154.“Archie” die haarkapper
Saamgestel deur Gerald Batt
April 2026
In die hartjie van Montagu in Du Toitstraat, het Archibald “Archie” Wallace Bernhardt oor baie jare sy stempel as mans haarkapper afgedruk. Sy naam en van was maar ‘n mondvol en die mense het sommer van ‘Arkie Barnard’ gepraat. Die eenvoudige haarkappersalon was meer as net ’n plek vir haresny – dit was ’n ontmoetingsplek waar stories gedeel, nuus uitgeruil en vriendskappe gesmee is. Mans van die dorp en distrik het gereeld op “Archie” se stoel kom sit, nie net vir ’n skeer of knip nie, maar ook vir gesprek en gemeenskap.
“Archie”, seun van John Bernhardt, is op 19 April 1910 in Montagu gebore en was getroud met Francis Louisa (Van Graan)

“Archie” en Francis
Oom “Archie” was ’n bekende dorpsfiguur en barbier waar baie mans en skoolseuns hulle hare laat sny het. Baie mense het hom eenvoudig “Archie” of oom “Archie” genoem – die soort naam wat ’n barbier of winkelier in ’n klein dorp kry wanneer almal hom ken. Mense het gewoonlik ‘n barbier aan sy naam onthou en nie noodwendig sy van nie – daar is nou nog mense wat hom as “Archie” onthou. Uit plaaslike herinneringe word genoem dat “Archie” vanaf ±1940’s – 1970’s as haarkapper gewerk het.
Flip Kriel vertel dat vandat hy in die skool gekom het in 1953 sy hare by oom Arkie laat sny tot hy na matriek in 1964 weg is van Montagu. Oom Arkie se plekkie was maar klein – net plek vir die haarkapperstoel, ‘n bankie en ‘n kas met al die haarolies, skêre, kamme, lotions ens.
Hy het oom Arkie as skoolseun geken. Dit is te verwagte dat hy nie ‘n gesprek met ‘n skoolseun sou voer soos met ‘n volwassene nie. Al wat hy kan sê, is dat oom Arkie ‘n liewe goeie oom was, altyd vriendelik en beskeie en was net bekend as die haarkapper. Hy het hom nooit elders raakgeloop in sy kinderjare op Montagu nie en vermoed hy is van sy werksplek reguit huistoe.
Hy onthou dat sy hande altyd so lekker geruik het as hy in sy hare woel met die skêr en kam en die haarknipmasjientjie. In die 1950’s was lekkerruikhaarolies en lotions baie gewild. Daardie jare se “ducktails” of eendsterte was lief om haarolie vir hulle kuiwe te gebruik. Dit is seker hoekom oom Arkie se hande so lekker geruik het.
Paul Fouche noem dat hy kan onthou dat oom Arkie ‘n Vauxhall Victor stasiewa gehad het – ‘n vroëe sestigs model, bruin as hy reg onthou.

