140.Mense Van Montagu: Michael “Gallie” Claassen (Die Haarkapper)

Michael Josias Jacobus Claassen en Annie Maria Elford (Anna)

Oom Claassen werk al 50 jaar in salon
Montagu Mail August 1999
In ‘n mooi outydse Karoo-huis in Badstraat 37 is ‘n stukkie Montagu geskiedenis soos ‘n outydse ruiker onder ‘n glasbel vasgevang.
Op die stoep van Salon Excelsior staan twee groot potte outydse aspidistras en die huis is ‘n rustige blougroen geverf. Binne is dit informeel en gesellig, meer soos ‘n woonhuis as ‘n salon.


Hier woon en werk mnr. Michael Claassen al bykans 50 jaar as dameshaarkapper. Daar is min mense op Montagu wat al so lank in een bedryf staan of ‘n eie besigheid so lank self bestuur.
Letterlik geslagte Montaguers ken die regop, vriendelike Oom Claassen, altyd uitgevat in ‘n vleklose wit oorjas. Sy kliente wissel van die ouer dames op die dorp wat dit as ‘n spesiale uitstappie beskou om hul hare by die salon te laat kap, tot jong manne wat ‘n vinnige nommer twee benodig.
Want Oom Claassen het ook die met die tyd stilgestaan nie en selfs al adverteer hy as ʼn dameshaarkapper, is hy gewillig om albei geslagte se hare te doen.
Oom Claassen vertel die verhaal van sy beroep; Waar die Inn Place (Dit was nie moontlik om vas te stel waar die Inn Place was nie, maar dit kan heel moontlik die gebou langsaan aan op die linkerkant gewees het as mens voor Oom Claassen se gebou staan) nou staan, ʼn haarkapster in die veertigerjare haarsalon kom open. Tot dan was daar geen haarkapper op die dorp nie – mans se hare is met die nommer een of twee knipper gesny en dames moes na Swellendam of selfs die Paarl reis om hare te laat kap.
Toe Oom Claassen en tant Annie in 1950 op Montagu aankom, het hy as assistent in die salon gaan werk en so sy eie kliente gekry. Toe die salon vyf jaar later sluit, het hy sy eie salon langsaan oopgemaak – en hier werk hy nog, 45 jaar later, as haarkapper.
Oom Claassen verkies om sonde vennote te werk en persoonlike aandag is sy wagwoord. In die salon is die atmosfeer besonder rustig. Daar is geen gejaagdheid of onnodige lawaai nie.
Die salon is ook ‘n bymekaarkomplek vir ‘n geselsie, die meeste dae is daar ʼn gesellige groepie mense wat kom inloer het terwyl Oom Claassen ‘n wakende oog hou oor ‘n klient onder die droër.
Die haarkapper met die flinke vingers dink nog glad nie aan aftree nie. “My gereelde kliente sal dit nie toelaat nie!” sê hy. “En ek geniet dit om aktief te bly”.
Claassen die Vroue- haarkapper
Uitreksel uit die boek Vroue van Montagu 1900-2000
deur Yvonne Bussell
Dit was vroeër dae uiters ongewoon dat ’n man vrouens se hare doen, maar ou Klasie het sommer baie klandisie gehad want hy het vir jou ’n lekker stywe “perm” gegee. My suster Annie Millin het altyd gesȇ sy was sy eerste kliënt, en op 94-jarige ouderdom totdat sy in die ouetehuis oorlede is, moes hy nog haar hare gaan sny. Of hy het haar kom haal en, so oud soos hy is, nog ingesukkel na sy salon om haar ’n stywe “perm” te gee. Die ouer dames het nog gereeld na hom gegaan en so sukkel-sukkel het hy nog sy nering bedryf, totdat hy en sy vrou in 2004 in ’n ouetehuis opgeneem is. Sy vrou Anna het hom altyd gehelp en albei het tot diep in hulle tagtigs nog groot diens aan Montagu se mense gelewer.

