116.Mense van Montagu: ʼn Dominee se seun

image_pdfDOWNLOAD PDF

Updated: 29/10/29

en so begin die storie

Ek is Flip Scholtz en het jou epos adres by Anelma Oosthuisen, ook vroëer van Montagu, gekry.

Sy het aanbeveel dat ek my herinneringe van Montagu met jou moet deel, aangesien jy betrokke is by die museum.

My vader was ds. Scholtz, wat van 1964 tot 1970 ‘n predikant in NG Kerk Montagu was.

Ek het in daardie jare daar skoolgegaan in die ou laerskool, wat nou die munisipale kantore is, voordat die ouetehuis nog opgerig was.

Dit was van die lekkerste jare in my lewe. Skoolwerk was toe nog maklik sonder rekenaars en vrugte was volop en goedkoop.

Ek was net een kwartaal in die hoërskool in 1970, voordat ons toe verhuis het na Milnerton, Kaapstad, waar ek nou nog bly as afgetrede staatsamptenaar, nadat beide my ouers al oorlede is.

Hieronder is ‘n gedeelte waar ek van hierdie tyd op Montagu vertel en daar is so baie herinneringe, wat ek nou kan deel, danksy die moderne tegnologie.

Daar is nog baie meer wat ek later wil vertel, maar vir nou sal ek eers volstaan met die gedeelte hieronder:

Oom Koos Boekies was van die Koo en ek was toevallig by in Aero winkel en het gesien hoe hy op die boek koop.

Die Aero Kooperasie Badstraat Montagu. Die gebou staan nog. (2024)

Foto: Montagu Museum

Mnr. Winterbach, was bestuurder van Aero Köoperasie en het in Le Roux straat gewoon in die grasdakhuis, waar mnr. Schabort, eerste hoof van die ou hoërskool, eers gebly het.

Daar was drie Winterbach kinders. Tobie, hy was my ouderdom, dan sy ouer suster Marlene en sy het baie klavier gespeel. Sy jonger sussie was Susan.

Reg oorkant hulle het Bennie Erlank gebly, ook ‘n maat van my.

Ek onthou ook nog van ‘n ou oom Sandjie Kriel, wat toe al in sy 90’s was en ek dink hy het na Derdeheuwel se kant toe gebly.

Ek onthou van ‘n seun in ons skool, Frans Veldsman, wat by die Montagu Baths dood is, toe hy van ‘n rots af ingeduik het in die water in.

Ek onthou van die tyd voor die groot vloede van 1981, toe Lovers Walk (deurgang vanaf die oudam/Montagu-Wes na Montagu Baths) nog ongeskonde was, met al sy pragtige plantegroei en groot bome.

Lovers Walk

Ek onthou van die man wat altyd op ‘n Saterdag oggend met ‘n klok in die strate geloop het en terwyl hy die klok lui, skree hy: “Football, Rugby, Montagu teen Robertson, Football, Rugby!”.

Ek onthou van die poskantoor, waar daar nog aparte ingange en bedienings lokale was, wat gemerk was: Europeans en Non Europeans, Blankes en Nie Blankes, ingevolge die apartheids wetgewing van destyds.

Die Poskantoor

Fotos: “Transnet Heritage Library Photo Collection”

Ek onthou dat op ‘n Saterdag oggend ons voordeur klokkie lui, toe ek alleen by die huis was. Ek maak toe die deur oop en daar staan ‘n boere omie, met ‘n sinkbad vol vrugte, perskes (Kakamas en taaipit geelperske) en hanepoot druiwe, met groot korrels. Die oom vra toe: “Boet, waar is jou pa?”. Ek antwoord dat hy op huisbesoek is en die oom sê dat ek vir my pa moet sê dat die vrugte kom van oom Manie af.

Ek onthou hoedat ek met my nuwe silwer chroom 26 dikwiel fiets, met spoed teen die afdraand in Kohler straat afgery het en toe nie my draai in Piet Retief straat kon kry nie en toe heel onseremonieel ter aarde gegaan het op die sypaadjie en nerf af was.

