117.’n Pienk Polisievangwa
Updated: 22/10/2024
‘n Paar karakters en motors uit Montagu se verlede
Die Storie begin op Facebook: “Montagu – Het jy hier grootgeword of gekuier of hier skool gegaan?”
Ina van Wyk pos die volgende vraag
Naand, Montaguers. Ek wonder wie van julle kan onthou dat Montagu ‘n pienk Polisievangwa gehad het? (Vroeg sestigerjare) Dit was ‘n stasiewa met ‘n draad afskorting tussen die bestuurder en die mense agterin. Die mense het dit die “nylon” genoem. My man onthou Citrusdal het dieselfde gehad. Net ‘n bloue. My neef, Danro Swanepoel, sê hy onthou ook die pienk vangwa.
Flip Kriel: Ja ek onthou die pienk vangwa. Toe dit sy verskyning maak, het die mense gedink dis ‘n grap of ‘n fout. Ons het nooit gewoond geraak aan die ding nie – dit was net te verdomp snaaks.
Ironies genoeg het die polisie op Montagu voor die pienk vangwa ‘n pikswart “van” as vangwa gehad. As jong seuntjie was ek vir die een of ander rede vrekbang vir die scary swart ding wat sommer so uit die niet (soos dit vir my gevoel het) verskyn het.
Deon Van Deventer: Ja ek onthou! Dit was inderdaad snaaks en totaal vreemd.
Johnny Verreynne: Ons plaas was in die Karoo-distrik (Oubergpad) geleë. Op ‘n dag was dit vir my pa nodig om die polisie uit Montagu uit te roep. Ons het ‘n probleem gehad met mense wat naby ons plaas woon wat dagga verkoop. Die verlate plaas waar die dagga verkopers gehuisves was, was omtrent 6 km van ons af. Die pad soontoe was baie swak. Sers. Human het in die pienk polisievangwa verby ons plaas gery oppad na die daggaverkopers se plaas. Binnekort was hy terug by ons plaas en ons kan sien hy was baie ongelukkig. Hy het gesê die pad na die daggaverkopers was onbegaanbaar vir die pienk stasiewa en sy hoof sal hom kwalik neem as hy die voertuig daar laat breek.
My pa het hom by sy hoof in Worcester rapporteer dat hy nie sy werk kon doen met die stasiewa nie. Dit was nie lank daarna nie en hy het ʼn bakkie as vangwa gekry en die stasiewa was weggeneem
Anelma Oosthuizen: Nee ek weet net van die swart vangwa en ons het dit die Black Meraai genoem
En wat was aan die gang in die Koo ?
Die engels-afrikaanse woorde van vroëer jare.
GERALD BATT: Dit klink vandag seker baie snaaks en ongeletterd, maar vroëer jare toe Afrikaans nog maar ‘n baie jong taal was, is sekere woorde direk in engels uitgespreek. Dit het nie snaaks geklink nie, want almal het dit so geken en presies geweet wat jy sê. Hier is ‘n paar wat in gebruik was. Baie van hierdie woorde word vandag nog net so gebruik:
Montagu het op ‘n stadium ‘n ligbruin polisie vangwa gehad het en almal was bang as hulle die vangwa sien nader kom. Ek onthou as die polisie met die bruin vangwa in die Koo aangekom het, het die plaaswerkers gevra: daar kom die ‘tjoklit’, wie het nou weer ‘moeligheid’ gemaak?
Die afrikaanse benamings vir die meeste voertuigparte en ander goed was redelik onbekend. Die engelse woorde was dikwels gebruik en was aanvaar as die spreektaal van weleer.
Ek onthou baie goed toe my pa vir ons bruin voorman ‘n sakhorlosie gekoop het sodat hy kon weet wanneer sekere goed afgehandel moes word. Hy het altyd gesê hy hou die horlosie in sy “pocket” sakkie. Dit is nou die klein geldsakkie wat mens vandag nog in baie mansbroeke kry.
Hy het ook ‘n ou afslaankap Chev motor gehad en oppad vanaf die Koo eendag, glip die rathefboom onder by die ratkas uit en kon hy nie weer die ratte kry nie want die “gears” (ratte) het glo oor mekaar geklim. Hy sê toe dat hy die kar oor ‘n sloot langs die pad gestoot het en sien dat die “gear lever” (rat hefboom) onder by die “gearbox” (ratkas) uitgehak het en kon hy dit darem weer regmaak en verder ry.
