156.Deel Twee van Vier: Rietvlei 1 Se Plaaswinkel En Sy Mense

image_pdfDOWNLOAD PDF

Saamgestel deur Ina van Wyk (née De Jager), met kosbare bydraes van haar span mede-Rietvleiers.
April 2026

MY HERINNERINGE AAN RIETVLEI SE WINKEL EN SLAGHUIS

Geskryf deur Danro Swanepoel

Die herinneringe wat hierin beskryf word, kom uit die jare tussen die vroeë 1940’s tot in die laat 1960’s. Ek is in 1949 gebore en daarom is die bietjie inligting vóór my tyd uit ander bronne verkry.

Uit hierdie genoemde era sal die meerderheid lesers van hierdie vertellings, geen lewenservaring hê nie, maar ek sal probeer om vir hulle ‘n kykie te gee in die wêreld waarin ek grootgeword het. Dit was geheel en al baie anders as vandag.

Die vertellings gaan nie net oor die plaaswinkel en die slaghuis nie, maar ook oor die verskeidenheid mense wat gereeld hulle inkopies daar gedoen het. Ek kan maar net vertel wat ek kan onthou, en hier en daar sal dit aangevul word uit die herinneringe van my niggie, Ina, gebore in 1952.

Dit is juis hierdie niggie wat my gevra het om my herinneringe op skrif te stel, maar ek hoop dat sy ook haar stories oor Rietvlei in geskrewe vorm die lig sal laat sien. En haar twee susters, Christa (gebore 1948) en Suzette (gebore 1958), behoort ook waardevolle bydraes te kan lewer.

Ek vertrou dat die lesers hierdie vertellings sal geniet wanneer hulle dit lees. Soos gesê, dit is ver verwyderd van vandag se lewe. My feite mag nie altyd 100% reg wees nie. Sien dit asseblief oor.

INLEIDING

Die plaaswinkel is geleë langs die nasionale pad tussen Montagu en Barrydale in die gebied wat as Rietvlei No. 1 bekend staan. In die ou stelsel was dit so 8 myl (ongeveer 13 km) vanaf Montagu. Die huidige pad was toe nog nie gebou nie. Die pad waaraan ons gewoond was, het net anderkant die Kingnarivier na links gedraai en het verby die vliegveld en daarna deur Derdeheuwel gegaan. Daarvandaan het die pad deur Witsand tot op die bult gegaan, en dan afgesak met ‘n egalige draai na links voordat jy op gelyk grond voor die winkel kon stilhou op ‘n klein parkeerarea.

Die gebou was vierkantig met ‘n groterige dubbelvoordeur en ‘n venster aan albei kante. Die agterdeur, wat ingegaan het na ‘n gedeelte met ‘n skuinsdak na agter, was links van die gebou. Die vooraansig se breedte was so ± 9 meter en die diepte was so ± 7 meter vir die hoofgebou en die agterste deel was seker so 10 meter by 3 meter.

Bokant die voordeur was daar in sierskrif geskryf:

A.J. de Jager
ALGEMENE
HANDELAAR

Aan die linkerkant van die winkel, was daar twee BP-petrolpompe. ‘n Bietjie dieper in was die slaghuis, wat ook ‘n vierkantige geboutjie was, wat verdeel was in die toonbankgedeelte, die koelkamer en die agtervertrek.

Links van die slaghuis was die ingang tot die kleinhoewe en dit het gelei na die waenhuis, die store, die abattoir, die weidingskampie met sementdam en die kraal. Dit is alles op een morg (0.86 hektaar).

Links van die slaghuis was die sementpaadjie wat jou tot by die huis se voordeur gelei het. Jy betree dan eerstens die sonstoepkamer (later aangebou) voordat jy by die voordeur ingaan in ‘n gang wat na regs loop. Die eerste ingang na regs was die sitkamer en die tweede ingang na links het na die eetkamer en kombuis gelei. Die gang maak ‘n 90˚-hoek na links en op die hoek, is daar ingange na twee slaapkamers: een na regs en een reguit vorentoe.

Die volgende deur aan die linkerkant is waar die “troon” gesetel is en regs is die derde slaapkamer. Die gang eindig in die badkamer. By die agterdeur van die kombuis is daar ‘n klein stoepie en ‘n paadjie neem jou ook na al die geboue aan die agterkant. Daar was ook ‘n kleinhuisie (“long drop”) in die agterplaas. ‘n Boorgat met ‘n windpomp het water voorsien nadat dit in ‘n hoë tenk by die agterdeur gepomp is.

Die grond waarop alles wat hierbo beskryf is, voorkom, is in die vorm van ‘n driehoek (sien Google-foto links). Voorlangs is die teerpad, en aan die berg se kant, loop ‘n grondpad op na oom Gert van Deventer se plaas. Die agterkant grens ook aan sy grond. Dit is nie aan my bekend wanneer hierdie stukkie grond afgesny en gehersoneer is nie.

Hierdie klein sakeonderneming het ‘n ideale ligging gehad. Daar was nie ‘n ander plaaswinkel in die nabyheid nie. Die boere teen die Langeberge af, tot so ver as Scheepersrus, was almal klante van A. J. de Jager, Algemene Handelaar en Slagter.

Redelik naby aan die winkel was die groot hoenderboerdery van die Nel-broers. Omtrent al die boere se werkers het weekliks op Saterdae hulle lonegeld by die winkel en slaghuis kom bestee.

A.J. de Jager en sy gesin, tesame met verskeie personeel, het hierdie beskeie winkel van die beginjare uitgebou tot ‘n redelike welvarende onderneming in die sestigerjare.

OOM DE JAAR EN TANNIE DAISY

Andries Johannes de Jager

Hy is op 17 Oktober 1924 op die plaas Algerynskraal in die Ladismith-distrik gebore waar sy pa gewerk het. Hulle was ‘n groot gesin met agt kinders. Hulle was eers in ‘n plaasskool en daarna op Barrydale in die hoërskool. Andries (ook genoem Dries) het in 1942 en 1943 standerd 9 en 10 (graad 11 en 12) aan die Hoër Handelskool in die Paarl voltooi.

Hy het in 1944 op Robertson as ‘n algemene klerk by die Roelou Barry Handelshuis en Motorhawe begin werk tot ongeveer 1946. Hy en ‘n vennoot (onbekend aan my) het toe die plaaswinkel op Rietvlei gekoop. Of hulle dit deur ‘n bank gefinansier het, kan ek nie sê nie, maar die vennootskap het nie uitgewerk nie en Dries het besluit om alleen met die winkel voort te gaan. Hy het ‘n lening by Volkskas bekom en sy vennoot uitgekoop om sodoende alleeneienaar te word.

Oom De Jaar was ‘n ontsettende harde en gedissiplineerde werker. Elke oggend, behalwe Sondae, het sy werks­dag hier by vyfuur se kant begin. In die slaghuis het hy die vleis gesaag en alles reggekry vir die dag. Hy was ‘n haastige man en alles moes reg en vinnig gedoen word. Wanneer hy gedink het dat jy te stadig is, het hy agter jou kom staan en met sy arm en hand sulke opwenbewegings gemaak om jou vinniger te laat werk!

Hy het sy vinger op die pols gehad van alles wat in sy sakeonderneming en op die werf gebeur het. Sy sukses kan grootliks hieraan toegeskryf word. Hy het baie goeie en vriendelike verhoudings met sy personeel en klante gehad. Om billik en menslik op te tree, was vir hom as Christen baie belangrik. Hy sou niemand ooit verneuk nie en sou eerder self ‘n verlies ly as om oneerlik te wees. Sy integriteit was bo verdenking en daarom het die boere besigheid met hom gedoen. Hy is op 22 Januarie 2009 in die Strand oorlede.

Rachel Susanna Rousseau (Daisy) van Zyl

Sy is die 18de Februarie 1924 in Montagu se hospitaal as ‘n dorpskind gebore. Sy is my moeder, Rosa Aletta Hermina (Rosie), se jonger suster. Hulle ouers was Jozua Petrus Christiaan (Joey) van Zyl en Christina Johanna Jordaan (Steinie) le Roux.

Daisy het op Montagu gematrikuleer en na skool het sy op die Sentrale by die Poskantoor as ‘n telefonis gewerk. Ek weet nie hoe en waar sy vir Andries ontmoet het nie, maar dit kon moontlik by Volkspele-geleenthede gewees het. Daisy was ‘n baie aanvallige jongmeisie en die mans het ywerig meegeding om haar hand, maar haar “Bokkie” het hulle hande almal in die as geslaan en op die 10de Januarie 1948 is hulle twee in die NG Kerk op Montagu getroud.

Daisy het dadelik met volle oorgawe op Rietvlei in die winkel begin werk en ook as huisvrou vir haar man gesorg. Christa is op 19 September 1948, ‘n paar weke te vroeg, in die hospitaal op Montagu gebore. Ina is op 23 Februarie 1952 gebore en Suzette op 6 Januarie 1958. Hulle aldrie is in die plaaswinkel grootgemaak.

Die gesin het vir tien jaar in die vertrekke agter die winkel gewoon. In 1957 het hulle ‘n gerieflike huis laat bou soos reeds beskryf is. Daisy is oorlede op 19 Julie 1989 op 65-jarige ouderdom.

VEELDOELIGE PITSTOP

Boere van die omgewing het nooit verby die winkel gery sonder om te stop nie. Daar was altyd ‘n ietsie wat hulle by die winkel of slaghuis moes kry en het dan sommer ook brandstof ingegooi. In my tyd was daar twee pompe – kan nie onthou of dit albei petrol was nie? Soms het hulle sommer net stilgehou om ‘n bietjie te gesels as hulle nie te besig was nie.

In die vrugte- en parstyd het die vol vragmotors ook gereeld gestop en dit was lekker om ‘n trossie druiwe of ‘n ryp appelkoos, perske, pruim, appel of peer van die bak af te neem om te eet. Die boere was nie suinig nie en het ook vir die De Jagers gereeld vrugte gebring.

Die boere in die omgewing het hulle vol roomkanne kom aflaai sodat die spoorwegbus dit by die suiwelmaatskappye se depots kon aflewer. Daarna het die bus weer die skoon, leë metaalkanne teruggebring. Ook die Nel-boerdery het die busvervoerdiens benut vir die versending van hoenderkuikens en eiers.

Die bus se bakwerk was in twee dele – die voorste gedeelte het sitplek vir so vyftien mense gehad en die agterste gedeelte was die vragruim. Kragtens die wette van die regering was die passasiersgedeelte destyds verdeel in sitplekke vir die verskillende rasse met ‘n afskorting tussenin. Stiptelikheid was ‘n kenmerk van die Spoorweë se trotse, noodsaaklike busdiens van weleer.

TALANA SE WINKELTJIE

Talana, of soos ons gesê het “Parravlei”, het ‘n klein winkeltjie gehad wat op Dinsdag- en Donderdagmiddae en Saterdagoggende oop was.

Oom De Jaar het die geboutjie met die boer se toestemming daar laat oprig. Vanaf Rietvlei is dit so ongeveer 12 km ver. Op hierdie betrokke dae is die bakkie gelaai met die voorraad en dan was daar ook ‘n paar stopplekke op plase waar die plaaswerkers op die boek kon koop. In ‘n boek het oom De Jaar elkeen se skuld neergeskryf en hulle kon die volgende maand weer op skuld koop as die vorige skuld eers vereffen was. Ina het gewoonlik Saterdae daar saam met haar pa gaan werk, maar in die skoolvakansies het ek ook daar gewerk.

Toe Johanna daar naby gewoon het, het oom De Jaar my op weeksdae in die skoolvakansie met my fiets tot daar laat ry en dan het ek en Johanna die winkel oopgesluit en die mense bedien. Voor sononder het ek dan weer teruggery en was net voor donker terug op Rietvlei.

PERSONEEL

Johanna Stemmet

Sy (en haar suster en twee broers) het by hulle ouers, oom Willem en tannie Cielie, oorkant die pad gewoon. Johanna was ‘n baie aangename meisie en sy het voltyds in die winkel gewerk. Sy was sy nie lui nie en haar werk was van hoogstaande gehalte. Sy het altyd gesorg dat alles regloop met pakkies opmaak en om bestellings gereed te kry vir wanneer die boere dit kom oplaai.

Ongeveer 1965 is sy getroud met Abrie Rossouw en sy kon toe nie verder in Rietvlei se winkel werk nie, maar sy het steeds gehelp in Parravlei se winkeltjie.

Dawid

Hy was ‘n groot sterk bruin jongman van so 16 of 17 jaar oud. Sy pa was Salmon en hy het op Maandagoggende ook met die slagtery gehelp. Hulle was betroubare werkers. Dawid het groot sakke mieliemeel, broodmeel, erte, bone, sout, suiker, ens. met gemak op sy skouers getel en dit in die store of winkel ingedra. Hierdie sakke het gewoonlik so 50 kg of meer geweeg. Hy het die skape en bokke help slag en ook in die slaghuis gewerk met die uitkook van die vet asook die kook van die lewerwors se bestanddele.

Oom Flip Smit

Oom Flip, sy vrou (tannie Nelie) en hulle twee kinders, Comien (seker Jacomina) en Johannes, het geboer op Rietrivier, so omtrent 20 km vanaf Rietvlei. Oom Flip was seker so vyftig jaar oud. Oom De Jaar en oom Flip was groot vriende.

Elke Maandagoggend het oom Flip baie vroeg gekom om met die slag van veral die bees en die vark(e) te help. Wanneer daar ‘n bees geslag moes word, het hy die bees op sy bakkie gebring en dan by die slagkamer met die .22 geweer geskiet. Dan is die bees met ‘n katrol op hoë ysterpale opgehys en kon die oopsny van die keel gedoen word om die bloed te laat uitloop wat in ‘n emmer opgevang is.

Die slag van die diere moes so vroeg moontlik in die koelte van die oggend gedoen word sodat die vlieë nie lastig word nie en die vleis in die koelkamer ingedra kon word. Later in die dag het die vleisinspekteur gekom om die vleis geskik te verklaar.

Ander Werkers

Tannie Henna van Eeden en tannie Bessie Stemmet het om die beurt in die winkel gewerk, veral wanneer dit nodig was, soos wanneer die De Jagers met vakansie was. Marie van Deventer, oom Kwart se dogter, het ook, wanneer nodig, in die winkel gehelp.

Van Zyl la Grange (en sy broers) het soms op Saterdagoggende gewerk. Christa was Saterdae agter die toonbank in Rietvlei se winkel, terwyl Ina saamgegaan het om in Talana se winkel te werk. Suzette was nog klein, maar het ook gehelp toe sy ouer was. Vrydagmiddae en Saterdae was dit my beurt.

Oom De Jaar was meestal in die slaghuis en tannie Daisy in die winkel, maar sy het ook in die slaghuis gewerk wanneer dit nodig was – veral Saterdae wanneer hy Talana toe was. Tannie Joyce Swanepoel en haar dogter, Annemarie, het ook in die winkel gewerk ná oom Sakkie Swanepoel van Witsand se skielike dood a.g.v. ‘n hartaanval.

WINKELWERK

Om klante te bedien, veral op Saterdagoggende, was nie kinderspeletjies nie. Dan moes jy op en wakker wees, want die kopers het die hele winkel tot by die deur uit, volgestaan. Daar was nie tyd vir ginnegaap nie en jy moes kophou met die neerskryf van pryse, die regte items uit die rakke haal, die pryse reg optel en die regte kleingeld uitkeer.

Die klante het nie altyd so skoon geruik nie en dit was boonop ‘n groot lawaai soos almal aanmekaar gepraat het. Buite was daar ook vrolike lawaaimakers.

En dan as jy dink jy het die klant nou klaar gehelp, dan sê sy: “Nou moet ek nog dit en dat ook kry,” en die opgefrommelde R1-nootjie is dan so onder die kopdoek uitgehaal om te betaal.

Vanaf voor agt tot eenuur was dit swoeg en sweet om almal geholpe te kry. Dit was so salig wanneer die winkel weer leeg was, maar die kasregister was  hoogs tevrede met die oggend se opbrengs.

Ek het in die Desember-skoolvakansie van 1962 (dertien jaar oud) in die winkel begin werk en Vrydagmiddae het ek uit Montagu na Rietvlei geryloop. Gedurende die kwartaal het ek by die koshuis ‘n geleentheid saam met ‘n boer wat sy kinders vir die naweek kom oplaai het, gekry. My tydperk by die winkel was tot 1967.

Vrydagmiddae het ons pakkies opgemaak om in die rakke te pak sodat daar genoeg voorraad vir Saterdag­oggende was. Al die droë kosse is op ‘n skaal afgeweeg wat met los gewigte gewerk het. Wanneer die skaal balanseer, is die gewig reg en word die kardoesie toegeplak.

