101.Die Jordaans van Het Kruis
Deur Irma Jordaan
Die Jordaanfamilie van Montagu is een van die oudste families in die Montagu- omgewing, waar die sesde en sewende geslag nog steeds boer in die Baden-en-Keisie distrikte. Sedert ongeveer 1790 is hulle wortels diep ingegrawe in die geskiedenis en gemeenskap van Montagu.
Paulus Jordaan was die eerste Jordaan wat hom hier in die Montagu-omgewing kom vestig het. Sy oupagrootjie Jean Jourdan het as Hugenote-vlugteling in 1688 in die Kaap aan wal gestap, met nie meer as net sy klere aan sy lyf nie.
Redes wáarom Jean Jourdan en van sy familie uit Frankryk gevlug het:
In 1495 vlug Brunet Jourdan (gebore omstreeks 1450 en voorvader van Jean Jourdan) omrede vervolging deur die Katolieke Kerk saam met 77 Waldensiese families oor die berge vanuit Fressiniéres, Italië, na die Luberon-vallei om hom in Cabriéres d’Aigues te gaan vestig. Die Jourdans was dus van Italiaanse oorsprong. Hulle het slegs 193 jaar in Frankryk gebly, voor hulle weer eens, as gevolg van hulle Protestante geloof na die Kaap de Goede Hoop gevlug het.
Op 3 Maart 1685 maak die VOC ‘n aanbod aan die Hugenote om hulle aan die Kaap de Goede Hoop te kom vestig;
Koning Lodewyk XIV herroep die Edik van Nantes op 23 Oktober 1685. As gevolg hiervan wordword alle Franse Protestante van godsdiens- en burgerlike vryhede ontneem.
Vlug uit Frankryk:
Jean Jourdan vlug saam met van sy moeder, Jeanne (Jehanne), sy suster Marie en dié se drie dogters uit hulle tuisdorp Belle Ètoile, wat in die Luberonstreek van Provence in Frankryk geleë is. Hulle vlug te voet deur Annecy (Frankryk), Geneve en Zurich in Switserland en daarna deur Duitsland tot in Nederland waar hulle asiel verkry.
Voorheen was aangeneem dat die voorvader van die Jordaans in Suid-Afrika afkomstig was uit die dorpie Cabrierres-d’Aigues, maar soos verwys hierbo was hulle afkomstig van Belle Étoile, ‘n klein dorpie wat 4,5km oos van Cabriéres d’Aigues geleë is.
In Frankryk was die Jourdans vooruitstrewende boere. Hulle het in ‘n groot kliphuis gewoon en met vee, graan, wingerd en olywe geboer. Die huis het bestaan uit ‘n onderste vlak waar die diere opstal gestaan het gedurende die koue, nat winters. Die familie het op die volgende vlak gebly en die diere se liggaamshitte het dus hulle woonplek verwarm gedurende die winter. Op die solder is graan geberg en op die dak, wat ook van klip gebou was, ‘n duiwehok. Die duiwe is aangehou vir vleis, en die mis is gebruik vir bemesting.
Na ‘n periode van meer as twee jaar se onderhandeling met die Nederlandse regering, waartydens die Jourdanfamilie in Nederland vertoef het, vertrek hulle saam met Hugenote vlugtelinge op 20 Maart 1688, met die VOC-boot Die China, vanaf Gorree, na die Kaap. Daar was 34 Huguenote vlugtelinge aan boord. Volgens Martinus Jordaan was die boot waarin hulle na die Kaap gevaar het se naam Die China en nie die Berg China soos voorheen daarna verwys is nie.
Slegs Jean van sy familie oorlewe die seevaart en op 4 Augustus 1688 loop hy aan wal by die Kaap de Goede Hoop. Inderdaad slegs 10 van die oorspronklike 34 Huguenote vlugtelinge wat aanboord gegaan het in Nederland, oorlewe die reis.
