111.Laerskool Koo
Opgedateer: 17/07/2024
Dié storie van die Laerskool Koo is moontlik gemaak deur afgetrede skoolhoof van die skool Faan Nieuwenhuis. Toe ek na inligting oor die geskiedenis van die skool begin soek het, was Faan een van die eerste mense wat ek moes kontak. Toe ek hom kontak het, het hy my dadelik vertel van ‘n dokument wat die skool saamgestel het. Hy het ‘n afskrif van die dokument beskikbaar gestel wat ons toe in ‘n elektroniese formaat getranskribeer het. Die oorspronklike storie is aangevul met prente. Lees en geniet wat hierdie wonderlike skooltjie oor die jare bereik het.
Terwyl ek die Koo besoek het om die sneeu in Julie 2024 te sien, kon ek en my vrou die skool se fondsinsamelingspogings ondersteun deur pannekoek te koop. Die ouers en personeel het ‘n bord buite die skool opgesit om mense in te nooi. Tipies van die skool en hul toegewyde personeel en ouers insluitend Faan en sy vrou.
Rudi. Allmayer 2024
Inleiding tot die geskidenis van die Laerskool Koo
Redaksie Brief
Hierdie jaar (2010) was dit vir die Laerskool Koo ‘n besondere mylpaal met die 75 bestaansjaar viering. Die behoefte het ontstaan aan ‘n Reünie-Kollig met ‘n historiese lyn en ‘n terugblik oor al die jare sedert die begin. Dit was vir my ‘n voorreg om die pad in geskiedenis te kon saamstap met vele oud-leerlinge, en ek kon nie anders as om nostalgies oor hierdie plaasskooltjie te raak nie.
Daar was oorweeg om die jaarlikse Kollig met die Reünie-Kollig te kombineer, maar aangesien die Reünie Kollig nie die laaste deel van die jaar kon dek nie, het ons besluit om nog steeds die jaarlikse Kollig te publiseer.
Ek wil graag elkeen wat gehelp het met berigte, byskrifte en idees uitruil, van harte bedank. Sonder julle ondersteuning sou dit maar moeilik gegaan het. Spesiale dank aan Maryna en Petru wat altyd bereid is om uit hulle pad te gaan om te help. Ook aan Elmien met die neem van die foto’s. Sy is altyd so getrou om elke oomblik met spesiale vaardigheid op haar kamera vas te vang.
Dankie, ook aan al die ouers, grootouers en vriende wat bereid was om ‘n blad te borg en so die drukkoste te verminder. Dit word opreg waardeer. Aan Chrisna opregte dank vir die proeflees van berigte, dit vergemaklik my werk baie.
Ek stel die Kollig saam uit gebeure wat deur die jaar plaasvind en omdat ons almal deel is van een groot familie, bied ek dit op ‘n informele wyse aan. Die inhoud is nie noodwendig die opinie van die skool nie.
Na al die harde werk die jaar hoop ek ouer en kind sit terug, skop skoene uit en geniet elke blad van die Kollig. Ek wens julle ‘n geseënde Kerstyd en ‘n wonderlike 2011 toe.
Kollig Groete Karen Burger
Die skool is geleë in die pragtige Koo-vallei op die R318 roete en is 32 km vanaf Montagu. Die skool het ’n baie roemryke geskiedenis en vir die mense van ons omgewing is die voortbestaan van die skool baie belangrik. Ons vier hierdie jaar ons 75ste bestaansjaar en dit alleen is ’n unieke prestasie.
Die skool het in 1994 geprivatiseer nadat die departement die skool wou sluit a.g.v. ‘n lae leerlingtal, 19 leerders. Die ouers, op daardie stadium hoofsaaklik boere van die onmiddellike omgewing, het besluit al gebeur wat, gaan hulle dit nie toelaat nie. Na baie onderhandelinge het ons dit reggekry om as ‘n onafhanklike skool te registreer. Die skoolgebou wat op daardie stadium aan Montagu N.G. Kerk behoort het en deur die Departement gehuur is, is in 1992 deur die Koo Landbouvereniging by die Kerk oorgekoop en herbou soos dit tans is. Die gebou en terrein word deur die Koo Landbouvereniging in stand gehou.
Voor 1984 was daar geen sport by die skool aangebied nie, maar nadat ek as hoof aangestel is en die behoeftes geidentifiseer het, het die gemeenskap ingespring en ‘n tennisbaan / netbalbaan en rugbyveld aangelê. Ons kyk sedertdien nie terug nie en verskeie leerlinge het al Boland-kleure verwerf in atletiek, tennis en rugby. Omdat ons so ’n klein skooltjie is, kry elke leerling individuele aandag en almal kry die geleentheid om deel te neem.
Wat standaarde aanbetref, meet ons onsself aan die prestasies van ons leerlinge in die onderskeie hoërskole. Dit is uitstekend en wys dat die standaard van onderrig baie hoog is. As ons net kyk hoeveel hoofseuns en hoofdogters ons skool sedert 1984 opgelewer het, is dit ’n bewys dat ons leerlinge leierskap ontwikkel en kan toepas al kom hul uit ’n klein skooltjie. Ons getalle het die afgelope jare gestabiliseer in die omgewing van 40 leerlinge en die feit dat ons ’n gedurige navraag het, toon dat die skool baie gewild is.
Op kulturele gebied presteer die leerlinge uitstekend en die musiek leerlinge skryf UNISA-eksamens,
Ons neem ook jaarliks deel by die Montagu Jeugkunstefees asook by Worcester Eisteddfod en ons leerlinge presteer uitstekend.
Elke tweede jaar hou ons konsert. Leerlinge en ouers, asook mense uit ons gemeenskap neem deel. Dit is vir al die deelnemers ‘n ongelooflike ervaring en leer ons leerlinge om met groot vrymoedigheid voor groot gehore op te tree.
Elke tweede jaar gaan leerlinge en ouers op ’n opvoedkundige uitstappie en dit bly ‘n unieke ervaring vir ouer en kind.
Ons probeer ons leuse, nl. Strewe na die Hoogste op alle gebiede uitleef en elke leerling in sy totaliteit ontwikkel.
Visie
Dit is die Visie van die Laerskool Koo om deur Christelik gefundeerde opvoeding leerders
so te onderrig dat hulle as gebalanseerde mense die lewe positief sal aandurf
Missie
Dit is die Missie van Laerskool Koo om ons leerders in hul totaliteit, dit wil sê geestelik,
intellektueel, emosioneel, sosiaal, fisies en kultureel op te voed en sodoende die volle geleentheid gee vir die optimale verwesenliking van hul vermoens, besondere eienskappe,
behoeftes en talente, sodat hulle as gebalanseerde mense hul plek in die samelewing kan volstaan.
Graag sê ons vir Juffrou Rose-Marie dankie dat sy haar talent so aangewend het om vir ons die pragtige skildery van die skool te verf. Dieselfde skildery word gebruik as etikette op die wynbottels, wat as versamelstukke opgeveil sal word.
Die grond waarop die Concordia-kerksaal gebou is, is deur oom Alex Burger, Kerneels se pa, aan die N.G. Kerk geskenk. Die stukkie grond is afgemeet en in 1934 getransporteer. ’n Boukommissie van 5 lede is aangestel: oom Pieter Burger (Pieter Mohr Burger se pa), oom Louis Knipe (Louis Knipe se oupa), oom Samuel Rossouw (Samuel se oupa), oom Allie Burger (Bill se oupa) en oom Frikkie Burger (Hardie Burger se oom).
Die stene vir die kerk is op die terrein deur ’n steenmaker, Jan Stanvliet, gevorm en gebrand. Die hout vir die oond, meestal blackwattle, is vanaf die plaas Eikenhof deur oom Dawid Rossouw met ’n eselwa aangery.
Die lang balke vir die saal is deur oom Dawid en Jacob Verhoog, ’n werker van oom Louis Knipe, vanaf Matroosbergstasie met twee waens aangery.
Voor die saal klaar was, was die fondse uitgeput. Die Boukommissie het toe die tekort inbetaal en die saal is in 1934 ingewy. Soos die gebruik destyds was, is die saal ook as skool gebruik.
Die eerste onderwyseres was Juffrou Hatting. Sy het een jaar daar skoolgehou en het by Andre Burger se ouers loseer. Juffrou Hatting is later met ’n Van Zyl getroud.
Sy vertel: “Toe ek die Koo verlaat het, het ek vir die skoliere gesê: “Julie sal baie vergeet van wat ek julle geleer het, maar ek hoop die liefde wat ek vir julle van sang, klavier en kultuur geleer het, sal altyd deel van julle wees.”
(Johannes Rossouw, Vrugtegeur)
In 1985 het Laerskool Koo sy huidige naam gekry
Die nuwe skoolwapen is ontwerp nadat daar te veel verwarring ontstaan het tussen ons skool en Concordia N.G.K. Primer(die kleuringskool)
1933
Onderhoud deur Karen Burger
Na ‘n heerlike gesprek met tannie Ria Hugo oor die dae van ouds was dit vir my ‘n om saam met haar op die pad van gister te kon terug stap en ‘n kykie oor haar kinderjare in die Koo Laerskool te kon kry.
Mev. Hugo is gebore in 1926 en was in Sub A in 1933. In daardie tyd was die Concordia Skooltjie nog by Kerneels Burger se grond. Haar ouers het geboer in Keerom, en daardie dae was vervoer ‘n ander storie as vandag se tyd. Sy moes loseer by Bill se Oupa Allie en Ouma Katie. Oupa Bill was mev. Hugo se ma se broer.
Dankie aan Johan Rossouw vir die foto van die skildery deur plaaslike skilder Kobus van Dyk
Toe die KOO skool in 1935 oorgeskuif is na waar dit huidiglik staan, het sy met haar Standerd 1 jaar daar begin, Sy kon onthou dat hulle skool toe moes stap en dat die skool in 2 sessies was. 12h00 het Tannie Hettie (Kerneels se ma) vir die loseerkinders kookkos gemaak, en moes Piet Burger (oom Alex se seun) met sy fiets vanaf die skool tot by Pond-se-Dam gery het en om die kos te gaan haal. (Pond-se-dam : Die Grondreg vir die bou van die dam is vir 1 pond verkoop.) Die netjiese plastiekbakke het inmekaar gepas, en was op die agterop Piet se fiets vasgemaak. In wintertyd was hulle nie so gelukkig om warm kos te kon kry nie, want dit is maar koud in die Koo. Nie dat sy kla nie, want sien daai tyd se kinders het geken van swaarkry. Keerom was nog verder as vandag se tyd en sy kon eers na elke 14 dae vir ‘n naweek huis toe gaan.
Behalwe dat Sub A en Sub B baie keer toe nog in een jaar gemaak was, was Standerd 6 ook nog deel van die Laerskool, en het die Hoërskool eers begin in Standerd 7.
Sy onthou dat Juffrou Hatting toe vir hulle skool gegee het, en sy is later met ‘n boer van Bonnievale, ene mnr. van Zyl getroud, waarna sy ook die Laerskool Koo verlaat het. Daarna was daar Juffrou Van der Merwe wat weer met Koos Joubert – ‘n boer in Baden – getrou het, en toe weer Baden toe verhuis het.
Hulle was in totaal 5 kinders in Standerd 6 gewees, van wie Martin Burger, (Danie se ouer broer), Bresler (Annalize se man) Willa (Wikus se pa) en Pieter Hugo (sy pa was Danie) saam met haar die jaar voltooi het voordat hulle weer onderskeie Hoërskole toe gegaan het. Sy is toe na Worcester se Hoërskool en koshuis toe.
Nota: Het jy geweet dat Mavis Alexander in 1925 by Concordia skoolgehou het. Wie was Mavis Alexander? Sy was die eerste Mej. Suid-Afrika. Kyk uit vir haar storie op Montagu Stories dit kom binnekort.
1935
Agterste ry: Danie, Rooi Dawid Burger, Kibo en Alec. Tweede ry: Dawie Burger, Gert, Alie, Bennie Burger, Frikkie en Danie Jordaan: Derde ry: Mattie, Mimie, Juffrou, Susie Jonker, Hennie, Allen: Voor: Katie. Cloete, Anna Burger(du Toit), Chris Cloete.
UITTREKSEL UIT KOLLIG 2000. Die onderhoud is deur Petro Brits gedoen ter nagedagte aan oorlede oom Piet Burger plaas ek die artikel graag weer.
Piet Burger was een van die eerste Sub A’s wat in 1935 by die skool begin het. In daardie jaar was daar 5 kinders wat vir die eerste keer skool toe is: hy, Chris en Gerrit Burger, Maans le Roux van Swartberg en Ducky (Rachel) Knipe. Sub A en B was toe nog 1 jaar.
In die somervakansie voor hulle na St. 3 moes gaan, het Gerrit verdrink. Daarna was swem natuurlik taboe. In die nuwe jaar van 1938 het nog drie kinders bygekom, een het gedruip, maar Johannes Rossouw en Gawie Burger was deel van dié groep tot en met St.6.
Piet Burger vertel verder: “Die skoolkinders het ‘n tuin gehad net langs die draad waar die rugbyveld nou is. Daar moes ons blomme plant en dan gereeld Vrydagmiddae die tuin nat dra met emmers vanaf oom Pieter Burger se dam oorkant die pad. Ons seuns het toe besluit om vir hulself ‘n dam te maak daar waar die tennisbane nou is. Ons het ‘n 2”-pyp ingesit met ‘n groot prop, en toe die wal gemaak met grawe en kielpikke. So op ‘n dag was ons weer aan die werk en ek kap met die ou pikkie en terselfdertyd buk Alexander le Roux voor my en daar tref ek sy rug. Wat ‘n petalje! Nellie, sy suster, het my byna opgevreet van kwaadgeit, maar die wond was nie eers deur die vel nie!
Die water was reënwater wat uit ons land aangelê was met ‘n sloot. (Die hele dam was nie eintlik ‘n sukses nie want dit het te min gereën, maar dit het ons skoolseuns besig gehou.)”
Daar is gereeld pouses by die skool sokker met ‘n tennisbal gespeel. Hulle het maar net probeer om by mekaar verby te skop tot in die doelgebied wat bestaan het uit twee bondels klippe alkante.
Willa Rossouw het meestal kaalvoet gespeel, maar hy kon ‘n bal ontsettend hard skop met sy tone!
As dit in die winter gesneeu het, het niemand skool toe gegaan nie, want almal moes in daardie tyd nog skool toe loop. Juffrou Hanekom was skoolhoof (Piet sê sy was baie mooi) en Juffrou Jamneck het ook daar skoolgehou. Toe was dit nog Concordia Laerskool en die skool se wapen was ‘n rooi appel op ‘n swart agtergrond. Die periodes was nie presies ingedeel nie en Piet onthou veral die Volkspele-periodes, toe elkeen vir hom sy maat kon kies. Hy onthou ook met trots dat hy in sy hele laerskoolloopbaan so gelukkig was om altyd eerste te staan.
“Ons het ook konserte gehou met opvoerings soos Three blind Mice. Met die 1938-Ossewatrek, moes ons elkeen ‘n klip saamneem dorp toe – dié is ingemessel in die monument by die ingang in Cross straat.”
DIE SKOOLLIED
Waar die blou blou berge troon,
die sulkerbos so skoon,
waar die koring groei
en die appelbome bloei
staan Koo se Laerskool.
Hoera vir jou, ons glo in jou
ons dra jou. naam daar bo
ons werk en glo, vertrou op jou
In alles wat ons, doen.
Waar ons almal werk en speel,
ons kindervreugde deel,
waar die toekoms wag
op ons nageslag
staan Koo se Laerskool.
DIE GESKIEDENIS VAN DIE SKOOLLIED
Pauline Greeff van Noorsveld, het die musiek en die eerste versie van die Laerskool Koo se skoollied
geskryf. (Chrisna Rossouw, haar dogter, sê sy kan nie onthou presies wanneer dit was nie, en sy het sommer self die tweede en derde versie geskryf – alhoewel net die eerste twee gewoonlik gesing
word.)
LAERSKOOL KOO
Laat ek jou vertel
My ou pêl!
Die Laerskool Koo
Is nie sommer so-so
Dis ‘n skool van Naam
‘n skool van Faan.
Met ons onnies oom Faan en sy mooi
Ou vroutjie Liesa en Juffrou Rose- Marie
Hulle leer, lei en onderrig ons
In somme, tale en allerhande sake soos
Musiek, rugby, tennis en netbal
Ons kan teken en voordra en sing!
Ons kan alles doen en goed ook!
Ek kan saam met die sokker mense sê
“I was there!”
Joan Kitshoff (De Kock)
1940
In die jare 1940-41 – “I was here”
Toe het ek as Sub A groentjie daar gekom. Klein en hartseer, want Mamma-hulle was ver.
Keerom en vervoer nie soos vandag woerts warts in die Koo of in die dorp nie. Juffrou Uys nie so gaaf en met begrip soos ek gedink het nie.
My ander maats was slimmer en by hul ouers, en sodoende die Juffrou se gunstelinge.
Mettertyd het dit beter gegaan en ons het ‘n ander Juffrou gekry – Juffrou Jamneck van die volstruiswêreld af. Sy was beslis meer simpatiek teenoor my, en my werk het beter geword. Ek en my sussie, Ina loseer by tant Hettie en oom Alec Burger. In die middag moet sy ons kleintjies se lesse vir ons laat lees. Ons het nog geleer om die woorde te klank. So klank Josua toe sy les se woorde en sê LET – Aap!
Tot ons almal se vermaak en sy verleentheid!
Die volgende jaar is my sussie na Worcester se Meisieskool en ek Vredelus se Plaasskool, naby Matroosbergstasie.
Hou julle naam hoog en doen so voort!