Die inhoud, gewig en prys was reeds daarop geskryf. Dit was ‘n tydsame werk. Die een gebruik ‘n metaalskoppie om die mieliemeel uit die metaalhouer agter die toonbank in die kardoesie te skep en op die toonbank by die skaal te pak. ‘n Ander een weeg, nog een plak toe met sellotape en ‘n ander een pak dit in die rakke. Week na week – dit het nooit opgehou nie.

Soos vandag, was daar ook in daardie jare baie arm mense en die geldjies was maar min. Die meeste mense het van die hand na die mond gelewe. Die pryse was in verhouding tot die bedrae geld in omloop. Daar was nie iets soos inflasie nie – pryse het vir lang tye dieselfde gebly, en wanneer ‘n prys gestyg het, was dit met ‘n ½ sent of 1 sent per item. Items se pryse was enkele sente en daar was omtrent niks wat meer as ‘n rand gekos het nie. Dit is nou die gewone kossoorte.

DIE SLAGHUIS

Oom Dawie Stemmet van oorkant die pad (oom Willem se broer), was elke oggend van die week die eerste klant by die slaghuis. Dan het hy vir hom ‘n stukkie lewerwors of sopbene of so-iets kom koop. Een oggend kom hy weer daar en toe is die item se prys ‘n sent of twee duurder as voorheen. Hy is toe glad nie tevrede nie en sê vir oom De Jaar: “Dit lyk my jy wil nou in ‘n dag se tyd ryk word.”

Ek dink die slaghuis was ‘n groot pluspunt vir die onderneming. Oom De Jaar het van die lekkerste boerewors gemaak wat jy kon kry. Tot vandag toe onthou ek daardie unieke koljandersmaak wat die wors só gewild gemaak het. Mense wat daardie wors geproe het, het altyd teruggekom om weer te koop.

Die Kaapse handelsreisigers het op Maandae verbygekom na dorpe soos Oudtshoorn en George en dan op Vrydae is hulle terug huis toe. By die winkel het hulle gestop om bestellings vir materiaal en klerasie te neem as deel van hul werk.

Toe hulle agterkom watter lekker wors daar te koop was, het hulle dit gereeld begin koop en naweke met vriende en familie gebraai. Gou-gou het hulle Maandae bestellings geplaas vir die vriende in die Kaap wat ook van die wors wou hê. Oom De Jaar moes sy maak van wors drasties vermeerder om te kon voorsien in die aanvraag.

Ook die lewerwors wat hy gemaak het, was van die lekkerste. Daar was geen mieliemeel in nie – slegs die lewer, niertjies en die harslae. Agter in die slaghuis was daar ‘n vuurherd met ‘n baie groot driebeenpot waarin al bogenoemde gekook is voordat dit fyngemaal en in derms gestop is. Dawid was in beheer van die vuur en die kookproses en in vakansietye het ek gereeld daar vir my ‘n skaaphart en niertjie gaan uithaal om te eet… hemels!!

Elke weeksoggend het oom De Jaar daar in die slaghuis na “Flink uit die Vere” van Fanus Rautenbach geluister en Fanus se kwinkslae was altyd ‘n onderwerp van bespreking met die boereklante.

Oom De Jaar het so nou en dan vir ons ‘n stukkie droëwors gegee om te eet – dit was baie lekker. Saterdagoggende het tannie Daisy vir die huishulp maalvleis gegee om vir ons frikkadelle vir middagete te maak om ons honger te stil. Dit was altyd sulke groot frikkadelle wat baie lekker gesmaak het.

GEREELDE BESOEKERS

Oom Izak Nel het gereeld die slaghuis ondersteun en dan het hy en oom De Jaar altyd lekker gesels. Die Conradie-broers, Frans en Kosie, het ook gereeld kom inloer en oom Kosie kon so lekker uit sy maag uit lag.Oom Sakkie Nel se vrou, tannie Hannetjie, het ook gereeld kom kyk watter mooi materiale tannie Daisy ingekry het. Sy was ‘n ywerige naaldwerkster en het die winkel goed ondersteun.

Oom Kosie la Grange en sy vrou het ook van tyd tot tyd kom inloer en hulle was altyd baie netjies aangetrek. Oom Kosie was baie musikaal en sy plaas se naam was Octavia. Ina onthou dat oom Gert van Deventer en ander ouer boere ook by die winkel en slaghuis kom kuier het om lekker te kon gesels en nuus uit te ruil.

Verderaan langs die Langeberge was daar twee Apie van Zyls. “Apie Bo” en “Apie Onder”. Apie Bo se vrou is oorlede en toe het hy met ‘n Engelse vrou van Kaapstad getrou. Sy was baie vriendelik en haar seun, Ernest, was saam met my in st. 8. Hulle het verbasend gou Afrikaans magtig geword.

Oom At Swanepoel het ook gereeld op Vrydae gestop om sy bestelling te kom oplaai nadat hy die kinders by die koshuis gekry het.

Die boere van Rietrivier het in die vroeë 1960’s hulle eie wynkelder laat bou en toe het hulle vir Piet Frick as bestuurder en wynmaker aangestel.

Daar was die twee Stemmet-broers: oom Koos en, ek dink oom Gawie, wat gereelde klante was. Oom Boeta van Deventer was ook ‘n boer wat naby die winkel geboer het. Rita Groenewald was met Van Zyl Marais van Rietrivier getroud en sy was tannie Daisy se niggie aan vaderskant.

ALGEMEEN

Soos ‘n mens kan verwag met al die droë kosse in die store en winkel, was daar baie muise en rotte en dit was ‘n voltydse stryd om die knaagdiere in toom te hou.

Op ‘n dag maak Dawid ‘n rot daar in die winkel dood en tannie Daisy sê vir hom: “Ja, Dawid, dis reg, maak die goed dood, want hier is ‘honderd-en-een’ van hulle.” Dawid antwoord toe: “Maar gelukkig, Mies Daisy, nou is daar net ‘n honderd oor!”

Ek en Ina het muis- en rotvalle gestel en dan het oom De Jaar vir ons 5c vir ‘n muis en 10c vir ‘n rot betaal. Ek weet nie waarom hulle nooit katte aangehou het om die plaag te bestry nie. Die muise en rotte het natuurlik ook slange gelok. Ek weet van een bruinkapel wat Dawid tussen die winkel en slaghuis doodgemaak het. Daar was heelwaarskynlik nog meer gevalle.

Daar was inbrake by die winkel en alhoewel daar goeie diefwering was, het die inbrekers ‘n plan gemaak om te steel. Op ‘n keer het hulle ‘n dakplaat aan die agterkant verwyder om in te kom.

Oom De Jaar het ‘n interkomstelsel laat installeer wat toegang vanuit die winkel tot die slaghuis, store en woonhuis gegee het. Dit het baie gehelp om tyd te bespaar deur opdragte te kon gee en terugvoer te kry van die verskillende punte.

Die telefoon was nog op die plaaslynstelsel gebaseer en mense kon mekaar kosteloos bel. Elkeen het sy eie kode gehad en jy was net veronderstel om te antwoord wanneer jy jou luie hoor. Daar was egter baie mense wat na ander se gesprekke ingeluister het. As jy fyn geluister het, kon jy hoor wanneer die inluisteraar sy/haar foon se gehoorstuk optel om in te luister.

Die De Jagers se kode was vier kort luie. Die een wat die oproep maak, sal sy/haar foon se slingertjie soveel kortes en langes draai om die betrokke nommer te bel. Net wanneer jy buite jou plaaslyngemeenskap wou bel, moes jy die sentrale op Montagu met ‘n laaaanggg lui bel, die nommer gee en dan sal die telefonis jou na daardie nommer deurskakel.

Op Saterdagoggende was daar altyd ‘n miernes van bedrywighede in die omgewing van die winkel. Grootmense en kinders van verskillende ouderdomme het heen en weer oor die teerpad voor die winkel beweeg. Voertuig­bestuurders moes versigtig en waaksaam wees, eerder spoed verminder wanneer hulle die winkel genader het en hulle nie wou stilhou nie.

Een oggend het ons in die winkel gehoor hoe ‘n motor remme aanslaan. Toe het ‘n harde slag gevolg en daarna ‘n harde geskree. Almal het uit die winkel gestorm om te sien wat gebeur het. Aan die winkel se kant, omtrent regoor die tuinhekkie na die huis, het ‘n bondeltjie mens op die grond gelê met die ma wat huilend by haar lewelose dogtertjie kniel.

‘n Groot swart motor het daar gestaan, ‘n lang blanke man het uitgeklim en die toneel aanskou. Hy het na die winkel toe gekom en gevra of hy die foon mag gebruik. Eerstens bel hy toe die polisie op Montagu en lig hulle in oor die ongeluk en toe bel hy iemand in Kaapstad. Hierdie man wat die dogtertjie raakgery het, was regter Jan Steyn van die Hooggeregshof in Kaapstad.

Die polisie het dadelik gekom en verklarings afgeneem. Ooggetuies het bevestig dat die dogtertjie oor die pad, reg voor die motor, ingehardloop het. Almal was verslae en daar was ‘n sombere stilte in die winkel toe ons voort­gegaan het om die kopers te bedien.

In daardie dae was swartmense nie baie volop in ons omgewing nie. Ek onthou  net een wat by die winkel kom koop het. Hy was aan ons bekend as Jackson. Hy het met ‘n rooi fiets vanaf ‘n plaas daar naby Klipheuwel se indraaipad gery. Hy was nie baie vriendelik nie en het maklik op sy perdjie geklim. Hy het gereeld magou-sorghummeel gekoop waarmee hy bier gemaak het, ook genoem Mtombo.

Hy en ander plaaswerkers het ook brandspiritus gekoop om as alkohol te gebruik. Hulle het dit met water verdun en dan brood daarin geweek en so die gif verorber – baie, baie skadelik vir die ingewande. Die algemene gesegde was dat hulle “Bloutrein” ry. Ons moes die kopers se name in ‘n boek skryf elke keer wanneer so ‘n aankoop gemaak is, en ek dink daar was ‘n beperking op die aantal bottels wat hulle oor ‘n tydperk mog koop. Almal wat met ‘n primusstofie gekook het, moes natuurlik die stofie eers met ‘n bietjie spiritus opwarm voordat jy dit kon aansteek en pomp om ‘n vlam te kry.

TER AFSLUITING

Hierdie sakeonderneming het ‘n baie belangrike rol in Rietvlei No. 1 en omgewing vervul. Die mense wat in die omgewing gewoon en gewerk het, het die voordeel gehad dat hulle ‘n winkel, slaghuis en petrol naby gehad het. Dit was gerieflik en nie nodig om vir alles dorp toe te ry nie.

Daar was ook ‘n plaasskool op die Nels se plaas, en al die nabygeleë plase se kinders het hierdie skooltjie, met net een onderwyser(es), bygewoon vanaf sub A tot st. 5 (graad 1 tot graad 7). Christa, Ina en Suzette het soms met hul fietse gery, maar ander kere het hulle ook saam met die ander kinders gestap.

Daar moet altyd onthou word dat die boere in daardie jare nie ryk was nie, behalwe ‘n uitsondering hier en daar. Die voertuie waarmee hulle gery het, was baie keer gebruikte voertuie wat vir baie jare diens moes lewer. Die meeste boere het een Vaaljapie-trekker (Massey Ferguson) besit, tesame met ‘n vragmotor en ‘n bakkie. Sommige boere het wel ‘n motor gehad waarmee hulle Sondae na die kerkdiens op Montagu gery het.

Sommige seuns het na skool op die plase aangebly om te boer, maar die plasies was maar klein en kon nie meer as een gesin onderhou nie. Seuns waarvan ek weet wat voortgeboer het, was Gerrit van Deventer, Johan Stemmet, Gert Stemmet, Johan Neethling, Johannes Smit en Kobun Stemmet.

DIE DE JAGERS GROET

In 1968 het oom De Jaar ‘n ligte hartaanval gehad terwyl hy op ‘n dag bloed geskenk het. Die rooiligte het vir hom geflikker en hy en tannie Daisy het ‘n baie moeilike, maar ‘n baie nodige, besluit geneem om hulle onderneming te verkoop. Die vinnige pas waarteen hy gewerk het en die spanning wat die groot verantwoordelikheid oor al die jare meegebring het, het hom op 44-jarige ouderdom begin inhaal. Hulle sou ‘n ander heenkome en inkomste moes vind.

Sy suster, Christina, en haar man, Jasper Hayes, het die sakeonderneming gekoop. In 1968 het die De Jagers na Robertson verhuis en het oom De Jaar het by Sanlam begin werk. Christa was toe in haar tweede jaar by die Wellington Onderwyskollege en Ina het haar skoolloopbaan in 1969 op Montagu voltooi. Suzette was toe in st. 3 (graad 5) in Robertson Laerskool.

In Mei 1973 is oom Jasper Hayes aan ‘n hartaanval oorlede en die plaaswinkel het weer nuwe eienaars in Desember 1973 gekry. In die byvoegselwat hierna volg, kan die geskiedenis gesien word van hoe en wanneer die plaaswinkel van eienaars verwissel het. Nou ja, dis dan my storie sover ek kan onthou.


BYVOEGSEL MET MEER INLIGTING

  1. Die plaaswinkel was oorspronklik ‘n gewone woonhuis.
  2. Die eienaar was Adamus Paulus Stemmet.
  3. Sy seun, Johan Willem Stemmet, huur die huis van sy pa in 1898 om daarin te woon – waarskynlik toe hy getrou het.
  4. Johan Willem koop die huis in 1903 van sy pa.
  5. Johan Willem begin in 1910 ‘n winkel uit sy huis bedryf as ‘n algemene handelaar. Hy het die potensiaal raakgesien om ‘n sakeonderneming juis op daardie plek te begin om die boere en hul werkers van diens te wees.
  6. Hy bedryf die plaaswinkel vir 32 jaar en tree waarskynlik af weens hoë ouderdom en/of gesondheidsredes.
  7. Hy verkoop die huis/winkel in 1942 aan Kerneels Gelderblom. (Paul Fouché se ma se broer). Gelderblom gaan voort as Algemene Handelaar.
  8. Hy verkoop die plaaswinkel met die grond in 1947 aan Andries Johannes de Jager en ‘n onbekende vennoot.
  9. De Jager koop die vennoot uit en word alleeneienaar.
  10. De Jager en sy gesin het die besigheid vir 21 jaar bedryf.
  11. Gedurende hierdie tydperk het hy die besigheid geweldig uitgebrei en ‘n welvarende onderneming gevestig. Hy het die meeste van die buitegeboue en die slaghuis laat bou. In 1957 is die woonhuis gebou.
  12. De Jager ondervind gesondheidsprobleme en in 1968 verkoop hy die besigheid aan sy suster, Christina, en haar man, Jasper Hayes.
  13. Hayes het skielik aan ‘n hartaanval gesterf in Mei 1973.
  14. Christina Hayes verkoop aan Lance Dickson in Des. 1973.
  15. Dickson verkoop in 1976 aan Venter.
  16. Venter verkoop in 1981 aan Lamprecht.
  17. Lamprecht verkoop in 1983 aan Kingston.
  18. Kingston verkoop in 1985 aan P. Jack.
  19. Jack verkoop in 1990 aan R. A. van den Berg.
  20. Van den Berg verkoop in 2005 aan Elizma Viljoen.
  21. Viljoen verkoop in 2008 aan Nico Hanekom.
  22. Hanekom verkoop in 2010 aan Brian Thorpe.
  23. Thorpe het die winkel vir een jaar verhuur en daarna is die plaaswinkel vir goed gesluit na 100 jaar se diens.
  24. Thorpe verkoop in 2020 aan Johan Strydom.

Erkenningword gegee aan wyle Gert van Deventer wat die meeste van bogenoemde inligting in die Byvoegsel gedokumenteer het. Die waarde daarvan spreek vanself.


ONS HERINNERINGE AAN ONS GROOTWORDJARE OP RIETVLEI NO.1
EN MONTAGU

Geskryf deur Ina (de Jager), met haar susters, Christa en Suzette, se hulp.

Min mense kan sê dat hulle in ’n winkel grootgeword het. Wel, ek en my suster, Christa, kan. Van kleins af was die huiswinkel – of winkelhuis – ons woonplek, net soos dit ook was vir oom Willem “Duitser” (Stemmet) en oom Kerneels Gelderblom (Paul Fouché se oom), die eerste twee eienaars van die winkel.

WILLEM STEMMET, EERSTE EIENAAR VAN DIE WINKEL

Willem Stemmet (Duitser) wat die winkel in 1910 vanuit sy huis begin het. Cielie (Johanna, Johan, Hermina en Paul se ma) sit voor in die middel.

