98.Die La Grange familie van Montagu
Introduction
Francois de Kock thank you so much for bringing the story of Kosie La Grange to the attention of Montagu Stories by way of the insightful article written by Paul Fouche. This then lead to contact being made with Van Zyl La Grange son of Kosie who compiled a magnificent tribute by way of an album about his family and their time in Montagu (album part of this article).


What sê Paul Fouche
Brokkies uit – ‘n Verhaal van Afrikaanse musiek – Paul Fouche – Desember 2000 MS)
Toenemende gewildheid vra meer musiek en in hierdie nuwe genre van ligte Afrikaanse musiek was daar slegs ‘n handjievol komponiste soos Danie Bosman, die Coopers en Madelene van Aardt. In 1937 verlig die verskyning van die FAK-sangbundel die nood, maar een aand, tydens ‘n koffiehuiskonsert, is Hendrik Susan formeel verwittig dat hy nie meer musiek uit die FAK-sangbundel mag speel nie. Hy moes eenvoudig self musiek komponeer vir die Maandagaand se direkte uitsending. Uit die nood spruit Huisie in die berge met Hendrik verantwoordelik vir die musiek en die woorde. Pieter de Waal het met Hendrik saamgespan en die woorde vir Hier moet ons skei, Ons lag, sing en dans en Kom laat ons dans geskryf. Dis nie meer bekend nie, maar Pieter de Waal of Hendrik het waarskynlik tydens die uitsending ‘n beroep op komponiste gedoen om musiek te stuur. Was dit bloot ‘n aankondiging tydens konsertoptredes, sou daar nie so gou nuwe komposisies uit noord en suid op Hendrik se tafel beland het nie.
Boereseun kry ‘n Boerenooi
Twee komponiste het elkeen twee komposisies in die pos gegooi. Uit Pretoria het C. Jonathan Frean vir Hendrik Agmat en Ons ry die wapad gestuur. Oor hierdie seun van Ventersdorp, Cecil Jonathan Frean, gebore in Maart 1894, is min bekend. Hy het musiekopleiding gehad, maar verkies om na skool eers te gaan boer voordat hy hom ingeskryf het as ‘n onderwysstudent. Die ander komponis was van Montagu, daar op die rand van die Klein-Karoo, maar behalwe sy musiektalent, het hy nóg ‘n besondere gawe gehad…
Watter een van sy gawes die omgewing se boere die meeste waardeer het, sal ons nooit met sekerheid weet nie. Het hy in die dertigerjare in Johannesburg bly woon, kon hy met sy klassieke agtergrond, dansorkesondervinding, vindingryke klavier- en trekklavierspel en sy vermoë om liedjies met ‘n sterk melodielyn te skryf, net so ‘n bekende en gewilde orkeslid van Hansie van Loggerenberg, Hendrik Susan, Sam Petzer of Freddie Fischer se orkeste gewees het soos enige ander bekende musikant van destyds. Sy ander voorliefde het gewen. Deur die jare het hy ‘n geoefende oog ontwikkel vir rotsformasies en kon hy sy boormasjien se punt sekuur deur die klipbanke dryf om gemeenskappe van McGregor, Barrydale en die Koo van vars water te voorsien.

Jacobus de Villiers (Kosie) la Grange is as die oorlewende een van ‘n tweeling op 17 November 1915 vir Izak Stefanus la Grange en Miemie, ‘n nooi de Villiers, gebore. As skoolseun op Beaufort-Wes het hy uitgeblink in musiek, maar rye trofeë getuig ook van sy spoed as kortafstandatleet. Destyds was die atlete se pryse gebruiksartikels soos, porseleinkoffiestelle, koperskinkborde en versilwerde tafelware. Sy ouer broer, Paul, wou viool speel en sy pa het vir hom ‘n pragtige viool gekoop. Kosie kry op twaalfjarige ouderdom ‘n besondere Fritz Kuhla-klavier en begin met klavier- en orrellesse by mev. Van der Hoven, die skoolhoof se vrou. Sy was ook Danie Bosman se musiekonderwyseres. Met sy ouers se geesdrif en ondersteuning ontwikkel sy tegniese vaardigheid sodanig dat hy as jong hoërskoolseun reeds orreluitvoerings in Beaufort-Wes se toringkerk aanbied. Hy raak sodanig bekend vir sy klavieruitvoerings in Beaufort-Wes se stadsaal van die werke van Chopin, Mendelsohn, Liszt en Mozart dat Kaapse skole hom ‘n studiebeurs aanbied, maar dis darem teen sy pa se grein om so ‘n jong seun so ver van die huis af te laat skoolgaan.