Ek onthou nou nog die dag toe ek my ‘liksens’ gekry het. Ek het seker nie twee km gery nie toe vra die man wat my toets om met die vragmotor vol bakstene teen die Bergsug bult te stop en weg te trek. Ek doen alles perfek sonder dat die vragmotor agteruit beweeg.Net daar sê hy ek kan maar omdraai en my ‘liksens’ by die magistraatskantoor gaan kry. Daardie jare het elke boerseun van baie jongs af geleer bestuur.
ADAMUS STEMMET vertel ook dat hy op ‘n “Bicycle” geleer fietsry het.
JOHNNY VERREYNNE: Elke voertuig het drie vorentoe “gears” gehad: “Low, “second” en “top” en “reverse” ook. Party ooms se lorries het nog ‘n extra “low gear” gehad wat sommer die donkie “gear” genoem was.
ADAMUS STEMMET: Die meeste voertuie wat die Koosbergpas (voorloper van Burgerspas) uitgekom het Koo en Laatsrivier toe, het gekook, die Black Meraai ook. Die ou voertuie van weleer was maar baie onbetroubaar en het gereeld langs die pad gebreek. Bo-op die pas moes jy dan stilhou en wag dat die enjin eers afkoel. Dit was ‘n algemene probleem dat die enjins gou warm geword en die “radiator” (verkoeler) gekook het. Dan moes jy maar die “bonnet” (enjinkap) oopmaak en wag dat die enjin afkoel voordat jy weer kon water bygooi (as jy het) en verder ry of gaan hulp soek.
GERALD BATT: Om die battery te laai terwyl jy ry, was daar ‘n “generator” wat die krag verskaf het solank die enjin loop. Die “generator” se borsels het maar gou gedaan geraak en moes van tyd tot tyd vervang word.
‘n Ander probleem oppad was natuurlik die gevreesde “puncture”(papwiel) en die “spare” (spaarwiel) was ook gewoonlik half pap. Dan moes jy maar die “jack” en wiel “spanner” kry, die “tjoep” uithaal en self regmaak as jy “patch” en ”solution“ by jou gehad het. Dit was maar ‘n groot werk wat jou vir lank langs die pad gestrand gehou het.
JOHNNY VERREYNNE: ‘n Ander probleem was ook dat die “fan belt” (waaierband) maklik gebreek het en dan het die “radiator” gou gekook. Jy moes ook maar gereeld “plugs”(vonk proppe) vervang.
GERALD BATT: Surene Burger (Alewyn Burger se vrou), gee eendag vir ons ‘n kissie appels en vertel hierdie kostelike stukkie. Een van die werkers op hulle plaas het nie meer sy vier boonste voortande nie en kan nie ‘n appel daardie eerste hap gee nie. Dan gee hy die appel vir een van die ander werkers wat nog al sy tande het en vra dat dié een net die appel vir hom moet “start” (‘n hap gee) sodat hy weer verder kan eet.
JOHNNY VERREYNNE: Oom Toor de Kock van Keerom het altyd die woord “pappa” in ‘n sin gebruik. Soos bv: pappa, nou rëen dit darem lekker, of ‘pappa’, nou gaan ons darem lekker slaap of eet ens. Hy ry een rëenerige dag by Keerom se passie af en daar gly die lorrietjie en gaan lê op sy sy in die sloot langs die pad. Oom Toor klim uit sonder ‘n skrapie aan hom en bekyk die spulletjie wat nou in die sloot lê en hy sien die hele onderstel. Net daar haal hy die “ghriesgun” uit die lorrie se “toolbox” en sê: ‘pappa’, nou lê jy darem lekker en kan ek by daai “nipples” bykom wat ek nooit kon nie.
ADAMUS STEMMET: Oom Samie Rossouw van Laatsrivier het twee ou Diamond-T lorries gehad. Petrol was skaars en die magistraat het gedurende WW11 moeilik permitte gegee. Oom Samie gebruik toe Voco ( kragparafien) wat die “valves” vreeslik laat aanbrand. Hy ry dan die een terwyl hy die ander een se “valves” weer skoonmaak. So bly hy goedkoop op die pad. Vir die “tappets” wat so ‘n kirrrrr lawaai maak, het hy sommer die openinge met stukkies plaatjies gestel.