Willem Stemmet het die winkel in 1910 begin en na 32 jaar aan Cornelius (Kerneels) Gelderblom verkoop.

KERNEELS GELDERBLOM, TWEEDE EIENAAR

Cornelius Izak Gelderblom en Ella van Zyl op hulle troudag (1943)

Paul Fouché: Cornelius Izak Gelderblom en Ella van Zyl op hulle troudag omstreeks 1943. Wie die blommemeisie was, kon ek nie vasstel nie. Kerneels was een van my ma se ses broers en Ella, die jongste suster van my ouma aan vaderskant. Dogter van Pieter Hendrik Arnoldus van Zyl, eens die eienaar van Rietrivier, vandag Little Oaks van J.D. van Deventer.

In die dertigerjare, tydens die Depressie toe werk bitter skaars was, het oom Kerneels Gelderblom as voorman by Alec de Bod op Rietrivier gewerk. Dit was die plaas aangrensend aan die een waar my oupa en pa om die helfte op Piet van Zyl snr. se grond geboer het. Al die plase, van oom Willie van Zyl af tot teen oom I.B. Fouché se Edenville, was destyds as Rietrivier bekend. Oom Alec de Bod se plaas het later aan oom Flip Smit en sy seun Johannes behoort. My oupa, Paul Fouché, was met Piet van Zyl snr. se oudste dogter en ook sy oudste, Annie van Zyl, getroud.

Kerneels Gelderblom se teenwoordigheid in die omgewing het tot ‘n kwaai ondertrouery gelei. Hy het begin vlerksleep by Piet van Zyl snr. se jongste dogter, Ella. Kerneels het twee ongetroude susters op Robertson gehad en gesorg dat Piet van Zyl jnr., sy toekomstige swaer, sy jonger suster leer ken en my Pa die ouer een. Ek vermoed Pa was die laaste om voor die kansel verby te kom met Anna Gelderblom, na Kerneels Gelderblom en Ella van Zyl verby is, met swaer Pietjie van Zyl en Helena Gelderblom op sy hakke.

Piet van Zyl snr. is in 1932 oorlede. Ella was ‘n erfgenaam en die erfgeldjies het waarskynlik vir Kerneels in staat gestel om Rietvlei 1 se winkel te bekom.

Volgens oorlewering was die winkel nie vir hom so winsgewend nie. Hy het aan oom De Jager verkoop en die motorhandel betree. Tot sy dood was hy lief om met voertuie te smous, al het hy as boukontrakteur eers op Robertson en later Lambertsbaai uitgetree.

ANDRIES DE JAGER, DERDE EIENAAR VAN DIE WINKEL

Toe Andries de Jager die winkel in 1947 koop, was hy en Daisy reeds verloof. (Sy het swaar gedra aan haar eintlike name: Rachel Susanna Rousseau van Zyl, maar niemand het haar ooit op een van dié name genoem nie. Net doktor Kellermann wat haar onderwyser was, het haar Rachie genoem.)

Dries het solank in die huis gaan woon tot hulle troue aan die begin van 1948. Daisy het dadelik swanger geraak en Christa is ‘n maand te vroeg gebore. Baie van die buurtannies en vriende het seker die datum sit en bereken en agter hulle hande gewonder! Sy het skaars vyf pond geweeg, kon in haar pa se skoendoos pas en haar lyfie moes met olyfolie ingesmeer word. Gelukkig het tannie Janie Rahl van Nelsrus, die plaas langsaan (later Octavia van die La Granges), hulle baie bygestaan en gehelp.

Geleidelik het die winkel se spasie te klein geword en die muur tussen hierdie kamer (winkel) en sitkamer moes uitgebreek word om die winkel-gedeelte groter te maak. Christa vertel hoe die vertrekke en ‘n stuk van die gang geleidelik deel van die winkel moes word sodat daar later net twee slaapkamers, ‘n stukkie gang en ‘n groterige vertrek oorgebly het wat as kombuis en sitkamer moes dien.

Van hierdie beginjare onthou ek nie veel nie. My suster, Christa, onthou dit nog goed. Ek onthou so vaagweg dat my pa my met sy swaar army-jas kom toemaak het en die geborge gevoel wat ek gehad het. Ek glo nie daar was geld vir baie komberse nie, want dit was arm, maer jare. Hy en ‘n vennoot het saam die eiendom gekoop, maar die vennootskap het nie uitgewerk nie en hy moes geld gaan leen om die persoon uit te koop. My ma het vertel hoe hulle in die beginjare leë bokse agter die pakkies suiker en ander produkte op die rakke gesit het sodat die rakke voller moes lyk.

Links: Daisy met Ina en Christa

Ons was van die eerstes op Rietvlei wat elektrisiteit gehad het. Christa onthou nog die gloeilamp wat in die ou huis aan ‘n lang draad van die plafon af heen en weer geswaai het. Die meeste van die bure het nog van kerse en paraffienlampe gebruik gemaak.

Sy onthou veral die mooi lampe in tannie Cielie en oom Willem Stemmet se ou huis oorkant die teerpad. Veral die groot lamp bokant die eetkamertafel met sy mooi skerm was iets baie besonders. Om die lamp aan te steek en paraffien in te gooi, moes dit eers tot op die tafel afgesak, aangesteek en dan weer met ’n tou aan ’n katrolletjie boontoe opgetrek word.

Johan Strydom – sy ouers het oom Willem Stemmet se plaas in 1969 gekoop, en hy is tans ook die eienaar van die gedeelte waarop die winkel en slaghuis vroeër was – onthou ook dié ligte, waarvan daar tans in die Jouberthuis op Montagu hang. (Sien koerantberig in Deel Een waar tannie Sally la Grange besig is om soortgelyke ligte te herstel.)

Wat ek veral goed kan onthou, was die tyd toe my ma en pa gelyktydig pampoentjies gehad het en dr. De Villiers uitgeroep is omdat hulle baie siek was. Ek het langs die paadjie by die agterdeur gesit en myself bitter jammer gekry! Wie toe die winkel aan die gang gehou het, kan ek nie onthou nie. Dit was seker maar oom Flip Smit en tannie Hannah van Eeden wat gereeld daar gehelp het.

Ek en Christa het ons dae omgespeel binne en buite die winkel – veral voor die toonbank. (In 1958 het Suzette ook bygekom.) Ons het van die groot bokse, waarin die pakkies vuurhoutjies verpak was, in die “waenhuis” gaan haal, dit oor ons koppe gesit en so winkel toe geloop met net ons voetjies wat onder uitsteek. Sulke bokse was heerlik om in te sit en speel.

Ons het binne-in hierdie groot bokse gesit en daar geleer klank en skryf – en agtergekom hoe lekker dit is om te lees. Ons kon aldrie lees en skryf voor ons skool toe is. Ek onthou hoe ek sit en klank het: k-o-p, kop; k-i-s, kis; k-a-t, kat, ens. – en later aspris lelike woorde ook geskryf het. Dan sê my pa: “Nee, Nôientjie, dis lelik. ‘n Mens skryf nie so nie!”

Op ‘n keer moes ek saam met Christa in die bed bly om waterpokkies by haar aan te steek, maar dit het toe nooit gebeur nie. Ek het nog steeds nie waterpokkies gehad nie. (Ek het wel my voortand verloor toe Christa dit met ‘n Hollandse medisynebottel uitgeslaan het!)

Maar een ding was seker: die blyplek agter die winkel het nou te klein geword en dit was tyd om ‘n nuwe huis te laat bou. Oom Piet Butler, die bouer van Montagu, en sy helpers sou dit doen. Sy pa, oom Joepie, het ook bedags saamgekom. Ek het soos ‘n stertjie al agter hom aangeloop en die werkers by die bouery gepla.

Die Butlers het op daardie stadium ’n seuntjie ryker geword, en ek wou só graag ook ’n bababoetie of -sussie hê. Die oom sê toe ek kan hulle seuntjie koop as ek vir hom ’n halfkroon (25c) bring. Sjoe, dit was baie geld om bymekaar te kry: twee sjielings en ’n sikspens! Of dertig pennies, vyf sikspense of tien tiekies

Elke pennie wat ek verdien het deur gediggies op te sê en liedjies vir die klante in die winkel te sing, is ywerig gespaar totdat ek genoeg bymekaar gehad het om vir hom ’n blink halfkroon met koningin Elizabeth se kop op te gee. Groot was my teleurstelling toe die koop deur die mat val – min wetende dat daar ’n dierbare krulkopsussie, Suzette, vir die De Jagers op pad was!

Snaaks dat ons as kleintjies nog ons gebedjie in Hollands geleer het:

Ik ben een kindjie klein, Jesus, maak my hartjie rein,
dat niemand daarin woon, net Jesus alleen.
Amen.


Ouma Steinie, en later jare ook my skoonpa, het tot die dag van hulle dood aan tafel gebid:

Heer, het geen wij (ons) eten, en laat wij nimmer U naam vergeten.
Amen.

Saans is daar vir ons ’n storie uit die Kinderbybel gelees – nog sonder baie prentjies – en dan moes ons ietsie onthou van wat gelees is. Een aand het my gedagtes egter gedwaal, en toe ek moes vertel, het ek begin vertel van die kindertjies wie se gesigte vuil was en wat pak gekry het. Dit was duidelik nie heeltemal dieselfde storie nie, maar ek het dit met groot oortuiging vertel!

Mamma het gereeld vir ons stories uit Deel 1, 2 en 3 van Oom Attie se Slaaptydstories gelees – sulke rooi boeke. Elke storie het ‘n lessie gehad en ek onthou nou nog van daardie stories.

DIE NUWE HUIS

Die nuwe huis met die abattoir skuins agter

Die huis se binnemure was almal skurf – soos dit in daardie jare die mode was. Die pleister is met ’n kwas teen die mure gegooi om patroontjies te maak. Die mure regoor mekaar, byvoorbeeld in die sitkamer, is in twee verskillende kleure geverf – iets wat toe as baie modern beskou is.

Johanna en Abrie op hulle troudag in 1965

Johanna Stemmet (wat lank my ma se regterhand in die winkel was) en Abrie Rossouw se onthaal is in ons “waenhuis” gehou.

Piet van Deventer onthou hoe hard dit daardie dag gereën het. Hulle troufoto’s is in ons sitkamer geneem. Die drie voëls wat skuins agter die bruidspaar teen die muur “vlieg”, was destyds hoogmode.

Ek (Ina) langs die nuwe huis, met die slaghuis en winkel in die agtergrond.
Mamma het altyd ‘n mooi tuin gehad.

BADKAMER EN SPOELTOILET

En toe kry die nuwe huis sowaar ‘n badkamer én ’n spoeltoilet! Tot op daardie stadium het ons nog in ‘n sinkbadjie gebad, met water wat eers warmgemaak moes word, en die long drop gebruik wat ’n hele entjie van ons winkel – en dus ook ons woonplek –af was.

In Montagu, waar ons ouma Steinie en oupa Percy gewoon het, en ook in Barrydale, waar ons pa se ma, ouma Kallie, gewoon het, was daar nog emmerstelsels in ‘n “kleinhuisie” in die agterplaas. Snags het die nagwa omgekom en die vol plastiese emmers met leë, skones vervang – ’n nederige, maar noodsaaklike werk.

Dié geboutjie in hulle agterplaas se “venstertjie” het bloot bestaan uit twee bakstene wat weggelaat is, en die houtdeur het bo en onder ’n opening vir ventilasie gehad. In dié “venstertjie” het ’n vierkantige lekkerruik-blokkie gelê, waarvan die geur met dié van Jeyes Fluid gemeng het. Maar soos die oumense graag “met permissie gesê” het, het dit daarbinne glad nie lekker geruik nie.

Agter die deur het ’n haak van draad of ’n lang spyker gehang, waaraan groot, vierkantige geskeurde blokkies koerantpapier en tydskrifblaaie opgehang is. Só kon jy gedeeltes van Die Landstem, Die Brandwag, Keur en Fyngoud of die Huisgenoot sit en lees, of sommer net na die advertensies kyk voordat jy die papier vir die eintlike doel gebruik het. Die tydskrifte en koerante was nog net swart en wit; eers later het die voorblaaie ’n bietjie kleur gekry. Ons kleineres moes mooi sit om nie in die emmer te val nie.

Dit was nogal ’n onderneming om laataand met ’n flits of lamp soontoe te stap, want daar was heelwat langbeenspinnekoppe in die hoeke teen die plafon. Snags moes “oom Koos” onder die bed maar diensdoen. Party was van emalje, ander van porselein – en ouma Kallie s’n was donkerblou met fyn wit spikkeltjies op.

Daarom was die spoeltoilet vir ons ‘n groot luukse!

KOMBUIS

Vir die eerste keer het ons ma nou ‘n kombuis gekry – wat ‘n groot verbetering was op die vertrek agter die winkel wat as kombuis, sit- en eetkamer gebruik is.

Daar was ’n groot Aga-stoof wat altyd warm en gereed gestaan het: Net reg om gebruik te word. Die twee oonde het sulke swaar ysterdeurtjies gehad wat nogal moeilik oop- en toegemaak het.

Die koffieketeltjie met die moerkoffie het op die kant van die plaat gereed gestaan – net reg om geskink te word. Die rou koffiepitte het ouma Kallie op Barrydale met suiker in ’n swartboompot gebrand. Dis was dan my en Christa se werk om die koffiepitte met die koffiemeultjie te maal. Ons was heel gewillig, want die koffie het so lekker geruik!

Christa onthou dat, wanneer ons skool toe geloop het, daar van die plaaswerkers se vrouens was wat koffie gebrand het en dat die geur van koffie oor die hele Pluim gehang het. (Die gedeelte by die skool en werkershuise is die Pluim genoem. Dalk omdat daar vroeër met volstruise geboer is?)

Die teeketeltjie met die sterk rooibostee het gewoonlik ook op die plaat gestaan en trek. Dit was nog regte, egte rooibosteestokkies wat ons in ’n groot streepsak van Clanwilliam af gekry het. Die tee wat so heeldag staan en trek het, het so ’n rooibruinkleur gekry wat die koppies gevlek het.

Die Aga-stoof moes gereeld met antrasiet, ’n harde swart steenkool, “gevoer” word om dag en nag aan die gang te bly. As jy die deurtjie oopmaak, het die kole rooi en vuurwarm lê en gloei. Partykeer moes een van ons, in die donker, ’n sak vol by die houthoop gaan haal wanneer daar nie genoeg in die huis was nie. Ek onthou hoe bang ek dan was en hoe swart my hande was wanneer ek teruggekom het.

Daar was maar min kans vir bak en brou, want Mamma was meestal in die winkel of slaghuis. Maar soms het sy die heerlikste koeke en soetsuurdeegbrode in daardie kombuis gebak.

Christa onthou dat Killien, wat by tannie Suzie Nel, oom Johannes se vrou, gewerk het, spesiaal gekom het om Mamma te leer hoe om in te suur. Party huisvroue het nie hulle eie suurdeeg gemaak nie, maar liewer koekies saamgeperste suurdeeg by ons in die winkel gekoop. Niemand het geweet dat daar eendag droë gis en later kitsgis sou wees nie.

My ma het, danksy Killien, gou reggekom om in te suur en dus haar eie suurdeeg met suiker, koeksoda, sout, warm water, ’n aartappel en growwe meel te maak. Die kastrolletjie met die inhoud is dan sorgvuldig in haar “suurdeegkombersie” toegedraai sodat dit heelnag lekker warm kon bly.

Die beste plek daarvoor was tussen die Aga-stoof en die geiser, waar dit lekker warm was. Daar het die suurdeeg heelnag rustig gestaan en broei. Die volgende oggend het die inhoud van die kastrol begin lewe. Die suurdeeg het geborrel en geskuim, amper asof dit bo-oor die kastrol se rand wou klim.

Hierdie suurdeeg het die naarste reuk gehad – iets allerverskrikliks. Maar selfs al het dit so sleg geruik, het ons geweet dat daar heerlike plaasbrode daarmee gebak gaan word. Gelukkig was die slegte reuk ook net van korte duur, want sodra dit in die meel gegooi en geknie was, was die nare reuk weg.

Dan moes ons maar geduldig wag dat die panne kon vol rys. Wanneer die brode uiteindelik uit die oond kom, was hulle goudbruin en warm. Die reuk het die hele kombuis gevul.

’n Dik sny brood, met goudgeel plaasbotter wat stadig op die warm brood begin smelt met heuning of appelkooskonfyt daarop – dit was regtig koningskos. Die eerste sny is gewoonlik sommer warm-warm afgesny en almal wou die koppie van die brood hê. Soms het ons ook sagte varkvet op die brood gesmeer.

