44.The Police – A pivotal part of Montagu’s Community

image_pdfDOWNLOAD PDF

Updated: 20/03/2026

Introduction: Once again Joubert House also has the distinction of being the first police station in Montagu. See the story below as told by Dirkie Joubert. From what can be pieced together it is suspected that the police station then moved to a building in Bath Street. This building housed the store owned by P.J. Joubert. The building has since been demolished. The new building houses the furniture dealer Full House today (2020). The police station then relocated to Du Toit Street then the corner of Piet Retief and Plein Streets (see article/pictures below).  The police station was then moved to its current premises in 1969.

Uittreksel uit die boek Herinneringe uit die verlede

deur Dirkie Joubert

VANMELEWE OP MONTAGU

Die Familie Joubert

Die skryfster op haar 90ste verjaarsdag in 1954

Prentjie: Uit die boek

In 1688 het saam met die Franse Hugenote in Kaapstad aangekom, Pierre Joubert en sy vrou Isabeau Richard. Hulle was die stamouers van die Joubert-familie waarvan my oupa, Pieter Gideon Joubert, die sesde geslag gevorm het. Hy is later getroud met Catharina van der Merwe, ’n kleindogter van Schalk Willem van der Merwe, wie se vrou ’n afstammeling was van Anna Provost. Van haar lees ons in die geskiedenis dat sy eendag ’n olifant wat na haar tent aangekom het, geskiet het, daar haar man en kinders weg was van hulle standplaas af. Hulle was een van die eerste gesinne wat oor die Hottentotshollandberge getrek het uit die Kolonie uit toe dit te klein begin word het vir boere met baie vee. Anna Provost was die moeder van sestien kinders, een waarvan dus my ouma se oupa was.

Toe Montagu as ’n dorp uitgelê en opgemeet is, is die ewe opgeveil en verkoop. My oupa en twee van sy swaers, Frans du Toit en Daantjie van der Merwe, het van Wellington af gekom waar hulle gewoon het in die omgewing van Wagenmakersvallei, en het elkeen ’n groot blok erwe gekoop waarop hulle gebou het en die orige vol wingerd geplant het. Toe die drie swaers die erwe daar gekoop het, is die eerste drie huise op Montagu gebou.

My pa, ook Piet Joubert, gebore in 1832, was toe ’n man van omtrent vyf-en-twintig jaar en was nog ongetroud, het by my oupa in die huis gewoon (Joubert Huis Lang Straat). Hy het self daardie huis van sy vader gebou. Die hele huis is opgeklei en die mure is net so gelyk en regop soos die van ’n huis wat met bakstene gebou is. Die klei was in vorms gegiet, die mure omtrent twintig duim dik en die huis staan vandag nog, na byna honderd jaar, is in uitstekende toestand en word bewoon deur mevr. Lettie Burger, ’n kleindogter van my oupa se swaer, mnr. Frans du Toit.

Die eerste tronk wat op die dorp gebou is, staan vandag nog, sover ek weet, in die agterplaas van daardie huis. ’n Paar klein kamertjies met klein luggaatjies en ’n agterplaas tussen die kamertjies, die mure waarvan met glasstukke gepak was om ontsnapping te voorkom, het die tronk gevorm. My oupa was die eerste vrederegter en het self ligte straffies opgelȇ. Dus was die tronk handig vir die opsluit van bandiete.

Die magistraat van Robertson het eenmaal elke maand kom sitting hou en dan groter straf opgelê vir groter kwaaddoeners. Hy het gewoonlik by my oupa en ouma tuis gegaan.

The original jail in the grounds of Joubert House Long Street Montagu still stands today (2020)

                                                                                 Front door of jail

A formal toilet with original fittings was available to “visitors”. According to Montagu historian Blackie Badenhorst the jail only acted as an overnight holding area until suspects could be moved to Swellendam.