Vestiging Na aankoms in die Kaap de Goede Hoop:
Twee en ‘n half maande na Jean se aankoms aan die Kaap, vertrek hy op Donderdag 14 Oktober 1688, saam met goeweneur Simon van der Stel en dié se beamptes en sy mede-passassiers na die Drakensteinvallei.
Die geselskap oornag die eerste aand by De Kuilen (nou bekend as Kuilsrivier). Verskeie vlugtelinge ly aan disenterie (ook toe bekend as buikloop) waaraan sommiges sterf. Sterftes was so ‘n algemene verskynsel daardie tyd dat daar nie eers van rekord gehou is nie.
Die geselskap ry die volgende middag die klein nedersetting van Stellenbosch binne, waar hulle vir die volgende vier aande oornag. Stellenbosch het al toe reeds bestaan, aangesien dit in 1679 deur Simon van der Stel gestig is en wat hy na homself vernoem het. Dit is die die tweede oudste dorp in Suid-Afrika.
Dié Sondagoggend lewer die Huguenote predikant, Pierre Simond, die eerste preek. Hulle sit hulle tog op dag vyf na hulle aankoms op Stellenbosch voort na die Drakensteinvallei.
Die destydse Drakensteinvallei wat ook bekend was as “Olifantshoek”, het die hele gedeelte van die Paarl tot Olifantshoek behels en sou later as Franschoek bekend staan.
Die volgende oggend vind hulle hulself in die vallei tussen die Bergrivier en die Rivier Zondereind. Twee dae later het die geselskap nog steeds hulle pad deur die ongerepte natuur gevind, met hulle spanne osse en die waens wat vallei-op beur. Die Goeweneur was baie in sy skik om die Hollanders wat hy die vorige jaar daar gevestig het se mooi oeste te sien. Hy het die Huguenote, sommiges met families en ander ongetroud, begin aflaai tussen die Hollandse boere. Die Huguenote se enkele besittings is afgelaai tussen die lang gras en elke ongetroude óf familie is op sy toegekende, ongerepte en onbewerkte grond gelos om sy eie toekoms te begin.
Die groep Hugenote het 20 trekosse, 20 verse, 100 skaapooie en 100 slagskape gekry van Goeweneur van der Stel en dit is onder hulle verdeel. Dit is ooreengekom dat hulle die koste van dié vee oor ‘n lang termyn terugbetaal.
Jean se stuk ongerepte stuk grond van 54,6 hektaar wat hy gekry het, het hy later “La Motte-d’Aigues” genoem.
Hulle het die grond as vrye eiendom ontvang, wat beteken het dat hulle dit kon verkoop of aan ‘n erfgenaam nalaat. Sestien boere moes ‘n span osse met een ploeg deel. Elke boer het ‘n graaf en sekel ontvang asook 1 kg ammunisiepoeier en ½ kg lood. Twee bure het ‘n “firelock” ontvang wat hulle moes deel. Dit moes gebruik word om hulleself teen leeus, luiperds en die Khoikoin wat rondgeswerf het en wat die boere aangeval het, te verdedig.
Om vir hulle huise te bou, het elke persoon 2 bytels, 2 handbyle, 2 vyle, 1 skaaf, 1 saag, een handboor, 1 troffel en 2,3kg spykers ontvang. Planke is ook voorsien om ‘n tydelike afdak te bou vir skuiling.
Omdat hulle geld min was en hulle nie tyd gehad het om stene te maak nie – is die mure van hulle huise van klei en takke gebou. Die vensters is met sak toegemaak en die dak met gras gedek. Tyd is gespandeer om eerder ‘n groentetuin te plant en met hulle boerdery te begin.
Die distriksbelasting wat die nuwe grondeienaars moes betaal, was bekend as “leeu- en tierbelasting”. Hierdie benaming van die belasting is ook ‘n aanduiding van hoe ongerep die Olifantantshoekvallei inderdaad was.
