100.CBR Water – Scheme (Afrikaans)

image_pdfDOWNLOAD PDF

Die CBR-verhaal is gebaseer op die prospektus wat in 2006 gepubliseer is

100ste Storie

My dank aan my VROU, EMILE BADENHORST, IRMA JORDAAN, BYDRAERS en BESOEKERS aan die Montagu Stories-webblad. Ons sou nie ons 100ste storie kon vier sonder julle ondersteuning nie.

Dit was nie moeilik om te besluit watter storie geplaas moet word om die Montagu Museum se 100ste historiese verhaal te herdenk nie. Baie mense het bygedra tot die groei en volhoubaarheid van Montagu, maar ‘n groep vasberade mense is uitgesonder vir hierdie storie. Sonder hul bydraes kan mens net wonder waar Montagu vandag (2024) sou wees. Die storie is ook moontlik gemaak deur Charlie Joubert ‘n Montagu-inwoner wat uitstekende gedokumenteerde elektroniese kopieë van ons storie in beide Afrikaans en Engels kon vind.


ʼn Boodskap van: Emile Badenhorst

Museum Streeksbestuurder

Breede Vallei Streek

Vandat die eerste artikel op 26 Mei 2020 onder Montagu Stories op die museum se webblad verskyn het, is dit nou drie jaar en 100 stories later…wat ‘n prestasie!

Dit is my voorreg om vir Rudi Allmayer en sy span geluk te wens met hul besonderse prestasie. Hierdie groep vrywilligers het ongemerk en sonder om te veel aandag op hulself te vestig, die dorp en distrik ingevaar – op soek na stories en foto’s van die “ou Montagu”.

In die proses is die Montagu Museum se argiefkamer geleidelik gevul met ‘n skatkis inligting. Geskiedenis wat anders verlore sou wees. Bokse en leêrs addisionale en nuwe inligting en foto’s wat van onskatbare waarde sal wees vir enige toekomstige navorser.

Wat ook gebeur het, was dat hulle die Montagu Museum na die gemeenskap van Montagu geneem het. Onder die vaandel van die museum, het hierdie vasberade span geen steen ongeroer gelaat nie – van woonbuurte, veraf plase in die distrik tot afgeleë klowe, murasies en verlate begraafplase…om stories te versamel vir ‘n nuwe en selfs groter digitale gehoor.

Namens die Montagu Museum wil ek hierdie span navorsers asook die Vriende van die Montagu Museum bedank vir hulle getroue diens. Ek weet nie van nog so ‘n projek by enigeen van die kleiner museums in die Wes-Kaap nie – dit is regtig uniek.

Voorspoed ook met die werk wat nog voorlê…

Daar is net een manier om te weet: gaan kyk en vra…

Ton Vosloo, 1975


En nou begin die storie

Voorwoord

Vandag (2006) sien ons ‘n skema… Hierdie skema pomp water…

Ons besproei landbougewasse daarmee, lewer dit aan die Munisipaliteit as rou water vir suiwering en die damme word in sekere gevalle vir verskeie vorme van ontspanning gebruik. Baie verbruikers is nie bewus van die omvang, asook die aanloop, tot die lewering van hierdie lewensnoodsaaklike kommoditeit nie.

Net soos dit gebeur dat besoekers ons dikwels moet herinner aan ons pragtige berge en die
wonderlike natuurskoon rondom ons wat ons nie meer raaksien nie, so wil ons met hierdie uitgawe die leser ‘n besoeker maak aan hierdie besonderse besproeiingskema, asook vertel van die ontstaan en ontwikkeling daarvan.

Met hierdie uitgawe wil ons die leser aan die persone voorstel wat nie slegs ‘n droom gehad het nie, maar hul droom omskep het in ‘n realiteit waarsonder ons streek se ekonomiese voortbestaan slegs ‘n droom sou bly.

Om so ‘n skema op te rig en, teen sommige pessimiste se verwagting in, te laat slaag, benodig ‘n besondere vorm van spanwerk. Alhoewel hierdie spanwerk nie altyd aan dieselfde kant was nie, was die rolspelers en hul “droom” groter as hul verskille en het hulle dit moontlik gemaak om hierdie skema vir ons en ons nageslag daar te stel. Hierdie publikasie, asook die verskil wat die skema aan ons area en samelewing gemaak het, verleen erkenning aan alle rolspelers wat hierdie projek gedryf en deurgevoer het.

Erkenning word ook gegee aan die persone wat oor ‘n tydperk van 25 jaar hierdie skema aan die gang gehou, bestuur en uitgebrei het tot die huidige status. Hierdie op sigself is ‘n prestasie. Vloede het gekom en gegaan, droogtes was daar, maar die lewering van water het konstant gebly.

Sonder toegewyde behulpsame besproeiers sou hierdie skema ook net ‘n droom gebly het.
Besproeiers het hierdie gedagtes en drome ondersteun en hul volle gewig ingesit om dit na 25 jaar nog steeds as ‘n lewensaar te kan ervaar.

Ons wil ook hiermee ere-erkenning gee aan die Hoër Hand wat altyd sigbaar was, deur rampe en voorspoed, wat ons oor die tydperk, vanaf die ontstaan van hierdie droom tot op hede, ervaar het.
E Leicher
Voorsitter


Fotografie : Ziya Fana Images: Wicus Leeuwner, Kina Joubert, R. van Dijk

Navarsing teks en verwerking: R. van Dijk 2007

Taalkundige versorging: Nellie Alberts,Lize Rossouw


Inleiding
Waar kom CBR vandaan?
Enkele rolspelers in die ontstaan van CBR
Die skema vandag
Die Raad en Personeel
Diensverskaffers aan CBR
Grafieke en statistieke
Enkele indiwiduele mededelings
Die volgende 25 jaar

Inleiding

Die doel van hierdie uitgawe is om uit te beeld waar die Cogmanskloof Besproeiingskema sy
onstaan gehad het, hoe dit tot stand gekom het en waar ons vandag staan. Geskiedkundige en tegniese inligting is na ons beste wete weergegee op ‘n maklik en verstaanbare wyse, toegelig met foto’s of diagramme. Insette is van rolspelers gekry wat hul herinneringe met ons gedeel het. Hierdie rolspelers sluit in persone wat die gedagte van watervoorsiening aan ons streek gekoester het en as ‘n visie gehad het om water vanaf die Breërivier tot op die plaas te kry; persone wat oor baie jare onverpoos hul beywer het om hierdie visie te verwesenlik. Ook is die ingenieurs wat betrokke was, raadgewers en kontrakteurs genader om staaltjies en herinneringe met ons te deel.

Ons het opgeteken soos wat die persone onthou het en sover moontlik die feite probeer verifieer uit notules en dokumentasie beskikbaar, asook met ander persone wat betrokke was.

Met die soeke na water oor baie dekades vir die twee dorpe en hul landbougemeenskappe is daar ‘n magdom inligting en staaltjie en persone wat vertellinge kan meedeel. Die opteken van die pogings om standhoudende water aan die streek te voorsien, regverdig ‘n publikasie in eie reg. Daar is so baie persone wat op verskillende vlakke met verskillende planne betrokke was – te veel om in hierdie boek op te neem. Ons het slegs enkele van die inisiatiewe om water te kry kortliks hier opgeteken. Daar is baie ander indiwidue wat ook direk met die totstandkoming van die skema betrokke was; ons het slegs in essensie die hoofsaak en kernfeite hier ter boek gestel.

Die huidige Raad wil met hierdie publikasie aan almal wat ‘n belang het by die skema, ‘n blik gee op die enorme werk wat die totstandkoming en oprigting van die skema voorafgegaan het. Dit is nie bedoel om ‘n gekiedenistesis te wees nie, ook nie ‘n tegniese handleiding nie, maar eerder ‘n kortbondige weergawe oor die skema.

Ons hartlike en opregte dank aan almal wat tyd afgestaan het om terug te dink aan gebeure van 30 jaar en langer gelede sodat ons hiermee ‘n beskeie weergawe kan gee van ‘n grootse projek!

In die besproeiingsbedryf word waterinlysting uitgedruk in hektaar. Daarmee word bedoel die hoeveelheid water wat onder ‘n sekere skema geallokeer word om een hektaar se gewasse te besproei vir een jaar. Onder hierdie skema in die Ashton gebied word 7 450 m³ water gelyk gestel aan een hektaar en aan die Montagu kant word 7 000 m³ geag een hektaar te wees. Dit beteken nie dat hierdie hoeveelheid water voldoende is om ‘n hektaar se aanplantings mee te besproei nie, want verskillende gewasse, grondsoorte en klimaatstoestande stel verskillende waterbehoeftes. Ander skemas lewer 10 000 m³ per hektaar terwyl daar ook skemas is wat 4 000 m³ per hektaar toeken.

R van Dijk
Hoof Uitvoerende Beamp


Waar kom CBR vandaan?

CBR se fondasies lê sover terug as die vroeë 1920’s! Reeds in 1926 was daar van ‘n skema sprake wat vir Ashton water uit die Breërivier sou gepomp het. Om verskillende redes het hierdie skema, bekend as die “1926-kanaalskema”, nooit aan die gang gekom nie. Die grootste struikelblokke was waarskynlik die verkryging van waterregte uit die Breërivier, kostes en praktiese implikasies.

Sedert die 1920’s was daar voortdurend mense op Ashton wat die verkryging van water vir Ashton ondersoek het. Daar is deurlopend planne gemaak en opsies oorweeg oor hoe om water vir die dorp en besproeiing te kry. Volgens die stigtingsverklaring van Ashton moes die nou bekende Langeberg fabriek die dorp van water voorsien uit die Marthinusvlei- en Wildepaardekloofstrome, maar die ontwikkeling van die dorp het baie druk op die waterbronne geplaas. Langeberg het ‘n half hektaar grond van die plaas Zandvliet gekoop om die waterregte van die grond te bekom sodat dié water ook vir die dorp aangewend kon word. Gedurende die 1950’s het die drie bronne tesame ook onvoldoende geword en Langeberg het nie meer kans gesien om verdere uitbreidings te doen om water te voorsien nie. Die bestuur van hierdie bronne is in die vroeë sestiger jare deur die Munisipaliteit oorgeneem.

In 1951 is daar weer lewe geblaas in die gedagte van die oprigting van ‘n skema.
Daar was toe twee moontlikhede ter sprake, nl. die 1926-kanaalskema en ook ‘n turbine
pompskema.


Die Turbine pompskema:
Uit ‘n notule van die Besproeiingsraad van Ashton:
“Die water van Zanddrift (65 kuseks), Angorra (25 kuseks),
privaat pompe (10 kuseks) (in totaal 100 kuseks) en ons
benodigde 36 kuseks, sal in ‘n kanaal gebring word vanaf
Goree tot by die proefplaas te Robertson. Die 100 kuseks sal
dan van Muiskraalskop af in ‘n pyp met 45 voet val gestort
word om genoeg krag te vervaardig om ons 36 kuseks hoog
genoeg te pomp om 2300 morge te benat.”
Die water wat in die pyp met 45 voet val (13,7 m) gestort sou
word, sou deur turbines geloop het wat op hul beurt
elektrisiteit sou opgewek het. Die elektrisiteit sou dan die
pompe aangedryf het waarmee die Besproeiingsraad van
Ashton 36 kuseks se water na Ashton sou gepomp het.


Op 25 September 1952 het die Breërivier Waterbewaringsraad die reg van die Ashton
Besproeiingsraad erken om water uit die rivier te pomp. Baie gesprekke is met
ministers gevoer oor die waterregte en die finansiering van ‘n skema. Ingenieurs soos,
mnr. Van der Leij, het baie moeite gedoen om verskillende skemas te ondersoek,
kostes van die water te bepaal en die lewensvatbaarheid van die skemas te ondersoek. In 1958 sou ‘n volle skedulering uit die beoogde kanaalstelsel £20 per morg gekos het.

Op 8 Maart 1965 het die Minister van Waterwese die Ashton Besproeiingsraad wettiglik gekonstitueer. Die volgende persone was toe op die raad: PJ de Wet (voorsitter), NDLvan Niekerk, JTRabie, JF Barnard, PJordaan, en BH Reynecke.

Teen die einde van die sestigerjare het ‘n mnr. Jarvis, ‘n landmeter, ‘n skema ontwerp wat gebruik gemaak het van ongeveer 12 damme, boorgate en ook pompwater uit die rivier. Uit die rivier mag hulle slegs gepomp het as 1) daar 250 kusek oor die Zanddrift uitkeerwal loop en 2) as die soutgehalte van die water minder was as 250 dele per miljoen. In vandag se terme is dit ongeveer 40 mS/cm. Hierdie skema sou winter afloopwater uit die rivier in verskillende damme stoor vir gebruik in die somer op 865 ha grond.

Mnr van der Leij het vanaf 1949 tot 1953 baie werk vir die Ashton Besproeiingsraad gedoen. Die genotuleerde vergoeding wat hy vir hierdie tydperk se werk ontvang het was £966.  

Op 10 Junie 1971 is ‘n afvaardiging van die Ashton Besproeiingsraad uiteindelik na die Minister om aansoek te doen vir goedkeuring van die skema. Die Minister het bevind dat weens die uitbreidings van die voorgestelde skema na die gebiede van Karpad en Stockwell, die waterbelasting van R250 per morg (R288 per hektaar) die skema onekonomies maak. Sy
aanbeveling was dat daar van die skema afgesien moet word. Die Ashton Raad het hierna egter nie ontbind nie, maar steeds onder voorsitterskap van mnr. Barnard voortgegaan om die belange van die Ashton besproeiers te dien en bevorder.

Intussen het die boere van Montagu ook nie stil gesit nie. Onder leiding van mnr. Viljoen is daar verskeie moontlikhede oorweeg om besproeiingswater na Montagu te bring.
Aanvanklik is daar die sogenaamde Skotlandskloof kontoer kanaal en Dwarigadam
skemas ondersoek. Om verskeie redes het geen van hierdie opsies gerealiseer nie en in die vroeë vyftigerjare was die plan om water vanaf die pas geboude Poortjeskloof Staatsdam te benut. Na voltooiing van die dam is gevind dat die rivier nou minder water lewer vir besproeiing en is die kanaal vanaf die dam tot in die dorp kort daarna gebou. Dit het verligting gebring, maar die water was nog nie voldoende vir ‘n volhoubaar
lewensvatbare boerdery nie. ‘n Jaar of wat later is die damwal verhoog met 4,5 meter om meer water te stoor, maar steeds was die water nie standvastig genoeg nie. Voormelde pogings het tot 1969 slegs ten doel gehad om die Derdeheuwel- en Agter- Langeberg gebiede van water te voorsien.


Boer maak ‘n plan
Toe die water vir besproeiing min geword het op Ashton in die laat twintiger jare, het Piet Vermeulen besluit dat daar water in die Cogmanskloofrivier is wat gebruik kan word.
Hy het twaalf seuns gehad en op ‘n gedeelte van die plaas Zandvliet geboer. Hy het besluit om eiehandig grondkanale te grawe om water uit die Cogmanskloofrivier na sy plaas te bring vir besproeiing. Hulle het in die vroeë 1930’s drie slote gegrawe.
Die een het by die Ashton/Swellendam T-aansluiting begin, teerpad se kant van die rivier al met die rivier langs, voor die Polisiekantoor verby tot op die plaas waar mnr. Paul de Wet vandag is!
Die ander twee het begin by die sogenaamde “Rooiwal” naby die Ashton-golfbaan en aan weerskante van die rivier geloop. Daar was ‘n keerwal oor die rivier wat water na beide kante toe uitgekeer het in die slote in. Een van hierdie kanaalslote het ook tot op die plaas van
die Vermeulens geloop.