Foto per illustrasie
Om by oom “Arkie” se goedkoper en vinniger haarkappersalon uit te kom, moes jy verby die Aero na Brinks se kant toe stap. Net na die drankwinkel, nog voor Brinks se kontantwinkel, draai jy regs. Net ‘n paar treë en jy staan voor oom “Arkie” se haarsnyplek.
Van Brinks se kant af, by die vulstasie verby, kon hy in my kinderdae al van ver af vir oom “Arkie” voor sy salon sien staan en wag of vlugvoet om sy stoel sien beweeg met sy skêrtjie ritmies kletterend in sy hand. Nog nooit het hy weer soveel ritme met naatlose aksente met ‘n skêr in enige haarkappersalon beleef nie. Van die straat se naam is hy onseker, maar ek vermoed dit was Du Toitstraat.
Aan hare het ek my min gesteur. Ouers en onderwysers was lastig genoeg en oom “Arkie” die oplossing. Oor hare het hulle al die jare nooit gepraat nie. Daar was mos genoeg karre, skindernuus en sulke belangrike sake terwyl sy skêrtjie en gonsende masjien gou met ‘n boskaas klaargespeel het. Wanneer hy met ‘n rukbeweging of twee van sy geoefende arm die haarolie op my amper kaalkop uitgeskud en sy stukkie kuif so ‘n veeg of twee met sy kammetjie gegee het, kon hy, vyftien sent later, weet ouers en onderwysers sou hom lank uitlos om hom in belangrike seunsdinge te verdiep. Aan niggies met wye rokke en hoë, harde hare se gekweel het hy hom nie gesteur nie.
Selfs toe Patrick Ellis (opvolger van Archie) met groot sorg, tydens skoolvakansies, al omgesien het na my “saaidies” en welige kuif het ek na oom “Arkie” verlang.
Volgens Nico Bernhardt (familie) was oom Arkie en oom Garrett (broer van Arkie) lief vir duiwe, maar hy twyfel of enigeen van die twee ooit tyd gehad het om dié stokperdjie te beoefen.
Nico het saamgestem oom Arkie se salon was in Du Toitstraat en hy beskryf ook twee kenmerkende rooi en wit barbierwinkelpilare voor die ingang. Ek kan die twee pilare nie onthou nie, maar neem hom op sy woord as familielid en gereelde klant van sy oom Arkie. Hulle gesin het hom ook “oom Arkie” genoem.
Anelma Oosthuizen noem dat die ander seuns van “Archie” baie jonger as hulle was. Toe nr. 6 gebore is het mev. Justine Basson gesê die winkel moet vir Francis ‘n geskenk stuur. Haar tante Susan Conradie het daardie tyd met Justine saam gewerk in die Aero. Justine was hoofdame en haar man Ewie was bestuurder van Aero. Dis lank voor hulle Goldblatt se winkel gekoop het. “Archie” se suster Evelyn, was getroud met haar ma se broer Johannes Botha.
Francis en “Archie” het hulle seuns baie bederf. Sy het byvoorbeeld ses soorte sop gekook volgens elkeen se smaak. Francis se broer was in die polisiediens en het in Bloemstraat gewoon.
Francois De Kock noem dat hy vir baie jare sy hare by oom “Archie” laat sny het. Dit was ‘n kleinerige plek in Du Toitstraat met een stoel, skêre en kamme in Dettolwater. Hy sê hy was altyd vrek bang vir daardie stoel en oom “Archie” se knippery. Hy was maar seker so twee jaar oud toe sy pa hom vir die eerste keer geneem het en hy het tot in matriek sy hare daar laat sny.
Toe hy nog klein was, het hy elke keer vreeslik gehuil, want oom “Archie” was vreesaanjaend vir hom (met respek gesê). Hy het eers ‘n plank bo-oor die stoel se armlenings gesit waarop jy moes sit om darem so amper manshoogte te wees, maar oom “Archie” moes nog steeds met effe gebuigde kniëe staan om lekker te kon bykom. In sy linkerhand het hy ‘n kam gehad en in die ander hand ‘n skêr. Hy het vreeslik vinnig gesny en daai sker het nooit opgehou knip nie. Francois sê hy was bang oom “Archie” sny sy ore af of dalk sy nek raak. Oom “Archie” het amper nooit ‘n masjientjie gebruik nie en die gekletter van die sker het hom baie bang gemaak.
Sodra oom “Archie” klaar geknip het, het hy die hare vinnig uit jou nek gevee met ‘n sagte borsel, maar dit het nie veel gehelp nie want jou nek het nog steeds gejeuk. Daarna het hy jou hare net vinnig met “dassiepis” (soos dit genoem was) gespuit – water met ‘n lekkerruik geursel in. Daarna het hy “muispoep” (poeier) in jou nek geblaas om die jeuk te verminder. Dit was poeier in ‘n glas houertjie met ‘n rubber pypie en ‘n ronde balletjie. Elke slag as hy die balletjie druk kom die poeier so poef-poef uit en word in jou nek geblaas. ‘n Haarsny het het 1/6d (een sjieling en n sikspens) gekos terwyl mnr Smit die ander haarkapper, al 5/- (vyf sjielings) gevra het.
Francois noem dat hy altyd die grootste respek vir die Bernhardts gehad het. Hulle was liewe goeie mense en jy kon altyd op hulle staatmaak. Stephen (een van oom “Archie” se seuns) wat nou nog op Montagu bly, was altyd baie lief vir budgies of kanaries en het hulle ook aangehou.
Francois vertel ook van die heerlike koeldranke en “floats” wat mens by die “Bruisbron” in Brinks kon koop. Elke kersfees kon die kinders vir ‘n week lank elke dag ‘n koeldrank verniet daar kry. As jy n “float” wou hê, moes jy ’n sikspens betaal vir die roomys wat hulle dan in die koeldrank gesit is.
“Archie” was John en Maria se vierde kind, geb 19 April 1910 op Montagu. “Archie” se vrou was Francis Louisa (Von Graan) geb 06 Feb 1917 – hulle troue was op 12 Augustus 1940 in Worcester en hulle het by Le Rouxstraat 36 gewoon – sien foto hieronder. “Archie” was maar derde geslag Bernhardt in SA en dit is hoekom hy meer Engels- as Afrikaanssprekend was.