Ek onthou van ‘n oom, Eve Basson, wat in Du Toit straat gebly het en wat groot hokke met voêls gehad het, onder andere ‘n groot aantal kleurvolle budgies, waaraan ek my kon verkyk het.

Die ouetehuis, Huis Uitvlugt, is opgerig, net voor ons weg is uit Montagu. Dit staan oorkant die ou laerskool, wat nou munisipale kantore is. My vader was ook betrokke met die beplanning, oprigting en inrigting van hierdie ouetehuis.

Huis Uitvlugt Badstraat 2010

Ek onthou hoedat ek dubbele longontsteking (kroep) ontwikkel het, kort nadat ons in Montagu aangekom het. Ek kon nie asem kry nie en het gevoel ek gaan dood. My pa het met my deurgejaag, af in Kerk straat tot by die nuwe hospitaal in Montagu Suid. Ek was nou en dan bewusteloos. Toe ek weer sien, lê ek in ‘n suurstoftent en my pa en dokter Oosthuizen staan en kyk vir my. Ek is toe onmiddelik in die teater in en my mangels is uitgehaal. Ek was toe nog vir ‘n week in die hospitaal, met ‘n seer keel en het elke dag ‘n seer penicillin inspuiting in my boud gekry. Daarna is ek uit die hospitaal en het tot vandag toe nog, nooit weer enige probleme in die verband gehad nie.

Montagu Hospitaal

Fotos: Google Street View 2010

Ek onthou dat ek altyd boeke by die biblioteek uitgeneem het. Dit was die reekse, bv. Trompie en die Boksombende, Lt Fritz Deelman, Sias en Mias, Die vyf Uile van Kranskop

ens. Dan het ek op my bed gelê en die stories gelees, terwyl ek heerlik gesmul het aan al die vrugte, wat gereeld by die pastorie afgelewer was.

Toe was daar nog nie al hierdie elektroniese video speletjies nie en ek en my maats het nog lekker cowboys en crooks gespeel in die groot tuin, waar ons lekker kon wegkruip.

Op laerskool was daar ook ‘n oubaas Smit, wat rugby afgerig het. Hy was kostelik. Sy bynaam was ou Smittie. Hy was so erg oor sy rugbyspanne, dat ons op die Vrydag voor die wedstryd in sy klaskamer moes byeenkom, vir ‘n span praatjie. Dan vra hy ons om sommer daar in die klaskamer, in ons skoolklere, ‘n skrum te vorm, sodat hy kan sien hoe dit lyk. Hy was maar moeilik met afrigting op die veld. Hy sal bv. al om ‘n losskrum loop en ons slaan met ‘n riempie, wat aan sy fluitjie vas is, terwyl hy sê: ‘’ In daar, in daar. Ek sal julle neuk totdat die bal uitkom!”. As ons te veel in die skrums gepraat het, het hy ons van onderaf ‘n dwarsklap gegee en gesê: ‘’ Hou julle bekke!”. As die bal langs die agterlyn af beweeg het, het hy hier van die kant af geskree wie moet wat doen en as die baldraer geduik word, dan blaas hy die fluitje en sê: “Sien jy, jy is nou getakkel, want jy luister nie wat ek vir jou sê nie”.

Ander onderrwysers was mnr. Boshoff, houtwerk, mnre. Frede Joubert, Piet Le Grange, onderhoof, Flippie Basson, hoof en ook die berugte oujongnooi De Jager, vir wie ons maar lig geloop het.

Mnr. Boshoff het houtwerk gegee en as hy uit die klas gegaan het, het hy ons gemaan om stil te wees, want ons word dopgehou deur ‘n rooi oog, terwyl hy wys na ‘n glasbol met ‘n rooi lig, op die elektriese skakelbord en ons het hom sowaar geglo.