Groete
Joan Kitshoff (De Kock)
1938
LAERSKOOL KOO-EK ONTHOU
Eendag in Januarie 1938 roep my pa my om 6:30
Op moet jy staan – dis tyd om skool toe te gaan
In my nuwe klere uitgevat, kaalvoet vat ek die pad
In my sak griffie en lei, met lappie en water botteltjie daarby
Ons was drie wat die dag gaan
Dit is Adrie, dis nou ek, Hestertjie van tant Meg
en Wena sussie van oom Faan
Ons juffrou se van was Uys
By ant Hettie Alec was sy tuis
Klank moes ons leer
K-A-T S-l-T O-P D-l-E M-A-T
Somme moes ons deur -1+1=2, 2+2=4
Tafels moes ons ken, die beste kon ‘n lekker wen
Opstel skryf en resitasies leer is vir tuiswerk gereserveer
Afrikaans en Engelse taal moes ons leer
Aardrykskunde Geskiedenis asook Gesondheidsleer
Kort en lang pouse kon ons speel Hasie-blou, albaster, aan-aan en kettie skiet
Tol gooi en klippie-vyf
Was ‘n lekker tydverdryf
Tou spring, tol en albasterspel had elk sy eie seisoen
Wanneer elkeen kon spog met sy mooiste ghoen
Met ‘n ou tennisbal het ons “sokka” gespeel
Met twee hopies klippe weerskante gespasieer
Was ons baan klaar gemaak
Oor reëls het ons nie veel getraak
Al wat tel – dit moes kaalvoet wees
En geen hand mag aan die bal raak
Amper vergeet ek
Soms het ons ‘n versnaperingtjie gekry
Kakao, Milo of melk
Dadels, rosyntjies en soms ‘n gesuikerde vy
Die ouers was maar arm
Kinders had nie veel klere om hul te hou warm
Dus had ons darem ‘n kantien wat gewerk het met paraffien maar jy moet maar teenaan sit of dit was ook van geen nut
Soos jul kan onthou, dit was oorlogtyd
So was daar baie dae van haat en nyd
Oor Nattes teen Sappe het dit gegaan
Al het ons nie veel daarvan verstaan
Glo my vry ons het later potlood en papier gekry
En voor ons was baie oud, ‘n pen gemaak van hout
Los punte (nibs) kon ons koop
Wat ons kort-kort in ‘n botteltjie ink moes doop
Dikwels moes ons die blad
Met kladpapier klad
Anders was daar dalk ‘n kol
Wat meester se oë laat rol
Lopende water was daar nie, in ‘n tenk is reënwater opgegaar
Daarom weet ons nog van “moenie water mors nie”
En dit altyd probeer spaar
Die “lavatories” was buite in gebruik die emmerstelsel
Maar ons was nie wys
Om beter te kon eis
Want van toi-toi is ons nooit vertel
Almal moes maar skool toe loop
Enkele ouers kon darem ‘n fiets koop
Daar was geen sprake van gery te word
Motors was maar min en aan petrol ‘n tekort
Had die seuns verbrou
moes hul maar buk
dat die kweperlat hul kan ruk
tot hul beter onthou
Die dogters is spesiaal gestraf met ‘n liniaal
‘n hou oor die kneukels en dit was seer
al wil jy ook anders beweer
Vieruur kon ons huis toe gaan
Met hope huiswerk nog ongedaan
Sondag moes ons ‘n Bybelteks leer
En ‘n gesangvers daarby elke keer
Ons doen ons bes
En gaan tot in standerd ses
En so tot ons gloria
Verlaat ons Laerskool Concordia
So om en by twintig jaar later
Moet ek ons eerste nasaat
In mnr. Crafford se sorg agterlaat
Skool is nog dieselfde
Met klank, spel en lees
Maar pen en ink en papier
Was die inding gewees
Geen tyd vir sport of pret
Presteer was die nuwe wet
Daar is sover ek kan onthou
Elke jaar ‘n konsert gehou
Deur juffrou en van die tannies afgerig
die saal met Aladdin Lampe verlig
Twintig jaar later gaan ons jongste terug
Ons jare van skool kar ry was eers verby
Maar nie vir lank of die eerste kleinkind was daar
Maar o my genade
Standards word toe grade
Skooldrag moes hul dra
Spel verander in sien en lees
Somme maak word rekeningkunde
Diegene wat staan by die krip
Kom toe met ‘n nuwe begrip somme word gemaak op grondplan vyf gelukkig is dit gou afgeskryf Tegnologie vat oor
Geen gedigte word gehoor
Kuns word nou ‘n vak
Al is dit net ‘n prentjie van ‘n blom aan ‘n tak
Daar word selfs “Die Kollig” gepubliseer
Met al ons dank en eer aan die redakteur
Want nou kan ons lekker lag
Vir al die komiese wat maak ons dag
Tennis, netbal en koor
Is die ding wat die kinders hoor
Of moet dit dalk wees, bekoor want dis baie populêr soos ek hoor
Dae van gratis skool is verby
Al voel jy daarna om te stry
Moet jy net “smile en pay”
Of die arme kind sal daaronder ly
In opdrag van die staat
Word Sondagskool agtergelaat
‘n Paar keer moes die skool amper swig
Oor getalle veels te lig
Maar ‘n plan word gekry
En kinders word van oral aangery
Onderswysers kom en onderwysers gaan
Selfs die skool gaan voort onder ‘n ander naam
Maar onder leiding van mnr. Faan groei dit tot ‘n skool van faam
Ten laaste wil ek net sê
Laerskool Koo was en is en bly nog altyd bo
Koo was en is en bly nog altyd bo
Biesiepol, Koo
Adrie en Joey Burger
1942-1949
UITTREKSEL UIT DIE KOLLIG – 2000, waar oorlede Oom GENE BURGER sy Laerskool ervaring gedeel het. Ter nagedagte aan hierdie besonderse mens, deel ek graag weer met julle hierdie artikel.
Ek was in Laerskool Koo vanaf 1942 – 1949
Ons dag het begin met ‘n eetlepel lewertraan. Die skoolkinders moes soggens in ‘n ry staan en elkeen het ‘n beurt gekry om te sluk. Dit het bly repeat tot die volgende môre. Ons was dus net naweke vatbaar vir kieme.
Juffrou Groenewald was die prinsipale en ons was van Sub A tot St. 6 in die groot saal saam. Juffrou Groenewald was baie lief vir my en het my altyd so styf teen haar bors vasgedruk. Na so 2 jaar het Ant Rosie Groenewald van Pietersfontein gekom. Sy was ‘n dierbare mens en het oulike staaltjies van die oorlog vertel, Sy was ‘n “WAF”. (Dit staan vir Women Auxiliary Force, en verwys na vroulike helpers of bondgenote wat tydens die Tweede Wereldoorlog vrywillig by die Weermag aangesluit het.)
Tydens verloftye van die Juffrou en ook later het my ma, Alta Burger, altyd waargeneem.
In 1945 kom Meneer Crafford. Meester het gekom om te bly. Hy het vir ons kinders ook skoolgehou tot 1975. In sy tyd het die lewertraan gebly, maar ons het grondboont- jies, versuikerde vrugte en rosyne ook tydens die lang pouse gekry. Ons het nog twee sessies skool gehad.
Meester was baie streng en hy het die kuns verstaan om jou aan jou kort nekhare te trek sodat jy regop staan. Met ‘n liniaal het hy ook nooit jou vingers gemis nie.
Tydens lang pouse het ons gewoonlik in oom Pieter se dam kaal geswem, totdat die meisies eendag met ons klere skool toe gehardloop het. Meester het tot ons redding gekom om die klere te bring, maar ook die kweperlat. By Meester het alles gegaan oor skoolwerk. Vir houtwerk het ons sulke hoendereiers gemaak, en dit bly vir my ‘n raaisel dat van die seuns later in die hoërskool uitgeblink het!
Op ‘n kol het my ma vir Meester gehelp en ‘n netbalspan op die been gebring. So van tyd tot tyd het ons dan teen Laatsrivier en Touwsrivier se skole gespeel. Daar was verder geen buitemuurse aktiwiteite nie. Ons het darem met die hulp van Ant Kappie en my ma jaarliks ‘n smart konsert gehou, nogal twee aande. Die eerste om te oefen (vir die plaaswerkers) en die tweede vir die blankes.
Nog iets wat ek bewonder het van Meester was dat hy presies geweet het wat in die skoolsaal aangaan. As hy bv. besig was met ‘n leesles van ‘n klas, het hy alles gesien wat in die saal aangaan en ‘n ou sommer vinnig aangepraat!
1944- 1950
Kaalvoet skool toe gestap vanaf sub-A in 1944 Tot einde standerd ses in 1950 Gelukkig was dit toe darem soggens al lig Middae rus-rus in die hitte huis toe geloop soms vir beter dae gehoop
Hierdie eenmanskool was net die begin van baie dinge waaroor ek nou op sewentig besin Meneer het die lat feitlik daagliks gebruik As ons durf waag om die maaltafels te ontduik
Op ons hande is ons baie dae geslaan Met ‘n baie harde, lang liniaal Glo my, dit is werklik waar! Daardie dae was skoolgaan baie swaar
Ons klere was soms gestop en gelap (Vir party was dit dalk ‘n grap) Maar dit het vir ons nie saak gemaak Want ons lesse is beslis nie geraak
Van sub-A tot standerd ses was al die leerders Saam in een nes Die oueres het die kleintjies geleer
Van lees, somme maak en so meer
Want ons had ‘n kwaaie Meneer
In hierdie klein plaasskooltjie het ek leer tel
En ook om moeilike woorde te spel
Konsert het ons ook soms gehou
Met papier rokke aan en hare van tou
Die winters was altyd baie koud en bleek
Dan kon ons tuisbly vir ‘n week
Want sneeu het oral op huise en bome geval
En ons kinders was daaroor al te mal
Middae na skool moes ons kinders werk op die land
Ons het uie en tamatieplantjies geplant
Saans moes ons die beeste in die berg gaan haal
En glo my, bedags moes ons nog koffie ook maal
Van TV en rekenaars het ons nie geweet
Maar van Bybel lees nooit vergeet
Hier het ons dus geleer
Om naby te lewe aan ons Liewe Heer
As ek nou terugdink aan daardie tyd
Dan staan ek soms verslae
Oor daardie sorgelose dae
Maar nooit was ek nog ooit nie spyt
Oor alles wat ek daar geleer het
Dank ek onse Liewe Heer
Groot is nou my dank oor daardie dae
Al was daar baie dae slae
Dit het my beslis voorberei
Op wat ek eendag op my pad sou kry
LANK LEWE DIE LAERSKOOL KOO
MENEER CRAFFORD
Jan Louis Francois Crafford het in Julie 1945 op 25-jarige ouderdom as skoolhoof by die Laerskool begin, maar na nege maande is hy na Baden se Laerskool toe (blykbaar a.g.v. losies wat nie na sy sin was nie). In Januarie 1947 het die skoolkomitee hom egter teruggeroep.
Op ‘n stadium was daar te min leerlinge om nog ‘n onderwyser te regverdig en Meneer Crafford moes alleen die skool beman. Daardie vroed jare was die Laerskool nog tot en met St. 6, en daar was twee sessies elke dag. (Estelle Kriel van Doornkloof se sy onthou die lang dae in Sub A en B, daar was ‘n middagete breuk, daarna moes hulle weer inval. Buitemuurse aktiwiteite het glad nie bestaan nie.)
Meneer Crafford is in 1961 met Lenie Badenhorst getroud, en hy was vir bykans 30 jaar lank skoolhoof in die Koo. Selfs toe hulle in 1972 dorp toe getrek het, het hy nog steeds elke dag in en uit gery.
Later jare het hy by Montagu Hoërskool uitgehelp en as Skriba by die Kerkkantoor gewerk. Hy is in 1993 oorlede.
Lenie Crafford
1950
Die pad van herinneringe
Herinneringe vorm ‘n voetpad
wat deur die hart loop
dis ‘n rustige pad van ander dinge gestroop
Ek ontmoet my gunsteling mense
wanneer ek daarop stap
want hierdie pad Herinnering
is deur hulle ook gestap
Hier staan Meneer
ons wat in ‘n ry tot by hom marsjeer
van Sub. A tot Std 5
sit ons warm teen mekaar se lyf
Ons moet klank: OS LOS POS
hul moet tel van een tot tien
die ander vra: “waar het jy nou al gesien –
meneer gaan naaldwerkklas aan ons bedien?”
Speeltyd kry ons melk en kaas,
speel Bok-Bok, wegkruipertjie, gooi
albaster en tol tot ons asems blaas
Ons hou konsert – ons sing en dans
met wange en lippe rooi
in die mooiste klere getooi
sonder sorge en probleme
het ons hier gelewe
Dis nie die dinge wat geld kan koop
wat die grootste rykdom bevat
maar dis geskenke uit die hart
So het Meneer ons geleer
ook van onse Liewe Heer
‘n Glimlag mooi
‘n sagte woord
Is geskenkies uit die Hemelse stoor
ek weet hul kan hoor as ek sê
Dankie my ouers, vriende en Meneer
Ons het baie lekker hier studeer.
Amanda Kriel (Jordaan) – Sub A 1950
1963
Laerskool Koo –
of soos ons jou geken het – Concordia.
Met heimwee dink ek nou aan ons dae van gloria.
Vanaf 1963 tot ’69 het ek jou drumpel betree,
Al die herinneringe nog nooit uit my gedagtes gevee
Soggens vroeg het ons in die stofpad geval daar vanaf Eikenhof, ons drie of vier in getal.
Ywerig en met boek sakkies gepak, op die rug, vol vreugde en reg vir die skooldag se plig.
Maar middae terug was die pad opdraand en swaar, tog so bly as ons net ‘n ryding gewaar………………..
miskien word ons opgelaai en nog moee tree gespaar.
Soms…….. net soms….. was daar darem ‘n sent of twee om daar by Tannie Martha se winkel te bestee.Al was dit net genoeg vir n nikkerbol of drop was dit tog genoeg vir die ekstra skop.
Meneer Jan Crafford was by die skool die baas en sy assistent, die blonde Juffrou Deborah Maas.
Meneer het die grotes elke dag gebombardeer met tafels en datums en Gesondheidsleer.
Juffrou se haasbekkie en sproet gesiggies, hulself verdiep in Sus en Daan en Langoor se gediggies.
Ek kan nog so goed die storietyd onthou…………….ons almal in ‘n sirkel reg rondom Juffrou.
Sittend in ‘n sonkol daar op die plankvloer,
Meisies wedywerend om haar skoen te politoer.
Speeltyd (nie pouse) is daar geeet, gespeel en ja – selfs gevry.
Wegkruipertjie tussen die bome en agter die water- tenk.
Hasie, touspring en “wolf, wolf, hoe laat is dit?”- almal in ‘n ry.
Die soenery op die bank het ons net onderdeur bekyk en gewonder of dit is hoe “vry” nou eintlik lyk.
Kosblikke leeg is hul vol knikkers gemaak, onthou jul nog hoe lekker het dit gesmaak?
Vreesaanjaend die besoek van die Inspekteur.
Lesse en mondeling is uit die kop geleer.
Want ai, loop daar tog net ietsie skeef sal Meneer ons mos nooit as te nimmer vergeef.
Als was darem nie net “leer” gewees……………
Kuns, sang en volkspele – verkwikkmg vir die gees.
Hoor nog hoe sing ons “Ek soek na my Dina” en Jan Pierewiet.
Sedig dan afgesluit met die “Heide lied”.
Hoogtepunt – Einde van die jaar se konsert
Vir almal wat kom kyk het – die moeite werd.
Met Tannie Alta Burger as die kwaai regisseur is daar vir weke woorde geleer en tonele repeteer.
Ergste vir my was daai middag se “beauty sleep”
Tannie Joey, ek het nooit geslaap, heeltyd ge”peep”!
Maar daarna is ons hare gekrul en wangetjies gekleur want daai aand moes ons skitter in al ons fleur!
Sien nog die beelde – Marion as die Ashoop se Lappop,ons almal roeiend “Bootjie na Kammaland”- hier in my kop.
Heel laaste was daar Jesus se geboorte-toneel.
Maria en Josef met die Baba in die krip
Herders en wysemanne – die volmaakte tafereel.
Ons almal moet egter aanstap op ons lewensweg, gebou op die fondament van jou kennis en reg.
Net soos ons, moes jy maar aanbeweeg…………….nuwe naam, nuwe voorkoms, maar Goddank, nog nie een dag was jou kamers leeg!
Soos in 75 jaar, word hier nog elke dag geleer, gespeel, gesing en gelag!
Ons dra jou op aan die Vader van Bo en bid dat lank sal leef die Laerskool Koo!
1965
Agter: Mnr. Crafford, Mej. Maas
2de Ry van Agter: Bill Burger, Jackie Augustyn, Nanette Knipe, Karin Burger, Stefanie Burger, Brenda Prins, Jossie Batt, Lettie Rossouw, Ansa Rossouw.
3de Ry van Agter: Marion Knipe, Charlotte Knipe, Lorette Knipe, Lillibet Knipe, Suna Batt, Sarie Stemmet, Mariette Burger, Ronel Burger (Riethoek)
Voor: Johan Rossouw, Jannie Marais, Pieter Burger, Andre Wolvaardt, Hennie Marais, Derick Batt, Bennie Stemmet, Niel Rossouw
Ek onthou……. (Lorette Myburgh-Knipe)
My heel verste herinneringe van die Koo-skool was toe dit nog ‘n eenmanskool was met Mnr. Crafford aan die stuur. Ons was ongeveer 20 kinders in die skool – van Sub A tot Standerd 5. Die groot kinders was toe, Johan Rossouw, Marais Rossouw, Jurina Wolfaard, Karin Burger en dan Lillibit en Bill se klas met Ansa Rossouw, Brenda Gerber, Jannie Marais, Stefanie Burger en nog ander aan wie ek nie nou kan dink nie.
Net ouer as ons klassie (ek, Suna Batt, Mariette Burger en Jaco en Niel Rossouw) was Rossouwtjie en Lettie Rossouw en Nanette en Sarie Stemmet. Ooeee!, Rossouwtjie was toe my kerel. Ons het so baie briefies vir mekaar geskryf en soms darem bietjie handjies vasgehou – my hele Koo skoolloopbaan was ons gekys. Wanneer Mnr. Crafford besig was met die groot kinders, moes ons kleintjies maar met eie werk aangaan en besig bly, maar ons het mooi geluister na Std 5 somme, Aardrykskunde en Geskiedenis-lesse. Ek onthou hoe die kinders, wat die antwoorde geken het, op die banke (lessenaars) gesit het met hulle elmboë en dan die duim en middelvinger geklap het. Ons het net geleer (en dalk klei gespeel) en daar was nie tyd vir kuns en teken nie – die dat daar maar min kunstenaars uit daardie era is! Ons het aan die begin nog op leitjies geskryf met ‘n griffie, maar later boeke en potlode gekry.