Ek het baie staan en kyk hoe tannie Hettie die separator (min mense het van ‘n roomafskeier gepraat) draai. Die spoed moes heeltyd egalig wees. Dan het die masjien so ’n pieng-geluid gemaak. Eenkant het die room stadig in ’n houer geval en aan die anderkant die afgeroomde melk, al skuimende, in ’n ander een.

Links: Roomafskeier

Wanneer daar na ’n paar dae genoeg room was, het sy die botter gekarring. Om die karring te draai, het net so baie krag geverg. Sy moes ’n lang ruk karring voordat die goudgeel botterstukkies begin vorm het. Daarna het sy al die melkerige water uit die botter gewas, dit gesout en netjies met ‘n botterspaantjie aanmekaar gedruk en in pakkies opgemaak.

Regs: Botterkarring

Die meeste boere het nog self gepars en daarom was moskonfyt volop. Dit was nou vir jou lekker op so ’n warm sny plaasbrood! Baie vrouens het mosbolletjies met lekker baie anys van dié mos gebak en uitgedroog as mosbeskuit. Sulke vars bolletjies móét met botter en fyngerasperde kaas geëet word – grofgerasperde kaas smaak net nie dieselfde nie…

Bo-op dieselfde stoof is die swaar swart strykysters warm gemaak. Lena, ons huishulp, het altyd eers ’n klein spatsel water op die yster laat val. As dit met ’n skerp “tsssss” verdamp, was die yster warm genoeg. Wanneer die strykyster te koud geword het, het sy dit by die stoof vir ‘n warm een gaan omruil voordat sy verder gestryk het.

Die lakens is vooraf liggies natgesprinkel, opgerol en dan eenkant gelos sodat dit later mooi glad gestryk kon word. Daardie reuk – die reuk van pasgestrykte wasgoed wat in die son droog geword het – is iets wat ’n mens nie sommer vergeet nie.

Hierdie einste Lena het gemaak dat ek ‘n pak slae gekry het. Sy het ongelukkig lang vingers gehad en daar het gedurig goed in die huis weggeraak. My ma sê toe ek moet by haar sit en dophou dat sy nie ons goed steel nie.

Sy vra later hoekom ek daar sit en nie gaan speel nie. “Nee,” sê ou Snippie toe. “Ek moet hier sit en kyk dat jy nie ons goed steel nie.”

Sy het my aan die arm gegryp en met my winkel toe gehol. My ma was erg verleë om iemand in die huis te hê om skoon te maak, en… waps, waps, kry ek toe ‘n ordentlike pak slae omdat ek “gejok” het. Dis die ware waarheid! Onregverdig!

Christa onthou hoe bang Lena vir ’n spinnekop was. Sy het dikwels deur die venster winkel se kant toe geloer, en daarom het Christa – juis daar – ’n groot plastiekspin-nekop tussen die gordyn se voue gehang. Toe sy weer daar wou loer, is sy met een maer skrou by die agterdeur uit om van die skok te herstel.

Sulke klein huislike rituele het die plaas se kombuis vol warmte gemaak. Dinge wat destyds doodgewoon was, maar vandag amper heeltemal uit ons lewens verdwyn het.

SKOOL

Die jaar 1958 was ‘n belangrike een: ons het pas die nuwe huis betrek, Suzette is gebore, en ek kon soggens saam met Christa die myl tot by die skool stap! (Ek moes reeds op vyf skool toe gaan om te help keer dat die skool “val” weens te min leerlinge.)

En skoolgaan was vir my heerlik! Ek was blykbaar ‘n redelik voor-op-die-wa-kindjie, want in my heel eerste rapport is geskryf: “Ina moet asseblief minder praat. Onthou: Praat is silwer, swyg is goud.”

Ons het heerlik met klei gespeel. Ons het sulke snaakse stomp messies en ‘n stywe blikplaat gehad waarop ons die klei kon sny. Juffrou het vir ons gom en stysel aangemaak, en ons kon na hartelus daarmee speel en mors.

Christa, Ina en Suzette

TERUG BY DIE WINKEL

Bedags was die winkel die kuierplek van die bure. Veral oom Gert van Deventer, oom Izak la Grange en oom Dawie Stemmet het gereeld soggens daar kom sit en kuier om stories uit te ruil, pype uit te klop en weer te stop met Boxer– of Springbok-tabak.

Dan het ek my kans gebruik om oom Gert se Battersby-hoed te vra en dit agter in die stoorkamer vol grondboontjies te gaan maak, sodat hy dit kon afdop, die rooi doppies afvryf, dit buite afblaas en vir my gee. Ek onthou nog die effense sweetreuk van die oom se hoed saam met die smaak van die grondboontjies.

Terwyl die drie vriende sit en gesels het, het die groot rooi spoorwegbus stilgehou om die leë roomkanne, pakkies en pos af te laai, nuwe vrag op te laai en weer Barrydale toe te vertrek. Ons drie dogters het baie keer met die bus vir ouma Kallie op Barrydale gaan kuier. Later jare het Suzette saam met die melklorrie daar gaan kuier.

Piet van Deventer: My oupa Gert en ou oom La Grange het baie op die stoepbank voor die winkel oor die politiek geredeneer. My oupa het aan die smelter-party behoort, wat later die Sap-party geword het, en oom La Grange aan die Nat-party. Dit het glo soms woes gegaan.

Spoorwegbus op weg na Barrydale met Montagu in die agtergrond.

Ina (de Jager): Ek moes baie keer buite wag om dop te hou wanneer die bus laatmiddag oor tannie Hannah se bult kom. Voor die winkel het daar soms streepsakke met suiker of mielies opgestapel gelê wat vroeg die oggend deur die bus afgelaai is. Dan het ek bo-op dié streepsakke geklouter en soos ’n brandwagbobbejaan die bult sit en dophou om te sien wanneer die bus aankom.

Skielik het die rooi neus van die bus oor die bult verskyn. Alles en almal het in beweging gekom. Alles wat moes saamgaan, moes vinnig bymekaar gesit word: Die piepende geel kuikentjies van die Nels, bokse eiers wat versigtig gedra moes word, gekweekte vrugteboompies met hul wortels in nat sakke toegedraai, en soms selfs die skool se museumkas wat moes terug Kaap toe – of wat ook al daardie dag plek op die bus moes kry.

En die belangrikste van alles, was die roomkanne: Groot, swaar kanne vol vars room wat heeltyd binne-in die winkel moes bly, diep in die skaduwee, weg van die son en die hitte. Almal het geweet: As die room vergeet word, is daar moeilikheid.

Roomkanne met elkeen se naamplaatjie

Deur die loop van die dag was daar gedurig mense wat winkel toe gekom het om iets te koop, petrol in te gooi, hulle notisies te bring en weer op te laai wanneer hulle van die dorp af kom, of sommer net te kuier en te kyk of my ma, Daisy, nog nie nuwe materiaal of klere ingekry het nie.

Elsabé (tannie Hannah van Eeden wat by ons in die winkel gewerk het, se dogter) onthou hoe haar ma die hoendereiers in groot houtkiste gepak het om na Eierkring in die Kaap te stuur. In so ‘n kis is twaalf dosyn (‘n “gros”) eiers gepak, twee dosyn per laag, ses lae opmekaar. Tussen elke laag het ‘n kartonlaag met fittings gekom. Dit was ook karton wat styf kon opvou en as jy dit oopvou, afsonderlike hokkies gevorm het vir elke eier om te keer dat dit breek. Elke produsent het sy eie nommer gehad: Hulle s’n was 2278. (Sy het goed onthou vir iemand van 85, nè?)

As klein dogtertjie moes ek saans by tannie Hettie van Deventer gaan melk haal met die wit “ennemel”-emmertjie (met ’n sikspens onderin in die leë emmer) en dan versigtig terugstap, sodat die melk nie uitstort nie. Tannie Hettie kon die heerlikste kerrie-aartappelsop kook.

Daisy met die windpomp skuinsagter haar.

Die pad het langs die winkel verbygeloop tot by hulle huis. Verderaan het oom Gert se seun, oom Kwart, en tannie Lizzie gewoon met hulle ses kinders: Marie, Kierie, Hestea, Elna, Gert en Lidia. Nog verder daarvandaan het oom Gideon en tannie Pietjie Conradie met hulle seuns, Kosie en Frans, gewoon.

Ons bure, oom Kosie la Grange en sy pa, oom Izak, wat op Octavia geboer het, het met hulle groot stampboor gekom en sowaar in die hoek van die tuin voor ons huis water raakgeboor. My ma was verheug, want nou kon sy ‘n mooi tuin maak.

DIE BINNEKANT VAN DIE WINKEL

Die rakke en toonbanke was teen drie van die mure, met die grootste oop gedeelte voor vir die klandisie. Op die hoek van die toonbank was ’n luik wat opgelig kon word, sodat jy na die voorste gedeelte kon beweeg. Wanneer jy instap in die winkel, was daar links ‘n toonbank met glas voor en laaie waarin klerasie en onderklere verpak was. Agter was rakke met skoenbokse waarin kinder-, vroue- en manskoene was.

Langsaan was die rakke met veelkleurige materiale – Daydawn, Sungleam en ook flennie om lakens (en koffiesakkies vir die moerkoffie se ketel) van te maak. Dié koffiesakkies is om ‘n draad wat in ‘n sirkel gebuig was, vasgewerk en het bo in die koffieketel gehang om die koffiemoer agter te hou.

Op hierdie toonbank was ‘n lang plat “liniaal” van koper vasgekap om materiale af te meet wat dan met ‘n groot skerp skêr geknip is.

Dan was daar ‘n lang staalreling waaraan hemde, rokkie, baadjies en ander klere gehang het. (Dit was ook heerlike wegkruipplek wanneer ons tussen die klere wegkruipertjie gespeel het!)

Verder was daar ’n hoë glaskas met onder andere lekkerruikgoedjies: Mum, lyfpoeier soos Cashmere Bouquet en Johnson-babapoeier, koekies Lux-seep, Four Seven Eleven-, asook Evening in Paris-reukwater in klein pers botteltjies waarvoor ons ma so lief was.

In die hoek van die winkel was rakke met allerhande naaldwerkbenodigdhede soos naalde, spelde, skêre, wol en breipenne. Die verskillende kleure gare was in boksies gepak: dik gare en dun gare, meestal in swart of wit, maar ook in ander kleure. En allerhande naaldwerkgoed soos drukkertjies, hakies en ogies, die mooiste blink, veelkleurige knopies op kartonnetjies en vele meer.

Dié garedosies was heerlike speelgoed. Ons het gaatjies daarin gemaak, ’n toutjie deurgetrek en dit dan soos waentjies agter ons aan deur die winkel getrek.

Die leë garetolletjies het ons vir tolletjiebrei gebruik. Spykers is in die houttolletjies gekap en dan het ons ’n lang koord, al in die rondte, gebrei. Die lussies is een vir een met ’n breipen oor die ingekapte spykers gehaak totdat daar ’n lang gebreide koord onder uitgekom het. Ons het nie regtig geweet wat daarmee gedoen sou word nie; dit was net lekker om dit te maak.

Die Hollandse medisyne met die interessantste name was netjies in boksies langs die naaldwerkgoed gepak: Haarlemensis, Borsdruppels, Balsem Kopiva, Kraamdruppels, Rooi Laventel, Groen Amara, Entressdruppels, Versterkdruppels, Behoedmiddel, en nog vele meer.

Ons het bottels en bottels van daardie ou behoedmiddel uitgedrink. Mamma het geglo dit help vir alles, van maagpyn tot stoutigheid! Suzette onthou hoe heerlik sy daarvan in haar groot vuurhoutjieboks lê en slaap het!

Ons het bottels en bottels van daardie ou behoedmiddel uitgedrink. Mamma het geglo dit help vir alles, van maagpyn tot stoutigheid! Suzette onthou hoe heerlik sy daarvan in haar groot vuurhoutjieboks lê en slaap het!

As jy nou na die middelste toonbank sou ombeweeg, was daar groot glasbottels met lekkergoed wat bo-op die glaskas (ook met lekkergoed in aparte glashokkies) gestaan het: Niekerbôls, Star-, Wilson– en Sunrise-toffies, suurklontjies en lang, swart drop wat jy so in repies kon afskeur. Ons is vertel dat die drop van hondebloed gemaak is, maar dit het ons nie afgesit nie! Ons was gerantsoeneer tot een lekkertjie in die oggend en een in die middag.

Nou en dan mag ons van die klein botteltjies gaskoeldrank van Crown Minerals gekry het. Maar ek en Christa moes deel: Die eerste een mag net tot bokant die wit lettertjies drink, en dan het ek partykeer “per ongeluk” verder gedrink wanneer ek die eerste beurt gehad het.

Ons moes van kleins af in die winkel werk, help pakkies opmaak en die name van die inhoud op die bruin kardoessakkies skryf. Agter die middelste toonbank het groot staalkiste met afskortings vir suiker, meel, mielierys, stampmielies, rys, ens. gestaan. Al die pakkies moes opgemaak en afgeweeg word – tot tabak, rou koffiebone, boontjies, ertjies, mielies, ens. Dit was ‘n tydsame werk.

Elke pakkie of blikkie is netjies op die rakke agter teen die muur of onder die toonbank gerangskik. Daar was nog nie formulemelk vir babas nie en daarom het blikke met Ouma Meelbol en Nespray vir die babas elkeen ‘n plekkie op die rakke gehad.

Die vrouens het gereeld blousel gekoop om hulle wasgoed wit te kry. Blousel, Reckitt’s Blue, is in klein blokkies verkoop en was ’n vaste deel van wasdag. Wit wasgoed wat vaal of geel geword het, is eers gewas en soms ’n rukkie op die bleik gelê – buite in die son op die gras of op ’n draad. Daarna is ’n baie klein stukkie blousel in water opgelos en die wasgoed vinnig daarin uitgespoel, sodat lakens, hemde en onderklere weer helder wit kon lyk.

Ons moes van kleins af in die winkel werk, help pakkies opmaak en die name van die inhoud op die bruin kardoessakkies skryf. Agter die middelste toonbank het groot staalkiste met afskortings vir suiker, meel, mielierys, stampmielies, rys, ens. gestaan. Al die pakkies moes opgemaak en afgeweeg word – tot tabak, rou koffiebone, boontjies, ertjies, mielies, ens. Dit was ‘n tydsame werk.

Elke pakkie of blikkie is netjies op die rakke agter teen die muur of onder die toonbank gerangskik. Daar was nog nie formulemelk vir babas nie en daarom het blikke met Ouma Meelbol en Nespray vir die babas elkeen ‘n plekkie op die rakke gehad.

Die vrouens het gereeld blousel gekoop om hulle wasgoed wit te kry. Blousel, Reckitt’s Blue, is in klein blokkies verkoop en was ’n vaste deel van wasdag. Wit wasgoed wat vaal of geel geword het, is eers gewas en soms ’n rukkie op die bleik gelê – buite in die son op die gras of op ’n draad. Daarna is ’n baie klein stukkie blousel in water opgelos en die wasgoed vinnig daarin uitgespoel, sodat lakens, hemde en onderklere weer helder wit kon lyk.

Outydse toonbankskaal met los gewiggies. Die skaal moes gereeld geyk word om seker te maak dat dit akkuraat weeg.

Ouma Meelbol vir babas

Op dié toonbank was ook so ‘n koperliniaal om die stukkies pruimtabak van die rol af te sny: ‘n Stukkie van ‘n duim lank vir ‘n tiekie en ná die metrieke stelsel gekom het, 2.54 cm lank vir twee-en-‘n-half sent. Ons het die rolletjies ook voor die tyd afgesny en in koerantpapier toegedraai – gereed om verkoop te word.

Dit was ‘n hele ritueel om te pruim. Die blaartjies tabak is van die stukkie roltabak losgerol en ‘n stukkie is dan agter in die kies gesit en gesuig. Nou en dan is so ‘n lang straal van dié tabaksop uitgespoeg. Van die tabakblare is dan agter die oor gebêre vir latere gebruik.

Die Boxer-, Springbok– en Horseshoe-tabak asook die sigarette, (Cavalla en Peter Stuyvesant, Lexington, Texan en Gold Dollar), is netjies op die rak gepaķ. Langsaan was die pakke Lion-vuurhoutjies (“vierietjies”). Springbok– en Horseshoe-tabak (“twak”) was in ‘n wit lapsakkie verpak wat bo met ‘n toutjie toegetrek het. So ‘n leë tabaksakkie was handig om albasters of kleingeld in te bêre. Die rokers het dan vir hulle ‘n “zol” van koerantpapier gedraai met die “twak” daarin.