Die nuwe Hugenote boere het gesukkel met die ongerepte natuur, skuld by die Kompanje vir implemente en die feit dat hulle eers oor drie of vier jaar produkte sou kon lewer. Hulle was so ‘n swaar las vir die Kompanje dat die Bataafse Regering ‘n wisselbrief van 6,000 riksdaalers na die Kaap gestuur het. Die geld is in April 1690 onder die Franse gemeenskap verdeel. Jean het 230 riksdalers daarvan ontvang. Die Goeweneur het ook kort daarna ‘n geskenk van osse aan die Huguenote gestuur.
Gesin
Jean Jourdan, is na sy aankoms in die Kaap getroud met Isabeau le Long. As Hugenote vlugteling het sy eers ‘n jaar na Jean in die Kaap aangekom.
Hy het sy plaas La Motte-d’Aigues vernoem na sy buurdorp in die Luberon-vallei in Frankryk, vanwaar sy vrou gekom het. Jean was die enigste van die Hugenote wat toegelaat het dat sy vrou hulle plaasnaam kies.
Uit die huwelik van Jean en Isabeau is vyf kinders gebore: Pieter (1691), Jan (1693), Paul (1695), Louis (1697) en Johanna (1698).
Tien jaar na sy aankoms in die Kaap sterf Jean op 38 jarige ouderdom, voor die doop van sy jongste kind, Johanna.
Hoe hard hy gewerk het in daardie 10 jaar is ‘n bewys aan sy nalentenskap – 8000 wingerdstokke, 12 koringmiedens, 130 skape, 1 os, 1 koei en 34 bokke.
Na Jean se dood trou Isabeau in 1699 met Jacques Malan wat uit dieselfde dorp as Jean afkomstig was en ook saam met Jean en sy familie uit Frankryk gevlug het.
Uit die huwelik van Jacques en Isabeau Malan word 7 kinders gebore. Nié net was Isabeau die stammoeder van al die Jordaans in Suid-Afrika nie, maar sy is ook die stammoeder van die Malanfamilie in Suid-Afrika.
Met verloop van tyd, soos die integrasie in die Nederlandse gemeenskap plaasgevind het, het die van Jourdan na Jordaan verander.
Daar word na twee Pierre Jourdans verwys wat ook as Hugenote vlugtelinge in die Kaap aangeland het. Voorheen was dit ook aanvaar dat een van dié Pierre’s, Jean se broer was. Deur navorsing wat Marthinus Jordaan gedoen het, word nou aanvaar dat hulle neefs kon gewees het. Geen van die twee Pierre Jourdans het egter enige afstammeling nagelaat nie – so al die Jordaans in Suid-Afrika is afstammeling van Jean Jordaan.
STAMBOOM VAN DIÉ JORDAANS VAN VOOR
HULLE WAT OP HET KRUIS GEVESTIG IS:
PIERRE JOURDAN
gebore in 1620 in Provence Frankryk en oorlede op 28 Februarie 1687 in die ouderdom van 67 jaar
getroud in 1646 in Frankryk.
JEHANE MARQUE GRANGE
gebore in 1626 in Belle Etoile, St Martin, Vauclause, Frankryk, oorlede gedurende 1688 ter see op Die China in die ouderdom van 62 jaar.
seun:
JEAN JOURDAN
(1660 – 1698)
trou met
ISABEAU “ELIZABETH” LE LONG
(1668 – 1698)
(Dogter van PIERRE LE LONG (1630-1705) en JEANNE GAUIRAN (1635-1703) van La Motte d’Aigures, Vacluse, Provence-Alpes-Côte d’Azur, Frankryk)
Derde kind gebore uit hulle huwelik (eerste geslag in Suid-Afrika)
PAUL JOURDAN
(1695 – circa 1743)
Gedoop 25.9.1695
Oorlede circa 1743 in die Swartland
Boer op die leningsplaas
Vlackenheuvel en De Bosjesmansfontein
Trou op 16 September 1724 in die Drakenstein
met
RACHEL NEL
(Gedoop 10.7.1707 – Oorlede 1771)
(Dogter van ESTIENNE NIEL (NÉEL/NEL) gebore 1668 te Dauphine, Basses-Alps, Frankryk en MARIE-MADELEINE TAILEFER (BORN MARAIS) (1673-1716) van le Plessis-Marlé Hurepoix, Ile-de-France, Frankryk)
Een van hulle 9 Kinders was:
PIETER JORDAAN
(1737 – ?)