Intussen bly Kosie La Grange darem nie onaangeraak deur die ligte dansmusiek en jazz van sy tyd nie. Saam met sy broer Paul, Piet de Villiers as tromspeler, Sewes de Villiers, wat die banjo rats kan tokkel, asook Tippie Ferreira en sy saksofoon, stig hulle die Melodians. Dit was nou nie The Melodians wat saam met Chris Blignaut Sarie Marais in die gelyknamige rolprent gesing het nie. Hulle moet net gou hulle rieme fyn sny tussen al die optredes op die omringende Karoodorpe en by elke moontlike dansgeleentheid. Sy musiekonderwyseres was nie veronderstel om van sy spelery te weet nie, want sy sou dit beslis afkeur, maar eendag beland sy op ‘n funksie saam met die Melodians. Haar enigste kommentaar was:
“Oh, you’ve blossomed forth. You’re a jazz pianist now!” Kosie se droom was om musiek te gaan studeer, maar die gevestigde opvatting was dat daar in hierdie land hoegenaamd geen toekoms vir ‘n jong man in die klassieke musiekwêreld is nie. Gebrek aan aanmoediging en die donker depressie- en droogtejare lei tot ‘n kort tydperk in sy broer se Barbierwinkel en haarkappersalon, maar in 1933, op agtienjarige ouderdom, raak die lokstem van Johannesburg se goudmyne te sterk.
In Johannesburg begin hy hom al meer op ligte musiek toelê, sterk onder die invloed van klavierspelers soos Carmen Cavallaro en Carol Gibbon, asook komponiste soos Jerome Kern, George en Ira Gershwin, Irving Berlin, Cole Porter en Rodgers en Hammerstein met hulle byblydeuntjies, gevatte berymings en betowerende romantiek. Sy belangstelling ontwikkel in die opwindende nuwe genre in Afrikaanse musiek, wat al sterker ooreenkomste begin toon met die beste Amerikaanse, Britse en Europese ligte musiek, terwyl dit steeds ‘n Afrikaanse karakter behou.
Op aandrang van sy pa vestig hy hom in 1938 op Montagu, waarheen sy ouers en broer intussen verhuis het. Eendag, terwyl hy aan ‘n boormasjien werk, sien hy Sally van Zyl op haar fiets op pad na prokureur Sandler se kantoor, waar sy boekhoudster was. Hy stop haar daar en dan en vra haar om hom te vergesel na die funksie om die simboliese ossewatrek se oorstaan op Montagu te vier. So sien sy Boerenooi die lig, al moet Johnnie Thomson, die latere lid van die Provinsiale Raad en lid van die Uitvoerende Komitee vir Swellendam, die romantiek van die melodie verwoord. Kosie en Johnnie span ook saam vir Ek sing van jou, en dis hierdie twee wat Hendrik Susan kry en wat ook op bladmusiek versprei word. Hendrik Susan en sy orkes saai die nommers uit, maar dis deur ‘n Griek wat die twee liedjies werklik bekend word.


Die “Chief” en Kosie se *Griekse boertjie
(*In die tagtigerjare van die vorige eeu het ‘n gewilde sanger van Griekse herkoms, Yoti Loizos, bekendgestaan as Yoti, die Griekse boertjie.)