Hierdie kanale was bekend as die Cogmanskloof kanale.
Met, onder andere, die bou van die Poortjeskloofdam in die vroeë vyftigs het die water in die Cogmanskloofrivier begin verminder. Die toenemende boerdery in Montagu het ook bygedra daartoe dat die watergehalte van die rivier begin verswak het. Stelselmatig het die rivier in volume en gehalte net te swak geraak om die voortbestaan van die kanale te
regverdig. Met die aanbreek van die sestigerjare was die kanale in onbruik en moes daar dringend ander waterbronne bekom word.
Waar daar eertyds water van Montagu af gekry is vir besproeiing, word die water nou met dieselfde rivier langs per pyp na Montagu gepomp!


Sedert Augustus 1969 is daar begin om vir die breë gemeenskap van Montagu water te soek. Op 22 September 1970 is die Agter de Cogmanskloof Waterkomitee gestig. Die
bedoeling was dat die woord “komitee” met “Raad ” vervang sal word as die
Besproeiingsraad- en distrik amptelik geproklameer word.

Montagu het met die hulp van hoofsaaklik privaat instansies, mnr. Jarvis en veral Spilhaus,
saamgewerk en so is die sogenaamde “Spilhaus” skema ontwerp. Na verskeie gesprekke en
besoeke aan die Minister van Waterwese is ook diè skema deur die regering afgekeur.

In die vroeë 1970’s het die Minister beide die groepe van Ashton en Montagu meegedeel dat daar nie vir een groep ‘n indiwiduele skema goedgekeur sal word nie, maar dat daar wel
oorweging aan geskenk sal word as die twee groepe ‘n gesamentlike skema sou voorlê.

Omdat dit vir die Ashton Besproeiingsraad duidelik was dat die regering nie ten gunste
was van ‘n skema vir Ashton nie, het mnr. Barnard die vergaderings van die Agter de
Cogmanskloof Waterkomitee gereeld bygewoon. Op 10 September 1971 stel hy
voor dat die twee dorpe amptelik moet saamwerk om water uit die rivier te verkry.

Op daardie stadium het die Agter de Cogmanskloof Waterkomitee bestaan uit die volgende mense: Johan Viljoen (voorsitter), Ewie Basson, Kenneth Knipe, Marius Burger, Isak Nel,
C Geldenhuys, en Barry Olivier.

Aanvanklik sou die Montaguskema, soos Ashton, ook net winter afloopwater uit die rivier
onttrek het, maar op 25 Februarie 1972 deel die Voorsitter die Raad mee dat, in die lig van ‘n
skrywe van die Departement van Waterwese, die oorspronklike skema herbeplan moet word sodat daar oor twaalf maande water uit die Breërivier gepomp sal word. Die skema se grootste opgaardam, Knipeshopedam, is reeds die volgende maand opgemeet deur mnr. Jarvis, wat ook betrokke was by die Ashton skemas.

Op ‘n gesamentlike vergadering in die stadsaal van Ashton is daar na lang besprekings en baie verskille, besluit om een gesamentlike skema aan te durf. Die verskille het hoofsaaklik
gedraai rondom die beleid van tarief differensiasie tussen die twee dorpe. Die Montagu groep was sterk gekant teen verskillende tariewe terwyl die Ashton mense sterk daarop aangedring het omdat eenderse tariewe sou neerkom op subsidiëring van die Montagu wyk. Uiteindelik het die partye ooreengekom om die tariewe te differensieer, soos wat die geval met die kanale is. Hoe verder jy van die bron af bly, hoe duurder is die water.

In die Staatskoerant van 17 September 1976 word die besproeiingsdistrik van die
Cogmanskloof Besproeiingsraad amptelik geproklameer. Tot 1979 word saam met die
Departement van Waterwese ondersoeke gedoen om ‘n skema te ontwerp, maar op 21
Mei 1979 word die firma Stiglingh, Van Rooyen en Vennote aangestel as konsultante
saam met Waterwese. Teen November dieselfde jaar brand Waterwese vas met die
ontwerp en tender dokumente en in Desember kry mnr. Stiglingh se maatskappy
alleenmandaat om ‘n skema te ontwerp.

Die staat het uiteindelik die skema goedgekeur as ‘n proefskema. Waterwese was steeds van mening dat die totale hoogte waaroor CBR die water wil pomp, onekonomies is. Hulle gee egter bes en voer aan dat indien die Ashton en Montagu besproeiers met die skema sou slaag, hulle ook ander soortgelyke skemas sou kon goedkeur.

Die koste van die skema was die grootste knelpunt. Op daardie stadium was CBR die grootste en duurste skema vir die landbou in die land.

Die beskikbaarstelling van water in die Breërivier vir CBR het saamgeval met die vergroting van die nou bekende Brandvleidam en die oprigting van die sementkeerwal oor die rivier by Zanddrift. Hierdie keerwal is noodsaaklik vir CBR omdat dit die water opdam. Die opdamming skep dan genoeg diepte vir ons pompe om die water te kan uitpomp.

Waterwese het die nodige fondse oor drie jaar bewillig, maar mnr. Stiglingh het aanbeveel dat die skema liewer in 18 maande voltooi moet word om stygende kostes te beperk. Dit het ‘n paar keer tot kontantvloei probleme gelei wat genoodsaak het dat private eksterne fondse verkry moes word. Die eerste lening is by Boland Bank bekom vir die bedrag van R50 000 en die volgende by Volkskas (vandag bekend as ABSA). Dit het gou duidelik geword dat die handelsbanke nie genoegsame fondse beskikbaar sal stel nie. Landbank is genader vir ‘n lening en dié het in die orde van R7 miljoen bewillig mits die Minister as borg sou teken. Dit was ‘n eerste vir ‘n minister om borg te teken en ook vir die Landbank om geld vir so ‘n doel beskikbaar te stel. Hierdie lening is daardie jaar spesiaal in die Landbank se jaarverslag uitgesonder!

In 1980 trek daar ses kontrakteurs Ashton en Montagu binne met slootgrawers en stootskrapers. Die wêreld het soos ‘n oorlogsveld gelyk soos wat die meer as 100 km se slote gegrawe is vir die bou van die pype, damme en pomphuise. Die Avalon Hotel bars uit sy nate van die kontrakteurs se personeel. Allerhande onheilighede het daar uitgebroei soos om mnr. Stiglingh (ingenieur van die skema) in die “Bridal Suite” te laat slaap! Daar is tot laatnag rinkink en rumoer.

Bouwerk was ‘n grootse projek. Op plekke was daar rotse wat met dinamiet weggeskiet moes word. In die tonneltjie in Cogmanskloof moes die rots versigtig met plofstof verwyder word om te dat die rotsdak skade kry. Daarvoor is spesiale toestemming van die paaie-owerhede bekom. Onverwagte reëns het ook soms die bouwerk vertraag deurdat klowe skielik in vloed gekom het en die reeds opgestelde weggespoel het. N o o d g e d w o n g e
moes die werk dan gestaak word totdat die rivier afgeloop het. Dan is die werk maar die volgende Maandag weer van voor begin.

En toe… 25 Januarie 1981 – Laingsburg vloed! Na die tyd het dit gelyk of die klowe en riviere met ‘n besem skoon gevee is. In die Cogmanskloof was die slote nog oop en verskeie lengtes pyplyn h e t weggespoel. Rivierkruisings moes daarna almal verleng word omdat die riviere nou wyer was, maar as geheel is die bouwerk minimaal benadeel.

Konstruksie is voltooi in Desember 1981 en vir almal was dit ‘n grootse gebeurtenis toe die
eerste water uit die rivier ure later in Knipeshopedam op Montagu aangekom het. Die Swart
Mamba het sy eerste water uitgespoeg en die Goue Aar geword. Veldgrond is omskep in boorde en wingerde. Die droom van verskeie baanbrekers is danksy geduld en volharding verwesenlik sodat die gemeenskappe van twee dorpe daarby kon baat.

Die beginjare van die skema was maar vol woelinge. Sommige besproeiers was ongelukkig oor die lewering van water, ander oor die rekeninge en ander oor die differensiasie van die waterbelastings tussen die verskillende wyke.

Die prys wat ons vir elektrisiteit betaal het, was ‘n groot knelpunt. Daar was verskeie onderhandelings met Eskom, die Munisipaliteite en die Minister om ‘n tarief te beding wat gunstiger was as die heersende tariewe, omdat ons ‘n groot verbruiker is wat ‘n konstante aanvraag het. Die tarief wat ons vir elektrisiteit betaal, beïnvloed die waterbelasting direk omdat elektrisiteit ongeveer 67% van ons uitgawes beloop.

Na vele onderhandelinge het daar beter tariewe in plek gekom en uiteindelik in die laat negentigs is daar ‘n ooreenkoms met die Munisipaliteit aangegaan dat ons ‘n tarief gekoppel aan Eskom se tarief, sal betaal met ‘n 5% toeslag. Hierdie ooreenkoms is onlangs herroep en daar word tans weer onderhandel oor tariewe. Die delging vir die lening van die Departement van Waterwese moes in die tagtiger jare nog geïmplimenteer word. Daar is besef dat die water reeds baie duur was en dat, as die delgingspaaiement ingestel word, dit vir die besproeiers onmoontlik sal wees om die belastings by te bring. ‘n Versoekskrif ter afskrywing van die lening is opgestel waarna die Departement van Landbou verskeie lewensvatbaarheidstudies en ekononiese ondersoeke gedoen het na die welvaart van die besproeiers.


UITTREKSEL UIT DIE STAATSKOERANT:
17 SEPTEMBER 1976
Proklamasie No. 190, 1976
Nademaal eienaars van oewergrond aan die
Cogmanskloofrivier en sy sytakke, ingevolge artikel 71
(1) van die Waterwet, 1956 (Wet 54 van 1956), aan die
Minister van Waterwese ‘n versoekskrif voorgelê het
waarin vermeld word dat dit na die mening van
petisionarisse wenslik is dat ‘n gekombineerde stelsel
van waterwerke vir die besproeiing van sodanige grond
gebou behoort te word;
So is dit dat ek, kragtens die bevoegdheid van my
verleen by artikel 74 (1) van die genoemde Wet, hierby
verklaar dat die gebied soos geskryf in die Bylae hiervan
‘n besproeiingsdistrik uitmaak wat bestaan uit twee
subdistrikte en bekend staan as die Cogmanskloof-
besproeiingsdistrik;
En voorts verklaar ek hierby, kragtens die bevoegdheid
my verleen by artikel 79 (1) van genoemde Wet, dat daar
vir genoemde besproeiingsdistrik ‘n besproeiingsraad
moet wees wat as die Cogmanskloof-besproeiingsraad
bekend sal staan.
Gegee onder my Hand en die Seël van die Republiek van
Suid-Afrika te Pretoria, op hede Een-en-dertigste dag
van Augustus Eenduisend Negehonderd Ses-en-
sewentig.
N. DIEDERICS, Staatspresident
Op las van die Staatspresident-in-rade:
A.J. RAUBENHEIMER


In 1989 het die regering goedgekeur dat ‘n bedrag van meer as R8 miljoen afgeskryf word – hoofsaaklik opgelope rente sedert 1981. Die afskrywing van hierdie geld het dit vir almal makliker gemaak om die belastings te betaal. ‘n Bedrag van R264 per hektaar is sedert 1990 tot onlangs gedelg, toe ons die kapitaalbedrag uitstaande, afgelos het. Ons delg egter steeds aan ‘n klein bedrag uitgestelde rente.

Die hooflyn word gebou
Die pyplyn word gebou na pompstasie 2. Vandag is
daar 100 ha wingerd waar destyds niks verbou is nie

Skietwerk buite die tonneltjie om die rotse weg te skiet.

Om met plofstof naby die historiese
tonneltjie te skiet, hou die gevaar in
dat die rotswande van die tonnel kan
kraak en sodoende onveilig raak vir
die verkeer. CBR het toestemming
gekry om onder sekere voorwaardes
wel daar plofstof te mag gebruik.

Die pyplyn vanaf Ashton na
Montagu is 600 mm in deursnit,
maar toestemming is verleen vir ‘n
uitgrawing in die tonnel wat net wyd
genoeg is sodat daar ‘n 500 mm pyp
onder die pad in die tonnel geplaas
kon word. Die pyp is in ‘n beton
bekisting geplaas aan die kant van
die een rybaan en is van een klas
sterker as wat deur die waterdruk
vereis word.


Rots word in die tonnel met dinamiet geskiet.

Aanvanklik was die beplande roete wat die pyp sou volg vanaf Ashton tot by die tonneltjie, al met die teerpad langs. Teen die einde van die beplanningsfase is toestemming verkry om die pyplyn op die historiese pad langs te lê mits die grond na konstruksie weer tot dieselfde mate
gekompakteer word as wat dit was. Hierdie roete is vanuit ‘n konstruksie oogpunt die makliker roete om te volg.
Na voltooiing van die gedeelte van die pyplyn is daar lank gesoek na ‘n lek in hierdie deel. Een van die kontrakteurs het eendag met die verbyry daar opgelet dat die klipwand van die pad voor die tonneltjie nat was en het so die lek gevind.


Die uitgrawing in die
historiese pad. Die
pyplyn is reeds gelê
en die grond word
teruggevul tot die
oorspronklike mate
van digtheid.

Die 600 mm deursnit hooflyn langs die teerpad duskant die Natuurtuin in
Montagu.

‘n Pyp word met behulp van ‘n slootgrawer in posisie geplaas.

Herstelwerk aan die pyplyn na die vloed van 1981. Die foto is geneem naby die aansluiting van Van Riebeeckstraat met
Langstraat, naby die brug aan die begin van die kloof
.


Onverwagte reëns het die pasvoltooide Sarahsdam laat oorloop nog voordat die uitloop klaar gebou was. Die betonbewapening was reeds geplaas.

Water spoel oor die betonbewapening tydens die konstruksie van die uitloopkanaal van die Sarahsdam in Ashton.


Die vloed van 25 Januarie 1981 het ‘n blywende indruk gemaak op diegene wat in die betrokke area gewoon het.
Laingsburg en omgewing het baie swaar neerslae gehad. Afloopwater het na die Pietersfonteindam geloop. Die dam het ‘n sementwal met ‘n handreling bo-op gehad van nagenoeg ‘n meter hoog. Daar het so baie reën geval in die opvanggebied dat die dam se uitloopsluise te klein was om al die water deur te laat. Water het bo-oor die wal begin
loop en opdrifsels het teen die reling begin ophoop. Die water het redelik hoog teen die relings opgedam voordat dit geswig het onder die druk.
Dit is hierdie massa water wat tegelyk oor die wal gestroom het, wat die verspoelings in Montagu veroorsaak het.
Slote vir die pype in die kloof was reeds gegrawe en verskeie pype het weggespoel. Die slote moes uiteraard weer gemaak word en die plekke waar die pyp die rivier kruis, moes nou langer gemaak word omdat die rivier wyer was na die vloed.
Met die vloed in 2003 is twee van die weggespoelde pype weer gevind en herwin. Hulle is steeds in ‘n goeie toestand!