boer op die leningsplaas Rietvallei
Hy trou op 2 November 1766 met
GEESJE WILHELMINA SMIT (neé BOTHA)(gebore SMIT)
(30.1.1735 – 1779)
(Dogter van ERASMUS SMIT en CORNELIA VAN EMMENES)
(nota: die Smit leningsplaas in die Sandveld (Piketberg) was bekend as Het Kruis)
Een van hulle 4 Kinders was:
PAUL “PAULUS” JORDAAN (Gedoop 6.3.1768 – oorlede circa1828).
Hy trou met
MARIA JOHANNA JOUBERT
Gedoop 3.4.1790
(Dogter van JACOBUS FRANCOIS JOUBERT en SARA SUSANNA MOLLER)
Net so oor ‘n honderd jaar sedert sy oupagrootjie in die Kaap aangekom het as vlugteling, trek Paulus Jordaan (voor ongeveer 1790) vanaf die Sandveld deur die Koo-Vallei na die Montagu, waar hy hom vestig op die leningsplaas wat hy Het Kruis noem in die “Swellendamse Veldkornetskap van Agter de Cogmanskloof” – nou bekend as Montagu.
Uit sy huwelik met Maria Johanna Joubert word 4 kinders gebore, een seun en 3 dogters, waarvan een vroeg oorlede is.
Later, nadat sy kinders getrou het, verdeel hy die plaas in 3 gedeeltes. Die boonste gedeelte langs die berg gee hy vir sy seun Francois en dit word bekend as Bo-Kruis. Die middelste gedeelte van die plaas, bekend as Middel-Kruis aan Alewyn Petrus Burger (vanaf Concordia, Koo) met wie sy dogter Sarie getroud is en die onderste gedeelte, bekend as Onder-Kruis aan Joachim Jan Hendrik Viktor, die man van sy ander dogter Maria Johanna Paulina Jordaan.
Die plase word as afsonderlike plase geboer maar eers in 1859 word dit op sy kinders hulle/afstammelinge se name oorgedra.
Terloops, Joachim Viktor het die woonhuis waarin Pieter “Venna” Venter en sy gesin tans woon, self gebou.
Die huis op Onder-Kruis wat Joachim Viktor gebou het
Gedurende 1813, tydens die tweede Britse besetting aan die Kaap, word die Proklamasie van die omskakeling van leningsplekke na ewigdurige erfpaggrond uitgereik deur die Britse Koloniale regering.
Op 15 Desember 1825 word die leningsplaas Het Kruis toegeken aan Paulus Jordaan met die volgende dokument.
Folio: 185
By His Excellency the Right Hon. General Lord CHARLES HENRY SOMERSET one of His Majesty’s Most Honourable Privy Council, Colonel of His Majesty’s 1st West India Regiment, Governor and Commander in Chief of His Majesty’s Castle Town and Settlement of the Cape of Good Hope in South Africa, and of the Territories and Dependencies thereof, and Ordinary and Vice Admiral of the same, Commander of the Forces etc.etc.etc.
