3.1952 Van Riebeeck Festival

image_pdfDOWNLOAD PDF

Updated: 22/12/2024

Anelma Oosthuizen (Kriel) reminisces about the 1952 Van Riebeeck Festival and the attendant concert held in the Venus bioscope hall.

The larger part of the article is one of three chapters included in the salutation message, written by Mr O’Kennedy, a teacher at the Montagu High School. This message was taken to the main festival in Cape Town by the postal coach which visited Montagu on its way to Cape Town.

MONTAGU 1952: DIE JAN VAN RIEBEECKFEES

Die fees se tema was: Ons bou ʼn nasie.

Die Jan van Riebeeckfees het oor al vier provinsie en Suidwes – Afrika plaasgevind tussen 14 Maart en 5 April. Hooffees in Kaapstad 6 April 1952. Uit al die provinsies en Suidwes – Afrika het ʼn poskoets vertrek. Al die dorpe waardeur getrek is met perde moes ʼn GROETEBOODSKAP en inligting oor die dorp se ontwikkeling(een hoofstuk uit die Montagu boodskap kan gesien word later in hierdie dokument) saam met die poskoets stuur na Kaapstad se hooffees. Vars aflosperde moes in elke stilhoudorp verskaf word.

Die Germiston (name van die poskoets) het op Montagu stilgehou in Bloemstraat (die dubbelstraat langs die NG Kerk). My pa Eduard Kriel en my ma, ek, Anelma en my sussie Almari het gaan kyk want dit was ʼn paar treȇ van ons huis af. Die Germiston poskoets was van hout, pragtig blink van die vernis. Sy naam bordjie Germiston was teen sy sykant. Ons het gepraat van die Germiston koets.

Foto: Ina Van Wyk

Die besoek van ʼn Poskoets aan HEILBRON oppad na Kaapstad op 29 Januarie 1952, tydens die Van Riebeeck Fees. Hierdie fees het die aankoms van Jan van Riebeeck op 6 April 1652 in Kaapstad herdenk.

Foto: Facebook Riemland Museum

Sy roete was seker so beplan op pad na Kaapstad waar die hooffees plaasgevind het. Uit elke provinsie se hoofstad of dorp het n poskoets vertrek op bepaalde roetes Kaapstad toe. Die poskoets moes die dorpe waar hy verbygaan se goeie wense, boodskappe en dorpe se vooruitgang saamneem Kaapstad toe. Dit roep die outydse vervoer in herinnering. Dit het seker gewerk soos om ʼn fakkel deur die land te dra en om die hele bevolking betrokke te kry. Vroeër dae op Montagu was ʼn poskar wat  van Ashtonstasie af mense en pos vervoer het.

Op elke dorp is aangedoen en feeste gehou. Van oor die hele land het ook Volkspelers Kaapstad toe gegaan om in ʼn massavertoning op te tree. Een van die hoogtepunte van die fees in Kaap was die aankoms van die poskoetse.

Die gesin kyk na ʼn aardbol toegedra met swart lap. Die tablo wil wys dat sodra die lap wegevat is het Nederland die Afrikaans taal ,Christelike goddiens,onderwys en landboumetodes na Afrika gebring.

Jan van Riebeeck kom aan in Kaapstad. Die “Khoi san” seuntjies (van die weeshuis op Montagu). Kleintjie links voor is Richard Loubser. Sy boetie staan regs. “Khoi san Herrie is mnr. Jan Rossouw. (Die res weet ek nie).

Met die skip se aankoms het Jan van Riebeeck en sy gesin in Groenpunt aan wal gestap (hele aankoms nageboots).Die aand was daar ʼn konsert in die Venus bioskoopsaal. Ons skoolkinders moes in groepe met onderwyser’s sit. Ek was in Sub B. (Nou graad 2). Ek en my sussie sit in die middel van die tweede ry van voor.

Suid-Afrikaners en hul huisgodsdiens. Dame links: Mej. Lydia Muller (later getroud met Ryno Burger).

Suid-Afrika se onderwys. Dogtertjie links was ʼn Kilian. Dogter aan tafel Coral Niewhoudt en heel regs Servaas Conradie.

Drie eeue, Drie geslagte met drie soorte kleredrag. Van 1652 tot 1952.Dame wat kniel is Mej. Bester (later getroud met oom Apie Jordaan se seun).

Suid-Afrika se boerderyprodukte: Mev. S. Naude (simbool van Suid-Afrika in wit geklee). Heel links is Hannah de Kock (mielies), Mev. Abie Neethling (sagte vrugte), Mev. Sally la Grange (druiwe en wyn). Regs van Naude Mev. Grace Barrett (koring) en heel regs Mev. Plax (wol).

Ons familie het uit die distrik van Philippolis na Kaapse fees gekom. Hul het met terugry vir my en my sussie elk n fees kroon gebring. Ons dra dit as halssnoere.

Artikel en foto’s: Anelma Oosthuizen/Norman Bullard/Lourens Kriel

Picture: Bidorbuy.co.za

Picture: Pinterest.at

Die artikel wat volg is een hofstuk van drie wat ingesluit was by die GROETEBOODSKAP geskryf deur Mnr. O’Kennedy ʼn onderwyser by die Montagu hoërskool.

GESKIEDENIS VAN MONTAGU EN DISTRIK

Opgestel by die geleentheid van die Van Riebeeckfees en oorhandig aan die poskoets op 22 Maart 1952 deur die Burgemeester, Mnr. J.D. de Kock

DIE STIGTING EN VROEË GESKIEDENIS VAN DIE DORP EN PLAASLIKE BESTUUR

  Dit blyk dat die grondbriewe van die meeste van die plase in hierdie afdeling uitgereik is in die jaar 1825, maar mense moes in hierdie afdeling voor daardie tyd gewoon het. ʼn Sekere Boshof het op die plaas Derdeheuwel ʼn huis gebou met ʼn hoeksteen waarop die jaartal 1800 verskyn, en hierdie hoeksteen is later geplaas in die huis op ʼn gedeelte van Derdeheuwel genome Boshof, nou die eiedom van Alexander Floris Kriel. Ook is daar kort voor 1938 ʼn baken op hierdie plaas gevind waarop die jaartal 1817 verskyn.

