50.Ons besoek Johnny Verreynne ‘n Montagu Versamelaar
Die Sniffilaar/Versamelaar van Montagu
ʼn Seun van Montagu en sy Stokperdjie

Junita, Johnny en Pieter (31/03/1987-24/03/2007) hulle oorlede seun


Vir ‘n hele aantal jare, sowat 49, was die area beskou as die Verreynnes se eiendom. Keurfontein was woonplaas

Ouma Hester en Oupa Johannes S. (John)
Pa (Piet) Ma (Engela) en ek

JOHNNY GEE ʼn BEITJIE AGTERGROUND OOR SY FAMILIE
Die Sniffilaar kan eintelik spog oor sy familie. Dié familie was van die eerste wat kom woon op Montagu. Oupa John se pa was een Abraham Jacob Verreynne, ʼn matroos wat kom woon in Pietersfontein voor 1800. Hy is beskou as die Stamvader van die Montagu Verreynne’s.

ʼn Grond baken wat Abraham Verreynne gemaak het
Hierdie stuk erfinis van Johnny se oupa grootjie staan nou op die plaas Mooi Erfenis in Pietersfontein

Nadat die Die Sniffilaar die Keurfontein gebied velaat het, het hy ʼn plaas in die Koo gekoop 1980. Hy het daar begin boer en het die plaas vir omtrent twaalf jaar gewerk. Maar die trek na sy eeste liefde die wêreld van masjinerie was te sterk en hy het die plaas verkoop en toe begin sy lewe in die wêreld van boorgatpompe. Johnny sê dat die belangstelling in masjinerie het van sy pa af gekom. As hy begin rondry vir die boorgat werk het hy baie ander stukke masjinerie gesien en toe begin die Verreynne versamaling. Johnny vertel verder dat as hy uitgaan vat hy altyd sy verkyker saam om te sien wat in die veld rond lê. Hy verkoop nie maklik stukke uit sy versamaling en as hy besluit om van iets ontslaai te raak dan moet dit na ʼn goeie huis gaan.
Nadat my ouers Engela Maria Magdalena van der Vyver (23/05/1914-01/01/1988) en Petrus Johannes (04/11/1912-15/04/2002) op 24 Maart 1942 getrou het, het Pa by Kerneels Human op Swellendam in sy garage gaan werk en goeie ondervinding op die gebied opgedoen. (Pa was baie meganies aangele.) Ek dink die praktiese deel en liefde vir yster in die familie is afkomstig van die Neethling-bloed (Ouma).
Na ses maande het oupa John hom gaan ompraat om weer plaas toe te kom. Hulle het op Brakrivier, bekend as Hoëwerf, gaan woon. Die water was baie brak. My Ma en aia Mietjie Fyfer het elke week met ‘n muilekar na Nietvoorby (Sandhoek) 8 myl ver gery om te gaan wasgoed was.
Pa het toe met hoenders begin boer vir ‘n ekstra inkomste en die eiers was per trein vanaf Touwsrivier na die Kaapse Eierkring in Kaapstad gestuur. (Pa het die ou Hudson Terraplane-kar se agtersitplekke uitgehaal om die eierkiste in te laai).
Die jonger broers het vir Pa as Boeta-Piet aangespreek en my Ma was Suster genoem. Later toe die jonges ouer begin word het die aanspreekvorm verdwyn. Na oom Hans se dood het oupa John Brakrivier en Soutkuil verkoop en ons het op Sandhoek gaan woon. (Ek was toe nog ‘n kleuter). Pa het toe die hoenderboerdery baie vergroot. Hy was die algemene plaas “mechanic” en het toe nader aan Keurfontein gebly. Oom Piet Conradie het vertel Pa het die ou lorrie so uitmekaar gehaal dat die hele werf vol stukke geleë het. Hy het gedink die ou Rooi Dodge sou nooit weer loop nie.
My Oupa het ʼn boormasjien gekoop. Dit was Pa, die plannemaker, se werk om die boormasjien op Touwrivier se Spoorwegstasie uit die trok te laai en met ‘n Farmall-trekker tot op Keurfontein te sleep. Oom Maans Spamer het toe darem glo al ‘n boormasjien van naby gesien en sou as “operateur” optree. Niemand, nie eens oom Maans het geweet hoe om die toring van die boormasjien “staan” te maak nie. Pa is toe weer ingeroep om te kom hand bysit. Pa se plan, wat daarna gebruik is, het toe die kalf uit die put of die boortoring van die grand af gelig.
Op ‘n later stadium het hulle vir Johannes (Blokkies) Swart ‘n boorgat gaan sink. Die boorman was toe ene Piet van Rensburg. Hy doen toe nie boorwerk nie en ry net rond met oupa se voertuig. Pa word toe gestuur as “waghond” om te kyk dat hy sy werk doen. Dit val toe nie in die boorman se smaak nie en hy vat die pad. Pa word toe die amptelike boorman. Hy het verskeie gate gesink en moes baie planne beraam om die onderneming suksesvol te maak. Die trekker is gebruik om die boor padlangs te sleep asook om die masjien aan te dryf. (Die trekker het agter die boormasjien gestaan met ‘n lang dryfband.) Die probeem was as hul wou stop moes iemand na die trekker hardloop om af te skakel. Pa het toe weer ‘n plan gemaak. Vanaf die trekker se koppelaar het hy ‘n lang draad na ‘n hefboom voor by die boor gemaak. So is die dinge toe vergemaklik.