I do hereby grant on Perpetual Quintrent, unto
PAUL JORDAAN
A Piece of One Thousand Eight hundred and Thirty Four Morgen and Forty-five Square Roods, of Land, situated in the district of Swellendam Field Cornetcy of Agter de Cogmans Kloof, being the Place
Folio: 185
By His Excellency the Right Hon. General Lord CHARLES HENRY SOMERSET one of His Majesty’s Most Honourable Privy Council, Colonel of His Majesty’s 1st West India Regiment, Governor and Commander in Chief of His Majesty’s Castle Town and Settlement of the Cape of Good Hope in South Africa, and of the Territories and Dependencies thereof, and Ordinary and Vice Admiral of the same, Commander of the Forces etc.etc.etc.
I do hereby grant on Perpetual Quintrent, unto
PAUL JORDAAN
A Piece of One Thousand Eight hundred and Thirty Four Morgen and Forty-five Square Roods, of Land, situated in the district of Swellendam Field Cornetcy of Agter de Cogmans Kloof, being the Place K R U I S hitherto occupied by him on loan.
Extending S.S.W. against the Lange Berg; W.N.W. contiguous to the land forming the loan place Goede Moed; N and NE by E against the Kyziesberg, and SE. towards a piece of Quintrent land, occupied by Gideon Joubert distant about 130 roods; as will further appear by the Diagram, framed by the Surveyor, on condition, of his punctually paying or causing to be paid, at the expiration of every twelth month from the Date of these presents, unto the Receiver General of Land Revenues the sum of
Fifty-Four Rixdollars
and be bound (according to the existing Laws of this Settlement) to have the Boundaries properly traced out, and the land brought into such a state of Cultivation as it is capable of within the first three years; the Land thus granted being further subject to all such Duties and Regulations as either are already or shall in future be established, respecting Lands granted under similar Tenure.
Given under my Hand and Seal, at the Cape of Good Hope, this 15th Day of December 1825
By His Excellency’s Command
(sigd) Richard Plastet
Secretary to Govt
A true copy, issued in lieu
Of the Dup. Original declared to have been lost
Sur: Generals Office) Wm H Horne
9th Jan: 1894) Pro Surveyor General
Op 4 September 1836 sterf Jacobus Francois Jordaan, die seun van Paulus onverwags op 28 jarige ouderdom. Op dieselfde dag gee sy vrou Griet geboorte aan hulle derde kind, ‘n seun, wat Abraham Johannes Hendrik Jordaan gedoop word.
Óf die geboorte aangebring is as gevolg van die skok van die skielike dood van Jacobus, kan ongelukkig nie gesê word nie. Sy weduwee, Griet, staan egter nooit weer op uit die geboortebed nie en sy sterf ongeveer twaalf dae na die dood van haar man. Die drie kinders word wees agtergelaat en was toe onderskeidelik drie jaar, ‘n jaar en etlike weke oud.
Hulle word ingeneem deur hulle tante Sarie en haar man Alewyn Petrus Burger van Middel-Kruis wat toe alreeds twee kinders gehad het. Omtrent 6 weke na die dood van haar broer, word haar derde kind gebore. Daarna het sy nog sewe kinders gehad.
Nou kan mens verstaan dat die eerste skool in die Montagu omgewing op hulle plaas, Middel-Kruis was – met dertien kinders in die huis!
In Oktober 1849, vyf jaar voor Montagu as ‘n dorp erken word, begin mnr. Bernardus Johannes Keet skoolhou op Middel-Kruis, plaas van Alewyn Petrus en Sara Susanna Sarie Burger (neé Jordaan). Dit was die eerste skool in Montagu en omgewing.
As onderwyser ontvang Mnr. Keet ʼn toelaag van £30 per jaar vir 3 jaar lank van die Koloniale regering, wat onderhewig was aan die volgende voorwaardes:-
1. Die ouers moes minstens 5/- per kwartaal vir elke skoolgaande kind betaal.
2. Huisvesting vir die onderwyser asook ʼn skoolgebou moes deur die ouers voorsien word.
3. Engels moes ʼn plek in die leerplan kry.
Die lewensduur van hierdie skooltjie was egter nie lank nie, want op 30 September 1852 het mnr. Keet bedank as onderwyser en het die skooltjie opgehou om voort te bestaan. Sewe jaar later op 1 April 1859 is dit heropen met as onderwyser die heer James Rattray wat voorheen skool gehou het op die plaas Zandvliet in die gemeente van Robertson.