JOHNNY VERREYNNE: Oom Hendrik en Piet de Kock van Sandvlei het in die oorlog tyd die karre met Voco gevul en met ‘n trekker aan die gang gesleep. Hulle gaan Worcester toe en solank een sy hare laat skeer ry die ander een al om die blok en kan nie die enjin afskakel nie, anders kry hulle hom nie weer aan die gang nie. Die krag parafien trekkers het jy op petrol “gestart” en as hy bietjie warm geloop het, kon jy oorskakel na Voco.
ADAMUS STEMMET: Hendrik en Piet de Kock van Sandvlei het ‘n ou Pontiac motor gehad. Die “clutch” ( koppellaar) het gebreek en weens die oorlog was daar geen spaarparte beskikbaar nie. “Low gear” was links onder en hulle laat stoot dan die kar aan die gang. Piet moes skuins in die sitplek lè en as die spoed hoog genoeg is, skreeu Hendrik SKOPPPP. Piet moes dan die “gear lever” na regs bo in “second gear” inskop. Ek het as seuntjie soms saamgery en moes klou vir my lewe.
Paul Fouche onthou die pienk vangwa en deel ʼn paar ander dinge
O ja, ek onthou dié vangwa baie goed veral toe ek dit die eerste keer, nog blinknuut, gesien het! Ons het nog op die plaas gewoon en was gewoond aan die ou vaal Chev paneelwa. Ek kan nie meer onthou of dit van die bekende 1941 tot 1948 Chevrolet paneelwaens was of ‘n 1949 nie. Letterlik ‘n toegeboude driekwartton Chev bakkie met geen kantvensters aan die vragkant nie. Dié Chevs, vragmotors en bakkies, was gewoonlik bruin of groen. Pa het ‘n bruin 1941 tonbakkie met ‘n houtbak en valkante gehad. My eerste gewaarwording van ‘n voertuig. Destyds het verf maar gou verbleik en politoer was vreemd vir ‘n werkesel. Die plaaswerkers het bruin en grys voertuie as vaal beskryf. Dis seker die stof van die plaaspaaie wat die swart vangwa vaal laat lyk het. Dink nou net hoe asemrowend vreemd en mooi dié blinknuwe vangwa was! ‘n Pienk 1957 Chevrolet paneelwa met die kenmerkende halfmaan agterligte in die breë chroomomhulsel van die begeerlike sedan. Die voorkant sou slegs ‘n kenner van die sedan kon onderskei, die paneelbord was dieselfde en ook die vindingryke brandstofvuldeksel in die chroomstrook van die agterligvin. ‘n Gedeelte van die chroom het oopgeklap om die vulprop te ontbloot. Willie Rossouw het my nog aan dié wonderwerk bekendgestel toe eerwaarde Rossouw met ‘n splinternuwe 1957 Chevrolet sedan op die plaas opgedaag het. Die 1957 Cheverolet Bel Air was van die motorikone ten tye van “The great American dream” net soos die 1956 Ford Thunderbird. Maandagoggende het juffrou Muller se kêrel haar met so ‘n chroombelaaide wit en geel linkerhandstuur Bel Air voor die laerskool in Piet Retiefstraat afgelaai. Ek en my ou maat, Joepie Conradie van Krakedouw, kon ons verkyk en verluister aan dié asemdief op wiele. Die diep, gedempte geroggel van ‘n rasegte Amerikaanse V8 is steeds musiek in my ore. Dink nou net hoe treffend en ontsagwekkend was dié pienk vangwa vir ‘n ieder en ‘n elk! Wel beskeie gereken teen die Bel Air, maar die afkoms en stamboom was genoeg om die reguitses en starre binneruim te verskoon. Dié pienk Chev het jare lank getrou gepatroleer en ingegryp voor die herkenbare bakkies met al die kentekens oorgeneem het. Kentekens was onnodig op die pienk, onmiskenbare vangwa. Ina van Wyk, tweede jongste suster van Christa, dogters van oom Andries de Jager wat baie jare lank Rietvlei nommer een se winkel en slaghuis bedryf en uitgebou het. Ek en Christa het mekaar van kleuterdae af geken, by die winkel saamgespeel wanneer Pa vir kruideniersware of brandstof moes stop of oom Andries slaggoed kom soek het. Van standerd ses tot matriek klasmaats en later ook studente en koorlede aan die Wellington se Opleidingskollege. Montagu bly maar ‘n bron van heimwee!