  Die plaas waarop die dorp Montagu aangelȇ is, was Uitvlugt. Die grondbrief van die plaas is uitgereik ten gunste van Pieter Swanepoel op 15 December 1841, en op 1 April 1844 is die plaas getransporteer aan sekere Daniel Stephanus van der Merwe. Hierdie plaas was net aan die oostekant van Cogmanskloof. Dit was ʼn besondere vrugbare eiedom, geleë tussen die Kingna en Keisieriviere, en besproei deur ʼn sterk standhoudende stroom water wat kom uit die Badskloof en Donkerkloof. Die plaas het destyds nog deel uitgemaak van die afdeling van Swellendam.

  In 1850 het die eienaar besluit om ʼn dorp op die plaas aan te lȇ, en in Januarie 1851 is die eerste aantal watererwe verkoop aan die oostekant van die huidige Barrystraat en suid van die huidige Badstraat tot aan die Kingnarivier. Die dorp is genoem na John Montagu, die destydse Koloniale Sekretaris. Hy het homself hierheen gekom om die dorp te doop, en by die geleenheid is ʼn eetmaal tot sy eer aangebied in die gebou op Erf No.35 op die hoek van Kerstraat en Langstraat.

  Die erwe wat te koop aangebied was, is spoedig verkoop, meestal aan persone wat hierheen getrek het van Wellington. Die oudste gebou in die dorp is die woning aan die oostekant van Rosestraat, skuins teenoor die huidige pastorie. Die eienaar D.S. van der Merwe het gewoon in ʼn huis wat gebou was op die plek waar die pastorie in Rosestraat nou is.

  In Januarie 1854 is die erwe aan die westekant van Barrystraat tussen Langstraat en die Kingnarivier (toe bekend as die “Onderdorp”) verkoop, en in Mei van dieselfde jaar is ook erwe aan die noordwestekant van die Kiesierivier (nou Montagu-Wes) verkoop.

  Toe in 1854 die versoek om ʼn aparte gemeente te stig deur die ring van Swellendam toegestaan is, het die eienaar van Uitvlugt vir himself die stuk grond tussen Barrystraat en Langstraat en die Keisierivier uitbou, maar die restant van die plaas het hy in 1856 aan die Kerkraad verkoop vir £1375 met die doel om verdere erwe te verkoop en fondse vir die kerkgebou in te samel. Met die lȇ van die hoeksteen van die kerkbebou op 1 November 1858 is ʼn aantal droë erwe aan die noordekant van Badstraat verkoop vir £4490. Hierdie erwe het lank so gelȇ voordat daar huise gebou is.

  By die verkoping van die erwe deur die kerkraad is elke erf onderhewig gemaak aan ʼn jaarlikse belasting van 10/- wat moes gebruik word vir die salaris van die leraar en vir die “kerklike huishouding”. Sommige van die eienaars het later geweier om die belasting te betaal, en die kerkraad het daarop hul gedagvaar maar die saak veloor.

  Dit is onbekend waneer die eerste dorpsbestuur onder Wet No. 29 van 1881 alhier gestig is, maar die oudste notule bekend is gedateer 11 Augustus 1889. Hierdie notule lees so: “Notulen van Vergadering van de Montagu Dorp Bestuur gehouden 21st Augustus 1889. Tegenwoordig de Heer R.P.J. van der Merwe en de Secretaris. Daar er geen quorum was werd de Vergadering verdaagd”. Dit is onderteken deur R.P.J. van der Merwe as voorsitter en die sekretaris ook die Heer R.P. du Toit teenwoordig, en toe kon hul voortgaan met hul werksaamhede. In die notule van 9 Oktober 1889 word ook die naam van Dr.Castles genoem as ʼn lid. 

  Op die eerste vergadering van 1890 is besluit om ʼn eiedoms belasting van ½d. in die £ op te lȇ. Die salaris van die Sekretaris vir 1889 was volgens dieselfde notule £18. Dit moes per jaar gewees het, en dit laat ons dink dat die dorpsbestuur al van voor Augustus 1889 moes bestaan het.

  Voor Augustus 1891 moes daar ʼn verkiesing vir ʼn nuwe dorpbestuur gewees het, want volgens die notule van 12 Augustus 1891 is W. A. Joubert ook lid, en is hy op voorstel van R.P.J. van der Merwe tot voorsitter van die bestuur gekies.

  Intussen het die dorpsbestuur en die publiek begin voel dat hulle ʼn aanspraak maak op ʼn hoër status, die van ʼn munisipaliteit. In die notule van 6 Junie 1894 rapporteer die sekretaris dat die petisies om munisipaliteit te verkry in die Staatskoerant en Ons Land (ʼn nuusblad) geadverteer is. In Januarie 1895 is die dorp tot ʼn munisipaliteit verklaar. Die lede van hierdie eerste munisipaliteit was: W.A. Joubert, D.S. du Toit, R.P.J. van der Merwe, Dr. J. Castles, D.J.G. Joubert en B. Buirski. Op die eerste vergadering van die Raad op 17 April is W.A. Joubert tot voorsitter gekies. Hy was dus die eerste burgemeester van Montagu.

  Volgens die notule van die eerste paar vergaderings was die lede nie baie getrou op hul pos nie. Op die tweede vergadering op 1 Mei 1895 was net die burgemeester teenwoordig en moes die vergadering verdaag. Op die derde een op 15 Mei was net die voorsitter en Dr. Castles. Geen kworum. Vir die volgende een op 5 Junie lees die notule: “Vergadering gehouden 5 Junie 1895. Niemand tegenwoordig”. Daarna het dit darem beter gegaan, want op die vergadering van 19 Junie was vyf van die ses lede teenwoordig en kon hul voortgaan met die werk.

Die perde en kar in Piet Retiefstr. Voor G. M. Le Roux Kriel se huis na links. Die perdekar het behoort aan Mnr. Kota van Zyl van Wildeperdekloof Ashton.