Baie mense het ook gereeld snuif by die winkel kom koop. Dit was tabak in poeiervorm, verkoop in klein ronde blikkies. Om te snuif, was ’n hele gedoente: Die blikkie is versigtig oopgemaak, ’n knippie snuif met duim en voorvinger uitgehaal en op die bokant van die hand gesit. Een neusgat is toegedruk en die snuif eers in die een, en dan in die ander, neusgat opgetrek. Gewoonlik het dit geëindig met ’n harde nies en ’n haastige gryp na die sakdoek – tot groot vermaak van die omstanders.

Die klante moes hulle eie bottels vir lampolie, brandspiritus en asyn bring. Die lampolieblik met sy klein handpompie en tregter het in die hoek gestaan. Ons moes ‘n register hou van almal wat spiritus kom koop het – omdat van die mense dit gedrink het.

Die meeste kombuise het ‘n primusstofie gehad wat met lampolie gewerk het.

Die primusstofie het ‘n gaatjie gehad wat maklik verstop het, en dan met so ‘n “pricker” oopgesteek moes word. Dit het heelwat pomp gekos om die stofie aan die brand te hou.

Regs teen die anderkantste muur van die winkel was daar ‘n toonbankkas met glas voor waar die brood ingepak is. Wanneer die bokse met vars brood afgelaai is, kon geen mens die reuk weerstaan nie.

Christa onthou dat Pappa eers self die brood by oom Rickey du Toit se bakkery gaan oplaai het, tot ‘n bussie dit later van tyd kom aflewer het.

Die groot sak met vlugsout het ook teen daardie muur gestaan. Dit was sulke wit kristalle met ‘n skerp ammoniakreuk. Ek het altyd wye draaie om dié sak geloop. Vrouens het ‘n houertjie met vlugsout in die handsak saamgedra om voor iemand se neus te hou om die persoon by te bring wanneer hy of sy dalk wou flou word.

In party ou resepte word vlugsout aangegee om koekies mee te bak, maar ek weet nie of dit dieselfde is nie – koekies soos “Ouma se vlugsoutkoekies”. Christa het vir Ouma Steinie gehelp om vlugsoutkoekies vir die klante te bak om Kersfees elkeen twee of drie saam met die rooi koeldrank (“bier”) te eet.

Nou en dan het ‘n bruin vrou fluisterend vir ma Daisy nadergewink en dan is allerhande snaakse goed op die toonbank gepak: doekspelde, flenniedoeke, watte, rekverband, sanitêre doekies, ensovoorts. Ek het eers later agtergekom dit was wanneer daar ‘n baba op pad was.

Wanneer die vrouens vir hulle “groceries” moes betaal, is die geldjies eers uit allerlei geheime plekkies opgediep – partykeer is ’n muntstuk in die hoekie van ’n sakdoek vasgeknoop of onder die kopdoek uitgehaal. Die kinders se bruin pennie of blink tiekie was natgesweet van heeltyd in die handjies vasgeklem wees.

Ons kinders se voete was gereeld vuil van onder wanneer ons agter die toonbank gewerk het. Christa en Suzette onthou ook hoe ons die swart mok – so ‘n taai mengsel van meel, suiker en vog wat onder ons voete saamgepak het – met ’n stok of plank afgekrap het.

SLAGHUIS EN ABATTOIR

In daardie jare moes ’n slagter self die skape by die boere gaan koop. Ons drie dogters het graag saamgery wanneer Pappa saans die skape gaan haal en op die geel International-bakkie (foto later) gelaai het. Dit was ook gewoonlik die tyd wanneer tafels en spelwoorde in ons koppe ingedril is.

Dit was voor die dae van sintetiese derms. Ek en Christa (Suzette was nog te klein) moes na skool help met die derms se uitryg en skoonkrap – versigtig, sonder om dit stukkend te krap. Om die wors netjies te stop, was nie mý werk nie. Daarvoor was ek gans te ongeduldig. Die wors het later in flenterstukke daar gelê wat nie verkoop sou kon word nie. Party stukke was so klein dat jy amper nie kon glo dat dit veronderstel was om wors te wees nie…

Sestien of meer geslagte skape se velle moes noukeurig gesout word met die pootjies se vel na binne ingevou en netjies opgerol. Die velle het vir ’n paar dae in die son gelê sodat die sout kon intrek, en is dan oopgegooi om goed droog te word. Dan kon dit uiteindelik gebêre word totdat die vellesmous dit kon kom haal.

Die afvalle moes ook spierwit skoongemaak word. My (grillerige) werk was om die halfgestolde bloed van my pa se waterskoene onder die kraan af te was.

Oom Flip en tannie Nelie Smit

Oom Flip Smit van Rietrivier het gewoonlik kom help slag. Ek het ’n keer of wat in die glibberige, halfgestolde bloed gegly en bitter hard geval – so ook my susters. Jy val dat jou kop klap!

Wanneer die slagtery verby was, het die gesondheids­inspekteur gekom om die vleis te inspekteer. Oom Pauw, en later oom William Johnson, het sulke lang snye in die lewers gemaak en dit dan gedruk om te kyk of daar nie slakkies in was nie.

My pa het die heerlikste wors gemaak. Hy moes self die speserye meng. Met sy groot hande het hy die maalvleis en speserye gemeng en dan moes ek of Christa die klein pannetjie met worsvleis op die groot Aga-stoof in die huis se kombuis gaan gaarmaak sodat hy kon proe of daar genoeg sout, koljander en peper in was.

Nog iets wat hy lekker kon maak, was so ‘n suurderige lewerwors (lewerpatee). Selfs Suzette, wat maar nege was toe ons ouers die winkel verkoop het, kan onthou hoe lekker dit gesmaak het. En dat ons witbrood, wat ‘n luukse was, daarmee saamgeëet het.

Later jare het sy boerewors baie gewild geraak. Vreemdes het gereeld gestop om wors te koop. Donderdagmiddae het ek en hy (Christa was toe reeds in die koshuis) die Peugeot-stasiewa gelaai en ons roete vanaf Montagu-Suid, deur die dorp tot in Montagu-Wes, gery om die vleis- en worsbestellings af te laai. Toe ek in 1965 Hoërskool toe is, het Suzette my werk oorgeneem.

Veral Barrydale se hotel het gereeld gebel om wors te bestel. Hulle het ook elke jaar voor Kersfees ‘n speenvarkie bestel wat hy en my ma mooi en sorgvuldig versier het met wortels, slaai en tamaties, alles netjies gerangskik, met ’n blink appel styf in die bek. Daarna is die varkie mooi met sellofaan toegemaak, gereed sodat die spoorwegbus dit op Barrydale kon aflaai.

Op een besige Saterdagoggend, toe Pappa by Talana se winkel was, het ons groot geskrik. Mamma was in die slaghuis besig om vleis te saag en het per ongeluk met die elektriese vleissaag halfpad deur haar duimnael gesaag. Dit was net bloed waar jy kyk. Hoe sy by die dokter gekom het en wie toe verder die vleis gesaag het, kan ek nie onthou nie. Ek weet net dit was vir baie lank seer.

Om so naby ‘n slaghuis groot te word, het ook sy voordele gehad: Ons moes altyd help proe of die droëwors droog genoeg was. My pa het die droë biltong met sy Joseph Rogers-knipmes, wat hy altyd in sy broeksak gedra het, in plakkies van so tien skyfies gesny. Partykeer het hy die biltong in die waenhuis met ’n hamer gekap tot dit so ’n fyn poeier was. Hoe water my mond nou!

Min mense besef vandag watter werk dit was om die skaapafvalle mooi skoon en amper spierwit te kry.

Die pens moes eers goed uitgespoel word en dan met soutwater gevryf en gewas word – asof dit ’n stuk wasgoed is. Party stukke was glad, maar ander, soos die sogenaamde blaarpensie, was vol voue wat baie moeite geverg het om skoon te kry. Die harsings is dan in een van die skoner pensies toegeknoop.

Selfs die skaapkop moes reggemaak word: die hare op die wange is eers afgeskroei en dan met ’n skerp lemmetjie afgeskraap. Die pootjies ook – die hare tussen die kloutjies is netjies afgeskraap en skoongekrap. Christa onthou dat die harde gedeelte van die hoef eers afgehaal moes word. Daarna is ’n lang sny tussen die twee tone gemaak en ’n klein kliertjie uitgesny. Dit was harde, vuil werk, maar niemand wil ‘n afval gaarmaak wat nie honderd persent skoon is nie.

So het daar een Junievakansie ’n rou Engelse seun met die naam Andrew Newhall uit die diep Kaap by ons kom kuier om Afrikaans te leer praat. Natuurlik was daar toe een middag, spesiaal ter wille van die Engelsman, afval op die spyskaart – heerlik gekerrie, met ’n lang sous om oor die rys te skep.

My pa (hy was maar ‘n bietjie moedswillig van geaardheid!) skep toe vir Andrew ’n pootjie op sy bord. Hy het dit eers so heen en weer gestoot en later gevra: “Oom Dwies, wat is hierdie?”

Oom Dwies verduidelik toe mooi dat dit die skaap se pootjie is, en dat dit in Engels ’n trotter genoem word. Andrew het toe verleë na my pa gekyk en in sy geradbraakte Afrikaans gesê: “Ek eet nie ’n ander mens se voete nie.

”Waarop my pa geantwoord het: “Maar jy eet darem graag ’n ander ‘mens’ se vleis!”

Dit het natuurlik vir ons groot plesier verskaf!

My twee neefs, Danro en André (altwee in die hoërskool), het daardie tyd ook by ons gekuier en vir die soutie allerhande verkeerde “feite” van die plaaslewe geleer – tot hulle groot vermaak.

Ons ma het ook die heerlikste kerriesult van beespote gekook. Dié pote het baie gelatien in gehad, en die vleisies het stokstyf gestol – regtig iets besonders.

Om ’n hoender gereed vir die pot te kry, was ook nie sommer iets wat vinnig gebeur het nie: eers moes die werfhoender se nek omgedraai word, en dan is al die vere uitgepluk. Om die laaste fyn veertjies af te kry, het Mamma spiritus in ’n plat visblikkie gegooi en dit aan die brand gesteek. Die hoender is dan oor die vlam gehou totdat elke laaste veertjie weggeskroei was.

Lidia (van Deventer): Oom De Jaar het altyd sagte, spierwit, uitgebraaide varkvet in kartonhouertjies by die slaghuis verkoop. Dit het sommer ingesmelt wanneer jy dit op ‘n warm sny brood smeer. Met appelkooskonfyt … heerlik!

Piet van Deventer: Ina, ek het vandag weer vir my gesin vertel van die varkkaiings en lekker wors en vleis wat ons elke week by julle gekoop het. Ons het nie ‘n groot deepfreeze gehad nie. Ons het dus min gevriesde voedsel geëet: Alles vars.

PETROLPOMPE

Voor die winkel, links van die voordeur, het die hoë petrolpomp met die twee glasflesse gestaan. (Eers Atlantic en toe BP). Een nag toe ouma Steinie en oupa Percy daar gekuier het, het sy die pomp vir ‘n man aangesien en gaan kyk wie voor die winkel staan. Toe was dit al die tyd die regop petrolpomp wat sy in die maanlig sien staan het!

Suzette en ons pa voor die winkel, ongeveer 1961. Die petrolpomp met die BP-kop bo-aan, die twee glasbottels en slinger (wat Paul Fouché so mooi hieronder beskryf) in die agtergrond voor die winkel.

Rietvlei se eerste pomp was van die maatskappy Atlantic wat aan die einde van die vyftigerjare met BP saamgesmelt het. (Die pomp in die foto is slegs ‘n voorbeeld van die pomp met die twee glasflesse en hefboom wat op Rietvlei gestaan het.)

Paul Fouché, wat op Rietrivier grootgeword het, beskrywe Rietvlei se petrolpomp so mooi

“Die lang, rooi petrolpomp voor die winkel het my bly bekoor. Pa sou twee gelling petrol vra. Oom De Jager het ‘n slot op die ronde, rooi lyf oopgesluit. Twee deure het soos vlerke oopgeswaai. Bo was ‘n groot wyserplaat. Oom De Jager het die wyser op twee gestel en ‘n hefboom, wat soos ‘n graafsteel gelyk het, gekoppel en dit ritmies heen en weer beweeg. Geen brandstof het uit die swart pyp in die bakkie se tenk gevloei nie.

Bokant die wyserplaat was twee groot glasflesse om twee metaalpype met ‘n paar groterige gate in die metaal. Een fles het geleidelik van onder af met petrol gevul. Sodra die fles vol was, presies ‘n gelling, het die wyser na een gespring en die vol fles het in die bakkie se tenk begin leegloop terwyl die tweede een gevul het. Sodra die tweede een vol was, het die wyser na nul gespring en die pomphefboom het nie meer gewerk nie. ‘n Wonderwerk vir ‘n plaasseuntjie van weleer om dop te hou.”

(Lees die volledige stuk oor sy herinneringe aan Rietvlei se winkel aan die einde van hierdie deel).

Piet van Deventer: Die outydse petrolpomp het min of meer so gewerk: Daar was ’n hefboom wat jy met die hand heen en weer beweeg het, eers na regs om die regterkant se glasbuis vol te pomp. Wanneer dié vol was, het jy oorgeskakel en die linkerkant se buis volgepomp. Só maak jy die buise leeg totdat die motor se tenk gevul is. Ek dink elke buis het omtrent ’n gallon gehou. (Daar was nog nie liters nie.) Maar die meeste mense het net ’n gallon of twee ingegooi, nie vol gemaak nie.

Dolf Nel: Piet, dankie. Ons het op ons plaas ook so ‘n pomp gehad en ons het hom tot in die sewentigerjare gebruik toe ons al ons eie rygoed daar kon volmaak.

Ina (de Jager): Later jare is die hoë petrolpomp met sy glasflesse en hefboom deur ‘n langwerpige, korter pomp (ook BP) vervang. Hierdie pomp het ook voor die winkel gestaan om naby dieselfde ondergrondse tenk te wees. Christa onthou dat die pomp ook met ‘n hefboompie gewerk het. Johanna (Stemmet), wat ‘n paar jaar voor haar troue in die winkel gewerk het, onthou hoe sy dikwels petrol moes gaan inpomp wanneer ons pa nie daar was nie.

Die petrol het in groot 44 gelling-dromme per spoor tot op Ashton gekom en moes vandaar met die spoorwegbus aangery word. Die petrol is dan in die groot ondergrondse tenk gestoor. My pa het groot trekkerbande op die teer neergesit om te keer dat die dromme nie die teer beskadig nie.

Die winkel in 1965 (met ‘n gieter voor die muurtjie, want voertuie het daardie jare maklik gekook)

Johanna met die petrolpompe regs in die agtergrond

Die ondergrondse tenk is later verskuif tot voor die slaghuis (tussen die winkel en die huis) met twee BP-pompe. Dit was altwee petrolpompe, want diesel was nog nie volop in gebruik sover ek weet nie. (Sien neef Danro se foto van 1965 hierbo.) Voor die muurtjie by die hekkie het altyd ‘n gieter gereed gestaan en daar was ‘n goeie rede voor: Die voertuie het maklik gekook en daar moes water voor by die verkoelers ingegooi word.

Lees in Deel Vier hoe Elsabé (van Eeden) vertel dat hulle altyd ‘n MIN-politoerblik vol water agter die voorste sitplek saamgery het omdat haar pa, oom Dirk, se motor so dikwels gekook het.

“TRAVELLERS”

In daardie jare het die travellers (handelsreisigers) met stasiewaens omgekom om bestellings vir materiaal, kombuisware, klere, ensovoorts te neem. Daar was gewoonlik ‘n chauffeur met ‘n spierwit stofjas by wat die groot, swaar koffers of kiste heen en weer moes karwei sodat my ma kon kyk wat sy wou bestel.

Dié bestellings is dan met die trein tot op Ashton gestuur en vandaar weer met die spoorwegbus tot op Rietvlei. Op elke vragbrief moes onder andere geskryf word: Rietvallei No. 1, RMS Pluimstop. (RMS staan vir Road Motor Service) en die bestemming. Een van die groothandelaars was J.W. Jagger van Kaapstad.

DESIMALISASIE

Desimalisasie op 14 Februarie 1961 was ‘n groot gebeurtenis. Google sê die dag het bekend gestaan as Decimal Day. Op daardie dag is die geldstelsel van ponde, sjielings en pennies oorgeskakel na rand en sent. In 1967 is die metrieke stelsel (lengte, massas en volumes) ook ingebring wat duime, voete en myl verander het na sentimeters, kilometers, ens., pinte en gellings na milliliters en liters, ponde en onse na gram en kilogram. Dit was nogal ‘n gesukkel om te verstaan. Die kasregister, en later die skale, moes ook verander word.