‘n Outjie met die van Ford, het my met ‘n papier jet in die musiek klas gegooi en ek het teruggegooi. Juffrou sien ons en stuur ons na die hoof se kantoor vir ‘n pak slae. Mnr Basson, die skoolhoof, het ‘n glaskas met verskillende rottangs gehad, waaruit ons moes kies en hy het ons behoorlik afgestof, met ses van die bestes.

Juffrou De Jager was baie streng en as jy nie jou skoolwerk van die vorige dag kan onthou nie, het jy dit berou. Sy sou jou kop teen die bord stamp, terwyl sy die regte antwoorde aan jou verskaf.

Ek was net die eerste kwartaal van st 6 in 1970 in die nuwe hoërskool in Montagu Suid, maar onthou nog die vlge onderwysers:

Die skoolhoof, Dok Kellermann, wat ‘n waardige heer. Dan ook mnr Herbst, intussen oorlede, mnr Louwrens, die penningmeester, mnr Warnich en mnr Laubscher, wie in beheer was van die skool kadette. Hy het ook vir ons Duits gegee en hy het ‘n streng militêre inslag in sy persoonlikheid gehad. Hy sou die klaskamer binnekom, met ‘n staffie onder sy arm, kompleet soos ‘n stafoffisier en dan moes ons almal opstaan en vir hom sê: “Guten morgen, mein Herr” en dan sou hy sê: “Sets euch!”. Dan moet ons almal sit. Hy sou by jou tafel kom staan en vra dat jy die vervoegings van die lidwoorde in Duits moet opsê en as jy vashaak, dan tik hy met die staffie op jou skouer, terwyl hy jou reghelp. Hy het drie seuns gehad, nl. Kobus, Neels en Gerhard. Neels was in my klas. Neels moes op ‘n Saterdag eers in die groentetuin werk, voordat hy by my kon kom speel. As hy nie reg werk nie, het sy pa vir hom gesê: ‘Neels, ek neuk vir jou!’. As Neels klaar gewerk het, gee sy pa vir hom ‘n mandjie met groente, wat hy vir my ouers moet gee, as hy by my kom speel.

Voor L/R:  mnr. Louwrens, mnr, Laubscher en  mnr. Warnich

Foto: Montagu Museum

Van my skoolmaats van daardie jare kan ek die vlge onthou, nl. Ernie Volschenk {Pikkie} wat in die Oudam (Montagu Wes) gebly het en Willa Swanepoel en Andre Herbst en Neels Nieuwenhuisen en Neels Laubscher, Johan Stemmet, Lana Barrett, Emce Fouche ens.

Toe ons in Joubertstraat gebly het, was daar ‘n ou tannie, mevrou Stegianos, wie skuis oorkant ons, nader na Bloemstraat se kant toe gebly het. Sy was van Griekse afkoms en het alleen daar gebly. Ek het haar dikwels besoek en dan het ons Chinese Checkers gespeel, waarvoor sy baie lief was. Dan het sy my ook vertel van die ewigdurende vyandskap tussen die Grieke en die Turke en dat die Turke  nie altyd so higienies en skoon is nie. Verder het ek heerlik koffie gedrink en koek geëet daar.

Daar was ook ‘n Jordaan gesin, wat skuins oorkant ons gebly het, nader na Kohlerstraat se kant en ek was ook bevriend met hul seun.

Daardie tyd was koeldrank omtrent net in glasbottels beskikbaar en elke koelkas het sy eie “gadget” gehad, waarmee die bottel se proppie afgehaal en in ‘n houer gestoor word. Ek het altyd oor naweke met my fiets by al die kafees omgery en dan gevra vir al die doppies van die verkoopte koeldrankbottels, wat nog in die “gadget” houer was. Ek het dit geniet om al die doppies van die verskillende koeldrank soorte, te versamel.

Daar was 2 bioskope, nl. die Venus, die gebou langs die huidige Shoprite Liquor Shop, skuins oorkant die Avalon hotel, in Markstraat en die Alwyn in Badstraat. Ons het die fliek, Ruiter in die nag, gesien by die Alwyn (deel van Montagu kafee) en al die ou James Bond prente by die Venus bioskoop. Daardie dae was dit nog die ou films wat band op rolle was en wat begin het met ‘n aftelling van 10 tot 1 en waar plaaslike advertensies gewys was.