Archie(links) op sy trou dag die strooijonker se naam is nie bekend nie.
Foto’s Alta Bernhardt

Le Rouxstraat 36
As kleinseun van die Duitse immigrant Gustav William Bernhardt, het “Archie” die familie se nalatenskap in Montagu voortgesit en verdiep. “Archie” het deel gevorm van ’n meer rustige maar gevestigde dorpslewe – ’n bekende gesig in Du Toitstraat en ’n stil hoeksteen van die gemeenskap. In vergelyking met sy pa en oupa wat daagliks swaar handewerk gedoen het, het “Archie” ‘n meer gemaklike haarkapper bedryf gevolg en sy tyd daar ten volle benut.
Sy eerste salon was by Du Toitstraat no 13, langs aan waar Lacarno is, maar die gebou is later gesloop om plek te maak vir ‘n meer moderne geboue – ek kon egter nêrens ‘n foto van dié ou gebou opspoor nie. Nadat die gebou gesloop is, het hy vir ‘n kort rukkie van sy huis af gewerk en later getrek na die gebou op die hoek van Bad- en Du Toitstraat – sien eerste deur op die regterkanste hoek in Du Toitstraat.

Du Toitstraat (sien pyltjie)
Ek onthou nog oom “Archie” se plek in Du Toitstraat. Die min kere wat ons ‘n slag van die plaas af Montagu toe gegaan het, het my pa vir my geld gegee vir haresny en dan moes ek en my broer eers ‘n vinnige draai by oom “Archie maak. Ek onthou nog hoe oom “Archie” ons hare vinnig-vinng kort gesny het en daar was net een styl en dit was borselkop, maar vir ‘n plaasseun was dit perfek. Oom “Archie” was ‘n man van min woorde, maar altyd baie vriendelik.
Net woerts-warts was daar ‘n doek om jou skouers en jy sien net hare waai. Jy vee net so vinnig met jou hand oor jou kop as hy klaar is om te voel hoe lekker kort dit is en daar gaan ons.
Daarvandaan is ons gewoonlik direk Brinks toe om ‘n melkskommel of roomys by die ‘Bruisbron’ in Brinks te gaan geniet. Dit was net ‘n paar trëe van oom “Archie” se plek af oor Du Toitstraat en was net die mooiste, mooiste Art-Deco plek waar mens iets lekker koel kon geniet. Ek sien dit nou nog op ‘n middelvloer, by ‘n paar trappies op (sien foto hieronder). Ons het altyd ‘n paar pennies by my ouma Sannie Malherbe op Montagu gekry om te spandeer op lekkernye. Sy het in Piet Retiefstraat gebly en met ‘n paar pennies in jou broeksak het jy sommer goed gevoel as jy self iets met jou eie geld kan gaan koop.

Op een van die middelvloere, links van die hooftrap, was die beroemde Art Deco ‘Bruisbron’, waar inwoners en kinders melkskommels, kleurvolle draairoomyse, koeldrank en floats geniet het. Vir baie inwoners leef die herinnering aan Brink Broers vandag nog voort as een van Montagu se mooiste en mees vooruitstrewende plekke.”
Foto: Gerald Batt
Oom “Archie” en Francis het ses seuns gehad: Wallace John, Henry Otto, “Archie”, Stephen, Regu – “Reggie” en Ivan. Stephen is die enigste oorlewende seun en getroud met Alta (Theron) – hulle bly in sy ouerhuis by Le Rouxstraat 36.
“Archie” is oorlede op 14 April 1977 maar sy vrou Francis se sterfdatum is onbekend. Oor drie geslagte heen weerspieël die Bernhardt-familie die Europese wortels en plaaslike vestiging wat die geskiedenis van Montagu help vorm het.