(Meer oor desimalisasie in Deel Drie.)

KERSFEES

Vroeg in Desember is die winkel met kreukelpapier en allerhande blink versiersels verfraai. Daar was groot opgewondenheid in die lug. Ouma Steinie het groot koekblikke en bokse vol outydse soetkoekies en vlugsoutkoekies in haar swart Boilinder-stoof se oond begin bak sodat daar genoeg kon wees vir almal. Christa het haar partykeer gaan help bak.

Rooi koeldrank (“bier” genoem) is aangemaak en elkeen wat by die winkel kom, het koekies en “bier” gekry. Elke gereelde klant se gesin het jaarliks ‘n geskenk gekry in die vorm van ‘n mooi glasbak, koppies en pierings, of iets dergeliks.

Deur die jaar het hulle ook ‘n “pasellatjie”, gewoonlik ‘n paar lekkers, gekry wanneer hulle vir ‘n groterige bedrag gekoop het.

KAAPSTAD

Een keer ’n jaar het ons drie dogters saam Kaap toe gegaan. Wat ’n opgewondenheid! Ons moes vroeg opstaan, want die dag sou lank raak en die Kaap is ver. Ons ouers het hulle Sondagklere aangetrek: My pa sy swartpak, en my ma het haar uitgevat in haar kerkklere, sykouse (met nate agter wat netjies reguit moes loop), hoëhakskoene, handskoene, hoed en kerkhandsak.

Ons pa het met skeerseep se skuim op sy gesig in die badkamer voor die spieël gestaan en, met bolwange, sy baard met ’n Minora-blade en skeermes afgeskeer. Daarna het hy sy kuif netjies plat en blink gekam met Brylcreem wat hy in sy hare ingesmeer het. Hy het altyd gesê dit lyk of die koei sy kuif natgelek het!

As deel van die uitstappie het ons vroegoggend by die stasiekafee op Worcester vir ’n pastei en koffie gestop. Dit was altyd ’n aardigheid om deur die (ou) tonnel te ry en dan Kaapstad se flonkerende liggies in die verte te sien wanneer ons vaak-vaak agterin die bakkie se seilkappie sit en teen Du Toitskloofpas afry. En dan die groot opgewondenheid wanneer ons Tafelberg in die verte kon sien!

Die grootste opwinding van die dag was die besoek aan een van die groothandelaars waar die Jood, oom Levine, altyd vir ons ‘n geskenkie gegee het: Bokse kraletjies om in te ryg, inkleurboeke met groot bokse vetkryt van alle kleure waaraan jy kan dink, en nog ander. Suzette onthou die mooi pop wat die oom een Kersfees vir haar gegee het met hare wat langer of korter gestel kon word.

Aitsa! Daisy en De Jaar, netjies uitgevat om “stad” toe te gaan. Gelukkig was daar straatfotograwe om dié oomblik vas te lê!

In daardie jare het jy “stad” toe gegaan, en dit het die middestad en Adderleystraat beteken. Die Parade, met sy verskillende stalletjies en luidrugtige verkopers, was ook ’n hoogtepunt. Mamma kon daar lieflike materiaal vir ons rokke koop.

Ek was so bang vir die outydse hysers met die oopskuif-traliehekke.

Ons drie dogters op die geel International-bakkie. (Die “Botterbakkie”, soos ons dit genoem het)

DIE DRAADLOOS

Die draadloos het die buitewêreld na Rietvlei gebring. Saam met die gekraak, geknars en geruis van kortgolfradio kon ons by die groot radiogram met die groen “oog” in die sitkamer die Coalbrook-mynramp, Republiekwording, Desimalisasie, die Springbokke se rugbywedstryde, Siembamba, die Du Plooys van Soetmelksvlei en die opstande van 1960 beleef.

Outydse Transistor-radio

Jan Schutte, wat die Du Plooys se storie geskryf het, was familie van tannie Hannetjie Nel, en daarom was dit vir ons Rietvleiers nog meer spesiaal.

Soggens met opstaantyd het Fanus Rautenbach, met die Penniefluitjie Kwêla as kenwysie, ons met sy program, Flink uit die Vere, by ons Maltabella– of mieliepap vermaak.

Toe transistor-radio’s uitgekom het, kon my ma en tannie Hannah, tannie Bessie of Johanna (wat op daardie tydstip in die winkel gehelp het) deur die dag in die winkel na die radio luister.

Veral die middagvervolgverhale het baie aangename luistertyd verskaf met stories soos Die Indringer – “‘n verhaal wat elke moederhart sal roer”. Hulle het hulle so ingeleef in die verhaal van die “optelkind” wat so sleg behandel is, dat die trane gereeld gevloei het! Ander middagvervolgverhale was Wolwedans in die Skemer, Die Geheim van Nantes, Die Erfgenaam en nog ander.

Elke weeksmiddag, kwart voor vier, het Esmé Euvrard en Jan Cronjé luisteraars bederf met resepte, wenke en ‘n grappie op hulle program, Só maak mens. Staal Burger was ook ‘n gewilde program. Hy het gereeld met sy lui, selfversekerde stem gesê: “Dis my doedie daai.”

(Luister opYoutube: https://youtu.be/7wbjOTDhkUA?si=xrJ5KTzJJGsRV6gs)

Evelyn Martin van LM Radio (Lourenco Marques) het ons dogters elke jaar oor die radio gelukgewens wanneer ons verjaar, en vertel waar in die winkel ons na ons geskenkie moes gaan soek.

Programme is soms onderbreek met ‘n piep-piep-piep en ‘n “hier volg ‘n noodberig”. Dan is een of ander belangrike nuusgebeurtenis uitgesaai, bv. toe Jim Reeves in ‘n vliegtuigongeluk gesterf het, John F. Kennedy in ‘n sluipmoordaanval doodgeskiet is en die Coalbrook-mynramp van 1960.

BIBLIOTEEK

Die dorpsbiblioteek, skuins oorkant die kerk in Badstraat, was vir ons almal ’n groot lekkerte. Dit was party weeksaande oop, en daarom kon ons hele gesin daarheen gaan nadat die dag se werk afgehandel was. Teen daardie tyd was die dorp al stiller, die straatligte sag, en dit het gevoel asof ’n mens ’n ander wêreld binnegaan wanneer jy by die swaar deur instap.

Binne was dit doodstil – daardie spesiale stilte wat net boeke kan bring. Die reuk van papier en stof, die sagte kraak van ’n vloerplank, en die fluister van blaaie wat omgeslaan word, het alles bygedra tot die bekoring. Dit was heerlik om tussen die rakke rond te kuier, boeke uit te trek, die omslae te bekyk en te besluit watter een saam huis toe sou gaan.

Ek het boeke soos Mientjie en die Grotman, Saartjie Bauman, Trompie en die Maasdorp-reeksverslind. Elke boek was ’n avontuur, ’n ontsnapping, en soms ’n nuwe vriend. Dit was ’n groot voorreg om boeke huis toe te mag neem – en ek kon skaars wag om onder die komberse verder te lees voordat die lig afgeskakel moes word.

Ek was verslaaf aan lees, en het dikwels probleme teëgekom wanneer ek my in ’n hoekie in ’n boek verdiep het, terwyl ek eintlik in die winkel moes help. Gelukkig het ek ál my ma se wegsteekplekke geken. Ek het gou-gou my storieboek tussen die rolle materiaal of in die winkel se onderklerelaai gaan uitgrawe!

Ek onthou hoe siek ek was toe ek masels gehad het. Ek moes eers alleen in die donker kamer lê, want die ander huismense was óf in die slaghuis, winkel óf in die skool. Dan het ek onder die kombers ingekruip en (skelm) gelees. Ek dink dit was daar waar my oë se probleme begin het. Die oumense het geglo dat masels die oë aantas.

Christa het by my aangesteek. Die masels wou nie uitslaan nie. Tannie Bessie het gesê dat soetwyn die masels sou laat uitslaan, onthou Christa. En dit het blykbaar gewerk!

BUITE SLAAP

Ons hele familie was lief vir die buitelug en het so een keer ‘n jaar met die geel International-bakkie met die seilkappie in die Karoo gaan slaap. Die bakkie is naby ’n droë rivierlopie getrek, en daar is ’n tent opgeslaan vir ouma Steinie en oupa Percy se kampbedjies van hout en seil. Ons ander het buite onder die sterre, of onder die bakkie, geslaap.

Vroegaand het ons vir mekaar raaisels gevra en Ouma het spookstories vertel wat ons nekhare laat rys het en ons bang-bang in die nag laat omkyk het. Die nagdiere se geluide en die baie skaduwees het die ideale agtergrond vir hierdie verhale van afkopmense wat nie tot rus kon kom nie, geskep. (Sy het vas geglo dat spoke met die koms van elektrisiteit verdwyn het.) Wanneer ons gedurende die nag wakker word, was Pappa besig om nog houtjies op die vuur te gooi.

Daisy tydens só ’n uitslaap in die veld onder die sterre

Daisy, Dries en Christa langs die geel International-bakkie

So was hulle op 5 April 1952 Kaapstad toe vir die Van Riebeeckfees die volgende dag. Hulle het buite geslaap in Du Toitskloof – en hoor wie was by? ’n Papklein babatjie van skaars ses weke oud: ek!

Christa onthou nog die poskoets. Sy was vier jaar oud.

Die poskoets is ook deur Montagu met die Van Riebeeckfees van 1952.

Saans op Rietvlei het ons ver gaan stap, soms tot by Octavia van oom Kosie en tannie Sally la Grange. Dit was lekker om plat op jou rug op die teerpad – warmgebak na die dag se son – te gaan lê en na die sterre te kyk of bewegende satelliete te soek. Jy kon van ver af die trilling van ‘n aankomende voertuig “voel naderkom”.

Daar was ‘n groot sementdam in die kampie agter die huis waar ons heerlik geswem het. Wanneer ons uit die dam klim, was dit heerlik om ons lywe teen die warmgebakte muur van die varkhok te gaan warm maak.

Ons was nooit bang om teen die nasionale pad te woon nie. Ons het later glad nie eens meer die voertuie in die nag hoor ry nie.

WERKSMENSE

Snaaks dat ek toe ook weer van Jan Voetjie onthou toe Kosie van hom praat. (Sy herinneringe in Deel Vier). So is daar ook name van Absolon, Afrika, Sietais, Killien, Kappat en ou Tet (van wie André la Grange ook in sy storie in Deel Vier vertel). Ons het al die klante by die naam geken.

Die winkel was Vrydagaande tot nege-uur toe oop en dan het ons ou stories met die klante gesels. Een van hulle, ou Tet, het so ‘n knop voor sy kop gehad, vandaar die bynaam.

Dan vra ons vir hom: “Ou Tet, gee daar ‘n pennie?” Dan knyp hy sy een oog so toe en sê: “Ik heb geen pennie nie. Wáár moet ik die pennie kry?” En dan het hy sy hande ten hemele gelig.

Dan was daar ook ou Jackson wat by oom Dirk van Eeden gewerk het. Jackson het gereeld die winkel geverf en dan elke keer sommer sy hoed ook geverf. Sy sêding was altyd: “Houk, sê die spouk, hy’s one, hy’s okay“. (Ons gebruik dié sêding nog gereeld – wat dit ookal mag beteken!)

Danro en May was gewoonlik ook Vrydagaande by sodat hulle Saterdagoggende ook in die winkel kon help. May was vir ons dogters soos ‘n tweede ma en vriendin.

SONDAE

Sondagoggende het ons gereeld kerk toe gegaan. Al die vroue en dogters het hoede en handskoene gedra. Ons het die tiekie of sikspens se kollektegeld voor by ons handskoen ingedruk om voor ‘n vinger te bly en nie te val en dan met groot geluid onder die banke in te rol nie. Ons moes tjoepstil sit, want die grootmense het gou hulle oë gerol (of jou selfs geknyp) as jy dit waag om te woel.

Ek kon my verluister aan die diep klanke van die kerkorrel met die lang orrelpype – wat ek gereeld getel het! Christa onthou ook dat mev. Anderson so mooi orrel gespeel het en dat sy daar die eerste keer die mooi orrelstuk Largo van Handel gehoor het.

Pappa was gereeld op die kerkraad en het saam met die ander kerkraadslede, in hulle lang swart manelpakke en wit dasse, statig vanuit die konsistorie verskyn en voor in die kerk gaan sit. Die dominee, in sy toga met klein tosseltjies, het die trappe by die preekstoel met waardigheid bestyg en eers ’n oomblik sy hoof laat sak om ’n gebed te doen. Die mans moes onder die lang gebed opstaan.

Ek kon my altyd vergaap aan die verskillende hoedmodes van die vrouens en dogters in die kerk. Party het vere en blink hoedespelde gehad wat saggies in die lig geflits het wanneer hulle beweeg. Ander het swart of wit netjies voor die oë gehad wat soos ’n dun sluier oor die gesig gehang het.

En wee jou as jy agter ’n tannie met ’n hoëbolhoed te lande gekom het; dan het jy min van die preek gehoor en net die hoed voor jou gesien! In daardie dae was dit eenvoudig as sonde en onbybels beskou vir vrouens om sonder ’n hoofbedekking kerk toe te gaan – selfs by troues het geen vrou sonder iets op die kop ingestap nie. ’n Kaal kop was nie as behoorlike kerkdrag aanvaar nie, al was dit net ’n klein mantillatjie wat oor die hare gegooi is.

Christa onthou van die tannie wat so ‘n wyerandhoed opgehad het met ‘n voëltjie op, en dié se stert het reg rondom die hoed gegaan. Sy kon haar verkyk aan dié voël se lang stert! Wie kon dan so ‘n slag op die preek konsentreer met so ‘n hoed reg voor jou?

Suzette onthou nie veel van die kerkdienste nie, maar sy onthou hoe mooi die berge deur die kerk se venster gelyk het wanneer die dominee gebid het: “Ek slaan my oë op na die berge.” Die berge was so mooi getint in die oggendson dat dit vir haar soos die hemel gevoel het.

Moedersdag was in die kerk ’n hartseerdag, want dan moes al die vroue wat nie meer ma’s gehad het nie, opstaan. Wanneer ’n nabye familielid oorlede is, is daar vir ’n jaar lank gerou: op die mans se baadjie se mou is ’n swart bandjie vasgewerk, of ’n swart band om die hoed se bol gedra. Die vroue en dogters het swart rokke gedra.

Na kerk was Sondagskool in die kamertjies half onder die saal se verhoog. Ek verbeel my dit was altyd skemerdonker daar, met so ’n muwwe reuk.

Sondae was ’n gewyde dag. Swem, kaartspeel, brei en naaldwerk was taboe. (“Jy sal die naald in die Here se oog steek as jy op ’n Sondag naaldwerk doen,” is vir ons gesê.)

Sondagmiddae het ons gewoonlik saamgegaan wanneer my pa sy wykslede gaan besoek het. Die huise was gewoonlik doodstil en donker (en aan die kant!), want die gordyne was dig toegetrek om die hitte uit te hou.

Ons kinders moes buite gaan speel, want “kinders moes gesien en nie gehoor word nie”. Ons pa het sommer gesê: “Julle hoef nie tande te tel nie. Bring ’n papier en potlood, en ek sal neerskryf presies hoeveel tande die oom en tannie het.”

Ons ouers het graag vir tannie Nonnie Steyn (oom Alwyn Steyn se ma) gaan besoek. Sy kon baie interessant oor haar dae in die konsentrasiekamp tydens die Boereoorlog gesels.

Ons het ’n paar keer op ’n Sondagaand by oom Gideon Conradie en tannie Pietjie, so ’n klein tannietjie met die mooiste spierwit hare, Halleluja-liedere gaan sing. Sy het ons op die traporreltjie begelei. Haar kort beentjies kon skaars by die pedale bykom.

KERKDIENSTE IN ONS WAENHUIS

Die predikant het gereeld vir die plaaswerkers in ons “waenhuis” kom kerk hou. Een van hulle wou elke keer weer van Barabbas hoor, en was baie teleurgesteld wanneer daar nie weer oor hom gepreek is nie.

Die kerkdienste was eenvoudig. Daar was ’n paar bankies en stoele, en die predikant het voor gestaan met sy Bybel. Ons het saam gesing en stil gesit en luister. Dit was nie groot of indrukwekkend nie, maar dit was ernstig en opreg.

Na die diens het almal nog ’n bietjie gestaan en gesels. Die kinders het altyd geweet dat hulle na die kerkdiens appeltjies gaan kry. Christa onthou die klein York Imperial-appeltjies wat die Vlakte (naby Barrydale) se mense wintertyd vir ons gegee het en waarvan dan aan die kerkgangers uitgedeel is. Die appeltjies was hard en koud, en nogal suur, maar vir almal was dit ’n groot lekkerte.

