hy groot geword het en ‘n roeping om die horlosie van die verlede se wysers terug te draai, selfs al is dit ‘n verlede waarvan die seer nog wys. Die wonde van apartheid is nog onder die ouer lede te sien, hoewel die kerk op verenigende wyse die moeilike jare vir hulle draagliker gemaak het.

Die personeel van die Montagu Museum is ‘n kreatiewe groepie geeste wat mekaar deurgaans aanmoedig om deur middel van ‘n verskeidenheid bewusmakingsprogramme die dorp en sy mense betrokke te kry by die museum. Nuwe intrekkers sowel as gevestigde burgers word geteiken.

Die afgelope paar maande het heelwat veranderinge plaasgevirid. Die rondskuif van meubelmente het tot gevolg gehad dat voldoende ruimte in die ou konsistorie geskep is om ‘n winkel op die perseel in November 2018 te open wat snuisterye soos kruieteemengsels, boeke, aandenkings en handwerk van plaaslike kunstenaars te koop aanbied.

Hierdie evolusionêre skuiwe dra almal by tot die metamorfose van Montagu se nuwe-ou Sendingkerkiemuseum. Eersdaags, presies vyftig jaar nadat die ou gemeente hul kerkie moes verlaat, sal die gewyde, eertydse ruimte weer lewe gegee word – met die doel dat ou gesigte weer hul stem sal vind en stories hervertel sal word aan ‘n nuwe, groter en meer diverse gehoor. Dit alles in die wonderskone kerkie wat eens in donker gehul was, waar die koper kandelare weer gepoets en die vetkerse aangesteek sal word, die preekstoel afgestof en geolie sal word; oom Hansie de Koker se kerkklok sal weer beier en die Siongesange sal weereens die kerkie se longe met lewe vul.


Click on the link below to read more about the first person of colour to be appointed as Head of the Mission Church School in Montagu / Klik op die skakel hieronder om meer te lees oor die eerste persoon van kleur wat as Hoof van die Sendingskool in Montagu aangestel is.

https://montagumuseum.co.za/?s=Theys


image_pdfDOWNLOAD PDF