Mnre. Viljoen, Barnard en mev. Viljoen tydens die onthulling van die naamplaat te pompstasie 5 ter erkenning van die aandeel wat mnr. Viljoen gehad het in die totstandkoming van die skema.

Die naambord soos aangebring by pompstasie 5


Enkele rolspelers in die ontstaan van CBR

In die geskiedenis van CBR is daar verskeie mense wat ‘n rol gespeel het in die totstandkoming van die skema.

Van ons ouer lede sal name onthou soos Van der Leij, Jarvis, GH Whitehead, NDL van Niekerk, Kitto, Kenneth Knipe, IB Nel en PS Marais, om net ‘n paar te noem. Meer onlangse name wat uitstaan by CBR is Johann Stiglingh (ontwerp-ingenieur), Maritz Wessels (ingenieur, Stiglingh, Venter en Vennote), Koos Barnard (eerste voorsitter van die huidige Raad), Johan Viljoen (beyweraar vir Montagu skema en stigterslid, oud-voorsitter), Boet van der Merwe (oud- voorsitter) en JD van Deventer (oud-voorsitter). Daar was nog baie ander, te veel om op te noem, maar enkeles wat verdien om uitgesonder te word, is as volg:


JF (Koos) Barnard

Mnr. Barnard het in 1941 op Ashton gekom saam met sy ouers en sy skool opleiding hier voortgesit tot standerd ses. Daarna is hy na Paarl Boys’ High om sy skoolloopbaan te voltooi. In 1949 bedank sy vader as fabrieks- bestuurder by LKB en begin hy Ashton Canning waar mnr. Barnard in Desember 1950 by hom aansluit en later jare die leisels oorneem. Mettertyd
het hy hom as leierfiguur in Ashton onderskei deur vir 31 jaar onafgebroke op die Munisipale Raad te dien. Gedurende hierdie typerk was hy agt keer burgemeester en agt keer onderburgemeester. Vir 16 jaar het hy ook gedien op die Afdelingsraad waarvan die laaste ongeveer agt jaar as voorsitter van die Paaie-komitee. Met die 1981-vloed was hierdie pos beslis nie die maklikste om in te dien nie, want die Afdelingsraad se padboumasjiene was almal elders besig terwyl die paaie hier erg verspoel was. Dit was toe persketyd en hy het maar op eie stoom en met privaat vragmotors en slootgrawers gereël dat die paaie herstel word.

Tydens sy ampstermyn as burgemeester het hy besef dat die dorp se waterbronne nie die mas opkom nie. Daar moes ‘n meer standvastige bron gevind word wat aan die groeiende behoefte van Ashton kon voorsien.

Mnr. Barnard het sedert die vroeë vyftigerjare hom met ywer toegespits om standvastige water vir die dorp uit die Breërivier te bekom. Toe die Ashton Besproeiingsraad wettiglik gekonstitueer is op 8 Maart 1965 is hy verkies tot die Besproeiingsraad. Sedertdien het hy ‘n prominente rol gespeel in die verkryging van ‘n skema om Breërivierwater in die dorp te kry. Gedurende 1969 was die voortbestaan van die Ashton Besproeiingsraad in die weegskaal omdat daar geen lewensvatbare skemas ontwikkel kon word nie, maar mnr. Barnard het aanbeveel dat die Raad bly voortbestaan totdat al die ondersoeke na sekere skemas afgehandel is. In Augustus 1969 word hy verkies as voorsitter van die Ashton Pompskema waaruit die Ashton Besproeiingsraad weer tot stand gekom het en uiteindelik tot die stigting van CBR gelei het. Onder sy leiding is daar weer lewe geblaas in die ontwikkeling van die Ashton Pompskema. Die skema is ontwerp, beplan en deurgevoer tot op ministersvlak. Nadat die Minister op 10 Junie 1971 nie oedkeuring vir die skema wou verleen nie, het mnr. Barnard hom steeds bly beywer vir die verkryging van water uit die rivier, totdat hy sy doel bereik het met die totstandkoming van CBR.

Daar was toe reeds verwikkelinge op Montagu onder leiding van mnr. Viljoen om ‘n skema op Montagu te begin. Mnr. Barnard het ingesien dat die Minister van Waterwese se voorstel om ‘n gesamentlike skema met Montagu aan te pak, die enigste wyse was waarop Ashton water sou kon bekom. So het hy tydens ‘n vergadering van die Montagu Raad op 10 September 1971 dit gestel dat die dorpe sal moet saamwerk om water te bekom. Dit was die enigste voorwaarde waaronder die regering fondse sou beskikbaar stel vir die oprigting van ‘n waterskema. Hy het gereeld vergaderings van die Montagu Raad bygewoon en hom beywer vir samewerking tussen Montagu en Ashton. Uiteindelik, in 1976, het die twee dorpe se “Waterwoekers” saamgesmelt en is die huidige Cogmanskloof Besproeiingsraad gestig. Mnr. Barnard is verkies tot die eerste voorsitter van die Besproeiingsraad en dien sedertdien steeds op die Raad.

Tydens die bou van die skema was daar gereeld knelpunte met betrekking tot die finansiering van die skema en die betaling van kontrakteurs. Die Staat het die fondse uit die lening wat bekom is, oor drie jaar beskikbaar gestel. Om stygende kostes te beperk is die skema se konstruksie verkort tot agttien maande. Toe die skema in die laaste fase van konstruksie was, het ons nog R800 000 gekort om klaar te maak. Die Departement van Waterwese het opdrag gegee dat die bouery gestaak moes word, totdat daar weer fondse uit die lening beskikbaar gestel kon word.

Mnr. Barnard het besef dat as die kontrakteurs die perseel verlaat, dit baie tyd sou vat voordat almal weer hier kon wees om die werk voort te sit. Onnodige kostes sou meegebring word deur die verskuiwing van die masjinerie en die skema sou dan ook eers ‘n jaar later begin water lewer. Dit was vir hom onaanvaarbaar. Volkskas was op daardie stadium die bankiers van Ashton Canning Co, maar nie van die skema nie. Dit het mnr. Barnard egter nie verhinder om met Ashton Canning Co as sekuritiet ‘n persoonlike lening van R800 000 van Volkskas aan te vra nie. Die geld is beskikbaar gestel en die bouwerk kon sonder onderbreking voortgaan.

Die geld is verskeie maande later aan mnr. Barnard terugbetaal toe die Departement weer fondse uit die lening beskikbaar gestel het.


Johan Viljoen

Mnr. Viljoen is ‘n boorling van die De Doorns distrik. Hy het hom in 1954 op Montagu kom tuis maak toe hy die plaas Knipeshope A gekoop het, maar het gou besef dat dinge nie pluis was met die besproeiingswater nie. Die trekpleister wat hom hierheen gebring het, was die pasgeboude Poortjeskloofdam. Die dam sou die besproeiing onder die dam ‘n hupstoot gee, maar het egter die Kingnarivier droog gelê. In 1957 dagvaar hy die Minister van Waterwese omdat die dam die natuurlike vloei van die rivier benadeel het en versoek dat daar ‘n kanaal vanaf die dam tot in die dorp gebou word. Dit het daartoe gelei dat minister Paul Sauer opdrag gegee het dat die nou bekende Poortjeskloofkanaal gebou moes word. Na verdere vertoë deur mnr. Viljoen is die dam se wal met 4,5 m verhoog in opdrag van minister PK le Roux om meer van die periodieke vloede se water op te gaar. Besproeiing was nou beter, maar nog nie goed genoeg vir ‘n volhoubare en suksesvolle boerdery nie.

Die tekort aan water vir boerdery op sy plaas het hom gedryf om voort te gaan met ondersoeke na metodes om water te bekom. Sy ondersoeke was gemik op die Derdeheuwel gebied en sy bron was die Poortjeskloofdam en water vanaf die Vlakte, ten ooste van Montagu. ‘n Damperseel op die plaas Dwariga, is ondersoek, asook die sogenaamde Skotsmanskloof kontoerkanaal, maar om verskeie redes het nie een van hierdie planne gerealiseer nie.

Dit was nie net die Derdeheuwel omgewing wat ‘n watertekort beleef het nie, maar die hele Montagu boeregemeenskap. In Augustus 1969 het hy opdrag van die Montagu Boerevereniging igekry om water te soek vir die hele gemeenskap. Nou het dit vir hom duidelik geword dat die Langeberge nie voldoende standhoudende water sal kan lewer nie. Hy het nou na die weste gekyk, na die Breërivier.

‘n Privaat maatskappy, te wete Spilhaus, het ook ‘n skema ontwerp. Die ingenieurs van die Departement van Waterwese en minister NAK van der Merwe het hierdie ontwerp van die tafel gevee en dit as onekonomies en nie-lewensvatbaar afgemaak. Na verdere onderhandelinge en gesprekke met die Departement en die Minister het minister Van der Merwe dit duidelik gestel dat die gemeenskappe van Montagu en Ashton saam moet werk en een skema tot stand moet bring.

Mnr. Viljoen verkoop sy plaas in 1983 en verlaat Montagu in 1985.


Tony Nunez

Mnr. Nunez was werksaam in die konstruksiebedryf by ‘n firma genaamd Kelley Broers toe CBR die tenders vir die bou van die pyplyn uitgegee het. Sy maatskappy was op daardie stadium werksaam in Knysna met ‘n riolering en waterverspreiding projek en het ook belanggestel om te tender. Saam met sy kollegas het hy na Ashton en Montagu gekom om die terrein inspeksie te doen. Dit is hier waar mnr. Nunez vir mnr. Stiglingh van die firma Stiglingh, Van Rooyen en Vennote ontmoet het.

Kelley Broers het besluit om nie te tender nie en mnr. Nunez het vir mnr. Stiglingh gebel om hom dit mee te deel. Na voltooiing van die Knysna projek was Kelley Broers se volgende kontrak op Umtata. Op hierdie stadium het mnr. Nunez se oudste dogter reeds ses skole in haar laerskoolloopbaan bygewoon. Toe mnr. Stiglingh op 15 September 1979 vir mnr. Nunez ‘n pos as klerk van werke op die CBR-projek aanbied, het hy dit dadelik aanvaar.

Tydens die bou van die skema moes mnr. Nunez dikwels gemoedere van besproeiers kalmeer waar daar op hulle eiendom gewerk is omdat daar ontevredenheid oor die een of ander ding was. Soms is hulle toegang tot eiendom geweier en moes hulle vragmotors wat in die pad geparkeer was om toegang te versper, uit die pad kry. Stygende boukoste het die besproeiers kriewelrig gemaak en die werk was nie altyd maklik vir die kontrakteurs nie.
Met die naderende voltooiing van die skema se konstruksie het die Raad geadverteer om ‘n persoon as bestuurder van die skema aan te stel. Mnr. Nunez het self nie die advertensie gesien nie, maar mnr. Stiglingh het dit onder sy aandag gebring. Die gereelde rondtrekkery wat die konstruksiebedryf meegebring het, het mnr. Nunez nie meer aangestaan nie. Hulle het lekker in Montagu gebly en besluit dat hy sal aansoek doen vir die pos. Op 9 September 1981 is hy toe aangestel as bestuurder/sekretaris van die skema.

Op 16 Desember 1981 het die eerste pomp begin draai. Die geleentheid was ietwat van ‘n antiklimaks vir mnr. Nunez aangesien verskeie persone uitgenooi is om die geleentheid by te woon, maar niemand opgedaag het nie. Die doel van die aanskakel van die pomp was om die hooflyn vanaf die rivier tot in Montagu vol te maak. Die taklyn na Sarahsdam op Ashton is afgesluit en op Montagu is die water na die klein dammetjie onder die pasvoltooide Knipeshopedam gepomp.

Slegs mnre. Nunez en Maritz Wessels (ingenieur verbonde aan die firma Stiglingh, Van Rooyen en Vennote) was teenwoordig toe hulle die pomp aangeskakel het. Sowat ses tot agt ure later het die eerste water in die klein dammetjie op Montagu aangekom. Die pyp wat die water in die dammetjie lewer, was op daardie stadium onder grond toe en dit was nie seker waar die pyp se bek was nie. Mnr. Wessels het toevallig net mooi op die punt gestaan waar die water uitkom toe die eerste wind uit die pyp onder hom uitgeblaas het.

In die eerste dekade van die skema se bestaan was die elektrisiteitstariewe van die verskillende munisipaliteite ‘n groot kopseer. Op daardie stadium is elektrisiteit deur Eskom en die munisipaliteite van Robertson, Ashton en Montagu aan CBR verskaf. In vergelyking met die tarief wat Eskom gevra het, was die Montagu munisipaliteit ongeveer 50% duurder, Ashton ongeveer 30% duurder en Robertson ongeveer 20% duurder. In die proses om die tariewe meer gunstig te kry, was mnr. Nunez vyf keer saam met onder meer mnr. Barnard na die Parlement om die Minister van Energiesake, Danie Steyn, te gaan sien.

Die eerste rekenaar wat gebruik is om die pompstasies via die telemetriestelsel te monitor, was ‘n Hewlett Packard 85, wat baie soos ‘n tikmasjien lyk (foto op bladsy 38). Eddie le Roux het oor ‘n tydperk van drie maande vir mnr. Nunez gehelp om die rekenaar te programmeer om ook die waterverbruik van elke besproeier te monitor. Die program in “Basic” het 549 stappe gehad. Elke watermeter se lesing is in die rekenaar gevoer en dan het die program die besproeiers se waterverbruik vir die afgelope maand uitgewerk.

Later jare het mev. Phyllis Kriel met ‘n Olivetti rekenaar die rekeninge program verbeter in die databasis program “Dbase”. Hierdie program is gebruik totdat die “Y2K” gogga van die jaar 2000 ons beweeg het om na die huidige “Windows” gebaseerde program oor te skakel.

Onder sy leiding het die skema sy groeipyne deurleef en sy voete in die gemeenskap gevind. Tegniese probleme was daar en daar is hier en daar verbeteringe aangebring sodat ons vandag ‘n skema bedryf wat goed gebou is en glad funksioneer. Toe die huidige kantoorgebou van die KWV bekom is, het die Raad dit laat omskep in die gerieflike kantore soos dit vandag is.

Mnr. Nunez het die Raad in 1996 verlaat en bedryf tans ‘n rekenaarbesigheid op Montagu.


Johan Stiglingh

Mnr. Stiglingh is op Stellenbosch gebore, het skool gegaan te Paul Roos en sy ingenieursgraad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Daarna was hy werksaam by die Bloemfontein-, Potchefstroom- en Pretoria Munisipaliteite.

Hy het in 1966 sy eie raadgewende kantoor geopen en in 1974 die kantoor verskuif na die Kaap omdat hy betrokke geraak het by die bou van die Langenhoven Studentesentrum van die Universiteit van Stellenbosch.

Nadat sy betrokkenheid by die Studentesentrum klaar was, het hy werk gedoen vir die Ashton Munisipaliteit met die bou van die watersuiweringswerke. Dit was tydens die bou van die suiweringswerke dat mnr. Barnard burgemeester was van die Munisipaliteit en ook voorsitter van CBR. Die Departement van Waterwese het vasgedraai met die ontwerp van die skema en mnr. Barnard het mnr. Stiglingh gevra om die ontwerp van die skema voor te sit.

