76.Die Eikeboom
Iets ouds om op trots te wees.
Die Akkerbome van De Goa
Is dié drie bome die oudste akkerbome in Suid-Afrika?
Die storie oor De Goa se akkerbome het sy aanloop lank-lank gelede, toe ’n grondbrief op 12 Januarie 1759 deur die VOIC (Verenigde Oos Indiese Compagnie) vir ’n stuk grond in die huidige Koo aan ene Jozua Joubert, ’n derde geslag Hugenoot, toegeken is. De Goa? Wie/waar op aarde is De Goa en wat se akkerbome is hier ter sprake?
Maar vóór ons by die ou stuk geskiedenis kom, moet ons eers erkenning gee aan die man wat ons op die spoor van die ou akkerbome gebring het. Hierdie interessante stukkie Montagu geskiedenis sou in die vergetelheid verdwyn het, as dit nie was vir die toegewyde navorsing deur ’n Montagu boer Jacobus Francois Daniel (Kobus) Kriel nie.

Die baanbrekers-navorsing van Kobus Kriel
In 1977 sien ’n manuskrip, in getikte formaat, oor die geskiedenis van Pietersfontein, saamgestel deur Kobus Kriel, die lig. In die voorwoord blyk dit dat die Kriel-geslag reeds sedert 1844 op die plaas Pietersfontein boer en dat navorsing rondom die historiese plaas reeds sowat 75 jaar gelede begin het. Kobus Kriel had geen tersiëre opleiding ontvang nie, en daarom is sy insiggewende navorsing soveel te meer merkwaardig. Hy was bewus daarvan dat hy met primêre bronne moes werk en het derhalwe herhaaldelike besoeke aan die Kaapse Argief en die Aktekantoor gebring.
In sy voorwoord motiveer hy sy navorsing soos volg: “Ek wil ter inleiding die totstandkoming van Montagu se eerste plase net kort behandel – moontlik prikkel die lees hiervan iemand se belangstelling om ook iets dergeliks te onderneem oor sy eie plaasgeskiedenis.” Kobus Kriel se navorsing was die beginpunt en stimulus vir my eie ondersoek rondom die akkerbome van De Goa. Dit is ’n kopie van sy manuskrip in die argief van die Montagu Museum, wat my op die spoor van die storie gebring het.
Maar net eers ’n bietjie agtergrond geskiedenis: In die 18de eeu was die enigste wa-pad wat toegang tot die Koo-vallei gebied het, via die Heksrivier-vallei tot op die plato en dan weer berg-af tot in die huidige Koo. Dit was opsigself ’n formidabele onderneming, maar meer haalbaar as via die Cogmanskloof pas na die plaas Uitvlucht waarop die dorp Montagu in 1850 uitgelê is.
Volgens Kriel was die oudste plaas in die Montagu-distrik, met ’n VOIC grondbrief, aan die oostelike kant van die Langeberge, die plaas De Goa, later bekend as De Coo en De Koo. Vandag is die plaas bekend as Langdam. (Die 18de eeuse pioniers-plaas, aanvanklik geregistreer as De Goa, gee uiteindelik sy naam aan die hele vallei wat vandag bekend staan as die Koo.)
Voordat die VOIC grondbriewe aan boere uitgereik het, het die vee-boere die grond benut ingevolge die leenplaas stelsel. In 1730 is daar reeds ‘n weidings-lisensie toegeken ten opsigte van die plaas De Goa. Kriel was van mening dat die 1730 weidings-lisensie na alle waarskynlikheid toegewys is aan dieselfde Jozua Joubert aan wie in 1759 ’n grondbrief uitgereik is.
Jozua Joubert se kontrak met die VOIC
Ek was gelukkig om ‘n afskrif van die grondbrief in die Aktekantoor in Kaapstad te bekom. Die uitreikingsdatum: 12 Januarie 1759 aan Jozua Joubert (aangeheg). Die grondbrief is uiteraard in 17de eeuse Hollands, die dekoratiewe handskrif lees moeilik. Ek plaas wel ‘n afdruk (gedateer 12 Januarie 1759) van die landmeters-diagram van die plaas DE KOO soos opgemeet deur landmeter C.D. Wentzel (aangeheg).
Die grondbrief wat aan Jozua Joubert uitgereik is, bevat die volgende interessante inligting:
- Die grondbrief is onderteken namens die VOIC deur niemand minder as Goewerneur Ryk Tulbagh en Kommisaris Gustaaf Willem Baron van Imhoff. Dit dui weer eens op die gesentraliseerde wyse waarop die kompanjie bestuur was.
- Jozua Joubert moes ‘n jaarlikse “recognitie” van 24 ryksdalers aan die VOIC betaal, asook ‘n 10de van sy graanoes. (Dit is interessant dat die 10% VOIC belasting in ooreenstemming was met die 10de wat die kerk van haar ledemate verwag het). Indien hy sou versuim om hierdie voorwaardes na te kom, of indien hy sou versuim om die plaas behoorlik te “bebouwen en cultiveeren” het die VOIC die reg behou om die grond te onteien en aan ‘n ander party toe te ken. (Terloops 24 ryksdalers was ‘n aansienlike bedrag. Volgens Kriel was die boete vir die versuim om die jaarlikse “recognitie” te betaal, betaalbaar in kontant of met beeste. Die waarde van ‘n os was vasgestel op 4 ryksdalers. Teen huidige waardes kos 6 osse teen R8 000,00 stuk sowat R48 000,00).
- Die grondbrief vestig ook ‘n openbare serwituut van reg van weg soos aangedui op die landmetersdiagram genaamd Wagenweg van de Diepe Kom (Die huidige plaas Keerom). ‘n Weidingslisensie ten opsigte van “De Diepe Kom” is reeds op 20 November 1740 deur Goewerneur Hendrik Swellengrebel toegeken aan die landbouer Pieter Hugo. Dit is insiggewend dat die twee boere, hier ter sprake, Joubert en Hugo – van Hugenoot herkoms – binne vyftig jaar van hul voorsate se aankoms aan die Kaap hulself so ver van die Franschoek vallei bevind het. Ondernemende mense, die Hugenote!
- Die volgende stipulasie in Jozua Joubert se 1759 grondbrief het vir Kriel op die spoor gebring van die historiese akkerbome van De Goa. Die grondbrief bepaal naamlik dat Jozua Joubert “om in plaats van de Hout op zijn land telkens wederom jonge eikebomen te planten”. Dit dui daarop dat in 1759 reeds akkerbome op die plaas De Koo gevestig was en Jozua Joubert is aangesê om, sou hy die bestaande akkerbome oes, weer jong bome aan te plant. Kon dit wees dat eerste akkerbome op De Goa dus sowat 300 jaar gelede reeds aangeplant was?
Die klousule in die grondbrief, rakende die akkerbome, het Kriel geboei en só het hy dan ’n besoek aan die De Goa van Jozua Joubert gebring. Het van die akkerbome nog bestaan, het hy gewonder. Tot sy verbasing vind hy horing-oue bome en beskryf die opset soos volg: “ … hy het geplant al langs die watersloot uit die berg. Die laning is nog daar, maar die meeste is al dood van droogte, ouderdom en erosie. Die laning behoort tot ‘n besienswaardigheid verklaar te gewees het.” En dit was die einde van die storie.
Aan die einde van 2019, amper ’n half-eeu ná Kriel se besoek, het ek gaan ondersoek instel of die akkerbome nog bestaan. Ek het ’n paar baie-baie ou bome gevind, al langs die riviertjie, soos aangedui op die 1759 landmeters-diagram. Daar was ’ n paar jongerige bome wat opgekom het van sade wat natuurlikerwys ontkiem het. Maar daar was drie verstokte, verweerde bome wat ooglopend baie oud is. Twee van die drie bome se stamme was bykans heeltemal hol, maar een boom se stam het nog solied voorgekom. Al drie het nog geleef – maar net-net.
Hoe oud is die De Goa bome? Dave Pepler werp lig op die vraag.
Die logiese vraag was: Was hierdie drie bome miskien deel van die oorspronklike bome wat rondom 1730 op die plaas De Goa geplant is? Om hierdie vraag te beantwoord moes ek die deskundige advies inroep van die bekende akademikus en ekoloog, Dave Pepler. Pepler het die plaas op 19 November 2019 besoek om die ouderdom van die drie ou bome te probeer bepaal. Hy rapporteer as volg:

Ouderdomsbepaling van eikeboom, Qercus robur op die plaas Langdam, Koo, distrik Montagu, Suid-Afrika.
Besoek is gebring aan die plaas Langdam op Dinsdag 19 November 2019, en die eike-opstand is besigtig. Van die staande bome, het slegs een genoegsaam groeivorm om ’n ouderdomsbepaling te maak.
Die gekose boom het ’n hoogte van 34,5m en ‘n deursnit van 1,42m op borshoogte.

Agtergrond tot die ouderdomsbepaling van Engelse eikebome:
Daar bestaan geen data vir die ouderdomsbepaling van eikebome in Suid Afrika nie, en afleidings moet dus gemaak word van hoofsaaklik Engelse datastelle.
Die Engelse datastelle is gebaseer op bome wat deur strawwe winters leef, en dus veel stadiger groei as in Suid Afrika.
| Girth of tree in metres and centimetres | Equals Estimated age in years | Historical connections |
| 1m 85cm | 75 | 1930, George V Amy Johnson’s solo flight to Australia |
| 1m 98cm | 80 | 1926, George V Year of the General Strike |
| 2m 48cm | 103 | 1903, Edward VII First manned flight by the Wright Brothers |
| 3m 10cm | 138 | 1868, Victoria Thomas Edison patented his 1st invention, an electric voice machine |
Die enigste redelike akkurate tegniek is dus om jaarringe te bemonster, en ‘n kern uit die stam te boor,
Hierdie metode is toegepas, en ‘n kern van 50 cm is uitgehaal. Alhoewel die boor nie lank genoeg was om die eerste jaarringe te tref nie, is die harthout bereik.
Die spasiëring van die harthoutringe is gemiddeld 3,62mm, en vir saphout, 2.12mm.
Gegewe dat ‘n afgeleide verspreiding van harthout teenoor saphout in die orde van 80/20% is, kan die volgende ekstrapolasie gemaak word:
Deursnit van boom = 1,4m
Die radius is dus 0,7m wat bestaan uit 560mm harthout en 140mm saphout
Die afgeleide ouderdom van hierdie boom is dus 302 jaar.
Pepler het die ouderdom van die boom waarvan hy ’n jaarring-monster geneem het, op 302 jaar bepaal. Dit strook breedweg met die datums 1730 en 1759 toe weidingsreg en besitreg respektiewelik ten opsigte van De Goa toegeken is.
In Pepler se verslag vermeld hy dat die Engelse datastelle gebaseer is op bome wat deur strawwe winters leef en dus veel stadiger groei as in Suid-Afrika. In dié verband is dit belangrik om aan te meld dat die Koo distrik se winter temperatuur veel kouer is as byvoorbeeld die van Paarl en Stellenbosch waar akkerbome reeds aangeplant is gedurende die tyd van Jan van Riebeeck en Simon van der Stel, maar weens die relatief matige winters selde tweehonderd jaar haal. Die akkerbome op die plaas De Koo is geplant teen die Oostelike helling van die Langeberge, op ’n hoogte van 1100 meter bo seespieel waar sneeuval van 30 tot 60 cm gedurende normale winters gereeld voorkom. In terme van klimaatstoestande het De Goa dus veel meer gemeen met Europese toestande as met dié in die Boland.
Dave Pepler het my navraag oor die ouderdom van akkerbome oor Stellenbosch verwys na Professor Bryan Bredenkamp. Hy adviseer dat Stellenbosch 3 keer in die geskiedenis afgebrand het en dat daar nie veel ou bome behoue gebly het nie. Hy vermeld dat daar wel 4 bome in Ryneveldstraat is wat in 1812 geplant is, dit wil sê ongeveer 208 jaar gelede. Ongelukkig rapporteer hy ook dat die bome in ‘n bedenklike toestand is, maar dat baie jonger bome op Stellenbosch ook in ‘n bedenklike toestand is!
Ten slotte ontstaan die vraag: Is die boom waarvan Dave Pepler die afgeleide ouderdom op 302 jaar bepaal het, nie moontlik (waarskynlik?) die oudste akkerboom in SA nie?
Omtrent die skrywer:
Schalk Esterhuyse woon sedert 1972 op Montagu, waar hy vir dekades as senior vennoot in die 135 jaar oue prokureursfirma Van Zyl & Hofmeyr werksaam was. Tans, in ’n semi-afgetrede fase van sy lewe, het hy ruim tyd om deur die argief van die firma te delf. Nodeloos om te sê, is dit ’n ryk bron van historiese inligting oor Montagu en die distrik.
Dave Pepler is a well-known South African environmentalist. After growing up in Robertson in the Western Cape, he attended the Saasveld Forestry College for a National Diploma in Forestry, and also received an MPhil in Zoology from Cambridge (UK).
Oldest oak in the world according to Wikipedia: Angel Oak is a Southern live oak (Quercus virginiana) located in Angel Oak Park on Johns Island near Charleston, South Carolina. The tree is estimated to be 400–500 years old.
A visit to the farm Langdam in 2023
A visit to the farm Langdam in 2023 has revealed that the tree in the story by Schalk Esterhuyse is still standing. The current owner of the farm Langdam, who has owned the property for the last seven years and was present when the tree was tested by Dave Pepler, welcomes one to his farm and is more than happy to take visitors to view his oak tree.


The old oak is not alone and a number of healthy younger trees are also visible in close proximity
Farm owner Haiko Ruther with his old oak tree in the background. The farm can be contacted on 0826102450





Die Grondbrief en Landmeters-diagram volg



Another interesting peace of information was discovered in The Montagu Museum and is shown below. The hand written portion was found inserted in a larger document. No author is shown. It is not known if this celebration tree still exists.

Contributions: Sanel Esterhuyse, Haiko Ruther, Kobus Smit