Toe word ons te veel kinders vir Mnr. Crafford alleen en Aunt Alta Ben kom hou vir ons skool. Sy neem toe die junior klassies. Ons het seifs naaldwerk begin doen en die seuns houtwerk. Ons het gebrei en geborduur – onthou julle daai geel, pienk en blou Departement wol en lap?
Na Aunt Alta, toe kom Juffrou Maas (ek was toe in Std. 2). Om die een of ander rede, het my punte skielik vreeslik verswak. Wat so lekker was van toe, was dat sy vir ons elke dag stories gelees het. Ons het daar op die verhoog in die lekkerste sonkol gesit en terwyl sy stories gelees het, moes een van ons haar hare, “tease”. Na haar, het Juffrou Gezina Jones gekom. Sy het by ons geloseer.
Meneer se klas met die groter kinders (van Std 3 – 5) was in die sy klaskamer, Hy was maar goed streng en ons het die grootste respek gehad vir hom veral vir daardie hout liniaal wat soms jou kneukels geraps het. Die dag het begin met Godsdiens, dan somme en dan die leervakke.
Die lekkerste tye was natuurlik speeltyd. Ons het “piieeep” gespeel – (onthou julle? – die bal oor die tenkie gegooi), en “rounders” en verder het ons in die koue teen die muur gestaan en bak, elkeen met haar voet in ‘n gaatjie wat uitgeskop was. Die seuns het vir hulle ‘n voetbalveld gemaak en ons meisiekinders kon hulle soms so treiter deur aan die pale te hang.
Op een stadium was daar al 5 die Knipe-sussies in die Koo skool, want Marion en Charlotte het toe ook bygekom. Saam met Charlotte was Pieter Burger en Ronel en Bennie Burger was saam met Marion. (Verskoon as ek soms name uitlaat.) Speeltye het Mamma Annalise die bediende met ‘n mandjie met broodjies en ‘n fles tee gestuur vir die spannetjie Knipes. Die heel lekkerste hoogtepunt van die jaar was die konsert aan die einde van die laaste kwartaal – na die eksamens. Daar het die wonderlikste produksies verskyn! Almal was deel van die konsert. Op die verhoog is die blou gordyne gehang aan die draadhakie uit die dak uit en iemand moes die gordyne oop en toe trek en Meneer het al die aankondigings gedoen. Een jaar (ek dink dit was toe Lillibit-hulle in Std. 5 was) is daar ‘n toneelstuk opgevoer – elke hond kry sy dag – en dan het die klomp seuns geëindig met… “en ons klomp brakke kry twee!”. Daar is omtrent konsert geoefen en kostuums van teater kwaliteit is geïmproviseer. Aunt Bubbles het altyd die klavier gespeel.
Elke jaar is daar ‘n oulike Kerstoneel opgevoer en dit was wonderlik om die hoofrolle van Josef en Maria, of die engel Gabriel, te vertolk. Dan het Vader Krismis ook nog aangekom met Lucky Dips vir die kinders! Tydens die konsert-oefening het Bill gewoonlik ‘n kissie rooi kersies skool toe gebring. En net soms het mens ‘n skelm soentjie agter die gordyn gekry!
Mnr. Crafford was ‘n baie goeie leermeester – maar hy het ook verskeie hoofseuns en hoofmeisies gelewer aan Hoërskool Montagu. (Johan Rossouw, Karin Burger, Nanette en ekself – later sekerlik nog). Die akademiese presteerders in die Hoërskool het dikwels ook uit die Koo gekom.
Verskeie gemiddelde A’s kon terug verwys word na die Koo-skool. In hierdie skool het jy geleer om reg te spel en om somme te maak! Tussen Suna, Mariette en ek was daar (tot Matriek) ‘n wedywering om die beste staanplek in die klas. Ons het nie regtig toe geweet van netbal, krieket en voetbalwedstryde nie, behalwe volgens Koo-standaarde.
Omdat daar toe feitlik nog geen sportafrigting bestaan het nie, het Mamma ons elke week dorp toe geneem om saam met die dorpskinders te gaan atletiek oefen. Die Koo- kinders het die dorpskinders weggehardloop! Elke sportspan van die Hoërskool het later uit verskeie Koo-kinders bestaan.
Wonderlike tye en ek is bevoorreg om te sê ek kom uit die Koo- skool – ook waar dieselfde onderwyser vir Pappa Bresler sowel as vir sy kinders skoolgehou het.
1978-1984
UITTREKSEL UIT KOLLIG – 2000. Onderhoud gedoen deur Petro Brits
RETHA ROSSOUW (BURGER) het haar laerskool- loopbaan in die Koo voltooi (1987 – 1984)
Die skool wat julle nou het en die een wat ons gehad het, het soos die noorde en die suide of soos dag en nag verskil.
Ons het twee klaskamers gehad. Sub A – St. 1 was in die groot klas (waar die saal nou is) en St.2 -5 in die klein klaskamer (waar die kombuis nou is). Waar die kroeg vandag is, was ‘n stoep. As dit die dag gereen het, het almal op die stoep gespeel. Dan was daar nog ‘n houtwerkkamer en ‘n kombuisie. Dit was waar die toilette en die deel wat hulle verbreek het, is.
Ons moes bv. na die buite geboutjie gaan om toilet toe te gaan. Maar dit was heerlik, want as dit bv. jou beurt was om mondeling te praat of as daar iets interessants buite gebeur het, het jy net gevra om kamer te verlaat en vir ewig weggebly!
Ons het nog in gewone klere skoolgegaan en het twee onderwysers gehad: Juffrou Bonthuys en Meneer de Wet. Juffrou Yvonne Bonthuys was baie streng, maar tog gaaf en ‘n baie goeie onderwyseres. Meneer De Wet was ‘n groot man en baie kwaai. Hy het vreeslik kerrievis geëet en dit was die seuns se gunsteling tydverdryf om sy visblikke in die houtwerkkamer uit te snuffel.
Sport het nie bestaan nie. Daar was ‘n klein tennisbaantjie, waar ons in die L.O. periodes met houtspane tennis gespeel het. Die groter seuns (St.4 & 5) het op tannie Annelize Burger se baan gaan speel. Daaroor was ons ander baie ongelukkig, want ons wou ook ‘n beurt gehad het! Atletiek het ons elke somer op Montagu gaan oe- fen. As jy verder as die Kleure- byeenkoms gevorder het, het jou ouers self met jou gery. Daar was geen ondersteuning of afrigting van die skool se kant nie. Daar is glad nie rugby of netbal gespeel nie. Ek en my broer het vanaf St.4 vir Montagu Laerskool gespeel. My pa, Kerneels Burger, het elke Dinsdag en Donderdag met ons gery vir die oefeninge.
My broer Alex, het in 1983 (sy St, 5- jaar), die Boland span gehaal en die Cravenweek in P.E. bygewoon.
En toe gebeur daar ‘n wonderlike ding! Daar kom ‘n nuwe besem in 1984, nl. Meneer Faan! Hy kom vee al die ou visblikke uit en ewe skielik kry ons ou skooltjie lewe. Daar word dadelik ‘n sandput en atletiek- baan gemaak, Ons oefen atletiek dat dit bars. Dit is dan ook met sy hulp en ondersteuning dat ek in 1984 die eerste Victrix Ludorum van die plaasskool word. Hy reël met die ander plaasskole en ons hou ‘n sportdag. Almal wat wen se name word in ‘n boek opgeskryf. Concordia Laerskool se eerste rekordboek! Dit was ‘n heerlike dag wat my nou nog bybly.
Daar word vir ons ‘n netbalbaan en rugbyveld gemaak. Van St.2 – 5 is almal in die span, want ons was te min. Weereens word daar vir ons wedstryde gereel. Ons het bv. ‘n sportdag op Middelrivier gehad.
Dit was net so lekker.
Tennis het Liesa vir ons gegee. Meneer le Roux van Ashton kom gee vir ons tennislesse en ewe skielik begin Laerskool Koo op die map kom wat sport aanbetref!
Ons het wel Houtwerk, Naaldwerk en Kuns by Meneer De Wet en Juffrou Bonthuys gehad. Daar is ook baie moeite gedoen met konserte en ons het gereeld konsert gehou. Meneer De Wet se vrou, tannie Rita, het vir ons Sang gegee. As jy musiek wou neem, moes jy dit privaat doen. Ek en ‘n paar ander het by tannie Bubbles Burger musiek geneem, maar geen eksamens afgelê nie. Sy het ons net laat toets skryf.
Ons het ook nie soos vandag se kinders uitstappies onderneem nie. Daar was wel een dag ‘n uitstappie na die Bontebokpark naby Swellendam. Slegs St. 2 – 5 het gegaan. My pa het geweier dat ek en my broer saam met Meneer De Wet ry. Gevolglik het ons twee die hele dag by die skool, alleen in die klas, gesit!
1981
Ek, Maree, Theo, Abrie, Dawid ,Alex ,Tertius, Pieter en Willie. Nege van ons op ons eerste skooldag, die grootste klas wat die skool nog ooit gehad het. Daar word tot ‘n beriggie in Die Burger geplaas oor die groot klas en daar begin seker die sewe lekkerste jare van my lewe. Sorgvry, kaalvoet en onskuldig. Juffrou Bonthuys se potjies en pannetjies hou ons besig en 00k klei speel. Sus en Daan boekies is ons eerste leesboeke.
Ek onthou hoe ons seker tot omtrent standerd 5 kaalvoet kon skool toe gaan. (Om die waarheid te sê, ek het nou nog ‘n voorliefde vir kaalvoet loop!) Pouses het ons sulke klein vierkantige klippies opgetel om “huise” te bou.
Standerd twee kom meneer Nieuwenhuis in Mnr. de Wet se plek. Tannie Liesa begin die koor en baie van ons maak 00k kennis met klavier en blokfluit speel. Oefen is nie altyd so ‘n groot prioriteit en tannie Liesa se geduld word partykeer tot die uiterste beproef! Die koor vorder so goed dat ons in 1987 by die SAUK ‘n opname gaan maak. Wat ‘n ondervinding om so ‘n voorreg te hê!
Nou word daar pouses bok in die hok en hekke oop gespeel. Elke middag gaan jy huis toe met ‘n blou kol op ‘n ander deel van jou lyf. As jy dit kon vryspring kry jy heel moontlik blou kolle terwyl ons teen die seuns rugby oefen of hulle teen ons netbal. Ongelukkig verstaan die seuns nie dat rugbyreëls nie kan gebruik word in netbal nie!
Leana Van Deventer (De Kock)
My skool se naam is Laerskool Koo en ons is bo
Weg van die dorp se geraas, raak ons gou ons vakke baas
Ons leer en speel en raak nie gou verveel
Ons is nie baie kinders nie, maar ons gee nie minder om vir ander nie
Mnr. Faan laat ons hol om die rugbybaan en Juffrou Liesa staan op die tennisbaan.
Juffrou Rosemarie ry die bus en is ons elke dag so gerus om nie ‘n dag by die skool te mis
Handre & Anro van Eeden (Mamma en Gr.4)
13 January 1981
KOO. — Vir die Laerskool Koo was die heropening van die skole vanjaar ’n besondere geleentheid. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die skool is daar vanjaar nie minder nie as nege leeriinge vir Sub A ingeskryf.
Die Koo is een van die min boerdery gemeenskapppe wat nog kan spog met ‘n groot getal jong boere en die vooruitsigte vir ‘n skool wat in ‘n stadium gekwyn het, lyk nou weer rooskleurig.
Die Ieerlingtal wat verlede jaar op 19 gestaan het, het meteens opgeskiet na 27 nadat een leerling die skool aan die einde van 1980 verlaat het.
1983-2010
MNR FAAN 1983 TOT NOU
My verbintenis aan Laerskool Koo begin eintiik in 1983 toe ek na vyf jaar skoolhou op die punt was om die onderwys te verlaat omdat ek hoegenaamd geen tyd vir my gesin gehad het nie. Ek kon net nie sien dat ek my eersteling Francois, toe tweejaar- oud en my vrou so afskeep nie. Liesa het my aangemoedig om aansoek te doen by Laerskool Koo toe nog bekend as Laerskool Concordia. Toe ek hier aankom vir die onderhoud, was ek ietwat oorbluf, want ek was verbonde by die grootste Laerskool in die Wes-Kaap met al die fasiliteite waarvan jy net kon droom en kon myself vir eers nie insien by die klein skooltjie met hoegenaamd geen geriewe nie. Wat my egter dadelik beïndruk het, was die ongelooflike gasvryheid van die mense en ek het myself sommer tuis gevoel.
Toe ek die pos kry en my hoof, mnr. Van Renen, my vra wat ek op so ‘n verlate plek wil gaan maak en sê dat ek my onderwysloopbaan daar gaan verwoes, het ek baie getwyfel, maar besluit om deur te druk. Ek het elke tweede naweek van die laaste kwartaal deurgery Koo toe en vir Laetitia Rossouw wat toe afgelos het, kom help met onder andere die opstel van vraestelle en aantekeninge.
In 1984 stap ek hier in as nuwe onderwyser saam met Juffrou Juanita wat vars uit die Kollege hier begin. My klaskamer was die saal en Juffrou se klas was die huidige kombuis. Vir my was die opvallendste kenmerke van die leerlinge, die honger na kennis en die feit dat hulle nog ware kinders was. Ek kon dit byna nie glo toe dit die Sondag kerk is en alles uit die saal verwyder moet word nie. So het dit aangegaan met landbou vergaderings en dan was daar natuurlik die jaarlikse kerkbasaar. Alles kaste, banke, swartborde, ens. is die Vrydag op ‘n vragmotor gelaai en by een van die plase gestoor tot die Maandagoggend. Van skool gee was daar maar min sprake op die dae.
Ek het egter besluit niks gaan my onderkry nie en het met my kaalvoetkinders begin oefen vir die atletiek op na Bill se huis en die teerpad af. Al ons opofferings was die moeite werd en Retha (beter bekend as Stukkie) word daardie jaar aangewys as die beste dogters atleet by Montagu Laerskool, Daarvandaan was daar geen keer aan ons leerlinge nie en die een goeie prestasie na die ander het jaarliks gevolg.
Ons eerste boeresport en atletiek sal my altyd bybly. Dit is gehou op die stukkie grond tussen die huidige tennisbaan en die Wendy huis. Daar is die dag gehardloop dat die stof staan en ek sien nou nog vir Hannetjie en Ronelle wat hardloop dat die rokke waai.
Die Pa’s het ook hul spiere gewys en wou ook die jong meneertjies hul boerekrag toon in die gewigstoot en toutrek. Wat ‘n heerlike dag.
lets wat my altyd sal bybly is die busryery. Een van die voorwaardes vir my aanstelling was dat ek ‘n bus moes hê. Ek weet nou nog nie hoe ek dit reggekry het nie, maar ek het met ‘n splinternuwe waterverkoelde kombi hier aangekom. Die lekkerste geselsies het gewoonlik by die busstoppe plaasgevind en dit het vir my gevoel hierdie boere het niks wat hulle aanjaag nie en ek het baie oggende effens laat die skoolklok gelui. Die skool het toe nog net uit leerlinge van die Koo bestaan. Hier het ek geleer om tyd te maak vir mense. Toe ek in 1989 nie meer die bus op die pad kon hou nie, het Johannes Rossouw die busdiens oorgeneem en ek moes net die bus ry.
Die klomp plaasskole by name Keisie, Middelrivier, Ouplaas, Klipdale, La Chasseur (Twee Valleien), Protem, Buffeljags en Stilbaai het gereeld in rugby, netbal, tennis en atletiek teen mekaar deelgeneem, en die kompetisie was ongelooflik sterk.
Jaarliks het ons in April met man en muis afgetrek Stilbaai toe vir ‘n naweek van sport. Alida Jordaan, hoof van die Keisie, was in my beginjare my mentor en het my van raad voorsien oor vorms invul en die hantering van multigraadklasse. Sonder haar hulp en bystand sou dit maar geknor het. Vandag is ek en Elizbe van Keerom Primer sielsgenote wat mekaar opbeur as dit rof gaan in die onderwys.
Daar was soveel hoogtepunte in my skoolhou hier, dit is seker die rede hoekom ek nou nog hier is na 26 jaar. Die een oggend, terwyl ons nog besig was met skool gee, hoor ons net hierdie oorverdowende geraas. Ons dog dit is ‘n boeredag met ’n trekkerdemonstrasie. Toe ons buite kom, was leef en beef daar en is daar begin met die aanlê van die rugbyveld.
In Oktober 1986 word die tennisbaan gebou en toe seker die grootste verrassing die aanbou van die nuwe skool en die inwyding in September 1992.
Die skets van Laerskool Koo na die aanbouing van die nuwe klaskamers. Die voordeur-ingang was nog nie daar nie en die kroeggedeelte ook nog nie gebou nie
In 1993 het die Departement besluit om alle skole onder 25 leerlinge te sluit. Ons het stemming gehou en die mense het besluit dit sal nie gebeur nie en na baie onderhandelinge word ons ‘n staatsondersteunde privaatskool. Baie van die bogenoemde plaasskole het al gesluit en ek besef steeds elke dag hoe gelukkig ons kan wees.
Groeipyne was daar genoeg en ek sal nooit vergeet hoe ek en Bill gaan kinders soek het nie, Ons eerste leerlinge van buite was Gerrit en Hannelie de Kock vanuit die Keisie in 1989, Alexander en Estelle 1991 met die geel Ford Granada en later al die Agterveld se kinders met die rooi Datsun 1400 en ons eerste dorpsleerling Nelia de Wet in 1992 wat saam met juffrou Pelser gekom het. Daarna was die ys gebreek en het ons leerlinge van oral gekry. Een voorwaarde was dat ons ‘n bus vanaf die dorp moes kry en ons was gelukkig om Juffrouens uit die dorp te kry wat die leerlinge sou vervoer totdat ons, ons eerste bussie ‘n Toyota Hilux aangeskaf het. Dankie ook aan die Haasbroeke en Van der Merwes wat van anderkant Montagu hul kinders aan ons toevertrou het. Ons skool het op een stadium so gegroei dat ons getalle gestyg het tot 52 en ons moes selfs ‘n derde onderwyser kry, Ons fasiliteite leen hom egter nie tot so ‘n groot getal nie en ons moes maar skarrel om almal te huisves. Sedertdien handhaaf ons die getalle tussen 35 en 40.