Foto’s van soortgelyke voertuie soos Montagu se pienk vangwa van weleer, om darem ‘n beeld te kan vorm van hoe die pienk aardigheid gelyk het, is nie so maklik te vind nie. Suid-Afrikaanse gemonteerde regterhandstuurmodelle se foto’s mag in argiewe van motortydskrifte te vinde wees, as daar nog sulke argiewe bestaan, maar volledige modelreekse van 1957 met kleurfoto’s van gehalte sal ‘n wonderwerk verg. Die internet was my enigste bron met foto’s van Amerikaanse linkerhandstuurmodelle waarvan die meeste al erg onder ombouers deurgeloop het. Min tot geen van die motors is werklik meer oorspronklik nie.
Die pienk kleur wemel van verhale en geskiedenis al is die foto van ‘n pienk paneelwa skaarser as hoendertande. Elvis se pienk 1955 Cadillac Fleetwood Sixty Special was oorspronklik blou voordat hy die motor se kleur na pienk laat verander het. Dié roospienk kleur is Elvis Rose gedoop. Volgens bronne was slegs pienk Ford motors aanvanklik direk van die vervaardiger af beskikbaar, maar dit was eintlik Dodge wat besluit het om pienk motors spesiaal vir dames te maak teenoor die goedkoper, minder kragtige en minder luukse modelle, wat ander vervaardigers stilweg as goed genoeg vir vroumense bemark het. In 1955 het die pienk Dodge La Femme die mark getref met die kleur as Heather rose aangedui. Dalk was die feministe al sterker teenwoordig as wat Dodge besef het, want die La Femme het nie 1957 gehaal nie. Pienk motors was nooit blitsverkopers nie en hoofsaaklik slegs gewild onder glanspersone en bemarkers. Tog altyd iewers teenwoordig, want Elvis Presley, Bruce Springsteen, Natalie Cole en Aretha Franklin het oor pienk motors gesing en Pink Cadillac was Clint Eastwood se 1989 rolprent. Vandag kan ons steeds o.a. ‘n pienk Porsche Taycan Electric bestel, maar sal die kleur as Frozen Berry moet aandui om ‘n pienk Porsche te kry.
Ten spyte van die Amerikaners se beheptheid om ou motors te verander, is daar tog ‘n paar foto’s wat ‘n redelik betroubare beeld bied van Nylon,soos die pienk Chev onder die dorpenaars bekend was. Die kleur, ‘n dowwerige donker, vuilpienk, moet ons maar verbeel.
Die amptelike naam van die paneelwa in Amerika was: 1957 Chevrolet 150 Sedan Delivery. Dit was die sessilinder model met minder chroom en sonder die bekende en geliefde V-vormige chroomafwerking, met gewoonlik ‘n ander kleur, by die agterligte. Agsilinder modelle het ook ‘n kenmerkende V-chroom embleem onder die Chevrolet-naam op die agterluik en die voorneus gehad. Die eerste foto beeld so ‘n 150 paneelwa uit.
Ina Van Wyk: Net die passasierskant en drywer het vensters gehad. Die sypanele het nie vensters gehad nie. Agter was twee deure wat na mekaar toe toegemaak het, en bo in elke deur was ‘n klein ovaalvormige venstertjie.
Foto Nommer 1
Foto Nommer 2
Foto nommer twee bevat die kenmerkende agterlig van die 1957 Chevrolets. Of die truligte by alle modelle standaardtoerusting was, kan ek nie meer onthou nie.
Foto nommer 3
Ek kon net ‘n rooi agterkant vind sonder die chroom V onder die wapen. Ongelukkig ‘n omgeboude model, want die dubbele uitlaatpype verklap ‘n agsilinder ten spyte van die afwesigheid van die aanduiding. Boonop is die wapen, in plaas van die Chevrolet-naam, verdag.
Foto nommer 4
Die neus van die 1957 model op die vierde foto is kenmerkend, maar ek kan nie meer onthou of General Motors SA ‘n meer beskeie rooster gehad het nie.
Foto Nommer 5
Foto nommer vyf toon die agsilindermodel met die V-aanduiding onder die naam.
Foto nommer 6
Op die sesde foto pryk die luukse Amerikaanse model met die Bel Air-masjien en toebehore. Waarskynlik al meer opgesmuk ook. Ook bekend as die Nomad.