Op daardie stadium was hy nog nie deur die Departement aanvaar as ‘n goedgekeurde
professionele ingenieur om hierdie werk te mag doen nie en moes toestemming daarvoor eers verkry word. Daarvoor moes die Raad ‘n afvaardiging na Pretoria stuur om dit daar met amptenare van Waterwese uit te klaar.

Die ontwerp wat Waterwese op die tafel gehad het, was om ‘n hele aantal in lyn aanjaerpompstasies te bou. Mnr. Stiglingh het besef dat so ‘n ontwerp nie prakties is nie omdat, as een van die stasies om een of ander rede sou stop, al die stasies verder aan ook sal afskakel. Die aanbring van damme op hoë punte was vir hom noodsaaklik om water te kan terugvoer na laer liggende stasies sodat waterlewering kan voortgaan as een pompstasie nie meer werk nie.

Waterwese wou met die pyplyn om die tonnel in Cogmanskloof gaan, maar hy het swarigheid gesien met die konstruksie daarvan en het die knoop deurgehaak dat die pyplyn deur die tonnel mag gaan. Vanweë die waarde van die ou fort bo-op die koppie was daar baie vrese dat konstruksie sou kon veroorsaak dat die tonnel en fort kan skade kry.

Sedert Mei 1979 het mnr. Stiglingh ‘n verbintenis van 20 jaar met CBR gehad totdat hy in 1999 die skema finaal gegroet het. Sy laaste projek was die verbetering van die rioolwerke op Ladismith in 1992. Daarna het hy die firma, Stiglingh, Venter en Vennote aan sy vennoot, mnr. Venter en Vennote aan sy vennoot, mnr. Venter oorgegee.Die firma se laaste werk was die oprigting van die Stellenbosch Besproeiingsraad se skema in 1994. Mnr. Venter het die firma in die laat negentiger jare gesluit.

Mnr. Stiglingh woon steeds op sy geboortedorp, Stellenbosch.


Die Skema vandag(2006)

Die skema is in 1981 gebou met nege pompstasies, drie groot opgaardamme en twee klein
balanseerdamme. In 1994 is ‘n tiende pomphuis bygevoeg by Marthinusvlei in Ashton en in 1996 is die elfde een gebou op die Runningstreams lyn suid van Ashton. Ongeveer 120 kilometer pyplyn is gebruik om die water deur die hele bedieningsgebied te versprei. Die besproeiingsdistrik is hoofsaaklik in die landdrosdistrik van Montagu geleë met ‘n mindere deel in die distrik van Robertson. Dit strek vanaf die Breërivier in die suide, oor die Langeberge en word in die noorde deur die Waboomsberge begrens. Die westelike grens sluit die plase Zandvliet, Rietvallei en Wildepaardekloof in, terwyl die oostelike grens die plase Klipkuil, Abrikooskloof en Rietrivier is. Gedeeltes van die Keisie riviervallei, asook die Dwariga-, Kingna- en Pietersfontein riviervalleie val binne die besproeiingsdistrik se grense. Die dorpe Ashton en Montagu word deur die grense ingesluit en die Munisipaliteit kry ook water uit die skema.

Normaalweg word ‘n besproeiingsdistrik nie in subgebiede verdeel nie, maar by wyse van
uitsondering is ons distrik vir praktiese en ekonomiese redes, in vyf subgebiede verdeel. Elk van die subgebiede se watertariewe verskil vanweë differensiasie wat toegepas word by die toedeling van kostes. Die Langeberge wat van suidoos na noordwes oor die distrik strek, verdeel die distrik in twee natuurlike subdistrikte, naamlik die Ashton en Montagu subdistrikte. Die Montagu subdistrik bestaan uit die deel onder die 305 meter hoogtelyn en drie wyke bo die 305 meter kontoerlyn, nl.
Wyk A: Die Goedemoed / Harmoniegebied
Wyk B: Die Middelvoetpad / Pietersfonteingebied
Wyk C: Die Agter-Langeberggebied

Gedurende die winter moet die drie opgaardamme, nl . Knipeshopedam , Sarahsdam en
Goedemoeddam, vol gepomp word vir gebruik in die somer, omdat ons onttrekkingstempo uit die rivier te min is om aan die somer-spitsvraag te voorsien.

Alle pompe loop in die seisoenmaande permanent, d.w.s. 24 uur per dag en sewe dae per week. Die seisoen is normaalweg agt maande lank en loop ten einde op 31 Mei van elke jaar.

Al die pompstasie word deur middel van ‘n uitgebreide radio-telemetrie sisteem gemonitor. Die vloeitempo’s, pyplyndrukke en -toestand van die motors word voortdurend dopgehou om te verseker dat alles optimaal funksioneer. Sodra iets van die normale parameters afwyk, skep die sisteem ‘n hoorbare alarm waarop gereageer kan word. Na-ure word die alarm per sms na die persoon aan diens gestuur sodat daar dadelik aandag aan die fout gegee kan word.

Verskeie pompe kan ook via die telemetriestelsel beheer word, óf vanaf die kantoor se rekenaar óf vanaf die selfoon. In geval van nood, soos wanneer daar ‘n pyp gebreek het, kan die pompe dus baie vinnig afgeskakel word om skade aan die grond en ander infrastruktuur te beperk.

Aanvanklik was die Raad se kantore by die pompstasie op die plaas Knipeshope, maar dit het later na die afdelingsraad se gebou verskuif omdat die pompe te veel geraas het. In die vroeë negentigs het die Raad die KWV-gebou op die suidepunt van Kohlerstraat begin huur en het een deel daarvan omskep in die huidige kantoor. Sedert 1993 is die kantoor en werkswinkel daar bymekaar. Na volgehoue onderhandelinge met die KWV het mnr. Barnard uiteindelik die knoop met die KWV deurgehaak en is die gebou en perseel in 1997 aangekoop.


Enkele statistieke van die skema
Totale inlysting onder CBR: 2 896 ha
Landbou inlysting: 2 736 ha
Inlysting vir ander gebruik: 160 ha
Bakmaat van die verskillende opgaardamme:
Knipeshopedam 3 550 000 m³
Goedemoeddam 380 000 m³
Sarahsdam 1 263 000 m³
Nuwelanddam 11 000 m³
Witkleidam 11 000 m³


Pompstasie 1 (Pompstasie Koos Barnard)

Pompstasie 1 is geleë op die oewer van die Breërivier in Ashton op die plaas Goudmyn naby die bekende Van Loveren kelder. Dit is die hoof pompstasie van die skema. Normaalweg word alle water wat uit die skema onttrek word, deur dié pompe verskaf. Daar is vier pompe wat die water uit die rivier onttrek en in ‘n sementtenk pomp. Hierdie pompe is op ‘n betonplatform op die rivier se wal gemonteer.

Die vier pompe op die platform is direkte verplasingspompe. Dit behels basies dat daar ‘n propeller onderaan ‘n as is onder die wateroppervlak. Die as is vertikaal in die middel van die pyp waarin die propeller die water na bo pomp. Die draaiende propeller druk die water opwaarts in die pyp.


Somerlewering: 2 600 m³/uur
Kragkoste per maand: ± R140 000
Koste om 1 000 liter te pomp: ± 7.40 sent
Aantal pompe: 4 op rivierwal/3 in pomphuis
Grootte van motors: 55 kW buite/550 kW binne
Aktiewe drukhoogte: 10 – 11.5 bar
1 m³/uur = 1 000 liter per uur


Vanaf die tenk word die water na drie pompe binne die pomphuis gebring en deur twee van die drie pompe in die skema ingepomp. Die derde pomp dien as bystandspomp. Al drie hierdie pompe is sentrifugale pompe.

Aanvanklik was daar drie pompe wat met 450 kW motors toegerus was, maar toe die Montagu Munisipaliteit in 1993 tot die skema toegetree het, was dit nodig om die pompe en motors te vergroot. Die motors is vervang met 550 kW motors en die pompe met nuwe pompe van Salweir. Een van die ou pompstelle is in latere jare verskuif na ‘n Montagu pompstasie om die Derdeheuwel distrik te voorsien.
Die skema het oor die laaste paar jare gemiddeld ongeveer 17 miljoen kiloliter uit die rivier gepomp. (Dit is 17 000 000 000 liter; so om en by 3 777 miljoen gelling). Vanaf pompstasie 1 is daar ‘n 700 mm deursnit asbessement-pyplyn van10,5 km na Ashton tot op die plaas Goree waar pompstasie 2 is. In Ashton, net onderkant die treinbrug tussen die twee fabrieke, is daar ‘n T-stuk in die pyplyn. Hier vertak die hooflyn met ‘n 450 mm diameter lyn na Sarahsdam langs die Swellendampad en die ander been na pompstasie 2 deur ‘n 600 mm pyplyn.


Pompstasie 2

Dié aanjaerpompstasie is noord van die Cogmanskloofrivier op die plaas Goree, regoor die
Swellendam afdraai in Ashton geleë. Dit pomp die water van nr. 1 stasie verder tot in die
Knipeshopedam in Montagu, 10 km verder. Met die toetrede van die Montagu Munisipaliteit is die pompe in hierdie stasie ook vergroot om in die groter aanvraag op Montagu te kan voorsien.


Somerlewering: 1 400 m³/uur
Kragkoste per maand: ± R50 000
Koste om 1 000 liter te pomp: ± 5.50 sent
Aantal pompe: 3
Grootte van motors: 220 kW
Aktiewe drukhoogte: 9 – 11 bar
Voorsieningsarea: Die hele Montagu en 100 ha van Ashton


Daar is drie pompe geïnstalleer wat aldrie tesame kan werk. Normaalweg werk net twee van die drie tegelyk en word die derde een as bystand gebruik. As gevolg van die addisionele inlysting wat in 1993 bygekom het, het die druk op hierdie stasie sodanig vergroot dat dit sedert 2003 nodig is om sekere tye al drie pompe te gebruik. Om dit te kan doen, is die elektriese skakelborde van die stasie in 2003 vervang met borde van ‘n groter kapasiteit om die groter elektriese aanvraag te kan hanteer.

Vanaf pompstasie 2 kronkel die pyplyn deur die Cogmanskloof, al op die ou historiese pad langs, deur die tonneltjie en rivierlangs tot in Montagu. Hierdie pyplyn is 600 mm in deursnit behalwe op sekere kort gedeeltes waar die rivier gekruis word. By die kruisings is die pyp 500 mm in diameter.

In Montagu lê die pyplyn onder die noordelike sypaadjie in Van Riebeeckstraat tot anderkant die natuurtuin en swaai dan oor die R62 na die grootste van die damme, nl. die Knipeshopedam.


Pompstasie 3

Hierdie stasie is geleë op ‘n taklyn uit die hooflyn in die omgewing van die Ashton Wynkelder, langs die watersuiweringswerke van die Munisipaliteit. Dit is ‘n anjaerpompstasie omdat dit direk in lyn is en die water wat deur pompstasie 1 gelewer word, verder pomp. Pompstasie 3 lewer enersyds water in die rigting van Robertson aan die Ashton Wynkelder en twee besproeiers. Andersyds lewer dit water noordwaarts aan die Marthinusvlei gebied. Op elk van die twee lyne wat uit die pompstasie gaan, is twee pompe geïnstalleer. Dit is klein hoëdruk pompe waarvan die doeltreffendheid aansienlik minder is as van die groter pompe.


Somerlewering: 250 m³/uur
Kragkoste per maand: ± R20 000
Koste om 1 000 liter te pomp: ± 15 sent
Aantal pompe: 4
Grootte van motors: 45 & 30 kW
Aktiewe drukhoogte: 18 bar A – lyn/10 bar B – lyn
Voorsieningsarea: 185 ha in die Marthinusvlei gebied


Pompstasie 4

Langs die pad na Swellendam, net verby die Zolani woonbuurt, is die tweede grootste opgaardam, nl. Sarahsdam.

Pompstasie 4 is geleë teen die dam se wal, maar is nie van die pad af sigbaar nie. Water vloei vanaf die hoofstasie deur die pomphuis tot in Sarahsdam. Weerskante van die pyp wat die water deur die pompstasie voer, is twee stelle pompe wat die water na Stockwell en die Runningstreams gebiede pomp. As meer water gelewer word aan genoemde twee gebiede as wat op daardie stadium deur pompstasie 1 na hierdie pompstasie gepomp word, voorsien Sarahsdam die balans. Dit is wat normaalweg in die somer gebeur en daarom moet die dam in die winter vol gepomp word vanaf die Breërivier. Hierdie situasie geld ook by pomphuise 5 en 8 op Montagu waar Knipeshopedam en Goedemoeddam respektiewelik betrokke is. Ongeveer 320 m³/u word teen 12 – 15 bar aan die Stockwell gebied gelewer wat strek tot op die plaas La Montanara van mnr. Leicher. Die Runningstreams gebied lê suidwes vanaf die pompstasie en kry ongeveer 300 m³/u.


Somerlewering: 600 m³/uur
Kragkoste per maand: ± R28 000
Koste om 1 000 liter te pomp: ± 7 sent
Aantal pompe: 4
Grootte van motors: 160 kW Stockwell/132 kW R/streams
Aktiewe drukhoogte: 13 bar Stockwell/10 bar R/streams
Voorsieningsarea: 491 ha in Stockwell en Runningstreams


Pompstasie 5 (Pompstasie Johan Viljoen)

Dit is die hart van die Montagu kant van die skema. Water word hier vanaf pompstasie 2, deur die Cogmanskloof, al met Van Riebeeckstraat langs en by die natuurtuin verby, in die Knipeshopedam ontvang. Van hier word dit verder na al die besproeiers in die Montagu gebied versprei. Soos die geval by stasie 4, word die water hier ook deur die pompstasie gevoer tot in die dam en die pompe onttrek die water na weerskante uit hierdie pyplyn.


Somerlewering: 2 000 m³/uur
Kragkoste per maand: ± R90 000
Koste om 1 000 liter te pomp: ± 8.5 sent
Aantal pompe: 6
Grootte van motors: 220 kW
Aktiewe drukhoogte: 10 – 12 bar
Voorsieningsarea: 2 012 ha. Die hele Montagu met uitsondering van die dorpsgebied


Daar is ses pompe in die stasie, drie aan elke kant van die pyplyn. Die een stel van drie pompe pomp die water in die rigting van Barrydale, deur die Derdeheuwel gebied tot op Rietvlei nr. 1. Die ander pompstelle pomp die water na die Keisie, via pompstasies 7 en 8.

Knipeshopedam se wal is onlangs met ‘n halwe meter verhoog en die oorloopmuur met een meter. Dit skep bykomende stoorruimte van 470 000 m³ (67 ha), wat die totale inhoud van die dam op 3 550000 m³ te staan bring. Die wal is ongeveer 20 meter hoog en 350 meter lank. Hierdie water vul die tekort aan wat in die somer vanaf pompstasie 2 ontvang word.

Pompstasie 5 pomp in die rigting van Derdeheuwel tot 1 100 m³/uur teen 10 – 11 bar en na die Keisie ongeveer 800 m³/uur, teen ±12 bar. Daar is ook ‘n kleiner pyplyn hiervandaan tot op die plaas Kliprug wat drie besproeiers bedien met ongeveer 170 m³/u


Pompstasie 6

Vanaf pompstasie 5 op Montagu loop die pyp met die Derdeheuwel teerpad langs, oor die plaas Witklei, in die rigting van Barrydale. Sowat tien kilometer suidoos van Montagu is pompstasie 6 geleë op die plaas Rietvlei.