Picture: J.de Kock collection

Volgens die notule van 3 Julie 1895 blyk dit dat Meneer L. Perkins aangestel is tot sekretaris en inspekteur van die Raad teen die salaris van £54 per jaar. Dieselfde vergadering het dit ook aan die voorsitter opgedra om te onderhandel met die African Banking Corporation met betrekking tot ʼn rekening in die bank en reëlings te tref vir ʼn oortrokke rekening, indien nodig, maar die Raad moes nie sy rekening met meer as £100 oortrek nie. ʼn Baie verstandige beleid vir enige stadsraad. As ʼn mens egter let op die Raad se begroting vir 1897, dan was daar nie gevaar vir ʼn oortrokke rekening van meer dan £100 nie. Hier is dit:

ONTVANGSTE

Belasting teen 1d. in die ££300 0 0
Batebelasting     25 0 0
Hondebelasting     28 0 0
Polisie – (onduidelik)    30 0 0
Lisensies      5 0 0
Agterstallige belasting    12 0 0
 £400 0 0

UITGAWES

Huur van Kantoor                                                  4 10  0
Waterslote   40   0  0
Rente   37 10  0
Boomplantasie    12   0  0
Strate  100  0  0
Ongereëld en onvoorsien    66  0  0
 £400  0  0

   Die eerste burgemeester, Mnr. W.A. Joubert, het gedien vanaf 1895 tot 1903. Na hom kry ons die volgende burgemeesters in die volgorde soos genoem: Dr. J. Castles, George Barry, P.A. Brink, Dr. C. Muller, A.P. Burger, P.J. Fouche, J.W. Stemmet, G.E. Brink, G.R. du Toit, W.M. McGregor, D.J. Burger en die huidige een, Mnr. J.D. de Kock wat al sedert September 1946 dien. Anders dan in die meeste plaaslike rade het ons ook ʼn dame gehad op ons raad nl. Mev. Fouché, eggenote van oud burgemeester P.J. Fouche. Sy het haar ywerig gewy aan die dienste en belange van die dorp vir sewe jaar 1944 – 1951 toe sy haar onttrek het.

MONTAGU WORD ʼn AFSONDERLIKE FISKALE AFDELING

  Montagu en distrik het tot 1897 onder die fiskale afdeling van Robertson geval. Tot 1897 het die magistraat van Robertson elke veertien dae hierheen gekom om sake te verhoor, maar in daardie jaar het hierdie distrik sy eerste permanente magistraat gekry in die person van Mnr. Pieter Dreyer.

  ʼn Verdere stap in die rigting het gekom toe die distrik sy eie afdelingsraad gekry het in 1905. Die eerste lede van die raad was : Kol. C.M. Stevens (Magistraat) as voorsitter, G.P. van Zyl , Jacs. D. Kriel, P.G. van Zyl, D.S. v.d. Merwe, F.J. van Zyl, A. P. Burger, P.L. le Roux. Die eerste vergadering van die raad is gehou op 9 Januarie 1906.

Back Row L/R: J. van Zyl, M.P. Rabie, L.J. Vermeulen, A.P. Burger.
Sitting: L/R: J. Thomson, G.D. Burger, G.R. du Toit, (Mayor), G.E.Brink (Dep. Mayor), N. Millin, J Lindveldt.
Front: L/R: P. Kleu, M. van Zyl.
Insert: J.W. Stemmet

Picture: Blackie Badenhorst taken sometime in the 1930’s

DIE AANLȆ VAN VARS WATER VIR DIE DORP

  In die begin het die inwoners vir huishoudelike doeleindes steeds water gebruik uit die algemene dorpsloot wat bestem was vir besproeiing en sekerlik nie baie higiënies was nie. Diegene wat skoon vars water wou hȇ, moes dit laat haal by die eiendom bekend as “Die Meul” uit die Donkerkloofstroom voor dit in die Badskloofstroom loop. Die behoefte het dus ontstaan om die dorp te voorsien met goeie voorraad vars water, en so moes die dorp bestuur met sy eerste waterskema begin. Op die bestuur se vergadering op 14 Febr. 1894 is besluit om die water van Fonteinkloof (bokant die hospitaal) met ʼn eenduimspyp na die dorp te bring “zoo spoedig mogenlyk de fonds het toelaten”. Die “fonds” het dit betreklik gou toegelaat want op die vergadering van 5 April kon die voorsitter rapporteer dat die pyp al gelȇ is tot by die Kingna, maar daar moes die werk onvermydelik vertraag word omdat die pype vir eers nie te kry was nie.

Photo of the leiwater canal which can be seen outside what is now Mimosa Lodge in Church Street. The municipality purchased a strip in front of all houses 2 m wide (was probably 6 Cape feet) and this is the present pavement.

Picture: Montagu leiwater website

Maar op 11 Mei het die heuglike dag vir die gemeenskappie aangebreek toe die water gebring is tot by die steengroef wat destyds op Erf No.34 was, waar die tennisbane nou is. Die water is in drie tenks opgegaar. Op die 24ste Mei 1894 is hierdie “waterwerke” plegtig en formeel geopen.

  Dit het baie gou geblyk dat die watervoorraad nie voldoende was nie en dat verdere voorsiening moes gemaak word. Op die vergadering van die munisipaliteit op 3 Februarie 1897 het die here D.S. du Toit en D.J.G Joubert voorgestel dat die raad moes probeer om Keurkloof te koop en water vandaar aanlȇ. Met hierdie skema het dit nie so gou en voorspoedig gegaan nie. Die saak moes dikwels daarna op die raadsvergaderings besperk word, onderhandelings aangegaan word, gedurige briefwisseling met Meneer Wolvaardt van Goree aan wie ʼn deel deel van Keurkloof behoort het, het die saak vertraag en selfs onaangenaamheid veroorsaak. Eers op ʼn vergadering van 29 Junie 1898 kon tenders vir £2152 wat glo ook die bou van die ou opgaardam ingesluit het, is aangeneem. Hierdie skema is in 1899 voltooi. Vir die eerste maal is water toe aangelȇ na die eiendomme van inwoners.

  Vir twintig jaar was dit al water vir die dorp, en toe moes dit uitgebrei word. In 1919 is die voorraad water vir die dorp,vermeerder en verbeter deur die aankoop van ʼn gedeelte van die plaas “Het Kruis” met waterregte en die aanlȇ van prype vandaar na die dorp. In 1927 is ʼn verdere gedeelte van “Het Kruis” met waterregte aangekoop. Met hierdie verdere uitbreiding kon in die winter 120,000 gellings per dag en in die somer 60,000 gellings per dag gelewer word. Teen 1940 was die daaglikse verbruik al 100,000 gellings in die somer. Die raad het die saak probeer verhelp deur die bou van ʼn nuwe opgaardam van 500,000 gelling in 1942. Maar dit het nie meer water gegee nie.