Hendrik Susan het die Griekse sanger waarskynlik in die Waldorf-teaterrestaurant in St. Georgesstraat hoor sing tydens die orkes se verblyf in Kaapstad gedurende die oorlogjare. John Vonos het pragtig gesing, maar kon nie ‘n woord Afrikaans praat nie. Weens die gewildheid van die twee liedjies moes dit natuurlik op plaat vasgelê word. Met sy kenmerkende vasberadenheid het Hendrik eenvoudig vir John die woorde foneties laat leer. Weet ‘n mens nie dis ‘n Griek wat daar sing nie, kan dit net sowel ‘n Afrikaanse sanger met ‘n klassieke agtergrond wees wat Boerenooi en Ek sing van jou vertolk. Dis ook die geval met John Vonos se vertolking van Babs Pretorius se Bosveldaand. In die rolprent Alles sal regkom sing hy P.J. Kleynhans se Jou hart roep na my met soveel oorgawe dat ‘n mens sou sweer hy verstaan en beleef elke woord wat hy sing! Dié Griek het nogal ‘n humeur gehad. ‘n Hollandse sanger, Marcel Laves, het by geleentheid saam met die orkes opgetree en gewoonlik met snaakse Hollandse klere en klompe op die verhoog gedans. Die orkeslede het vir John Vonos geterg omdat hy nie ook manewales op die verhoog uithaal wanneer hy sing nie. Hulle het hom gou met rus gelaat nadat hy eendag woedend uitgeroep het: “I now feel to kill!”
John Eannis Vonos was ‘n sanger met ‘n klassieke agtergrond. Hy is op 21 Junie 1910 in Istanbul, Turkye, gebore en as regte- en musiekstudent studeer hy eers in Athene en daarna in Italië. Optredes volg in Athene se operahuis en in verskeie Europese lande, maar Afrika roep en hy emigreer na die destydse Belgiese Kongo (Zaïre). In 1938 verkies hy Suid-Afrika en sing twee jaar saam met ‘n Griekse orkes in ‘n restaurant, heel moontlik die Waldorf Café in Kaapstad, voordat hy by Hendrik Susan se orkes aansluit, saam met hulle toer en tydens radio-uitsendings optree. Vanweë sy musiekagtergrond, kry hy ook die geleentheid vir optredes saam met Kaapstad se stadsorkes en die SAUK-simfonieorkes. In 1945 pak die reisgogga hom weer en hy verlaat Hendrik Susan se orkes om oorsee te gaan net om later weer terug te keer.
Dis jammer John Vonos het nie gebly om van Kosie la Grange se ander liedjies ook op te neem nie, want Kosie het nie net Boerenooi en Ek sing van jou gekomponeer nie. ‘n Stormagtige nag keer hom in Bainskloof se nou bergpas vas terwyl hy haastig op pad terug Montagu toe is om ‘n afspraak met Sally na te kom. Dit was nog jare voordat die Italiaanse krygsgevangenes die Du Toitskloof-pas voltooi het. Stoksielalleen, met net die geselskap van sy trekklavier op die agtersitplek van sy motor, terwyl die storm in die stikdonkerte uitwoed, komponeer hy in die emosie van die oomblik die aangrypende melodie, Teleurgestel. Douvoordag die volgende môre, terwyl die huismense nog slaap, strompel hy by sy oom Tobias se plaashuis op Hexrivier in om Teleurgestel vir die klavier op manuskrippapier vas te lê. Dié lied se titel herinner ‘n mens aan Teleurgestel, die boek van Jochem van Bruggen, wat in 1925 al ‘n derde druk beleef het. Hildegarde dra Kosie op aan sy broer, wat tragies verongeluk het, se enigste dogter. In 1941 koop hy ‘n verloofring en op 1 Desember 1942 is Kosie en Sally voor die kansel verby. Nog is die muse nie klaar met hom nie. Waarskynlik sy broer se instemmery van die viool, inspireer As ek op my ramkie speel. ‘n Ontmoeting met Harold Cobb en Danie Bosman lei tot ‘n produktiewe tydperk met komposisies soos Sonskyn, Lentelied, Ek sal jou nooit vergeet nie, My drome is nog steeds van jou en Parstyd in die Boland. Danie Bosman beoog om ‘n rukkie op Montagu te kom kuier sodat hulle saam kan komponeer, maar dokters diagnoseer kort daarna maagkanker by Danie en hy kon nooit sy voorneme uitvoer nie. In 1952 koop Kosie La Grange die plaas Nelsrus ongeveer 13 kilometer buite die dorp en herdoop dit na Octavia. Sy ouers woon voorlopig op die plaas. Kosie komponeer die Wynlied vir die Montagu-wynfees en die Volkslied vir die Eeufees van Montagu. Hy speel ‘n leiersrol in die gemeenskap as voorsitter van die Afdelingsraad en die Hospitaalraad, terwyl hy gedurig in aanvraag is as klavierspeler, trekklavierspeler en orkesleier.