Na oom Siebert se troue, gaan woon hy op Sandhoek en ons trek na Keurfontein, hoender-boerdery en al. In 1951 koop Pa Keurfontein by oupa John. Dit het maar swaar gegaan in die beginjare. Gelukkig was die reënval meer normal as vandag en die hoenders het goed gele. Die trop vee moes opgepas word en elke aand “gekraal” word. Die metode se tyd was toe later uitgedien en Keurfontein word met “Jakkalsproof” omhein en binnekampe en suipings word aangebring. Diesel se prys was goedkoop: R90-00 vir 2200 liter. Daar word met 5 dieselenjins water gepomp en lusern en vrugteboorde is gevestig en word hiermee besproei. Pa was die eerste persoon in die omgewing wat ‘n sweismasjien besit het. Ons het die masjien gebou van ‘n militere vliegtuig se kragopwekker. Ons was ook die eerste plaas wat elektriese ligte (32 volt) in die huis gehad het. Weereens bewyse van Pa se vindingrykheid en slim planne. Terselfder tyd is daar ook na mikro-besproeiing oorgeskakel.
Pa se eerste trekker was ‘n Minneapolis Moline wat by een van die bure in ‘n brand beskadig was en vir ‘n “lorrievrag” skaapmis geruil en reggemaak is. Hierdie trekker het met Pa agteroor geslaan teen ‘n skuins damwal op oom Siebert se plaas. Gelukkig kon hy betyds afspring en het niks oorgekom nie. Die ou trekker het later jare ‘n groot breek opgedoen en is aan ‘n museum geskenk. Nadat hy 40 jaar uit ons hande en in onbruik en baie verwaarloos was, het ek hom met baie mooi praat teruggekry. Tans na ek hom mooi gerestoureer het is dit een van my kosbaarste versamelstukke. (Die ou staatmaker is 1 van slegs 2 wat in Suid-Afrika oor is.) So jammer Pa kon dit nie beleef nie!
Geen werk was vir Pa te groot of onmoontlik nie. Hy het ook nooit gekla nie. Alles was ‘n uitdaging. Of dit nou bo-op ‘n windpomp of onder ‘n voertuig was, hy het alles gedoen. Hy was ʼn waaghals en by tye onverskillig, soveel so dat hy by geleentheid bo-op ‘n sementdamwal van: ongeveer ‘n meter wyd en plus minus 10 meter hoog, geloop het. Binne was die dam tot oorlopens toe vol water en buite was die afgrond (‘n reg-af sementwal). Om die kersie op die koek te sit kry hy toe dors, lê op sy maag en drink sommer water ook uit die vol dam.
Ongelukkig het die Karoo wat ons so na aan die hart was se tyd uitgeloop en die aanhoudende droogte het die “drakrag” baie verlaag. Minder vee, en onbewoonde buur en wildplase het veroorsaak dat jakkalse gefloreer het en veeboerdery onmoontlik gemaak het. Die verliese was groter as die winste. Hierdeur is ook veroorsaak dat weer na die ou uitgediende “veewagter” en “kraalstelsel” teruggekeer is. Duur brandstof, voertuigpryse en slegte paaie het alles bygedra: tot die ontvolking van ons geliefde Karoo.
Pa het geglo aan “self werk en regmaak” en in die leerskool het ek grootgeword. Sy beleid was om dit liewers self te doen as om iemand te huur, wat verkeerd werk en jou boonop nog kwaad naak ook. Pa het ‘n besondere geaardheid gehad om konflik te vermy deur liewers stil te bly. Hy het altyd genoem dit kos 2 mense om te baklei en as jy stil bly is die “wind uit die ander ou se seile” en hy kan nie baklei nie. Verder het hy ook geglo, dink eers voor jy praat anders praat jy verkeerd en moet verskoning vra oor ‘n oorhaastige besluit. Dis beter om later iets meer sinvol kwyt te raak. Ongelukkig het hierdie tipe geaardheid hom dikwels aan die kortste end laat trek. Daar is by verskeie geleenthede op sy kop gesit en hy is misbruik – veral in sy laaste jare.
Ná sy aftrede op Montagu het hy hom besig gehou met regmaak van horlosies, lekkende krane n seifs by geleentheid ‘n lekkende “Koos” gesoldeer sonder enige nagevolge. Die bure het altyd by hom kom hulp soek vir enige “reparasie-probleme”. Tot 5 maande voor sy dood het hy nog in die dorp gery en by my kom kuier met sy 1936-model Hercules dikwielfiets. (Die 2de dikwielfiets wat op Montagu verkoop was vir die bedrag van £5-00.)
Uit die boek Verreynne Verhale