Aangesien daar heelwat kinders in die omgewing gewees het, kon mnr. Rattray begin met 20 leerlinge. Op die dorp Montagu was op daardie stadium geen skool nie en sommige ouers het by mnr. Rattray aansoek gedoen om hulle kinders na sy skool te stuur. Hierdie skooltjie se deure is in 1862 gesluit en is toe na die Koo verskuif.
Abraham Johannes Hendrik Jordaan een van die seuns van oorlede Jacobus Francois Jordaan, boer op die plaas Bo-Kruis en sy ouer broer Paul Jacobus Jordaan, boer op Onder-Kruis wat die familie in 1868 van hulle oom J J H Victor gekoop het. Hulle suster Hester trou met Jacobus Francois “Koos” Joubert van Baden.
Alhoewel die twee plase apart geboer is, verdeel Abraham en sy broer Paul egter eers hulle grond in 1894.
Al drie kinders van Jacobus Francois is getroud met kinders van Josua Petrus Joubert (broer van hulle ouma Maria Johanna Jordaan (Joubert)). Josua het op Die Erf gebly en dit in 1844 aan A P Burger en J J H Victor verkoop. Hy het daarna op die plaas Rietvlei II gaan woon.
Josias Petrus Joubert en sy vrou Susanna Catharina Maria Burger
Abraham Johannes Hendrik Jordaan trou met sy eerste vrou Aletta Helena Joubert (toe 17 jaar oud) van Rietvallei II op 30 Mei 1860
Abraham Johannes Hendrik Jordaan
Aletta Helena Joubert
Uit hulle huwelik word nege kinders gebore, vier seuns en vyf dogters. Die jongste seun, Jozua Petrus Joubert Jordaan sterf in 1895 op die ouderdom van 20 jaar aan tifus. Hy word in die begraafplaas op Bo-Kruis begrawe
Bo-Kruis begraafplaas wat teen die koppie geleë is
Aletta sterf op die ouderdom van sewe-en-dertig jaar en word ook in die begraafplaas op Bo-Kruis begrawe.
Op 4 Mei 1880, vyf maande na die dood van sy eerste vrou trou Abraham met Sara Johanna van der Merwe (gebore Jooste)
Abraham en Sara in later jare
Uit hierdie huwelik word drie kinders gebore, een seun Johannes Hendrik Jordaan en twee dogters. Beide dié dogtertjies is vroeg oorlede.
Sara sterf op 18 April 1910 en vier maande later trou Abraham met sy derde vrou, Sara Susanna Rothman (gebore Van Coller). Sara sterf sewe jaar later op 4 Julie 1917 en sy word in die ou Kerkhof op Montagu begrawe.
Geen kinders word uit die huwelik gebore nie.
Abraham en Sara Jordaan
Sara se graf in die ou begraafplaas in Montagu
Twee maande na die dood van Sara trou Abraham op die ouderdom van 85 jaar met sy vierde vrou, Susanna Wilhelmina van Blommenstein.
Abraham bou vir hom ‘n pragtige opstal op sy plaas Bo-Kruis.
Bo-Kruis opstal
Familie wat rondstaan sluit in: Mevr “Apie Talana” Burger, Mevroue:”Pollie” Jordaan en Johannes Jordaan, Oupa Abraham, Ouma Let, “Polllie” Jordaan en Kowie Bruwer. Kinders: Abie Jordaan, Daisy Jordaan – ander onbekend
Abraham gee aan twee van sy seuns, Apie en Pollie elk ‘n stuk grond op die plaas wat hulle as hulle eie bewerk. Apie se plaasgrond nou bekend as Baden – in die Badenvallei is nog in besit van sy agterkleinseun Jean-Pierre Jordaan en Pollie se grond bekend as Bordeaux (óf nou meer algemeen bekend as Drie Berge) is tans in besit van sy kleinseun Paul Jordaan wat saam met sy seun Paul-Pieter boer.