Foto nommer 7
Die sewende foto toon die Bel Air tweedeur stasiewa waarop die paneelwa gegrond is. Lyk heel oorspronklik met die geliefde witwalbande van weleer.
Montagu se Black Meraai
Baie ou Montaguers sal ook die “Black Meraai” onthou. In die volgende foto’s wys hoe “Nylon” se voorganger waarskynlik gelyk het.
Die pienk vangwa se voorganger was waarskynlik ‘n 1947 Chevrolet paneelwa, wat die onderstel van die driekwartton bakkie benut het.
In die VSA is dié Chevrolets van 1941 tot 1946 vervaardig, maar ek vermoed ons het plaaslik eers laat 1948 of begin 1949 die model met die horisontale chroomstrepe as rooster gesien.
Die 1941-1946 Chevrolet bakkies en vragmotors was in my kinderdae tot in my jeugjare ‘n bekende gesig op die paaie. Gewoonlik groen, hier en daar ‘n bruine en ‘n bloue as ‘n aardigheid. Die paneelwa was die enigste swart Chevrolet, met dié kenmerkende neus, wat ek ooit gesien het. My Pa se 1941 bruin een ton Chevrolet met valkante was een van dié kanniedood Chevrolets wat boere, kontrakteurs en handelaars betroubaar gedien het. Geen wonder dit was ook die aangewese vangwa wat ‘n dekade se polisiediens kon verrig nie.
Meraai sou beslis nie met chroom wielsierringe kon spog nie!
Montagu se Ambulans
Ina van Wyk, wat die pienk vangwa onthou, het my aan ‘n ander bekende voertuig in Montagu van die vyftigerjare laat dink. Elvis Presley se pienk Cadillac was kleur- en vervaardigerverwant aan die pienk 1957 Chevrolet vangwa, maar nog ‘n glanspersoon het nou weer sterk naam- en vervaardigerverwantskappe met die ander wa gehad – die wit 1956 Ford ambulans! In die VSA was die ambulanse bekend as die 1956 Ford Country Sedan Ambulance of die 1956 Ford Station Wagon Ambulance. Oom Johnny Bredenkamp, wat jare lank ‘n motorherstelwerkonderneming langs Brink Broers op die hoek van Piet Retief- en Du Toitstraat bedryf het, was die ambulansbestuurder.
Wie voor en na hom die ambulansbestuurders was, kan ek nie onthou nie.
Oom Johnny was natuurlik ‘n wyse keuse, want hy kon die ambulans behoorlik in stand hou en gouer agterkom wanneer die Ford aandag nodig gehad het. Die ambulans het meestal by hom in die werkswinkel gestaan sodat hy dadelik op ‘n noodgeval kon reageer. Wanneer oom Johnny moes vetgee, was die dreigende geroggel van die Ford V8 vir ‘n motorbewuste seun soos Tarzan se kreet of die klap van Roy Rogers se vuis teen ‘n booswig se ken!
Daar is ‘n skrale kans dat die ambulans se vorm soos die paneelwa op die foto onder gelyk het, maar die kans is weglaatbaar klein. ‘n Swak foto uit ‘n onbekende rolprent was al foto, van ‘n paneelwa-ambulans, wat ek kon opspoor. Aangesien die 1956 Ford stasiewa, weens die beskikbaarheid van Ford-voertuie, ‘n gewilde ambulans in die VSA en waarskynlik internasionaal was, was boustelle vir dié modelle of voltooide ambulanse waarskynlik maklik beskikbaar. Paneelwaens se veerstelsels, ratverhoudings en afwerking mag baie minder geskik vir ‘n ambulans wees en duurder om aan te pas.
Die vierdeur 1956 Ford sedan (onder), ‘n bekende gesig op ons paaie van weleer, verskyn op die twee foto’s onder. Onmiskenbaar direk famile van die ambulans.
Van familietrekke gepraat, geen motorgeesdriftige sal van die 1956 Ford-modelreeks praat sonder om die ster onder die modelle uit te sonder nie – die 1956 Ford Thunderbird (onder), bekend as die T-bird, met die kenmerkende patryspoort kantvenster van die hardekap. Boonop was ‘n spesifieke raafswart (Raven black) model die tropleier.