Venus

Alwyn(Aalwyn)

Fotos: “Transnet Heritage Library Photo Collection”


Ons het op 14 Aug 1964 aangekom op Montagu, vanaf die destydse SWA. Ek was toe 7 jaar oud en in Sub B. Ons het in Montagu gebly tot 10 April 1970. Ek was die enigste kind.

Flip Scholtz

Ek was in die ou kindertuin skool in Joubertstraat en daarna in die ou laerskool, in dieselfde straat, maar wat nou munisipale kantore is. Oorkant die skool was net ‘n oop stuk grond, tot onder by die natuurtuin in Badstraat. Die ouetehuis is toe later daar gebou.

Die Kindertuin

Foto: “Transnet Heritage Library Photo Collection”

Die ou laerskool. Die klaskamer op die linkerkant voor op die hoek, is waar baie van ons klasse was.

Foto: Montagu Museum

Die ou hoërskool was nog daar, maar nie meer in gebruik nie. Ek het self daar gaan kyk

Foto: “Transnet Heritage Library Photo Collection”


Ek onthou ook nog goed vir Ben van Deventer, alias Ben Koster. Hy en sy pa was altwee kosters by die kerk. Hy het dikwels by ons aan huis gekom en baie stories vertel van Montagu se geskiedenis en sy vroëere predikante. Hy was ‘n goeie mens en ‘n interessante karakter.
Ek onthou nog sy goudkleurige Chevrolet en hy het gewoon net ‘n paar huise weg van die ou laerskool af.
Hy het my pa nog in 1990 kom besoek hier in Milnerton, toe my pa toe (60), op sy laaste was met longkanker.

Oom Ben se huis, Joubertstraat 4 (2010)

Foto: Google Streetview


Ons het ingetrek in die ou Joubertstraat pastorie, wat glo nou ‘n kunsgallery is. Die erf het deurgeloop tot by die boonste straat, Leroux straat en daar was ‘n lemoen boord en ‘n leidam.

Die Joubertstraat pastorie 1981

Foto F/B blad: Montagu – Het jy hier grootgeword of gekuier of hier skoolgegaan?

Die Joubertstraat pastorie. Dit is die huis, waar ons gewoon het, van 1964 tot 1966.

Foto: Google Street View 2010

My moeder sit voor in die tuin van die Joubertstraat huis in 1965.

Ons het toe in September 1966, as eerste inwoners, ingetrek in die nuut geboude pastorie in Piet Retief straat, skuins oorkant die kerksaal. Daar was blykbaar vroëer barakke vir oud soldate op hierdie erf, voordat die huis daar gebou was. Fotos hieronder.

Die huis, soos hy gelyk het in die sestigerjare.

Die huis het ook ‘n mooi tuin gehad, vanwaar ‘n mens die kerk kon sien.


My vader was toe beroep as medeleraar van die NG Kerk, saam met ds Jaap Weideman, wat toe in die historiese pastorie in Rosestraat gebly het en wie se twee seuns, Charl en Louwrens, so goed tennis gespeel het. Later het ds. Leon Steenkamp ook by hulle aangesluit.

Rosestraat Pastorie

Foto: Montagu Museum

Daar was toe ook ‘n ds. Jan Carstens, leraar by die NG sendingkerk daar. Hy was ‘n goeie huisvriend van ons en ek het ook by hulle kinders gaan kuier. Ander sending leraars, wat later daar aangesluit het, was ds. Portwig en Visser.

Ds. Jan Carstens het soos ons, later na die stad verhuis, waar hy leraar van Bellville Noord gemeente was. Hy het later my vader se begrafnisdiens by Sonnekus gemeente in Milnerton, waargeneem in 1991. Hy is ook intussen oorlede.

Die Carstens gesin op Montagu in die laat sestigerjare.