Agter elke suksesvolle man staan daar ’n goeie vrou, maar in my geval het ek ‘n hele paar gehad wat my ondersteun het. Eerstens is daar Liesa, my vrou, wat my deur dik en dun bystaan en met haar ongelooflike talente die kinders onderrig in musiek en konserte en uitstappies reël, tennis afrig en nog vele meer. Dan was daar die getroue juffrouens nl. Juanita, Mariaan Baard, Marlene Pelser, Chrisna Rossouw, Marlene Hugo en tans Rosemarie Fourie wat die grondslag gelê het vir die groot klas. Sonder ouerhulp sal ek seker nooit die skool kon laat funksioneer nie en dit was veral die sekretaresse van die skoolkomitee bestuursliggaam wat die rol van sekretaresse by die skool moes vertolk wat my baie gehelp het. Jare nadat Elizbé le Roux nie meer kinders op skool gehad het nie , het sy my steeds kom help met die gholfdagbriewe. Daarna is haar pos oorgeneem deur Engela le Roux.
Tans het ons ‘n volwaardige sekretaresse in Petru Groenewald en kan ek nie glo ons het al die jare so klaargekom nie. Ander dames wat groot rolle gespeel het, was Lydia le Roux wat begin het met die rekenaar aanbieding en ons skoolkoerant Die Kollig. Sy is opgevolg deur Petro Brits en huidig is Karen Burger die redaktrise. Baie dankie aan julle opoffering en ure se werk. Taryn was betrokke by die voorskoolse kinders, rekenaar en doen nog steeds die skool se boeke. Ons nuwe rekenaar juffrou is Yolandi Burger wat as jonggetroude haar dienste by die skool kom aanbied het. Julle verdien almal goue medaljes.
Die Bestuursliggaam vorm maar die kern van die skool en ek besef elke dag dat as dit nie vir hierdie ouers se wyse besluite, versiendheid en onwrikbare geloof in ons skool was nie, sou ons deure lankal gesluit gewees het. Ek sal ‘n land kan regeer met hierdie mense se positiewe gesindheid en integriteit. Sonder ons ouers se harde werk en betrokkenheid sou ons skool ook nie kon funksioneer nie en ek wil elkeen daarvoor bedank. Daar is min skole wat kan spog met sulke betrokkenheid. Sonder die skenkings van oud-ouers en instansies sou ons skool ook nie kon voortbestaan nie. Vir ons geborgde gholfdae het ek die afgelope 20 jaar al kuddes skape en varke as pryse ontvang en duisende rande se borgskappe. Ons waardeer jul lojaliteit.
Dan die hartklop van die skool, nl. ons leerlinge. Ons is baie trots op julle! Julle prestasies in die hoërskole en die baie hoofseuns en hoofdogters en prefekte wat ons opgelewer het, en steeds lewer wys ons grondslag hier is reg. Vir my is dit egter die belangrikste dat julle as volwaardige burgers van Suid- Afrika jul plek in ons land volstaan en uitleef in jul verskeie beroepe.
Julle kontak met die skool en ook jul groot belangstelling in die 75-jarige reünie toon dat julle ons steeds in jul harte dra en ek wil een en almal bedank wat die naweek saam met ons kan deurbring en ander wat in hul gees hier teenwoordig sal wees, maar weens omstandighede dit nie kon maak nie.
As ek terugkyk na my 26 jaar betrokkenheid by Laerskool Koo besef ek dat my koms hierheen deur die Here bepaal was. Die voorreg wat ons gehad het om ons kinders Francois , Derek en Albert in hierdie fantastiese omgewing te laat grootword waar menswees nog belangrik is, kan geen geld ter wêreld koop nie.
Van my groot drome kon ek ook hier uitleef nl. my eie koei, Blommetjie, my varkie, Babe en die ruimte vir my baie honde en laastens die besit van ’n 4×4.
Die Here het dikwels wanneer die toekoms van ons skool maar duister gelyk het wonderbaarlik voorsien en ons dank Hom daarvoor en ons bly steeds glo Hy is die Lig van ons pad.
Hierdie is nie my afskeidsboodskap nie. Ek hoop ek sien julle met ons skool se 100 ste viering.
Ns. Vergewe my as ek nie almal se name genoem het wat ‘n rol gespeel het in ons skool se bestaan, anders sou ons boeke vol moes skryf.
Groete Meneer Faan
1985
Die liewe Vader was my baie genadig en het my geseën met wonderlike jare by die Laerskool Koo (Jan. 1985 tot Desember 1993).
Ek het Gr 1, 2 en 3 gekombineerd gehad. Ek het Januarie 1985 daar begin met ‘n stywe ruggraat van senuwees, want ek moes vir my eie kind onderrig en dit was nie so maklik nie.
Nicholas Pelser, Danie de Kock en Anthon Rossouw was toe in Gr.1. Nicholas het vir die hele skool vertel ek is nie regtig ‘n juffrou nie, maar net ‘n tannie. Hy was doodstil in die klas, maar wou glad nie sy samewerking gee nie. Na skool moes ek weer alles tuis met hom herhaal. Ek wou nie sommer in die eerste paar weke my ware kleure wys nie!! Toe ek dink die leerders is nou gewoond aan my, het ek besluit: Genoeg is nou genoeg en het hom begin kortvat. Toe hy sien hier kom nou groot moeilikheid, het hy die pad gevat. Daardie dae kon ek nog vinnig hardloop. Ek het hom van agter ingehardloop en hom die nodige gegee. Van daardie dag af was ek “Juffrou” in die klas. Wys jou Handelinge 5 vers 5 is die beste medisyne!!
Hoogtepunte was daar vele. Ek dink daaraan toe ons skool Kaap toe is na die SAUK en ons koor opgeneem is – dit was ‘n belewenis.
A! die wonderlike uitstappies, konserte, sportwedstryde – te veel om op te noem, maar wonderlike herinneringe!
Jan 1989 het ek aan die vereistes voldoen vir ‘n eerste prestasie-erkenning en Januarie 1992 het ek aan die vereistes voldoen vir ‘n tweede prestasie-erkenning. In 1988 het ek as hoof waargeneem en Mnr, F Nieuwenhuis se plek wat verder gaan studeer het,
Dan was daar soms tye wat aan jou senuwees geknaag het. Ons het ‘n inspekteur (vakadviseur) gehad, ene Dr V.d, Mescht. Hy het ons skool uitgekies om hom te help om te bewys dat die manier waarop hy Engelse klanke (Phonics) aanbied suksesvol en tot voordeel van die leerders se leer is. Ons was eintlik soos ‘n leerskool vir hom. Ons moes oor elke klank navorsing doen. Hy het ons skool dikwels kom besoek en dan moes ek vir hom lesse aanbied van Gr.1 tot Gr.7. Toe hy gedink het, dat alles baie goed was, het hy van die leerders o.a. Celeste Burger, Vida Rossouw, Nelius Rossouw en Francois Nieuwenhuis Departement toe geneem en daar met hulle gaan spog. Hy is later oorlede en ek weet nie of hy sy boeke gepubliseer gekry het nie, maar dit was ‘n reuse sukses. Die harde werk was later darem ook nie verniet nie, want toe Elzette Rossouw in Hoërskool Montagu kom, wou almal weet waarom sy so goed in Engels is. Sy het toe die kinders in haar klas ook begin Phonics leer soos Juffrou Reiser haar geleer het – Dankie Elzette.
Al die leerders het baie goed in die Hoërskool presteer. Bo en behalwe die goeie werk wat hulle gelewer het, was omtrent almal op die leerlingraad, seifs hoofseuns en -dogters. ‘n Dag wat ek nooit sal vergeet nie, was toe ek waargeneem het as hoof toe Mnr. Nieuwenhuis verder gaan studeer het. Vroeg die oggend het die inspekteur geskakel dat hy ons skool kom besoek. Mev. Liesa Nieuwenhuis het die hoof se klasse waargeneem. Daardie dae het ons nie elke dag ‘n skoonmaker gehad nie en ek het gou die leerders gevra om die papiere op te tel, klasse uit te vee ens. Intussen het ek self gou die toilette (dit was toe nog buite) uitgevee. Toe is ek terug klas toe, maar ek het eers gou weer by Mev. Nieuwenhuis se klas ‘n draai gaan maak om te sê dat die leerders nie in die toilette moet mors nie, want ek is doodseker die inspekteur gaan daar ook ‘n draai maak. Toe ek in haar klas kom, was sy besig om ‘n les te gee oor die duif. (Sy het ‘n lewendige duif skool toe gebring.) Ek wou vir haar vra waarom sy nie wag met die les tot die inspekteur daar is nie, maar sy stamp my elke keer so saggies met haar elmboog weg as ek wil praat. Later toe ek my sê kon inkry, staan die inspekteur in die klas en hoor alles wat ek praat. Kobus Rossouw het so lekker gelag dat hy dubbelgevou het, ek sien nou nog sy gesiggie voor my. Ek het my deur niks laat afsit nie en nader gestap en die inspekteur gegroet en welkom geheet. (Daardie dae het ons nog geglo alles moes perfek wees.) Gelukkig het ‘n goeie verslag gevolg.
Ons het ook gewoonlik Woensdae naaldwerk en houtwerk met die leerders gedoen. As dit tyd geword het vir die naaldwerkperiode het Liezel Rossouw se ogies soos dammetjies gelyk. Sy het niks van naaldwerk gehou nie. Dan het sy stilletjies onder my tafel ingekruip en by my voete gesit. Later het ek net weer ‘n skaduwee gesien en Nicholas Pelser wat weer nie van houtwerk gehou het nie. Hy het weer stilletjies uit die houtwerkklas verdamp en by Liezel onder die tafel kom sit, dan het sy, sy plank geskuurtot dit so sag soos bababoudjies was en hy weer vir haar gebrei. So het almal se werk gedaan gekom. Vandag is Nicholas ‘n tegnologie onderwyser en Liezel se huis is pragtig kreatief versier en sy gee ook onderwys. Brink Augustyn vertel my elke keer as hy my sien hoe lekker dit in die klas was, maar dat Juffrou ons darem seer geknyp het met daardie lang, rooi naels. Daardie dae het ek nog naels gekou en wou nie swak voorbeeld aan die leerders voorhou nie. Ek het akriel naels gedra en jy kon skaars daaraan raak en dit spat in alle rigtings, Ek het hulle altyd gewaarsku as hulle nie mooi werk nie, gaan ek hulle knyp – siedaar die verbeelding! Elke dag was ‘n fees om saam met Mnr. & Mev. Nieuwenhuis te werk.
Ek kan ook nie genoeg dankie se vir die Here dat Hy sulke pragtige ouers en leerders oor my pad gebring het nie. Julie is die beste en so spesiaal. Hier is my geskenk aan julle:
Ns: Ek is nog steeds in die onderwys (32 jaar). Ek is te bang as ek ophou met onderwys gee, hou my drie seuns en twee skoondogters ook op……., want onderwys is nie vir sussies nie!! Lank lewe Laerskool Koo!!!
Marlene Pelser
Drukkies is die perfekte geskenk
Dit werk vir mense van alle ouderdomme, groottes en vorms,
Dit kan vir vriende of familie gegee word.
Jy kan nooit te veel daarvan kry nie.
Dit is goed vir jou hart en maak nie vet nie.
Dit is uiters bekostigbaar en pas enigeen.
‘n Drukkie ‘n dag laat die hartseer wag.
Drukkies kan om ‘n bepaalde rede gegee word, maar is kosbaar as dit sommer net vir die lekker gegee word.
Drukkies is geskenke wat die gewer en die ontvanger ewe veel plesier verskaf.
– Audrey Jeanne Roberts –
Hoofleiers sedert 1985 te Montagu Hoërskool. (Baie van ons leerlinge het ook in leerlingrade gedien.)1991 Dante Pelser 1996 Nicky Pelser 1998 Brink Augustyn 2002 Derek Nieuwenhuis 2002 Melanja Burger 2008 Hanrie Burger |
Die Koor
Agter: Sune Rossouw, Lizette Burger, Leana De Kock, Liezel Rossouw, Maree Rossouw, Willie Burger, Pieter Burger, Henkie Burger, Stoffel Burger. Voor: Elzette Rossouw, Hannelie Augustyn ,Juf. Liesa, Theo Augustyn en Kobus Rossouw.
Dit is lekker in die koor,
Maar my Juffrou wil my vermoor,
Daar leer die kinders sing,
Die lied se naam is “Goue Ring”.
Ons sing ook in die kerk
Maar dan moet ons hard werk.
Elana sing mooi,
En word bloedrooi.
Dan is ons klaar
En Juffrou se sê sy is dankbaar!
Debony Douries
1986
1987
Die vyfjarige Celeste Burger van die Koo, Montagu, het Maandag ve dat sy in die S A.U.K se Landswye Singbamba—kompetisie eerste in die afdeling vir meisies geëindig het. Meer as 400 voorskoolse kinders van oor die hele land het aan hierdie kompetisie deelgeneem. Die Iiedjie waarmee Celeste die eerste prys verower het. is “Doedoe baba”.
1988
B. Liebenberg
Skool na Dias-fees’ 1988
MONTAGU. — Die Laerskool Montagu se leerlinge van die Koo- distrik onder leiding van mev. F. W. Niewenhuys vertrek volgende Sondag op ’n opvoedkundige: toer na Mossselbaai,
Die hofdoel van die toer is om die Dias-fees; by te woon. Die groep bestaan uit 23 leerlinge Drie onderwysers en ses ouers;. sal die leerlinge: vergesel.
Die eerste nag sal hulle op die Landsdiensterrein in Schoemanspoort oorbly, vanwaar hulle die volgende dag na Oudtshoorn vertrek. Die grotte, ‘n voktruisplaas en Langenhoven se huis sal besigtig word.
By die onderwysersstrandoord sal hulle vanaf 2 tot 4 Februarie oorbly, waar hulle aan die
Diasfees deelneem. Op 2 Februarie neem hulle aan die jeugoptog deel, die middag aan die jeugprogram en die aand aan die jeugkonsert.
Woensdag is die aankoms van die karveel. Donderdag sal huile die skippie besigtig en die middag vertrek hulle weer terug Montagu toe. Al die leerlinge is opgewonde en kan nie die tyd afwag nie.
1989
Links: Nico Malan Koor – 1989
Die SAUK het ook die Laerskool Koo Koor genooi om in ateljee op te tree waar hulle dit dan ook oor die radio uitgesaai het.
1991
Standard 2 tot 5-1991. Agter: Anthon Rossouw, Carel de Kock, Nicholas Pelser, Al-Jo van Dyk, Danie de Kock, Derrick Rossouw. Middel: Francois Nieuwenhuis, Jeanne Rossouw, Faan Nieuwenhuis, (Skoolhoof), Hannelie de Kock, Helen Rossouw. Voor: Vida Rossouw, Celeste Burger, Henriëtte Laufs, Brink Augustyn.
KULTUUR: Eisteddfod
KLAVIER: Celeste Burger (3 Silwer & 1 Brons Diploma) Nicholas Pelser (1 Brons)
SANG: Celeste Burger (1 Goue & 1 Silwer Diploma)
UNISA: Celeste Gr. 2 Klavier (Eervolle vermeld- ing) Nicolas Gr. 3 Slaag
ATLETIEK: Van die 27 leerlinge het die volgende leerlinge streekspan behaal.
Melanja Burger, Derek Nieuwenhuis, Willem Rossouw, Samuel Rossouw, Divan Rossouw, Celeste Burger. Hannelie de Kock, Francois Nieuwenhuis, Nicholas Pelser, Anthon Rossouw.
BRON: Die volgende leerlinge het bekers ontvang: Melanja Burger, Celeste Burger, Francois Nieuwenhuis, Hannelie de Kock, Carel de Kock.
Carel de Kock is die aand as die beste seuns atleet aangewys!
NOORD BOLAND: Die volgende leerlinge het deurgedring na Noord-Boland -Celeste, Carel en Anthon. Celeste het Noord-Boland kleure gekry.
Ons skool pronk ook volgende jaar met ‘n splinternuwe Skoolwapen en Skoollied danksy die inisiatiewe van ons plaaslike kunstenaars, by name Hester, Lydia, Chrisna en haar ma. Ons waardeer julle groot bydraes.
Mnr. F Nieuwenhuis
Sê nou ek word ’n dogtertjie. As ek ’n meisiekind word sal ek bly wees. Dan hoef ek nie so baie te werk nie. Meisiekinders word meer voorgetrek as seuns
Derek Nieuwenhuis Sub A 16-08-1991
1992
1992 -Voorsitter Bestuursliggaam
Liewe Vriende. Wat ‘n voorreg is dit nie om ‘n leerling van die Laerskool Koo te wees nie!Wanneer mens so terugkyk oor die prestasies wat die skool op akademiese, sport en kulturele gebied vanjaar behaal het, is mens trots om op die een of ander manier aan die skool verbind te wees. Ons as gemeenskap van die Koo is voorwaar trots op die skool. Selfs in hierdie moeilike tyd van politieke verandering, is die gemeenskap steeds ernstig met die voortbestaan van ons skool. Dit het duidelik geblyk deur die onlangse entoesiastiese inwyding van die Koo-sentrum waarin ons, ons skool gehuisves word. Baie dankie ook aan die Koo Boerevereniging vir die gebruik van hul gebou.
NETBAL: Groot opgewondenheid het geheers toe ons vir die eerste keer in Laerskool Koo se geskiedenis ook ’n kleinspan (Sub A – St. 1) gehad het wat teen ander skole kan meeding. Hulle het uitstekend gevaar en hul voetwerk was van die beste. Petro en Coralie Rossouw was die uitblinkers in die span.
Die groot span (St. 2 – 5) se algemene indruk was dat hulle as ’n span gespeel het. Uitstekende harde spel is gelewer. Hulle het skitterend verdedig met Carina Burger aan die roer van sake
ATLETIEK: Op atletiek gebied spog die skool met een Noord-Boland atleet en gedurende die kleurebyeenkoms het ons skool beide die Victor en Victrix Ludorum opgelewer. Hier moet die name van Celeste Burger en Carel de Kock genoem word.
TENNIS: Helene Rossouw het Noord-Boland kleure verwerf.
Twee professionele afrigtingskursusse is ook aangebied.
RUGBY: Die skool speel 7 man-rugby en veral die klein spannetjie het die wêreld aan die brand gespeel en net een wedstryd verloor.