Nie sonder rede nie. Dié model het ‘n seilkap gehad met ‘n hardekap wat maklik die seilkap kon vervang wanneer die eienaar dit verkies het. Maar dis nie die rede vir die eiesoortigheid van dié model nie. Ook nie die duidelike ooreenkoms van die agterligte en waarskynlik die V8 masjien met dié van Montagu se ambulans nie. Die foto’s bo verklap die geheim met die MM op die nommerplaat terwyl die tweede foto die geheim heeltemal weggee. Pas getroud bestuur die dramaturg, Arthur Miller, die T-bird met Marilyn Monroe, sy bruid, in die passasiersitplek. En kyk maar mooi na die agterkant van die T-bird. ‘n Trotse ouma se kleinkindoog is nie eers nodig om die familietrekke met Montagu se wit ambulans raak te sien nie.
Marilyn Monroe was besonder gewild na Gentlemen prefer blondes, How to Marry a Millionaire en veral 1955 se The Seven Year Itch met die oorbekende toneel waar die lugstroom van ‘n moltrein deur ‘n luggat haar rok laat opwaai. Die tweede Thunderbird-model het koppe net so laat draai. Selfs Elvis Presley verskyn op ‘n foto agter die stuur van ‘n 1955 Thunderbird, maar dis nie meer bekend of hy, buiten sy 1962 T-bird, nog een van dié begeerlike Ford-legendes besit het nie. Sommige bronne meen dat Marilyn die T-Bird in Desember 1955 as ‘n Kersgeskenk vir haarself gekoop het om haar sukses te vier, ander wonder weer of sy nie ‘n bietjie troos in die blikvanger Ford gevind het na haar egskeiding van die bofballegende Joe DiMaggio nie.
Sommige beweer selfs dat die T-Bird ‘n geskenk van haar sakevennoot en fotograaf in Marilyn Monroe Productions, Milton Greene, was, maar haar liefde vir die T-bird, ly geen twyfel nie. Sy het die motor ses jaar lank besit en, volgens ‘n vriendin, Amy Greene, behoorlik geniet voordat sy dit as 18de verjaardaggeskenk, kort voor haar dood, aan Jason Strasberg, seun van haar dramadosent, Lee Strasberg, gegee het. Na verwisseling van ‘n paar eienaars, is die asemrowende Ford, deeglik en kundig opgeknap, in 2018 op ‘n veiling vir $490 000,00 aan ‘n onbekende versamelaar verkoop.
Dis jammer ons weet nie wat van die verlangse familielid, Montagu se wit ambulans, geword het nie. Het iemand maar destyds die geskiedenis van die wit ambulans en pienk vangwa so deeglik vasgelê!
Ai, die verlore geskiedenis!
Die Verkeerskonstabels
Ek dink ons moet ook iets oor die verkeerskonstabels van Montagu sê.
Sover ek kan onthou, was ‘n verkeerskonstabel volksvreemd aan Montagu. In my hoërskooljare, ongeveer 1964, het my Pa genoem dat die nuwe Engels onderwyser, mnr. Billy Nell, sy Wolseley-motor by die verkeerskonstabel gekoop het. Of dit toe al mnr. Vercuiel was, kan ek nie onthou nie. Twee klasmaats van my het wel een nag met ‘n warm Kewer vir die verkeerskonstabel weggejaag, weggekom en weggekruip, maar die Kewer en sy bestuurder was berug in die dorp en die verkeerskonstabel het geweet waar al die balhorige skoolseuns woon en wegkruip. Dit moes gedurende 1966 of kort daarna gebeur het. Menslikheid het sterk na vore getree, want die Kewer-bestuurder het losgekom omdat sy pa ‘n hartlyer was en so ‘n ernstige klag hom gevaarlik sou ontstel het.
Die mees berugte en gehate verkeerskonstabel gedurende my kinderjare, was Japie ten bob van Robertson. Tien sjielings was destyds baie geld en glo Japie se gewone boete. Van my neefs en niggies op Robertson het kwaai onder Japie ten bob deurgeloop weens foutvindery met hulle fietse. Montagu se inwoners het ook goed van Japie ten bob geweet wanneer hulle van die Kaap of Worcester af deur Robertson gery het of op Robertson moes wees. Volgens die gewoonte- en slinkse oortreders kon ‘n mens maklik wegkom as ou Japie jou nie geken het nie en jy het voorgegee jy is Engelssprekend. Een gereelde oortreder is een aand aangekeer, maar was tydens die oortreding ‘n passasier in ‘n vreemde motor. Hy het die bestuurder aangeraai om die motor binne donker te hou en net Engels te praat. Uit die donker het hy gewaag om saam te protesteer toe Japie langs die motor met sy boekie staan. Japie het ewe verboureerd laat hoor: “No, not twice together! Once upon a time!”