Montagu Mail January 2005
‘n Paar herinneringe
Anelma Oosthuizen: Ek weet goed van Claassen haarkapper. My ma se hare is by hom geperm. My eie hare toe ek nog student was is deur hom geperm. Hy en sy vrou het net een kind gehad, Mannette. Sy was saam met my suster in die kindertuinskool op Montagu in sub A. In dieselfde sub A jaar is Mannette hospitaal opgeneem om haar mangels uitgehaal. Terwyl die doktor besig was om haar mangels uit te haal toe sterf Mannette (1946-1953) op die operasietafel. Sy was allergies vir chloroform. So het ons gehoor. Toe moes die Sub A klassie die begrafnis in die NG kerk bywoon. Hulle moes almal skoolbaadjies dra. My suster Almari het nie ʼn baadjie gehad nie net ʼn trui. My ma het ʼn baadjie gaan leen by vriende.
Wat betref Claassen se haarsalon: al die jare wat ek weet van hom was sy salon in die gebou waar ek ʼn boekwinkel gevind het toe ek laas op Montagu was. Die Claassens het in die selfde gebou as die salon gewoon. Dis in Badstraat langs wat nou ʼn gastehuis of hotel is. Die gastehuis/hotel was vroeër ʼn winkel. Dis als aan die noordekant van Badstraat. Waar die Inn Place is weet ek nie. Ken dit nie. Ek wonder of die Inn Place nie die gastehuis/hotel is nie. Die gastehuis/hotel is rigting van Montagu Country hotel. Aan die anderkant van die Claasen gebou dink ek is ʼn hoekgebou waar ʼn verfwinkel en kafee in my tyd was.
Paul Fouche: Oom Claassen onthou ek baie goed, want my niggie, Ria van Zyl, opgeleide haarkapster, was 1964/1965 deel van sy personeel. Sy winkel was ‘n instelling vir my ouderdomsgroep. Sommer altyd daar – deel van Montagu wat nie verander nie.
Die haarkappersalon se ingang sien ek nog duidelik voor my geestesoog, maar my geheue laat my al so in die steek dat ek nie meer die ligging van die winkel helder kan onthou nie. Ek wil my al verbeel die salon was net na tannie Ruk en Pluk se winkel, skuins oorkant die Aero, nog voor Brinks se winkel van die Montagu hotel se kant af, maar ek mag die kat aan die stert beethê.
Van die eerste haarsalon waar Claassen begin het, weet ek helaas nie kop of stert nie. Niemand het ooit daaroor gepraat nie. In my teenwoordigheid het tantes net oor oom Claassen gekla of hom lof toegeswaai wanneer enigiets oor hare of voorkoms ter sprake was. Met oom Lou Kriel langsaan, die Alwyn-bioskoop om die draai met ‘n goeie oes cowboy rolprente, en ‘n Ford en Chev handelaar op die dorp was ‘n haarsalon en tannies se gesanik oor hoe hulle lyk nou die allerlaaste ding wat ‘n klong in my kinderjare hoegenaamd in belanggestel het.
J.L. Vossie Vos: Ryno se “Karoo Art and Photography” ateljee en sy vrou se “Natural Health shop” doen vandag besigheid daar waar oom Claassen se vrouehaarsalon destyds was. Met sy netjiese voorkoms en plat agteroor gekamde gitswart hare, kon hy op sy dag nogal ‘n paar van die tannies skaflik anders laat lyk as hul sy salon verlaat en ligvoets die trappies aftrippel.
A Montagu resident of longstanding comments as follows:
Yes ,I went there about 10 + times and remember a delicate framed, professional and humble caring gentleman.
What I remember……
I went many times when first coming to Montagu and this was in the late 1990’s
On one visit he said the price had gone up 50 cents, and I mumbled that inflation affected everyone, he replied the increase was due to having to replace his scissors.
On another visit he was concerned as the Blue Rinse Ladies were declining and he’d lost 5 in the past year, and it was now not popular amongst the younger ladies.
Montagu’s characterful people are what makes Montagu what it is, but as they fade away, new characters seem to appear to give our village colour, like new seeds planted in fertile soil.