Oupa en die kleinkinders.Ek is agter op die regter kant
Ek en my pa het op Keurfontein geboer en Oupa het 12 myl (20 kilo’s) van ons af gewoon en op klein skaal geboer. Hy het altyd gesê hy kan nie vir sy dood sit en wag nie en het die plasie naby Bloutoringstasie gekoop vir sy aftrede. Hy het dikwels by ons gekom en ek het baie kere vir hom gaan help. Daarom onthou ek nog baie van hom.
Met niks begin
Hy het met niks begin nie en vir ander mense gewerk. Terwyl hy vir ’n baas gewerk het, het hy vir homself op huurgrond met skape begin boer. Later het hy ’n paar plase besit. Was vir baie jare lid van Montagu Afdelingsraad, asook ’n vrederegter. Hy was een van die eerste boere wat ’n trekker in ons Karoo besit het, asook ’n waterboormasjien, hoofsaaklik vir watervoorsiening vir sy eie boerdery.
Stap ver
In sy jong dae het hy op Koega gewoon en Ouma het op Bergplaas grootgeword. Die 2 plekke was ongeveer 35 myl (56 kilo’s) van mekaar en hy het daardie afstand gestap en weer terug om vir haar te gaan kuier.
Perdekar dryf in rivier
Oupa was oppad met ’n perdekar. Die donderweer reen sterk en die Touwrivier is in vloed. Hy moet deur ’n sytak van die Touwrivier ry en die is ook baie vol. Halfpad deur die rivier druk die sterk stroom die perde stroomaf en daar gaan die kar, perde en passasier stroomaf na die baie sterk Touwrivier. Hy was baie benoud, want as hulle in die groot rivier beland is alles verby. Gelukkig dryf die perde in ’n draai van die rivier met hul koppe teen die wal. Hy loop toe op die disselboom tussen die perde tot op die wal en sy woorde was: “Ek help hulle die kar teen die wal uittrek.” (Eintlik het hy hulle maar net gelei).
Baie vuil mense
Na Ladismith se kant toe het mense gewoon wat nie baie skoon was nie. Oupa ry te perd iewers heen. Die pad loop oor hulle werf. Hy nader die werf en die hek is toe en hulle is besig om vark te slag by die hek. Hy moet stop en menslikheidshalwe groet. Hulle nooi hom vir ’n koppie koffie. Hy wys dit van die hand en se sy maag is bietjie deurmekaar as verskoning. Hy gesels nog met die man toe is die vrou daar met ’n beker water en ’n bottel lewensessens. Sy hou haar vuil en vol-bloed- vinger voor die bottel en gooi ’n dop in die beker water en roer dit met die vuil vinger en hy moet sluk. Hy het vertel dat as hy maar die koffie gekies het, het hy nie die vuil bebloede vinger gesien nie, maar het darem ook nie siek geword van die vuil vinger nie.
Boere- Oorlog
As jong seun het hy gedurende die Boere-oorlog skape opgepas op die plaas Leeubosfontein. Die eienaar was gevange geneem en hy was gestuur om die man se vee te versorg en bly alleen op die plaas. Op ’n dag sien hy vanuit die veld ’n paar Engelse soldate ry die werf binne en hy kruip weg. Hulle breek die huis oop en vat al sy kos. Gelukkig weet hy van ’n hoendernes en eet toe net eiers. Die skoon eiers het baie maagpyn veroorsaak.
Koo-Pad
Met die bou van die nuwe teerpad Koo-vallei toe was hy Afdelingsraadslid. Die bekende Madelein van Biljon se pa, ene Pretorius, was Magistraat op Montagu. Die Raad moet gaan inspeksie doen nadat die pad teen die berg afgesteek was. Hulle stop onder die berg en Pretorius se: “Oom John, ons sal jou verskoon. Jy hoef nie hier uit te klim nie.” Oom John klim toe maklik die berg uit, want hy was geoefen om in die veld te stap. Pretorius bly sit ’n entjie van onder af. Oupa het gesê dat van in ’n kantoor sit het sy tong uitgehang van moegheid.
Bul hou reguit
Hy en ’n werker gaan ’n bul haal by oom Stefaans Fourie (sy skoonseun) op Spreeufontein in Laingsburg se distrik. Hy het nie hoe sykante op die lorrie nie. Hulle maak die bul se kop voor agter die lorrie se kap vas met ’n riem. Hy ry te vinnig om ’n draai en die bul val oor die kant van die bak en sleep langsaan met sy kop vas. Al genade was om die riem af te sny voor die bul dood wurg. Die bul hardloop terug na sy baas se plaas en hulle gaan laai hom weer op. Sy woorde was: “Die bul het nie geweet van die draai in die pad nie en het reguit aangehou terwyl die lorrie draai en daarom het hy afgeval”.
Ry op tennisbaan