Beide Apie en Pollie bou vir hul ‘n pragtige woonhuis op hulle grond en gebruik dieselfde bouplan.
Saam met hulle half-broer Johannes, erf Apie en Pollie Bo-Kruis na die afsterwe van hulle vader in 1923. Die eiendom word finaal verdeel tussen hulle drie in 1928.
In 1919 trek Abraham en sy vierde vrou dorp toe om daar te gaan woon in Badstraat (waar dr. Cronje die tandarts) se spreekkamer tans is. Johannes boer toe op Bo-Kruis en hy verkoop in dieselfde jaar ‘n gedeelte van die plaas met waterregte aan die Montagu Munisipaliteit. Heel moontlik was die rede vir die verkoop van die plaas/waterregte om geld te kry vir die aankoop van die huis in die dorp vir sy vader.
In 1927 verkoop hy weer ‘n verdere gedeelte van die plaas met waterregte aan die Munisipaliteit. Na die oordrag van die plaas in 1928 op sy naam, verkoop hy die restant aan ‘n mnr. Ansell en koop toe die plaas Nuweland wat langsaan die oorspronklike Het Kruis geleë is. Abrie Jordaan, sy agterkleinseuns boer nog steeds op Nuweland.
Apie en Rachel Jordaan (2de vrou) – foto moes op hulle troudag geneem gewees het
Pollie en Lenie Jordaan
Johannes en Sarah Jordaan
Die dogters van Abraham trou met bekende mans op Montagu en van die Robertson-omgewing:
Susanna Jordaan trou met Alewyn Petrus Burger van die plaas Talana in die Montagu-distrik;
Lettie Jordaan trou in 1886 met Kowie Bruwer wat geboer het op Uitsig in die De Hoop-distrik in Robertson;
Miemie Jordaan trou in 1886 met Ernst Bruwer wat geboer het op Mont Blois in die De Hoop-distrik in Robertson;
Hester Jordaan trou met P.J. Joubert wat gewoon het in La Rochelle, Langstraat, Montagu ‘n bekende algemene handelaar en wyn-en-spiritualieë- maker-en-verkoper;
Sarah Jordaan trou met Jan Celliers van Robertson. Die huwelik het egter op ‘n egskeiding uitgeloop en sy is weer getroud met Reginald Kysh, ‘n Engelsman wat in Indië gebore is. (‘n Groot skandaal in daardie tyd!)
Foto geneem by Abraham se verjaarsdag – circa 1903
v.l.n.r. Ernst Bruwer, Lenie Jordaan met Abrie op haar skoot, Johannes Jordaan, Sarah (2de Vrou), Abraham Jordaan, Anna Elisabeth Jordaan 1ste vrou van Apie wat langs haar sit met Joel Jordaan op sy skoot
Voor: v.l.n.r. Drie Joubert seuns (onseker van volgorde) Abraham, Pierre en George (kinders van P J Joubert en Hester Joubert), Aletta Joubert, Sarie Jordaan, baba onbekend), Elizaberth Joubert, Adolph Joubert, Hond en een van die twee seuns is Abie Jordaan – die ander een is onbekend.
Die murasie van die opstal tans op Bo-Kruis
Die oorblyfsels van die mure van die ou opstal
Die ou boutegnieke is nog steeds duidelik sigbaar
Die ou waenhuis
KORINGMAAL OP OUPA JORDAAN SE PLAAS
Geskryf deur Pietie le Roux – man van Bessie le Roux (dogter van PJ en Hester Joubert)
Oupa Jordaan, dit was nou Bessie se Oupa, het vir sy seuns elkeen ‘n plaas gegee. Sy oudste seun se naam was Koos. Hy vra toe vir Koos watter plaas wil hy hê, maar Koos sê nee, hy wil nie ‘n plaas hê nie, hy wil liewer ‘n watermeul hê. Die watermeul met die groot “glad”, wat so stadig draai, stadig maar seker. Die oubaas dink toe hy sal dit maar gee, want hy moet iets doen. Na ja, die watermeul maal maar baie stadig en dit vat ‘n paar dae om ‘n sak koring af te maal.