KRIEKET: Ons skool het vanjaar begin met krieket. Dit wil voorkom asof die ouers se entoesiasme en die kinders se toegewydheid hierdie sportsoort ‘n groot sukses kan maak.
Nelia de Wet het ook geskiedenis gemaak
Sy was die eerste dorpsleerling van Montagu wat in die Koo skoolgegaan het. In 1992, toe sy St.1 toe moes gaan, het haar ouers, Francois en Maretha, besluit hul jongste kan ‘n bietjie doen met individuele aandag. Nelia het toe saam met Marelene Pelser elke dag in en uitgery. Eers die volgende jaar het nog kinders uit die Keisie bygekom.
Dink mens terug aan die skool van ‘n klompie jare gelede. besef jy dat die Laerskool Koo nie stilgestaan het nie, maar ook gegroei het saam met die tyd. Veral op sportgebied het die skool van niks gegroei tot ‘n span om mee rekening te hou. Die skool spog ook tans met ‘n skoolwapen en skoollied.
Mens besef egter dat die groei en uitbouing van ons skool nie vanself gekom het nie, maar dat dit harde werk en toewyding van veral ons huidige personeel gekos het Ek glo dat toe mnr. Nieuwenhuls 8 jaar gelde hier gekom het, daar vir hom ‘n groot uitdaging gewag het. Faan, ek verseker jou dat jy vandag met trots kan terugkyk op wat die skool met jou aan die spits, bereik het. Faan en Liesa het so deeI van die gemeenskap geword dat ons as ouers vandag sal moet bely dat ons nie aldag besef wat hulle vir ons kinders beteken nie. Maar glo my Liesa, elkeen van ons sluk swaar aan die knop in sy keel as jou goed afgerigte kinders optree. Ek kan maar net dankie se dat julle ook liefgeword het vir Laerskool Koo.
Hoe bevoorreg is ons nie dat ons kinders die grondslag van hul skoolopvoeding by iemand soos Mev. Pelser kan ontvang nie! Marlene, baie dankie vir die intense aandag wat elkeen van ons leerlinge
elke dag van jou ontvang.
Ek wil ook baie dankie se aan alle ouers vir hul getroue ondersteuning, op watter gebied ook al. Oom Pieter Mohr, baie dankie ook vir die tyd wat Oom spandeer om ons kinders in houtwerk te onderrig.
Vir ons St. 5 leerlinge wil ek net sê dat julle niks te vrese het vir die volgende fase in jul lewe nie, want julle het net die beste grondslag ontvang. Voorspoed met jul hoërskoolloopbaan en wees goeie ambassadeurs vir die Laerskool Koo.
Groete – A P Burger
1993 Atletiek
Alhoewel ons hierdie jaar nie ’n provinsiale atleet opgelewer het nie,
Kleuresport Montagu
Celeste Burger en Francois Niewenhuis word aangewys as die beste Koo-atlete en verower die nuwe bekers. Nege atlete kwalifiseer vir die streekspan. Drie atlete nl. Celeste Burger, Derek Nieuwenhuis en Samuel Rossouw vorder tot by die Noord-Boland byeenkoms.
Ons atlete het puik vertoon. Die volgende prestasies is 13 eerste plekke 15 tweede plekke 8 derde plekke
Landloop
By ’n byeenkoms gehou te Touwsrivier, verras ons leerlinge, vriend en Omdat ons nog nooit aan so ’n byeenkoms deelgeneem het nie, is ons uniek.
Seunso.10 Eerste Plek: Derek Nieuwenhuis
Dogterso.10 Tweede Plek: Maretha De Kock
Vyfde Plek: Petro Rossouw
Sesde Plek: Coralie Rossouw
Baie dankie aan al die leerlinge wat die jaar presteer het, maar ook die wat net deelgeneem het, moet ’n besondere woord van dank ontvang. Onthou, al behaal jy nie eerste plek nie, jy bly ’n wenner. Jy wen nie net altyd ander nie, maar jy wen jouself.
Dankie, aan ons afrigters, Pieter Burger, Chrisna Rossouw en Mev. Pelser. namens hulle vra ek mooi dat julle gedurende die vakansie ’n bietjie moet draf en fiks word.
Onthou, ’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees.
Groete F.W. Nieuwenhuis
1993 – Voorsitter Bestuursliggam
Aan die einde van 1993, wat ‘n jaar van baie aanpassings was, kan die Laerskool Koo weereens terugkyk op ‘n baie suksesvolle jaar. Hierdie was ‘n jaar waarin ons moes aanpas by ‘n nuwe begrip in onderwys, nl. Model C. Dit het o.a. meegebring dat ons skoolfonds relatief hoog in vergelyking met meeste skole vasgestel is. Ook hierdie feit is goed deur alle ouers aanvaar, aangesien ons almal tog beset dat ons reeds al jare eintlik besondere klein privaat skool is waarin elkeen van ons kinders elke dag individueie aandag kry.
Die veranderde SA het dan ook verder meegebring dat ons weer ‘n moeilike besluit moes neem rakende die toekoms van ons skool a.g.v. ons steeds afnemende aantal “Koo kinders” was dit baie duidelik, dat ons die geleentheid moes aangryp om betyds oor te skakel na ‘n Model A skool en dan uiteindelik ‘n privaat skool.
Die Bestuursliggaam sien die voortbestaan van ons skool dan ook net as ‘n moontlikheid indien iets drasties gedoen gaan word om die “buite kinders” te akkommodeer. Graag sal ons dan ook die hele gemeenskap se insig en samewerking in hierdie verband wil he, want hoe kan ons, ons kinders die voorreg ontneem om eendag ook hul kinders in hierdie besondere skool te sit?
Die pragtige landelike omstandighede waarin kinders na aan die natuur kan skoolgaan tesame met ‘n toegewyde personeel, intense aandag en ook die moderne toerusting waarvan ons gebruik maak, maak van ons skool ‘n aantreklike skool vir menigte dorps- of stadskind. Ons as skool sal in 1994 hard moet werk om van die moontlikheid so gou moontlik ‘n werklikheid te maak, voordat dit te laat is.
Waar ons dan ook vanjaar afskeid moet neem van Mev. Pelser wie ons skool soveel jare gedien het dat sy al amper as ‘n vaste instelling beskou is, was dit vir ons ‘n groot skok om van haar weggaan te verneem. Marlene, dit was vir ons almal ‘n voorreg om ons kinders by jou die basis van jul skoolopleiding te kon laat ontvang, Ons wil vir jou baie dankie sê vir die stiptelikheid waarmee jy jou dagtaak elke dag begin het, asook die presies en sekuur manier waarop jy jou werk verrig het. Ons wil jou en jou gesin alle voorspoed toewens vir jul nuwe lewe in die stad.
Alle voorspoed aan die St.5 leerlinge met jul hoërskoolloopbaan. Ek kan jul verseker dat dit ‘n plesier is om vanuit Laerskool Koo hierdie nuwe fase in jul lewe te betree.
Groete
AP Burger
1994
Laerskool Koo mag klein wees, maar kyk net so!
MONTAGU. — Die Laerskool Koo, ’n plaasskool in die distrik met slegs 30 leerlinge, het feitlik skoonskip gemaak op ’n tennisdag vir plaasskole op Ouplaas deur drie van die vier bekers te wen.
Francois Niewenhuis het die enkelspelbeker (seuns) gewen, hy en Derek Niewenhuis die dubbelspelbeker (seuns) en Melanja Burger en Estelle le Roux die dubbelspelbeker (meisies). Derek het vanjaar die Noord-Bolandse o. 10-span gehaal en Melanja is ’n reserwe.
Die volgende leerlinge het Noord-Boland kleure ververf in landloop: F.H. de Kock (ook Boland), Petro Rossouw (ook Boland). Coralie Rossouw en Derek Niewenhuis. Maretha de Kock, wat weens siekte nie by die Noord-Boland en Boland byeenkoms kon deelneem nie, het op Ceres tydens die afshluitings- byeenkoms ’n goue medalje gewen.
Laerskool Koo presteer ook oop kultuurgebied en het 16 goue, 22 silwer en twee brons diplomas op die Worcester Eisteddfod verower. Die groot uitblinkers was Celeste Burger met ses goue en ses silwer medaljes en Melanja Burger met vier goue en drie silwer medaljes. Op musiekgebied het drie leerlinge vanjaar in die Unisa klaviereksamen presteer. Melanja Burger het Grand 1 met lof geslaag, Estelle le Roux Graad 2 met eervolle vermelding en Celeste Burger Graad 4 met eervolle vermelding.
1995-Uit die Kantoor
Die afgelope jaar was n opwindende jaar in ons skool se bestaan, Nie alleen het ons met ‘n rekordgetal leerlinge ni. 37 afgesluit nie, maar het ons ook bewys dat ons die regte besluit geneem het deur in 1994 te privatiseer.
Ons skool mag dalk klein in getal wees, maar ons het soos in die verlede op talle gebiede ons stempel afgedruk. Kuituur: Ek dink buiten ons koor se optrede was die hoogtepunt van die jaar ons konsert. Ons kinders en volwasse akteurs het by vyf geleenthede opgetree en die standaard was van uitstekende gehalte. Dankie aan almal wat verantwoordelik was vir die sukses van hierdie gebeurtenis. Sonder u huip en morele ondersteuning sou ons “akteurs en aktrises” dit nooit kon doen nie.
Mnr. F. W. Nieuwehuis
Alle Akteurs & Aktrises
Hoe se ‘n mens nou dankie vir ‘n aand soos gisteraand? In hierdie “donker” dae met at sy “swartheid” het julle Koo-toneelspelers, soos met ‘n towersiag glimlaggies kom tower op Montagu se gesig.
Die frisheid en natuurlike manier waarop julle vir ons ‘n onvergeetiike ervaring aangebied het, sai ons nog baie lank bybly. Ons weet almal dat die beste terapie vir “stress” is lekker lag! Dit het julle vir ons gegee – en vir so min geld!!
Dankie vir al die opofferings – al die tyd wat julle ingesit het om vir ons so ‘n konsert aan te bied met absolute hoogstaande kwaiiteit. Met sulke natuurlike sang- en toneelspel kan Truk en andere kom kersie opsteek in die Koo.
Die hele dorp en distrik gons oor dit wat ons eie mense vir ons gebring het! Julle konsert was nie net fris oorspronklik nie, maar het diep getref waar dit die morele aangaan – al was dit deur die pragtige kindertjies aangebied.
Dit moet beslis nie die laaste konsert wees wat ons van julle kry nie – asseblief. Met sulke sangtalent, skoonheid en natuurlike optrede op die verhoog moet julle beslis verder voortbou op gisteraand.
1996
UITTREKSELS UIT STELWERK GEDURENDE DIE JAAR ST 2 – 5
OOR MYSELF-
Maretha, St.3: EK sou nie sê ek is mooi nie, maar ek het ‘n paar goeie punte. ek het grysgroen oë en groot sproete-te.
Petro, St.3: Die sproete op my neus lyk soos roespiekke.
Samuel, St.5: EK is ‘n langerige ou met groot voete en doen gewoonlik net die nodigste
OOR. KOS-
Coralie, St.3: EK hou baie van diere, tennis en atietiek en moenie van eet vergeet nie!
Samuel, St.5: EK moet van vleis en rys hou, want dit is omtrent al wat ons eet.
Melanie, St.4: EK is MAL oor eet. om die waarheid te sê – dit is my stokperdjie.
Elsa, St.4: EK weet nie hoe mense sampioene kan inkry nie!
OORVOOR- EN AFKEURE
Nelius, St.5: EK hou daarvan om “cartoons” te kyk, maar dan sê my broer ek is nie meer in Sub. A nie.
Divan, St.4: I hate it when my brother uses me for a punching bag.
Albert, St.4: Mense wat nie vloek nie, maak my gelukkig.
My SKOOL
In die platteland het ek skoolgegaan, naby Montagu in die pragtige Koo. ‘Daar waar die onnies nog hard kon slaan en ons almal in God glo.
By my skool was daar nooit ‘n suur gesig; almal het meesal geIag.
Niemand se werk was ooit ‘n, plig, of het ooit na die toekoms gesmag!
Van sub. A tot St5 het ek hard geleer, baljaar, gespeel en, lekker gelag – al was my boude somtyds seer! Nou sit ek al in St.5… die toekoms lê vir my en wag.
Die snaakste van die toer was meneer se opvoering, Meneer het ballet gedoen, dit was baie snaaks, hy het ‘n kort rompie gedra. As meneer gespring het, het sy onderbroek uitgesteek. Almal het gelag
Heidé Knipe St.1
Baklei
Vrydagmiddag – dis al weer waar- my broer wag al klaar weer daar.
Ek warm aI op, maar ag, by wen my altyd met sy skop.
Die tyd het aangebreek, hy is hier – dit is so goed ek spring in die vuur.
Hy groet my met sy vuis – ek probeer nog, maar my skouer is vergruis.
Die geveg het begin en ek kry darem kort-kort ‘n houtjie in, maar tien maal harder loop hy in my in.
Dis ‘n harde hou en my kop sing.
Ek moet opstaan anders gaan ek vergaan.
Ek is op, maar o gaats – hier kom die skop! en ek moet net pasop!
Ek slaan na sy ribbekas – hy spring weg en ek slaan in die muur vas.
Gelukkig kom my pa en nou sal hy my nie weer pla.
Derek Nieuwenhuis St. 3
UIT DIE KANTOOR 1996
Te midde van ongelooflike woelinge en frustrasie in die onderwys, het ons skool koersvas en sonder enige omwenteling voortgegaan.
Die feit dat soveel aansoeke uit die dorp ontvang word en ons ook soveel leerlinge bygekry het, is ‘n bewys dat die mense sien wat gebeur in ons skool en is dit nie alleen ‘n goeie getuigskrif vir ons nie, maar weer eens ‘n bewys dat ons destyds die regte besluit geneem het,
Ons leerlinge het weer hul stempel op alle terreine behoorlik afgedruk en ons kan met trots terugkyk op ‘n suksesvolle jaar, Vir my gaan dit steeds nie oor die wengedagtes nie, hoewel dit baie lekker is, maar die feit dat al ons leerlinge betrokke is, en die geleentheid kry om ten voile te ontwikkel, Hier kan ek by name noem die leerlinge wat so te sê persoonlikheidsverandringe ondergaan het, net omdat hulle in hulself begin glo.
Ons kan en moet dus nooit die waarde van sport as sulks onderskat nie.
Mnr. Nieuwenhuis
1997
Juf. Rose-Marie onthou………
Die heel eerste oggend toe ek deur Laerskool Koo se hekke ry, is ons begroet met ’n hele klomp vriendelike, laggende gesigte van die bestuursliggaam, ouers, kinders, Faan, Liesa, Chrisna en Jana. Ek en Wynand, Fasie en Audrey het sommer welkom gevoel.
Daar was toe so 51 kinders in die skool. Ek het so 25 van die dorp saamgebring met ‘n Minibus. Johannes Rossouw het ‘n klompie gebring met sy kombi en Christo en Johan le Roux-hulle het met so ‘n rooi bakkie die kinders van die agterveld gebring.
Ek was maar skrikkerig vir die bus ryery. Aan die begin moes die kinders doodstil wees as ek die pas aandurf. Min het ek geweet ek sal later ‘n lisensie moet kry vir nog ‘n groter bus!
Met die ouers se gebede en die Here se genade kom ons elke dag veilig by ons bestemming.
Audrey was toe in graad 2 en Fasie in graad 4 by Chrisna Rossouw. Hulle het sommer gou aangepas en wonderlike maats gemaak. Hier speel almal sommer lekker met mekaar vanaf gr, 1 tot 7.
Vir die eerste keer het hulle wedstryde gespeel, rugby, netbal en mini krieket en tennis. Die Ouer-kind tennis dae is ook altyd ‘n hoogtepunt.
Ons het lekker gewoeker in die naaldwerkklas en oom Pieter Mohr Burger het houtwerk gegee.
Die heerlike sportdae saam met Twee Valleien sal ook altyd onthou word.
Ek was verbaas om te sien hoe lekker die ouers almal saamwerk vir funksies. Ons het toe omtrent elke kwartaal ’n lekker dans gehou. Man en muis was hier.
Vir kinders, wat ietwat teruggetrokke is, is Laerskool Koo die ideale skool. Hier hou ons die lekkerste konserte. Selfs ek moes hier inspring en “act”! Ontdek toe dat ek dit baie geniet. Of dit nou Esmeralda, die heks, of tant Mietie van Jannewariebaai of die skelm ou vrou van Faan se trein, of selfs Witlies die koei is, dit is heerlik. Die kinders kry elkeen ‘n praatrol al is dit een sinnetjie en dit doen wondere vir hulle selfvertroue.
Ons het selfs ’n tafeldoek projek gehad en die mooiste tafeldoeke geverf. Die bestellings het ingerol.
En wat van die Koor? Ouers en almal wat kan sing. Marlene het ‘n koor van ongeveer 20 lede op die been gebring met Jaco Beselaar en soms Liesa voor die klavier.
Lydia Le Roux het dwarsfluit gespeel. Chrisna Rossouw en Jenny Matthews, André Meyer en Jan Hagen was Solo sangers. Ons het tot in Touwsrivier aan die Koorfees gaan deelneem, Dit het aangehou en aangehou tot amper na middernag.
Met pragtige geruite swart en goud fluweel onderbaadjies het ons selfs aan die Eisteddfod op Worcester deelgeneem.
Liesa se uitstappies is natuurlik die hoogtepunt elke 2de jaar. Ek onthou ons heel eerste uitstappie Kaap toe. Die helfte van die groep was siek. Ek en Audrey het in die bakkie gewag, terwyl die res na die vuurtoring by Kaappunt gestap het. Met hul terugkoms het die bobbejane chaos veroorsaak.
Terwyl die kinders inklim by die voertuie het die kese saam ingeklim. goed gegryp en weer uit. Ek en Audrey moes blitsvinnig uitspring toe ’n groot mannetjie by ons inspring terwyl Flip Haasbroek die bakkie deur oopmaak.
Dan was daardie Tafelberg uitstappie. Ek was onfiks en oorgewig. Eers het ek gedink dat dit nie te erg kan wees as klein kindertjies dit kan uitklim nie.
‘n Paar ma’s besluit toe dat hulle liewer gaan tee drink by die Waterfront. Ek wonder toe of ek nie ook maar moet nie, maar nee……… ek is die juffrou.