Die Karoopad het naby Touwsrivier voor die tennisbaan ’n draai gemaak en oor die treinspoor gegaan. Oupa neem ’n vrag lusernbale vir ou Belonsky (’n Jood se besigheid) op Touwsrivier. Hy nader die treinspoor en daar kom ’n trein en die lorrie se brieke was baie swak. Al genade was reguit hou. My pa gaan die volgende dag Touwsrivier toe en sien die groot gat deur die tennisbaan se hoë drade en lusernblare op die baan. Die Sondag gaan ons by Oupa kuier en pa vertel hom dit lyk vir hom ’n ou met ’n vrag lusern wou gaan tennis speel. Hy vertel ons toe wie dit was en vertel wat gebeur het. Hy het rondgekyk en sien niemand wat hom kon sien nie en toe ry hy saggies agteruit en gaan laai die vrag af en daar het nooit ’n haan na gekraai nie.
Ry muur om
Dit was baie droog in ons Karoo. Oom Siebert het by sy skoonpa in die Ceres Karoo weiding vir sy skape gekry. So help oom Koos, Oupa en my pa vir oom Siebert skape vervoer. Hulle ry almal met Chev lorries. Met die terugkom was Oupa 2de laaste en oom Siebert heel laaste. (Die ouer mense sal weet, maar vir die jonger lede: die Touwsrivier-Montagupad loop reguit. Die Bloutoringpad waar Oupa gewoon het, draai links af uit die reguit pad.) In Touwsrivier maak die pad so ’n draai met ’n hoe muur aan die linkerkant. Dit was donker met die terugkom. Laat die aand bel oom Siebert vir Pa en se hy vermoed moeilikheid, want die polisie het hom verby die Bloutoring-afdraai gestop en sy lorrie se neus met flitse bekyk en hulle se vir mekaar dit is nie hy nie, want sy” lorrie se voorkant is nie stukkend nie. Hulle deel hom mee dat ’n CBR-lorrie ’n muur omgery en weggery het. By die T-aansluiting sien hulle waterdrupples het in die reguit pad geval en vermoed die skuldige se verkoeler lek a.g.v. die stamp en stop vir oom Siebert. Sy verkoeler het gelek, maar nie van vasry nie. Die volgende oggend gaan ek en my pa na Oupa toe. Hulle gesels van die skaapryery ensovoorts, maar hy se niks van die muur nie. Pa vra later of hy nie skuins gery het in Touwsrivier nie. Oupa se rustig en kalm: “Ek het vergeet om die donkerbril af te haal toe dit donker word en kon nie goed sien nie en stamp gou ’n ou muurtjie en ry verder.” Pa stuur hom dadelik dorp toe sodat hy kan rapporteer. Die Polisie het hom goed geken en hy rnoes net die regmaak betaal.
Lorrie spring oor draad
Oupa ry in reenweer Touwsrivier toe, gly op die nat pad en rol oor ’n draadheining. Die rooi Chev staan op sy wiele anderkant die draad en die draad makeer ook niks. Oupa haal sy tang uit die gereedskapkis en knip die drade af en besluit om terug te gaan huis toe, want die kap is ingeduik en die voorruit is stukkend. Die enjin begin oorverhit en hy sien die verkoeler se pyp het uitgetrek. Hy stop ’n bakkie wat verby kom en die persoon se hy moet saamgaan dokter toe. Die bloed loop agter by sy nek in en slaan agter sy rug deur sy hemp en onderbaadjie. Hy se nee, dis net ’n skrapie aan sy kop. Die ou skrapie kry toe 4 steke. Die dokter bel vir Pa en ons gaan haal hom en die lorrie.
Broek oor die skouer
Pa het vertel toe Oupa nog op Keurfontein geboer het, het Oupa na ’n slagyster in die veld gaan kyk. Hulle sien van die huis af oorkant die rivier in die veld beweeg ’n snaakse verskynsel. Lang, kaal, wit bene en ’n rooi fluweelbroek oor sy skouer. Toe hy huis se kant van die rivier kom, het hy weer die broek aan. Die rede was dat die broek in die warm son sy binne-boude gesliaaf het. Toe trek hy dit uit en loop kaal bene sodat die bosse sy bene krap dat die bloed plek-plek loop.
Lorrie wil nie padlangs loop nie
Oupa het baie keer op Keurfontein met die lorrie gekom. Dan moet ek die fout soek. Soos hy altyd gese het: “Die ding wil nie padlangs loop nie.” Dan ondersoek ek die stuurmeganisme en gaan ry, maar kry nie fout nie. Op ʼn dag spoor ek die fout op. Ek merk dat Ouma sy broeke voor op die maag sulke lang lappies opgewerk het. Ek kom toe agter die groot maag druk die stuurwiel vas en dit is die stuurwiel wat sy broeke stukkend maak en dit is die fout: groot maag briek die stuurwiel.
Baas van Touwsrivier
So parkeer hy op ’n geel streep en dra melkkanne na die stasie oor die treinspore wat ook ’n oortreding was. Met sy terugkoms staan ’n polisieman by die motor en wil ’n kaartjie uitskryf. Sy woorde was: “Dis vir my vreemd dat jy die baas van Touwsrivier wil verbied om hier te parkeer.” So laat die polisie hom gaan sonder ’n boete.
Possak — Bloutoring
Hy gaan die possak by Bloutoringstasie haal en hou voor die ou sinkwagkamertjie stil, maar half uit die pad uit. Met die vertrek kan hy nie agter sien nie en die kar wil nie terug nie. Hy sê as jy nie wil terug nie, moet jy vorentoe en ry sommer deur die bosse en oor die klippe.