Die basaars is ook daar gehou. Dit was eenvoudig en gesellig, en almal het mekaar geken en heerlik saamgewerk. Dit het gevoel of die hele gemeenskap saam daar was.

VOLKSPELE

Van kleinsaf het ons gereeld saamgegaan wanneer Mamma-hulle gaan Volkspele oefen of Saamtrekke op ander dorpe bygewoon het. Hulle was vir etlike jare lede van die Montagu-laer en later ook van die Robertson-laer nadat hulle die winkel verkoop het. In daardie jare het elke laer baie “niggies” en “nefies” gehad en ons het gereeld vir tannie Hettie Gauché, sersant Gauché se dogter wat nie getroud was nie, gaan oplaai om saam te gaan.

Die “niggies” was in verskillende kleure rokke geklee wat volgens ‘n spesifieke voorgeskrewe patroon gemaak moes word. Om die nek was ‘n nekdoek wat agter met ‘n punt tot by die middellyf gehang het en voor met ‘n borsspeld vasgesteek was. Onder die rok is ‘n onderrok van tafsy in dieselfde kleur as die rok gedra. Daarby is wit kousies of sokkies gedra met fyn gehekelde “moffies” (handskoentjies waar die vingers voor uitgesteek het). Die nefies het mooi geborduurde swart, donkerblou of maroen onderbaadjies by ‘n swart langbroek gedra.

Juffrou Katrien Ritter van Montagu Hoërskool was pasgetroud met Andrew van Zyl wat op ‘n plaas nie ver van die winkel af gewoon het nie. Sy was ‘n naaldwerk-onderwyseres en het in my standerd ses-jaar vir my ‘n poeierblou Volkspelerok gemaak. Ek moes bo-op haar kombuistafel staan sodat sy kon kyk of die wye soom gelyk hang.

Koerantberig van die De Jagers wat by die “Remembrance day”vierings saam met ander Volkspelers Volkspele gespeel het.

Elke jaar, op die Sondag naaste aan 9 November, word Remembrance Day gevier – of, soos dit ook genoem word, Red Poppy Day. (Ons oupa, Percy Batt, was ook ’n oudstryder en was elke jaar by so ’n kerkdiens of kranslegging.)

Ons hele gesin het graag gesing en na mooi musiek geluister. Wanneer ons met vakansie was of iewers heen gery het, het ons die pad korter gemaak deur allerhande liedjies te sing: Volkspele-liedjies, Hallelujas, liedjies uit die F.A.K.-sangbundel of wat ookal in ons koppe gekom het. (Haha, amper soos die Von Trapp Family Singers van die rolprent Sound of Music wat in 1965 vrygestel is.) Onthou, ons het gesing omdat daar nog nie motorradio’s of kassette was nie.

Tot in die winkel was eers ‘n grammofoon wat eers met klein, swart, harde plaatjiesgespeel het met net een liedjie aan elke kant. Die donkie is ‘n wonderlike ding en Vlooi, vlooi, wat soek jy in my kooi? wat Chris Blignault gesing het, was van dié plaatjies waarna ons geluister het.

So ‘n grammofoon het los naalde gehad wat gereeld vervang moes word. Die veer het vinnig afgeloop en die musiek het dan al stadiger gegaan. Die veer moes dan eers weer opgewen word.

Later het ons ‘n platespeler wat met batterye werk, gekry! Langspeelplate was toe ‘n nuutjie – met ses of meer snitte aan elke kant van die plaat. Toe kon Nico Carstens, Jim Reeves, Pat Boone, Slim Whitman, die Strauss-walse, Jurie Fereira, Mario Lanza, Charles Jacobie, en wie ook al gewild was, almal die klante vermaak.

In die huis was ‘n groot gramradio waarvan Paul Fouché hieronder meer vertel. Ons pa het ‘n klein luidsprekertjie op die eetkamer se gordynkapgeïnstalleer sodat ons, terwyl ons ons ma se “paprys” eet, musiek of stories kon luister.

Tyd vir kosmaak, was nooit baie nie en dan het sy sommer die rys, aartappels en vleis of wors alles gelyk in die drukpot gaargemaak. Die rys was dan pap gekook. Heerlik! (Ons het dié kos “De Jagers Special” genoem.)

Nog later het hy ‘n reuse bandmasjien gekoop met groot rolle, groter as ’n gewone bord waaruit ’n mens eet. Toe kon hy die plate daarop oorsit om in die winkel te speel.

GEWOONTETJIES

Christa moes soggens, voor skool, vir ons ouers pap (en soms ’n pangebraaide varktjop vir Mamma) slaghuis toe neem, want hulle was reeds van vroeg af besig om die koue vleis uit die koelkamer te bewerk.

En dan moes sy vinnig op die fiets spring om betyds by die skool te kom. Toe sy hoërskool toe is, moes ek haar ontbytmakery oorneem en Suzette weer ná my. Gelukkig hoef ek nie ’n varktjop gaar te gemaak het nie! Ek wonder steeds hoe vol klonte my mieliepap destyds was – want ek kan nou nog nie lekker pap maak nie!

Maandae was wasdag, en dan het Pappa vroegoggend die vuil wasgoed in die dubbelbalie Easy-wasmasjien gegooi en die water ingetap sodat dié solank kon begin was. Dan kon die wasgoed met opstaantyd net uitgespoel en opgehang word. Op Maandae se wasdae het ons dus altyd sop geëet, winter of somer, al het wie ookal kom kuier – op die spyskaart was sop.

Vakansietye was ek en Danro later ervare muisjagters. Die stomme muise het nie ‘n kat se kans gehad met ons twee in die omtrek nie. Ek het my doodgegril wanneer die stomme muis se nek so in die valletjie vasgesit het! Hy moes vir my part ook die muise uit die valletjie haal en weggooi. Erg grillerig!

Ons neef, Danro, wat die storie oor die winkel heelbo geskryf het – my mede-muisvanger!

Suzette het gesê ek moet vertel van die nare gewoonte wat die De Jagers gehad het om die voordeur se sleutel binne-in die huis te vergeet. Op die toegeboude agterstoepie was ’n ronde venstertjie na die huis se gang toe. Dié venstertjie kon met ’n harde vuishou van ons pa oopspring.

Wanneer ons dan, partykeer laatnag en vaak-vaak, by die huis aankom, moes eers ek – en later Suzette, omdat ek toe te groot was om deur te kruip – deur dié venstertjie getel word om agterstevoor en voel-voel deur te wriemel om op die harde houtvloer neer te plons. Dan kon ons die voordeur se Yale-slot gaan oopmaak. Ons het dit gehaat – elke liewe keer.

Suzette, veral, was bang om alleen in die donker huis in te klim, omdat tannie Lizzie en haar gesin kort tevore in hulle huis aangehou is (storie in Deel Vier), en mnr. Marais (Piet Potlood) se verloofde ook een nag aangerand is.

Saterdagaande het ons drie dogters as ‘n reël by ouma Steinie en oupa Percy in Buitekantstraat 3 gaan oorslaap om Sondae, na kerk en Ouma se lekker middagete, weer terug Rietvlei toe te gaan.

Dié kuiers was vir ons heerlik! Ons en die buurt se kinders kon nog saans buite in die straat speel en net vinnig weghardloop wanneer daar ‘n motor by oom George Brink se grasdakhuis om die hoek kom.

Ouma kon stories vertel dat jou tone krul. May (en na haar troue het Brutus ook bygekom) en neef Danro was ook daar. Ons is lekker bederf. Alles mooi herinneringe wat ons altyd sal bybly.


TALANA SE WINKEL

My pa het nóg ’n winkeltjie op oom Marius Burger se plaas, Talana (“Parravlei”), gehad waarheen hy Dinsdag- en Donderdagmiddae en ook Saterdagoggende gegaan het. Die winkel was sowat twaalf kilometer van Rietvlei af. Die klante het die winkel “Voetjieshang” en “Krymekaar” genoem, onthou Christa.

Hy het die winkel omstreeks 1953 in ’n klein buitegeboutjie op die plaas begin. Later het hy, met die oom se toestemming, die winkel teen die bultjie laat bou. Volgens Christa was dit in 1955 – juis in die tyd toe die Poortjieskloofdam gebou is en daar ’n behoefte aan ’n groter winkel was vir die mense wat aan die dam gewerk het.

Ons het gereeld saamgegaan om in die winkel te gaan help. Wanneer ek op hierdie Talana-middae van die skool af kom, moes ek vinnig van die skool af stap, want die geel “Botterbakkie” (International) het reeds by die afdraai met my middagete gewag. Soms het my ma ertjiesop in ‘n flessie saamgestuur. Ek het niks daarvan gehou nie, want dit het al effens afgekoel en ‘n vetlaag het bo-op gedryf.

Hy het op die verskillende plase gestop om bestellings te neem en met die terugtog weer af te laai. Die voorraad wat saamgekom het, was beperk tot die noodsaaklikste. Mense kon wel goed bestel wat nie in voorraad was nie, en dit is dan die volgende keer saamgebring. Daar was altyd vleis, aartappels, uie, patats, soutvis en brood – alles agterop die geel bakkie gelaai.

Binne-in die winkel was ook ‘n luik, soos by Rietvlei se winkel, wat kon oplig om agter die toonbank te kom. Goed soos gare, paraffien, kitaarsnare, mondfluitjies, koffie, suiker, meel, ensovoorts is aangehou en op die rakke uitgestal.

Voordat ons terug huis toe kon gaan, moes een van ons water in ‘n emmer of gieter in die sloot onderkant die pad gaan haal om die vloer nat te spat sodat die stof kan gaan lê wanneer ons vee. Ek kan die stofreuk nog baie goed onthou.

Talana se winkel soos dit in daardie jare gelyk het.

“Talana Koskas”, soos die winkel vandag (2026) daar uitsien.

In die vrugtetyd het ons liewer saans die winkel oopgesluit vir die vrugteplukkers wat ná ’n lang dag se werk kos kom koop het. Ons hele gesin het saamgegaan; ons drie kinders het binne-in die seilkappie agterop die bakkie gesit. Tot vandag toe assosieer ek die reuk van stof met die smaak van tamatietoebroodjies.

Baie van die uitwerkers het van Amalienstein naby Ladismith gekom. My pa het eenkeer vir een van hulle gevra of hy ’n groot garingboom voor sy huis het. Die man was baie in sy skik dat my pa dit geweet het. Ons het lekker in ons mou gelag, want byna ál die huise daar het garingbome voor gehad.

Daar was geen elektrisiteit nie, en die reuk van paraffien en kerse het gemeng met die geur van snoek, uie en tabakrook. Die lamplig het oral teen die mure skaduwees laat beweeg. Soms was daar ook grillerige geitjies wat teen die muur opgehardloop het. Buite die winkel was dit reeds donker en ‘n mens kon nou en dan ‘n hond hoor blaf.

Suzette het reeds vroegaand iewers agter die toonbank in ’n boks gaan lê en slaap. Buite het die sterretjies geskyn, en daar was ’n groot, geel maan wanneer ons eindelik weer huis toe kon gaan.

Marius en Thea Burger se  troue. Thea was George Brink van Montagu se dogter.

Agter v.l.n.r.: Carin, Marina, Cecilia en Dorette Voor v.l.n.r.: Marius, Abraham, Thea en Georgina.

DIE RIVIERE BY TALANA

Die Dwarrigarivier het partykeer so sterk gevloei dat dit te gevaarlik was om deur te ry. Pappa het dan iemand gestuur om te probeer deurstap. Wanneer dit te diep was,  moes hy die sleutel aan ’n sakdoek vasmaak, ’n klip daarin sit, en oor die bruisende water gooi sodat iemand aan die anderkant die winkel kon oopsluit sodat die werkers kos kon koop.

Johanna (Stemmet) vertel dat dit die hele week voor haar en Abrie (Rossouw) se troue baie gereën het. Abrie het op daardie tydstip by oom Marius Burger gewerk. Ná die troue wou hulle huis toe gaan, maar die Dwarrigarivier was só vol dat dit hulle voorgekeer het. Hulle moes maar weer terugdraai, en by haar ouers op Rietvlei gaan slaap.

Die Burgers se opstal en werf in die wit blokkie. Die winkel is daar waar die rooi pyltjie is. Die Grootrivier (vanaf die Poortjieskloofdam) en die Dwarrigarivier kom onderkant die opstal bymekaar en vorm die Kingnarivier.

Regs van die brug is die Grootrivier. Links kom die Dwariga by en dan verander die naam van die rivier (daar links van die brug) na die Kingnarivier.

DIE SEMENTDAM OP WIELE

Christa onthou dat hulle in 1955 op Talana se winkelstoep gestaan het en ‘n snaakse gesig gesien het: Daar het ‘n lowbed in die grondpad verbygekom met ‘n sementdam agterop! Dit is nie iets wat jy maklik weer sou sien nie! Toe blyk dit dat oom Marius Burger die sementdam na ‘n ander plek op die plaas geskuif het. Daar was ewe ‘n beriggie in die Landbouweekblad!

Abraham Burger: Die sementdam het eers op ‘n ander plek op die plaas gestaan. My pa sê toe vir ‘n buurman hy wil die dam skuif. Buurman sê toe dis nie moontlik nie. Toe raak dit ‘n weddenskap.

Die sementdam wat van een plek op die plaas na ‘n ander vervoer is

Die dam was effe versink. Hulle grou hom toe oop en maak die sloot rondom die dam vol water. Toe die dam dryf, het hulle hom op pale gestut. ‘n Poort is gegrou sodat die lowbed onder hom kon in. So is hy dan gelaai en geskuif tot hier naby die opstal. As ek moet raai, sal ek sê die dam is geskuif rondom 1955.

Die dam is 5 meter by 5 meter. En is vir so 1 500 meter geskuif tot so 200 meter van die huis af.  Ek twyfel of hy ooit weer as dam gebruik is.

My pa het in 1968 Rietvlei en Talana se winkel aan sy suster, Christina, en haar man, Jasper Hayes, verkoop. Die winkel het daarna nog ‘n paar eienaars gehad.

Lees hieronder van al die wonderlike projekte wat Elmarie, Abraham se vrou, met die plaaswerkers se kinders in die winkel aanpak.

TALANA SE WINKEL VANDAG

Vandag gebeur daar wonderlike dinge by dié winkeltjie wat my pa in 1955 laat bou het. Lees hieronder Elmarie Burger se beriggie wat in die Basuin was.

Elmarie Burger: Nadat ons die uitnodiging gekry het om iets vir die Basuin oor dankbaarheid te skryf, het ek net besef hoeveel daar is waaroor ek dankbaar is, maar besluit om een daarvan uit te lig – my plaaswinkel, Talana Koskas.

My eerste gedagte was onmiddellik dat dankbaarheid by die winkel na albei kante toe kan gaan: Wat die plaaskinders vir my beteken en wat ek vir hulle beteken.

Talana Koskas was 30 jaar gelede my winkel op die plaas en was later net ’n stoorplek. My gedagte was om die winkel weer te begin met net ’n paar lekkertjies en roomys, sodat my gastehuis se stadskindertjies ’n plaaswinkel kan ervaar en die bure se manne party aande ná uitvaltyd die dag daar kon kom afsluit.

Die liewe Vader het egter lankal ’n ander plan gehad. Ons plaas en naburige plase se kinders het begin opdaag en ek was verplig om die winkeltjie drie aande ’n week oop te maak, van 17:00 tot almal klaar gekoop het. Ek moes ook die voorraad na kos uitbrei. Die winkel gaan nie oor wins nie, maar is ’n lekkerte vir ons almal. Ek rond net die aankoopbedrag af.

Gou het ek besef dit is meer as net ’n winkel. Hier kuier ons, eet ons, drink ons koffie, kuns ons, gesels ons, huiswerk ons, en plaaskinders kom spog met hul rapporte. Ek leer hulle hekel; ons het al koekies gebak en mosaïek gedoen. Dit was baie spesiaal toe ons een Sondagaand na ds. Tromp se preek in die winkel kon luister. Een vrou het afgesluit met gebed en vir die gebou gebid – wat ’n seën!

As dit op my hart is, maak ek eetgoed en verras hulle daarmee. Ek dink hul dankbaarheid op daardie oomblik sê alles! Pannekoek en sjokoladekoek bly hul gunstelinge. Nou en dan maak ons koffie in die winkel en sit lekker om my ma se melamienkombuistafel; dan kuier en gesels ons. Hulle het selfs hul eie koffiebekers in die winkel.

My dankbaarheid loop weer oor wanneer hulle stories van hulself met my deel en geskenkies – hoe klein ook al – uit liefde vir my gee. Baie keer kry ek die mooiste briefies reg uit hul harte, of kruie wat hulle gepluk het en wat ons dan in die dak van die winkel ophang.