  Met die geweldige uitbreiding van die dorp sedert 1940 het die voorsiening van water in die somermaande vir die stadsvarders ʼn ernstige en kommervolle probleem geword. In tien jaar se tyd vanaf 1940 het die daaglikse waterverbruik verdubbel van 100,000 tot 200,000 gelling. Die raad en die publiek het gevoel iets moes gedoen word. En hulle het iets gedoen. Hul het die Rietvlei water skema aangepak wat minstens £105,000 gaan kos en vir minstens die volgende dertig jaar genoeg water sal lewer. Vir vyf dae uit elke twaalf dae sal die skema 18,000 – 20,000 gellings per uur vir die dorp lewer. Met ʼn groot grond dam om die surpluswater op te gaar, sal daar nie gebrek aan water wees dwarsdeur die jaar nie. Wanneer ons die Van Riebeeckfees vier, sal die water seker al invloei in die opgaardam.

GROEI EN UITBREIDING VAN DIE DORP

  Soos ons reeds aangetoon het, is die eerste erwe suid van die latere Badstraat verkoop en in 1858 ook ʼn aantal droë erwe Noord van Badstraat. By omstreeks 1900 was daar nog net twee strate van wes na oos, nl. Langstraat en Badstraat of soos dit toe algemeen genome was, die Onderstraat en Bostraat. Bostraat was nog maar baie dun bebou met net ʼn paar huise aan die bokant van die straat. Tussen die perseel van die huidige gebou van Brink Bros. en die van Mnr. De Bod was ʼn voetbalveld.

  Na 1900 het die uitbreiding Noord van Badstraat begin. In 1901 was daar weer ʼn verkoping van erwe bo Badstraat, en toe weer in 1907 tot aan Le Rouxstraat. In 1912 is erwe hoërop verkoop en by hierdie tyd was daar al huise in Le Rouxstraat. Vanaf hierdie jaar het hierdie deel van die dorp digter bebou geword. Die uitbreiding wat woonhuise betref het voortgegaan tot omstreeks 1925, maar van toe af was daar vir ʼn tiental jare ʼn betreklike stilstand.

  Sedert 1935 het daar ʼn vinnige uitbreiding en vermeerdering van woonhuise en ander geboue gekom. Die woningnood tydens die oorlog en daarna, en die vermeerdering van die bevolking van die dorp is natuurlik faktore wat daartoe bygedra het. ʼn Paar syfers spreek vir hul self:

  1. Tussen Junie 1935 en Desember 1940 is 34 nuwe woonhuise gebou.
  2. Tussen 1941 en Desember 1945 = 25.
  3. Tussen 1946 en Junie 1951 = 68.

  Aan die suidekant van die dorp oorkant die Kingna is ʼn nuwe woonbuurt besig om te ontstaan.

  Behalwe hierdie private woonhuise is daar ook sub – ekonomiese huise deur die munisipaliteit laat bou, 28 vir blankes en 70 vir kleurlinge. Dit is ook na 1935.

 Hierby moet ook nog gevoeg word geboue vir besigheids en nywerheidsdoeleindes. Daarvan het daar 19 gekom sedert 1935. Hieronder moet genome word die luukse Hotel Avalon wat in Mei 1951 voltooi is. Hierdie hotel met sy prag en moderne geriewe vergelyk gunstig met die bestes in ons land. Die ou hotel van Mnr. Idelson het in 1937 ʼn nuwe gedaante aangeneem en sy New Hotel gee ook alle modern geriewe en goeie behandeling. Die eiendom bekend as die Montagu bad is ook in die besit van Mnr. Idelson en dit dien as sanatorium.

BEVOLKING

  Dit is opvallend dat die blanke bevolking van die dorp en distrik oor ʼn aantal jare nie aanmerklik vermeerder het. Volgens sensussyfers was die blanke bevolking:

  1. 1926 = 3671
  2. 1936 = 3989
  3. 1946 = 4186
  4. 1951 = 4248

Die vermeerdering na 1936 moet hoofsaaklik toegeskryf word aan die opkoms van Ashton met sy inmaakfabriek.

  Wat gekleurde rasse betref vind ons die volgende:

  1. 1921 = 3153 kleurlinge en 21 naturelle
  2. 1936 = 4210 kleurlinge en 94 naturelle
  3. 1946 = 5343 kleuringe en 244 naturelle
  4. 1951 = 5694 kleuringe en 1061 naturelle.

Die vinnige vermeerder van die naturelle kom deur Ashton se fabriek. Van die 1061 naturelle was 721 op Ashton. Die gekleurde rasse is dus besig om vinniger te vermeerder dan die blankes.

  Die blanke bevolking is feitlik homogeen Afrikaanssprekend. Seker nie meer as 2% van die totale blanke bevolking is van ʼn ander nasionaliteit nie.

VERVOER PAAIE BRÛE

  Die vooruitgang van die dorp en distrik is destyds baie gestrem deur die moeilikhede van vervoer. Boere het hul bediendes by die plaas Rietrivier oor Langeberg gestuur na Swellendam en daar by die bank hul wissels te laat vernuwe of betaal, of ander besigheid in die dorp te doen. Verkeer van die Koo se wyk na die dorp was net so moeilik. Die enigste uitgang van Montagu na die Weste was deur Kogmanskloof waar die rivier ag maal moes deur gery word. Gelukkig is toestande verbeter toe die pad in 1877 deur Kogmanskloof gemaak is waar dit nou is. Later is ook paaie gemaak oor ander bergpasse soos oor Koosberg, Ouberg, Driekuilshoogte en Goedgeloof.

  In 1915 is ʼn groot verbetering aangebring toe die brug oor die Kingnarivier aan die suidekant van die dorp gebou is. Daardie dae was die Kingna nog dilwels vol en dan was Ashton en ʼn groot deel van die distrik van die dorp afgesny. Dir brug is ingewy deur Lady De Waal en dra haar naam.