Tussen pompstasies 5 en 6, op die hoogste punt, nl. die 305 m kontoer bo seevlak, is die
een klein balanseerdam, Witkleidam.


Somerlewering: 200 m³/uur
Kragkoste per maand: ± R7 000
Koste om 1 000 liter te pomp: ± 8.0 sent
Aantal pompe: 4
Grootte van motors: 55 & 30 kW
Aktiewe drukhoogte: 9 & 5 bar
Voorsieningsarea: 132 ha in die omgewing van Rietvlei tot op Leeurivier


Daar is vier pompe in die stasie. Twee van die pompe pomp water na die plaas Rietvlei en die ander twee pomp die water in die rigting van Barrydale aan die suidekant van die R62. Die pompe is klein sentrifugale pompe. As pompstasie 5 op die dorp se pompe stop, voorsien die Witkleidam water aan pompstasie 6.

Die bedieningsgebied van die pompstasie staan bekend as Wyk C, die Agter-Langeberg gebied en strek tot sover as die plase Leeurivier en Rietvlei.


Pompstasie 7

Hierdie aanjaerpompstasie is ongeveer tien kilometer noordwes van Montagu op die plaas Nuweland op pad na die Koo.

Dit is een van twee pompstasies wat direk deur Eskom van krag voorsien word en is by die tweede van ons klein balanseerdamme geleë. Hierdie dammetjie staan bekend as Nuwelanddam, vernoem na die plaas waarop dit is. Die water vanaf pompstasie 5 op die dorp word hier ontvang en verder gepomp na Goedemoeddam en pompstasie 8.

Die hooffunksie van hierdie pompe is om die water vir die twee wyke in die Goedemoed- en Pietersfontein gebiede te voorsien. Oorspronklik sou die skema hier geëindig het, maar na versoeke van die boere in die Keisie en Pietersfontein is besluit om die skema te verleng om hierdie twee areas in te sluit. Hierdie twee gebiede is in die skema bekend as Wyke A& B.


Somerlewering: 450 m³/uur
Kragkoste per maand: ± R19 000
Koste om 1 000 liter te pomp: ± 5.0 sent
Aantal pompe: 2
Grootte van motors: 220 & 185 kW
Aktiewe drukhoogte: 9 bar
Voorsieningsarea: 376 ha. Die hele gebied van die skema in die Keisie bo die plaas Nuweland.


Pompstasie 8

In die rigting van die Koo is dit die verste pompstasie en dit bedien die twee gebiede bekend as Wyke A & B. Die pomphuis is teenaan die teerpad op die plaas Goedemoed. Regteenoor die pomphuis aan die berg se kant is die kleinste van ons drie groot opgaardamme, Goedemoeddam. Pompstasie 8 lewer water aan die Bo-Keisie gebied tot by Bosrivier en ook aan die Pietersfontein area tot by die plaas Grootland.


Somerlewering: 340 m³/uur
Kragkoste per maand: ± R22 000
Koste om 1 000 liter te pomp: ± 8.0 sent
Aantal pompe: 2
Grootte van motors: 160 kW
Aktiewe drukhoogte: 12 & 9 bar
Voorsieningsarea: 270 ha. Bo-Keisie tot by Bosrivier en Pietersfontein


Gedurende die wintermaande word hierdie pompe ook gebruik om aan sekere plase winterwater te lewer. Sekere besproeiers is ingelys vir sogenaamde winterwater. Dit is water wat per inlysting addisioneel in die wintermaande gelewer en gestoor word vir die somermaande. Aan hierdie water is ‘n groter risiko verbonde as die normale somerinlysting omdat die skema slegs die water lewer as dit prakties moontlik is. Dit word dus van jaar tot jaar heroorweeg en gelewer na behoefte van die indiwidu.


Pompstasie 9

Dit is ‘n klein pompstasie in Ashton, regoorkant die Zolani woonbuurt. Daar is twee klein pompe wat water voorsien aan die wingerde en boorde in die omgewing van die aansluiting van die Swellendampad met die R62. Aangesien hierdie pompe die water direk aan die wingerde lewer sonder die gebruik van ‘n dam as buffer, word die pompe slegs in die somer gebruik.

Anders as normaalweg waar daar een pomp as bystandspomp gebruik word, loop beide hierdie pompe in die piek somermaande om aan die hoë vraag na water te kan voldoen. Hierdie stasie maak gebruik van hoë spoed motors teen 2 900 omwetelinge per minuut. Dit plaas meer druk op die laers van die motors wat onderhoud betref, maar het die voordeel dat die pomp meer water lewer as wanneer dit teen laer revolusies draai.


Somerlewering: 200 m³/uur
Kragkoste per maand: ± R5 000
Koste om 1 000 liter te pomp: ± 9.0 sent
Aantal pompe: 2
Grootte van motors: 30 kW
Aktiewe drukhoogte: 7 bar
Voorsieningsarea: 60 ha in die omgewing van Zolani & T-aansluiting na Swellendam


Pompstasie 10

Pompstasie 10 is in 1994 opgerig aan die bopunt van die lyn wat deur pompstasie 3 bedien word. Dit dien as ‘n in lyn aanjaerpompstasie om sodoende meer water op die bopunt van die pyplyn te lewer in die Marthinusvlei gebied. Tesame met die bou van hierdie pompstasie is nuwe multistadium pompe in pompstasie 3 ingesit. Dit is so bedraad dat beide tesame kan loop en water in dieselfde lyn inpomp om te verseker dat genoeg water aan pompstasie 10 gelewer word.


Somerlewering: 60 m³/uur
Kragkoste per maand: ± R5 000
Koste om 1 000 liter te pomp: ± 10.0 sent
Aantal pompe: 2
Grootte van motors: 15 kW
Aktiewe drukhoogte: 7 bar
Voorsieningsarea: 65 ha in die bo deel van die Marthinusvlei omgewing


Hierdie twee pompstasies is met radioverbinding gekoppel om mekaar te beheer en te verseker dat die druk in die pyplyn nie te hoog word as die pomp in pompstasie 10 om een of ander rede sou stop nie. Sou pompstasie 10 afskakel en die twee pompe in pompstasie 3 aanhou loop, sal dit veroorsaak dat die druk in die pyplyn te hoog raak. Die radioverbinding laat weet dan vir pompstasie 3 dat die pomp in pompstasie 10 afgeskakel het. Pompstasie 3 skakel dan een van die twee pompe af en voorkom sodoende dat daar ‘n pyp bars.

Daar is twee pompe in die stasie waarvan slegs een operasioneel is; die ander dien as bystandspomp en word gebruik ingeval die operasionele pomp sou breek.

Saam met stasie 11 is dit die enigste van die kleiner stasies wat van lae spoed motors toegerus is. Die motors wat teen 1 400 rpm draai verleng die lewe van die pomp en laers aansienlik maar, het die nadeel dat die pomp groter moet wees om aan dieselfde water leweringsbehoeftes te voorsien as hoëspoed pompe.


Pompstasie 11

Dit is die nuutste van ons pompstasies, gebou in 1996 as ‘n in lyn aanjaerpompstasie vanaf pompstasie 4 op die Runningstreamslyn. Dit is toegerus met twee pompe met 30 kW lae spoed motors waarvan die een funksioneer as bystandspomp. Tot hede is die pompstasie as geheel as bystandspompstasie gebruik en is opgerig om die addisionele inlysting op die Runningstreamslyn te voorsien. Die addisionele inlysting word egter nog nie benut nie.

Vanaf hierdie pompstasie is die dorp Ashton vyf en ‘n half kilometer reg noord. Hiervandaan is ‘n baie mooi uitsig oor die Langeberge en Ashton.

Die kloof wat naby die stasie begin en suidwaarts strek, staan bekend as Brakkloof omdat die afloopwater uit die kloof normaalweg baie brak is.


Die Raad en Personeel

Op 31 Augustus 1976 reik oud-staatspresident Nico Diederichs die proklamasie uit ter stigting van die Cogmanskloof Besproeiingsdistrik en die Cogmanskloof Besproeiingsraad. Die proklamasie is gepubliseer in die Staatskoerant van 17 Desember 1976.

Die Raad het op daardie stadium uit die volgende lede bestaan: (Datum van uittrede in hakies)

JF (Koos) Barnard (het nog gedien toe die prospektus in 2006 gepubliseer is) Voorsitter
Johan Viljoen (1983)
IB Nel (1980)
JW Bruwer (1978 & 1981 en het nog gedien toe die prospektus in 2006 gepubliseer is)
PS Marais (1979)
WJ Malherbe (1981)
GF (Boet) van der Merwe (1996)
PP Jordaan (1981)

Van hierdie lede is mnre. Barnard en JW Bruwer die enigste persone wat steeds op die Raad dien. Mnr. Barnard se betrokkenheid by die soeke na water vir Ashton sedert die vroeë vyftiger jare maak hom ‘n man wat al vir meer as vyftig jaar werk vir water aan die streek!

Johan Viljoen het sy plaas in 1983 verkoop en enkele jare aangebly as sekretaris van die Raad. Hy is in 1983 opgevolg deur JL Jordaan wat net ‘n paar maande gedien het. Sedert 1983 dien G (Kierie) van Deventer in die pos.

IB Nel bedank in 1980 en word opgevolg deur JN (Nico) Kriel (1983), C van der Walt (1985), PAS le Roux (1986), JFD Kriel(1987), JD van Deventer (1999) en Jacques Kriel tot hede.

Johan W Bruwer (1978) was vir ‘n drie jaar periode uit die Raad en word in 1978 opgevolg deur MH Hill (1985), opgevolg deur DK Leicher (1992) en E Leicher tot hede.

PS Marais(1979) word opgevolg deur Lou de Wet (1981), JFD Kriel (1983) en C Jordaan tot hede.

WJ Malherbe (1981) is opgevolg deur H Bruwer tot hede.

GF (Boet) van der Merwe (1996) is opgevolg deur Karel du Toit tot hede.

PPJordaan (1981) is opgevolg deur JWBruwer tot hede.

Sedert 1999 word die Munisipaliteit op die Raad verteenwoordig as volwaardige raadslid.

Die sekretariële pligte is aanvanklik waargeneem deur mev. EH Viljoen en is opgevolg deur mnr. Johan Viljoen nadat hy sy plaas in 1983 verkoop het. Phyllis Kriel begin op 13 Maart 1987 as sekretaresse en word in 1989 opgevolg deur juffrou G Fourie tot 1990. Martie Zondag het die pos beklee tot 1992 en is opgevolg deur Jeanne Joubert (later Heunis) tot 2004. Jeanne is opgevolg deur Ninette Hofmeyr (2004). Tans dien Herma Visser in die pos sedert 2004.

Die pos van bestuurder is sedert 1981 beklee deur Tony Nunez tot 1996. Hy is na 15 jaar opgevolg deur Rudolph van Dijk tot hede.

Deur die jare het daar verskeie tegniese personeel by CBR gewerk vir wisselende tydperke in die pos van passer en draaier. Sedert Februarie 1994 het Morné Fourie die pompe in stand gehou. In 1996 het hy hulp gekry toe Dennis Taylor aangestel is. Morné het die diens verlaat in September 2003 om sy eie besigheid te begin. Rohann Datson het tot Julie 2006 die pos gevul en sedert Desember 2006 tot sy tragiese dood op 24 Maart 2007 het Pieter Verreynne saam met Dennis gewerk.

Ons tegniese assistente het in die eerste jare ook baie gewissel, maar sedert 1998 en 1999 is Chris Steyn en Jan Draaier ons twee baie bekwame en betroubare vakkundige assistente. Die instandhouding van die skema is sonder hierdie tegniese ouens nie moontlik nie.

Die gedenkplaat soos onthul deur minister C.V. Van der Merwe op 16 April 1982 tydens ‘n geleentheid by pompstasie 5. Die raadslede soos op die plaat aangebring is die lede wat in 1982 op die Raad gedien het tydens die onthulling.
In 1982 was die raadskantore by pompstasie 5 en die plaat is daar onthul. Die kantoor het later jare verskuif na onder andere die afdelingsraad se gebou in die dorp en in 1993 na die huidige perseel in Kohlerstraat.

Die CBR kantoor in Kohlerstraat

Knipeshopedam in Montagu.

Die volkapasiteit van die dam is 3,5
miljoen kubieke meter en sy lengte is
900 m. Die wal se hoogte 20 m. Dit is
die grootste stoordam van die skema en word vanaf April tot September vol
gepomp.


Diensverskaffers aan CBR

Die Raad gebruik ‘n hele aantal besighede/instansies om die volgehoue werking van die skema te help verseker. Oor die afgelope 25 jaar is daar al met ‘n paar maatskappye ‘n baie goeie verhouding opgebou wat vir ons ‘n goeie mate van stabiliteit verseker met betrekking tot die verskaffing van dienste en produkte.

Die skema se voortbestaan is van ‘n hele paar dinge afhanklik. Geld speel hier seker die grootste rol. In die begin jare moes ons geld leen om aan die gang te kom; vandag kan ons voldoen aan die wetlike vereiste om ‘n reserwefonds te hê.

Ons dink aan die rol wat Volkskas (deesdae ABSA) gespeel het toe ons in die knyp was tydens konstruksie van die skema. Kontrakteurs wou hul masjienerie van die perseel af verwyder omdat fondse vanaf die regering nie vinnig genoeg beskikbaar gestel is nie. Volkskas het R800 000 beskikbaar gestel aan mnr. Barnard as persoon om die bouwerk te kon laat voortgaan. Vyf en twintig jaar gelede kon ‘n mens met R800 000 sommer ‘n paar plase koop! ABSAse ondersteuning het nie daar geëindig nie, maar deur die jare het hulle ons ondersteun en was hulle verdraagsaam gewees met ons oortrokke fasiliteit wat by tye naby ‘n miljoen rand was.

Vandag het ons die reserwefonds in ABSA se geldmarkfonds en geniet ons daar ‘n spesiale diensgeldvoordeel. Ons maak ook gebruik van hulle internet fasiliteite asook die aftree voorsorgfonds.


CBR se boeke is sedert die eerste dae geoudit deur die maatskappy Theron, Humphrey & Fick wat in 1985
geamalgameer het met Brink, Roos en Du Toit. Dieselfde maatskappy word in 1987 Theron, Du Toit, in 1991 Coopers Theron, Du Toit, 1993 Coopers & Lybrand en in 1998 word hulle PriceWaterhouseCoopers. Deur al die naamsveranderinge heen het CBR van hulle finansiële dienste bly gebruik maak. Staatmaker Johan du Toit is steeds daar om ‘n wakende oog oor ons finansiële welstand te hou. In die laaste paar jare kon ons die lening, wat ons van die Departement van Waterwese en Bosbou bekom het, se kapitaal aflos en het met hulle hulp en wakkerheid heelwat geld gespaar. Die Departement het op hulle aanbeveling die aktuariese tabel in CBR se guns gewysig.


Geld moet ‘n mens hê, maar sonder pompe en pype kom die skema ook nêrens nie. Enkele maatskappye loop die pad al met ons saam vanaf die eerste dag.