Seker Kosie La Grange se omvangrykste bydrae tot Afrikaanse musiek is sy baanbrekerswerk met musieklesse vir skoolkinders, wat belangstel in ligte Afrikaanse musiek, selfs voordat hy, Sally en hulle vier seuns, Paul, Van Zyl, Kosie (jnr.) en André in 1960 Octavia toe trek. Al leer hy hulle ook om gewilde Engelse deuntjies te verwerk en te vertolk, menige liedjie op die leerlinge se eie versoek, stuur hy niemand weg sonder ‘n grondige kennismaking met komponiste soos Jan Pohl, Danie Bosman, Carstens en De Waal, Tommy Roering en Taffie Kikillus nie. Sy onderrigstyl was werklik destyds al uitkomsgebaseerd en uniek vir die algemene metodiek van daardie jare. In plaas van om ‘n paar stukke tot in die fynste besonderhede in te oefen, het hy met ‘n “Kom ons kyk hierdie enetjie gou deur,” ‘n wêreld vir sy leerlinge oopgemaak en in ‘n rekordtyd ‘n grondslag gelê vir onafhanklike ontwikkeling. Sy leerlinge was altyd in aanvraag vir optredes tydens skool- en dorpsfunksies. Vele male het Kosie wyd en syd aangekondig dat hy sy musieklesse gestaak het, maar soos vir Chris Blignaut, wou die gemeenskap hom maar net nie toelaat om af te saal nie en het motors vol leerlinge maar weer van die dorp en die omliggende dorpe gekom en sy kosbare bladmusiek verrinneweer in ‘n poging om soos oom Kosie te kan speel! Sy bydrae om ‘n opgevoede luisterpubliek en ‘n kopersmark vir Afrikaanse musiek te skep, is onberekenbaar. In die laat sestigerjare was Boerenooi nog ‘n item op ‘n verskeidenheidskonsert van die onderwysstudente van Wellington en was dit deel van Gert Lochner, ‘n Oostelike Provinsie-slot, gewilde sanger en skoolhoof se repertoire. Ronnie Theron, veteraan van vele plate en uitsendings, het Boerenooi selfs in 1996 nog saam met ‘n orkes in Bellville gespeel.
John Vonos se opname was nie die enigste een van Boerenooi nie. ‘n Simfonieorkes van die SAUK het Boerenooi en Ek sing van jou opgeneem, en die Môreligsangers vir Boerenooi. Jurie Ferreira het Ek sing van jou opgeneem en Nico Carstens se weergawe van Boerenooi op ‘n transkripsielangspeelplaat vir die SAUK het herleef op sy dubbel CD Die lewenslied van Nico Carstens. Murray Campbell, die trompetspeler wat in 1965 ‘n huishoudelike naam geword het met sy treffer Goodbye my love, wat 15 weke lank op die Springbokradio treffersparade gekuier het, ses daarvan in die eerste plek, het Boerenooi en Ek sing van jou vir die SAUK se transkripsiediens op plaat vasgelê. Selfs die sangster van destyds, Virginia Lee, maak Boerenooi die titelsnit van haar 1971-langspeler, Ons Boerenooi. Haar liedjie Boerenooientjie, Anton de Waal se komposisie met ‘n Spaanse deuntjie as basis, sorg soms vir verwarring tussen die twee opnames, maar dit was Kosie la Grange se Boerenooi wat nog ver oorkant die blou water sou weerklink.
Boonop is John Vonos se opname van Boerenooi in 2010 as ‘n snit op Huisgenoot se stel van drie CD’s, 90 jaar van Afrikaanse musiek, ingesluit. Praat van immergroen!
Boerenooi se maat
Hendrik Susan kon vir Kosie La Grange tydens een van die orkes se toere ontmoet en sommer goed met die La Grange-gasvryheid, Montagu se warmbronne en die streek se besondere druiweprodukte kennis maak. Gelukkig was hy ook goed bevriend met ‘n ander komponis wat sedert die vroeë dertigerjare ‘n buitengewone standaard vir ligte Afrikaanse musiek gestel het.