Alles wat oorbly van die ou Bloutoring stasie is die fondasie van die ou wag kamer

Eiergeel
Baie jare gelede in die kar-en-perde se tyd ry hy van Keurfontein af Touwsrivier toe, maar ry Bloutoring om om pos te kry. Oorkant die stasie laai hy ’n mandjie eiers op by die Koortse wat hulle saamstuur winkel toe. By die treinspoor waai ’n papier en die perde skrik en hulle gaan skuins oor die spoor en die ysterbandwiel van die kar maak ’n snaakse geluid skuins teen die spoor en die perde skrik nog meer en hardloop oor die 2 spore. Die kar hop en gooi die leiselhouer uit. Hy het die mandjie in sy een hand vasgehou sodat die eiers nie moet breek nie en hy val met eiers en al op die grand. Hy was besmeer met eiergeel en moes terugstap na die Koortse om hom te was. Sy bril het ook afgeval en die het hulle later opgetel. (Ns. Ek besit vandag nog die bril.)

Hy lê die bobbejaan voor wat so kwaaddoen in die pampoenland. Dit is ’n bobbejaan se gewoonte om oor die middagetenstyd kwaad te doen. Hy weet dan slaap die mense gewoonlik ’n rukkie. Oupa het vertel hy word so vaak en dit is 12 uur en dit is bobbejaan se tyd. Toe hy opkyk stap kees naby hom met wye bene wat hy hoog oplig sodat die pampoenblare nie sy lieste krap nie. Toe hy die geweer oplig sien kees hom en die ou skrik so groot dat hy met die wegspring omval. Oupa se woorde was: “Daar le ou kees stewels omhoog nog voordat hy geskiet het.”
Gee vuur ou Faan
Ek was so ongeveer 8 jaar oud toe koop oom Stefaans Fourie sy eerste motor. Oom Stefaanswasnog baie onhandig en ek ry saam met hom en Oupa. Ons nader die drif en Oupa se: “Gee vuur ou Faan!” Faan trap die petrol onder vas toe ons die drif ingaan, maar die pad draai so effens in die rivier en Faan hou reguit teen die oorkantste wal uit, buite die pad. Net groot stofwolk en almal se oe groot van skrik. Gelukkig het die hoe spoed gesorg dat ons bo-op die wal uitkom sonder om te rol.
Skiet koggelmander met 303 geiveer
By Bloutoring was die water baie brak! By die waenhuis was ’n geboude sementtenk om vars reënwater in te stoor. Ouma het somtyds vars reënwater by die tenk gaan tap. Oupa het vertel daar was ’n koggelmander wat die oumies hinder by die tenk. Hy vat die lang Lee Metford (Ek besit vandag nog daardie geweer) en skiet die koggelmander toe onder die stof.