KSB Pumps and Valves (Pty) Ltd, is ‘n internasionale pomp- en klep vervaardiger met ‘n wye verskeidenheid gespesialiseerde pompe en kleppe vir ‘n verskeidenheid sektore en applikasies in watervoorsiening, afvalwater hantering, die energie-, industrië-, bou- en mynboubedrywe. Die maatskappy het takke in Kaapstad, Durban, Richardsbaai, Secunda, Vaaldriehoek, Nelspruit en Port Elizabeth met die hoofkantoor in Johannesburg. KSB het jare lange ondervinding in die bogenoemde sektore en bied volkome gemoedsrus.

KSB se pompe word gebruik in verskeie van ons pompstasies; om presies te wees is 15 van die 39 pompe wat CBR bedryf KSB-pompe. Ons gebruik multistadium pompe sowel as enkelstadium pompe met ‘n baie goeie doeltreffendheid. Die multistadium pompe het die vermoë om water teen ‘n baie groot drukhoogte te lewer. Dit is in der waarheid twee of meer pompe ineen wat berus op die beginsel dat die een pomp die water direk in die volgende een inpomp en sodoende die druk met nog ‘n stap verhoog. In die foto hiernaas word ‘n drie stadium pomp getoon. Dit is as’t ware drie pompe agtermekaar.

Na 25 jaar se diens is die pompe nog in ‘n goeie toestand danksy die vrylik beskikbaarheid van onderdele en goeie diens van die KSB tak in Kaapstad.


CBR is een van die min besproeiingskemas wat die water wat aan besproeiers gelewer word, meet. Al ons aftrekpunte en pompstasies is voorsien van watermeters. Dit stel ons in staat om met goeie akkuraatheid die koste van die water by verskillende plekke te bepaal. Daarvolgens kan die waterbelasting wat betaal moet word meer noukeurig vasgestel word. Aanvanklik is meganiese meters gebruik wat hoofsaaklik bestaan uit ‘n waaiertjie wat in die water draai en sodoende die meetmeganisme aandryf. Die slytasie in die soort meter is redelik hoog as gevolg van die ongesuiwerde rivierwater wat ons pomp. In die meeste van ons aftrekpunte is daar steeds meganiese meters omdat daar gewoonlik nie elektrisiteit naby is nie.

Moderne tegnologie het nou elektroniese watermeting moontlik gemaak. Die meters wek ‘n
magneetveld op waardeur die water vloei en afhangende van hoeveel die magneetveld deur die water “gebuig” word, bepaal die meter dan die hoeveelheid water wat daar deur beweeg. Akkuraatheid van hierdie meters is beter as 99,5% teenoor die 95-98% van die meganiese meters.

CBR het in die laaste jare verskeie van hierdie meters aangekoop vanaf Emitech wat die Flowmetrix meter versprei. Ons het onder andere twee 600 mm deursnit meters, een 500 mm en een 450 mm meter aangekoop en by ons pompstasies geïnstalleer. By pompstasie 1 is die meter addisioneel tot die ou meter wat daar was, by pompstasie 2 het dit die ou meter vervang en by pompstasies 4 en 5 is die meters geplaas in die inkomende pyplyne, waar nog nie meters was nie. Elektroniese meters het die vermoë om water in beide rigtings met dieselfde akkuraatheid te meet. Dit is vir ons belangrik omdat ons by die pomphuise waar damme is die water meet wat in die dam ingaan en in die somer meet ons die water wat uitgaan.

Hierdie meters is telemetriesof per radio met die kantoor verbind. Sodoende kan vanaf die kantoor gemoniteer word wat die lewering van die verskillende pompe is. Hoe beter die hoeveelheid water waarmee gewerk word, gemeet word, hoe beter kan die bestuur daarvangedoenword. Flowmetrix meters word in Durban vervaardig en gekalibreer, wat dit prysgewys baie meer gunstig maak as ingevoerde meters.


Ons telemetrie (tele=ver/afstand, metrie=meting) stelsel is ‘n uitgebreide radiostelsel waarmee alle pompstasies en pompe deur die kantoor gemoniteer word. Dit bestaan uit radio- en telemetrietoerusting in elke pompstasie wat die gegewens van die stasie na die kantoor stuur. Dit sê watter pompe aan is en wat is die druk en vloei in die pype. Verder meet dit ook die vlak van die damme en die kwaliteit van die water wat uit die rivier gepomp word. Bo-op die kruin van die Langeberge is ‘n herleistasie wat die inligting van die Ashton kant herlei na die kantoor in Montagu en ook vice versa.

Die kantoor het ‘n beheerrekenaar wat die data verwerk en baie mooi grafies wys. Sekere parameters word vooraf geprogrammeer as alarmsituasies. Sou een van die alarmsituasies voorkom, waarsku die rekenaar hoorbaar en stuur ook ‘n sms-boodskap na die selfoon om te rapporteer wat die fout is.

Hierdie stelsel is in die vroeë negentigerjare deur Spectrum geïnstalleer en word nog steeds deur hulle in stand gehou. Die “Teleranger” toerusting is baie betroubaar en daar word selde herstelwerk vereis aan die komponente.

Verskeie uitbreidings is met verloop van tyd aangebring, sodanig dat verskeie pompe nou ook vanaf die kantoor en selfoon beheer kan word. Sekere pompstasies beheer mekaar; as een pomp aanskakel, stuur dit ‘n sein na die volgende pompstasie sodat daar ‘n pomp kan aanskakel. As die tweede pomp aan is, stuur dit weer ‘n sein terug na die eerste pompstasie sodat daar verdere pompe kan aanskakel as dit nodig is.

Sekere van die magnetiese watermeters word met selfoonmodems toegerus en kan ook die inligting vanuit die aftrekkas op die plaas na die rekenaar in die kantoor stuur. Die toerusting is baie betroubaar en daar word selde herstelwerk vereis aan die komponente.

Daar is nog vele maatskappye van wie CBR produkte aanskaf wat uitstekende diens lewer. Sonder hierdie verskaffers sal die pompe gou ophou draai en sal die pype leeg staan. Dankie aan ieder en elk wat dit vir ons moontlik maak om op volgehoue basis water te lewer


Grafieke en statistieke

Die Engelse spreekwoord sê “a picture is worth a thousand words”. Die grafieke wat hier geplaas word toon die tendens van sekere items wat ‘n rol speel in die bedryf van die skema.

Staatswaterbelasting

Dit is die belasting wat enige persoon of instansie aan die Departement van Waterwese (DWAF) betaal wat water uit ‘n sogenaamde “Staatswerk” ontvang. ‘n Staatswerk is enige dam, leivoor, keerwal of iets anders wat deur DWAF gebou is om besproeiingswater te voorsien. Hierdie belastings word aangewend om die kapitaalkoste van die projek te finansier asook om die lopende koste gedeeltelik te betaal.

CBR ontvang water uit die Breërivier net bokant die Zanddrift keerwal. Die rivier vanaf Brandvleidam tot by hierdie keerwal, tesame met die Brandvleidam, word beskou as die “Brandvleidam-sisteem” waaruit ons die water pomp. Dit is vir die ontvang van water uit hierdie “Staatswerk” en die bestuur daarvan dat ons staatswaterbelasting betaal.

Die grafiek hiernaas toon dat die belasting sedert 1998 drasties gestyg het. Sedert 1998 het die nuwe Nasionale Waterwet in werking getree en is die basis van belasting berekening verander. Ons betaal nou rofweg ses maal meer as in die jare voor 1997!

Water gepomp uit die Breërivier

Die totale hoeveelheid water wat CBR per jaar aan sy besproeiers moet lewer as almal hulle volle kwota sou benut is 20 842 790 m³. Om hierdie getal op die plaas te lewer moet ons meer as dit uit die rivier onttrek om voorsiening te maak vir verliese. Ons grootste verlies is in die vorm van verdamping uit die damme. Berekeninge toon dat verdamping vanaf die Knipeshopedam in Montagu ongeveer 12% van sy totale volume is, dit wil sê ongeveer 360 000 m³ per jaar. Dit is 51 ha se water. As ons die ander twee damme ook bybring in die berekenings sal die syfer waarskynlik verdubbel

Die totale verdampingsverliese is dus rondom 3,5 %. Met lekkasie en ander verliese kan die syfer eskaleer na 5 – 10 %.

CBR moet dus ongeveer 22 miljoen m³ per jaar uit die rivier pomp om al sy verpligtinge na te kom. Die grafiek hierlangs toon dat ons tydens die droë tydperk van ‘n paar jaar gelede, in 2002, baie na aan hierdie syfer gekom het.

Daarna het die stand van die Brandvleidam in 2005 ons genoodsaak om waterbesparingsmaatreëls in te stel, sodat ons onttrekking uit die rivier verminder het tot slegs 14 miljoen m³. Ons gemiddelde onttrekking vir ‘n “normale” jaar is rondom 18 miljoen m³.

Elektrisiteitskoste

Dit is die grootste enkele uitgawe van die skema en het die laaste jare gestabiliseer op ongeveer 67% van ons totale uitgawes. Daarom dat dit belangrik is dat daar gereeld met die verskaffers onderhandel word vir die beste tarief moontlik.

Ons koop by twee pompstasies krag direk aan vanaf Eskom, te wete die twee stasies in die Keisie, pompstasie 7 en 8. Al die ander word deur die Breërivier Wynland Munisipaliteit voorsien. Die tariefstruktuur waarteen ons elektrisiteit aankoop is ‘n grootmaat tariefstruktuur. Dit laat ons toe om in sekere tye van die dag minder te pomp, of selfs glad nie, en skakel sodoende die duurder tariewe wat in die dag geld, uit.

Die tarief het twee komponente, nl. aanvraag (kVA) en verbruik (kWh). Die aanvraag word bereken volgens die hoogste lesing van die maand, ongeag hoe lank die pompe geloop het. As die pomp net bv. een uur gewerk het, betaal ons dieselfde as wanneer dit die hele maand geloop het. Dit volg dus dat as ons ‘n pomp aanskakel dat ons poog om dit aaneenlopend te laat werk vir die volle maand, sodat die kVAtarief optimaal benut word.

Verbruik is ‘n koste wat betaal word vir die hoeveelheid energie wat die pomp gebruik. Hoe langer die pomp loop, hoe hoër word hierdie deel van die rekening.

Ons jaarlikse elektrisiteitskoste is sedert 2001 meer as R3,25 miljoen.

Waterbelasting

Wat kos water wat deur CBR gelewer word? Verskillende tariewe geld onder die skema. Die
grafiek hiernaas toon net die tariewe wat in die vyf landbouwyke geld vir somerwater.

Met die instelling van die kapitale delgingsheffing in 1992 was daar ‘n skerp styging in die
waterbelasting wat daarna afgeplat het tot 1996. Die Raad het toe ‘n goed gestruktureerde plan op die tafel gesit waarvolgens die watertariewe jaarliks bereken word. In 2006 is die verligting wat verkry is met die delging van kapitaal aan die staatslening aan die besproeiers deurgegee wat ‘n noemenswaardige daling in tarief meegebring het.

Na 25 jaar vergelyk ons waterpryse baie goed met omliggende skemas van soortgelyke omvang. Hieronder is 2006 se pryse van drie ander pompskemas, omgereken na dieselfde hoeveelheid water per hektaar as CBR.

CBR wissel vandag tussen R1 647 en R3 152 per hektaar
Worcester-Oos skema: R2 905
Hexvallei skema: R3 725
Vyeboom skema te Villiersdorp: R3 377
Oranje-Riet kanaalskema: R367 tot R654

Oranje-Riet is ‘n groot skema wat Oranjerivierwater deur 184 km kanale versprei na 265 persele in die Douglas/Richie/Luckhoff gebied. Dit is ‘n suiwer gravitasie skema en lewer 11 000 m³/ha (inteenstelling met CBR se 7 450 of 7 000 onderskeidelik)

Enkele indiwiduele mededelings

‘n Paar persone het dit goed gedink om hul herinneringe skriftelik met ons te deel. Ons plaas hul herinneringe net soos wat dit ontvang is, sonder om duplikasies van gedagtes soos deur iemand anders weergegee, te verwyder. Besondere dank aan elkeen wat die moeite gedoen het om tyd af te staan om op skrif te stel dit wat hulle bygebly het van die skema oor 25 jaar en langer.


‘n Gedagte vir die dag: terugblik na die ontstaan van die CBR-skema

Johan Viljoen

‘n Gedagte vir die dag en terugblik na die ontstaan van die CBR pompskema vir die
Ashton/Montagu gebied en my beskeie aandeel daarin:

Ek het in 1954 in Montagu begin boer op die plaas Knipe’s Hope A. Die trekpleister was die pas geboude staatsdam, Poortjeskloof, wat as wortel voor die neus gehou is om die koop deur te voer.

In 1957 dagvaar ek die Minister van Waterwese omdat hy die vloei van die Kingnarivier gestop het deur die dam te laat bou en nie ook ‘n kanaal om die besproeiers te bedien nie. Ons moes tevrede wees met wat na 23 myl by ons op die onderpunt van die skema uitgekom het. Die kat in die hoenderhok veroorsaak dat minister Paul Sauer onmiddellik opdrag gee dat die betonkanaal tot by die laaste besproeier gebou word teen ‘n minimale ekstra belasting.

Die volgende minister, PK le Roux, het na my verdere vertoë die Poortjeskloofdam met 4,5 m verhoog om die periodieke vloede se water op te gaar. Dit was ‘n verbetering, maar nog nie goed genoeg vir ‘n volhoubare en suksesvolle boerdery nie.

Nog twee moontlikhede om water na Derdeheuwel te bring is ondersoek nl. die Skotslandkloof kontoer kanaal in die Langeberge en die Dwarigadam op Meulplaas, wat om verskeie redes nie haalbaar was nie.

Tot op daardie stadium was ek slegs gemoeid met die ondersoek om water na die Derdeheuwel gebied te bring. Op ‘n Montagu Boerevereniging vergadering in Augustus 1969 gee die vergadering goedkeuring aan ‘n voorstel dat ek opdrag gegee word om ‘n oorhoofse waterskema vir die hele Montagu te ondersoek en nie net vir die Kingna Raad se gebied nie. Daarvoor moes ek ten eerste ‘n komitee saamstel wat bestaan uit al die vertakkinge van die gemeenskap soos bv. die Stadsraad, Boerevereniging, besighede, e.d.m. Tweedens moes ek dan met instansies soos Spilhaus, Dowson & Dobson, ens. onderhandel oor so ‘n skema.

In ‘n nag, uit vele nagte, se bepeinsing, vra ek myself af hoekom ek my blind staar na die Langeberge se onvoldoende water uit die ooste? Kyk liefs verder na die westekant, waar die Breërivier, op daardie stadium, die meeste van sy water in die see stort by Witsand.

‘n Eerste probeerslag met Spilhaus se skema is deur ingenieurs van Waterwese van die tafel gevee, maar Johan Viljoen het water geruik vanaf die Breërivier en het nie opgehou om die Departement lastig te val nie. Ten einde raad gee die Departement se betrokkenes kop, maar beveel aan dat ons in Montagu, die boere van Ashton probeer oorreed om hulle gewig by ons in te gooi. Hulle was ook met vertoë besig en is ook, soos ons vantevore, ‘n koue skouer gegee deur die Departement.