Eers ‘n blikkie redbull kafdraf, bid en toe begin die tog. – Kaalvoet oor die Tafelberge!
Nog skaars begin, toe dog ek “Ooo hier kom ‘n ding”.
Maar aanhou, uithou en vasbyt!
Die kinders is vooruit. Faasman en Audrey vergeet van hulle moeder.
Teen die laaste steil krans moes drie mense my daar
uittrek en stoot – “embarrassed!” Maar………….. ek het dit
gemaak en vandag kan ek vir almal se ek het Tafelberg oorwin.
Bo gekom hoor ons dat die kabelkarretjie gebreek het. Ons moes so wrintiewaar weer afklim. Ek en Mariette Rossouw het op ons sitvlakke afgegly en gehop tot onder.
Nog was den einde niet. Die volgende dag was dit Duin 7 se boetie, in ‘n Natuurreservaat by die Weskus. Al die ouers het die een uitgesit, maar Meneer Faan, Marlene Hugo en ek is geensinsdie marteling gespaar nie.
Weereens is die kinders en Meneer Faan oor die duin terwyl ons sukkel, sukkel deur die los sand ploeter tot bo. Die hele tyd dink ek net. “Ons moet weer terug oor anderkant die duin.” Wat ‘n teleurstelling! ‘n Geraamte van ‘n hasie en ‘n paar versteende takkies!
By die Ratanga Junction die volgende dag kon ons skaars loop. Maar ons was op al wat ’n trein, bootjie ens. wat kan ry. Ander mense het ons groep aangestaar en gevra of ons van ‘n te huis vir gestremdes kom, Ons moes agteruit die trappe afklim, so seer was ons bene.
Waar kry mens nog ‘n skool waar jy soms koeie en oom Kerneels se bul van die speelterrein moet jaag, of waar die boere bokse heerlike appels, pere en nartjies vir die kinders kom neersit om te eet soveel soos hulle wil, of waar ouers en vriende kom tee drink pouses en lekker gesels.
En…… as dit sneeu! Almal speel buite. Die kinders kry dan kans om vir meneer en juffrou lekker te pot met sneeuballe.
Vriendskappe word hier gesmee wat vir altyd hou. Almal kry kans om aan sport deel te neem en wedstryde te speel. Ons skooltjie hoef vir geen groot skool terug te staan nie. Pragtige musiekkonserte word gehou. Kinders neem deel aan die Eisteddfod en Kunstefeeste. Goue medaljes en sertifikate word verower. Selfs blokfluit, klavier en kitaarlesse word aangebied deur juffrou Liesa. Kinders vaar uitstekende in hul UNISA eksamens.
‘n Mens voel so lekker as die kinders vir jou na ’n dag se harde werk sê : “Dankie, Juffrou vir die lekker dag: en stywe drukkies.
En wat van al die briefies wat sê : “Juffrou is mooi. Al is sy kwaai is sy nog steeds lief vir my net soos ek is, As ek uit die skool is, sal ek haar altyd onthou want sy het my gehelp somme maak. Haar naam is juffrou rousmrie. ”
Met die pad deur Burgerspas
staan daar ‘n skool met klas
In die begin van Graad 1
voel ‘n mens baie alleen
Maar in hierdie lekker omgewing begin jou hart gou sing
Pouses speel almal lekker buite
en luister na die voëltjies se fluite
Hier is ‘n ander sort onderwyser
Mense wat jou verbyster
Wat kinders soos familie laat voel
en gou hulle vrees laat wegspoel
Mnr. Faan is ons pa
Juffrou Liesa ons ma
Juffrou Rose ry ons wa
Tannie Petru help almal hier en da
Ons het ons eie netbal en tennisbaan
en daar oefen ons, ons gedaan
Op die rugbyveld kan ons ure speel
en dit sal ons nooit verveel
Juffrou Liesa gee vir ons koor
Partykeer gaan dit maar goor
Dan gaan ons na Meneer se kantoor
En begin weer nuut van voor
Hierdie skool sal ek vir niks verruil
As ek hier weggaan, gaan ek huil
Dis ‘n voorreg om hier te wees
Want hier is elke dag ‘n fees
Lelanie Stemmet-Gr.7
Hier word ons geleer om vir ander wat nie dieselfde voorregte as wat ons het, nog voor om te gee. Met die besoek van die Pionier skool se kinders (vanaf Worcester) by ons kom aflê het, was dit vir ons kinders lekker om nuwe maats te maak en ‘n handjie te gee aan die van hulle wat die skoolterrein wou verken
1997 – 51 leerlinge is die jaar geakkommodeer.
Op Sport gebied het die jaar goed gegaan
Tennis: Ons skool het vanjaar ‘n seuns- en dogters tennisspan ingeskryf vir Liga in die MRB-Streek. Sover bekend is ons seker die enigste plaasskool in die land wat wel die moed het om mee te ding teen groot skole! Die tennisspelers het vanjaar besonder goed gevaar en het selfs ‘n paar van die groter skole (in die total) geklop. Op ‘n tennisdag vir Plaasskole in die Koo het Petro die enkelbeker, en Melanja en Petro die dubbelsbeker gewen. Derek, Melanja, Petro en Mienke het die oefenspanne vir Noord-Boland gehaal. Petro het egter ‘n besondere prestasie behaal as no,2 van die Boland onder 12-dogters. Span tennistoernooi – ‘n Nuutjie vanjaar was toe ons Laerskool Kenridge en ander groot skole genooi het om hier aan ‘n toernooi deel te neem. Die leerlinge is ook oornag gehuisves. Ons senior seunspan het hul afdeling gewen.
Netbal: Daar was drie vol spanne en die dogters het hulle kant gebring. Met die groot byeenkoms in Klipdale het Melanja Burger en Coralie Rossouw sertifikate ontvang vir goeie spel. Coralie Rossouw het tot by die Boland proewe gevorder.
Rugby: Al drie die spanne het die jaar goeie rugby gespeel en aan ouer ondersteuning was daar nooit ’n tekort nie. U aanmoediging het dikwels daartoe gelei dat die kinders ver bo hul vermoë gespeel het. Henklie Steyn was ’n getroue speler in die Kleinspan en het met haar verdediging almal se harte gesteel en haar spanmaats tot groot hoogtes gevoer.
Antoinette, Gr. 2 – Ek het laaste gekom, maar ek is bly ek het deelqeneem ek hel eitlik baie lekker gehardloop.
Christiaan, Gr. 3 – Ek het een pak jups, twee glase vanta een kouk en ‘n bottel druiwesop en my kos en drie bakkies nagereg opgeëet asook sokilade!
Conrad, Gr. 2- Ek was ʼn julle paar keur by die snoepie.
Henklie, Gr. 2 – Ek het ampers ‘n drie qaan drik, maar hulle het my qetekkel en helle het op my voet qetrap en geval dit was seer. Ek het qehuil. Hulle het my na die beseering toe gedraa. Ek het dit qate uit qenie. Milanja en Korlie het ook sittievirkate gekry.
Uit Juffrou Chrisna se standerd 2 en 3 klas het daar ‘n paar interessante variasies op ‘n ou tema gekom:
VRAAG: teenoorgestelde geslag-
Sé Albert: bulkalf – kooikalf, skoonsuster – skoonbroer, wewenaar – wewenier
VRAAG: Watter idioom pas hierby? Hy moei bale dankbaar wees … (hoed)
Meauriel: Hy kan dankbaar wees dat hy so ‘n goeie hoed gekry het
Gabriel: Hy gooi sy hoed agteruit .
Hy sit daar eenkant en alleen … (uil)
Meauriel; Uil, waarom sit jy daar so eensaam en verlate?
VRAAG: Wat beleken die volgende idioom – “Hy gaan haal die bobbejaan agter die bult”
Meauriel: Hy praat oor moeilikheid nog lank voordat daar ‘n bobbejaan is
Gabriel: Hy gaan haal die bobbejaan agter die bult uit
En dan bly die “ander” taal maar ‘n moeilike saak………………………..
Werner: The fox ran away “wif” the cheese.
The cheese “foll doun”.
He opened “sy bek”.
The crow was “simpil”.
Vraag: Waarom wil Jan nie die bye kwaad maak nie?
Scott: Omdat hy is bang dat die bye sal hom ‘‘sting”.
‘n Gedig vir Meneer Faan
Meneer Faan is kwaai,
hy gee altyd ‘n draai,
as hy vir Flam laai.
Dan moet ons ‘n blom pluk,
dan hoef ons nie meer te buk
Audrey Fourie, Gr. 2
Geskiedenis
Langenhoven was bale slim, Herry het die berg geklim. Die Xhosas het huise geverf, die Hottentotte het hout gekerf. Anreith het beelde gemaak, Marconi was weer ’n ander saak. Die Boesmans het wild gejag en Edison het vir lig gewag. Samuel Morse het ‘n kode gemaak, Bains se padwerkers het gestaak. Maria Koopmans de Wet het ‘n huis gemaak en Alexander Graham Bell het ’n telefoon aangehou!
Minka Jordaan, st, 2
1998
The Montagu Mail
TWEELING BLINK UIT
Coralie en Petro Rossouw (13) van Laerskool Koo (regs) is gekies vir die Boland netbalspan en het aan ‘n interprovisiale toernooi by Avion park in Kemptonpark gaan deelneem, Hierby wil ons ook vir Alta Steyn en Petro Britz baie dankie se vir hul afrigting van die Koo se netbal- ; leerlinge.
Coralie het ook Boland-kleure in gewigstoot gekry en het April in Petersburg aan die S.A. atletiekkompetisie gaan deelneem.
Petro is in die Noord-Boland 0-14 tennisspan en sal in Oktober aan die streekkompetisies deelneem.
Baie geluk julle twee. Julie hou die Koo se naam hoog!
My Meneer
In meneer se kantoor is daar ‘n lessenaar en ‘n stoel waar hy altyd woel.
Soggens kry ons raas by Meneer, die grote baas.
Hy is sterk en altyd besig om ons boeke te merk.
As meneer uit die Bybel lees moet ons stil wees.
Meneer gee moeilike somme en ek is maar ‘n domme.
Ons moet hard leer want meneer slaan seer.
Wanneer ons sit en raas dan wys hy, hy is baas.
Ons dink soms hy is stief maar hy het ons tog lief.
Pouse drink hy tee terwyl hy dink aan die see
Wanneer hy die klas binnekom betrap hy ons altyd wanneer ons sit en brom.
Die straf wat ons hiervoor verdien is baie huiswerk jy sal sien.
Dan gee hy vir ons werk as dit klaar is, word dit gemerk.
Wanneer ons moet huis toe gaan sê ons kinders totsiens vir meneer Faan.
Hy wil nie totsiens sê nie want hy het nie vergeet van die huiswerk nie.
Hy gaan weer die klas binne en kom uit met ‘n klomp sinne.
Volenti Douries. St. 3
Junior & School News
Montagu Mail October 1998
KOO-LEERLINGE PRESTEER BY EISTEDDFOD
Die Laerskool Koo het vanjaar heelwat leerlinge ingeskryf vir die Worcester Eisteddfod in Augustus, en hulle het besonder goed gevaar.
Hulle was ingeskryf vir afdelings soos klavier, blokfluit, sang, voordrag, prosa en kuns. Hulle het 8 goue, 15 silwer en 7 brons diplomas ontvang.
Die blokfluitgroep en Elana Hugo (klavier) het ook aan die Montagu Jeugmusiekfees deelgeneem en twee silwer diplomas ontvang. Die leerlinge is afgerig deur Chrisna Rossouw, Rose-Mary Burger en Liesa Niewenhuis en almal sê groot dankie aan hulle.
MY MAATS
Maretha bloos rooi,
as Meneer sê sy is mooi
Melanja dra ’n goue raam bril,
Dit maak haar nie stil,
Soret sê altyd: “Ek weet nie”
Al het sy nie haar werk vergeet nie.
Nelia is lank en slank.
maar sy sit nooit in haar bank.
Ursula is baie kort,
maar sy is baie lief vir sport.
Estelle is baie kwaai,
sy maak ’n groot lawaai.
Petro die optimis,
Sy vang nie eers die krieketbal mis.
Elsa hou glad nie van vloek, maar is is mal oor koek.
Ek is bly ek het so baie maats, saam kan ons deur die lewe skaats.
CORALIE ROSSOUW ST. 2
1999
Laerskool Koo se Kristalvoetslaanpad
deur Liesa Nieuwenhuis
Die st. 5’s van Laerskool Koo en 5 volwassenes het op 21 – 23 Oktober |die KristaIvoetslaanpad gestap. Donderdagaand het ons in die tolhuis geslaap. Die tolhuis, is ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid wat tussen 1879 en 1928 in gebruik was en vandag word dit as oornaghut vir stappers gebruik.
Die Vrydagoggend het ons die roete aangepak, elkeen met sy rugsak op sy rug en nog baie onseker of hulle kas, klere en slaapgoed so sal saamdra. Die voetslaanpad is geleë in die Langeberge naby Riversdal. Die steilste klimme is vroeg op, maar almal het al singende goed bygebly.
Die staproete het van die , grootste verskeidenheid Kaapse fynbos-plante en dit was ’n belewenis om tussen die dig toegegroeide fynbos te slap. Die pad was baie nat en soms het een van ons ‘n stukkie grond gekoop. Na 10km het ons die oornaghut bereik.
Die oornaghut (‘n kliphut pragtig uitgelê teen ‘n rots) is waar twee riviere bymekaarkom bo in die berge, Daar is pragtige swempoele en ons het almal ons bad geneem in die ysige bergwater.
Die tweede dag (11km) se hoogtepunt was die baie watervalle en waterpoele wat buitengewoon is vir die tyd van die jaar. Die gebied bet baie reën gekry in die paar dae voor ons die roete aangepak het.
Dit is van die mooiste staproetes wat ons al geloop het en is ’n redelik maklike tweedag stap. Die leerlinge en ouers wat saamgegaan het, het dit baie geniet.
Ons st. 5’s wil net dankie sê vir al die goeie jare wat ons hier deurgebring het. Juf. Mariaan, al was ons nie self in Juffrou se klas nie, het ons die kuns wat Juffrou gegee het, baie geniet. Ook wil ons dankie sê vir die naaldwerk wat Juffrou vir die meisies gegee het. Ons hoop Juffrou sal dit geniet by die nuwe skool.
Ons seuns wil dankie sê vir Oom Pieter wat elke Woensdag sy tyd opgeoffer het om vir ons houtwerk te gee.
Ons wil ook dankie sê vir Juffrou Chrisna wat die laaste paar maande vir ons skool gegee het, en deur die jare vir ons gehelp het met atletiek en ander sport. Ons waardeer dit baie.
Laastens wil ons dankie sê vir Meneer en Juffrou Liesa. Juffrou, baie dankie vir die musiek, koor, tennisafrigting en reëlings. Dan ook vir die uitstappie wat Juffrou beplan en gereël het. En vir Meneer wat ons met geduld van St. 2 tot St. 5 geleer het. Hy het ons altyd met ons werk gehelp en probeer om iets in ons koppe te kry. Partykeer moes “Vlam” ook help om ons in toom te hou.
Ons sal Laersbool Koo altyd in ons gedagtes onthou, en sy naam probeer hoog hou.
Samuel Rossouw, Nelius Rossouw, Nelia De Wet, Ettienne van der Merwe, en Rikus Visser
2000
Bo; Jong sangers Hanneri Burger, Audrey Fourie, Phoebe Metcalfe, Leandé Kleynhans en Frik Brits agter
Die wintersonnetjie het op 12 Junie sommer warmer geskyn toe Laerskool Koo hul jaariikse besoek aan Huis Uitvlucht gebring het.
Onder die bekwame leiding van Liesa Nieuwenhuis, Rose-Marie Fourie en Marlene Hugo het 18 van die skool se 38 leerling die senior burgers trakteer met koorsang, solo’s, gediggies oor o.a. Ouma se laai en Boerekos, klavier- solo’s en duette, en selfs ’n blokfluit- solo.
Die leerlinge het met die grootste selfvertroue opgetree om die ouer harte te verbly, en veral die koor het beïndruk met hul lewendige vertolking van liedjies soos Deep in the heart of Texas en Dis ‘n nuwe jaar.
Die middag is afgesluit met heerlike eetgoed saam met koffie en tee, en met die belofte,dat daar volgende jaar beslis weer so ‘n middag gaan wees!
Laerskool Koo
Leer was nog nooit so lekker nie!
deur Petro Brits
Sondagmiddag 27 Augustus, het ‘n konvooi van 13 voertuie met kinders en 42 ouers uit die Koo vertrek op hulle drie-en-‘n-half-dae, tweejaarlikse uitstappie.
By Oppiesee Kultuursentrum in Melkbosstrand is anker gegooi, ‘n lieflike basis waar ons net by die deur kon uitstap om perlemoenskulpe en dooie seediere te versamel op die strand.
Maandag moes Tafelberg uitgeklim word. Ontbyt is aan die voet van die berg genuttig en die dapperes het die tog net na sewe aangepak.
Teen halftwee was die stappers terug op grandvlak, moeg, maar baie trots. Dis nie elke Jan Rap en sy maat wat tot Heel Bo stap nie (en die AF was blykbaar die ergste). Die skoolhoof, Faan Nieuwenhuis het dit so opgesom: niks in die lewe kom maklik nie; met moeite en swaarkry kom ‘n mens tog bo uit!
Dinsdag is ons teen die Weskus op vir middagete by die Postberg Natuur reservaat. Niemand sal die uitgevrete, rustige Elandbul tussen die kleurryke blommeskou vergeet nie. Ook nie die walvis wat sy stert uitgelate bokant die seewater uitgegooi het nie – voorwaar ’n ongelooflike gesig. Die binnewerking van Koeberg het ook aan die beurt gekom.
Woensdag het ons die Suid-Afrikaan se Museum asook die Planetarium besoek, maar die hoogtepunt was egter Ratanga Junction.
Dit bly egter ‘n riem onder die hart om te sien hoe ‘n klein private skool sy leerders slyp vir die toekoms en hulle ‘n kans bied: Een uit ‘n duisend!