Dan kom die familie en vriende met ‘n wa en ‘n span esels, gewoonlik met ‘n paar pragtige voorperde ook, seker so tien diere met drie of vier sak koring, en ‘n vrou en 3 of 4 kinders. Dit vat omtrent ‘n week of tien dae om die klompie koring af te maal. Dan kuier hulle solank by oupa, gesels lekker, lekker tyd, esels word opstal voer gegee en Koos maal die koring af.
Nou die gebruik in daardie dae was om brood weg te sit (hulle noem koring “brood van die jaar”). En die koring het op die solder gelê. En so by die Augustusmaand kom oom Abraham by Koos, en vra: “Koos, hoe lyk ons brood, is daar genoeg brood tot ons nou weer oes?” Koos “Nee Pa, Pa moet maar gaan kyk.” Sy pa klim die trap daar op tot by die solder en gaan kyk en daar is omtrent niks koring nie. En hy roep na Koos en vra wat het van al die koring geword. Koos antwoord: “Nee, Pa, sien Pa, die mense bring vol sakke koring en as ek hom afgemaal het is hy driekwart vol en dan maak ek hom vol van Pa se koring.”
So het die mense gelewe in daardie dae. En dan kom kuier die mense so bymekaar en dit was die lewe en dan maal hy vir ‘n daler ‘n sak. ‘n Daler in ons geld was 1/6-, maar dit was baie geld in daardie dae. Ek weet dat hulle vir ‘n pond vleis in Montagu ‘n trippens betaal het, self gaan haal by die slaghuis en ‘n pond botter was nege pennies. Die mense het baie gehandel in daardie dae.
Links: Koos Jordaan of “Ouboet” (soos hy beter bekend was) saam met Lenie Jordaan, sy skoonsuster
en saam met sy broer Pollie
Die meul waarin Ouboet jare lank koring gemaal het – nou net ‘n murasie
Paul Jordaan wys waar die houtwiel aan die muur was. Op die voorgrond is die pyplyn wat nou die watertoevoer van die berg af weerlei
Die skaafmerke van die houtwiel is nog duidelik sigbaar op die meul van die ou meulgebou
Klipgeboude muur van die meul
‘n Gedeelte van muur waar daar meulstene in die muur in gebou is
Die gat vir die as waar die wiel aan die muur vas was
Waar die deur van die Meul sou gewees het
Binne-in die meul
Lugfoto’s van Bo-Kruis
Abraham Johannes Hendrik Jordaan is op 31 Mei 1923 by sy huis op Montagu oorlede op die ouderdom van 86 jaar en 9 maande en is ook in die begraafplaas op Bo-Kruis begrawe.
Graf van AJH Jordaan
Vandag is Bo-Kruis, Middel-Kruis en Onder-Kruis weer geamalgemeer in een plaas en is bekend as Kruis. Dit is tans die plaas van Corniel Venter en haar seun Pieter “Venna” Venter. Corniel se oumagrootjie was Miemie Jordaan, dogter van Abraham Jordaan wat met Ernst Bruwer van Mont Blois getrou het.
Bron en verwysing:
“Van Cabrieres D’Aigues to Cap de Bon Espérance” en “Die genealogie van Jourdan Jordaan 1424 – 2021” deur Dr MJS Jordaan (Met vriendelike toestemming van dr. Marthinus Jordaan)
Foto’s Irma Jordaan, Rudi Allmayer en die Montagu Argiewe