‘n Vergadering met Ashton is gereël en daar is ooreengekom om saam te werk. Van die ou komitee wat ek moes saamstel was daar op daardie stadium nog net drie lede oor. Ons het toe ‘n komitee bestaande uit vier lede van Ashton en vier lede van Montagu saamgestel om met die taak voort te gaan. Van toe af het sake vinniger gevorder met kennis en ondervinding van beide kante.

Die punt vanwaar ons water moes kry was die Breërivier, stroomaf van Robertson en wel op die eiendom Goudmyn, van ene Gawie Viljoen. Daar moes ook met die Breërivier Waterbewaringsraad saamgewerk word omdat die Brandvleidam hulle besit en regsgebied was. Aangesien Montagu nie in die Breëriviervallei geleë is nie, was daar wetlike implikasies wat verhoed het dat water buite die Breëriviervallei gelewer word. Mettertyd is in samewerking met die Breërivier Waterbewaringsraad hierdie probleem oorkom.

Terug Waterwese toe. Die boere van Worcester-Wes was besig met die beplanning van ‘n dam, Brandvleidam, wat as hy vol is, sou oorloop in die Kwaggaskloofdam. Dus moes Brandvlei ook vergroot word en ekstra inloop fasiliteite moes geskep word. Die Departement het toe Brandvleidam oorgeneem en vergroot as ‘n staatskema om voorsiening te maak vir die CBRskema asook toekomstige soortgelyke skemas.

Na die jare lange worsteling met die Departement van Waterwese het hulle toe die witskrif van die skema deur die Parlement gevoer en is CBR as ‘n toetsskema goedgekeur. Slaag ons en kan ons die kostes dra, wat aanvanklik baie hoog was, sal verdere soortgelyke skemas oorweeg word. Kort na ons is die Worcester-Oos skema gestig en het in 1989 begin water pomp.

Dit was vir daardie tyd ongehoord dat water hoër as 250 voet gepomp word en hier dink ons nou aan ten minste 1 200 voet se pomphoogte. ‘n Pompskema ontwerp deur mnre. Johann Stiglingh en Vennote wat 2 000 ha sou bedien met water uit die Breërivier teen ‘n beraamde koste van R13 miljoen word uiteindelik deur die parlement goedgekeur. Die fondse sou oor drie jaar beskikbaar gestel word. CBR, op advies van die raadgewende ingenieurs, besluit om die skema binne 18 maande te bou omrede die stygende en eskalerende kostes oor so ‘n lang tydperk. Die Departement en Minister keur dit goed en gee magtiging om eksterne fondse te gebruik om met die werk voort te gaan. Dit was ‘n groot uitdaging om instansies en banke te oortuig dat ons sou slaag. Op daardie stadium was dit die grootste en duurste skema vir die landbou in die land. Die Montagu en Ashton boere het daarvoor kans gesien en die uitdaging aanvaar.

Aanvanklik was veral die Montagu boere huiwerig om groot “in te gaan” vir die skema as gevolg van die hoë koste, maar uiteindelik het almal die voordeel besef en het hulle almal meer water aangevra. Die Ashton Munisipaliteit het ook ingeval en hul deel geneem, maar Montagu Munisipaliteit het na die sluiting van die Brinks inmaakfabriek nie meer ‘n waternood gehad nie, en dus nie hul aanvanklike aansoek opgeneem nie.

Ek kan met waardering sê dat, waar oor paaie, riviere, spoorlyne en privaat grond pyplyne en
stoordamme gebou is, ons nêrens die mag van onteiening hoef te gebruik het nie. Enkele gevalle van ernstige oorreding het wel plaasgevind, maar oor die algemeen was die eienaars van eiendom gewillig om toestemming kosteloos vir betreding te gee in belang van die breë gemeenskap.

Na die proklamasie van die bedryfsgebied en die stigting van die Raad in 1976 het sake vinnig gevorder. Die eerste eksterne finansiële lening was by Boland Bank ten bedrae van R50 000, maar ons het gou besef dat ons groter bedrae nodig sal hê in afwagting van die staatsfondse. Ek was lank verbonde aan die Landbank as waardeerder en stel voor ons probeer daar. Met ‘n sterk gelaaide afvaardiging is ons na Pretoria (een van die vele kere na Waterwese), die hoofkantoor van Landbank, om mnr. Smit te sien. Waterwese se hoofdirekteur was ook teenwoordig. Na ‘n deeglike bespreking en uitpluising van die saak word ‘n lening van ongeveer R7 miljoen toegestaan mits die Minister (Van Niekerk) as borg teken! ‘n Eerste vir ‘n minister. Ook was dit ‘n eerste vir Landbank om ‘n lening onder sulke omstandighede toe te staan en dit is spesiaal genoem in die Landbank se jaarverslag en oorsig.


Nog ‘n eerste was die hofsaak wat CBR in 1986 teen Landbank begin het.
‘n Besproeier het agtergeraak met die betaling van sy
waterbelasting in 1985 en teen Maart 1985 was sy uitstaande
skuld R38 429.38. Na ‘n mislukte insolvensie veiling het
Landbank op die plaas beslag gelê in 1986.
Landbank het beweer dat die Insolvensie Wet hulle beskerm
teen enige aanspreeklikheid vir agterstallige waterbelasting.
Die nasionale Waterwet van 1956 het egter bepaal dat
waterbelasting skuld oorgaan op die regsopvolger van die eiendom.
Die regsproses wat CBR aanhangig gemaak het om die
agterstallige skuld te vorder het reeds in 1985 begin. Die
saak is as ‘n toetssaak beskou omdat dit nog nie voorheen
gebeur het dat die Departement van Waterwese ‘n hofsaak
teen die Landbank gemaak het nie. Die Hooggeregshof het
in 1989 in ons guns beslis maar die Landbank het appél
aangeteken. Die appél saak is in 1991 te Bloemfontein
aangehoor en die bedrag van R238 448.90 is aan CBR toegeken!
In hierdie saak was die bydrae van Vyn Zyl & Hofmeyr,
Departement Landbou en Departement Waterwese deurslaggewend


Nou kon ons volstoom voortgaan met die bou van die skema. Steeds was ons somtyds in die knyp oor fondse wat nie altyd betyds beskikbaar was nie. Een keer het ek, teen my beterwete, ‘n dringende telegram aan die minister gerig om per kerende pos asseblief R1,7 miljoen dringend aan CBR te verskaf en daavoor ‘n skrobbering en les van die hoofdirekteur, mnr. Muller gekry. (Ek moes die regte prosedures en kanale volg wat twee weke sou geduur het). Nietemin, dit het gewerk en die fondse is dadelik oorgeplaas.

‘n Ander geval waar ek die gramskap van ‘n minister op die hals gehaal het, was toe die tesourie toedelings aan Departemente besnoei het. Waterwese het ons laat weet dat ons fondse ook gesny gaan word. Ek lees in die koerant daarvan en sien sekere Departemente se toedelings word vergroot en ander gesny. Die wat gesny word, is volgens my, meer belangrik as dié wat meer kry. Ek rig ‘n brief aan die Minister van Finansies en gee hom my mening en versoek dat meer fondse aan Waterwese toegedeel word, want Waterwese is, volgens my mening, die belangrikste department van almal, en bedank die tessourie by voorbaat.

Die volgende wat ek van die saak hoor, is van my LV, mnr. Geldenhuyze. Hy vra my wat ek nou weer aangevang het. Hy sê my dat die betrokke minister hom aanbeveel het om aan my oor te dra dat ek my by my sake moet bepaal en nie aan hom moet voorskryf nie. Ek kan net sê dat ons fondse nie gesny is nie.

Nog ‘n geval waar ons harde bene gekou het, was om die paaie departement te oortuig dat die pyplyn deur die Cogmanskloof tonnel moet gaan en nie die lang weg om soos wat die rivier loop nie. Aanvanklik wou hulle gehad het dat ons binne 24 uur die pyplyn deur die tonnel moes voltooi, totdat ek hulle daarop gewys het dat daar so iets soos stop/ry verkeerstekens bestaan. Met die Spoorweë het ons ook geslaag om die pyplyn deur hul bestaande duiksloot te lê, iets wat heeltemal teen hul beleid was.

Daar was ses of sewe kontrakteurs gebruik om die totale skema binne die bestek van 18 maande te voltooi, Laingsburg se vloed ten spyt! Dit het soos oorlogsvelde gelyk soos die stof gestaan het met die uitgrawing van slote, damme en die pomphuise se bou. Daar was ‘n legio aspekte wat gelyktydig aandag moes kry soos bv. onderhandelinge met Eskom en die Munisipaliteite vir die verskaffing van die elektrisiteit, maar met die briljante leiding van die raadgewende ingenieurs, kon ons die knoop deurhaak.

Na 13 jaar van beplan, stryd en harde werk was dit die grootste satisfaksie om die skema te kon aanskakel en die Breërivier se water stroomop in sy takrivier te kon pomp tot hoog in die Sarahsrivierberg, hoog op in die Keisie- en Badenvallei. Hoe mooi was die vol damme en elke plaas met sy eie vastepyp-gelewerde water vir dorstige geil gronde nie! Die dag van die openingsplegtigheid was ‘n heuglike dag. Minister NAK van der Merwe het die hooftoespraak gelewer en ons gelukgewens met ‘n grootse stuk werk! Die Raad en mnr. Van der Merwe is plegtig vereer met ‘n brons plaat by die hoof pompstasie op die plaas Goudmyn.

Al die boere wat deelneem aan die skema sê dat dit ‘n baie goeie ding is wat tot stand gekom het, al is die water duur. Hulle lag egter al die pad bank toe met die produkte wat hulle produseer met die water.

Ek wil die Departement van Waterwese bedank, die drie Ministers oor die tydperk, hoofkantoor te Pretoria en die Seksiekantoor te Kaapstad met al sy hoofamptenare vir hul bystand. Ook my medevoorsitter, Koos Barnard en al die raadslede vanaf stigting. En dan my eggenote, wat nie net my bemoediger en latere jare ook my sekretaresse was nie, (al is dit postume), dankie Ma!

Ek het my weerhou om te veel name en datums te noem, te bang ek laat iemand uit of het die datum verkeerd. U sal verstaan, ek het 20 jaar gelede al die tuig neergelê nadat ek Montagu aan die begin van 1985 verlaat het. Na 30 jaar op Montagu en 20 jaar by die see is ek vandag, 50 jaar later weer terug op my geboortedorp, De Doorns.


GF(Boet)vanderMerwe

In die sestiger jare het die boere van Montagu ‘n ondersoek laat doen na die verkryging van water vir die landbougemeenskap van Montagu. Dr. Wand het ondersoek ingestel na die pomp van water vanaf die Breërivier, oor die Langeberge by Robertson na die Koo en die Keisie, maar die plan is laat vaar vanweë die hoë koste. Uit die ondersoek het dit na vore gekom dat water toe £100 per hektaar sou gekos het.

In die begin was daar baie swartgalligheid en pessimisme jeens die skema, omdat die water so duur was en is dit die Swart Mamba genoem. Later van tyd, toe die vrugte van die skema gepluk word, het die naam verander na die Goue Aar!

Dit was vir my ‘n groot voorreg om van die begin van die skema af op die Raad te kon dien. Daar was baie besoeke aan ministers en ander hooggeplaastes om die kragtariewe goedkoper te kry en om staatshulp vir die waterbelastings te kry.

Al was dit, en is vandag nog, een van die duurste skemas in die land, kan die besproeiers en die dorp Montagu nie sonder die skema voortbestaan nie. Daar was hard gewerk en baie tyd is spandeer om van die skema ‘n sukses te maak en dit was alles die moeite werd. Die Minister het by geleentheid aan ons gesê dat die water duur sal wees, maar dat dit van die jokkie van die plaas sal afhang of die eindstreep bereik sal word. Kaal plase is met die tyd verander in puik ontwikkelde plase.


Die “Koo-skema” van dr. Wand

Gedurende 1963 het die boere van die Koo ‘n skema ondersoek om water uit die rivier na die Koo te pomp. Die ondersoek is gelei deur dr. Wand van Stellenbosch en het daaruit bestaan dat water deur ‘n tonnel in die berg naby Robertson na die Koo gepomp sou word.

Vanaf die rivier by Eilandia sou die water tot in ‘n dam gekom het by die Kalkfabriek. Daarvandaan is die pyplyn beplan om by “Mowers stasie” verby te loop en op die laagste punt oor die berg te gaan tot op die plaas Eikenhof in die Koo. Daarvandaan sou die water in die Koo versprei word en ook na Montagu tot sover as Rietvlei 2 en Derdeheuwel. Volgens dr. Wand sou die water R300 per hektaar gekos het. Die Minister van Waterwese het egter die skema afgekeur omdat daar testyds gereken is dat die maksimum prys van water waarteen ekonomies geboer kon word, R100 per hektaar was. Op daardie stadium het die boere van die Koo reeds R300 per hektaar betaal vir die boorgate se water wat hulle benut het – die besproeiers langs die Breërivier wat water direk uit die rivier onttrek het,het toe R14 per hektaar betaal en die staat gevra om afskrywings!

Die skema was vir 30 jaar sluimerende totdat Louis Bruwer (ingenieur op Robertson) dit weer afgestof het in 1993. Toe was die plan om water by Silwerstrand te gaan haal en dit daarvandaan oor Tierkop te pomp met vyf of ses pompstasies tot op die plaas van Niel Burger, van die nou bekende Trekker ritte. Hiervandaan sou die water onder grawitasie versprei word.

Daar sou ‘n miljoen kubieke meter oor twaalf maande oor die berg gepomp word deur ‘n pyp van 250 of 300 mm diameter. Die vyf of ses pompstasies wat die water oor die berg sou pomp, sou telemetries met mekaar gesinkroniseer wees. Hierdie water sou aanvullend wees tot die huidige bronne en sou in die orde van 4 000 m³/ha lewer (CBR lewer 7 450/7 000 m³/ha). Koste gewys sou dit duur gewees het – om en by R8 000 vir die 4 000 m³ per jaar, maar omdat die water meer as net een hektaar aanplanting sou bedien, was dit die moeite werd. Landbou ekonome het hul berekenings oor en oor gekontroleer en bevind dat die R8 000 se water R13 000 se produk sou gelewer het.

Die skema is in detail ontwerp en lenings en tenders was reeds gefinaliseer. Departement van Waterwese het destyds nog aan besproeiingsrade ‘n derde subsidie toegestaan vir die oprigting van ‘n skema of waterwerk. Die heel laaste van hierdie subsidies wat goedgekeur was, was vir hierdie skema! Alles was gereed.

Veertien jaar gelede was R8 000 vir water baie en die boere het op die laaste handdoek ingegooi. Dit was op daardie stadium net te veel geld en die risiko daaraan verbonde was vir die deelnemers te groot. So onthou mnr. Bruwer dat die toegangspad teen die berg op om die pyplyn te bedien R400 000 sou kos.

Sedertdien is daar ‘n boorgat- en pyplynskema in die Koo opgerig en is ‘n besproeiingsraad gestig. Benutting van hierdie water vind nog nie op volskaal plaas nie.