Bill Burger het na 8 jaar as voorsitter van Laerskool Koo se Bestuursliggaam besluit om die tuig neer te lê, Hier ‘n uittreksel van berig deur hom geskryf:
Met die koms van Model C- en privaat skole het fondsinsamelings en die werwing van kinders gekom. Vandag is dit twee alledaagse begrippe, maar destyds was dit iets nuut wat ontdek en ontwikkel moes word. Toe reeds al is besef dat getalle die toekoms van die skool sou bepaal en skoolfondse in bedwang gehou sou moes word met behulp van fondsinsamelings.
Waar dit vandag amper normaal klink dat Agterveld kinders na die Koo se skool toe kom, was dit destyds beslis nie so nie. Daardie mense moes oortuig word van die voordele wat hulle kinders by ons skool sou geniet, en daar is gereeld in daardie jare kindwerwingstogte aangepak. Destyds het ons juffrou op die dorp gebly en het sy met ‘n motor Koo toe gery. Daar is besluit dat hierdie kar vol kinders uit Montagu se rigting moes kom. Wetende dat hierdie mense ‘n maklike besluit om oor te gaan tot die koop van geleentheid “gewaarborg” sou wou hê, is ons ook op hierdie werwingstog. Hoe sal ek ooit kan vergeet hoe ek en Faan by die hoenderhokke voor die Haasbroek se plaas onsself moes oortuig dat ons wel hierdie “waarborg” sou kon gee. Toe die juffrou bedank was haar motor oorvol en was dit eintlik ‘n bussie.
Audrey Fourie en Phoebe Metcalfe van Laerskool Koo het tydens die onlangse eisteddfod op Worcester ‘n merkwaardige prestasie behaal toe hulle genooi is om by die Gala-aand op te tree. Met hul blokfluit duet van “Hark! The Herald Angels Sing” het hulle 90% behaal. Frik Brits (Graad 6) het ook 90% gekry ( vir sy vertolking van “Fragment uit Karnaval” van l.D. du Plessis.
WAT HET VAN DIE OUD-LEERLINGE GEWORD?
Die Kollig 2000
(Dis onmoontlik om almal te noem, maar dis tog interessant om te weet waar sommige van hulle vandag is!)
Tradisioneel het oud-leeriinge kom boer of in ‘n meganiese rigting gegaan, die meisies het onderwyseresse geword of ‘n verplegings- of sekretariele rigting gevolg. Met die ontwikkeling van tegnologie en rekenaars het jongmense hul vlerke gesprei (sommige letterlik) en veral meisies studeer deesdae in verskeie rigtings.
Bennie Burger, seun van Ian Burger, is ‘n helikopterloods.
Carina Burger was die eerste vroulike gevegsopgeleide bevelvoerder in Lohathla.
Willie Burger is ‘n luitenant op Ysterplaat, Hy is ‘n vlieenier.
Henk Burger is ‘n kaptein by 10-Lugafweer in Kimberley.
Sersant Abrie Laufs, ook in die Weermag, studeer tans deur Unisa.
Ria du Toit (Jordaan) het ‘n doktorsgraad in Opvoedkunde.
Foto: Van haar boek Ek kyk terug op ver paaie
Antionette Bothma, dogter van Gene Burger, is ‘n sakevrou met haar eie rekenaar- onderneming.
Elzette Rossouw voltooi volgende jaar haar studies as veearts.
Martine Robinson, dogter van Pieter Mohr Burger, bekwaam haar as argitek en is behulpsaam met die restourasie van die Kasteel in Kaapstad. Sy onderskei haar as botaniese kunstenares en werk aan kruie-sketse vir Montagu Museum. Sy verhuis binnekort na Kanada.
Danté Pelser was in 1991 hoofseun van Montagu Hoërskool. Hy het by Onderwyskollege Boland HOD Tegnologie studeer, by die Penninsula Technikon ‘n kursus in Tegnologie voltooi en hou tans skool by Hoërskool Smuts-Malan op Riebeeck-Wes.
Marais Pelser het ook HOD Tegnologie by die Onderwyserskollege Boland studeer. Hy is ‘n onderwyser by Hoërskool President in Goodwood en was vanjaar afrigter van die Wes-Kaap Skole-rugbyspan wat in Italie gaan toer het. Hy is weer as afrigter vir 2001 verkies.
Nicholas Pelser was in 1996 hoofseun van Montagu Hoërskool. Soos sy twee broers hierbo, studeer hy tans ook HOD Tegnologie aan die Onderwyskollege Boland. Hy dien tans op die Studenteraad en begin volgende jaar klasgee by Hoërskool Hugenote op Wellington.
Boetie Jordaan is ’n Springbokskut.
Celeste Burger was vanjaar tjellis in die Nasionale Jeugorkes wat in Pretoria en Potchefstroom opgetree het.
Liezl Rossouw is ‘n onderwyseres (Pre-Primêr) in Somerset-Oos.
Mareé Rossouw is skakelbeampte by die Kankervereniging in die Paarl.
Theo Augustyn het sy eie vervoerbedryf.
Leana de Kock is ‘n skoonheidsterapeut.
Stoffel Burger was op ‘n stadium die jongste hotelbestuurder in die land en is tans in die restaurant-bedryf.
Ander leerlinge in vreemde omgewings is Wilma Augustyn, wat in Brittanje verpleeg. Pieter Burger, seun van Pieter Mohr, werk as navorser vir nuwe gerekenariseerde programme in ‘n groot fabriek in Hong Kong. Brink Augustyn was ‘n uitruilskolier in Duitsland vir ‘n jaar.
2001
Agter: Faan Nieuwenhuis, Hennie de Kock, Chrisna Rossouw en Hein de Kock. Voor: Christiaan Rossouw, Frik Brits, Lunay Carstens, Willa Rossouw en Bibi Burger.
Laerskool Koo
Stap in die groot Winterhoekberge
deur Liesa Nieuwenhuis
Vanaf 20 – 22 Oktober het die Graad 7’s van die Laerskool Koo na “Die Hel” in die Groot Winterhoek-Wildernis gebied gestap. Dit is ‘n 3-dag roete.
Dag een se roete (14km) was redelik maklik. Almal het redelik gou gewoond geraak daaraan dat jy al jou lewensmiddele vir die volgende drie dae self moes dra. Die plantegroei was pragtig en daar is besondere rotsformasies. Daar is eenvoudige oornaghutte by De Tronk, maar ons het almal sommer onder die sterrehemel geslaap. Die ouer , gardes het almal vir hulle ‘n kooigoedbosbed gemaak.
Dag twee het ons die roete na “Die Hel” (10km) aangepak. “Die Hel” is ‘n pragtige watergat (een van die grootste in die Wes-Kaapse berge). Ons het almal volmondig saamgestem dat dit eintlik “Die Hemel” moet wees. Die laaste deel na die watergat is baie steil, vermoeiend en gevaarlik, maar toe is ons beloon met ’n heerlike swem in die besondere omgewing.
Dag drie (13km) het ons opgestap teen die Kliphuisrivier. Daar is heelwat swemgate waarvan ons almal gebruik gemaak het, langs die roete.
Dit is een van die maklikste en mooiste staproetes wat ons nog gestap het en al die stappers het dit redelik maklik voitooi. Dit is definitief aan te beveel vir die gemiddelde stapper.
NUWE BESTUURSLIGGAAM
Die nuwe Bestuursliggaam van Laerskool Koo is eenparig verkies en sien uit na hul 2-jaar termyn wat voorlê.
Agter: Wouter Stemmet (voorsitter),Thys Zurnamer, Faan Nieuwenhuis (Skool.hoof). Voor: Dorina de Kock, Etta van der Merwe, Engela le Roux en Wikus Rossouw.
Vir die 13-jarige Bibi Burger was vanjaar voorwaar vol hoogtepunte en het sy met haar skryftalent sommer heelwat kontant verdien.
Bibi vertel self: “Hierdie jaar was die geluk behoorlik aan my kant! eerstens was ek bevoorreg genoeg om ‘n Skryfskool van Potchefstroom Universiteit wat aangebied is deur professor Hans du Plessis en by Die Eike gehou is, as buitestaander by te woon. Dit was spesiaal op hoërskoolleerlinge gemik en dit was regtig ‘n groot voorreg om dit by te woon!
Toe het ek R100 gewen in ‘n kompetisie wat deur die S.A. Polisie by skole gehou is. Almal moes ‘ opstel oor misdaad skryf en omdat ek nie verwag het om te wen nie, was dit ‘n groot verrassing!
Derdens het ek vanaf 4-5 Oktober die eerste Klein burger Skryfskool in die Naspers Sentrum in Kaapstad bygewoon. Twaalf Graad 7 leerlinge (ek ingesluit) van oral oor SA het dit bygewoon. Daar het ek nie net geleer hoe om ‘n beter skrywer te wees nie, maar ook ‘n beter leser. Verder het ek ook R250 gewen in ‘n ‘Verskroeide Aarde’ kompetisie. Daarvoor moes jy ‘n opstei skryf wat in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel. Ek was een van die 16 naaswenners. Die skool het ook R250 ontvang.“
Alhoewel die Laerskool Koo al vele hoofleerlinge in die verlede opgelewer het, is ons trots daarop dat beide hierdie leerlinge uit ons Laerskool kom.
Hoërskool Nuus
NUWE HOOFLEERL1NGE VIR 2002
Tydens die onlangse verkiesing is Melanja Burger en Derek Nieuwenhuis as hoofdogter en hoofseun gekies. Ons is gelukkig om twee sulke begaafde leerlingleiers te kan hê. interessant genoeg het hulle altwee hul laerskool loopbaan in die Koo voltooi.
Melanja het vanjaar op akademiese gebied uitstekend gepresteer met ‘n gemiddeide persentasie van 102,6% en ‘n tweede klasposisie in graad 11.
Sy is egter nie net akademies begaafd nie. Sy is lid van die eerste tennisspan, sy speel 2de span netbal en was ‘n dirigent by die interskole. Sy was ook deel van die dansgroep wat ‘n Goue toekenning tydens die Montagu Jeug- kunstefees ingepalm het. Sy is ’n CSV- kringleidster, Voorsitster van die skool se Landsdiensgroep en het vanjaar die Wes-Kaap by ‘n Nasionale Landsdienskamp verteenwoordig. Tussen al hierdie aktiwiteite het sy boonop vanjaar haar Graad 6 Teorie-eksamen by Unisa geslaag. Melanja is een van 50 hoofleerlinge uit Kaapland wat gekies is vir Die Burger se Hoofleier-seminaar. Sy beplan om na skool medies te gaan studeer.
Derek is ’n veelsydige sportman wat van baie vriende en pizza hou. Hy hou nie van oneerlikheid en “voor op die wa” juniors nie. Hy het vanjaar die Langeberg Atletiekspan gehaal, hy speel eerste span tennis en hy vang bale graag vis. Hy was vanjaar reserwe vir die S.A. Skolespan in Kushengel en het Noord Boland in krieket en rugby verteenwoordig. Derek beplan om na skool by die Kaapse Technichon verder te studeer.
Derek en Meianja is beide ook hoofleerlinge van die koshuis.
Die skool begin met 5 Gr.l’s wat hulle vol selfvertroue in die kleurvolle klaskamer van juffrou Rose-Marie tuismaak. Saam met Juffrou Rose-Marie staan Willem Muller, Regan
Visser, Arina Kriel, Lani Alberts en Jenine van der Merwe.
LAERSKOOL KOO NUUS
Laerskool Koo kry sy eie water. As gevolg van die ernstige droogte wat die Koo teister, kan Concordia Kooperasie die skool nie langer van genoeg water voorsien nie. Die Boerevereniging het ingespring om te help en ‘n hoogs geslaagde oes-af partytjie is gehou om fondse in te samel vir die boor van ‘n gat.
Hannes Swanepoel het egter sy gewig ingegooi en besluit om die gat gratis te boor. Met die hulp van Wicus Rossouw en ander boere is die pomp geinstalleer en beskik die skool nou oorgenoeg water. Baie dankie aan almal wat gehelp het – dis heerlik om net ‘n knoppie te druk en daar is water!
Laerskool Koo is die trotse wenner van vyf opgegradeerde rekenaars in ‘n Kersboom-kompetisie wat einde verlede jaar deur Round Table geloods is.
Twee en vyftig skole in die Wes-Kaap het aan hierdie projek deel geneem. Die fondsinsameling was ten bate van die Caledon Kinderhuis.
Volgens Wilhelm Stemmet, skakelbeampte van Robertson se Tafelronde, het Laerskool Koo loshande gewen deur die meeste bome (persentasiegewys) in die hele Wes-Kaap te verkoop. Die skool spog nou met 11 rekenaars, wat ywerig deur die leerlinge benut word.
2002
EK WEN RIO MILJOEN
(Adrie Burger)
Ek sal die helfte vir die kerk gee. Die onder helfte sal ek hou. Ek sal vir my ‘n kas ‘n Tv ‘n radio met ‘n cd player koop. Ek voel of dit qoed sal wees. Die meeste mense dink hulle sal die Here nie meer nodig hê, maar ek sal die Here nog nodig hê. Ek dink ek sal Positief word. As my ma vir my kos wil gee sal ek dit darem nog eet. Ek sal al die klere koop by Mrprice. Ek sal vir my ‘n motor koop. Ek sal vir my ‘n nuwe huis koop. Die geld wat oor bly sal ek vir die skole gee. As daar dan nog geld oorbly saI ek dit in die bank sit. Maar ek gaan vir my ma ‘n klomp penne koop. Ek gaan vir Meneer miljoen papiere koop. Ek wil vir my pa ‘n stroper koop. Ek gaan vir Bibi al die Harry Potter boeke koop. Ek gaan vir my ma ’n nuwe horlosie koop. Ek gaan vir my ma R100 se diesel ingooi. Ek sal vir my ma ‘n splinter nuwe bakkie koop My ma gaan bly wees oor die bakkie.
Ons Agste Vrou
Henklie Steyn was in Sub B toe sy haar eerste rugbywedstryd gespeel het. Die rugbygogga het haar sedertdien nog nie weer gelos nie en sy het die netbalbaan entoesiasties verruil vir afskoppe, tackles, drieë en ‘n nommer 8-rugbytrui.
Sy het nooit vir enige seuns teruggestaan nie en menige opponent moes na ‘n harde duikslag bedremmeld opstaan, net om by sy spanmaats te hoor dis daai meisiekind wat jougetackle het!
Henklie hoop sy kan in die hoërskool haar rugby loopbaan voortsit, en met al die vroue-rugbyklubs wat deesdae oral in die land soos paddastoele verrys, sal ons definitief nog baie van Laerskool Koo se eie agstevrou hoor!
Laerskool Koo
Lani Alberts, Marno Paulse, Arina Kriel en Jenine van der Merwe(voor) het almal goud losgeslaan by die pas afgelope Eisteddfod op Worcester. Hulle is in Juffrou Rose-Marie Fourie se Klein Klassie en het hul gediggies meesterlik voorgedra!
Tydens die onlangse Jeugkunstefees het Laerskool Koo se talentvolle leerlinge beslis die
beoordelaars beindruk. Audrey Fourie (links) het goud behaal vir haar klaviersolo; Phoebe Metcalfe (middel) het ook goud gewen – vir haar pragtige sangsolo’s; Hanrie Burger (regs) is met ‘n silwer bekroon vir haar klaviersolo en Nina Alberts (voor) het met goud sowel as die trofee vir die beste junior klaviersolo.
2003
DJ Brits van Laerskool is
opgeneem in die Noord
Boland tennisspan
(seuns o.14)
Laerskool Koo Jagkompetisie
Marais en Marlize Rossouw het die prystrekking waargeneem
Die prystrekking van Laerskool Koo se jaarlikse Jagkompetisie het Donderdagaand 19 Junie plaasgevind.
Tertia Steyn van Montagu was die gelukkige wenner van die koedoe, terwyl W.J. van der Westhuizen (Welkom), A.B. van Schalkwyk (Strand) en Ian Smuts (Bonnivale) ook hulle biltong kaste kan volmaak. R9000 se kaartjies is verkoop en Koo wil graag vir almal wat hulle op dié wyse ondersteun het, van harte bedank.
Ben Thompson, Faan Niewenhuis, Koos Rossouw en Nicol Smit is baie bly vir die wenners
TARYN SE VOORSKOOLSE KLASSIE
Taryn Rossouw het verlede jaar die voorskoolse klassie oorgeneem wat deur Erika Theunissen begin is. Sy het ‘n groot liefde vir kinders en is tans besig met ‘n Kindersorg-kursus. Daar is agt kinders wat sy bedags besig hou met stories, inkleur, knip-en-plak, legkaart bou, konstruksie-blokke en leer-deur-speel.
Taryn bly so 3 km van die skool af en die Keisie-kleuters kom soggens met die skoolbus skool toe. Sy sê sy geniet dit baie om met die kleintjies te werk. “Hulle is so dierbaar – dit kan mos nie anders nie!“
Janiël de Villiers en Janke Burger is die jongste in die groep – albei is 3 jaar oud.
Janiël was glad nie beindruk met die fotonemery nie – hy wou sy legkaart klaar bou!
Agter is John-Derek Whitehead, Gawie le Roux, Quinn Anderson, Lisa le Roux en Sanette de Villiers.
Voor is Janke Burger, Taryn Rossouw en Janiël de Villiers
2004
Tennis (Liesa)
Tennis word aangebied in die sportperiodes (eerste en vierde kwartaal) vir alle leerlings, klein en groot. Ons probeer elkeen se talent in tennis tot die maksimum ontwikkel.
Die tennisspannetjie het vanjaar ‘n hele paar wedstryde gespeel en redelik goed gevaar. Die hoogtepunt was weer eens die ouer-en-kind tennisdag op 6 November.
Abrie, Philip en Maurice is die spanlede wat ons vanjaar gaan verlaat en ons wens hulle alle voorspoed toe met hulle tennis in die hoërskool.
INTERESSANTE MUSIEK-INLIGTING (Liesa)
Leerlinge wat musieklasse neem, vaar beter in inhoudsvakke en Wiskunde en toon ook groter leesvaardigheid. Dit is die bevinding van die Amerikaanse Departement van Onderwys na ‘n navorsingsprojek waarin meer as 25 000 leerlinge vir langer as 10 jaar gemonitor is.
Musiek ontwikkel die linker- én regterbrein; dit help met grootspier- én kleinspier-ontwikkeling, koördinasie en gehoorontwikkeling. Die kinders leer om op te tree voor ‘n gehoor; om aan kompetisies deel te neem – die perspektief om mislukking én sukses te hanteer. Dis ‘n voorbereiding vir die lewe. En dan leer hulle boonop ‘n instrument te speel!