Hulle het die vrymoedigheid om inligting te vra oor skoolwerk. Ons het onlangs ’n reeks Kennisboeke geskenk gekry waarin hulle naslaanwerk kan doen. Een dogtertjie gaan sit gereeld op ’n stoel langs die boekrak met tydskrifte en leef haar in die prentjies in  – veral die resepte.

Party aande is ons sommer laf en dans op langspeelplate se musiek, veral Abba en Pussycat, al om die tafel!

Een dogtertjie het eenkeer met haar fiets aangery gekom van die bure se plaas af toe die winkel nie oop was nie, maar ek besig was om voorraad uit te pak. Toe ek haar vra hoe sy geweet het dat ek daar is, het sy geantwoord: Sy het vir Jesus gevra!

Daar is soveel vriende wat skenkings gee wat ek mag uitdeel: boeke, speelgoed, sakkies, klere, ensovoorts – selfs serpe en kepse vir die winter, gebrei deur van die tannies in die ouetehuis. Ek wens hulle kon dit self kom uitdeel om die blydskap op die kinders se gesiggies te sien.

Party help my agter die toonbank en leer sommer somme maak. Hulle is so gretig om nuwe voorraad in te dra en op die rakke te pak. Ons almal toets partymaal ’n nuwe soetding voordat dit rak toe gaan. My huishulp is ook altyd bereid om in te staan wanneer ek nie tuis is nie, en my buurvrou help my baie gereeld – sonder vergoeding – sommer omdat dit vir haar lekker is! Daarna kuier ons twee heerlik om die tafel met koffie in die hand en haal al ons gesels in.

Ons het ook ’n posbus buite die winkel en ek leer die kinders briefies skryf met skryfblok, koeverte, seëls en al. Hulle skryf sommer Moedersdagbriefies of wat ook al op ons harte is.

Wanneer gaste die winkel besoek, los hulle baie gereeld ekstra geld by my, wat ek dan op die kinders bestee. Almal se harte is so oop vir die kinders!

Ek leer só baie by die kinders: Om sommer net te wees en die lewe te geniet met wat jy ook al het. En laaste, maar nie die minste nie – dankbaarheid. Jare terug het ek dit gedoen om ’n geldjie te maak, maar vandag besef ek dit is ’n baie groter “wins” om gelukkige en dankbare kinders te beleef.

Posbus om kaartjies en briefies in te pos

Wie sou ooit kon dink dat daar ‘n bruidspaar voor Talana se winkel sou staan?

V.l.n.r. Abraham en Elmarie Burger, hulle dogter, Suzaan, en Gerrit Coetzee. (30 Sept 2023)


ONS OUERS SE NALATENSKAP

Ons De Jager-gesin was nooit ryk aan aardse goed nie, maar ons was gelukkig en geborge en het aan niks gebrek gely nie. Wat ons nie in besittings gehad het nie, het ons in liefde, geborgenheid en sorg ontvang. Ons ouers was streng, maar dit was vir ons eie beswil en om beter mense van ons te maak. Hulle het ons na die beste van hulle wete en vermoë probeer grootmaak, met duidelike reëls, maar ook met opregte omgee.

Hulle het ons geleer wat reg en verkeerd is, dat ’n mens jou woord hou, respek moet hê vir ander en jou plek in die wêreld ken. Net so belangrik was dit vir hulle dat ons ons taal suiwer praat en lief moet wees vir ons land en kultuur. Ons ma sou sonder skroom sê dat ons ons taal “vermoor” as ons Engelse woorde tussen die Afrikaans inryg – en sy het dit ernstig bedoel. Afrikaans was vir haar nie net ’n manier van praat nie, maar iets om te bewaar en oor te dra.

Ons ouers was hardwerkend en pligsgetrou, lief vir mense en altyd bereid om te help waar hulle kon. Hulle was godsdienstig, sonder om hard of veroordelend te wees, eerlik in woord en daad, en het met hulle lewe vir ons gewys hoe ’n mens behoort te leef. Dít is die rykdom wat ons saam met ons uit daardie jare geneem het – ’n erfenis wat nie kan wegraak of breek nie. En ons dink met dankbare harte aan hulle.

My pa het baie sêgoed gehad. As iemand hom vra hoe dit gaan, sou hy sê:

“Dit gaan so goed – ek moet net keer of dit gaan beter!”

“Kom, Kêrels, (ons drie dogters!); moenie staan soos ’n perd wat papies het nie. Laat waai!” (Dit was sy manier om te sê: “Moenie talm nie, moenie net rondstaan nie – beweeg, begin, doen.”)

Hy het gesê ’n mens leer iemand eers werklik ken wanneer jy met sy sak (beursie) werk.

En dan was daar sy raad aan ons: Ons moenie ons laat onderkry nie. Ons moet soos kurkproppe wees – as ons onder die water gedruk word, moet ons net êrens anders weer uitdop.

Sy voorletters (A.J.) het hy gesê, staan vir Arme Jan. Die een tannie het hom toe altyd aangespreek as Jan. So kom koop sy ‘n boud vleis wat Jan toe vir haar in die koelkamer gaan afsny het. Sy is toe glad nie gelukkig met die vleis wat na haar sin te maer was nie. My pa gaan sny toe dieselfde skaap se ander boud af en toe was sy doodtevrede. “So ja, nou hoekom moet ek altyd eers kla?”

Maar in 1968, na 21 jaar, het dit tyd geraak om Rietvlei te verlaat. Die vinnige pas waarteen my ouers geleef en gewerk het, het sy tol begin eis, en my pa het hartprobleme begin kry. Dit was die teken dat dinge moes verander.

Vir ds. Weideman het hy gesê: “Dominee, die Here seën my nou só dat ek weghardloop!”

Hy het die winkel aan sy suster en haar man verkoop en ’n ander koers ingeslaan. Hy het by Sanlam op Robertson gaan werk.

Vandag bestaan daardie winkel en slaghuis nie meer nie. Na meer as ‘n eeu van sy bestaan, is die rakke leeg, die toonbanke weg, en die klank van die draadloos het stil geraak.

Maar in ons herinneringe leef dit voort: Die reuk van materiaal en seep, die glans van knopies, die reuk van varkvet en koljander in die slaghuis, die stemme van mense wat in- en uitgeloop het.

Dit was meer as ’n winkel en slaghuis – dit was deel van ons grootword, ons speelplek, ons skooldae en ons wêreld. En elke keer as ons daaraan terugdink, loop ons weer vir ’n oomblik daar in, kaalvoet en sorgeloos, in ’n tyd toe die lewe eenvoudig was en die toekoms nog voor ons gelê het.


NOG HERINNERINGE AAN RIETVLEI SE WINKEL EN SLAGHUIS

Paul Fouché: Die skool was pas gesluit vir die Maart-vakansie, 1958, toe ons laatmiddag Rietrivier se voordeur die laaste keer toegetrek het. Rietvlei se winkel was seker ook al toe, want ons het nooit verbygery as die winkel oop was nie. Altyd op pad dorp toe die “notisie” afgegee om vanmiddag, klaar opgemaak, op te laai en petrol in te gooi vir die week of twee se rywerk.

My ma se broer, Kerneels Gelderblom, was iewers in die veertigerjare die eienaar van dié winkel. Dis wat Ma vertel het, want van my eerste onthou af was dit oom De Jaar en tant Daisy se winkel. Niemand het ooit De Jager gesê nie. Eers toe Sus en Daan my winkelstrokies kon laat lees, het ek die “g” en “e” raakgesien.

Voor die winkel was altyd heelwat houtkissies met leë koeldrankbottels. Christa het my eendag tussen die kissies in geroep na een of ander speelplek toe, sy het gestruikel en baie seer oor die bottels geval.

By die winkeldeur in was die toonbank met die skuins glasflesse vol lekkers reg voor jou. Die vol koeldrankbottels was ook daar. Blikkies koeldrank het nog nie bestaan nie en die kleiner bottels van weleer het seker dieselfde hoeveelheid as die blikkies bevat. Ons het nooit van koeldrank gepraat nie, maar van bier. ‘n Selfgemaakte plaaslekkerny van weleer was koring- en gemmerbier. Die rosyntjies vir die gis het altyd so op en af in die flesse gedryf. Enigiets met gas was dus bier en klaar. Oros was koeldrank. Al die winkelkoeldrank was, sonder elektrisiteit vir koelkaste, natuurlik kamertemperatuur.

Ek het gedink Christa woon in die hemel met al die lekkers om haar. Eendag het sy gekla dat sy nog nie ‘n lekker gekry het nie en ek was verstom toe Ma vertel dat oom De Jager ook die lekkers moet koop en Christa nie soveel mag eet soos sy wil nie!

Langsaan die lekkerflesse, regs, was die skaal met die gewigte waar die pakkies meel, suiker en rys opgemaak is. Selfbediening het nog nie bestaan nie.

Links was die mooi goed agter glas in ‘n toonbank. Ek en Ma het altyd links gedraai terwyl Pa en oom De Jager regs doenig was of slaghuis toe is. Ma en tant Daisy was met klere, garing, knope, wol of wat ook al doenig terwyl ek telkens die mooiste, sagte blougroen balpuntpen bewonder het. Balpuntpenne was toe nog ‘n snaaksigheid. Niemand het gelukkig die pen gekoop nie. Ek wonder hoe lank dit was voor ek die pen kon bekostig. Sewe sjielings en ses pennies (75c) was destyds ‘n fortuin!

Pa het min vleis gekoop, maar gereeld wors. Boere het destyds hul eie slaggoed gehad. Pa was tevrede met oom De Jager se vleis, want sy hand was reg. Daar was ‘n geloof onder oumense dat sommige slagters se hand nie reg was nie en die vleis laf gesmaak het.

Ek kan eendag onthou wat die geel International-bakkie by ons op die plaas aangekom het om slaggoed te soek. Daar was reeds ‘n slagding of twee agter onder die kap saam met Christa. Sy was omtrent onhebbelik, want oom De Jager het sommer haar hare deur die kappie se venster getrek!

Die petrolpomp en pen was nie al wonderwerke wat ek by Rietvlei se winkel kon beleef nie. Na die winkel, huis en slaghuis verbou en opgeknap is, kon ek aanskou wat oom Piet van Zyl ons van De Jaar se mooi huis kom vertel het. ‘n Radiogram het ‘n plaat gespeel. Die een liedjie na die ander. Nie net in die sitkamer/voorhuis nie, maar selfs in die kombuis uit ‘n klein kissie teen die muur! My ma het eens ‘n opwengrammofoon met los naalde en ‘n paar plate gehad. Dit was die eerste langspeelplaat wat ek gesien het.

Jare later het ek dié meesterstuk aan die gang gekry toe die jare hom begin inhaal het. Ons het al ‘n radiogram en langspeelplate gehad, maar ek het dié dag van eerste kennismaking nooit vergeet nie.

Rietvlei se winkel was altyd ‘n bron van eerstes vir ‘n verdwaasde plaasseuntjie. Langs die skaal was later ‘n groterige kleeflinthouer om die geweegde pakkies toe te plak. Ek kon nie ophou kyk nie. Ons het toe nog net die wit stukkies aan poskantoor-spaarseëls geken. Natlek, plak en hoop was al uitweg vir ‘n stukkende boek of iets wat moes toebly. Ons het die wit blokkies ook “plak” genoem.

Nog ‘n eerste was die metaalwaaier op die toonbank. Oom Piet van Zyl het dié handige ding se koel lafenis ook staan en bewonder, maar oom De Jager se kommentaar was: “Koud kry hy my nie gewaai nie, maar hy hou darem die vlieë van my kop af.”

Vandag is daar soveel meer of is daar? Rietvlei se winkel was grootsheid in eenvoud. Warm menslikheid altyd ‘n gegewe.

(Ina van Wyk is die tweede jongste suster van Christa, dogters van oom Andries de Jager wat baie jare lank Rietvlei nommer een se winkel en slaghuis bedryf en uitgebou het. Ek en Christa het mekaar van kleuterdae af geken, by die winkel saamgespeel wanneer Pa vir kruideniersware of brandstof moes stop of oom Andries slaggoed kom soek het. Van standerd ses tot matriek klasmaats en later ook studente en koorlede aan die Wellingtonse Opleidingskollege. Montagu bly maar ‘n bron van heimwee!)

Piet van Deventer: Fantasties! Dit was soos Paul dit beskryf. Met ou woorde soos “notisie”.

Danie Nel: Geskryf presies soos dit was. Die skryf neem mens terug na die winkel, oom De Jaar en ant Daisy!

Ina (de Jager): Danie, ek was skoon tranerig toe ek dit lees. Dis so mooi geskryf, Paul.

Dolf Nel: Paul Fouché se nostalgiese weergawe van vanmelewe se tyd is ‘n stuk kosbaarheid wat gedeel moet word met ons nageslag.

Doreen (Stemmet): Dis nou ‘n pragtige onthou, presies soos dit was. Dit neem ‘n mens baie jare terug.  Baie lekker tye – al het ons nie toe so gedink nie.

Ina (de Jager): Dolf, ek stem 100% saam met jou. Dis dinge waarvan ons nageslagte nie gaan weet as óns dit nie vir hulle vertel en neerskryf nie.

Lidia (van Deventer): Ek was maar bitter klein, dan stuur my ma my na oom De Jaar se slaghuis om ‘n pond (gewig) maalvleis te gaan koop. Dan kon my kop skaars oor die toonbank bykom en ek vra vir ‘n pond se (geldeenheid) maalvleis. Daardie tyd het ek nie geweet wat die verskil is nie, maar oom De Jaar het my altyd reggehelp en geweet wat my ma wil hê.

Ook moes ek Vrydagmiddag winkel toe hardloop en kleingeld vir lone gaan kry (want die bank was te ver.) Dan was die tiekies en sikspense in bruin sakkies netjies gepak, bo toegevou en met kleeflint toegeplak.

Ina (de Jager): Kan julle julle indink ons sit kerkhoede op en gaan Kaap toe…

Chrissie du Preez: Pragtig!!! My pa het dan met ‘n das aan geboer!!! Ek dink die ouer geslagte was baie trots op WAT en HOE hul dinge gedoen het!

Elsabe (van Eeden): Ja, toe ek ‘n kind was, moes my pa een maal ‘n jaar na die Militêre hospitaal in die Kaap gaan vir ondersoeke. Dan het ons by my tannie in Plumstead gebly.

Ons het shopping in Adderleystraat gaan doen en dan met die trein gery. Ons was uitgevat in ons kisklere – met ‘n hoed en al. Ek het graag by die oop venster gesit. As daar dan ‘n ander trein by ons verbykom, dan ruk dit my hoed af.

Dolf Nel: Dink net dat ons daai tyd ‘n karton vol hoenderkuikens met die Spoorweë na enige plek in Suid-Afrika kon stuur en hulle veilig en lewendig hul bestemming bereik het. Wonder of dit vandag moontlik is.

Ina (de Jager): Nie ‘n manier nie, Dolf.

Hilda (Lombard): Ek wonder nog altyd: Het Montagu dan nie piesangs gehad nie? As iemand Kaap toe gaan, is gevra: “Bring asseblief piesangs saam?”

Van Zyl la Grange: Liewe Ina, ek onthou daai heerlike dae maar té goed! Julle winkel was die sentrale punt waarom Rietvlei gedraai het. Van kleins af het Ouma ons winkel toe gestuur as ons by haar kuier, vir daai groot wit brode wat Ouma dan met vet en appelkooskonfyt voorgesit het: die lékkerste ding in die wêreld!

Op die lysie was dikwels Tanglefoot-vlieëpapierrolletjies en Hair removing gloves waarmee sy oortollige haartjies op haar bo-lip weggetoor het.

Ek wou jou nog sê dat, met die geldjie wat ek gespaar het deur in julle winkel te werk, ek my eerste klein draagbare Panasonic-radio’tjie gekoop het. Turquoise plastiek! Omtrént spoggerig in die vroeë sestigs!! Ek veronderstel dat ‘n mens die herinneringe moet lewendig hou, want alles verander met tyd, en nie altyd ten beste nie!

Ina (de Jager): Van Zyl, ek onthou daardie vlieërolletjies só goed: Ek moes soms die rolletjie vol dooie vlieë anderkant die nasionale pad in die bloekombos gaan weggooi. Ek was klein en skaars langer as my “vrag” vlieë. Eenkeer het die wind skielik gewaai en die taai rolletjie met die dooie vlieë het teen my lyf vasgewaai. Jeg! Ek kon dit nie vinnig genoeg van my afkry nie…


UIT DIE DE JAGERS SE FOTO-ALBUM
 


image_pdfDOWNLOAD PDF