Die invloed van die CBR-skema op die Montagu en Ashton gebied sedert sy ontstaan

JD van Deventer

Die skema het sy ontstaan te danke aan ‘n persoon wat besef het dat daar ‘n alternatief moes wees vir die frustrasie van boer met te min water en ook die finansiële implikasie van boorde en wingerde wat uitgesak het a.g.v., nie net droogte nie, maar ook swak watergehalte wanneer water skaars was. Johan Viljoen en oom Koos sal sekerlik onthou word as die vaders van CBR. Hul visie het beteken dat die byna ondenkbare projek aangepak is.

Aanvanklik is die skema aan die besproeiers voorgestel met ‘n geraamde jaarlikse koste van R150 per hektaar per jaar, wat in 1979 verhoog het tot die onbekostigbare bedrag van R180 per hektaar per jaar. Ten minste een tot twee ton van elke hektaar se produksie sou moes betaal vir hierdie afgryslike koste, om nie eers te praat van die kapitale koste om hierdie water te akkommodeer in die besproeiingstelsels nie. Beheerde besproeiing was nog ‘n aardigheid, min boere kon die relatief klein stroom water suksesvol benut. Soos vandag nog die geval op die eindpunte van die taklyne, was daar nie genoeg druk om direk uit die CBR bron te kon besproei nie, en die water sou weer moes gepomp word. “Die Swart Mamba” en “Die Swart Dood” was van die algemeenste verwysings na die CBR pyp wat deur die distrik sou vleg. Hierdie skema was veronderstel om aanvullend te wees tot die bronne van water wat tradisioneel beskikbaar was, hetsy elke plaas se beurtwater, boorgate, stormwater en selfs skemas soos Pietersfontein en Poortjieskloof.

Toe begin die water in die swart pyp loop. Droogtes kom en droogtes gaan, sonder dat ons die effek daarvan so swaar voel soos in die verlede. Op baie plase word die aanvullende bron skielik die hoof bron van water. Almal praat nog oor die prys van die water, maar al hoe minder word daaroor gekla. Meer en meer briewe word by die Raad se kantoor ontvang om navraag te doen oor beskikbaarheid van nog inlysting, soveel so dat ‘n waglys opgestel word. Skielik vind ons dat daar transaksies plaasvind met die oorname van inlysting. Nou praat niemand meer oor die prys van die water nie.

Wat op ‘n stadium gelyk het na ‘n donker toekoms vir die boerderye in die bedieningsgebied van CBR, het oor die jare verander in ‘n pragtige positiewe prentjie. Die feit dat daar maandeliks ‘n waterrekening was wat gediens moes word, het ongemerk druk op die besproeiers geplaas om te presteer, en hulle het. Ja, ongelukkig was daar ‘n aantal besproeiers wat nie die mas kon opkom nie, miskien ‘n normale uitvloeisel van so ‘n groot ontwikkeling.

Kyk net na die trots, netheid en selfvertroue waarmee daar op die plase in ons distrikte gepresteer word. Kyk net na die talle hektare “buitegrond” wat suksesvol geboer word. Kyk net hoeveel pakstore en droërye is in die onlangse verlede op plase opgerig. Kyk net, dit kos steeds een tot twee ton produksie om ‘n hektaar se waterbelasting te betaal.

Wat het CBR vir die groter gemeenskap van Montagu en Ashton beteken? Sekerlik het die finansiële stabiliteit, a.g.v. meer stabiele produksie en minder droogteskade, meer stabiele inkomste aan die sakegemeenskap gebring. So ook het die werkersgemeenskap voordeel daaruit begin trek. Soveel meer hektare moes geoes word. Droërye en pakstore is opgerig, en wynkelders en inmaakfabrieke het uitgebrei in kapasiteit. Werklike bewoning van plase deur arbeiders is nou veel laer as dertig jaar gelede. Die regering se HOP program het meer werkers gelok om in die nuwe dorpsgebiede te gaan woon. Meganisasie, chemiese beheer van onkruid ens., asook beheerde besproeiing het meegebring dat minder arbeid nodig is om ‘n hektaar te onderhou, maar snoei- en oesarbeid geskied meer op kontrakbasis. Beslis het die koms van die CBR-skema heelwat meer werksgeleenthede geskep.

Om op te som kan ons vra: Wat beteken die CBR pioniers se droom vir Montagu en Ashton? Die antwoord lê in ‘n teenvraag: Wat sou Montagu en Ashton vandag wees sonder ‘n CBR-skema?

Is CBR water duur? Nee, die wisselkoers is net nie altyd gunstig nie.


The Scotsman who came to Montagu to learn Afrikaans

Jim Law

Vrey & Maine came to Montagu on the Monday following the BIG FLOOD of 1981 and found Cogmanskloof washed away, so the long detour via Barrydale had to be made. The company had been awarded the 40 km pipeline to the Koo. I, Jim Law, joined the team a couple of weeks later, a real “rooinek” in Montagu, who could not speak Afrikaans. I quickly found out that it was useless to speak to the farmers in English when we wanted to excavate the pipeline through their lands. However, it was essential to communicate with the farmers, who, after all, were our customers. I also soon found out, after several cups of coffee in their farmhouses, that they could speak English.

As a result, Jim Law was the “Scotsman who came to Montagu to learn Afrikaans”. These were the words of chairman Viljoen at the “osbraai” in Ashton to celebrate the opening of the scheme.

The “Black Mamba”, as the farmers called it, was not an easy contract, as after the flood the river crossings became longer and there were many crossings of the Keisie River.

I will always remember the last river crossing on the Pietersfontein line. It had rained overnight and the farmer advised us that the Pietersfontein dam was full for the first time and that the river would come down soon. It was 12:00 Friday, we were busy casting the concrete encasement of the pipe, the pump was busy keeping the river bed dry, when all of a sudden the river came down. We quickly had to rescue the pump and Kempie, the foreman, said, “What do we do now?” to which I replied, “Kaap toe!” We came back on the Monday to look for the shutters and pipes and started all over again with the crossing.

I must admit, I learned many lessons on this contract, dealing with rivers, rocks, farmers, etc. Many friends were made with the farmers, Savage & Lovemore, Kallie Alberts, Jannie van Schalkwyk (SFS), Dowson & Dobson, Everite, Tony Nunez and Maritz Wessels.

We had some fantastic braais in the Kloof. I remember one night that there was a traffic cop waiting at the entry to the braai place, but someone gave him a bottle of brandy and he left.

Vrey & Maine did several other contracts in Montagu over the same period: Donkerkloof pipeline/Ashton Canning 900 mm siphon under the river/Lovers Walk, low water bridges and the suspension bridge to Montagu West replacing the ones washed away in the flood.

I have been 40 years in civil engineering, but the 18 months spent in Montagu have given me many happy memories, especially when I pour a glass of Drie Berge sherry.

One of the most memorable evenings was spent at a Keisie farm school concert, to which my wife and I were invited to by farmer Boet van der Merwe. It was amazing to watch 10 kids give the concert a fantastic atmosphere.

The pipeline was an expensive investment for the farmers, but when you drive through the area and see the results now, one can appreciate the visions of those involved. May all prosper as a result of the “BLACK MAMBA”.


Anekdotes oor die Ontwerp en Bedryf van CBR

Johann Stiglingh

Etlike verhaaltjies soos versoek.

Die ontwerp en konstruksie van die Cogmanskloof Besproeiingsraad (CBR) was ‘n uitdagende en interessante projek en die uitwerking daarvan op die hele besproeiingsdistrik fenomenaal. Waar voorheen vrugteboorde en wingerde gekwyn het weens ‘n tekort aan water, word tans pragtige aanplantings gevind en is dit vir my as ingenieur altyd ‘n genot en ‘n bevrediging wanneer ek deur Ashton, Cogmanskloof en Montagu ry.

Die beskikbaarheid van water was van kardinale belang vir ‘n gemeenskap wat vir sy voortbestaan direk afhanklik is van ‘n bestendige bron en is daardie behoefte gevul deur die goeie insig van ‘n paar leidende persone in die gemeenskap. Saam het hul ‘n besproeiingsraad gestig en na vele versoeke, verslae en besoeke aan owerhede, is hul doel bereik. Die vervulling van hul drome het beslag gevind in dit wat ons vandag ervaar.

Gedurende 1978/9 het ons die opdrag ontvang en die voorreg gehad om die beplanning te doen, kontrakteurs te kry en die werke te laat uitvoer, totdat in Desember 1981, die water in
Knipeshopedam gevloei het.

Ons het dan ook ‘n offisiële opening deur die destydse Minister van Waterwese gehad, volledig met vlae, onthaal en toesprake, asook besigtiging deur die groot indoenas. Wat hul egter nie geweet het nie, was dat daardie dag, tydens ‘n kleedrepetisie, die knoppie wat die groot pompe by die Breërivier moes aanskakel, nie wou werk nie. Wat nou gedoen!? Wel, ons het toe maar gereël dat die tegniese ou agter die skakelbord stelling inneem en toe die Minister die knoppie druk, het hy die hoofskakelaar ingegooi, en siedaar, die groot pompe begin loop!

Omdat die skema so gou moontlik in bedryf moes kom, was by tye tot ses verskillende konstruksie firma’s betrokke. Almal moes hoofsaaklik huisvesting in die destydse Avalon Hotel kry, en die plek is behoorlik op horings geneem! Allerhande onheilighede het plaasgevind en daar is dikwels tot laatnag rinkink en rumoer. Ek self moes een aand noodgedwonge (alleen natuurlik) in die “Bridal Suite” oornag, tot groot genoegdoening van die ander inslapers, maar het darem ongeskonde daaruit gekom!

Tydens die lê van die hooflyn deur die kloof het ons na vele onderhandelings goedkeuring ontvang om die pyp onder die pad deur die tonnel te lê, aangesien daar ‘n moontlikheid van versteuring van die rotsformasies kon plaasvind en so die ou fort bo-op die berg kon beskadig. ‘n Geoloog se verslag het bepaal dat die kontrakteur slegs met een kers op ‘n slag die rots onder die pad mag uitskiet, en het hy so begin. Maar dit was te stadig na sy sin en toe ek eendag daar aankom, het ek tot groot ontsteltenis ontdek dat hy sommer ‘n hele ent van die sloot met ‘n reeks ladings uitgeskiet het. Genade was al wat vir hom gered het, en die fort staan nog!

Op ‘n Sondag laat in Januarie 1981 het die grootste storm in menseheugenis Montagu en sy omstreke getref. Alhoewel nie met sulke katastrofiese gevolge soos op Laingsburg nie, was die vloed bo-oor die wal van Pietersfonteindam en af in die Cogmanskloof skrikwekkend genoeg; dit het gelyk asof jy die hele kloof met ‘n groot besem uitgevee het. Geen bome of stuike het bly staan nie. Vir die werke wat op daardie stadium hoofsaaklik uit uitgrawings en die lê van pype in die kloof bestaan het, was die skade geweldig. Pype was weggespoel en onder sand begrawe en moes opgegrawe en oorgelê word. Die Dinsdagoggend kon ons vir die eerste keer Montagu bereik en dan slegs met die ou pad langs. Die voorsitter op daardie stadium was Johan Viljoen. Hy het ‘n rit met ‘n militêre helikopter gereël om ons oor die gebied te neem om die skade aan die verskillende werke en paaie te besigtig. ‘n Helikopter kan jy nie met los hande ry nie, en om boonop bergop en bergaf te gaan langs klowe en kranse, verg murg in jou pype! Mens kan jou nie voorstel hoe wreed die natuur kan wees nie, net jou hande saamslaan oor die verwoesting. Maar met pragtige samewerking van die kontrakteurs was die konstruksiewerke gou weer op dreef.

Tot op daardie stadium was Cogmanskloof een van die grootste pompskemas in die land en het die beginsels van redelike korttermyn bediening, balans tussen direkte pomp en tussenstadium damme, stoorkapasiteit, die plooibaarheid van die skema bevoordeel. Deur besproeiingswater op volhoubare basis te voorsien, het CBR al lank reeds meer as sy deel tot ons land se ontwikkeling bygedra tot voordeel van die totale bevolking van ons land. ‘n Grootse prestasie!


Die volgende 25 jaar

Sedert die eerste pomp 25 jaar gelede water vir CBR uit die Breërivier begin haal het, het die CBR wortels hulle diep in die gronde van Ashton en Montagu gevestig. Vandag is dit ondenkbaar dat daar ‘n tyd was dat die skema nie bestaan het nie en is dit ondenkbaar dat die skema sal ophou bestaan. Die landbou, waarvoor die skema ontwerp was, gebruik die skema lank reeds nie meer as aanvullende waterbron nie. Aanvullende bronne is vandag boorgate en beurtstrome. Vir die Munisipaliteit is CBR ‘n vaste bron van rou water en vir skole en gholfbane ‘n uitkoms om hul grasvelde ekonomies te onderhou. Industrieë soos die wynkelders en inmaakfabrieke, gebruik in toenemende mate CBR water as waswater in hul produksieprosesse.

Dit is nie moontlik om ‘n berekening te maak van wat die direkte inpak van die skema op die streek se ekonomie is nie omdat daar te veel onbekende faktore is. Die skema lewer 2 736 ha landbou water aan besproeiers. Dit is hoeveel hektaar wat produseer, werksgeleenthede skep, belasting genereer en dies meer. Die uitkringende effek van die skema is baie groot, en ons kan met reg sê dat die staat se belegging van R8 miljoen in die vorm van afskrywing destyds, baie opbrengs vir die staat gelewer het. Byvoorbeeld, as 2 700 ha jaarliks 20 ton opbrengs lewer teen R1 000 per ton is die geldwaarde hiervan R54 miljoen. BTWop hierdie bedrag is R7,56 miljoen – so te sê die bedrag wat vir die skema afgeskryf was in 1990. Voeg by hierdie syfer die verdere opbrengs van die verwerkte produkte, die aksynsbelasting en ander heffings en maal dit met 25 jaar! Gou raak dit duidelik dat dit vir die staat ‘n baie goeie belegging was wat ‘n enorme hoeveelheid geld genereer.

Nou lê die toekoms voor. CBR sal nie weggaan nie. Solank Brandvleidam en die Breërivier water het, sal die skema dit aan sy lede lewer. Sedert sy ontstaan het die skema van krag tot krag gegaan, uitgebrei en vernuwe. Die aanvanklike 2 200 ha inlysting is vergroot na 2 914 ha en daar is twee pompstasies by gebou.

Vandag is daar steeds navrae oor addisionele water. Ondersoeke word gedoen na die Breërivierstelsel om te bepaal of daar nog meer water uit die rivier en dam uitgegee kan word. Die vooruitsigte op meer water lyk rooskleurig, maar in sy huidige vorm kan CBR nie ekstra water voorsien nie. Sou daar addisionele water in die rivier beskikbaar gemaak word, sal daar weer ‘n skema gebou moet word om dit te kan benut. Die vraag wat gevra sal word is: “Wat sal die implikasie van die groter toekennings uit die rivier wees op die huidige besproeiers in tye van watertekorte, soos wat in 2004 die geval was?”

Landboutoestande noodsaak dat daar voordurend uitgebrei en verbeter moet word. CBR is nie stagnant nie en sal voorsien waar moontlik. As dit beteken dat daar uitgebrei moet word, sal CBR dit deeglik ondersoek. Sou dit so kom dat van die besproeiers ekstra water uit die rivier bekom, kan dit beteken dat CBR daarvoor ‘n tweede skema moet bou…


image_pdfDOWNLOAD PDF