Archie se familie na sy begrafnis
Agter L/R: Ivan, Archie en Stephen
Voor L/R: Henry Ma Francis en Wallace
Reggie het die foto geneem
Foto: Alta Bernhardt
“Archie” se oupa en ouma was die Bernhardt stamvader en stammoeder in Suid Afrika. Sy oupa was Gustav William geb April 1834 in Sparnberg, Ziegenrück, Saxony, Prussia, Duitsland en hy het na Kaapstad, Suid Afrika ge-emigreer.

Sparnberg, naby Ziegenrück, was destyds deel van die Provinsie Sakse (Pruise), ’n klein landelike gebied naby die Saale-rivier, nie ’n groot stad nie. Dit beteken Gustav sou nie direk van daar af vertrek het nie – hy moes eers na ’n groot hawe reis. Mense uit sy streek (Pruise/Sakse), het in daardie tyd vertrek weens ekonomiese druk, beperkte grond en politieke onstabiliteit ná die 1848-rewolusies.
Gustav het na SA ge-emigreer toe Duitsers veral as ambagsmanne, soldate (Britse koloniale diens) en boere/arbeiders in groot getalle tussen ±1855 -1870 na die Kaap gekom. Met sy geboortejaar (1834) en huwelik in 1874 in Suid Afrika, pas hy perfek in ’n bekende migrasiepatroon – van Sparnberg na ’n groter Duitse hawe, waarskynlik Hamburg (die belangrikste emigrasiehawe) of Bremen. Hamburg is die heel waarskynlikste – dit was die hoofroete vir emigrante uit sy streek. Die seevaart na die Kaapstad per seilskip sou ongeveer 2–3 maande geduur het.
Oom “Archie” se ouma was Robina Joan (Anderson), geb 03 Feb 1852 in Skotland. Robina het in die vroeë 1870’s in Suid-Afrika aangekom. Terwyl spesifieke passasiersmanifeste vir haar reis moeilik is om vas te stel sonder ‘n skipnaam, word haar teenwoordigheid in die Kaap stewig bevestig deur haar huweliksrekord kort na haar 22ste verjaarsdag.
Navorsing dui daarop dat sy die dogter van James Anderson en Jane (Milne) was. Dit toon ook aan dat die Suid Afrikaanse Milne stammoeder vanaf Skotland gekom het. Dit is hoogs waarskynlik dat sy as deel van ‘n familiegroep geëmigreer het of om by familielede aan te sluit wat reeds in die Kaap gevestig was, soos algemeen was vir jong Skotse vroue van daardie era. Haar aankoms het saamgeval met ‘n tydperk van toenemende Britse en Skotse immigrasie na die Kaapkolonie na die ontdekking van diamante (1867) en die daaropvolgende ekonomiese uitbreiding. Baie Skotse gesinne het hulle gedurende hierdie tydperk in die Wes-Kaap gevestig om poste in handel, ambagte of boerdery te beklee.
Gustav en Robina het in Kaapstad ontmoet en later na Worcester gereis. Hulle het op 22 Des 1874 in die St. James Anglikaanse Kerk op Worcester getrou. Volgens sy trousertifikaat hieronder (afskrif in my besit), word sy beroep aangetoon as “Constable” – hy was seker in die polisiediens gedurende daardie tyd. ‘n Immigrasie dokument by die KPA, verwys na sy beroep in Duitsland as ‘n “Master Builder”.

Kort daarna het hulle na Montagu omgewing gegaan en daar hulle voete gevind. Sy was ‘n huisvrou en hulle het twee seuns en vier dogters gehad. Al ses hulle kinders is vanaf 1876 in Montagu gebore.
Die mees akurate bewyse wat Gustav Bernhardt met Erf 57 verbind, kom van die Kaapse Provinsiale Argiewe (KPA):
Besonderhede / Inligting / Verifikasie Bronne
1.Volle naam Gustav William Bernhardt / KAB Sterftekennisgewing, /Genealogie Rekords.
2. Lewensduur / 1834 – 1894 Grafsteen (Montagu Begraafplaas) / Boedeldokumente
3. Adres / Erf 57 Badstraat / Erfenisopname en Aktekantoor
4. Eiendoms / ID – Erf 57 / Montagu Munisipale, Kadastrale Kaart
Die inligting rakende Gustav William Bernhardt en sy woning is hoogs geloofwaardig en kan met primêre argiefbronne vergelyk word. Hy en sy huisgesin het op Erf 57 gebly, maar ek kon geen ge-dokumenteerde bewyse opspoor van wanneer hy en sy vrou daar ingetrek het nie – sien die ou swart en wit foto hieronder. Die oorspronklike huis is c1860 gebou en was ‘n baie eenvoudige huis. Die vermoede is dat Gustav later jare self Kaaps-Hollandse veranderinge daar aangebring het.