Hulle het losgekom.
Om in die Montagu van my jeugjare ‘n rybewys te bekom, was meer pret as moeite as jy net eers ‘n leerlinglisensie gehad het. Vir die leerlinglisensie moes jy in die afdelingsraadkantore by oom Coetzer verbykom. Hy het ‘n kleinhoewe in Langstraat besit aan die regterkant, soos mens Montagu van Ashton se kant af inkom. As jy nou seker wou maak van ‘n deeglike skrobbering en boonop die toets druip, moes jy vir oom Coetzer ‘n antwoord begin met: “Ek dink…”
Die toets is altyd mondeling afgelê. Senuwees het my ‘n deeglike afranseling besorg, maar ek het my leerlinglisensie verwerf. Dalk het oom Coetzer my jammer gekry omdat ek en Fanie, sy oudste seun, al sedert ons standerd twee-jaar in dieselfde klas was en ek baie min in die skool moes buk vir drie van die bestes.
Oom Stoffel de Kock, die padinspekteur, het die rybewystoetse afgeneem. Stil-stil is die wenk versprei dat oom Stoffel, saans halfsewe, die dag se skandes en skades met ‘n doppie in die hotel se kroeg gaan versag. Hy kon net na werk rybewystoetse afneem en as mens nou net na ses by hom aandoen met die tweerandfooi in die hand, hou hy jou nie lank op met ‘n ver geryery en allerhande uitvangery nie, want die tyd stap aan na halfsewe toe en die twee rand kom handig te pas. Ons het net so ‘n straatblok om met Pa se ou groen 1949 Ford gery, voordat ek met die slaagvorm en oom Stoffel met die twee rand weer op pad was.
Dr. Jordaan het ook eens rybewystoetse afgeneem. Oom Jat Hubinger, wat in die spoorwegstasiekantoor op Montagu gewerk het, se vrou, tannie Vera, het tydens haar toets groot lof van Dr. Jordaan ingeoes oor haar besondere vernuf om met oom Jat se Studebaker seepglad teen Kohlerstraat se steil bulte op pad Kanonkop toe weg te trek. Dr. Jordaan was nie bewus daarvan nie en tannie Vera het tjoepstil gebly oor die Studebaker se “hill holder” wat dié “vaardigheid” telkens verseker het!
Waar vind ‘n mens vandag nog sulke eenvoud en sout-van-die-aarde-mense?
En ons moenie vergeet van Die boervrou van Montagu wat ook ʼn pienk bakkie gehad het
Renée Rautenbach
Die Burger
11 September 1976
As ‘n vrou die dag besluit om haar hand aan die grond te waag. word boerdery veelsydig: sy bêre haar spuit- gif in die kruidenierskas, haar werf- bakkie is pienk — en sy doen beeld- houwerk, bak potte, kook en wen pryse met haar tuin.
Sylva van der Spuy boer so op die veelsydige manier. Haar plaas IS by die drie klowe van Montagu se berg waar dit lyk of die kranse met die hand geverf is.
,,Dis die droë kant van die berg,” sS sy soos ‘n goeie boer (want op hierdie terrein moet ‘n mens saam- praat), maar Geelboslaagte is ’n lus soos hy groen lê op die pad Barrydale toe. Van ver af sien jy die groen tuin om die kliphuis met sy rietdak en glasdeure en die boorde en win- gerde.
Van die klein hekkie by die werf af tot onder in die laagtetjie by die bloekombos is dit die ene bedry- wigheid. Net anderkant die hekkie is haar beeldhouplek. Daar lê ‘n hele handvol stukke waaraan sy werk en in en om die huis is nog.
„Dis nou die nuutste by my. hierdie beelde, en ek het nou ‘n ding oor die Renaissance — wil net aanmekaar van daardie vet klein kindertjies maak.”
Met die beelde het dit — beslis net volgens haar — glo gegaan soos met die boerdery. Nes dit lyk of alles reg is. kon daar ‘n fout. Die krake hier en daar in van die ouer goed wat sy gemaak het, maak haar nie ongelukkig nie — sy lag daaroor. Net soos wat sy lag as sy vertel van die skilderstadium waardeur sy gegaan het.