Lady De Waal brug 2019

  Montagu en distrik het sy eerste teerstrate en teerpad in 1931 gekry. Toe is die teerpad deur Kogmanskloof voltooi, en ʼn begin gemaak met die teer van strate in die dorp. Montagu se strate se totale lengte is omtrent ses myl en daarvan is drie myl geteer. In die opsig is Montagu vir ander dorpe van grootte seker voor.

Badstraat voor 1950

Picture: Jaco de Kock collection

Later is twee brûe oor die Kingnarivier gebou: een by die ingang van die dorp uit Kogmanskloof en die ander by die uitgang aan die Oostakant. Eersgenoemde brug is in 1938 voltooi en die eerste rytuig om oor die brug te gaan was die historiese ossewa van die Eeufees. Op 17 Augustus 1938 het die ossewa stadig oor die brug beweeg. Die brug is daar en dan spontaan Voortrekkerbrug gedoop.

Kingna brug 2019

Voortrekkerbrug in the early days

Picture: Montagu Museum

Voortrekkerbrug 2019

Picture: Google Streetview

  Met ʼn wakkere afdelingsraad om te sorg vir vooruitgang het daar in die afgelope paar jare verbasende verbeterings in ons paaie gekom. ʼn Heeltemal nuwe pad van vier myl is Koosberg uit gebou en aan die begin van 1951 voltooi teen ʼn koste van £30000. Hierdie bergpas tesame met die afstand van die dorp sal hopelik binne af sienbare tyd geteer word. Die pad van die dorp na Barrydale is reeds elf myl geteer en sal voltooi word tot op ons grens.

  ʼn Ander groot skema waarmee die raad besig is, is die verlȇ van die pad deur Kogmanskloof en die maak en teer van ʼn nuwe pad vanaf Ashton tot hul grens na Swellendam – ʼn afstand van ag myl. In die kloof word die tonnel wyer gemaak en met die verlȇ van die pad moet twee brûe gebou word oof die Kingnarivier. Die raad hoop om hierdie werk by 1955 voltooi te hȇ.

ELEKTRISITEIT

In 1931 het Montagu sy eie elektrisiteitskema gekry toe lig en krag deur ʼn eie kragstasie vir die dorp voorsien is. Later is die skema uitgebrei ook na dele van die distrik: in 1941 na die Bad en Baden, en in 1947 na Derdeheuwal en Rietvlei. Dit is altesame ʼn afstand van 30 myl.

  Pictures: Jaco de Kock collection

Die verbruik het vining toegeneem:

  1. 1931(halwe jaar) = 31000 eenhede
  2. 1935 = 155000 eenhede
  3. 1940 = 283000 eenhede
  4. 1945 = 530000 eenhede
  5. 1949 = 1,444,000 eenhede
  6. 1951 = 1¼miljoen eenhede

  Picture: Jaco de Kock collection

ʼn Verdere ontwikkeling het gekom toe in 1950 aangesluit is by Eskom.

GESONDHEIDSDIENSTE

  Montagu het al vanaf Oktober 1922 sy eie hospital. Die personeel in 1922 het bestaan uit ʼn matrone en twee gekwalifiseerde verpleegsters. Daar was geen verpleegsters tehuis nie en die private kamers van die hospital moes deur hul gebruik word. Deur die welwillendheid van Mnr, George Barry wat ʼn som nagelaat het, kon geld (ruim £600) gebruik word vir ʼn tehuis vir verpleegsters. Deur die publiek se ondersteuning en deur ʼn basaar kon £400 bymekaar gemaak word vir beddens en meubels vir die hospitaal. Daar was ʼn teater van die begin af, maar die is later verbeter en beter toegerus. Mnr. Michiel de Kock, vroeër van Keerom, het die geld geskenk vir ʼn X straal apparaat, en deur Ds. Van Huyssteen se ywer om fondse te vind kon ʼn nuwe operasietafel gekry word.

  Op die oomblik (einde 1951) het die Administrasie £40000 gegee vir die bou van ʼn nuwe verpleegstershuis. Die ou tehuis sal dan vir kleurlingpasiënte gebruik word, en die hospitaal net vir blankes.

  Sedert 1939 het die Munisipaliteit ook ernstige aandag gegee aan gesondheidsdienste. Toe is die eerste gesondheidsinspekteur aangestel vir die dorp. Dr. Muller dien as deeltydse mediese beampte. Daar is ʼn lokasie superintendent, en twee kleurling verpleegsters deur die Raad aangestel en besoldig. Die A.C.V.V. het ook ʼn blanke distriksverpleegster vir diens onder die blankes.

VERFRAAIING

Aan die noordkant van Langberg en teen Kanonkop is plantasies van bloekombome. Burgemeesterslaan met banke geskenk deur oud burgemeesters bied ʼn aangename rusplek vir oud en jonk. In die sentraledeel van die dorp voor die munisipale kantoor is die mooi en rustige George Euvrard Park. Die naam roep in herinnering die groot werk op opvoedkundige en kulturele gebied deur die onderwysman, Mnr. George Euvrard.

George Euvrard Park Badstraat

Foto: Transnet Heritage Library Photo Collection

Die in wyding van die Euvrard Park was ʼn geskiedkundige gebeurtenis vir Montagu, want dit het geskied by geleentheid van die destydse Goewerneur Generaal, Graaf Clarendon, se besoek aan Montagu in 1930.

  Aan die Oostekant van die dorp staan die Voortrekkermonument opgerig na aanleiding van die Eeufees van 1938.

Voortrekkermonument Badstraat

Fotos: Transnet Heritage Library Photo Collection

Met die sluiting van die skole in Desember 1938 het die Afdelingsraad al die leerlinge van die dorp en distrik onthaal. Elke kind het ʼn klip gebring en met die klippe is ʼn gedenknaald opgerig. ʼn Tuin in die vorm van ʼn drie hoek is om die monument aangelȇ. Die munisipaliteit het ook besluit om ʼn Dirkie Uys Park aan te lȇ in Kerkstraat om die Eeufeesjaar in herinnering te roep. Met sy pragtige en verskeidenheid van rose is die tuin ʼn lushof in September en Oktober.