Die eerste predikant van Robertson wat konsulent van Montagu was, was ds. de Schmidt, ’n Hollander. Hy het somtyds oorgekom na Montagu om die dienste waar te neem en het dan ook gereeld by my oupa en ouma tuisgegaan. Die laaste maal wat hy daar kom diens hou het, was hy siekerig, en na afloop van die diens, het hy die bed gekies. My ouma het hom versorg en in dieselfde kamer waar hy altyd geslaap het, is hy dood. Sy lyk is toe na Robertson vervoer waar hy in die kerk vlak voor die preekstoel begrawe is.

My pa is later getroud met Barbara van Zyl, gebore 1840, ’n dogter van Frederik Jacobus van Zyl van Goedemoed, Robertson. Sy vrou, my ouma, was Dirkie Beukman, en sy en my oupa, sowel as my eie moeder, lȇ begrawe in die kerkhof op Goedemoed. Oupa van Zyl was ’n seun van Frederik van Zyl van Nooitgedacht, wat die bynaam gehad het van “Groenteboer”. ’n Jonger broer van my Oupa was Gideon van Zyl, die vader van Casper van Zyl wat jare lank ’n vername prokureur was in Kaapstad in die firma van Zyl, Bussinni en Leonard. Casper was weer die vader van ʼn voormalige Goewerneur-Generaal van die Unie, naamlik Gideon Brand van Zyl. ’n Derde broer van my oupa van Zyl was Hans, die stamvader van die van Zyls van Boesmansrivier, Robertson.

Toe my Oupa van Zyl later dood is, het my pa die plaas Goedemoed gekoop en die vier jonger broers en suster van my ma wat toe nog te jonk was om vir hulself te sorg, groot gemaak en laat leer. Hy het hulle op Worcester geplaas as kosgangers by mnr. Rowan wat ’n vername onderwyser en later skoolinspekteur was.

Ek was die oudste van ’n familie van vier dogters en is gebore op 12 Oktober, 1864. Ons het op Goedemoed gewoon totdat ek ses jaar oud was en toe is my ma dood. My moeder se enigste suster was een van die vier weeskinders wat my ouers groot gemaak het. Sy moes toe vir my vader huishou en vir ons sorg en aangesien sy self maar sewentien jaar oud was, was sy te jonk om ’n hele boerdery waar te neem. My vader het toe besef dat hy sonder hulp nie kon boer nie, verkoop die plaas en trek weer na Montagu toe. Hy het ’n blok erwe gekoop en met wingerd beplant en het met wynboerdery sy bestaan gemaak. Later het my Oupa Joubert weggetrek en het my pa sy blok erwe verkoop en die huis met wingerde van oupa gekoop, en ons het intrek geneem in dieselfde huis wat my pa as jong man “opgeklei” het.


6 Oktober 1944 – Polisiestasie moet skuiwe

Berig deur mnr. D.J. Nolte, vir Die Burger

Wat die woningnood betref is hier onlangs reeds twee motorhuise omskep in wonings maar nog baie lank voor dit klaar was is daar al talle van aansoeke.

Ook die polisie moes hierdie ongerief ondervind toe die huur van hulle kantore opgesê is deur die firma P. J. Joubert wat dit reeds lankal dringend nodig gehad het.  Hier het egter uitkoms gekom deur die vertrek van mnr. Hennie Ellis.  Sy woonhuis is toe aangeskaf en gerieflik ingerig as polisiestasie.

The old Joubert building Bath Street

Old Police Station corner of Piet Retief and Plein Streets


Anelma Oosthuizen (Kriel) onthou die volgende: Die magistraatskantoor met sy twee gewels en rooi stoep was waar vandag (2020) net ʼn oop plein is met ʼn paar boompies. Die plein waar die kantoor was lȇ  tussen Piet Retiefstraat en Joubertstraat. Op die terrein net agter die magistraatskantoor was ʼn polisiehuis. Daar was ook ʼn paar tronkselle. Aan Joubertstraat se kant was ook n doeanekantoor. Die polisiestasie en polisiehuis daaraan vas was regoor die magistraatskantoor in so n hoekvertrek. Die huis en ou polisiestasie gebou is nog daar in Piet Retiefstraat. Die huis het ʼn lang oop stoep aan Piet Retiefstraat kant. Die huis het ʼn hoekdeur gehad na die oop plein se kant. Dis alles skuins oor wat vroeȇr Brinks se winkel was (Kosplus). Die oop plein waar alles was is aan die westekant van die huidige magistraatskantoor. Net du Toitstraat tussenin