Baie sterk
Hy het ’n wilde esel met ’n riem vasgehou. Verder kon hy 3 sakke koring van 203 lb (92 kg) elk gelyk optel. Hy het met sy tande bo-aan die naat vasgebyt en onder elke arm een sak gevat en daarmee opgestaan.
Solder toe
Die trapvloer was meer as een kilometer van die huis af. Hy en sy swaer, Manie Neethling (Rooi Maans), het die sakke koring solder toe gedra. Hulle span nie ’n wa in en ry die sakke aan nie. Hulle wedywer wie dra die meeste sakke per dag. Elke man moet sy sak van die grond af op sy skouer kry, huis toe dra en met ’n leer opklim en in die solder pak. So ’n groot streepsak vol koring se gewis: was 203 lb (92 kg).
Bang vir slang
Hy was onverskrokke en vir niks bang nie, maar het vertel vir een ding is hy baie bang en dit was vir ’n slang.
Apartheid
Hy het gesê die Apartheid-Wet is nie vir hom nodig nie. Hy weet hy moet hom apart hou en die Wet gaan groot moeilikheid veroorsaak. Verder het hy gese: “Loop ’n reguit pad sodat jy op jou spoor kan teruggaan en moenie skaam wees vir eerlikheid nie.”
Kerkraadslid
Hy het vertel dat daar Sondae plat metaalwasters in die kollekte bordjie was. Hulle stel vas dit kom van die galery af. Hy se dat hy daar wil gaan kollekteer. By die ingang van die gallery staan 2 stoele net buite die deur by die bo-punt van die trap. Hy sien daar sit 2 seuns wat net wil lag. Stap verby en kollekteer eers binne. Met die uitkom hou hy die bordjie in sy linkerhand vir die een en daar val die waster. Hy klap hom met sy regterhand. Hy hou die bordjie vir die ander een, maar hy gooi niks in nie. Dit was laaste van die speletjie. Hy het gesê: “Ek het hom mos nie in die Kerk geklap nie. Hulle was buite die deur.”
Boormasjien koop
Oupa gaan per trein na Dreyer se fabriek in Bloemfontein om die boormasjien te koop. Hy koop daar biltong vir padkos. Hy het vertel die biltong werk toe nie saam met sy maag nie, maar laat sy maag werk. Hy draai die orige biltong netjies toe in die oorspronklike verpakking en gooi dit deur die treinvenster by ’n plek waar bome langs die spoor staan en ’n paar werkers sit vir middagete. Sy woorde was: Hulle kan dit maar eet, hulle werk mos in die bosse.
Trein wag vir hom
Met die terugkeer vanaf Bloemfontein moet hy op Touwsrivier oorklim op Makadas (Die trein wat op die Ladismith-spoorlyn loop). Hy wag op die stasie by die punt waarvandaan Makadas vertrek. Makadas se vertrekpunt het verander en toe hy sien is sy trein oppad uit die stasie. Hy was ’n goeie vriend van die stasiemeester en die sê vir hom as hy goed kan hardloop sal hy die trein laat wag net na die Ladismith aansluiting. Die trein kan nie op die hooflyn stop nie. So hardloop hy toe langs die hoofspoorlyn met sy “sweetcase”, soos hy vir ’n tas gesê het, oor + 3 myl (5 km) afstand (Sweetcase was Oupa se vertaling van “suitcase”. Hy het gedink dit is “soet” en maak die “soet” toe “sweet”).
Pikkie van der Vyver se DKW
Oupa gaan Touwsrivier toe en langs die pad kom Oom Appie-hulle van voor en stop. Hy stop verby hulle en stoot terug. Pikkie was kort agter hom met sy DKW motortjie en met die terugry gaan die lorrie se bak byna bo-oor die DKW. Pikkie stap nader en hy vra: “Ou Pikkie, waarvandaan kom jy?” Hy hoor wat gebeur het en sê: “Laat maak reg op my rekening.”
As die Ganna bos kon praat
Oupa John was ’n goeie en voorbeeldige mens, wat bygedra het dat almal voorspoedig kon leef, insluitende hyself.
So word daar gereeld dokter toe gegaan op Touwsrivier as hy nie te lekker voel na al die boererate nie. Met ’n lang voorskrif word die apteker ook besoek voor die lang tog aangepak word Touw toe.
Na ’n koppie koffie, terwyl Ouma Hester die diere versorg of in die kombuis doenig was, word al die medisyne geproe.
Die wat soet is word geskei van die wat minder lekker smaak – kompleet soos die skape en bokke van Bybelse tyd. Die soetes kry ’n “ereplek” voor sy bed terwyl die minder soetes in die gannabos teen die rantjie naby die kombuisdeur gegooi word.
Nou kan Oupa John “gesond leef” terwyl die dokter en apteker ook finansieël goed daarvan toe is.
Oupa John se Ossewa-ongeluk
Baie jare gelede het Montagu se Afdelingsraad skotskarre en muile gebruik om die paaie reg te maak. Oupa John het kaf en voer vir die trekdiere voorsien.
Een oggend vroeg is hy oppad Montagu toe met ‘n ossewa waarop 100 styfgestopte sakke kaf gelaai was. (Sou graag die hoogte van die vrag wou sien.) Oubergpas was daardie dae bekend vir sy kort draaie en aan Breipaal se kant ‘n afgrond. Op die oggend gebeur daar toe amper ‘n lelike ongeluk. Daar was nie verkeer op die pad nie en die touleier ry saam op die wa en die osse stap rustig aan padlangs.
By so ‘n kort draai ‘vat die voorosse die draai effens kort’ en die agterosse vat die draai met die wa toe nog korter. Wat oupa nie geweet het nie was dat die dorp se slagter, ene Louw Vermeulen, oppad Karoo toe is om te gaan slagvee koop met sy ‘een-perd-twee-disselboom-karretjie’. Die ontmoeting gebeur toe net in die draai. Vermeulen probeer toe teen die krans verby skuur. Oupa se woorde toe hy ons vertel van die insident was: “die perd ken van osse maar het nie geweet van die wa en groot vrag wat nog agter die draai aankom nie.”
Toe die wa tevoorskyn kom skrik die perd en probeer die karretjie terugstoot en raak per ongeluk aan een van die osse wat ‘n harde brul gee. Toe sit al die diere oploop. Die wa tref die ou karretjie en breek al die speke van een van die wiele mors-af. Oupa maak toe gou ‘n plan. Hy laai ou karretjie bo-op die sakke kaf op die wa. (Die ou stukkende karretjie moet na die smidswinkel gaan vir die nodige herstelwerk – wonder presies hoe hoog die vrag op die ossewa toe was.) Van die karretjie se kussing en die leisels het oupa vinnig ‘n saal gemaak vir Vermeulen om verder te perd Karoo toe te gaan vir sy vee-aankope. Alles het toe mooi uitgewerk.
Oupa John was altyd ‘n man met ‘n plan.
Koen Steyn iemand wat ʼn goeie voorbeeld was in my lewe
Uit die boek Verreynne Verhale
Koen was ‘n bale betroubare en lojale werknemer op Keurfontein. Volgens my was hy deel van die Verreynnes se geskiedenis en wil ek graag enkele insidente rakende horm met julle deel. Hy het gedurende 1939 by oupa John op Keurfontein begin werk. Na oupa se verhuising na die Touw gedurende 1951 het my pa die plaas gekoop en hy en Koen het die boerdery op Keurfontein voortgesit.
Koen was ‘n alleenmens. Hy het alleen gewoon en nie met die ander werkers gemeng nie. Sy etes het hy uit Keurfontein se kombuis gekry. Al wat hy self gemaak het was sy koffie. Sy rou koffiepitte het hy in die driepootpot gebrand en tussen twee klippe gemaal. ‘n Platklip vir onder en ‘n ronde een vir bo. (Die klippe is nog in my besit) Die ‘gemaalde’ koffie is in ‘n blik met styfpassende deksel gehou. Elke keer wanneer hy koffie gemaak het, is net genoeg uitgeskep en die res weer in die blik styf toegemaak – ‘anders sou die koffie verslaan en flou word.’