Dirkie Uys Park Kerkstraat

Foto: Transnet Heritage Library Photo Collection

HANDEL

Die bankwese is bevorderlik vir handel. Daar was manne wat dit besef het en reeds in 1861 het hul oorgegaan tot die stigting van ʼn plaaslike bank: The Montagu Bank. Hier is ʼn afskrif van ʼn aandelesertifikaart:

“We the undersigned, Directors of the Montagu Bank, do hereby certify that A.N. Other share No. 00000 amounting to Five Pounds, in the Capital Stock of the Montagu Bank, established under and by virtue of the Company’s Deed of Settlement and subject thereto, dated 2nd day of September 1861”.  

Op die note wat hul uitgegee het, was daar ʼn afdruk van die gesig van John Montagu en van die dorpie Montagu. Die kerkgebou is duidelik sigbaar.Die Montagu Bank moes bly bestaan het tot omstreeks 1893 toe die African Banking Corporation hier ʼn tak begin het. Toe die Standard Bank baie later die bates van die A.B.C. oorgeneem het, het die Standard Bank ʼn tak hier begin. Sedert April 1949 het Volkskas ook ʼn tak hier.

  Die oudste handelsbesighede op Montagu was Barry Bros. en W.A. Joubert & Son. Eersgenoemde is in 1919 ontbind, en laasgenoemde het later oorgegaan in die hande van P.J. Joubert (seun van W.A.Joubert).P.J. Joubert het as algemene handelaar besigheid gedoen en ook in die drankhandel. Hierdie besigheid het onder dié naam voortbestaan tot November 1943. Met die dood van Mnr. P. Beeby in 1943 het die besigheid as algemene handelaar en die drankhandel geskei en oorgegaan tot aparte eienaars. Eersgenoemde het oorgegaan in besit van J. Beeby en die drankhandel in besit van P.J. Joubert. 

Aero algemene handelaar Badstraat

Picture: Jaco de Kock collection

 In 1947 het J. Beeby die besigheid verkoop aan “Aero Koöperatief Beperk”. Hierdie is ʼn koöperasie wat hier gestig is met aandeelhouers hoofsaaklik uit Montagu, Ashton en Robertson. Op 1 Desember 1947 het Aero Koöperatief oorgeneem en as sodanig begin op Montagu. Ook op Ashton en Robertson het Aero Koöperatief takke.

Brothers J.J. and P.A. Brink (Right)

Pictures: Montagu Museum

Op huidige tydstip is die firma Brink Broers die grootste besigheid met die grootste bates en die grootste omset op Montagu. In Mei 1902 het Meneer J.J. Brink wat ʼn klerk was by W.A. Joubert & Son, saam met sy broer P.A. Brink ʼn besigheid begin onder die naam van Brink Broers.

Die besigheid was in die gebou waar Brink Broers se kontantwinkel nou is. En is gehuur teen £7.10. per maand. Brink broers het in 1902 begin met ʼn bate van £2000. In Des.1919 het Brink Broers oorgegaan tot ʼn beperkte maatskappy met aandeelhouers. Sedert die tyd het die besigheid met rasse skrede vooruit gegaan en uitgebrei. In 1937 is die Droëvrugtestore gebou; in 1947 die blok kantore, en in 1948 die nuwe inmaakfabriek. In 1951 was die bates van die maatskappy £700,000.

  Brink Broers se vartakkings is: besigheid as algemene handelaar droëvrugte en graan; groothandel in drank; inmaak van vrugte.

  ʼn Ander ou gevestigde besigheid as algemene handelaar is die van Abramowitz. Nog algemene handelaars op kleinere skaal is Lewis en Goldblatt. Behalwe vir ʼn paar kleinere winkels, is die vyf wat ons genome het, die vernaamste.

  ʼn Saak wat sekerlik die handel en die gemeenskap in die algemeen gehelp het , is die instelling van die padmotordiens deur die Spoorweë in 1928. Toe die destydse Regering die N.C.C.R. oorgeneem het, het die Regering ʼn diens ingestel tussen Ashton en Montagu. Voor die tyd het private ondernemers goedere vervoer teen baie hoër tariewe en stadiger dan die Spoorweë.

BESPROEIING EN GRONDBRWARING

  Hierdie twee sake kan saam genome word, want wat Montagu betref, staan hul in nou verband. Grondbewaring hier is tot ʼn groot mate waterbewaring. Gronderosie word bestry veral deur opgaardamme, want op die manier kan voorkom word dat vloedwaters skade aan die grond doen. Vir die grootste deel van die distrik waar ʼn mens boorde en wingerde vind, is daar nie juis noodsaaklikheid vir kontoere nie, want daar is nie gevaar vir erosie nie. Dir grootste erosie vind ʼn mens by dele wat oorbewei is en by skuinshange waar gesaai word. Eienaars van sulke dele heg egter nog nie baie waarde aan kontoere nie.

  Montagu is een van die eerste distrikte in Wes Kaapland waar iets aan grondbewaring gedoen is. Vanaf 1 Januarie 1949 is hier ʼn grondbewaringsbeampte.

  Die noodsaaklikheid van opgaardamme kom nie deur grondbewaring nie, maar sekerlik nog meer vir besproeiing. Met so ʼn geringe reënval soos Montagu het, kan geen boer produseer sonder een of ander vorm van besproeiing nie. Vir die dorp Montagu was die gemiddelde reënval vir die laaste elf jaar 10duim. Die hoogste was 17.58 duim vir 1945 en die laagste 5.61 vir 1946. Vir die res wissel dit van 8.39 tot 11.2 duim. Daar is natuurlik dele soos Langeberg en Koo waar die reënval iets hoër is dan in die dorp, maar dele soos die Keisie, Pietersfontein en die Koo se reënval is nog laer dan die van die dorp.

  Die grootste meerderheid van die plase het dan een of meer damme om vloedwaters op te gaar vir besproeiing. Sommige boere is gelukkig om standhoudende bergwater te hȇ.

Standhoudende bergwater in die Montagu distrik

Baie het ook boorgate wat water moet lewer vir besproeiing. Sommige is afhanklik van die riviere wanneer die vloed afkom maar dit gebeur nie dikwels nie.