Formele musiekonderrig is besig om uit te sterf in ons land. Dit is ‘n groot jammerte – dit sal ‘n groot leemte in ons kinders se toekoms laat.
KLAVIER- en BLOKFLUIT ONDERRIG:
Ek wil dankie sê vir ’n heerlike groepie musiekleerlinge. Hulle is nog jonk, maar vorder baie goed. Die meeste van hulle het ‘n baie mooi positiewe gesindheid teenoor hul musiek.
Buiten hul optredes by funksies, het ek van hulle ingeskryf vir die UNlSA-eksamen en die Worcester Eisteddfod.
UNISA-UITSLAE: Lani Alberts (Gr. 1 Prokties): 80 – 100/ Arina Kriel (Gr.1 Prakties): 70 – 100 EISTEDDFOD: Lani, Arina, Nina, Anneri, Alfrieda, Engela en Andrie ontvang saam 24 sertifikate vir klavier, sang of blokfluit waarvan 12 bo 80% en 12 bo 70% is.
BAIE GELUK!
KOOR: Die koor het vanjaar by verskeie geleenthede opgetree en baie lof en waardering vir hul optredes gekry. Die hoogtepunt was hul optrede by die feesontbyt van die N.G. Kerk se 150-jarige feesviering. My pa en ons eie kindertuinjuffie het as soliste opgetree en hul baie goed van hul taak gekwyt. (Juffrou Rose-Marie sê sy het die vorige nag die hele nag gebid.)
2005
Die Poësie-Karavaan
Antjie Krog besoek die Laerskool Koo ter bekendstelling van die Poësie-Karavaan, asook ‘n praatjie oor die lewe van Ingrid Jonker. Met die optrede in Montagu, waar vele van die Koo leerlinge uit belangstelling gaan bywoon het, was hulle so bevoorreg om te hoor hoe Chris Chameleon met sy ghitaarspeler en ongelooflike stem almal meevoer met sy toonstellings van Ingrid Jonker se gedigte.
Dit het omtrent rondhardloop gekos om vir Chris Chameleon tydens pouse op te spoor, met ‘n string opgewonde leerlinge agterna. Adrie, Jozua, Alfie en Engela (agter) was saam met Rozanne, Emma, Annie en Luca bly om saam met die beroemde sanger vir ‘n foto te pose.
FONDSINSAMELING
Wikus van der Merwe as die gasspreker ten bate vir ‘n fondsinsameling. Lagspiere is gekielie en saam met die heerlike lasagna ete, voorberei deur die flukse ma’s van die skool. Dit was weereens ’n suksesvolle geleentheid, wat almal nog lank sal onthou.
Suzanne Venter en Pauline Rentzke het lekker met Wikus gesels
Juffrou Rose-Marie het sowaar
vir Wikus v/d Merwe op
Clanwilliam skoolgehou.
Hier is hy langs haar in Sub. A in
1980
Die nare Esmargalda (Rose-Marie Fourie) saam met Pap (Nina Alberts) en Pot (Arina Kriel)
Die grootspan lyk nie juis bang vir hulle opponente nie! Luca Brits, Willem Grobbelaar, Jozua Rossouw, Andrie Mostert en Hano Conradie vorm die agterhoede. Voor is Danny Zurnamer, Marno Paulse en Herman le Roux
2006
Laerskool Koo se 2006 opvoedkundige uitstappie
deur Lisa Nieuwenhuis
Veertig leerders en vyf en veertig ouers van Laerskool Koo het in April ‘n baie geslaagde uitstappie na die Kaap gehad. Hierdie vierdag-uitstappie is altyd ‘n waardevolle, praktiese leerskool vir die leerders. Die ouers wat hulle vergesel, baat ook daarby, want hulle besoek plekke waar hulle dalk nog nie vantevore was nie en leer mekaar goed ken. Só ontstaan daar ’n baie hegte samehorigheidsgevoel onder hulle.
Die ouers en kinders het in Apostel Battery tuisgegaan. Dit is ‘n opvoedkundige oord in die Llandudno-omgewing wat gerieflik naby alle besienswaardighede, maar tog uit die hoofverkeer, is.
Die interessante program in die Kaap was soos volg: Dag 1: S.A. Museum; planetarium; Grootte Kerk (Kaapstad-middestad). Dag 2: Houtbaai: Bootrit na Robbeneiland; vismuseum; World of Birds’; sandkasteel boukompetisie op die strand. Dag 3: Kirstenbosch: Drie-uurlang opvoedkundige leerskool; bou en vlieg van vlieërs. Dag 4: ‘Class in the clouds’ – Tafelberg; ‘MTN Science Centre’ – Canal Walk.
Die Koo-leerders verkyk hulle aan die opgestopte diere in die S.A, Museum. Agter: Luca Brits, Gert en Willem Grobbelaar. Middel: Marno Paulse en Danny Zurnamer. Voor: Pieter Stemmet en Leoné Crause.
LAERSKOOL KOO
Laerskool Koo het die mooi bedrag van R5 000 aan die DBV op Ashton oorhandig. Die 38 leerlinge van die vrugbare. Koo-vallei naby Montagu het met ‘n geborgde fietsry-oggend op die bekende plaas Protea van Neil Burger, waar die trekkrrritte tot bo-op die Langeberge ‘n groot toeriste-attraksie is, met hul fietse altesaam honderde kilometers afgelê.
Op die foto oorhandig Liese Nieuwenhuis tjek aan Sarah Ford. Agter(van links) is Anne Botha en Lesley Beviss-Challinor (inspekteur van die DBV in die Wynland wat na diere omsien in ‘n omtrek van ‘n 30km radius: vyf dorpe, naamlik Montagu, Ashton, Bonnievale, Robertson en McGregor). Saam met hulle is Marno Paulse, Lelanie Stemmet en Arina Kriel. Voor sit Divan Nortjé en Robyn Brown. Dié leeringe het onderskeidelik die meeste geld ingesamel en die grootste afstand gery.
Laerskool Koo jy is vir my heel bo
jy kan dit net nie glo
jy’s so mooi soos my blou oë
Ja ek voel regtig so
Ons skooldrag is niks cool
of kwaai nie, net ‘n gewone broek en baadjie
Meneer sit in die kantoor
terwyl ons ‘n gat in sy geduld
boor dan wil hy ons vermoor!
Dan gaan ek my happy face verloor!
Daar is ‘n klein klas en ‘n groot
klas elke jaar word nuwe kinders
bygelas soos nuwe water in ‘n glas
Toe ek hier kom in graad een
was ek bang en hou vas aan
by ma en dan my pa se been
Nou weet ek dat ek hoef nie
meer bang te wees of te vrees
want dit het ten volle genees
Ons rugby is miskien nie so
goed as die ander span ‘n fout maak
gaan die skeidsregter hulle beboet
Ons netbal is nogal baie goed
maar meisies asseblief onthou
net daai groot fout met die voet
Ons tennis is ook nogal goed
maar pasop vir die kant met die
son so dra ‘n hoed en hardloop
met ‘n spoed
In die klein klas waar Juffrou Rosie
baasspeel moet jy pasop want
daai hand of skoen gaan jou lekker sagte gevoel
op jou boude steel
En Juffrou Liesa met die musiek
vat ons ook om koor te sing in die publiek
Divan Nortjé Gr. 7 2010
Annerie Burger, Lani Alberts, Lelanie Stemmet en Heleen Kriel. Dié musiekleerlinge van Laerskoool Koo het besonder goed gevaar in die Montagu Jeugkunstefees. Hulle het aan 5 items deelgeneem en almal bo 90% behaal.
2007
KooGr.11 se Boosmansbosstaproete
deur Liesa Niewenhuis
Die graad 11’s, drie ouers (Melanie, Etta, Elsabie) Faan en ek, Liesa, het vanjaar die roete in die Langeberge gestap. Die Boosmansbos Wildernisgebied is naby Suurbraak en vorm deel van die Grootvadersbos Natuurreservaat. Die naam is afgelei van ‘n kluisenaar wat tydens die vroeë negentiende eeu in die woud gewoon het.
Ons het die roete vyf jaar terug geloop en as redelik moeilik geklassifiseer, maar vanjaar het ons dit heel wat moeiliker gevind omdat ‘n groot gedeelte van die stap paadjie toegegroei is, en ons moes heel wat “bundu-bashing” toepas.
Die berg-fynbos en die woud plantegroei was besonder mooi vir die einde van die droë seisoen. Om in die nag in die veld onder die sterre te slaap was ‘n wonderlike ervaring so vêr van alle stadsgeluide met net die veld se nag geluide om ons.
Die uitsig van bo oor die Boosman se diep inheemse klowe is pragtig maar die hoogtepunt is detinitief die swem in die Duiwenhoksrivier met sy bome en lowergroen varings.
By die Grootvadersbos kampterrein het ons lekker gekuier. Dit is regtig ‘n netjiese kamp in die woud. As jy wil wegbreek van alles en net die stilte wil ervaar, is dit regtig aan te beveel. Daar is ook verskeie kort dagroetes – met inheemse bome en die pragtigste voëlgeluide. Die graad VII’s en die ma’s het hierdie moeilike roete sonder klagtes gestap en Melanie met haar besonderse kennis van die veld het ons almal geïnspireer om die mooi en die kleinste raak te sien.
Agter: Melanie Alberts, Etta van der Merwe, Faan Nieuwenhuis en Elsabe Kriel. Voor: Heleen Kriel, Lani Alberts, Jenine Van der Merwe en Michelle Jansen.
ANNA EMM PRODUKSIES BIED AAN! Die prinses en die ruimtemaniak
2008
Laerskool Koo Leerlinge Uitblinkers in Sport
Atletiek: Annabelle Du Plessis, Herman le Roux en Gawie le Roux (sien foto), leerlinge van Laerskool Koo het deurgedring tot by Noord-Boland Atletiek. Herman het by die Laerskool Montagu se kleurbyeenkoms Danie Pelser (oud-leerling 1986) se rekord vir gewigstoot, seuns onder 13, gebreek. Annabelle het ook ‘n rekord gebreek. Herman, het ook die beker verwerf vir die beste seunsatleet by die Kleinskole Atletiekbyeenkoms by Rûens Kollege. Hy het ook aan die Boland, byeenkoms gaan deelneem maar het hier uitgeval. Baie geluk, julle twee.
Tennis: Die tennisspan het vanjaar baie goed gevaar vir so ‘n klein skooltjie. Op die foto hieronder vier die span die einde van die seisoen met ‘n melkskommel nadat hulle teen Laerskool Robertson gespeel het – agter: Deon Zurnamer, Daniël Du Plessis, Herman le Roux, Rozanne Rossouw en Leanie Stemmet. voor: Elzaan Visser, Gavin Johnson en Heleen Kriel.
Naaldwerk
Ons het die jaar begin deur ‘n speldekussing te maak in die form van ‘n “Koo-Appeltjie”. Daarna het elke dogter vir Moedersdag ‘n spesiale sakkie gemaak, met vilt harte en kraletjies.
Met die aanbreek van die winter het ons begin brei. Dit was groot pret! Elkeen het ‘n paar reghoekige stukkies gebrei, wat ons aanmekaar gewerk het om ‘n “slang” te vorm – in die skool se kleure – swart, groen en rooi. Miskien kan ons dit vir Meneer gee om te gebruik in sy kantoor as ‘n deurstop! Ons laaste projek is kussingslope, waarop elkeen sy eie ontwerp borduur,
Die dogters geniet die naaldwerkklas terdeë en oortref hulself partykeer as hul sien waartoe hulle in staat is en dit is nogal verblydend om te sien hoe hulle uitsien na eike naaldwerkklas.
– Petru Groenewald –
Jaarlikse Gesinsuitstappie Oudtshoorn en Knysna omgewing. Almal het dit vreeslik geniet!
Fondsinsameling: Word elke jaar deur die Gr. 7’s aangebied om fondse in te samel vir ‘n afskeidsgeskenkie.
2009
Met behulp van Juf. Rose-Marie het ons kinders ’n skildery geverf vir die trauma kamer van die hof. Die doel was om ‘n warm atmosfeer vir getraumatiseerde kind te skep, waar ondervraging plaasvind.
Kinder konsert die jaar het gehandel oor ’n blinde dogtertjie en die alledaagse uitdagings waarmee sy in die normale samelewing sukkel. Dit het ’n lewensles vir oud en jonk gebied.
Die atletiek te Laerskool Montagu was weereens ‘n reusesukses en ons wil mnr. Van Huysteen en sy personeel van harte bedank dal hulle ons akkommodeer.
Ons beste seuns atleet was Anro van Eeden en die beste dogters atleet was Chunicole de Koker.
Annabelle du Plessis en Gawie le Roux het die Noord-Boland span gehaal in gewigstoot. Kom ons probeer die Boland span haal volgende jaar julle twee!
By die kleinskole atletiek te Rûens het ons atlete besonder goed presteer en nie minder nie as 28 diplomas verower. Dit was sommer uithaler vertonings.
Die Bestuursliggaam het in die begin van 2008 die moontlikheid ondersoek om ons eie skooldrag te kry, aangesien Laerskool Koo dieselfde skooldrag as Laerskool Montagu het.
Daar is besluit op ‘n geruite groen, wit en rooi somers rompie, wat dan ook dien as ‘n sport rompie, i.p.v. die groen rompie. Die groen en swart sweetpakbaadjie is vervang met ‘n swart sweetpakbaadjie met Laerskool Koo en die appeltjie op geborduur. Die wit appel hempie en swart sweetpakbroek het dieselfde gebly.
Ons ontvang baie komplimente, veral op die sportvelde, oor ons nuwe skooldrag. Die leerders kan dus met trots hul skool verteenwoordig met hul nuwe skooldrag
– Petru –
Musikale kinders
Die musiekleerlinge van die Laerskool Koo het vanjaar besonder goed presteer in hul UNISA klaviereksamens. Op die foto sit hulle voor: Maryn du Toit (op foto is haar gesiggie regs) – Voorgraad, UNISA: Lof; Janke Burger – Voorgraad, UNISA: Lof. Agter: Lelanie Stemmet – Graad 3 UNISA: eervolle vermelding; Jana Groenewald – Graad 1 UNISA: eervolle vermelding; Annabelle du Plessis – Graad 2 UNISA: lof, en Izel Stemmet – Graad 2 UNISA: lof.
2010
Die Gr. 7’s stap in die Cederberg. Kind en ouer geniet dit vreeslik!
Ons het vele rugby en netbal wedstryde al gespeel en het al in Bredasdorp gaan draai.
Die tegniese projek wat ons hierdie jaar gedoen het, was die bou van ons eie wonings. Sommige het selfs ’n swaai onder die afdak gebou.
Ons is lief vir ons Ouma’s en Oupa’s en tree graag by Huis Uitvlucht met sang, voordrag en klavier op.
KOM EK VERTEL JOU VAN LAERSKOOL KOO
Laerskool Koo, so lekker soos ‘n cracker
Laerskool Koo, die naam klink so
Laerskool Koo, bly altyd bo
so kom ek vertel jou van Laerskool Koo
In die oggend gaan ons busstop toe
en wag vir Juffrou Rose-Marie met die bus
dan klim ons almal in
terwyl ons deur die berge ry
voel alles so mooi en knus
Maandae oggende hou ons saal
dan lees Meneer Faan uit die Bybel ‘n stukkie
en sing ons vir ‘n rukkie
ons skoolliedjie
En stap ry vir ry uit die saal klas toe
Dan sit ons in die klas en werk
As ons klaar is begin Meneer Faan merk
As ons nie oplet na tafels, somme en meer
Kry ons baie seer
As die klok vir pouse lui
is ons almal in ‘n goeie bui
Die seuns speel sokker op die rugbyveld
en ander ‘n speletjie waar hulle mekaar aanmeld
Juffrou Liesa, Rose-Marie, Petru, Yolandi en Meneer Faan drink
elke pouse koffie in die kombuis (Eenkeer was daar ‘n muis in die kombuis.)
Sport is nooit te kort
Ons speel krieket en tennis
die seuns rugby, meisies netbal op plekke soos
Rûens, Callie de Wet en Riversdal
As ons wen, raak ons mal!
Ons doen atletiek, verspring, gewigstoot
en elke jaar ‘n kleuresport
Party kinders is rooispan
Ander is groen
Daar is so baie lekker dinge om by Laerskool Koo
se sportbyeenkomste te doen.
Elke tweede jaar hou ons konsert
dan klap die mense vir ons hande
Ons gaan ook op skooluitstappies
na berge en rante
In die lente gaan stap ons in die berg
tussen mooi blomme, bossies en proteas
– dis glad nie erg!
In die winter as dit sneeu
dan bou ons ‘n sneeuman en gooi mekaar met sneeuballe.
Party kinders neem blokfluit, klavier en kitaar.
Juffrou Liesa ken elke snaar
Ons sing ook koor en as ons vir die ooms en tannies
in die ouetehuis sing
het ons almal se harte getoor
Daar is gediggies wat ons opsê
party mense geniet dit baie.
Die seuns neem houtwerk
hulle maak mooi beeldjies en kerf
Die meisies neem naaldwerk
ons werk met naald en gare en stik op die naaldwerkmasjien
Juffrou Petru ken elke steek.
Die Gr. 4 -7’s neem rekenaar by Juffrou Yolandi
Ons teken op Paint en tik op WordPad
Ons leer ook van dinge soos programmatuur
dis ‘n lekker manier
Daar is ook ‘n biblioteek
waar ons boeke uitneem en lees
as almal maar kan weet
hoe lekker Laerskool Koo kan wees!
Meneer Faan het ook sy eie kantoor
Die sekretaresse, Juffrou Petru, sit heeldag voor die rekenaar – reel funksies, skryf briefies en antwoord heeldag die telefoon
Juffrou Michelle is die Jufffrou wat netball gee
Ons gooi balle, speel ‘n wedstryd
en drink ysies daarmee
As die skool aan die einde van die jaar sluit
braai ons wors en kyk dvd’s.
So dis alles wat ek vir jou oor Laerskool Koo kan vertel.
Fluit, fluit my gedig is uit!
Jana Groenewald – Gr. 5
Faan and Liesa Nieuwenhuis enjoying their retirement(2024)