My pa was ‘n afskaffer en het vir niemand drank of dop gegee nie. Koen was egter die uitsondering. Vir hom is daar ‘n kan soetwyn van die dorp af gebring. Die houer waarin sy wyn gestoor was, was ʼn viergellingerdekan, destyds ‘n karba genoem. Hierdie kan soetwyn is in die waenhuis gehou tot laat die aand na Pa van die dorp af gekom het en dan eers na sy huis geneem. Niemand van die werkers het van the geheim geweet nie.
Koen kon maklik twee bottels soetwyn drink. Besope was hy nooit – net sy rooi gesig het sy geheim vir ons wat geweet het, verklap. Pa het gereeld die voorraad aangevul, maar die wyn het nooit probleme veroorsaak nie. Op ‘n oggend kom Koen baie skaam by Pa bieg dat hy die vorige nag die karba laat val het. Skerwe en ʼn nat kol was al wat oorgebly het. So vertel hy dat hy gedurende die nag die skerwe begrawe het en emmers water aangedra en die grond ‘afgewas’ het. Niemand mag van die drank en skade weet nie.
Hy was ‘n ware dieneliefhebber. By geleentheid was ons vir ‘n paar dae weg van die plaas. Die koeie het ongeveer twee myl van die huis af in ‘n lusernkamp gewei. Met ons terugkoms het Pa opgemerk daar is ‘n aantal lusernbale weg Koen het toe besluit die weiding is te min en met die kruiwa vir die diere lusern aangery. Hy was ook die melkman (met die hand). Of dit nou Sondag, Kersfees of vakansiedag was, hy was op sy pos. Aangesien Koen erg aan rumatiek gely het, het Pa opdrag gegee dat van die ander helpers moet help met die melkery. Die volgende oggend drie uur hoor ek die roomtafskeier se klokkie. Na behoorlike ondersoek vind ek Koen, klaar gemelk, besig om die roomafskeier te draai. Sy antwoord was ‘hy wil alleen melkman wees en het nie hulp nodig nie’.
Koen het nie gerook nie. maar gepruim. Hy het slegs ‘n sekere pruimtabak wat op Touwsrivier gekoop moes word, gepruim. Ons het net Sondae kerk toe gegaan en daardie tyd was die winkels nog Sondae toe. Hetta is gereeld lastig geval om die tabak vir Koen te koop. Dieselfde tabak was op Montagu ook te koop. By geleentheid het Pa saam met die kruidenierware op Montagu dieselfde soort pruimtabak gekoop. Ongelukkig het Koen gesien dit kom saam uit een houer van Montagu af. Hy het die tabak van die hand gewys omdat dit ‘Montagu-tabak’ was. Die volgende dag het hy ongeveer 30 myl heen en terug na Touwsrivier geloop en self die ‘regte tabak’ gaan koop.
Verder het Koen ook dikwels ‘n klein stukkie koerantpapier ‘gelees’ veral vir kinders. Hy het die papiertjie vasgehou asof hy lees en die wonderiikste stories vir die kinders vertel asof dit op die papiertjie geskryf was. Die kinders was gaande oor die ‘koerantstories’ en het graag kom luister.
Nadat Keurfontein verkoop is, en Koen reeds afgetree was, het ons vir hom verblyf by oom Mias gekry. Gedurende 1988 is Koen in Montagu se hospitaal oorlede en ons het hom op Montagu begrawe. Ons het ook ‘n grafsteen op sy graf laat aanbring
Bostaande is maar enkele van Koen se eienaardighede en gewoontes. Weens ‘n tekort aan spasie sluit ek hiermee my herinneringe en stories oor Koen Steyn af.
Die Sniffilaar/ Versamelaar en sy stokperdjie
Johnny se passie en liefde vir “oudhede” is sekerlik hoekom hy die voorsitter van die Veteraan Trekker en Enjinklub Langeberg wat deel is van die SAVTEC (South African Vintage Tractor and Engine Clubs), met die Weskaap-tak waaronder verskeie kleiner klubs val. Die Langeberg-tak bestaan alreeds vir 6 jaar en hy is vir 6 jaar al die voorsitter. Johnny en 7 ander manne het in 1992 reeds die Weskaap-tak, wat nou reeds +- 500 lede begin het.
ʼn Paar van Johnny’s se stories

Dié Gibson trekker. Klein trekker wat gebruik was om klein waens te trek op plekke soos die inmaakfabriek in Ashton en die wolmakelaars by die hawens.



Toerusting van Oupa John wat op die dorsvloer van ouds gebruik was
Spoorlyntang van 1928 wat gebruik was om spoorstawe te hanteer. Dit was op die Makadas spoorlyn gebruik


Die Makadas (Make a dash) was die trein wat van Touwsrivier na Ladismith geloop het.
‘n Spesiale stukkie erfporsie van Johnny se pa


Die Windlaaier



Oorspronklike boks van familie radio

Die familie radio wat deur die 6v battery aangedryf was

Die oorspronklike betaling strokie vir die radio


ʼn Vyl met ʼn doel om te verneuk? Die perde smouse het die ou perde se tande afgevyl om ʼn ou perd as jonk te verkoop.