Agter van links na regs: Johan, die oudste seun, Christa, Dirkie, Wilna en Anneli, die oudste dogter.
Voor links staan Francois (oorlede), ds. Jan Carstens (oorlede), Naomi, die jongste en langs haar sit mevrou Stienie Carstens (nooiensvan Mans).

Ek heelagter, met klein Naomi heel voor, dan Francois en dan Dirkie Carstens, by hulle huis in Unie straat.


Die tweede foto onder is, geneem in die Cogmanskloof, waar ons op 10 April 1970, Montagu verlaat het. My moeder sit in die silwergrys Holden Premier en my vader stap links, met ds. Weideman regs, as laaste afskeid, na die Consul Classic motortjie, wat my vader sou bestuur na Kaapstad.

Ds. J.A.C. Weideman

21 Oktober 1960 – 6 Februarie 1977

Foto: John Alexander

Ek onthou ook dat my vader in 1969 die nuwe ses silinder 3.77 liter Holden Premier (bo) by Brinks Garage gekoop het, vir +- R2, 700, maar die motor het van die begin af probleme gegee met sy ratwisseling. Die rathefboom was langs die stuurwiel en is dmv twee lang stawe met die ratkas verbind, binne die masjien kompartement. Hierdie stawe het soms oorkruis getrek en kon dan nie verder beweeg nie en dan kon daar nie verder ratwisseling plaasvind nie. My vader het gedreig om sy tjek, wat uitgemaak was aan Brinks Garage, te stop. Hulle het toe ‘n werktuigkundige van P.E. af ingebring, om die probleem uit te sorteer. Daarna het dit beter gegaan, maar die motor het nog steeds nou en dan dieselfde probleem gehad en vasgehaak in ‘n rat. Dan moes my pa stilhou, die masjienkap oopmaak en die twee stawe van mekaar af los wikkel, voordat hy verder kon ry.

Ek en my ma Marie Antoinette (Babsie) en pa Philippus Lodewikus (Flip) Scholtz. Die foto is geneem, toe ons op hierdie dag van 10 April 1970, in Milnerton aangekom het, vanaf Montagu.


50ste matriek reünie

Hierdie einste groep was onlangs by die Montagu hoërskool, waar hulle hul 50ste matriek reünie (1974 matriek klas) gehad het. Ek is so spyt dat ek dit gemis het, want ek was ook deel van hierdie groep.
Die matriek reünie foto, op die trappe voor die hoofingang van die Montagu Hoërskool, is as volg:

Heel agter van links staan Febbie vd Merwe en Vicci le Roux
2de ry van links, Sheila Brooks, Hennie Vermeulen, Ligia Goncalves en Joey Swanepoel
Voor sit van links Emce du Toit (Fouche), Suna Batt, Lorette Knipe, Isak en Van Zyl de Villiers.


Wat se Paul Fouche? (2024)

Dit was nou suiwer genot, dié terugloop op ou spore! Baie dankie vir dié besondere herinnerings! Ek onthou ds. Scholtz in sy Mercedes met die linkerhandstuur wat hy nog uit Namibië saamgebring het. Was glo ‘n geskenk van die gemeente daar as ek nou reg onthou. Ds. Scholtz het al in die Piet Retiefstraat-pastorie ingetrek toe die Mercedes een oggend, neus in die lug agter Brinks garage se insleepvoertuig voor ons huis verby is. Ek het omtrent verneem wat nou so ‘n luukse motor kon oorkom. Sover ek kon vasstel, het die masjien vasgebrand. Dit was seker die rede vir die aankoop van die Holden met die halsstarrige rathefboom.

Mnr. Laubscher as Duits-onderwyser het my verstom. Vir ons was hy die gevreesde Boekhou-onderwyser en kadetoffisier. Verbasend goeie Duits-onderwyser het ek van sy leerlinge verneem.

Ai, ou Montagu – soveel heimwee!


Alle foto’s verskaf deur Flip Scholtz, tensy anders vermeld.

image_pdfDOWNLOAD PDF