Nie opeenvolgende gedeeltes wat die naam Kosie La Grange bevat.
Net toe die musiekwêreld meer rooskleurig vir Danie Bosman begin lyk, breek die Tweede Wêreldoorlog uit. Die uitgee van plate en bladmusiek kom feitlik tot stilstand en dit beteken maar weer frustrasie en afwagting. Tog, ten spyte van die onsekerheid van die oorlogjare, begin Danie en Anton met musiekuitgewers onderhandel en beplan ‘n nuwe onderneming. Danie bestudeer moderne Afrikaanse musiek en begin intensief saam met Anton werk aan ‘n eg Afrikaanse jazz-simfonie. Dis vandag redelik onbekend dat Danie Bosman die Springbok Rapsodie gedurende die oorlogjare voltooi en aan die Suid-Afrikaanse soldate in die noorde opgedra het. Danie het self drie keer probeer aansluit, maar is weens gesondheidsredes afgewys. Hierdie rapsodie was die tema van die rolprent oor Danie Bosman se lewe in die laat sestigerjare. Voor die Kavalier-produksie, Danie Bosman, het hierdie komposisie met sy klassieke ondertone slegs een uitvoering beleef. Hendrik Susan en sy orkes het die rapsodie slegs een keer aangedurf, maar volgens Hendrik was dit te moeilik.
Boereseun se trefferstatus het net gewag vir ‘n Boerenooi om saam met hom in die kalklig te staan. Danie het met Kosie La Grange in aanraking gekom en hulle het afgespreek om saam te werk sodra Anton de Waal en Danie daarin kon slaag om ‘n maatskappy te vestig wat sou omsien na die regte en die vergoeding van komponiste.
Danie sou nie die vreugde van ‘n eie onderneming, komposisies saam met Kosie La Grange op Montagu, of ‘n leefbare verdienste uit sy werk beleef nie. Hy moes in die reën na die eerste uitsending van sy musiek staan en luister. Op 27 Mei 1946, met Dorothy en Anton by hom, sterf hy aan maagkanker net nadat Cecil Wightman die eerste SAUK-program oor Danie Bosman se musiek uitgesaai het. Die program het ‘n halfuur geduur, vanaf 18:00 tot 18:30. Sy suster, mev. Joey Combrinck van Kaapstad en latere orreliste van die N.G. gemeente Tamboerskloof, het net na die uitsending die trein Muizenberg toe gehaal om haar broer te besoek, maar sy was te laat. Danie het wel na die hele uitsending geluister en selfs met sy hande tyd gehou. Hy was maar 39 jaar oud – sy einde was daar net toe sy droom begin waar word het, maar op versoek van sy naasbestaandes kry sy groot vriend, Anton de Waal, volle beheer oor Danie se musiekregte en kontrakte.
Die bloeityd van Afrikaanse musiek was wel vir andere beskore.
Boerenooi in Venesië
Kosie La Grange het hom intussen darem nie net met dorpsake en musiekleerlinge besig gehou nie. André, sy jongste seun, besluit om in 1979 ‘n aanvallige jong dame preekstoel toe te lei en pa moet ‘n geskikte lied komponeer. Dié huwelik was die dryfkrag agter Huweliksbede. Maar moenie dink Boerenooi is vol selluliet en verrimpeld nie.
In 1985, dieselfde jaar waarin Gé Korsten die hoofdirekteurskap van Kruik aanvaar en Coenie de Villiers ‘n Sarie verwerf vir sy langspeelplaat Die reisiger, trakteer Paul en Van Zyl hulle ouers op ‘n Europese toer. Van Zyl het in die geheim die bladmusiek en ‘n bandopname van Boerenooi aan die opelug-orkesleier van die Café Florian op die St. Markusplein in Venesië gestuur. Hierdie straatkafee is wêreldberoemd, die gunsteling van die koninginmoeder van Engeland en seker van die mees romantiese hoekies op hierdie verruklike plein. Die niksvermoedende Kosie en Sally laat hulle die besoek aan die besondere plek welgeval behalwe vir Kosie wat kla dat hulle darem onnodig na aan die orkes sit. Met peperduur drankies in die hand knik Van Zyl vir die orkesleier agter die vleuelklavier en Boerenooi se melodie styg uit oor die eeu-oue St. Markusplein met sy betowerende ruimtes, elegante wandelgange en sierlike torings asof dit maar altyd deel was van die tydlose, klotsende kanale en die kosbare kunswerke. Op aandrang van die orkesleier moes die begaafde seun van Beaufort-Wes die applous erken en Boerenooi in die repertoire van die orkes onderteken. Die salonorkes van die Café Florian het Boerenooi, elke dag, daardie hele seisoen gespeel! Die jong Kosie La Grange in Johannesburg was reg. Ligte Afrikaanse musiek is tuis tussen die grotes van die wêreldverhoë.