Badstraat 26 met die sirkel
Vandag lyk die huis baie anders – sien volgende foto. Voordat hierdie baie groot erf onderverdeel en aanvanklik ge-registreer is in kleiner erwe, was die hele groot Erf #57. Jare later na onderverdeling, het die erwe links en regs van #26 baie groter Erf nommers gekry. In die 19de eeu was Erf # 57 ‘n massiewe “watererf” wat oor ‘n beduidende gedeelte langs Badstraat gestrek het. Die hoër Erf nommers wat ons vandag sien (soos bv Erf 1783 of 1610) is “oorblywende”-nommers, na die oorspronklike eerste onderverdeling. Toe groot oorspronklike erwe soos Erf 57, in die laat 1800’s of vroeë 1900’s in kleiner residensiële erwe onderverdeel is, is die nuwe kleiner erwe deur die Landmeter-generaal baie hoër nommers toegeken. Badstraat 26 sit eintlik op ‘n baie klein gedeelte van daardie oorspronklike #57 Erf toekenning.

2010 foto van die huidige huis by Badstraat 26.
Gustav William Bernhardt was ‘n Duitsgebore vakman en ‘n bekende bouer en messelaar in die Montagu-distrik gedurende die laat 19de eeu. Hy was ‘n ‘Meesterbouer’ en ‘Steenmesselaar’ en was hoofsaaklik erken as ‘n baie bekwame bouer. Hy was verantwoordelik vir die konstruksie van verskeie prominente “platdak” dorpshuise en Kaaps-Hollandse geboue in Badstraat en Langstraat – die historiese kern van Montagu. Sy werk word dikwels gekenmerk deur die stewige messelwerk wat nodig was om die streeksklimaat te weerstaan. As ‘n Duits-opgeleide vakman het hy Europese messelwerktegnieke na die Kolonie gebring, wat hoog aangeslaan is vir die konstruksie van die dikwandige platdakhuise.
Gustav sterf 20 Feb 1894 in Montagu en sy vrou Robina sterf 23 Nov 1921 ook in Montagu – sien sertifikate heieronder:


Die oudste seun was John William Bernhardt, gebore 1876 op Montagu en was oom “Archie” se pa. Hy was getroud met Maria Magdalena (Crous), gebore 1877 in Ladismith. Hulle troue was op 26 Januarie 1903 in Robertson en hulle het agt kinders gehad, vier seuns en vier dogters, gebore vanaf 1904 tot 1916: Hester Catharine, Gustav William, Hester Catharina, Archibald Wallace “Archie”, Johanna Robina, John Montagu, Garrett Peter en Evelyn. Party van die ouer lesers kan seker nog van hierdie mense onthou, want hulle is eers vanaf 1957 tot 1986 oorlede. John en sy gesin het by Le Rouxstraat 35 op Montagu gewoon.
Sy tousertifikaat hieronder toon dat hy by die tyd van sy troue, ‘n “Carpenter” was, wat wys dat hy ook ‘Timmerman’ werk kon doen.


Le Rouxstraat 35
Op die fotos hieronder en met ‘n pyltjie aangedui, is John William Bernhardt. Agterop die foto is ‘n handgeskrewe datum van 1896 . (Fotos met vergunning van Anelma Oosthuizen)