  Daar was tot hiertoe nog geen skema deur die Regering nie. Reeds in 1925 is begin met ʼn agitasie vir sogenaamde Poortjieskloofskema, maar aanvanlik was daar nie sukses met die agitasie nie. In 1947 het ʼn hernude agitasie begin en die het vrug afgewerp. In 1951 het die Regering £200,000 toegestaan vir die skema om Poortjieskloof op te dam. Die gedagte is dat die werk by 1953 voltooi sal wees. Vier en twintig oewerbewoners insluitende ʼn deel van die dorp sal deur die skema bedien word. Die berekening is dat as die dam vol is, daar genoeg water sal wees vir die 24 oewerbewoners vir twee jaar.

Poortjieskloof Dam

Picture: Showme.co.za

LANDBOU

Foto: Transnet Heritage Library Photo Collection

Die vernaamste nywerheid van Montagu is die wynbou. Voor die ontstaan van die inmaak en konfytfabrieke het die distrik hoofsaaklik die wynbou beoefen; daarna het die produksie van veral perskes en appelkose baie vermeerder. Met die uitsondering van die Koo en die Karoodeel bly wynbou nog die vernaamste nywerheid. Sedert 1928 was daar ʼn vinnige styging in die produksie van wyn. Die wynoesopgawes is as volg

  1. 1928 = 7000 lȇers
  2. 1930 = 10,000 lȇers
  3. 1935 = 15,000 lȇers
  4. 1938 = 21,000 lȇers
  5. 1942 = 33,000 lȇers
  6. 1944 = 35,000 lȇers (almaal tot die naaste 1000).

Na 1944 kom daar ʼn daling in die produksie. So was dit bv. In 1945 22,000, en die volgende jare nog minder totdat dit in 1951 weer styg tot 23,000 lȇers. Hierdie daling na 1944 kan aan die volgende faktore toe geskryf word: droogte,ryp, die maak van rosyntjies en sultanas, en tot ʼn groot mate aan die kweek van vrugte vir die plaaslike fabrieke.

  Die Koo is beroemd vir sy appels en pere wat selfs op die buitelandse mark goeie pryse behaal. In die laaste tiental jare het die produksie van appels en pere in die Koo ook vining gestyg. Volgens betroubare skatting was die produksie in 1941 naasteby 50,000 kissies,en in 1951 het dit gestyg tot 100,000 kissies. Behalwe die Koo is daar ook ʼn deel langs die Langberg wat appels en pere produseer, hoewel nie op so ʼn groot skaal soos die Koo nie.

Foto: Transnet Heritage Library Photo Collection

Die produksie van perskes en appelkose het ook vining vermeerder weens die aanvraag deur die plaaslike fabrieke. Die Koo byvoorbeeld het tien jaar gelede feitlik geen perskes en appelkose gelewer nie; in 1951 het dit tussen 50,000 en 55,000 kissies gelewer. So het ander dele van die distrik soos die Keisie, Piertersfontein,Rietvlei, die Langberg se produksie van hierdie vrugte ook vermeerder.

Met die ontstaan van die Langeberg Koöperasie, die inmaakfabriek van Brink Broers, en die Ashton Canning Company was daar die aanvraag na vrugte. In 1944 by voorbeeld het Langeberg Koöperasie 1165 ton perskes en appelkose ontvang uit Montagu en distrik. In die seisoen November 1950 – 1951 het Brink Broers 620 ton ontvang. Hierby moet nog gevoeg word die deel wat die Ashton Canning Company ontvang het.

Transnet Heritage Library Photo Collection

  Voor hierdie tyd is baie van die vrugte gedroog. Brink Broers wat verreweg die grootste ontvanger van gedroogte vrugte was, het voor 1939 gedoogde vrugte ontvang tot die bedrag van £40,000 jaarliks.

  Op ʼn baie kliener skaal word ook vye,pruime,rosyntjies,lemoene en okkerneute geproduseer.

  Weens die lae reënval word daar  nie baie gedoen aan graan produksie nie. Nogtans word daar jaarliks omtrent 30,000 sak gelewer aan koring,gars en hawer.

FABRIEKSWESE

ʼn Gebeurtenis van onberekenbare betekenis veral vir die landbou en die boerebevolking was die stigting van die Langeberg Koöperasie. Dit was te danke aan die vérsiende blik van manne soos Sarel Conradie, Malcolm de Wet, Will Fullard, Gideon de Villiers, Johannes Nel, Dennis Barry dat hierdie Koöperasie ontstaan het. Hul het besef dat slegs deur samewerking en koöperasie hulle hulself kon help. Dit het gelei tot die Langeberg Koöperasie Beperk wat gedurende 1940 met ʼn aandelekapitaal van £24,000 en 216 lede in die lewe geroep is. Die eerste direkteure was: S.F.Conradie (Voorsitter), J.J. Nel, D. Faure, D. Barry, P.J. Bruwer, P.W. Burger, F.D. Burger, F.D. du Toit, W. Fullard en Gideon de Villiers. As hoofbestuurder is aangestel Mnr. George Whitehead.

  ʼn Groot stuk grond is by Ashtonstasie aangekoop, en op 1 Julie 1940 is die eerste sooie vir die groot fabrieksgebou omgekeer. Op 11 Desember 1940 is die eerste blikkies konfyt onder die bekende Koo etiket vervaardig. Dit was die klein begin van ʼn groot en grootse onderneming.

  Die Koöperasie het met rasse skrede vooruitgegaan. Die onsekere bestaan van vrugte en groentekwekers was iets van die velede. Meer aansoeke vir lidmaatskap het gekom, en in Maart 1941 het die ledetal en die ingeskrewe kapitaal gestyg tot 600 en £40,000. Daarna het dit verder vermeerder sodat dit in 1951 te staan gekom het op 1165 lede en ʼn ingeskrewe kapitaal van £144,755.

  Die fabrieksgebou is gedurig vergroot en aan die einde van 1951 het dit 250,000 vierkant voet beslaan. Daarmee het die produksie natuurlik ook vermeerder. Die volgende syfers sal aantoon hoe die fabrieksproduksie vermeerder het en in welke mate die onderneming geslaag het. Die syfers word gegee tot die naaste kwart miljoen, en in die volgende volgorde:

JaarKonfytIngemaakte vrugteIngemaakte groenteTamatie produkteDiverse
19416¼ mil.1½ mil.¼ mil.½ mil.1½ mil.
194515¼ mil.5¼ mil.2¾ mil.1¼ mil.¾ mil.
195011¼ mil.9¼ mil.1½ mil.2½ mil.1 mil.