Met twee onderwysers, ‘n dosent en ‘n advokaat in die gesin, het Kosie Octavia maar op die mark gesit en Melkbosstrand in 1995 sy tuiste gemaak. Hier kan Sally en Paul hom aanpor om sy vingers soepel te hou op die Fritz Kuhla klavier. Daar is ook nog ‘n oulike elektroniese orreltjie en die Hohner trekklavier klink nog net so goed soos daardie stormnag in Bainskloof!
Die jaar 2000 het nie so dramaties begin soos voorspel en gevrees nie, maar die afskeid was ons nie gespaar nie. Bles Bridges verongeluk op 24 Maart 2000 en Tolla van der Merwe op 7 Augustus. Ollie Viljoen se vrou Estelle sterf in dieselfde ongeluk en oom Koos Meyer, die legendariese storieverteller, op 17 Oktober weens beserings in dieselfde ongeluk Op Vrydag 19 Mei berig Die Burger: Boerenooi se komponis begrawe op Melkbos. Oom Kosie La Grange sterf op 16 Mei na ‘n beroerte en sy gesin, familie en vriende bring hulde aan hom tydens die roudiens met ‘n orreluitvoering van sy Huweliksbede en by sy aftreewoning met Virginia Lee se opname van Boerenooi. Prof. Gawie Cillié, ‘n oud-voorsitter van die FAK, sterf op 15 Junie, ‘n maand voor sy neëntigste verjaardag, in die Odeon Towers versorgingsoord in die Strand. Daar was ook hoogtepunte. Resensente kondig met groot opgewondenheid aan dat Koos Kombuis se boek Seks & drugs & boeremusiek verskyn het met ‘n inhoud wat ontstel en vermaak. Vir musiekliefhebbers was daar groter nuus.
Visit the family album compiled by son Van Zyl La Grange








By André en Verie se troue,1979

Groot geskenk vir bruidspaar
Overberg 9 Maart 1979
MONTAGU — Spanwerk tussen ‘n vader, ‘n leraar en ‘n leraarsvrou het op Montagu gesorg vir ‘n baie besondere verrassing vir ‘n jong staatsadvokaat en sy bruidjie van Port Elizabeth. Weke voordat André la Grange onlangs met Verie Herselman van Joubertinia getroud is, het André se vader, mnr. Kosie la Grange van die plaas Octavia, besluit dat André en Verie se huwelik ‘n besondere een moet wees. Saamgestel uit die huweliksformulier, het hy vir hulle ‘n huweliksgebed getoonset. Ds. Jozua van der Lugt het vir die woorde gesorg en mev. Van der Lugt het die gebed vir die jong paartjie voorgesing. André is die jongste van mnr. en mev. – Kosie la Grange se vier seuns. Hy en sy bruid woon en werk in Port Elizabeth. Mnr. Kosie la Grange het ook die bekende Afrikaanse liedjies, ‘Boere- nooi’ en ‘Ek sing van jou’ gekomponeer. Die woorde is geskrywe deur sy groot vriend, mnr. Johnny Thomson, L.U.K. wat verskeie jare gelede oorlede is. Vir Montagu se jaarlikse Muskadel-wynfees het hy ‘Die Wynlied’ gekomponeer. Mnr. La Grange is ‘n wynboer.

Kosie la Grange se komposisies








Luister na Boerenooi deur John Vonos met Hendrik Susan orkes
Dankie Paul Fouche vir die MP3 weergawe