“Oom Archie” se pa, John William (sien pyltjies)
Foto’s Anelma Oosthuizen
John William se professie was in die smid bedryf en hy was die primêre “ingenieur” vir die distrik se vervoer en landbou. Sy winkel was as ‘n tradisionele smidswinkel bedryf en in argiefdokumente word John William (gebore 1876) professioneel as ‘n ‘smid’ en ‘hoefsmid’ aangeteken.
Gegewe die era en die dorp se uitleg, was sy smidswinkel ‘n belangrike “industriële” anker vir die dorp. Gebaseer op die historiese ambagte in die laat 19de en vroeë 20ste eeue, was die primêre smidswinkel wat met die John William se familie geassosieer word, naby die kruising van Badstraat en Rosestraat geleë – hierdie ligging was doelbewus. Dit was by ‘n belangrike toegangspunt tot die residensiële netwerk, wat boere wat van ver afgeleë distrikte en bergplase gereis het, toegelaat het om hul vervoermiddles en ander toerusting te laat versien.
John William het by sy smidswinkel baie perde beslaan, wat die verraderlike bergpasse deurkruis het. Van die delikate herstel van huishoudelike deurskarniere tot die swaar onderhoud van wawielvellings, het John William verseker dat die ratte van Montagu se ekonomie nooit ophou draai het nie.
Histories was smidswinkels in ‘n dorp gewoonlik naby die leiwater kanale geleë, aangesien ‘n konstante toevoer van water nodig was vir “blus” en vinnige afkoeling van gesmede yster. Die ligging van die winkel, was ook noodsaaklik vir die “verkeer” van die Kogmanskloofpas, wat voortdurende onderhoud van ysterwielvellings, remme en trekdier-tuie vereis het. Sy smidswinkel was waar yster remskoene en wiele ook gemaak was, wat die dorp toegelaat het om sy wyn en vrugte met die res van die Kolonie te verhandel. John het ook plaasgereedskap vir die landboubedryf verskaf en versien.
Terwyl baie van die Victoriaanse “broekieskant” versiering ingevoer was, was smede soos John William verantwoordelik vir die strukturele ysterhakies en skarniere wat die swaar houtdeure van die huise wat deur messelaars soos sy pa, Gustav Bernardt gebou is, vasgehou het. Handgesmede skarniere, boute en hekgrendels uit hierdie tydperk dra dikwels nog die duidelike hamermerke van plaaslike smede. In die laat 1800’s sou hierdie smidswinkel die ekwivalent van ‘n moderne motor- en ingenieursentrum gewees het. Gustav was die vakman wat die hitte en reën beveg het deur die dikwandige, platdak-argitektuur te vervolmaak en John die “werktuigkundige” in Montagu wat die wiele letterlik aan die rol gehou het in die 19de eeu .
Die “broekieskant” versiering was ingevoer vanaf die Saracen-gietery in Glasgow, Skotland en na Kaapstad verskeep en per ossewa deur Kogmanskloof gebring.
Nota: Al hierdie besonderhede word in die Kaapse Provinsiale Argiewe (KPA) bewaar via Sterftekennisgewings, Likwidasierekeninge en 19de-eeuse Handelsgidse ens – die “papierspoor” van die mense wat Montagu gebou het en wat die John William smidswinkel lys.
Die argitektoniese en industriële siel van Montagu is nie bloot ontwerp nie – dit is met die hand gesmee en gekap. In die laat 19de eeu, soos die dorpie vanaf die oorspronklike plaas Uitvlugt uitgebrei het, het twee noodsaaklike ambagte; die Messelaar en die Smid, die dorp se vermoë gedefinieer om die strawwe Klein Karoo-klimaat te weerstaan en met die wêreld buite die Kogmanskloofpas te verbind. As die messelaar die dorp se bene voorsien het, het die smid sy spierkrag verskaf.
‘n Kort opsomming: Die Bernhardt-familie van Montagu het sy oorsprong in Europa, met Gustav William Bernhardt wat in 1834 in Duitsland gebore is en later na die Kaapkolonie geëmigreer het. In 1874 trou hy in Worcester met Robina Joan Anderson, ’n Skotse immigrant. Hul seun, John William Bernhardt, gebore in 1876, vestig die familie verder in die streek en trou met Maria Magdalena Crous. Teen die vroeë 20ste eeu is die familie reeds deel van Montagu se gemeenskap, waar Archibald “Archie” Bernhardt, gebore in 1910, as ’n bekende manshaarkapper gewerk het.
Bernhardt familie uitleg in Suid Afrika volgens Genealogiese databasis:
Regs bo die stamvader en stammoeder. Direk onder hulle die kinders (2de geslag). Links bo “Archie” se pa en ma. Direk onder hulle “Archie” en sy sibbe.

Bronne:
- Eie navorsing dmv Genealogie, KI, Google, Google Maps, KPA (Kaapse Provinsiale Argiewe) en ook uit eie herinneringe as ‘n jong knaap.
Bydraes: Alta Bernhardt, Anelma, Oosthuizen,Flip Kriel, Francois De Kock, Johnny Verreynne, Paul Fouche en Ernie Oosthuizen.