Die ou polisiekantoor en huis behoort sover ek weet aan mnr. Johannes Rossouw van die Koo. Lede van sy familie woon nog steeds in die huis sover ek weet. Daar was ʼn dogter en twee broers in die Rossouw familie.  Johannes se broer is Pieter Rossouw van Huis Uitvlucht. Johannes moet al 90jr. wees en Pieter so 83jr.

In die dae toe die ou magistraatskantoor en hof en nog ʼn polisiehuis en die doeane en aksynsgebou bestaan het soos reeds gesȇ het konstabel Heyns in die bestaande huis gewoon en konstabel Van Zyl in die huis wat afgebreek is. Van Zyl het later gaan boer in Ashton distrik op Wildeperdekloof. Sy weduwee leef nog daar. Sy is 93jr. oud. Daar was ook konstabel Van Graan. Hy en sy gesin was ons bure in Bloemstraat. Jy sal ook al die magistrate se name moet kry. Een magistraat wat ek van weet was Van Greunen. Die skryfster Cecile Cilliers se pa was ook magistraat op Montagu. Ek het die van vergeet. Hy het sy kinders geleer: you should speak English better than the English.

Daar was ook sersant Hauptfleisch en sy dogter was getroud met onderwyser Herbst. Sy is nog in Montagu. Verder sersant Timmerman. As kinders stout was het ouers hul gedreig met Timmerman.

Sersant Human en gesin het ook op ʼn keer in ou bestaande polisiehuis gewoon.

Op die foto wat volg “Medal Presentation Parade Montagu Police Post 1932” is daar ʼn foto van konstabel Daantjie Beets. Hy was gevrees.

The car park today (2020) with old police station/house on bottom right.

            New magistrates court on left


Die Burger Donderdag 13 Maart 1969

Die nuwe polisiekantoor wat eergister op Montagu ingewy is.


Adamus Stemmet onthou die volgende: Ek was in Laatsrivier op skool en het in 1954 op Montagu matrikuleer. Ek het dadelik by Justisie aangesluit en op 15 Desember 1954 in die landdroskantoor begin werk . Dit was nog in die ou gebou.

Die Polisie

  Die polisiestasie was soos  aangedui in Retiefstraat reg oorkant die ou landdroskantoor waar ek begin werk het. Daardie jare het SERSANT die dorp regeer. Toe die kantoor opgradeer is na Adjudant Offisier status en ʼn Hoofkonstabel, Pretorius (baie bekwaam en het later ʼn Genl. majoor geword), in die vyftigerjare na Montagu as stasiebevelvoerder verplaas is, kon die publiek nie verstaan dat ʼn konstabel, al was hy die hoof, hoër as hulle SERSANT was nie.

   Sersant se woord was wet. Toe my pa eenkeer probleme i.v.m. water, het ʼn huurman gehad het, gaan hy dorptoe om Prokureur Fouche te sien en advies te kry. Toe hy tuiskom, vertel hy my wat die prokureur gesê het.  Toe ek hom vra of hy die advies gaan volg was sy antwoord : ” Nee, ek wil eers hoor wat Sersant ( Haupfleisch) sê en hy was nie vandag daar nie.”