Die sif met sy hout staan plek was op elke plaas te vinde. Die plaas vrou het dit gebruik om meel te sif. Die pyltjies dui aan waar die sif op die hout raamwerk gesit het.


Die bord het van De Wets dorp gekom.

Die bord het van Kuruman gekom en op ʼn plaashek gestaan. Johnny het dit vir ʼn naam bord geruil wat hy laat maak het
Die petrol pomp is gevind by die ou Allemorgensfontein Stasie op die Ouberg pad. Die handvatsel het sy eie storie sien later


Johnny op soek na die oorspronklike staanplek van die petrol pomp in die Anybergs se natuurreservaat. Die pomp het diens gedoen vir die ou kontant winkel wat agter in die prentjie staan
Die pomp se stoor tenk


Die petrol pomp se staan plek
Johnny het die pomp in dié huis by die ou Allemorgensfontein stasie opgespoor. Die huis is een van ʼn paar wat gebou is vir spoorweer werkers. Die stasie is omtrent 5kilo’s van sy oorspronglike staanplek. Die ou spoorlyn vanTouwsrivier na Ladismith het reg voor die huis geloop


Dié struktuur is ʼn ou water tenk. Die trein moet die water inbring vir die werkers wat by die Allemorgensfontein stasie gebly het.
Die handvatsel van die pomp is gevind langs die pad omtrent 10kilo’s van die kontant winkel af, per ongeluk. Johnny vertel dat hy gestop het om met ʼn ou bekende, wat in die huis agter gewoon het te praat, en toe sien hy die handvatsel wat in die bos langs die pad lê. (Sien foto hier onder)

Die Greenlands Heritage Shed Versameling
Geenlands Plaas is op die R60 pad tussen Ashton en Swellendam. Die publiek kan die versameling besoek. ʼn Paar van die Sniffilaar se gunstelinge
LANZ BULLDOG
Model 1950
Perdekrag: 45
Geskiedenis: Ek het hierdie trekke in 1995 gekoop as deel van my versameling. Die trekker het voor sy aftrede aan ʼn Dorskontrakteur behoort en sy werk was om dorsmasjiene van plaas tot plaas te sleep waar hy dan die dorsmasjien met dryfband moes aandyf.
Let op agterste voetplaat die kringe wat die gasslilinder wat vir “start’ gebruik was, geslyt het terwyl die trekker staan en werk het.




Die gloeikop is eers warm gemaak met ʼn spesiale blaaslamp. Dan gebruik jy die stuurwiel om die enjin te start
Fordson Model F (1923).
Gewig: 3000lbs (1½ton).
Trekstang Perdekrag: 12pk.
Spoed: 7.75 m.p.u. (hoogste rat- 3 ratte vorentoe).
Enjin p.k.: 27@1100 r.p.m.
Vanaf 1917 tot 1927 het Henry Ford 750,000 (¾ miljoen) Model F trekkers gebou. Hiervan is 451 tot 1927 in Suid – Afrika verkoop.
Sover bekend is hierdie trekker die enigste oorspronklike Model F in Suid-Afrika-baie beslis die enigste in die Wes-Kaap. Hierdie trekker se onsteking-sisteem is presies dieselfde as die ModelT (“Pedal Ford”).

Die Fordson is opgebou uit twee wrakke. Die een opgespoor by Cradock en die ander een by die Verwoed Dam


Minneapolis – Moline
Model: ZTU
Jaar: 1939
Die trekker het aan my pa behoort.
Die trekker is nuut gekoop teen 300 pond. (R600 by G North & Son Worcester)
Dit het oorspronklik op staalwiele geloop.
Na die tweede wêreld oorlog is hy oorgesit op rubber wiele (oorspronklike binne dele
van stal wiele is nog in gebruik)
Op staal wiele het hy slegs 4 ratte vorentoe gehad. Die 5 de rat was afgesluit.
Op rubber wiele is die rat weer oopgemaak en het hy nou 5 ratte.
Ander fiete i.v.m. die trekker
- Hy het omgeval
- Het al uitgebrand
- Het al by ʼn museum gaan draai
- Die voorwiele was oorspronklik nou (Rowcrop) gewees
- Die rowcrop het gebreek en ʼn standard vooras is ingesit
- Daar is al 3 maal in die Vrystaat vir parte gaan soek
- Ringe, pakstukke en emblem is gekry – C. Beneke – Reitz
- Blokke en sylinderkop gekry – J. Schrimper – Marquard
- Krukas gekry – M. Ferreira – Clocolan
- Rowcrop voorstel gekry – Omega Spares – Bethlehem
- Krukas laers is onverkrybaar – selfs in die VSA
- Laers het S. Hammond, J. Stemmet en ek self gegiet en masjineer op Robertson
- Die trekker het 40 jaar gelede laas geloop.
- Ek en helper Jan. Plaatjies het om en by 240 uur gespandeer tot ʼn derde herbouing wat in 2009 voltooi is.
- Selfs my ou vriend Jamie Klem het hand kom bysit.
- Die trekker is sover bekend een van twee lopend in RSA.