Nota: Almal in soveel pond gewig

  As ons in gedagte hou dat ʼn baie groot deel van die vrugte en produkte vir hierdie doeleindes uit die distrik van Montagu kom, kan ons naasteby ʼn idee kry van hoe groot ʼn ekonomiese bate Langeberg Koöperasie Beperk vir die distrik is.

  Maar die fabriek is ook ʼn bron van werkverskaffing. Die Koöperasie het gereeld ongeveer 350 blanke persone in diens, terwyl ongeveer 500 tot 2000 gekleurde persone, na gelang van die seisoen,daar werksaam is.

  Die stigting van die fabriek moes noodwendig lei tot maatskaplike veranderinge.Waar Ashton vroeër net ʼn spoorwegstasie was met ʼn paar geboutjies, is vandag ʼn gevestigde gemeenskap met ʼn aantreklike dorpie Conradie, genome na die eerste voorsitter van die direksie. Dit het reeds sy eie dorpbestuur, ʼn eie poskantoor, polisiestasie, ʼn groot Kerksaal, en ʼn skoolgebou vir 200 – 250 kinders. Die blanke bevolking van Ashton met sy boeregemeenskap het in 1940 seker nie meer dan 150 getal nie. In 1946 was dit 401, en in 1951 was dit 500 met 389 alleen op Ashton en Conradie.

  Behalwe die fabriek van die Langeberg Koöperasie is daar nog ʼn private onderneming op Ashton: Die Ashton Caning Company met J.C. Barnard as eienaar en deur hom gestig in 1949. Dit werk natuurlik nie op baie groot skaal nie en maak net vrugte in. In die seisoen 1950 – 1951 is 96000 pond vrugte ingelȇ.

  Op Montagu is daar die inmaak en konfytfabriek van Brink Broers. In 1947 het die firma reeds begin met kook en inlȇ van vrugte op klein skaal.

Picture: Montagu Museum

Transnet Heritage Library Photo Collection

  In 1948 is ʼn fabriek gebou aan die oostekant van die dorp langs die pad na die Bad. Spoedig was dit nodig om die gebou te vergroot weens die vermeerde produksie van die fabriek. Ook hierdie fabriek is ʼn bate vir die vrugte boere. In die seisoen November 1950 – Oktober 1951 het die fabriek 2272 ton vrugte en druiwe uit die distrik verwerk.  Behalwe hierdie tonnemaat is daar nog 427 ton van buite Montagu en sy distrik wat die fabriek ook in die jaar verwerk het.

  Gedurende die seisoen verskaf die fabriek werk aan ʼn aantal blankes en ʼn groot getal kleuringe.

  Montagu kan ook roem op ʼn meubelfabriek, hoewel dit maar op klein skaal is en dit hom net toelȇ op kombuisgereedskap. Dit is die Elda meubelfabriek met H.J. Ellis as

eienaar en deur hom in 1948 opgerig. Hy fabriseer kombuismeubels teen gemiddeld £1000 per maand, en 95% daarvan is vir bestallings van buite Montagu.

Die Opsteller van Deel 1 is vir hulp en inligting baie dank verskuldig aan:

  1. Beknopte geskiedenis van Montagu opgestel deur Mnr. A. W. Hofmeyr by geleenheid van die Eeufeesjaar 1938.
  2. Mnre. McSweeney, Pauw, Wessels van die Munisipale Kantoor.
  3. Mnre. Haarhoff en Strydom van die Langeberg Koöperasie.
  4. Die Hoofkantoor van die KWV Paarl.
  5. Mnr. George Brink.
  6. Mnr. Danie van Zyl.
  7. Dr. C.H. Muller.
  8. Mnr. Derksen.
  9. Mnr. Koos Rossouw, Koo.

Mr. O’Kennedy was ʼn geskiedenis onderwyser by die Montagu Hoër Skool

  Op 24 Junie 1955 het mnr. H. F. O’Kennedy met pensioen afgetree. Vir ons wat so lank met hom saamgewerk het en geleer het om hom as mens en as Christen te waardeer, was dit voorwaar nie maklik om van hom afskeid te neem nie. Tog gun ons hom die welver- diende rus na twee-en-dertig jaar van getroue diens en toegewyde pligsvervulling.

  Hendrik Francois O’Kennedy is ʼn seun van Malmesbury, alwaar hy opgegroei en skool- gegaan het. Nadat hy sy opleiding aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het, het hy in Julie 1923 op Piketberg gaan begin onderwys gee. Daar het hy vir twee jaar en nege maande gewerk totdat hy in April 1926 ’n betrekking aan die hoërskool alhier (Montagu) aanvaar het. Sedertdien het hy hier gebly tot aan sy aftrede.

  In die skool sal ons hom baie mis, want hy was ‘n kollega wat deur almal gerespekteer is, ʼn man wie se opregtheid en mensliewendheid altyd bewondering afgedwing het. In die personeelkamer en by die personeelvergaderings sal sy besadigde optrede en sy kostelike sin vir humor nie maklik vergeet word nie. Graag het ons na hom geluister, juis omdat hy altyd so opreg was en dit so goed bedoel het.

  Ook ons seuns en dogters sal hom mis van wee sy simpatieke aard wat hom as onderwyser so goed te stade gekom het. Hy het die kind liefgehad en het graag aangemoedig en gehelp om die mooie en die edele in hulle karakters te ontwikkel en sterk te maak.

  Maar dis veral in die C.S.V. waarvan hy vir meer as twintig jaar die leier was, dat hy sy stempel die duidelikste afgedruk het op die lewens van ons kinders. Die C.S.V. was die naaste aan sy hart. Daar het hy hom uitgeleef en daar was geen opoffering vir hom te veel nie. Ons sal hom altyd dankbaar bly vir die mooi voorbeeld wat hy ons in die C.S.V. gestel het.

Mag die jure wat voorlȇ vir hom en Mev. O’Kennedy waarlik aangenaam en gelukkig woes.

J. E. Kellermann.

Auf Wiedersehen





image_pdfDOWNLOAD PDF