,.Ons hoor toe mos van die Engelse predikantsvrou op Robertson wat verf- lesse gee en dis toe ook nie lank nie of ek en Gerrit Wessels neem les. Dit het aangehou totdat niemand ons meer na partytjies wou nooi nie — ons het gedink ons is op pad om meesters te word — toe het ons besef dis fataal. Al daardie doeke en esels en kwasse lê nou in ‘n hoek.”
Net by die beelde verby is ‘n rotstuin met vetplante wat ook groter geword het as wat sy gedink het: ingevoerdes wat nou aanmekaar blom en groei daar „aan die droë kant” van die berg. Dit was ook een van haar liefdes op ‘n tydstip.
Die tuin (wat so pryse wen) het plant en struike in waarvoor ‘n mens ver moet soek — veral nie in die Klein-Karoo nie — soos hibiskusse en tropiese blomme, elkeen met ‘n storie, want dit kan nie anders nie — Sylva het ‘n geskiedenis. haar plante het een, haar huis het een en alles om haar het ‘n storie.
Die huis het ook ‘n lang storie. As kind het Sylva as ’n nooi Knipe op Montagu grootgeword — „ek het gedink Montagu het die grootste win- gerde ter wereld tot ek op Robertson gekom het” Haar hart het teruggetrek grond toe ná ‘n paar jaar se universi- teitslewe op Stellenbosch en getroude lewe in Johannesburg.
Die eerste wat sy gedoen het, was om die ou huis van haar oupa op Geelboslaagte reg te kry. Seker nog net die fondamente is dieselfde as ‘n mens na die ou foto kyk. ,,Ek het mos toe hier aangekom met ‘n Jo’burg-air en wil toe opsluit groot glasdeure voor die sitkamer he. Kan jy nou dink dat ‘n bouer op hierdie dorp al van so iets gehoor het.” Maar die glasdeure staan stewig daar — net soos die rietplafon- en dak van die huis. Klip vir klip het sy die huis gebou soos sy horn wou hê.
Toe Sylva en haar drie kinders destyds op Geelboslaagte aankom moet sy van voor af begin werk aan die waterleiding uit die berg. Eers is bandiete gebruik, ,,Maar die bandiete van vandag is ook nie meer wat hulle was nie. Toe het ek en die drie kinders in ‘n safari opgetrek berg uit saam met die span. Ek het net vir my ‘n moordenaar met ‘n goeie storie uitgesoek en dan moes hy die baba dra en die volgende een die doeke en die bottels.”
Dit gaan so gesels-gesels met Sylva dat ‘n mens lank vat om in die sitkamer te kom. Want tussen-in 16 daar nog tuinlampe (met ‘n storie) wat opgerig moet word, ‘n snaakse gesigsbeeld van iemand, wat per ongeluk goudkleurig uitgekom het (nog ‘n storie), en net as ons by die huis ingaan, is sy onder in die boord nodig.
Sylva van der Spuy, veelsydige boer van Montagu, besig om te help met die gifspuitery in haar appelkoosboord. Agter haar en Eddie – ʼn ou staatmaker – staan haar pienk bakkie
Ek spuit mos nou ook met gif soos die groot boere, maar nie my ou appelkoosbome nie; hulle’s nes ek — te oud vir nuwe dinge.” Van bo af sien ’n mens hoe verskuif sy gou die pienk bakkie met die gifgoed agterop en loop dan weer flink terug. ’n Mens kan verstaan dat sy in die oorlog liggaamsoefeninge aan die jong soldate kon gee en dat sy die kinders in Johannesburg se parke kon motiveer tot nuwe speletjies.
Haar tuinkennis en groen vingers werk ook sommer in die boorde. Om haar ou appelkoosbome het sy walletjies gemaak soos met roosbome.
Waar sy haar verder in die manswêreldingegrawehet, is die ,,werkie” in die somermaande met oestyd wanneer sy die vragte druiwe by die koöperasie afweeg.
Waar sy daar dan alleen is tussen die klomp mans en hulle sien sy wyk geen duim vir harde werk nie, praat die boere plaasstories.
Sylva is ’n vol mens en dit sal ’n veelsydige boer kos om by haar te bly. Hy sal moet sorg vir ’n spog- plaas, ’n tuin wat pryse wen, sy huis self bou (met glasdeure) beeldhou, potte bak en — die doodskoot — lag-lag kook vir dertig mense
Bydrae: Kobus Smit