    Sersant Haupfleisch wat ook ʼn goeie staatsaanklaer was, was legendaries. Landdros Van Greunen vertel my eenkeer die storie : Op ʼn plaas by Derdeheuwel was daar elke naweek probleme met ʼn man wat gedrink het en dan sy vrou en kinders mishandel het. Toe Sersant weer een aand uitgeroep word, skei hy die man en vrou summier. Die meubeltjies, potte en panne, kortom alles, word gelykop verdeel. Toe kom die kinders aan die beurt. Daar was vier en hulle word ook gelykop verdeel. Die een wat nog oppad was, het nog nie getel nie en die vrou kon die enetjie by geboorte hou, het Sersant bepaal.   Sersant  waarsku hulle toe om ver uitmekaar te bly of anders sou daar vreeslike gevolge wees. Probleem opgelos.

    Landdros Van Greunen vertel my dat die twee ʼn paar jaar later by die landdroskantoor opgedaag het met die versoek dat hy hulle moet trou. Hulle wys hom toe ʼn huweliksertifikaat maar sê dat hulle geskei is. Toe hy vir die skeibrief vra, sê hulle dat hulle nie soiets het nie want Sersant het dit nie  vir hulle gegee toe hy hulle geskei het nie ! Hulle kon nie verstaan dat die landdros hulle nie weer wou trou nie want Sersant het hulle dan geskei !

Gedurende die tweede Wêreldoorlog was die polisiestasie in Du Toitstraat tussen Badstraat en Langstraat . Ek dink daar is nou ʼn droevrugtewinkel. Ek kan onthou dat my pa in 1945 pas na die oorlog daar aansoek om ʼn permit om ammunisie te koop wou kry. Ek kan die gebou uitwys. Die polisiestasie is vandaar na Retiefstraat verskuif. Le Roux Stemmet sê hy het in Du Toitstraat aangesluit.

Na die polisie uitgetrek het, ongeveer einde 1952, was die Aero se kontantwinkel daar. Die twee huise skuins oorkant het aan my Oupa, Giel Stone behoort. In 1953 toe by die koshuis aangebou is, het ek by my Oupa hulle loseer. Hy het daardie jaar die huis naaste aan Brinks, nou ko-operasie, ook  gekoop. 

Van die Montaguers wat presteer het in die polisie

Lt-Genl J.G. Le Roux Stemmet (Diamand)

Le Roux is ʼn oud leerling van Hoërskool Montagu. Na skool het hy by die SA Polisiemag op Montagu aangesluit.  Sy opleiding het op 10 Februarie 1953 by die Polisiekollege in Pretoria begin.  Le Roux se laaste diensjare was in Pretoria by die SAP Hoofkantoor, waar hy in 1995 op 60 jaar afgetree het. Sy laaste vyf maande as Waarnemende Kommissaris van die S.A. Polisie. Sy ouderdom het verhoed dat hy Kommissaris geword het.

Sy Pa ,Oom Willem, (Johan Wilhelm) was eens Burgermeester van Montagu. Ook bekend as Oom Willem Goudsmid.

Hy en sy eggenote Nelet Stemmet woon tans in ‘n aftreeoord in Pretoria.  Hy het in Desember 2025, 90 jaar oud geword.  Hy geniet nog goeie gesondheid.

Genl. Maj. J.F. (Koos)  Rossouw. Hy was die seun van mnr. Van Zyl Rossouw (Broer van Koos Kuiken) van Laatsrivier.

Genl. Maj.  H.W. Mcdonald 11/06/1930-22/11/2011 van die Veiligheidspolisie. Sy familie het Mcdonaldsgarage h/v Du Toit en Retiefstraat regoor die ou landdroskantoor gehad

Fotos: Adamus Stemmet


A Walk down memory lane unfortunately names and places could not be traced

S.A.P. Detachment, Montagu, 1916, No. 7 District, Worcester. Picture taken in front of old court house corner Piet Rietief and Plein Streets

Emile Badenhorst: Die bekende Konstabel Tobie Swanepoel, wat vir Koos Sas telkemale aangekeer het, staan agter, die lang man…vierde van links.


image_pdfDOWNLOAD PDF